Reports / Research Reports / 2012/2013 / Projekte Afgehandel

Navorsingsverslag 2012/2013

6.

 

Projekte wat suksesvol afgehandel is of waarmee vordering gemaak is (Bylae I en II)



6.1

 

Evaluasie van PNS-sojaboonelitelyne onder Suid-Afrikaanse toestande


GP de Beer en WF van Wyk
Kontrakteurs, Proteïennavorsingstigting

Die afgelope seisoen was die PNS sojaboon Eliteproewe geplant te Brits (22 November 2012 en proef 1 op 12 Desember), Pretoria, UP (12 en 27 November 2012 en proef 1 op 10 Desember), Potchefstroom (13 en 15 November 2012 en proef 1 10 Desember 2012), Bethlehem (6 en 7 November 2012 en proef 1 die 13 Desember 2012) en Ukulinga (6, 7, 10,12 Desember 2012 en proef 1 die 14 Desember 2012).

Die proewe van die verskillende instansies was geplant soos volg:

Proef 1: (INTA)
Hierdie proewe van INTA was op al die lokaliteite laat aangeplant omdat die saad eers die 4de Desember 2012 op die lughawe in Suid Afrika was. Slegs sewe van die lyne van die vorige jaar was gehou om weer te plant en agt nuwe lyne is in die proewe ingesluit en aangeplant met die ses kontroles. Die lyne van INTA se groeiseisoenlengtes het gewissel vanaf 'n MG 4.2 tot 'n MG 8.0.

Proef 2: (EMBRAPA)
Die proewe van Embrapa het bestaan uit slegs nege van die lyne wat in die vorige seisoen geplant was, met die 6 kontroles. Die ander twee lyne BRS 283 en BRS 284 was ingeskryf in die Nasionale Sojabooncultivarproewe. Die lyne van Embrapa het gewissel van 'n MG 6.3 tot MG 7.0.

Proef 3: (VIÇOSA)
Die proewe van Viçosa het bestaan uit die 10 lyne wat in die vorige seisoen geplant was, met die 6 kontroles. Die lyne van Viçosa se groeiseisoenlengtes was almal ongeveer MG 7.

Proef 4: (EEAOC)
Die proewe van EEAOC het bestaan uit dertien van die lyne van die vorige seisoen saam met 3 nuwe lyne wat van die UP proewe af kom met die 6 kontroles. Die 16 lyne van EEAOC se groeiseisoenlengtes het gewissel van MG 5.0 tot MG 6.0.

Proef 4 Ekstra: (EEAOC)
Die ekstra proewe van EEAOC was die vorige seisoen net in Pretoria aangeplant maar was die afgelope seisoen ook in Potchefstroom geplant. Dertien van die lyne van die vorige seisoen saam met die 2 lyne wat nie in die gewone EEAOC (Proef 4) proef aangeplant is nie met die 6 kontroles was aangeplant. Die 15 lyne van EEAOC ekstra se groeilengtes het gewissel van MG 5.0 tot MG 7.0.

Proef 5: (SJINA)
Die proewe van Sjina het bestaan uit die lyne (6) van die vorige jaar met 6 nuwe lyne saam met die 6 kontroles. Die lyne van Sjina se groeilengtes het gewissel van 'n MG 3 tot 'n MG 7.5.

Agtien (18) verskillende datastelle is by elk van bogenoemde proewe se genotipes en plaaslike kultivars geneem voor dors en vyf (5) datastelle is geneem na dors.

Die beste opbrengste wat behaal is by die onderskeie proewe was 4307 kg/ha vir J102515 by proef 1, 4935 kg/ha vir LS 6146 R by proef 2, 4325 kg/ha vir CDX 10-105 by proef 3, 4010 kg/ha vir MDAT-640-5I by proef 4, 4323 kg/ha vir 580-5I by proef 4 (Slegs UP) en 4168 kg/ha vir PAN 1664 R by proef 5. Let op dat by twee van die 6 proewe het van ons plaaslike kultivars die beste opbrengs gehad.


6.2

 

Nasionale Sojaboonkultivarproewe


Mnre JL Erasmus, NN Mogapi, HSJ Vermeulen en TC Ramatlotlo
LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Ses-en-dertig kultivars is gedurende die verslagperiode (2007/08 tot 2011/12) in 146 proewe, verteenwoordigend van die koel-, matig- en warm produksiegebiede gevalueer. Konvensionele sowel as geneties gemodifiseerde (GM) kultivars is in die proewe ingesluit, maar die op 'n konvensionele basis bestuur m.a.w. geen glifosaat is toegedien nie. Die proewe is uitgelê volgens 'n ewekansige blokontwerp met drie herhalings. Die dae tot 50% blom, aantal dae tot oesryp, lengte van die groeiseisoen, planthoogte, peulhoogte, % groenstam, omval, oopspring, 100 saadmassa, % ongewensde sade, proteïen- en olie %, saadopbrengs asook die oessekerheid van die verskillende kultivars is bereken. Die oessekerheidswaarde speel 'n belangrik rol by die keuse van 'n kultivar.

Die gemiddelde opbrengs bereken oor kultivars en seisoene was 2 302 kg ha-1 vir die koel, 2 392 kg ha-1 vir die matig en 3 195 kg ha-1 vir die warm gebiede.

Kultivars met 'n hoe stabiliteit gedurende die verslag periode was PAN 535 R, PAN 737 R en Dundee vir die koeler gebiede. Kultivars met 'n hoe stabiliteit vir die matige gebiede was A5409 RG, Heron en LS 6161 R, terwyl PAN 737 R en LS 6150 R 'n hoë stabiliteit vir die warm gebiede getoon het. Die volgende kultivars het 'n bogemiddelde oessekerheidswaarde vir opbrengste van 1 000 tot 4 000 kg getoon en verdien spesiale vermelding. Vir die koel gebiede het PAN 1583 R 'n bogemiddelde oesseker­heidswaarde gehad, PAN 1666 R, PAN 1454 R, PAN 1583 R, PAN 1664 R en LS 6150 R vir die matige gebiede, terwyl LS 6150 R, LS 6161 R, PAN 737 R, PAN 1664 R asook Heron in die warm gebiede bogemiddelde oessekerheid getoon het.


6.3

 

Die verhoging van sojaboonproduksie op die Hoëveld


Mnr WF van Wyk
LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Bewerkingsmetodes met verskillende wisselboustelsels
Vet-gedrukte behandeling is die afgelope seisoen se behandeling.

Behandelings: ploeg (P) (soja, soja, soja, soja) – (soja, mielies, soja, mielies) – (mielies, soja, mielies, soja), geen bewerking (G) (soja, soja, soja, soja) – (soja, mielies, soja, mielies) – (mielies, soja, mielies, soja) en dis (D) (soja, soja, soja, soja) – (soja, mielies, soja, mielies) – (mielies, soja, mielies, soja). Daar is in die 2009/2010 seisoen ook begin met 'n monokultuur mielies-behandeling wat ook by al drie die verskillende bewerkingsmetodes uitgevoer word.

Figuur 1

Mielie-opbrengs in ton/ha vir 2012/2013

Mielie-opbrengste by die verskillende bewerkings- en wisselboustelsels in 2012/13

Figuur van mielie-opbrengste by verskillende bewerkings- en wisselboustelsels

Volgens Figuur 1 is daar bogemiddelde opbrengste met mielies behaal in die 2012-13 seisoen. Die hoogste opbrengs is behaal waar mielies volg op soja by die geenbewerking (13.7 ton/ha) en die laagste opbrengs waar mielies volg op mielies by die ploegbewerking (9.2 ton/ha).

In Figuur 2 word die sojaboon-opbrengste aangedui.

Figuur 2

Sojaboon-opbrengs in 2012/2013

Soja-opbrengste by die verskillende bewerkings- en wisselboustelsels in 2012/13

Figuur van sojaboon-opbrengste by verskillende bewerkings- en wisselboustelsels

Dit is duidelik uit die grafiek dat sojas opgevolg deur sojas, swakker presteer as soja na mielies by al drie die verskillende bewerkingspraktyke. Die geenbewerking behandelings het die beste gedoen by soja op mielies sowel as soja op soja. Opbrengste was aan die lae kant aangesien hierdie proef onder droëland aangeplant is en daar nie in Februarie noemenswaardige reën geval het nie.

Maksimum opbrengsproef (besproeiing)
Hierdie proef is nie hierdie seisoen aangeplant nie weens 'n probleem met die besproeiingstelsel maar sal weer hervat word in die 2013/14 seisoen.

