Navorsingsverslag 2008/2009

5.

 

Projekte wat suksesvol afgehandel is of waarmee aansienlike vordering gemaak is
(Bylae I en II)


Index of projects

  1. Project titles

    1. Nasionale sojabooncultivar proewe
    2. Die verhoging van sojaboonproduksie op die Hoëveld
    3. Invloed van SO2 en die interaksie daarvan op die groei, fisiologie en biochemie van sojabone (glycine max), bestudeer in 'n OTC-stelsel
    4. Fenotipiese merkers vir wortelknoppie vormings­vermoë van sojabooncultivars
    5. Vestiging van 'n vroeë waarskuwingstelsel vir soja­boonroes
    6. Bepaling van die epidemiologiese waarde van weer­stand teen roes veroorsaak deur pha­kosora pachy­rhizi in sojaboonlyne
    7. Die gebruik van silikon in die beheer van roes op sojabone (phakopsora pachyrhizi)
    8. Die ontwikkeling van bestuursgeoriënteerde kaarte vir langtermyn sojaboonroes vatbare areas in Suid-Afrika
    9. Studie van inokulasie en siekte evaluasie tegnieke vir sclerotinia stamvrot by sojabone
    10. Super-sojakompetisie, KwaZulu-Natal
    11. Cultivarevaluasie van olie- en proteïensade in die winterreënstreek
    12. 'n Ondersoek na die produksiedinamika van agt wissel­boustelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weiding-spesies in die Swartland, Wes-Kaap
    13. Ekonomies-volhoubaarheid van kort- en langtermyn wisselbou gewas- / weidingsproduksiestelsels in die Suid-Kaap
    14. Die identifikasie van grond parameters as indikatore van volhoubare droëland gewasproduksie stelsels vir die skalie gronde van die Wes-Kaap: bewerkings­me­todes, wisselbou, grond kwaliteit en gewas produksie
    15. Bepaling van die saadverlies (oesverlies) van canola tydens die rypword- en oesstadium in die Wes-Kaap
    16. Die bevordering van canola as 'n wisselbougewas binne 'n bewaringsboerderystelsel in die droëland saaigebiede van die Swartland en Suid-Kaap deur middel van 'n produsente-kompetisie
    17. N-bemesting van canola gebaseer op N-mineralisasie en loging
    18. Optimale grondbewerkingsmetodes vir 'n koring / canola / koring lupien wisselboustelsel in die Swart­land produksie-gebied
    19. Bestuur van onkruiddoderweerstandbiedendheid in die Wes-Kaap
    20. Karakterisering en bestuur van rhizoctonia op canola en lupien in wisselboustelsels in die Wes-Kaap
    21. Insekte en ander plae van canola
    22. Kalibrasie van naby infrarooi (NIR) spektrometer vir aminosuur ontledings in veevoere
    23. Die uitwerking van beligting op verbruiks­doel­treffendheid van dieëtproteïen deur Suid-Afrikaanse Cobb en Ross braaikuiken-genotipes
    24. Die evaluasie van rou sojabone in die dieët van volstruise
    25. Inkomste- en kosteramings
    26. Modelle: APR- en Nieuwoudt / McGuigan Model
    27. PNS webtuiste

5.1

 

Nasionale sojabooncultivar proewe


Mnr JL Erasmus, Mnr HSJ Vermeulen en Mnr NW Mogapi
LNR-Instituut vir Graangewasse

'n Totaal van 20 cultivars is nasionaal op geselekteerde lokaliteite oor die sojaboonproduksiegebied aangeplant en 'n addisionele agt cultivars is getoets in die fase-1-proewe op 11 bykomende lokaliteite. Proewe is geplant by navorsingstasies waar die nodige infrastruktuur beskikbaar is om 'n volledige akkerboukundige studie te kan uitvoer. Daar is ook gepoog om proewe te plaas by lokaliteite waar die inligting benodig word en waar die maksimum hoeveelheid data verkry kan word. Die volgende is noodsaaklike data vir 'n volledige fenologiese datastel: dae tot blom, dae tot fisiologiese en oesrypheid, maksimum planthoogte en minimum peulhoogte, omval, oopspring en groenstam, relatiewe siekte en plaagvatbaarheid, saadkarakterisering en opbrengs, fisiese en chemiese kwaliteite, asook grond- en weerdata. Alle data word in 'n rekenaardatabasis opgeneem. Die data van die drie verskillende hoofproduksiegebiede, naamlik koel, matig en warm word gebruik vir die berekening van oessekerheid en regressie­lyne. Tydens die cultivarevaluasie-vergadering gedurende September 2008 is daar een nuwe cultivar aanbeveel vir registrasie en plasing op die variëteitslys, naamlik Lex D 2103 R. Die 2007/08-verslag van die nasionale sojabooncultivarproewe is ook aanvaar vir publikasie. Die gemiddelde opbrengs vir die afgelope seisoen was 2 456kg ha-1 (1 717kg ha-1 vir 2007 en 2 811kg ha-1 vir 2006). Die beste opbrengste was verkry te Vaal­harts (4 399kg ha-1), Cedara (3 394kg ha-1) en Koedoeskop (3 190kg ha-1). Die cultivar met die hoogste gemiddelde opbrengs oor lokaliteite was LS 678 met 2 611kg ha-1 en SNK 500 met 2 171kg ha-1 was die laagste. Die cultivar met die hoogste proteïenpersentasie was Stork met 42.94% en die laagste was LS 6150 R met 40.02%.


5.2

 

Die verhoging van sojaboonproduksie op die Hoëveld


Mnr WF van Wyk
Kontrakteur, Proteïennavorsingstigting

Die doel van die projek is om verbouingsriglyne daar te stel vir die verbouing van sojabone op die Hoëveld.

Die volgende drie proewe is onder hierdie projek uitgevoer:

  • Evaluering van Rywydte, plantdigtheid en cultivar;
  • Evaluering van bemesting (kaliumpeile en fosfaatpeile); en
  • Evaluering van verskillende onkruiddoders.

Rywydte, plantpopulasie en tipe cultivar

Die verskillende plantdigthede het in die 2006/2007 seisoen 'n betekenisvolle verskil getoon tussen die lae en hoë plantdigtheid ten opsigte van opbrengs – hierdie seisoen was daar geen betekenisvolle verskille nie. Die 25cm-rywydte se opbrengs was betekenisvol beter as die 100cm-rywydte, maar nie betekenisvol beter as by die 50cm- en 75cm-rywydtes nie. Die plant- en peulhoogtes het betekenisvol verskil tussen die verskillende cultivars, rywydtes en plantpopulasies. Die proteïen- en olie-inhoude was laer as verlede seisoen.

Die verskil in opbrengs by 'n plantpopulasie van 400 000 pl/ha by 'n rywydte van 25cm (3965kg/ha) en 'n plantpopulasie van 400 000 pl/ha by 'n rywydte van 100cm (3435kg/ha) was 530kg wat volgens die statistiese ontleding nie betekenisvol was nie. Indien mens egter 'n geldwaarde hier­aan koppel (teen R3500/ton) ontvang mens R1855/ha meer vir die 25cm-rywydte by die hoë populasie. Die regop-tipe cultivar wat hierdie seisoen aangeplant is (LS 6162), het glad nie die blaredak by die 75cm- en 100cm-rye toegemaak nie by beide die 300 000 en 400 000 plantestand. Hierdie is ook 'n baie vinnige cultivar en kan moontlik in die toekoms gebruik word as 'n teenvoeter vir sclerotinia omdat blomme gevorm word wanneer daar gewoonlik nog nie besmetting is nie en omdat die mikro-klimaat binne die rye nie optimaal is vir sclerotinia ontwikkeling nie.

Bemestingproef

By die bemestingsproef het betekenisvolle verskille plaasgevind ten opsigte van opbrengs by die verskillende K-peile. Dit is ook duidelik sigbaar dat opbrengs positief gekorreleer is met hoeveelheid K maar dat daar geen patroon is ten opsigte van die P-peile nie. Hierdie waarneming wys maar net weereens hoe belangrik die hoeveelheid kalium in die grond is vir opname deur die plant. Die geen reaksie met P-peile is waarskynlik omdat die grond-P (13mg/kg P) selfs by die P0-peil nog steeds voldoende is. Alle behandelings word op dieselfde persele toegepas. Die P0-peil sal dus oor tyd laer word. Aangesien kalium- sowel as fosforvlakke nou opgebou word is dit nodig om hierdie proef te laat loop sodat die draaipunte (optimum vlakke) van beide P en K in die grond bepaal kan word – hierdie inligting sal heelwat vrae ten opsigte van die bemesting van sojabone kan beantwoord.

Onkruiddoderproef

Die onkruiddoderproef is aangeplant met 'n beter idee van wat die onkruidspektrum op hierdie grond is as verlede seisoen. Spesifieke onkruid­doders is alleen of in kombinasie met ander gebruik om die effek daarvan op die onkruide en die opbrengs van die sojabone te toets. Ongelukkig het die meeste probleemonkruide (of moeilik beheerbare onkruide) soos uintjies (min), purperwinde (geen) en wandelende jood (geen) voorgekom nie en kon sekere onkruiddoders nie volgens potensiaal getoets word nie. Daar het geen betekenisvolle verskille ten opsigte van opbrengs tussen die verskillende behandelings voorgekom nie.

Dit is 'n gegewe dat onkruid in sojabone beheer moet word, of daar 'n goeie opbrengs is of nie. Onkruide veroorsaak vele sekondêre probleme soos stroopprobleme, vermeerdering van die onkruidpopulasie en die beheer in die volgende seisoene.


5.3

 

Invloed van SO2 en die interaksie daarvan op die groei, fisiologie en biochemie van sojabone (glycine max), bestudeer in 'n OTC-stelsel


Mnr JM Berner, S Lindeque, Dr PDR van Heerden en Prof GHJ Kruger
Skool vir Omgewingswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

Die invloed van SO2 blootstelling was op twee sojabooncultivars, LS 6164 en PAN 1666, ondersoek. Die doel van hierdie proef was om 1) 'n SO2-responsverwantskap op te stel en om die kritiese SO2 vlakke te bepaal wat tot oesafnames sal lei en 2) om die genotipiese variasie in toleransie van die Suid-Afrikaanse sojaboon genepoel te bepaal.

Plante is vir 7 ure per dag blootgestel aan 0 (kontrole), 25, 75, en 150 dpb SO2. Na 'n periode van 70 dae van blootstelling het die droëmassa van die wortels van LS 6164, blootgestel aan 25 dpb, toegeneem met 42%. Die 75 en 150 dpb behandelings het gelei tot 'n afname in biomassa van 25% en 26% onderskeidelik. PAN 1666 het 'n 50-60% afname in die droëmassa van wortels getoon. Die hoeveelheid nodules van beide genotipes het afgeneem met toenemende SO2. Nodule-afname van LS 6164 was tussen 8-33%. Die 150 dpb behandeling by PAN 1666 het gelei tot 'n 80% afname in nodules terwyl die 75 en 150 dpb behandelings 'n afname van 21% en 24% onderskeidelik getoon het. Die fotosintetiese vitaliteitsindeks (PIabs) van LS 6164, gemeet na 4 weke, het met 33% afgeneem by die 150 dpb behandeling, terwyl die 75 dpb behandeling tot 'n 6% afname gelei het. Daar was geen verandering by die 25 dpb behandeling nie. By PAN 1666 het die 75 en die 150 dpb behandelings tot 37% en 28% afname in die PIabs tot gevolg gehad. Volgens hierdie resultate blyk dit dat PAN 1666 meer gevoelig is vir SO2 besoedeling, veral as vlakke 150 dpb bereik.


5.4

 

Fenotipiese merkers vir wortelknoppie vormingsvermoë van sojabooncultivars


Me Urte Schlüter, Dr Riekert van Heerden en Dr Karl Kunert
Universiteit van Pretoria en Noordwes-Universiteit

Stikstofbinding in wortelknoppies bied 'n groot voordeel in sojabone in vergelyk met meeste ander graangewasse deur dat die sojaboonwortel­knoppies die stikstof bind wat benodig word vir groei en produksie van proteienryke sade. Die lewensduur van die wortelknoppies is egter baie kort (11-13 weke) en stikstofbinding neem skerp af soos die wortelknoppies verouder. Teen saadset het dit normaalweg amper heeltemal opgehou om stikstof te bind. Grond verdroging en hoë teperatuurstres verkort die lewenspan van die wortelknoppies en beperk so stikstofbinding wat 'n groot invloed op saad produksie, gewaskwaliteit en opbrengs het. Die doel van die projek is om die huidige kennis rakende doeltreffend en maklik meet­bare fisiologiese merkers wat van belang kan wees in 'n teelprogram, uit te brei. Die merkers sal kan help met die seleksie van sojabooncultivars geskik vir verbouing in droëer dele van Suid-Afrika. Spesifieke fokus word gerig op merkers vir verlengde lewenspan van wortelknoppies gedurende droogte kondisies. Navorsing word uitgevoer by die Universiteit van Pretoria in noue samewerking met die Universiteit van die Noord-Wes asook die Universiteit van Limpopo waar hoë-opbrengs cultivars met potensiaal in Suid-Afrika vergelyk word met 'n verwysings cultivar (Jackson) wat droogte weerstandbiedend is. Navorsingsaktiwiteite het gefokus op die optimalisering van water tekort eksperimente, deur gebruik te maak van spesiale glasvesel matte op verskillende vertikale posisies in die medium om verskaffing van water te beheer. Hierdie metode laat die presiese beheer en standaardisasie van plant groei/water status toe. Eksperimente het verder getoon dat droogte stress die stomatale konduksie verminder asook die netto fotosintetiese assimilasie tempo in die getoetsde cultivars, Prima, A 54 en Jackson. Die verlaging van stomatale konduksie en netto fotosintetiese assimilasie tempo was onmiddellik en die verlaging was groter in A 54 in vergeleke met Jackson en Prima. Die kwantum opbrengs van fotosintetiese elektronoordrag bepalings was minder aangetas gedurende die stess tydperk maar is aangeraak teen die einde van die droogte behandeling in alle cultivars. Ten spyte van die vergelykbare effekte van droogte behandeling in die wortelknoppie merkers waar­geneem in A-54 en Jackson, was die afname in wortelknoppie getal en varsgewig groter in A-54 vergeleke met Jackson. Hierdie afname in wortel-knoppie varsgewig en getal was nie verwand aan nitrogenase aktiwiteit in Jakson nie. Die nitrogenase aktiwiteit van A-54 onder goed benatte kondisies was hoër as in Jackson, maar het onder droogte toestande afgeneem wat nie waargeneem is in Jackson nie. Die droogte geïnduseerde verouderings effek mag minder wees in Jackson as in A-54. Oor die algemeen het Prima die beste gevaar in al die merkers, met A-54 die mees sensitiewe. In die eksperimente wat sover uitgevoer is toon Jackson onder droogte hoër stomatale konduksie, netto fotosintetiese assimilasie tempo en 'n groter wortel biomassa vergeleke met A-54.


5.5

 

Vestiging van 'n vroeë waarskuwingstelsel vir sojaboon-roes


Dr M Craven en Mnr TM Ramusi
LNR-Instituut vir Graangewasse

Finale verslag opsomming

Weens die vernietigende aard van sojaboonroes en die klaarblyklike gebrek aan voldoende weerstand teen die siekte is 'n effektiewe siektebe­stuurstelsel noodsaaklik totdat weerstandbiedende cultivars beskikbaar kom. Om die teenwoordigheid van die patogeen so vroeg moontlik te bevestig, is siektemonitering 'n belangrike faset van so 'n siektebestuurstelsel. Monitering vir die bevestiging van roes word met groot sukses in die VSA gebruik. Sedert April 2005 het die LNR-IGG, die Proteinnavorsingstigting (PNS) en medewerkers soos PANNAR, die KwaZulu-Natalse provinsiale departement van landbou en verskeie sojaboonprodusente 'n poging aangewend om 'n vroeë waarskuwingstelsel vir sojaboonroes te vestig, gebaseer op indikator-persele. Gedurende 2007/08 is 10 persele geïdentifiseer wat verteenwoordigend is van die hoof sojaboonpro­duksie­gebiede in die Vrystaat-, KwaZulu-Natal-, Mpumalanga- en Gauteng-provinsies. Gedurende 2007/08 is roes by Greytown (28/01/08) geïdentifiseer, gevolg deur Vryheid (01/02/08) en Normandien (05/03/08). Kestell, Kinross, Greylingstad en Potchefstroom het geen roes ontwikkeling gehad hierdie seisoen nie.


5.6

 

Bepaling van die epidemiologiese waarde van weerstand teen roes veroorsaak deur phakosora pachyrhizi in sojaboonlyne


Prof NW McLaren en Me C Botha
Universiteit van die Vrystaat

'n Studie is uitgevoer om die primêre veranderlikes wat roes epidemies dryf vas te stel, om die verhouding tussen die faktore en siektestrafheid te kwantifiseer asook opbrengs en kwaliteitverliese. Die data word tans voorberei vir publikasie. Opvolgaanplantings oor 'n vyf jaar periode is gedoen met 90 en 45cm ry spasiërings en drie variëteite wat verskil in seisoenlengte naamlik PAN494, LS666 en SCS1. Persele is gedupliseer en behandel met fluzalizle/carbendazim waarteen opbrengs en kwaliteit verliese in onbehandelde persele gemeet kon word. Met oestyd is graanopbrengs, 1000 korrelmassa asook olie en proteïen konsentrasies bepaal. Geen verhouding tussen die eerste voorkoms van die siekte en plantdatum is gevind nie. Betekenisvolle, negatiewe verhoudings is tussen die relatiewe leeftyd by die eerste waarneming van die siekte en Area Onder die Siekte Ontwik­kel­ings Kurwe (AOSOK) (R=0.53, -0.71, 0.52, in PAN 494, LS666 en SCS 1 onderskeidelik) waargeneem. Die tempo van siekte ontwikkeling na aanvang het verskil afhangende van die heersende toestande en die kriterium was positief gekorreleer met die AOSOK (R=0.64, 0.59, 0.53) in die drie geno­tipes onderskeidelik. Samevoeging van bg. kriteria in 'n veelvoudige regressie model het die verhouding na R²=0.82, 0.81 en 0.67 vir die kort, medium en langseisoen variëteite onderskeidelik verhoog, wat aandui dat hierdie die hoof veranderlikes is wat roes epidemies dryf. Aangesien roes ook voorgekom het in die fungisied-behandelde persele is 'n AOSOK x opbrengsverlies analise gedoen deur die verwantskap te bepaal tussen die verskil in AOSOK in die ooreenkomstige fungisied behandelde en onbehandelde persele met die verskille in opbrengs-verlies persentasies. Regressie verhoudings van R²=0.72, 0.85 en 0.77 in PAN 494, LS666 en SCS 1 tussen die AOSOK en opbrengs verliese is gevind. Die verhoudings van die AOSOK in die onderskeie behandelde en onbehandelde persele is ook gebruik om die spuiteffektiwiteit in elke perseel te bepaal en dit het gewissel van 16.4% tot 93.9%. Die gebruik van die onderskeie opbrengsverlies modelle by roes ontwikkeling in fungisied behandelde persele, help met die berekening van opbrengsverliese wat geassosieer word met fungisied behandeling en het gewissel van 4.0% to 64.8% wat daarop dui dat selfs met behandeling van fungisiedes, daar wel 'n mate van opbrengsverlies kan voorkom wat afhang van die spuiteffektiwiteit. Geen betekenis­volle verhouding tussen siekte-ontwikkeling en olie- of proteïeninhoud is gevind nie. Hierdie studie het aangedui dat die seleksie van genotipes of toestande wat die aanvang van siekte kan vertraag asook die tempo van siekte ontwikkeling, kan 'n betekenisvolle effek op die strafheid van roes epidemies hê. Ongeag fungisied behandelings kan verliese steeds voorkom en aandag moet geskenk word aan spuiteffektiwiteit.