Plantdatum-proef
Veertien verskillende kultivars wat varieer van 'n MG-IV tot MG-VII is op 7 verskillende plantdatums aangeplant in 45cm rye. Die plantdatums was onderskeidelik 25/9/2012, 5/10/2012, 15/10/2012, 25/10/2012, 5/11/2012, 20/11/2012 en 30/11/2012.

In Figuur 3 word die aantal dae van plant tot oes vir die verskillende kultivars by die verskillende plantdatums aangedui. Die data wys duidelik dat die MG-IV kultivars by al die plantdatums oor 'n tydperk van 130 tot 148 dae oesgereed was terwyl die langer groeiers tussen 136 tot 204 dae geoes is. Die variasie van die lang groeiers t.o.v. oesgereedheid is dus veel groter as by die vinnige groeiers by verskillende plantdatums.

Figuur 3 Die aantal dae van plant tot oes van 14 kultivars by 7 verskillende plantdatums

Figuur van plant tot oes van 14 kultivars by 7 verskillende plantdatums

In Figuur 4 word die opbrengste aangedui vir die 14 kultivars by sewe verskillende plantdatums.

Figuur 4 Die opbrengste van 14 kultivars by 7 plantdatums in kg/ha

Figuur van opbrengste van 14 kultivars by 7 plantdatums

Die vroeë plantdatums het oor die algemeen beter gedoen as die later aanplantings behalwe by sekere bepaalde groeiers (PAN 1664R en PAN 535R) waar dit net so goed of beter gedoen het.

Proewe by boere

Sclerotinia-proef te Kinross (Vosstoffel Boerdery)

Ses verskillende instansies het die afgelope seisoen verskillende produkte as behandelings vir sklerotinia by hierdie proef ingeskryf naamlik:

  • Philagro: Sumisclex, Sumisclex + BreakThru, Sumisclex + BreakThru as korrektiewe behandeling.
  • Plant Health Products: Eco-T op saad en opgevolg met Eco 77 bespuitings, Eco-T bespuitings en Eco-T + Agrisil(K) bespuitings en Eco 77 op saad opgevolg met een en twee bespuitings met Procymidone 250 SC + BreakThru. tydens blom en 10 dae later.
  • Stimuplant: B-Rus op saad en opgevolg met bespuiting tydens blom.
  • Green Bio: Chitosan op saad opgevolg met bespuiting tydens blom.
  • Helga Dagitat: T-Gro, Armenius en Sparticus op saad.
  • BASF: Bellis teen onderskeidelik 600g en 1200g/ha met eerste blom (R1).

Kontroles is gelos tussen al die behandelings op so 'n wyse dat elke behandeling ten minste op een kant teen 'n kontrole gegrens het. 'n Kort groeier (LS 6444 R) is ingesluit in die proef om sklerotinia te "ontwyk" terwyl 'n langer groeier (LS 6161 R) gebruik is as kultivar waarop die verskillende biologiese en chemiese behandelings toegepas is.

Die proef is aangeplant op 20/11/2012 en soos wat die plante ontwikkel het, is die verskillende behandelings toegepas. Daar was geen sklerotinia besmetting en die proef is erg deur hael beskadig op 11 Mei – soveel so dat dit nie geoes is nie.

Planttyd- en plantdigtheid-proef te Stoffberg (Piet Prinsloo en Johan Scheepers)

Agtien (18) cultivars is elk teen drie (3) verskillende plantdigthede aangeplant op onderskeidelik 24/10/2012 en 14/11/2012 by Piet Prinsloo (eerste aanplanting) en Johan Scheepers (tweede aanplanting). Blomdatums en oesdatums is geneem asook die peulhoogtes. Die proewe is gedors en al die na-dors data is geneem.

Ten spyte van 'n baie droë jaar is daar goeie resultate behaal, veral t.o.v. die verskillende plantdigthede. Dit blyk duidelik uit die resultate dat sekere kultivars hoër plantdigthede en andersom verkies. Hierdie proewe is onder geenbewerking aangeplant.

Dit was duidelik dat regop groeiers soos LS 6444 R en LS 6146 R heelwat beter doen by 'n hoë plantestand (520 000) as by 'n lae plantestand (400 000). Dit is ook duidelik dat die MG-IV en V kultivars beter gedoen het as die langer groeiperiode cultivars en dit kan toegeskryf word aan droogte in Februarie.

Die tweede aanplanting het op 10 dae na opkom tussen 65 en 75% haelskade gehad maar van die kultivars (veral die langer onbepaalde groeiers) het goed herstel.

Volgens die resultate is die opbrengste van die tweede aanplanting aansienlik laer as die van die eerste aanplanting maar inaggenome die haelskade wat vroeg na opkom voorgekom het, het van die langer en onbepaalde groeiers redelik presteer.

Mnr Marius van Rensburg van die Departement Landbou te Nooitgedacht, Ermelo (Mpumalanga) het opgetree as verantwoordelike beampte vir die proef en het gehelp met die neem van blom- en oesdatums.


6.4

 

Vestiging van 'n vroeë-waarskuwingstelsel vir sojaboonroes


Mnr GP de Beer
Kontrakteur, Proteïennavorsingstigting

Gedurende die 2012/13-seisoen is 'n vroeë waarskuwingstelsel vir sojaboonroes geskep deur tien lokaliteite wat verteenwoordigend is van die belangrikste sojaboonproduksie-areas, te selekteer. Hierdie waarskuwingstelsel is in samewerking met die Proteïennavorsingstigting, Landbou­navorsingsraad (LNR-IGG), Pannar, Departement van Landbou (KwaZulu-Natal) en produsentebedryf. Die lokaliteite was by Kestell (Vrystaat), Cedara, Greytown, Normandien, Vryheid (KwaZulu Natal), Dirkiesdorp, Morgenzon en Kinross (Mpumalanga), Greylingstad (Gauteng) en Potchefstroom (Noordwes).

Soos in die verlede is daar gepoog om die proewe drie tot vier weke voor die algemene plantdatum vir sojabone te plant. Twee kultivars met verskillende groeiperiodes (PAN 1454R wat 'n MG 4 is en PAN 737 R wat 'n MG 7 is) is geselekteer om in gelyke dele in elk van die proewe, wat elk ongeveer 200m² groot was, te plant. Plant en instandhouding van die proewe was die verantwoordelikheid van die onderskeie produsente. Roetine waarnemings het op 9 Januarie 2013 begin en proewe is daarna op 'n weeklikse basis besoek. Streng sanitêre maatreëls is gevolg om te verseker dat geen spooroordrag tussen proewe plaasvind nie.

Wanneer roes op 'n lokaliteit waargeneem is, is elke betrokke produsent aangeraai om die perseel met die toepaslike swamdoders te spuit of om dit tot niet te maak en alle plantreste te vernietig. Dit word gedoen om te verseker dat die perseel nie 'n bron van inokulasie word vir omliggende aanplantings nie. Roes was eerste by Greytown (16 Januarie 2013), Cedara (8 Februarie 2013), Vryheid (9 Februarie 2013), Dirkiesdorp en Nor­mandien (4 Maart 2013) gevind. Geen roes was by enige van die ander lokaliteite gekry nie. Sodra roes gekry en bevestig was, is produsente deur selfoon, radioberigte en Graan Suid-Afrika daarvan ingelig. Produsente is dan aanbeveel om swamdoder te spuit.


6.5

 

Ondersoek na die etiologie en voorkoms van grondgedraagde siektes van sojaboon in Suid-Afrika


Drs YT Tewoldemedhin en SC Lamprecht
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

Sojaboonsaailinge en -plante soos die van ander gewasse is vatbaar vir 'n wye reeks grondgedraagdepatogene, en dit bemoeilik navorsing op die etiologie en diagnose van grondgedraagdesiektes van hierdie gewasse. Navorsing in ander lande het getoon dat grondgedraagdesiektes van soja­bone kan lei tot betekenisvolle ekonomiese verliese in meeste van die lande waar sojabone verbou word. Oesverliese van tot 70% en in sommige gevalle plantverliese en oesverlaging van tot 100% is verkry met baie vatbare sojaboonvariëteite. In Suid-Afrika is die etiologie van sojaboon grondgedraagdesiektes nog nie bestudeer of gedokumenteer voor die huidige studie wat die afgelope twee jaar onderneem is nie. Hierdie is daarom die eerste uitgebreide opname wat grondgedraagdesiektes van sojabone in Suid-Afrika ondersoek. Die studie is gedoen in dertien nasionale kultivarproeflokaliteite in sojaboonproduksie-areas in ses provinsies wat drie klimaatstreke verteenwoordig. Die resultaat van die studie dui aan dat belangrike grondgedraagdepatogene, wat alreeds in ander lande gerapporteer is, ook geassosieer word met siek sojaboonkrone en -wortels in sojaboonproduksie-areas in Suid-Afrika. Die voorkoms van die genera en spesies wat verkry is, is deur die gebied waar die monsters geneem is, sowel as die tyd wat die monster geneem is en die klimaat van die gebied beïnvloed.