'n Versameling isolate van P. pachyrhizi is tans in die glashuis om die verskillende rasse vas te stel. Die isolate sal geanaliseer word met gebruik van AFLP analises asook 'n differensiale stel lyne. Die isolate sal ook gebruik word om differensiale infeksie op 'n stel geselekteerde lyne vas te stel.


5.7

 

Die gebruik van silikon in die beheer van roes op sojabone (phakopsora pachyrhizi)


Dr Dael Visser en Dr Pat Caldwell
Universiteit van KwaZulu-Natal

Doel: om die effek van worteltoediening van silikon op die beheer van sojaboonroes te bepaal.

Materiaal en Metodes

Sojaboonsaad (LS 6161) is in potproewe geplant in 'n glashuis. Si (0, 50, 100, 250, 500, 1000, 1500 en 2000mg/l) is toegedien deur die potte vir 6 weke te loog. Plante is natuurlik geïnfekteer in die glashuis met urediospore gedurende die somer maande. Daarna is die plante ge-evalueer deur die persentasie infestasie te bepaal. Die AOSOK is ook bereken. Vir veld proewe is sojaboonsaad (L 6161) geplant op Baynesfield (2007/2008) en Cedara (2008/2009) in 3 x 1.75 m plotte. Plante is behandel met Si (0, 50, 100, 250, 500, 1000, 1500 en 2000 mg/l by Baynesfield en 500, 1000 and 2000 mg/l (2 en 4 keer toedienings) van 'n stadige vrystellende Si kunsmis was toegedien in die rye asook breedwerpig oor die plotte. 'n Punch C en onbehandelde kontroles was ook in die proewe ingesluit. Grondmonsters is geneem voor Si behandeling en na die eerste en laaste Si behandel­ings, en ontleed vir Si konsentrasie. Plante is ge-evalueer vir die persentasie siekte en die AOSOK is bepaal. Opbrengs is ook bepaal.

Status

Veldproewe op Baynesfield in die 2007/2008 seisoen is gedoen en ontleed. Die 2007/2008 grondontledings wys geen betekenisvolle verskille tussen voor en na Si toediening nie. Slegs die hoogte Si toediening van 2000 mg/l het 'n betekenisvolle hoër Si konsentrasie gehad in vergelyking met die ander behandelings. Die onbehandelde kontrole het 'n betekenisvolle hoër AOSOK waarde gehad, met 100, 250, 500 en 1000 mg/l wat betekenisvol laer was. Plante behandel met Punch C het betekenisvolle hoër opbrengste gehad. Die eerste Si behandeling is waarskynlik nie vroeg genoeg toegedien nie en dan moes daar ook 'n derde behandeling gewees het. Hierdie proef is herhaal op Baynesfield in die 2008/2009 seisoen, maar plante was nie besmet met sojaboonroes nie en die proewe is daarom nie ge-oes nie. 'n Soortgelyke proef is in 2008/2009 op Cedara gedoen en die resultate word tans ontleed. Pot proewe sal in November 2009 begin word.


5.8

 

Die ontwikkeling van bestuursgeoriënteerde kaarte vir langtermyn sojaboonroes vatbare areas in Suid-Afrika


Me Lauren van Niekerk en Dr Pat Caldwell
Universiteit van KwaZulu-Natal

Sojaboonroes (SBR) hou 'n ernstige bedreiging in vir sojaboonproduksie wêreldwyd asook in Suid Afrika. Navorsing is gedoen op die epidemio­logiese eienskappe van SBR met die resultaat dat meer inligting verkry is oor die effekte van temperatuur en vog toestande op Phakopsora pachyrhizi urediospoorontkieming. Ten spyte hiervan is die kennis van gebiede in Suid Afrika wat SBR vatbaar is, beperk. Dit beteken dat boere nie sal weet of SBR 'n risiko in hulle gebied is nie en nie sal weet hoe om die siekte te bestuur nie. Die doelwitte van hierdie navorsing is om (1) bestuursgeoriënteerde ruimtelike variasie kaarte te ontwikkel wat risiko gebiede aandui wat vatbaar is vir SBR infeksies en (2) om 'n raamwerk te ontwikkel vir die voorspelling van roes vatbaarheid in die werklike tyd.

'n Literatuur oorsig is voltooi om 'n oorsig te kry oor die geskiedenis, geografiese omvang en, baie belangrik, die epidemiologiese eienskappe van die patogeen. 'n Oorsig van verskillende SBR modelle is ook gedoen ten einde die voordele en tekortkominge van huidige modelle te verstaan en hul toepasbaarheid in Suidelike Afrika. Die gevolgtrekking was dat min gedoen is om die omvang en frekwensie van SBR besmetting in Suid Afrika te karteer.

'n Algoritme (vergelyking 1) wat gebasseer is op eerste beginsels wat uit die literatuur verkry is, is ontwikkel en neem die kondisies wat vir SBR benodig word, in ag. Hierdie algorime is ontwikkel met swamdoder proefdata van die 2001/2002 SBR uitbraak en weerdata van 'n outomatiese weerstasie op Cedara oor dieselfde periode.

I T = m a x [ 0 , m i n ( 1 , i f ( T < 2 2 , ( T - 1 5 ) x 0 . 2 , 1 - ( T - 2 5 ) x 0 . 3 3 3 3 ) ) ] x D ( 1 )

waar: IT =   Indeks
T =   Uurlikse temperatuur (ºC)
D =   Donkerte indikator

Hierdie algoritme is teen die 2002/2003 SBR uitbraak proef- en weerdata vanaf die Cedara outomatiese weerstasie getoets. Die resultate is aan 'n paar SBR spesialiste voorgelê wat saamgestem het dat die model akkuraat skyn te wees. Ongelukkig kon nie nog stelle data gevind word om die model te evalueer nie.

Hierdie algoritmes is geprogrameer en geloop vir 50 jaar oor die periode 1950 to 1999 vir relatiewe klein klimaat sones regoor die land. Die resul­tate is gekarteer met behulp van Arcview 3.3. Addisioneel hiertoe is 'n tydafhanklike kaart ontwikkel vir die volgende sojaboon produserende gebiede: Bergville, Cedara, Vryheid, Delmas, Groblersdal, Marble Hall, Marken, Naboomspruit, Parys, Potchefstroom en Rustenburg.

Tans word nog aan die ontleding van die resultate gewerk waarna die voorspellingsraamwerk ontwikkel sal word. 'n Geskiedkundige oorsig sal gedoen word, waar die algoritme teen weerdata van 'n onafhanklike stasie waar uitbrake van SBR aangeteken is, getoets sal word. 'n Statistiese ontleding van die akkuraatheid van die algoritme om kondisies vir SBR uitbrake te voorspel sal ook gedoen word.


5.9

 

Studie van inokulasie en siekte evaluasie tegnieke vir sclerotinia stamvrot by sojabone


Prof NW McLaren en Me C Botha
Universiteit van die Vrystaat

Die doel van die studie is om kultivars en ander kiemplasma (ingevoerde lyne) te evalueer vir omgewings x fisiologiese stabiliteit en vir weerstand teen Sclerotinia stamvrot.

Sojaboonlyne en kommersiële cultivars is op Greytown (Pannar) geplant vir Sclerotinia stamvrotevaluering. Vyf plant datums is gebruik met onge­veer twee week intervalle om omgewings diversiteit gedurende kritieke stadiums van gasheer groei te verseker. By blom is die plante geïnokuleer met Sclerotinia sclerotiorum. Plante is aan die einde van die groeiseisoen geëvalueer vir siektegraad en verwelking en die gasheer reaksie is ge­kwantifiseer deur die gebruik van die regressie metode (McLaren & Craven, 2008). Resultate van die proewe dui daarop dat meeste kiemplasma wat geëvalueer is steeds vatbaar is vir Sclerotinia stamvrot, selfs onder omstandighede wat minder optimaal is vir siekte ontwikkeling, alhoewel sekere genotipes, veral A 5601 RG as laer risiko kiemplasma beskou kan word

Veldproewe is ook gebruik om die verhouding tussen weerkundige faktore en Sclerotinia stamvrot strafheid te modelleer. Studies van temperatuur en die blaarnatheid dui daarop dat 21-23ºC die optimum temperatuur vir siekte ontwikkeling is. Glashuis proewe het egter aangedui dat siekte ook kan voorkom by temperature wat wissel tussen 18-28ºC mits voldoende vog teenwoordig is. Hoë humiditeit of vry water is krities vir siekte ontwik­keling en optimum siekte ontwikkeling is verkry by relatiewe humiditeite (RH) RH>95% terwyl siekte voorkoms en strafheid aansienlik verminder soos die relatiewe humiditeit afneem met geen siekte by RH<90%. Die verhouding tussen siekte strafheid en weerkundige faktore is gemodelleer maar meer data punte is egter nodig om die verhouding te optimaliseer.