In die vorige studie is die gevolgtrekking gemaak dat die belang­rikheid van al die spesies, wat in die sojaboonproduksie-areas van Suid-Afrika gevind is, bepaal moet word deur hul te toets as grondgedraagdepatogene van sojabone. Verder is die vorige studie by nasionale kultivar­proeflokaliteite gedoen en die gevolgtrekking is gemaak dat die voorkoms en intensiteit van die grondgedraag­desiektes van sojabone op kommersiële plase bepaal moet word, ongeag van die variëteit wat verbou word, sodat die omvang en belangrikheid van die grondgedraagde­siektes in die hoof sojaboonproduksie-areas van die land bepaal kan word. Daarom is die kern doelwitte van die studie gedurende 2013/14 om te bepaal wat die voorkoms en intensiteit van sojaboon grondgedraagde­siektes is op kommersiële plase, in die hoof sojaboonproduksie-areas van die land, en om die potensiaal van al die swamspesies, verkry uit die vorige studie, as grondgedraagde­patogene van sojabone te ondersoek, deur middel van pato­genisiteitstoetse op sojaboonsaailinge onder glashuistoestande.

Die identiteit van die swamme en oomycetes geassosieer met siek saadlobbe, krone en wortels van sojaboonplante is ondersoek in 'n studie gedurende die 2012/13 groeiseisoen. Sojaboonplante en grond vanaf die rhizosfeer is versamel van alle kommersiële plase wat deel uitmaak van die studie. Plante is versamel gedurende drie ontwikkelings stadia (twee weke na plant, tydens blom en tydens volwassenheid of vulling van die saadpeul) vanaf twaalf kommersiële sojaboonplase wat drie klimaatstreke (koel, gematig en warm) in vyf provinsies van Suid-Afrika verteen­woordig. Siek saadlobbe, hipokotiele/krone en wortels is evalueer vir siekte­intensiteit en ontleed vir mikroflora wat daarmee geassosieer word, deur middel van morfologiese beskrywing en DNS volgorde-bepaling van die DNS wat van die isolate geëkstraheer is. Grondmonsters is vanaf elke area versamel en in glashuisproewe gebruik om die teenwoordigheid en biologiese aard van die grondgedraagdesiektes te bepaal deur helfte van die grond te pasteuriseer by 83°C en sojaboonsade in die grond te plant. Daarbenewens is patogenisiteitstoetse van verteenwoordigende spesies van alle swamme en oomycetes onder glashuistoestande uitgevoer. Patogenisiteit en die relatiewe virulensie van elke isolaat is bepaal deur die persentasie oorlewing van sojaboon­saailinge, plantlengte, en graad van kroon- en wortelvrot, drie weke na plant te evalueer.

Resultate van die studie dui aan dat die hoogste graad van kroon- en wortelvrot by Brits, Bothaville en Clocolan voorgekom het, en dat Brits, Clocolan en Vryheid die hoogste graad saadlobvrot gehad het. Die hooste graad van kroonvrot is gedurende die derde monsternemings periode aangeteken. Wortelvrot was die hoogste by Clocolan gedurende die hele seisoen (tydens al die monsternemings periodes).

'n Totaal van 6860 swamisolate is vanaf die saadlobbe, krone en wortels verkry. Die swamisolate kan ingedeel word in 29 swam­genera. Die mees algemeenste geïsoleerde swamgenera en spesies sluit in Alternaria spp., F. equiseti, F. oxysporum, F. solani, Gliocladium spp., Macrophomina spp., Phoma spp., Phomopsis spp., Pythium spp., Rhizoctonia spp., Trichoderma spp. en Sclerotium spp. Sclerotinia isolate is ook vanaf geaffekteerde sojaboon­stingels en krone verkry. Die voorkoms van genera en spesies is deur die area waar gemonster, tyd van monsterneming en klimaat van die area beïnvloed.

Bykans 60% van die isolate wat gedurende die studie verkry is behoort aan die genus Fusarium, waarvan Fusarium oxysporum die mees dominante spesie was met meer as 40% van die isolate wat behoort aan die spesie. The tweede mees dominante spesie binne die Fusarium genus was F. solani. Fusarium equiseti is ook een van die mees algemeenste spesie wat van die genus geïsoleer is. Fusarium solani isolate, wat gedurende die studie verhaal is, stem nie 100% ooreen met die DNS-volgorde van die "sudden death" sindroom veroorsakende spesies (Fusarium virguliforme voorheen bekend as F. solani f. sp. glycines, F. tucumaniae, F. brasiliense en F. crassitipitatum) nie. Van die Fusarium isolate wat verkry is vanaf 'n plaas in Lydenburg (Mpumalanga) het egter tipiese "sudden death" simptome op die plante veroorsaak en stem 99% ooreen met Fusarium virguliforme, as daar na een geenarea gekyk word. Verdere studies word tans onderneem om te bevestig of die isolate wel een van die "sudden death" veroorsakende spesies is.

Glashuishuisstudies het getoon dat die oorlewing van sojaboon­saailinge, wat in gepasteuriseerde grond gegroei is (versamel van al die plase waarvan monsters geneem is), betekenisvol toeneem, maar dit het gewissel met elke monsternemingsperiode. Die studie wat tydens die 2012/2013 groeiseisoen onderneem is, het bevestig dat die swamme wat in ander lande as veroorsakende organismes van grondgedraagdesiektes gemeld is, gevind kan word in assosiasie met siek saadlobbe, krone en wortels van sojabone in Suid-Afrika, maar sommige van die swamme is ook vir die eerste keer op sojabone gerapporteer.

Patogenisiteitstoetse, wat met 46 Rhizoctonia isolate wat agt anastomose groepe (AGs) en 'n ongeïdentifiseerde multinukleus Rhizoctonia groep insluit, het getoon dat die multinukleus groepe, AG-2-2 IIIB, AG-4 HG-III, AG-4, en die een ongeïdentifiseerde multinukleus Rhizoctonia groep patogenies is en die oorlewing van sojabone betekenisvol verminder, sowel as betekenisvol meer hipokotiel- en wortelvrot veroorsaak. Alhoewel die R. zeae en 'n paar isolate van die AG-Ba groep nie saailingafsterf voor opkoms veroorsaak het nie, het dit betekenisvolle hipokotiel en wortel­vrot veroorsaak in vergelyking met die kontrole. Die studie het getoon dat die patogeniese Rhizoctonia spesies en AG groepe wel in al die soja­boonproduksie areas van Suid-Afrika voorkom. Verdere patogenisiteitsproewe word tans onderneem en resultate sal binnekort beskikbaar wees.

Hierdie studie is die eerste uitgebreide studie op sojaboon kommersiële plase in Suid-Afrika waar grondgedraagdesiektes en patogene wat daarmee geassosieer word, ondersoek word. Die opname wat tydens die 2012/2013 groeiseisoen op kommersiële plase onderneem is, moet ook tydens 2013/2014 herhaal word sodat die resultate bevestig kan word en om te verseker dat al die swamme en oomycetes wat met siek saad­lobbe, krone en wortels van sojabone geassosieer word, geïdentifiseer is vir verdere studies. Dit sal ook bepaal waarop navorsing in die toekoms sal fokus om beheerstrategieë teen die mees belangrike grondge­draagdesiektes van sojabone in Suid-Afrika te ontwikkel.

6.6

 

Insek biodiversiteit en veelheid in sojabone (Glycine max)


Me JM Truter
LNR-Instituut van Graangewasse, Potchefstroom

Sojabone se belangrikheid het oor die afgelope paar groeiseisoene in Suid-Afrika toegeneem weens hul geskiktheid as wisselbougewas met mielies. As gevolg van hierdie produksietoename, is dit belangrik om arthropood biodiversiteit te bepaal en om 'n basiese spesielys saam te stel vir toekomstige gebruik in evaluering van die moontlike gevolge van geneties-gemodifiseerde sojabone of veranderinge in die produksiepraktyke van gewasse op arthropood gemeenskappe. 'n Begrip van watter spesies op sojabone voorkom kan die ontwikkeling van geïntegreerde plaagbestuurstrategieë bevorder.

Verskeie biodiversiteitstudies is internasionaal met betrekking tot biodiversiteit op sojabone gedoen, maar 'n gebrek aan soortgelyke inligting bestaan in Suid-Afrika. Rawat en Kapoor (1968) berig dat 273 insekspesies sojabone aanval. In Nigerië is 24 plaagspesies aangeteken (FMARD, 2002), in die trope veroorsaak 84 spesies skade (Jackai et al., 1990) en in Indië is 20 plaagspesies aangeteken (Singh & Singh, 1990). Uit hierdie studies kan daar afgelei word dat die biodiversiteit van insekte op sojabone groot is. Dit moet aanvaar word dat enige gewasuitbreiding gewoonlik gepaard gaan met verhoogde vlakke van plae, dus is dit noodsaaklik om verhoogde bewustheid vir potensiële toekomstige bedreigings in ag te neem (Van Wyk & Smit, 2010).

Die doel van hierdie studie was om 'n lys op te stel van arthropood spesies wat op sojabone in Suid-Afrika voorkom, diversiteit en veelheid van arthropoda te bepaal asook om 'n vergelyking te tref tussen onkruiddoderverdraagsame en konvensionele sojabone. Toekomstige plae en moontlike ekonomies belangrike arthropoda is geïdentifiseer uit die lys deur middel van 'n ekologiese risiko-assesseringsmodel benadering.

Arthropoda is versamel by vier onkruiddoderverdraagsame sojaboonlande in Brits asook een onkruiddoderverdraagsame en een konvensionele sojaboonland in Potchefstroom. 'n Konvensionele land was nie beskikbaar in die Brits-area nie en daarom kon geen vergelykende studie tussen die twee lokaliteite en in Brits gedoen word nie. Twee metodes van versameling is gebruik, naamlik pitvalletjies en 'n D-Vac metode. Beide bogrondse en grondlewende arthropoda is versamel. Dertig pitvalletjies is nie-ewekansig in elke land begrawe om grondlewende arthropoda te versamel. Die pitvalletjies is vir 'n week voor versameling in die land gelaat. Die D-Vac metode (Kruger et al., 2008) is gebruik om die bogrondse arthropoda te versamel. By elke land is vyf herhalings van 5 m rye gemoniteer. Die D-Vac sakkie se inhoud is geplaas in 'n plastieksak en vir 2 dae in 'n vrieskas bewaar. Versameling het een keer per week oor 'n tydperk van 'n maand (Februarie-Maart) plaasgevind. Die groeistadium van die sojaboonplante was tussen R5-R6. Al die arthropoda wat tydens die opname versamel is, is verder geklassifiseer tot op morfo-spesievlak en waar moontlik tot by familie. Die morfo-spesies is gegroepeer in funksionele groepe nl. ontbinders, herbivore, predatore en parasitoïede. Die herbivore en predatore is verder op basis van hul voedingstrategie verdeel in suigende herbivore/predatore (steek-suigende monddele) en kouende herbivore/predatore (kouende monddele). Statistiese ontledings met die totale diversiteit en verskillende funksionele groepe is geanaliseer. Die Shannon en Margalef se diversiteitindekse, die totale aantal spesies, sowel as die totale aantal individue is vergelyk tussen die sojaboonkultivars (onkruiddoderverdraagsame vs. konvensionele). Die Shannon diversiteitindeks (H¹) beskryf diversiteit (spesierykheid en gelykheid), terwyl die Margalef indeks (d) spesierykheid beskryf. Die statistiese verwerking is net op die Potchefstroom-area van toepassing, omdat daar geen konvensionele land beskikbaar was in die Britsarea nie.

Die diversiteit van arthropoda was hoog. 'n Totaal van 6,175 arthropood individue, wat bestaan uit 169 morfo-spesies is tydens hierdie studie versamel. In Brits is 'n totaal van 4,543 arthropood individue wat bestaan uit 118 morfo-spesies versamel. In Potchefstroom is 'n totaal van 1,632 arthropood individue wat bestaan uit 129 morfospesies versamel. Die 169 morfo-spesies bestaan uit 13 ordes. Slegs 44,3% van hierdie spesies het in beide lokaliteite voorgekom. Die mees algemene arthropoda en spesies wat op sojabone voorkom en wat in ag geneem kan word in 'n risiko-assessering word in Tabel 1 aangedui.

Die diversiteitindekse dui geen verskille tussen onkruiddoderverdraagsame en konvensionele sojabone vir die totale diversiteit in Potchefstroom aan nie. Daar was ook geen beduidende verskil tussen die aantal spesies nie. 'n Beduidende verskil is egter vir die aantal individue tussen onkruiddoderverdraagsame en konvensionele sojabone (p = 0.01) in die Potchefstroom-area verkry.

Dit lyk asof onkruiddoderverdraagsame sojabone nie 'n invloed op arthropood diversiteit of op die verskillende funksionele groepe het nie. Verdere studies oor verskeie seisoene is egter nodig om die gevolgtrekking te bevestig. Hierdie opname dien as 'n beginpunt van arthropood biodiversiteitstudies in Suid-Afrika en verskaf 'n basiese spesielys wat gebruik kan word in geïntegreerde plaagbestuur.

Kennis en begrip van die hele sojaboonstelsel (nie net die plaag alleen nie), asook die invloed van onkruiddoderverdraagsame verbouingstelsels op die teenwoordigheid, digtheid en gedrag van die plaag/voordelige arthopoda in sojabone, moet toeneem. Bogenoemde is belangrik indien geïntegreerde plaagbeheerstelsels vir sojabone ontwikkel en geïmplementeer moet word (Jackai et al., 1990; Jackson & Pitre, 2004).

Tabel 1
Funksionele groepe en die veelheid van arthropoda wat in die ekologiese risiko-assessering van sojabone oorweeg kan word
Volopste spesie per funksionele groep
Funksionele groep Aantal spesies per groep Orde Familie Genus / Morfo spp. Aantal
individue
Detritivore 18 Diptera Diptera sp. 6 167
Suigende herbivore 34 Hemiptera Cicadellidae Cicadellidae sp. 2 111
Kouende herbivore 38 Coleoptera Chrysomelidae Chrysomelidae sp. 1 66
Suigende predatore 15 Hemiptera Miridae Deraeocoris sp. 1 45
Kouende predatore 54 Hymenoptera Formicidae Formicidae sp. 1 3 386
Parasitoïede 13 Hymenoptera Hymenoptera sp. 2 49

6.7

 

Die potensiaal van ensiemaktiwiteit om knopwortelaalwurmweerstand vinnig en effektief in sojaboonkultivars te identifiseer


Prof HA Fourie, Me C Venter & Mnr J Berner
Eenheid van Omgewingswetenskappe en Bestuur en Skool vir Biologiese Wetenskappe, Noordwes Universiteit, Potchefstroom

Inligting rakende weerstandbiedende sojaboonkultivars wat voortdurend vrygestel word vir kommersiële gebruik, behoort beskikbaar te wees vir produsente. Die rede hiervoor is dat knopwortelaalwurmgasheerweerstand tans een van die min koste-effektiewe en omgewingsvriendelike strategieë is wat beskikbaar is om sojaboonoesverliese te beperk. Tradisionele prosedures wat gebruik word om knopwortelaalwurmgasheer­weerstand te bepaal is tydrowend en word grootliks deur omgewingsfaktore en genetiese variasie in aalwurmbevolkings beïnvloed. Die hoofdoel van hierdie projek is om die gebruik van biochemiese merkers wat insluit ensiemaktiwiteit te gebruik om die gasheerstatus van sojaboonkultivars binne 'n kort tydperk te identifiseer. Katalase- (CAT), lipoksigenase- (LOX) en peroksidase (POD) aktiwiteit is dus vervolgens bepaal in knopwortel­aalwurmweerstandbiedende en -vatbare kultivars. Met betrekking tot die tradisionele evaluering van sojaboonkultivars vir gasheergeskiktheid teen M. incognita het dit geblyk dat daar groot variasie tussen die 24 kultivars was ten opsigte van hierdie parameter. Galindekse het aangedui dat die weerstandbiedende kultivar LS5995 asook PHB95Y20 betekenisvol laer indekswaardes getoon het ten opsigte van die ander 22 kultivars wat 30 dae na inokulasie geëvalueer is. Alhoewel betekenisvolle verskille tussen laasgenoemde 22 kultivars bestaan het ten opsigte van hul hoë gal-indekswaardes, het PAN1666R die hoogste waardes gehad en is laasgenoemde kultivar gevolg deur Sonop en A5409RG. Alle knopwortel­aalwurmparameters wat gebruik is, het verder aangedui dat LS5995 die swakste gasheer was met 'n reproduksiefaktor (Rf) <1 wat aandui dat dit weerstandbiedend is teen M. incognita. Daarteenoor het LS6248R die hoogste Rf waarde gehad wat aandui dat dit die mees vatbare kultivar was, gevolg deur Dundee en LS6164R. Dit blyk dus uit hierdie resultate dat galindekse nie korreleer met eier en tweede-jeugstadiumgetalle (J2) asook Rf waardes vir M. incognita nie en dat galindekse op 'n vroeë ontwikkelingstadium van sojaboon­plante nie 'n akkurate aanduiding is van gasheerweerstand teen M. incognita nie. Resultate verkry vir CAT het baie variasie getoon terwyl voorlopige resultate wat LOD en POD betref 'n 40% en 20% toename in die onderskeie ensiemvlakke getoon het vir M. incognita-geïnfekteerde LS5995 plante teenoor dié wat nie met nematode geïnokuleer was nie.