Monsters van S. sclerotiorum is versamel in areas waar die siekte teenwoordig was en word gebruik om die genetiese verhouding tussen isolate van verskillende areas te bevestig sowel as patogenisiteit. Laboratorium evaluasies is uitgevoer om die teenwoordigheid van oksaalsuur vas te stel en 'n reeks toetse word gedoen om die belangrikheid van die suur wat deur S. sclerotiorum afgeskei word op patogenisiteit vas te stel. Daar gaan ook gefokus word op die vermoë van sojaboonplante om die aktiwiteit van die suur te weerstaan m.a.w. oksaal suur oksidase wat met weerstand gepaard gaan. Groei studies met die verskillende isolate het ook getoon dat verskillende ekotipes aangepas is vir verskillende temperature. Popu­lasie diversiteit sal ook gekwantifiseer word deur middel van AFLP analise.


5.10

 

Super-sojakompetisie, KwaZulu-Natal


Mnr C Havenga
Kontrakteur, Proteïennavorsingstigting

Die Super-sojakompetisie in KwaZulu-Natal is nou in sy negentiende jaar en belangstelling in die kompetisie is nog steeds baie goed.

Hierdie kompetisie is 'n voorligtingsaksie om die verbouing van sojabone in KwaZulu-Natal (KZN) te bevorder. Belangstelling asook die kundigheid in sojaboonverbouing het oor die afgelope 19 jaar betekenisvol verbeter. Die hoeveelheid sojabone wat jaarliks aangeplant word, word tot 'n groot mate deur die mielie-sojaboon prysverhouding beïnvloed.

Winterton en Bergville val nog onder die Suidelike KwaZulu-Natal (S-KZN) streek. S-KZN het vanjaar 17 inskrywings en N-KZN 33 inskrywings gehad.

In S-KZN-kompetisie het die opbrengs tussen 2.60 en 4.80 ton/ha gewissel met 'n gemiddelde opbrengs van 4.02 ton/ha wat heelwat beter as die vorige seisoen se 3.01 ton/ha is. Vyf lande was onder besproeiing met 'n gemiddelde opbrengs van 4.1 ton/ha wat tussen 3.59 en 4.8 ton/ha gewissel het.

Die gemiddelde opbrengs in N-KZN-kompetisie was 2.8 ton/ha en het tussen 1.22 en 5.07 ton/ha gewissel. Die gemiddelde opbrengs onder besproeiing was 3.70 ton/ha. Hierdie seisoen se opbrengste is hoër as die vorige seisoen, en vergelyk goed met die langtermyn gemiddeld van 2.71 ton/ha.

Proteïeninhoud van S-KZN se oes was goed tot baie goed. Die gemiddelde proteïeninhoud was 39.82% (vogvry) en het tussen 37.63% en 41.22% (vogvry) gewissel.

In N-KZN was die proteïeninhoud bevredigend tot baie goed met 'n gemiddeld van 39.9% (vogvry) wat hoër as die vorige seisoen se 38.8% is. Die proteïen-inhoud het tussen 36.5% en 46.7% (vogvry) gewissel.

S-KZN se olie-inhoud op 'n vogvry basis het tussen 20.5% en 22.28% gewissel met 'n gemiddelde ontleding van 21.29% wat soortgelyk aan die vorige seisoen is. Daar was nie 'n noemenswaardige verskil tussen die gemiddelde oliepersentasie van sojabone onder besproeiing (21.07%) en sojabone onder droëland-verbouing (21.39%) nie.

Die gemiddelde olie-inhoud van N-KZN se sojabone was 20.84% (vogvry) en het tussen 13.24% en 28.05% gewissel.

Hierdie kompetisie skep 'n geleentheid om produksie praktyke te boekstaaf, te evalueer en sodoende produksie probleme te identifiseer wat verder kan lei tot navorsingsprojekte om dit op te los.


5.11

 

Cultivarevaluasie van olie- en proteïensade in die winterreënstreek


Mnr PJA Lombard
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Nasionale cultivarproewe: Canola en Lupiene

Die Departement van Landbou: Wes-Kaap het gedurende die 2008 seisoen 'n reeks canola en lupiencultivarproewe in die Wes en Suid-Kaap uitge­voer. Die Suid-Kaap proewe by Riversdal en Tygerhoek is einde April geplant terwyl die res van die proewe laat in Mei en begin Junie geplant is en weens droogte nie geoes is nie. In die Swartland is die proewe tussen 8 en 24 Mei geplant. Tygerhoek se laat aanplanting, Mosselbaai, Swellen­dam en Serjansrivier kon eers laat in Mei en begin Junie aangeplant word, en het gevolglik baie laat en swak ontkiem.

Canola

In die Suid-Kaap het die gemiddelde opbrengs per proef gewissel van 1.75ton/ha by Riversdal tot 1.78ton/ha by Tygerhoek. Die gemiddelde op­brengs van "Clearfield" (CL) en "Triasien tolerant" (TT) cultivars was onderskeidelik 12% en 19% laer as die gemiddelde van die konvensionele cultivars.

By Tygerhoek het die cultivar AV Garnet (2.794ton/ha) 'n betekenisvol hoër opbrengs as die ander cultivars getoon. Bravo TT (1.921ton/ha) was die beste TT en 45Y77 (2.041ton/ha) die beste Cl cultivar. By Riversdal was NPZ SR 10308 (2.339ton/ha) die hoogste produseerder gevolg deur 44Y06 en Garnet. Die 1ste vyf cultivars het nie betekenisvol van mekaar verskil nie. Bravo TT (1.822ton/ha) was die beste TT en 45Y77 (1.682ton/ha) die beste Cl kultivar.

In die Swartland het die gemiddelde opbrengste per proef gewissel tussen 2.39ton/ha (Darling) tot 2.67kg/ha by Langgewens 2. Die opbrengs van die eerste aanplanting by Langgewens (14 Mei) was 8.8% laer as die tweede aanplanting (27 Mei). Dit is die 1ste keer sedert 1999 dat die 2de saaityd op enige lokaliteit beter opbrengs as die 1ste aanplanting gee. Die koeler maksimum en minimum temperature gedurende September in vergelyking met Augustus het waarskynlik tot gevolg gehad dat die 2de aanplanting beter klimaatsomstandighede gehad het tydens korrelvulling.

In die Swartland het AV Garnet baie goed presteer en was die beste produseerder in drie van die vier ingeslote proewe. By Langgewens 1 was 44Y06 (3.147ton/ha) die beste produseerder gevolg deur 44C11 en Garnet. Die Cl cultivar 45Y77 het slegs in een van die vier proewe betekenisvol van die beste konvensionele cultivar verskil. Bravo was die hoogste produseerder by die TT cultivars.

Lupiene

Die proefopbrengste was baie goed in die Swartland. Mandelup (2.26ton/ha) was soos in 2006 en 2007 die hoogste produserende cultivar gevolg deur Quilinock (2.22ton/ha) en Tanjil (1.7ton/ha). Die hoogste produserende inskrywing was lyn-2224 (2.35ton/ha).

Die lyne het baie goeie opbrengste in die Suid-Kaap behaal. Die lyne 42 (2.75ton/ha) en 23 (2.79ton/ha) het hoër opbrengste as Mandelup (2.7ton/ha) gehad. Die data van Riversdal en Klipdale het gewissel tussen 2.42ton/ha en 2.58ton/ha gemiddeld. Die proewe by Riversdal en Klipdale is onderskeidelik 24 April en 5 Junie aangeplant.


5.12

 

'n Ondersoek na die produksiedinamika van agt wisselboustelsels, insluitende koring, canola, lupiene en weiding-spesies in die Swartland, Wes-Kaap


Dr J Strauss, Dr MB Hardy en Mnr W Langenhoven
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die klimaatstoestande gedurende die 2008 produksie seisoen was gunstig vir die produksie van gewasse. Bo-gemiddelde reënval oor die produksie seisoen het voorgekom en die reënval verspreidinging was ook baie goed. Die temperature het matig gebly en die droë, warm periodes wat telkens binne die seisoen voorkom, het weggebly. Die gemiddelde temperatuur van September was laer as die van Augustus en saam met die goeie reën­val gedurende die maand het dit bygedra tot die hoë opbrengste in die koring en canola.

Die gemiddelde koringopbrengs oor alle gewas volgordes was 3818 kg/ha. Hierdie waarde was effens laer as die vorige seisoen. Net soos vorige jare (2005 die uitsondering) was daar duidelike verskille in opbrengs tussen die verskillende gewas volgordes. Koring na peulgewas weidings en lupiene se opbrengs was hoër as die van koring in al die ander stelsels.

Canola is aan die begin van November geoes en die opbrengs (staande oes metode) het gewissel tussen 1381 en 2901 kg/ha. Die gemiddelde ru-proteïen oor alle persele was 23% en die olie inhoud 34%.

Die projek verloop soos uiteengesit in die navorsingsvoorstel en protokol. Bestuurs en produksie data word gereeld voorgelê aan die plaaslike boere-gemeenskap in die vorm van populêre artikels en op geleenthede soos boeredae. Die inligting word ook beskikbaar gestel aan tegniese adviseurs van die verskeie Agri-besighede wat die area bedien.