6.8

 

Kultivarevaluasie van olie- en proteïensade in die winterreënstreek


Mnr PJA Lombard
Departement van Landbou Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het gedurende die 2012 seisoen 'n reeks kultivarproewe in die Wes en Suid-Kaap (Rûens) uitgevoer. In die Suid-Kaap is agt proewe aangeplant waarvan vyf proewe se data ingesluit is. Die ander resultate was weens omval by Witsand, versuip­toestande by Tygerhoek en wildemakouskade by Roodebloem nie bruikbaar nie. In die Swartland is sewe proewe aangeplant op ses lokaliteite waarvan een proef nie geoes is nie, agv wildemakouskade (Grasrug).

Die afgelope seisoen was gekenmerk deur baie goeie vogtoestande in die Swartland en Rûens. Op beide lokaliteite het bogemiddelde goeie reën gedurende die lente voorgekom wat die groeiseisoen met etlike dae verleng het. Die uitsondering was Pools in die Swartland met ondergemiddelde reënval.

In die Swartland was die gemiddelde opbrengste betekenisvol hoër in 2012 (2300kg ha-1) as in 2010 en 2011 (1840kg ha-1 en 1923kg ha-1). Die proef by Pools het uiterste opbrengste tot gevolg gehad: die TT-kultivars het baie lae opbrengste gelewer terwyl vier kultivars bo die 2000kg ha-1 gelewer het. Die proefgemiddeld was ten spyte van lae TT-opbrengs steeds 1344kg ha-1.

Die proefgemiddeldes vir die Swartland het gewissel tussen 1344kg ha-1 (Pools) en 3124kg ha-1 (Langgewens 1ste planttyd op 9 Mei). Die opbrengs van die 1ste aanplanting by Langgewens was 4% hoër as die 2de aanplanting (23 Mei), die klein verskil kan toegeskryf word aan gunstige klimaatstoestande tydens saadvul by beide proewe.

In die Swartland was Hyola 50 (2948kg ha-1) gemiddeld die beste konvensionele kultivar en Hyola 575 CL (2850kg ha-1) die beste CL-kultivar. Die CL-kultivar, 46Y83 (2755kg ha-1) het die 3de hoogste opbrengs gegee. Dit was betekenisvol laer as Hyola 50. Agamax, Hyola 571CL en 45Y86 se opbrengs was betekenisvol laer as die van Hyola 575 CL.

In die TT-groep het die twee basters Hyola 555 TT (2392kg ha-1) en Tumby HT (2177kg ha-1) die hoogste gemiddelde opbrengs in die Swartland gelewer. Die opbrengs van Hyola 555 TT was betekenis­vol beter as die ander kultivars in die groep. Die opbrengs van die TT-kultivars as groep (1969kg ha-1) was egter gemiddeld 25.6% (24.6 in 2011 en 25.26% in 2010) laer in vergelyking met die konvensionele kultivars (2647kg ha-1). Die gemiddelde opbrengs van die CL-kultivars was 7.1% laer as die van die konvensionele kultivars.

In die Rûens het die gemiddelde opbrengs per proef gewissel van 3062kg ha-1 by Klipdale tot 1855kg ha-1 by Tygerhoek 1. Die eerste saaityd se data is wel ingesluit, maar het ook baie nat toestande ervaar. Die gemiddelde opbrengs van TT-kultivars was egter 17.5% (22.1% in 2010 en 11% in 2011) laer as die gemiddelde van die konvensionele kultivars. Die opbrengs van die Cl-groep was slegs 0.2% beter as die konvensionele groep (10% in 2011).

Die CL-kultivar 46Y83 (3194kg ha-1) en die konvensionele kultivar Hyola 50 (3.193kg ha-1) het die hoogste gemiddelde opbrengste in die Rûens gelewer. In die TT-groep het die twee basters Hyola 555 TT (2553kg ha-1) en CB Jardee HT (2518kg ha-1) die hoogste opbrengs van alle lokaliteite in die Rûens gelewer.


6.9

 

Boorbehoeftes van canola


Prof GA Agenbag en Mnr E Kempen
Universiteit Stellenbosch

Boor is een van die agt essensiële mikrovoedingstowwe wat nodig is vir die groei en ontwikkeling van meeste plante. Boortekorte mag opbrengs- en/of kwaliteitsverliese veroorsaak weens die rol daarvan in 'n verskeidenheid metaboliese prosesse en bestuiwing. Boor tekorte mag aanleiding gee tot steriele of stuifmeel wat 'n lae kiemkrag het. Canola het, soos ander lede van die Brassica familie, 'n hoë boorbehoefte en benodig meer boor gedurende al die verskillende groeistadiums as meeste ander gewasse. Hoë vlakke van boor kan egter toksies wees en gewasse mag verskil ten opsigte van hul reaksie teenoor boor. Min is bekend ten opsigte van die boorbehoefte van canola in die Wes-Kaap en hoewel sommige produsente boor bespuitings op canola toedien, is aanbevelings gegrond op resultate verkry met kleingrane en groente en is dit nie noodwendig van toepassing op canola nie.

Gedurende 2012 is proewe met boor op Altona en Langgewens proefplaas in die Swartland en Roodebloem in die Suid-Kaap op gronde met lae (< 0.30 mg kg-1) of gebrekkige (0.30-0.50 mg kg-1) boorinhoude uitgevoer. Boortoedienings van 0, 0.5, 1.0 en 1.5 kg Solubor ha-1 op 40 dae na plant (DNP), 60 DNP asook 40 en 60 DNP is vergelyk.

Weens die lang reënseisoen en algemeen koel toestande gedurende die pitvulstadiums, is hoë opbrengste van meer as 2000kg ha-1 op Altona en Roodebloem behaal. Kleiner pitte (laer duisendkorrel­massa) wat op Langgewens verkry is, is 'n aanduiding van minder gunstige toestande wat op hierdie lokaliteit gedurende die pitvul­stadium voorgekom het en was die rede vir laer graanopbrengste asook laer olie- en proteïeninhoude. Solubor (boor) toedienings het op alle lokaliteite tot betekenisvolle verhogings in graanopbrengs aanleiding gegee, maar optimale toedieningspeile het gewissel vir verskillende lokaliteite en mag dus verband hou met die boorinhoud van die grond. Toedienings van 2-3 kg Solubor ha-1 het laer opbrengste (toksisiteit) op alle lokaliteite veroorsaak. Gedurende die 2012 seisoen is geen betekenisvolle verskille verkry tussen toedienings op 40 en toedienings op 60 dae na plant nie. Dit was egter duidelik dat die verdeling van die toediening tussen 40 en 60 dae geen opbrengsvoordele ingehou het nie. Solubor (boor) toe­dienings het ook min invloed gehad op die olie- en proteïeninhoud van die graan.


6.10

 

Plantdigtheid van canola: invloed op die onderdrukking van onkruid en opbrengs van canola in die Swartland


Dr PJ Pieterse
Universiteit Stellenbosch

Die doelwitte van die studie is om   1) die effek van plantestand op die onderdrukking van onkruide (biomassa) deur verskillende canolakultivars in die Swartland en Suid-Kaap te bepaal en   2) die effek van plantestand op die ontwikkeling (blomdatum, fisiologiese ryp datum), groei (biomassa van reproduktiewe teenoor vegeta­tiewe komponente), plantlengtes, opbrengs en kwaliteit van verskillende canolakultivars in die Swartland en Suid-Kaap canola­produksie gebiede te bepaal. Landproewe is op die Roodebloem proefplaas (Suid-Kaap) en die Langgewens proefplaas (Swartland) onderskeidelik geplant. In een stel proewe op elke lokaliteit is die aanbevole onkruidbeheerprogramme (meganies plus chemiese beheer) gevolg om 'n onkruidvrye situasie te skep. In die tweede stel proewe is geen onkruidbeheer (behalwe nie-selektiewe middels voor plant, waar nodig) toegepas nie om die onderdrukkende effek van verskillende canolakultivars teen verskillende plantdigthede teenoor onkruide te bepaal. Die behandelings is as volg:   a) 4 kultivars (1 oop bestuifde en 1 baster kultivars elk van TT en Clearfield tipes) (CB Jardee, Bravo, 43c80 en 45y82) is geplant en   b) saaidigthede is gemanipuleer met die doel om 4 plantestande (30, 60, 90 en 120 plante m-2) daar te stel. Plant­monsters (canola en onkruid) is geneem ongeveer 60 en 90 dae na opkoms en die droëmassas is bepaal. Oesopbrengs en fisiologiese rypwording van canolasaad is bepaal en die ruproteien en ruvet inhoud van die saad is bepaal. Voorlopige resultate toon soos te verwagte dat die onkruid­besmette persele 'n baie laer plantestand asook biomassa­produksie van canolaplante tot gevolg gehad het. Daar is egter nog nie baie duidelike tendense waarneembaar ten opsigte van die effek van kultivar of plantdigtheid op onkruidonderdrukking of oesopbrengs nie. Daar is egter nog resultate uitstaande wat nog nie statisties verwerk is nie en die uitstaande resultate mag moontlik sterker tendense aan die lig bring. Die navorsing sal in 2013 en 2014 voortgesit word.


6.11

 

Opsies om onkruid chemies te beheer in GM-canola


Dr PJ Pieterse
Universiteit Stellenbosch

Die doelwitte van die projek was om   1) die effek van toediening van verskillende dosisse glufosinaatammonium (Basta®) op raaigras- en ramenasplante van verskillende groeistadiums te ondersoek met die doel om die toediening van laer maar steeds effektiewe dosisse van glufosinaatammonium op onkruid te ondersoek en   2) die effektiwiteit van glifosaat, glufosinaat­ammonium, atrasien en imasamoks (Cysure®) en mengsels van hierdie onkruiddoders met die vooropkoms middel propisamied (Kerb®) te ondersoek in terme van onmiddellike sowel as residuele onkruidbeheer. Die vier onkruiddoders is gekies omdat daar alreeds kanolakultivars in Suid-Afrika beskikbaar is wat weerstand teen atrasien en imasamoks het en die verwagting is dat daar binne die afsienbare toekoms GM kanolakultivars wat weerstand het teen glifosaat (Roundup Ready® kultivars) en glufosinaatammonium (Liberty Link® cultivars) beskikbaar gestel sal word. Glashuis eksperimente op raaigras ('n kom­mersiële weidingskultivar en 'n onkruid biotipe) het getoon dat bevredigende beheer (>90%) met 'n dosis van 2.5 L ha-1 glufosinaat ammonium op plante wat gewissel het in groeistadia van 2 weke tot 10 weke ouderdom behaal kon word. Die inligting uit die literatuur dat die werking van glufosinaat- ammonium ernstig deur plantouderdom (grootte) beïnvloed word kon dus nie in hierdie werk bevestig word nie. Insgelyks is die nodigheid om 6 tot 7.5 L ha-1 glufosinaatammonium toe te dien (die geregistreerde dosis in Suid-Afrika) nie bevestig nie. Dit moet egter in ag geneem word dat die werk onder gunstige toestande in 'n glashuis uitgevoer is en dit behoort onder veldtoestande bevestig te word. Veld­eksperimente het getoon dat die beste resultate in terme van onkruidbeheer verkry is deur toediening van glifosaat teen 1.5 L ha-1, gevolg deur atrasien teen 2.5 L ha-1, glufosinaat­ammonium teen 7.5 L ha-1 en imasamoks teen 1.2 L ha-1. By­voeging van propisamied het nie enige betekenisvolle invloed op die effektiwiteit van die onkruiddoders gehad nie. Die proewe sal herhaal word in 2013 en 2014.


6.12

 

Evaluasie van verkorte canola onthou­dingsperiodes en gebruik van alternatiewe gewasse op die volhoubaarheid van winter­graanproduksie onder geen-bewerkings­praktyke op die Riversdal vlaktes


Dr JA Strauss en Mnr W Langenhoven
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die 2012 jaar was die 1ste jaar van die nuwe Riversdal proef. Ses kontantgewasstelsels word getoets en sluit in stelsels met verkorte canola verbouingsperiodes en ander met dekgewasse. Daar is 60 persele in total geplant. Elk van die 6 stelsels word drie keer herhaal en elke gewas binne elke stelsel is elke jaar teenwoordig. Al die persele is geplant en bestuur volgens die protokol wat opgestel is tydens die jaarlikse tegniesekomitee-sessie in Februarie.

Die Riversdal gebied het genoegsame reën ontvang gedurende die produksieseisoen, wat bogemiddelde canola-opbrengste tot gevolg gehad het. Geen ander kontantgewas is geoes nie as gevolg van 'n bestuursbesluit om die gewasse dood te spuit om seker te maak dat 'n potensiële onkruidgroei verhoed word.

Canola (AGAMax) is geplant op Riversdal teen 2.7 kg/ha. Daar was 'n totaal van 58kg N/ha toegedien op elke canolaperseel (20kg N/ha met plant en 38kg N/ha as bo-bemesting). Die gemiddelde canola­opbrengs was 1804 kg/ha en alle persele se olie was bo 40%.

Ekonomiese data van die Riversdal persele is nog nie ingevoer teen die tyd van die verslag nie. Aangesien die besluit wat geneem was om die gewasse dood te spuit om onkruid te beheer 'n drastiese stap was (geen boer sou alles doodspuit nie) en plant opnames en droë materiaal opbrengste geneem is, sal daar met 'n ekonoom gewerk word om realistiese data vir die kontantgewasse daar te stel om sodoende die stelsels sinvol met mekaar te vergelyk.

Tegnologie oordrag – die volgende gee 'n opsomming van die voordragte, verslae en Publikasies wat gedoen is op die Riversdal data van 2012.

Voordragte

  • 1 Boeredag
  • 1 Tegniese vergadering en terugvoer sessie

6.13

 

Swawel (S) en stikstof (N) bemesting van canola


Prof GA Agenbag en Mnr E Kempen
Universiteit Stellenbosch

Dit is algemeen bekend dat canola ongeveer tweemaal soveel stikstof (N), fosfor en kalium en meer as drievoudig soveel swawel (S), in vergelyking met koring, opneem in die proses om 1.0 ton graan te produseer. Swawelbemesting is dus 'n baie belangrike produksiefaktor wat die opbrengs van canola beïnvloed. In navorsing wat gedurende 2012 op drie lokaliteite in die Weskaap 'n aanvang geneem het, word optimum N en S bemesting­peile, tye van toediening en effektiwiteit van verskillende bronne ondersoek.

In 'n proef waar drie S peile (0, 30 en 60 kg S ha-1, toegedien as gips) in kombinasie met vyf N peile (0, 40, 80, 120 en 160 kg N ha-1, toegedien as KAN) vergelyk word, het die canola opbrengste weens die baie gunstige groeitoestande wat gedurende 2012 geheers het, op alle lokaliteite statis­ties betekenisvolle verhogings met toenemende stikstofpeile getoon. Die reaksie teenoor stikstofbemesting was egter groter en hoër opbrengste is behaal waar swawel ook toegedien is. Die hoogste opbrengste van 2573 kg ha-1 op Altona, 2173 kg ha-1 op Roodebloem en 1938 kg ha-1 op Langgewens is gedurende 2012 met 120 tot 160 kg N ha-1 tesame met 30-60 kg S ha-1 behaal. In die algemeen was daar egter min verskil tussen opbrengste behaal met 30 en 60 kg S ha-1.