5.13

 

Ekonomies-volhoubaarheid van kort- en langtermyn wisselbou gewas- / weidingsproduksiestelsels in die Suid-Kaap


Dr MB Hardy, Dr JA Strauss en Mnr W Langenhoven
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die doel van hierdie studie is die bepaling van die kort- en langtermyn effek op 'n aantal van die mees lewensvatbare kort- en lang-gewas en gewas / weiding wisselboustelsels op opbrengs, onkruidbeheer, siekte onderdrukking, grond produksiepotensiaal, skaapproduksie en die ekono­miese volhoubaarheid van grond gebruik in die Suid-Kaap.

Die 2008 jaar was die 7de jaar van produksie. Die proef behels twee hoofkomponente naamlik: kortrotasiestelsels wat op Tygerhoekproefplaas naby Riviersonderend getoets word en langrotasiestelsels wat op plase in die Riversdal- en Swellendamdistrikte onderskeidelik getoets word.

Al drie die proef lokaliteite is geplant en bestuur in ooreenstemming met die beplande protokols (dit sluit geskikte onkruid, siekte en insekbeheer in).

Die Suid-Kaap seisoen is gekenmerk deur wisselvallige en lae reënval vir die grootste gedeelte van die seisoen. Die Swellendam lokaliteit het sy swakste reënval beleef vandat die proef in 2002 begin het.

Op Tygerhoek is die opkoms, vestiging en groei van die gewasse swak as gevolg van 'n swak grondvog aan die begin en na die plant seisoen. Die gewasse in die "continuous cropping" stelsels het 'n mindere mate van vogstremming getoon in vergelyking met ander stelsels. Dit wil voorkom asof daar meer vog beskikbaar was in die stelsels (gewas residue is nie versteur of verwyder deur skape nie) en daar was ook geen kompaksie nie (soos wat gebeur met weidende skape).

Die grondvogbeskikbaarheid by die Riversdal lokaliteit was gunstig deur die hele seisoen wat uitstekende resultate tot gevolg gehad het.

Canolaproduksie

Op Riversdal is canola (Spectrum) geplant as opvolg gewas vir koring. Die saaidigtheid was 3.0 kg/ha en 'n totaal van 48 kg N/ha is toegedien oor die seisoen, met 'n verdeling van 24 kg N/ha met plant en 24 kg N/ha as topbemesting.

Jade is geplant op Swellendam teen 5 kg saad/ha en 24 kg N/ha. Thunder (TT) is geplant op Tygerhoek teen 'n saaidigtheid van 3.8 kg/ha en 'n totaal van 54 kg N/ha is oor die seisoen toegedien (24 kg N/ha met plant en 30 kg N/ha as topbemesting).

Op Riversdal het die canola opbrengs gewissel tussen 1900 kg/ha en 2100 kg/ha. Hierdie opbrengste was om en by 50% van die opbrengste van koring en korog.

Geen canola is geoes op Swellendam nie as gevolg van die erge droë toestande.

Die gemiddelde canola opbrengs op Tygerhoek was 1016 kg/ha. Hierdie waarde is aanvaarbaar in aggemome die verwagting van die streek, maar is nog steeds net 44% van die gemiddelde koring opbrengs op dieselfde lokaliteit. Die geskatte opbrengs per perseel was amper 100% meer as die geoeste opbrengs, met ander woorde 'n oesverlies van 50% is waargeneem. Neem kennis dat die monsterneming vir die bepaling van die poten­siële oes verfyn moet word, maar dat oor die afgelope paar seisoene die bepaalde potensiële oes konstant hoog was (in die omgewing van 20 tot 50% verlies).

Soos wat in vorige seisoene waargeneem was, was die olie-inhoud van die Riversdal lokaliteit, soos deur SSK in Swellendam bepaal, weer hoër (41% olie) as die wat deur die Elsenburg Laboratorium verkry is (33% olie).

Lupieneproduksie

Lupiene (Quilinock) is op die Riversdal en Tygerhoek persele geplant teen 'n saaidigtheid van 100kg/ha. Riversdal het die hoogste opbrengste getoon (tussen 2100 en 2350 ton/ha). Die opbrengs op Tygerhoek was baie wisselvallig en het gevarieer tussen 1100 tot 1950 kg/ha. Die lae opbrengs wat verkry is in een van die Tygerhoek persele kon die gevolg wees van grondfisiese probleme in die spesifieke perseel. Die lupien opbrengste was hoër as verwag met die lae reënval gedurende die seisoen op Tygerhoek.


5.14

 

Die identifikasie van grond parameters as indikatore van volhoubare droëland gewasproduksie stelsels vir die skalie gronde van die Wes-Kaap: bewerkingsmetodes, wisselbou, grond kwaliteit en gewas produksie


Dr J Labuschagne
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Doel

Die doel van hierdie projek is om die effek van bewerkingsmetodes en gewas rotasie op die fisiese en chemiese eienskappe van grond en die bio­logiese aktiwiteite van grond te kwantifiseer om sodoende beter insig te verkry ten opsigte van die bevordering van volhoubare gewasproduksie stelsels op die skalie gronde van die Wes-Kaap.

Bewerkings behandelings en plant

Die tand en ploegbewerkings in die minimum- en konvensionele bewerkings behandelings is op 12 Februarie en 13 Mei onderskeidelik te Langge­wens uitgevoer. Op Tygerhoek was hierdie bewerkings op 29 Januarie en 3 Mei uitgevoer.

Die koring monokultuur (veral die zero-bewerking) behandeling te Tygerhoek het aansienlike onkruidweerstandbiedende raaigraspopulasies tot gevog gehad. Aangesien die hoofdoel van hierdie projek is om die effek van bewerking en wisselbou op grond te bepaal is die gewas en raaigras gelaat om te groei. Die zero-bewerkings behandelings van alle koringpersele is voordat die raaigras saad kon produseer egter met 'n breëspektrum onkruiddoder bespuit. Dit word dus aanvaar dat die effek van die gewas op die grond gedurende die groeitydperk van die gewas voldoende was om 'n spesifieke gewasinvloed op grondfisiese en biologiese eienskappe, indien enige, te laat.

Reënval

Klimaatstoestande gedurende 2008 was gunstig vir droëland gewasproduksie, veral op Langgewens. September was egter natter en koeler as normaal op beide lokaliteite. Periodieke versuiptoestande te Langgewens het veroorsaak dat versuipkolle in lupien en canola ontwikkel het wat die deur vir onkruidinfestasie oopgemaak het. Daar is besluit om die lupien en canola (uitgesonderd een herhaling canola) dood te spuit, aangesien daar nie genoeg plante was om die effek van die gewasse op grondparamters te verseker nie.

Gewas produksie data

Saailing/plant digthede

Die gemiddelde saailingdigtheid vir koring te Langgewens was 111.8 plante/m² en later in die seisoen is 278 aardraende halms/m² getel. Die laagste plantdigthede (92 plante/m²) was in die konvensionele behandeling van die LKCK stelsel waargeneem. Die plante het egter goed gekom­penseer aangesien 260 aardraende halms/m² gedurende Oktober getel is.

Plantdigthede van koring op Tygerhoek was baie laer (61.2 plante/m²), uitgesluit die zero-bewerkings behandelings waar slegs 26.4 plante/m² waargeneem is. Ongunstige omstandighede tydens plant kan verantwoordelik gehou word vir die lae plantestand te Tygerhoek. Die zero­bewerkings behandelings is met 'n breëspektrum onkruiddoder gespuit om verdere onkruidinfestasie te voorkom.

Op Tygerhoek is 'n gemiddelde van 30.7 canola plante/m² getel.

Graan opbrengs

Gemiddelde koring opbrengste van 4.56 en 2.92 t/ha is respektiewelik vir Langgewens en Tygerhoek aangeteken. Op Langgewens is die hoogste opbrengs van 4.96 t/ha op die konvensionele bewerkings verkry, gevolg deur 4.9 t/ha op die geen-bewerking behandelings. Op Langgewens is die laagste opbrengs van 3.99 op die zero bewerking behandelings gestroop. Die minimum bewerkings behandeling het die hoogste canola opbrengs (2.06 t/ha) tot gevolg gehad, met die laagste op die konvensionele bewerkings behandelings (1.47 t/ha).

Koringopbrengste op Tygerhoek vanaf die konvensionele, minimum en geen bewerkingsbehandelings was 3.08, 3.01 en 2.68 t/ha onderskeidelik. Canola op Tygerhoek het gemiddeld 1.59 t/ha gelewer, met die konvensionele bewerking die hoogste op 1.64 t/ha, gevolg deur 1.57 (minimum bewerking) en 1.58 t/ha vir die geen bewerkings behandeling.

Samevatting

Hierdie projek word bestuur volgens die voorgeskrewe riglyne. Die geweldige raaigras probleme word bestuur sonder om die uitkoms van die projek te belemmer. Die kort termyn effek van die bewerkingsisteme, gewas volgorde en lokaliteit op gewas opbrengs sal duidelik word oor tyd.


5.15

 

Bepaling van die saadverlies (oesverlies) van canola tydens die rypword- en oesstadium in die Wes-Kaap


Dr J Strauss
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Die produsente van die Wes-Kaap het aangetoon dat hulle bekommerd is oor die verskil tussen die potensiële (soos aangetoon in verskeie jare se canola cultivarproewe) en die gerealiseerde opbrengs van canola soos deur die produsente verkry en gelewer is aan die silo. 'n Gemiddelde van 21 saadjies op 'n oppervlakte so groot soos 'n vuurhoutjiedosie is gelykstaande aan 'n verlies van 400kg/ha (as duisendkorrelmassa van saad 4g is). Op die huidige stadium dra die moontlik voorkombare verlies aan opbrengs by, dat produsente canola as minder winsgewend as koringproduksie beskou.

Die proef om te kyk na die verliese bestaan uit 'n plaas opname en statistiese proef waar die saadverliese tussen die twee tipes oesmetodes van canola vergelyk word. Die twee oesmetodes is platsny en staande. Die eerste produksie seisoen van die proef het verliese van tussen 31% en 43% getoon in die plaas opname en tussen 24% en 28% in die statistiese proef. In die plaas opname het die platgesnyde canola die laagste verliese getoon, terwyl die staande canola die beste opbrengs getoon het in die statistiese proef. Beide die plaas opname en die statistiese proef sal in die 2009 seisoen herhaal word.


5.16

 

Die bevordering van canola as 'n wisselbougewas binne 'n bewaringsboerderystelsel in die droëland saaigebiede van die Swartland en Suid-Kaap deur middel van 'n produsente-kompetisie


Mnr IFV Slabbert en Mnr CL van Rooyen
Departement van Landbou: Wes-Kaap

A. Swartland canola kompetisie 2008

Dertien deelnemers het in 2008 ingeskryf vir die Swartland Canola kompetisie. Dus is al dertien deelnemers se inligting gebruik en verwerk.

Toestande gedurende 2008 was redelik gunstig vir Canola verbouing. Goeie reëns het vanaf die einde van April voorgekom tot en met die begin van September. Die gemiddelde opbrengs van die deelnemers was 1,34 ton/ha wat 0,24 ton laer was as die opbrengs in 2007.

Die deelnemer met die hoogste opbrengs (1,70 ton/ha) was mnr Frikkie Russouw van die plaas Rusoord naby Moorreesburg. Die deelnemer met die hoogste bruto marge (R3532/ha) was Michiel Smuts van Malmesbury. Die deelnemer met die tweede beste opbrengs (1,62 ton/ha) was mnr Daniel Rossouw van Piketberg en die deelnemer met die tweede beste bruto marge (R2601/ha) was mnr Abrie Richter van Piketberg.

Die winsgewendheid van Canola was in 2008 hoër as die van koring.

B. Suid-Kaap canola kompetisie 2008

Daar was aanvanklik 22 belangstellendes. Die kompetisie is gekenmerk deur 'n droogte in saaityd en reën wat eers in middel Junie geval het. Die kort groeiseisoen cultivars het besonder goed gedoen. Deelnemers wat vroeg gesaai het moes 75-90 dae wag voordat die canolasaad ontkiem het. Onkruidbeheer was onsuksesvol met vooropkoms middels a.g.v. die droogte maar die laat toediening van triasiene het goeie resultate opgelewer. Die opbrengste was laer in die ooste en beter in die westelike dele. Die produsente wat goeie oeste behaal het se canola kon gebruik gemaak het van die goeie laat reen.

Cultivars van veral die triasien tolrante tipes begin lang in die tand raak en nuwe cultivars moet vinniger in die bedryf ingebring word. Die beskik­baarheid van die beste cultivars is nie na wense en produsente saai dus heelwat teruggehoude saad. Die Clearfield tipes is 'n groot probleem in die 2009 seisoen aangesien die saad laat gekom het. Produsente was nie tevrede met die saadhandelaar se hantering van die canolasaad nie.

Canola begin lyk asof dit 'n plato bereik het en indien die prys nie lig nie sal dit stagneer rondom die omvang wat tans geplant word. Die 2008 wenner was mnr Andrew Beukes van die plaas Vrede met 'n opbrengs van 2.4 ton per ha. Die Blom broers van Bredasdorp was in die tweede plek.


5.17

 

N-bemesting van canola gebaseer op N-mineralisasie en loging


Prof GA Agenbag
Universiteit Stellenbosch

Veldeksperimente is weer gedurende 2008 op Langgewens-, Elsenburg-, Welgevallen- en Roodebloem Proefplase met toenemende N-peile (0 tot 120 kg N ha-1) gedoen, maar die proef op Welgevallen moes weens versuipte grondtoestande afgeskryf word. Grond en plantontledings is op Langgewens en Elsenburg gedoen.

Grondontledings het op beide lokaliteite sub-optimale pH(<5.0 pHKCl) en S (<6.0 mg kg-1) waardes getoon, terwyl B ook laag (<0.2 mg kg-1) was op Langgewens. Plantontledings het op beide lokalteite sub-optimale S inhoude (<0.5%) getoon, terwyl Na-, Al- en Fe-inhoude oor die algemeen baie hoog was vergeleke met die algemene norme van 300-5000 mg kg-1, 200 mg kg-1 en 150-200 mg kg-1 vir Na, Al en Fe respektiewelik.

Graanopbrengste het soos in vorige jare grootliks gevarieer tussen lokaliteite. Op Roodebloem waar dit in teenstelling met Elsenburg en Langge­wens, vir die grootste deel van die groeiseisoen baie droog was, is opbrengste 582 kg ha-1 behaal waar geen stikstof toegedien is, teenoor 'n opbrengs van 890 kg ha-1 waar 120 kg N ha-1 toegedien is. Opbrengs verskille tussen toedienings van 90 en 120 kg N ha-1 was egter nie statis­ties betekenisvol nie. Op Elsenburg het opbrengste gevarieer tussen 1435 kg ha-1 waar geen stikstoftoegedien is en 2235 kg ha-1 waar 120 kg N ha-1 toegedien is, terwyl 'n opbrengs van 2649 kg ha-1 sonder enige N bemesting op Langgewens verkry is. Die hoogste opbrengs van 2961 kg ha-1 is op hierdie lokaliteit verkry deur 60 kg N ha-1 met plantttyd uit te strooi en op te volg met 'n bobemesting van 60 kg N-1 op 60 dae na plant. Op beide Langgewens en Elsenburg was daar egter nie statistiese verskille in opbrengs tussen N toedienings van 60 en 120 kg N ha-1, mits die N bemesting by die laer toedienings gebandplaas is. Weens die hoë reënval en waarskynlik groter logingsverliese, het die bandplasing van N op hierdie lokaliteite veroorsaak dat persele waar 30 kg N ha-1 met plant gebandplaas is en 'n verder 30 kg N ha-1 as bobemesting op 30 dae na plant toegedien is, opbrengste gelewer het wat vergelykbaar was met totale toedienings van 120 kg N ha-1 wat breedwerpig toegedien is.

Groot verskille in opbrengste wat sonder enige stikstofbemesting op verskillende lokaliteite behaal is, beklemtoon weereens die noodsaaklikheid dat die stikstof leweringsvermoë van die grond tydens die berekening van die N bemestings-behoefte in berekening gebring moet word.


5.18

 

Optimale grondbewerkingsmetodes vir 'n koring / canola / koring lupien wisselboustelsel in die swartland produksie-gebied


Prof GA Agenbag
Universiteit Stellenbosch

In hierdie studie word die invloed van verskillende grondbewerkingsmetodes op grondvrugbaarheid en gewasopbrengste reeds vir meer as 30 jaar en twee wisselboustelsels vir meer as 15 jaar nagevors op Langgewens Proefplaas.

Gedurende 2008 was die opbrengs van koring wat in 'n vierjaar wisselboustelsel met lupiene en canola verbou word, gemiddeld 2474 kg ha-1 teenoor 'n gemiddelde van 2062 kg ha-1 waar koring in monokultuur verbou word. Hoewel koring in die wisselboustelsel dus slegs elke tweede jaar verbou word, is opbrengste 20% hoër. In die stelsel waar koring in 2008 gevolg het na lupiene in 2007, is die hoogste opbrengs van 2567 kg ha-1 boonop verkry na slegs 20 kg N ha-1 wat met planttyd gebandplaas is. In die monokultuur koringstelsel is die hoogste opbrengs van 2157 kg ha-1 verkry na 'n toediening van 100 kg N ha-1, waarvan 20 kg N gebandplaas en die res as bobemesting op 30 en 60 dae na plant toegedien is. In teenstelling met die wisselboustelsel waar geen verskil in opbrengs verkry is tussen koring verbou in 'n stelsel van geen-bewerking en koring in 'n stelsel van intensiewe skaarploegbewerking, is hoë opbrengste in die monokultuur stelsel slegs verkry na duur, tydrowende skaarploegbewerkings toegepas is. Hierdie verskil kan grootliks toegeskryf word aan die doeltreffende chemiese beheer van onkruide wat slegs moontlik is in die wissel­boustelsel.

Die toepassing van 'n wisselboustelsel wat canola en lupiene insluit, het dus nie alleen 'n verhoging in koring opbrengste tot gevolg gehad nie, maar hierdie hoër opbrengste is boonop verkry met minder stikstofbemesting en goedkoper metodes van grondbewerking.


5.19

 

Bestuur van onkruiddoderweerstandbiedendheid in die Wes-Kaap


Dr PJ Pieterse
Universiteit Stellenbosch

Die evaluering van onkruiddoderweerstandbiedendheid en data-insameling daarvan vorder goed. Slegs 43 van die 47 monsters wat geoes is, is getoets weens te min saad ontvang of swak kwaliteit van saad.

Tellings van die onkruid saailinge in die wisselbou- en grondbewerkingsproewe op Langgewens proefplaas is gedoen. Monsters van koring en on­kruid in die twee proewe is ook geneem vir die bepaling van biomassa. Volgens die resultate word raaigras die beste beheer deur skaarploeg van al die bewerkingspraktyke en ten opsigte van wisselbou, lewer weidings soos medics en klawer die beste beheer van raaigras. Saad van onkruid is in die persele geoes en sal die weerstandsprofiel later bepaal word.