In 'n tweede proef is drie S peile (0, 30 en 60 kg S ha-1, toegedien met planttyd of in gelyke dele verdeel tussen planttyd, 30 en 60 dae na plant) in kombinasie met drie N peile (0, 80 en 160 kg N ha-1), ge-evalueer. Graanopbrengs op Altona en Roodebloem is in teenstelling met Langgewens meestal verhoog deur die verdeling van die swaweltoediening tussen planttyd, 30 en 60 dae na plant. Volgens die literatuur kan swawel wel met goeie resultate as bobemesting gedurende die canola groeiseisoen toegedien word. Swak resultate op Langgewens kan moontlik toegeskryf word aan die lae oplosbaarheid en gevolglike stadige werking van gips wat as swawelbron gebruik is aangesien die reënval op Langgewens laer was as op die ander lokaliteite. Hierdie afleiding kon egter nie bevestig word deur 'n proef waar verskillende swawelbronne vergelyk is nie, aangesien geen verskille in opbrengs met Ureum-S teenoor gips (plus KAN) as swawelbron, op enige lokaliteit gedurende 2012, waargeneem is nie.

Ten einde die effek van verskillende groeiseisoene waar te neem, word die navorsing in 2013 herhaal.


6.14

 

Die bevordering van canola as wisselbougewas binne 'n bewaringsboerderystelsel in die droëland saaigebied van die Swartland, deur middel van 'n produsente kompetisie


Mnr IF Slabbert
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Veertien produsente het ingeskryf en almal is geevalueer. Daar was 4 deelnemers in die Malmesbury voorligtingswyk, 3 in die Moor­reesburg wyk, 3 in die Piketberg wyk, 3 in die Hermon wyk en 1 naby Durbanville. Dit was 'n uitstekende seisoen. Die reënval verspreiding was baie goed. Aanvank­lik het dit min gereën en soos die plante groter geword het, het dit meer gereën. Dit was ook redelik koel gedurende die hoof blomtyd in Augustus.

Geen spesiale groepbyeenkomste is gehou nie, maar tydens die September SKOG-dag is daar wel demonstrasieproewe en kultivar­proewe besigtig. Verskeie plase waar canola geplant is, is besoek om die boere van advies te bedien.

Die gemiddelde opbrengs vir 2012 was 1,81 ton per hektaar. 2011 se gemiddelde opbrengs was 1,64 ton per hektaar. Dus was die gemiddelde opbrengs 0,17 ton meer as die vorige jaar. Dit was die hoogste opbrengs sedert die kompetisie in 2001 begin is.

Die hoogste opbrengs is behaal deur Mnr AJ Louw van Malmesbury, met 'n opbrengs van 2,46 ton per hektaar. Die tweede hoogste op­brengs is behaal deur Mnr Boet le Roux, met 'n opbrengs van 2,247 ton per hektaar. Mnr AJ Louw het ook die hoogste bruto marge van R6,996 per hektaar verkry. Mnr Boet le Roux het die tweede hoogste bruto marge van R4,779 per hektaar behaal. Mnr Isak Smit van die Eendekuil omgewing, het die beste opbrengs van 9,19 kg/mm reënval gedurende die seisoen behaal.


6.15

 

Die bevordering van canola as 'n wissel­bougewas binne 'n bewaringsboerdery-stelsel in die droëland saaigebied van die Suid-Kaap deur middel van 'n produsente kompetisie


Mnr JG Loubser
Kontrakteur, Proteïennavorsingstigting

Dertig canolaprodusente het in 2012 ingeskryf vir die Suid-Kaap Canola Kompetisie.

Al die deelnemers se inligting is verwerk en in die verslag ingesluit. Die uitslae is op 26 Februarie 2013 tydens die jaarlikse Overberg Agri voorsaai inligtingsdag te Rietpoel naby Caledon vrygestel en bespreek.

Die resultate is na die tyd individueel met die deelnemers aan die kompetisie bespreek.

Vyf weerstasies se reënvalverspreiding (mm) vir 2012 en die langtermyn gemiddelde (LTG) reënval word bespreek. Hulle is Voorstekop (Heidelberg), Shildskloof (Rietpoel), Napky (Swellendam), Uitkyk (Riversdal) en Dunghye Park (Caledon).

Die reënval vir al vyf die weerstasies vir Maart en April verskil van gemiddeld tot bo die langtermyn gemiddelde reënval en het goed verspreid voorgekom. Die Canolasaad het sonder moeite binne 7-10 dae opgekom.

In Mei maand was die reënval bò die langtermyn gemiddelde by Voorstekop en onder die langtermyn gemiddelde reënval by die ander vier stasies.

Die reënval vir Junie het gewissel van bo die langtermyn gemiddel­de reënval vir Voorstekop, Rietpoel en Uitkyk tot onder die lang­termyn gemiddel­de reënval vir Napky en Dunghye Park.

In Julie maand het die reënval gewissel van bo die langtermyn gemiddelde reënval vir Rietpoel, Napky, en Uitkyk en onder die langtermyn gemid­delde reënval vir Voorstekop en Dunghye.

In Augustus maand was die reënval bo die langtermyn gemiddelde reënval vir vier van die weerstasies, behalwe vir Dunghye Park waar die reënval onder die langtermyn reënval was.

In September maand was die reënval bo die langtermyn gemiddelde reënval vir vier van die weerstasies, behalwe vir Voorstekop waar die reënval onder die langtermyn reënval was. Relatief lae tempe­rature in Augustus en September versag die effek van lae reënval op saadvorming. Die gemiddelde canola produsenteprys was R4,392 per ton, die gemiddelde opbrengs 2.17 ton per hektaar en die gemiddelde bruto marge R5,634 per hektaar. Die deelnemer met die hoogste opbrengs van 3.345 ton per hektaar en beste bruto marge van R10,169 per hektaar was Agri Dwala (Pty) Ltd van die plaas Jafters Krantz naby Napier.

Die deelnemer wat die reënval die mees effektiefste bestuur het, met 'n opbrengs van 9.114kg saad per millimeter reënval, was die Agri Dwala (Pty) Ltd van Jafters Krantz Bredasdorp.


6.16

 

Inkomste- en kosteramings van sojabone en canola en enkele mededingende gewasse


Mnre JSG Joubert en SG Ferreira
Proteïennavorsingstigting en Agriconcep

Inkomste- en kosteramings is weer gedurende die verslagjaar vir geselekteerde gewasse en streke binne die Somer- en Winter­reënvalstreke onderskeidelik gedoen. Die inligting gee benewens die koste om 'n gewas te produseer ook die relatiewe winsgewendheid van sekere mede­dingende gewasse in die vorm van bruto-marges (Bruto-inkomste minus veranderlike koste.) Hierdie begrotings word opgestel om die PNS op hoogte te hou met die relatiewe winsgewendheid van gewasse wat bevorder word in die nastrewe van die missie en visie. Dit kan ook deur produsente aangewend word om 'n geheelboerdery beplanning, kontantvloeibeplanning asook krediet behoeftes vir die onderneming te doen. Voorligters en kontrakteurs/konsultante kan dit ook aanwend in die breër voorligtingsaksie. Die gebiede en gewasse wat onderskeidelik in die somer- en winterreënvalgebiede ingesluit is, word in tabelle 1 en 2 aangedui.

Tabel 1
Koste- en inkomsteramings binne die somerreënvalgebied volgens gewas en streek
Gebied Besproeiing / Droëland Mielies Sojabone Koring Canola Grondbone Sonneblom
GWK Gebied
Sentrale Besproeiingstreke Besproeiing X X X X X  
KwaZulu-Natal
Bloedrivier Droëland X X        
Winterton Besproeiing X X X      
Magaliesberg Graan Koöperasie Gebied
Brits Besproeiing X X X      
Mpumalanga
Piet Retief Droëland X X        
Middelburg Droëland X X        
Loskop Besproeiing X X X      
Noordwes Koöperasie
Koster Droëland X X       X
Lichtenburg Droëland X X       X
Vrystaat Koöperasie
Reitz Droëland X X X     X
Frankfort Droëland X X        
Tabel 2
Koste- en inkomsteramings binne die winterreënvalgebied volgens gewas en streek
Gebied Koring Gars Canola
Kaap Agri Gebied
Malmesbury X   X
Porterville X   X
Eendekuil X   X
MKB Gebied
Moorreesburg X   X
Overberg Agri Gebied
Caledon X X X
Bredasdorp X X X
Sentraal-Suid Koöperasie Gebied
Swellendam / Heidelberg X X X

Inligting om inkomste/koste ramings op te stel is waar moontlik verkry vanaf agribesighede. Indien die inligting nie beskikbaar is vir spesifieke streke nie word groepsbespreking met produsente gehou om dit te bekom. Aangesien struktuurveranderings binne die bedryf plaasvind word die groepbesprekings min-of-meer driejaarliks her­haal. Gedurende die tussentydse periode word koste/inkomste ramings met die nuutste pryse aangepas.