In die glashuis is die kompetisie effek van canola en koring getoets en 'n veldproef is geplant op Welgevallen proefplaas waar vier koring cultivars blootgestel word aan verskillende grade van onkruid druk om die kompetisie-vermoë te toets. Resultate word tans ontleed. Canola sal die volgende seisoen getoets word.

Vordering met die projek is bevredigend.


5.20

 

Karakterisering en bestuur van rhizoctonia op canola en lupien in wisselboustelsels in die Wes-Kaap Provinsie


Dr SC Lamprecht
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

Verskeie aspekte rakende die bestuur van Rhizoctonia siektes by canola en lupien, soos siektebestandheid, saadbehandeling en biologiese beheer met binukleêre Rhizoctonia anastomose groepe (AGs) is in hierdie studie ondersoek. Die siektebestandheid van agt canola en agt lupien cultivars / seleksies teen saailingafsterf en hipokotiel / wortelvrot wat deur Rhizoctonia AG-2-1, 2-2, 4 en 11 veroorsaak word, is geëvalueer. Die canola culti­vars het die konvensionele cultivars Comet, Outback, Spectrum en 44C11, die clearfield cultivars Rocket en 44C73 en die triasien bestande culti­vars Thunder en Tornado, ingesluit. Cultivars / seleksies van drie lupien spp. nl. Cedara 6150 en E16 (L. albus), Mandelup, Tanjil, Quilinock en E42 (L. angustifolius) en E80.1.1.2 en E82.1.1 (L. luteus), is ingesluit. Drie isolate van elk van die multinukleêre AGs is getoets en eksperimente is in 'n glashuis uitgevoer. Die mees virulente AGs op canola was AG-2-1 en 4. Canola cultivars het nie betekenisvol verskil in hul vatbaarheid vir AG-2-1 nie, maar Spectrum en 44C11 was meer bestand teen AG-4 as die ander cultivars. AG-2-2 en 4 was mees virulent op lupien en die cutivar Cedara 6150 en seleksie E16 was mees bestand teen AG-2-2. Cedara 6150, E16, Mandelup en Quilinock was meer bestand teen AG-4 as die ander cultivars / seleksies. Die L. luteus seleksies, E80.1.1.2 en E82.1.1 was mees vatbaar vir AG-2-2, 4 en 11. Saadbehandeling met Cruiser OSD en SA-kombi­nasie het die oorlewing van canola (cvs Muster, Rocket en Thunder) en lupiensaailinge (cultivar / seleksie Cedara 6150, E82.1.1 en Mandelup) betekenisvol verhoog, hipokotiel/wortelvrot verlaag en die persentasie gesonde saailinge verhoog. SA-kombinasie was betekenisvol meer effektief as Cruiser OSD. Die binukleêre Rhizoctonia AGs (A, Bo, K en I) het die oorlewing van lupiensaailinge geïnokuleer met AG-2-2 en 4 betekenisvol ver­hoog. 'n Lae inokulum verhouding van die binukleêre AGs [1:1 (multinukleêre AG : binukleêre AG)] was minder effektief as 'n hoë inokulum verhou­ding [1:10 (multinukleêre AG : binukleêre AG)]. Dit het geblyk dat AG-Bo en I lupiensaailinge meer effektief beskerm teen multinukleêre AGs as die ander binukleêre AGs. Die binukleêre AGs het die oorlewing van canola geïnokuleer met AG-2-1, 2-2 en 4 verbeter, maar dit was nie statisties betekenisvol nie. Hierdie is die eerste aanmelding van die potensiaal van binukleêre AGs om lupiensaailinge teen multinukleêre AGs te beskerm. Resultate van hierdie studie kan betekenisvol bydrae lewer tot bestuurstrategieë wat aangewend kan word teen Rhizoctonia siektes van canola en lupien in die Wes-Kaap.


5.21

 

Insekte en ander plae van canola


Dr G Tribe
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming

Die belowendste behandelings van die 2008 eksperimente was slakpille wat beide metaldihiede en karbaril bevat het, en op die oppervlak versprei is tydens aanplanting. Dis gevolg deur saadbehandeling met Cruizer. 'n Kombinasie van genoemde twee behandelings beloof om genoegsame beskerming te gee.

Isopode (Krimpvarkies) het weereens uit die eksperimentele data gewys dat hulle die belangrikste organisme is vir die verlies aan canola saailinge, waar behandelings wat die isopodes ook gedood het, die beste plantestand tot gevolg gehad het, en ook omgekeerd. Die slak populasie was gedu­rende die 2008 seisoen te laag om enige gevolgtrekkings uit die verskillende behandelings te kon maak. Slakke is in vier verskillende groottes geklassifiseer, en 89.3% van die slakke was in die "klein" en "medium" groepe wat 'n resultaat is van die slak eiers wat gedurende herfs en winter van die vorige seisoen (2007) gelê was. Dit impliseer dat die slakke wat die somer suksesvol oorleef, dié is wat verantwoordelik is vir die verlies aan saailinge.

Vyf en tagtig persent van die drie uitheemse slak spesies wat geïdentifiseer is, was van die spesie Deroceras panormitanum. Die slak is klein ge­noeg om wanneer dit verleng is, in erdwurms se tonnels te pas, en is 'n moontlike verduideliking vir die slak se dominansie. Geen slakke of isopode is gevind in grond wat aan die einde van die seisoen onder die valle uitgegrawe is nie, wat 'n aanduiding is dat nie een van hulle so diep in die grond voorkom soos voorheen gedink is nie.

Eksperimente waarin vier slakpil kombinasies getoets is, het gewys dat almal uiters effektief is om slakke te lok en te dood, maar slegs die wat karbaril insekdoder bevat het, het ook die isopode gedood. Karbaril het egter ook duisendpote en ander insekte gedood, maar nie krieke nie. Beide duisendpote en krieke is nie verantwoordelik vir enige skade aan canola saailinge nie, en kan beskou word as voordelig met die afbreek van stoppels in die landerye.

Die merk en weer-vang van isopode het gewys dat die populasies in 'n canola land tussen 51 en 170/m² kan varieër. Van die enkele isopode wat weer gevang is, was meeste steeds onder dieselfde val gewees waar hulle die eerste keer gevang en gemerk is. Slegs twee het vier meter verder beweeg na 'n ander val. Die oorgrote meerderheid van gemerkte isopodes het net verdwyn.

Plante waarin die Koolkalander, Ceutorhynchus pallidactylus, gevind is, het 'n gemiddelde van 17.8 larwes per plant bevat. Meeste van die larwes was gewoonlik versamel in 'n klein area van die plant, veral naby dele met ongevrete kern. Die binneste kern van die hele plant was meestal heeltemal opgevreet, wat die vervoer van voedingstowwe in die plant onmoontlik maak.


5.22

 

Kalibrasie van naby infrarooi (NIR) spektrometer vir aminosuur ontledings in veevoere


Dr M Ciacciarello
Universiteit van KwaZulu-Natal

Die doel van die projek is om te bepaal of NIR tegnologie gebruik kan word om die samestelling van voer- en karkasmonsters vinnig, akkuraat en goedkoop te bepaal.

Die Departement van Diere- en Pluimveewetenskappe aan die Universiteit van KwaZulu-Natal het oor 'n aantal jare 'n wye reeks voer- en karkas­monsters ontleed vir proteïen, energie, totale sowel as verteerbare aminosure. Hierdie data is as basis vir die evaluasie gebruik.

Die belangrikste doel van die projek is om vas te stel of die verteerbare aminosuur inhoud van voerbestanddele asook die chemiese samestelling van gemaalde pluimvee- en varkkarkasmonsters bepaal kan word deur gebruik te maak van NIR tegnologie. Hierdie tegnologie sal nie alleen die tyd verbonde aan sulke ontledings aansienlik verminder nie, maar ook die kostes.

Die kalibrasiekurwes wat tot dusver opgestel is vir die proteïen- en totale aminosuur inhoud vir vismeel, lupiene, mielies, volvel sojabone en soja-oliekoek lyk belowend.

Kalibrasiekurwes vir verteerbare aminosuurinhoud op bogenoemde grond-stowwe word tans gedoen, terwyl die ontledings op karkasmonsters teen die einde van die jaar afgehandel behoort te wees.


5.23

 

Die uitwerking van beligting op verbruiksdoeltreffendheid van dieëtproteïen deur Suid-Afrikaanse Cobb en Ross braaikuiken-genotipes


Prof RM Gous
Universiteit van KwaZulu-Natal

Gedurende die jaar is twee braaikuikenproewe gedoen, waartydens 'n totaal van 7 960 Cobb en Ross braaikuikenhaantjies vir 'n groeiperiode van 35 dae blootgestel is aan ligperiodes wat gewissel het van 2 tot 21 uur (u.) tot aanhoudende beligting. Met ligperiodes van minder as 6 u. was daar geen betekenisvolle uitwerking op voerinname of groei te bespeur nie, maar korter ligperiodes het wel voerinname en groei betekenisvol onder­druk. Voerverbruiksdoeltreffendheid het by 'n ligperiode van 12 u. gepiek, terwyl dit laer was by ligperiodes korter en langer as 12 u. Mortaliteit is nie deur ligperiodes korter as 12 u. beïnvloed nie, maar het proporsioneel toegeneem namate ligperiodes bo 12 u. verleng is. Die voorkoms van Skielike Vrekte Sindroom (SVS) het gedaal met ligperiodes tussen 2 en 10 u., maar was positief gekorreleerd met ligperiodes langer as 12 u. Die Europese Doeltreffendheidsfaktor se verband met ligperiode was kromlynig, met die hoogste doeltreffendheid wat by 'n ligperiode van 12 u. waargeneem is.