Begrotings is gebaseer op tipiese en/of aanbevole praktyke wat in die betrokke gebied gevolg word of is gebaseer op studiegroep­inligting. Die inligtingsbron word per voetnota aangedui onder die begroting.

Bronne van inligting word in tabelle 3 en 4 opgesom.

Tabel 3
Bronne van inligting, Somerreënvalgebied
Gebied Droëland / Besproeiing Bron
Sentrale Besproeiingstreke Besproeiing GWK begrotings
Bloedrivier Droëland Groepsbespreking
Winterton Besproeiing Groepsbespreking
Loskop Besproeiingskema Besproeiing MGK begrotings
Brits Besproeiing MGK begrotings
Piet Retief Droëland Groepsbespreking
Middelburg Droëland Groepsbespreking
Koster Droëland NWK begrotings
Lichtenburg Droëland NWK begrotings
Reitz Droëland VKB begrotings
Frankfort Droëland VKB begrotings
Tabel 4
Bronne van inligting, Winterreënvalgebied
Gebied Bron
Malmesbury Kaap Agri begrotings
Porterville Kaap Agri begrotings
Eendekuil Kaap Agri begrotings
Moorreesburg MBK begrotings
Caledon Overberg begroting
Bredasdorp Overberg begroting
Swellendam / Heidelberg SSK begroting

6.17

 

Die effek van rantsoen ru-proteϊen op eierproduksie in braaihoender-teelhenne


Dr NC Tyler
Universiteit van KwaZulu-Natal

Die effek van rantsoen ru-proteïen op eierproduksie in braaihoender-teelhenne is in die verlede bestudeer, maar daar is min literatuur beskikbaar oor die effek van rantsoen ru-proteïen op die vrugbaarheid van braaihoender-teelhane. Aangesien dieselfde rantsoen, oor die algemeen, vir beide braaihoender-teelhenne en braaihoender-teelhane gevoer word, maar die rantsoen ru-proteïen behoefte van braaihoender-teelhenne en braaihoender-teelhane verskil, is daar 'n moontlikheid om koste te bespaar deur proteïen­vlakke in die braaihoender-teelhane se rantsoen te verander, as dit wel lonend is om die geslagte afsonderlik te voer. Om dit te toets was braaihoender-teelhane (óf in natuurlike teelhokke, met henne op 'n kommersiele rantsoen, óf in enkelinghokke) met 'n rantsoen gevoer om 'n ru-proteïen inname van 10.4, 12.4, 14.2, 17.8, 19.3 en 20.1 gram per hoender per dag te kry. Hoenders wat minder as 14.2 gram ru-proteïen per dag gevreet het, het gewig verloor, terwyl die hoenders wat meer as dit gevreet het, gewig opgetel het. Die ru-proteïen inname het geen effek op die uitbroeipresentasie gehad nie en dit was hoog oor al die behandelings. Voorspellings van sperm vrugbaarheid was gedoen, deur die aantal sperma wat in die buitenste perivitelline membraan van eiers vasgevang is te tel, en dit het nie tussen die ru-proteïen behandelings verskil nie. Rantsoene was geformuleer om dieselfde kragvoer vlakke te hê, maar na ont­leding was daar 'n spektrum van tussen 10 en 11.5 MJ van ME per kilogram en dit is die moontlike rede vir die gewigs­verlies in die lae energie en lae ru-proteïen rantsoene, maar dit verander nie die feit dat die vrugbaarheid glad nie gedaal het nie. Selfs onder die laagste ru-proteïen inname was die vrugbaarheid nog steeds hoog. Verskaffers van braaihoender-teelhane beveel 'n ru-proteïen vlak aan van tussen 14 en 16 gram per voël per dag, maar die proef het gewys dat, selfs al is die ru-proteïn vlak net 10.4 gram per voël per dag, is daar geen daling in die vrugbaarheid van die haan. So lank daar genoeg kragvoer in die rantsoen is om gewigsverlies in die braaihoender-teelhane te voorkom, kan daar 'n besparing in voer­koste, van ten minste 4 gram proteïen per voël per dag wees as die braaihoender-teelhane 'n afsonderlike rantsoen gevoer word, sonder om die vrugbaarheid te verminder.


6.18

 

PNS webblad


Mnr JSG Joubert
Proteïennavorsingstigting

Die PNS webblad speel nog steeds 'n belangrike rol om inligting van belang aan belanghebbendes te kommunikeer. Daar word ook voortdurend gepoog om die webblad meer gebruikersvriendelik te maak en in pas te bly met nuwere verwikkelings in die verband.

Dit kan gerapporteer word dat die "fotogalery" die afgelope verslagjaar in werking gestel is, waar besoekers nou visuele uitbeeldings kan sien van items wat in die teks beskryf word.

Die inkomste- en kosteramings se aanlynopsie funksioneer ook nou ten volle en is demonstrasies van die werking daarvan by verskil­lende ge­leenthede gegee. Agterstallige bestuursopsommings van projekte, verhandelings en artikels is ook nou ten volle op die web­blad geplaas. Kop­pelings met ander instansies is nog steeds belangrik en is 'n hele aantal nuwe koppelings met landbou­verwante organisasies plaaslik sowel as in die buiteland bewerkstellig.

Die webblad is ook gedurende die verslagjaar aan Raadslede gedemonstreer om hul op hoogte te hou met nuwe toevoegings en verwikkelings in die verband.

Onderstaande statistieke dui die getal besoekers per verslagjaar aan sedert die aanvang van die webblad.

Verslagjaar Aantal besoekers
2004 1 691
2005 3 285
2006 4 552
2007 5 402
2008 11 104
2009 8 484
2010 7 313
2011 7 830
2012 9 252

Die aantal besoekers gedurende die verslagjaar het die van die vorige verslagjaar met 18,2% oortref. Wat ook bemoedigend is, is dat die aantal bladsye besoek in totaal asook die aantal bladsye per besoek verbeter oor tyd.


6.19

 

Projeksies van oliekoekbehoeftes vir diereverbruik in 2015, 2020 en 2025


Drs DB Strydom, E Briedenhann en Mnr JSG Joubert

Die projeksies word op 'n jaarlikse grondslag gedoen en word werklike oliekoekverbruik soos weergegee in die AFMA-jaarverslag gebruik om die projeksies te doen. Die metodiek het nie verander oor tyd nie, slegs die veranderlikes. Omdat die AFMA-jaarverslae nie die oliekoekverbruik per dierespesie uiteensit nie, word die APR-model soos in die verlede aangewend om die oliekoekverbruik in die basisjaar te verdeel per dierespesie. Hierdie berekening is 'n noodsaaklike element van die projeksies omdat die toekomstige behoefte aan oliekoek vir diereverbruik afgelei word vanaf die toekomstige behoeftes aan dierlike produkte soos vleis, eiers, suiwelprodukte ens. deur 'n groeiende bevolking. Die Nieuwoudt / McGuigan model word dan aangewend om gegewe die toekomstige behoeftes aan diereprodukte die projeksies te maak vir oliekoek behoeftes in die toekoms.

Veranderlikes van belang om die projeksies te kan maak is voorspellings ten opsigte van bevolkingsgroei volgens ras. Daar word ook in die verband onderskeid getref tussen stedelike en landelike gebiede sover dit die swartbevolking aanbetref.

Verwagte inkomstegroei word ook volgens ras in ag geneem en word inkomstegroei syfers vir 'n lae- en hoë inkomste scenario aangedui. Ook in hierdie geval word gedifferensieër tussen die stedelike- en landelike swartbevolking sover die inkomstegroei syfers aanbetref. Nog 'n veranderlike wat in ag geneem word is die inkome elastisiteit vir die verskillende diereprodukte volgens bevolkingsgroep. Beskermende tariewe soos van toepassing op die verskillende diereprodukte word ook in die model ingevoer.

Op 'n stadium in die verlede toe die projek aanvang geneem het, is daar ook geprojekteer ten opsigte van die 2010 jaar en kan daar nou geëvalueer word hoe akkuraat die projeksies was. Die werklike oliekoekverbruik gedurende 2010/2011 in vergelyking tot die geprojekteerde verbruik in die verlede het nie noemenswaardig afgewyk nie wat die betroubaarheid van die modelle bevestig. Resultate van die projeksies van oliekoekverbruik wat vir 2015, 2020 en 2025 gemaak is word in 4.2.5 van die navorsingsverslag bespreek.