Teen dag 5 van die groeiperiode het braaikuikens wat minder as 15 u. beligting ontvang het, aangeleer om gedurende die donker te vreet, teen 'n tempo wat omgekeerd eweredig was aan die duur van die ligperiode. Tussen dag 5 en 20 van die groeiperiode het die tempo van nagvreet toege­neem onder braaikuikens wat aan hierdie korter ligperiodes blootgestel was. Die uurlikse tempo van nagvreet was deurlopend laer as die daaglikse ekwivalent.

Dit blyk dat daar vir die braaikuikensektor verskeie voordele verbonde is aan ligperiodes korter as dié wat tans konvensioneel in Suid-Afrika gebruik word, naamlik: verbeterde welstand van die braaikuikens, soos gemeet aan 'n laer voorkoms van SVS en vrektes, en toenemende been­sterkte; elektrisiteitsverbruik wat jaarliks met 1.6 megawatt per uur sal afneem; en 'n vermindering van R400 miljoen per jaar aan voerproteïen­verbruik, te danke aan 'n verbeterde voerverbruiksdoeltreffendheid.


5.24

 

Die evaluasie van rou sojabone in die dieët van volstruise


Prof TS Brand
Departement van Landbou: Wes-Kaap

Weens die voorkoms van tripsien inhibeerder kan rou sojabone slegs teen lae vlakke of geensins in die diëte van plaasdiere ingesluit word nie. Die invloed van rou sojabone in diëte op die produksie van volstruise is egter onbekend.

Eksperimente word tans op Elsenburg uitgevoer ten einde die invloed van rou sojabone in diëte van volstruise op produksie te bepaal. In die eerste eksperiment word diëte met verskillende hoeveelhede rou en gaar sojabone in 'n vryekeuse eksperiment aan volstruise gevoer. Die inname van die voëls sal 'n aanduiding gee of die voëls die diëte met rou soja weier, asook op watter vlakke van insluiting rou soja geweier word. In 'n tweede stu­die word diëte met stygende vlakke van rou soja en dalende vlakke van hitte behandelde soja gevoer. Die produksie van diere word gedokumenteer. Hierdie eksperiment sal sojaboonprodusente in staat stel tot alternatiewe gebruik van rou sojabone veral in gevalle waar hierdie produsente ver van hittebehandelingsgeriewe produseer.


5.25

 

Inkomste- en kosteramings


Mnr JSG Joubert
Proteïennavorsingstigting

Gedurende die verslagjaar is daar gebruik gemaak van die dienste van 'n kontrakteur om behulpsaam te wees met die insameling van ekonomiese en tegnies/biologiese inligting vir die berekening van inkomste- en koste begrotings van gewasse waarby die PNS belang het. In die Winterreën­valgebied is inligting vir die berekening van die begrotings vanaf Agri-besighede, vir die Suid-kaap gebiede bekom, terwyl die groepbesprekings metode in die Porterville en Malmesbury gebied in die Swartland aangewend is om inligting te bekom. Moorreesburg gebied se inligting is weer­eens vanaf die Koöperasie bekom. Weens die Moorreesburg Koöperasie se nuwe beleid sal daar in die toekoms waarskynlik ook van die groep­besprekingsmetode gebruik gemaak moet word om inligting in te samel.

Ten opsigte van sojas, mielies en sonneblomme in die Somerreënvalgebiede, is daar ook afgewyk van die gestandaardiseerde werksmetode. Al die begrotings in die Mpumalanga gebied is oorgedoen deur nuwe inligting by produsente deur die groepbesprekingsmetode in te samel.

Die gebiede ten opsigte waarvan inligting in Mpumalanga ingesamel is, is ook aangepas. Wat KwaZulu-Natal betref, is daar nie weer van die depar­tement van Landbou se syfers gebruik gemaak nie en is die inligting deur middel van die groepbesprekings tegniek ingesamel. Gegewens ten opsigte van die Vrystaat is soos in die verlede vanaf die VKB bekom.

Sonneblomme as gewas is vir die eerste keer ingesluit in die begrotings in gebiede waar dit as 'n belangrike mededingende gewas beskou word.

Inkomste- en kosteramings van sojas, mielies en sonneblomme, (nie vir al die gebiede hieronder gelys nie), is opgestel in die Somerreënvalgebied ten opsigte van die volgende areas:

Mpumalanga – Kinross
– Middelburg
– Groblersdal (Besproeiing)
Noordwes – Brits / Koedoeskop / Makoppa (Besproeiing)
– Tarlton / Boons
– Koster
– Lichtenburg / Coligny
– Zeerust
Vrystaat – Vrede en Frankfort
– Reitz, Bethlehem en Harrismith
KwaZulu-Natal – Karkloof
– Vryheid

In die Winterreënvalstreek in die Wes-Kaap provinsie is inkomste- en kosteramings van canola, koring en lupiene (laasgenoemde is nie vir Malmesbury en Porterville opgestel nie), opgestel:

Wes-Kaap – Moorreesburg
– Malmesbury
– Porterville
– Caledon / Riviersonderend
– Bredasdorp / Napier
– Swellendam / Heidelberg

Die inkomste- en kosteramings bevat inligting op 'n per hektaar basis van bruto-inkomstes, direk allokeerbare veranderlike kostes en bruto-marges. Bestuurders en voornemende produsente kan die inligting gebruik om hul eie begrotings op te stel of aan te pas ten einde ingeligte besluite te kan neem. Die gegewens weerspieël tipiese situasies onder normale klimaatstoestande en is nie 'n gemiddelde nie.


5.26

 

Modelle: APR- en Nieuwoudt / McGuigan Model


Gedurende die 2008 verslagjaar is die APR- en Nieuwoudt / McGuigan modelle weereens gebruik om projeksies te maak van proteïenbehoeftes vir diere verbruik vir 2010 en 2015. Die APR-model is gebruik om die totale proteïenbehoeftes in die basisjaar 2006/2007 per dierespesie in te deel waarna die Nieuwoudt / McGuigan model gebruik is om die projeksies van proteïenbehoeftes per dierespesie en in die totaal te maak vir 2010 en 2015.

Vir hierdie oefening het die PNS slegs belanggestel in die projeksies van oliekoek behoeftes vir gemelde periodes en is die ander proteïenbronne soos vismeel, gluten, pluimvee afval ensovoorts weggelaat.

Die geprojekteerde oliekoekverbruik vir 2010 het op 1 918 763 ton te staan gekom en 2 681 414 ton vir 2020.

In die 2007 navorsingsverslag is daar melding gemaak van die Universiteit van Pretoria se BFAP-model en dat die PNS belangstel in dit wat die model kan bied. Die model ontleed internasionale en plaaslike markte deur middel van basislyn-projeksies en die ontwikkeling van scenario's gebaseer op moontlike mark en beleidsveranderlikes. Die impak van die veranderings word dan herlei na plaaslike markte en boerdery winsge­wendheid en oorlewing. Wanneer scenario's ontwikkel word vir 'n organisasie soos byvoorbeeld die PNS, word onder andere die volgende ver­anderlikes in ag geneem:

  • Verstedeliking en bevolkingsgroei;
  • Toenemende konsentrasie van proteïenmarkte;
  • Beskikbaarheid van navorsingskapasiteit, kennis en ondervinding;
  • Doeltreffendheid in proteïenverbruik deur diere;
  • Winsgewendheid en risiko van sojaproduksie versus, byvoorbeeld mielie-produksie;
  • Tariefbeleide;
  • Ekonomiese groei, internasionaal en in die RSA;
  • Perskapasiteit;
  • Klimaatsveranderlikheid;
  • Beleidsrigtings wat die Regering kan inslaan; en
  • Energieverbruik en soort energie;

Die PNS het 'n ooreenkoms met die Universiteit van Pretoria aangegaan om pasgemaakte scenarios vir die PNS te ontwikkel wat inligting genereer wat uiteindelik sou kan lei tot meer akkurate voorspellings ten opsigte van die proteïenmark vir diereverbruik. Aanvanklik was die gedagte om die BFAP-model met die reeds bestaande APR- en Nieuwoudt / McGuigan-modelle te integreer ten einde beter voorspellings te kan maak.

Dit blyk nie prakties moontlik te wees nie en sal die uitsette van die BFAP-model gebruik word in die ander twee modelle vir die jaarlikse projeksies van proteïenbehoeftes. PNS-Raadslede asook genooide kundiges van 'n verskei-denheid dissiplines het gedurende 2008 'n werksessie met die BFAP personeel gehad wat konsep scenario's ontwikkel het. Die PNS het egter nog probleme met sekere aannames wat gebruik is en geniet dit tans nog aandag, voordat die scenario's hopelik in die volgende verslagjaar gefinaliseer sal word.


5.32

 

PNS webtuiste


Die Webblad is nog steeds een van die kragtigste en belangrikste kommunikasie middels waaroor die PNS beskik. Vir dié rede is die PNS voort­durend besig om die webblad wyer bekend te stel en meer gebruikersvriendelik te maak.

Gedurende die verslagjaar is die Webblad blootgestel aan eweknie evalueerders om te bepaal of daar grootskaalse veranderinge benodig word. Die slotsom waartoe die eweknie evalueerders gekom het was dat die uitleg netjies en funksioneel was en goed geprogrammeer is. Enkele kosmetiese voorstelle is gemaak soos teksgrootte, kleure ensovoorts, waarvan sommige geïmplementeer is.

Gedurende die verslagjaar is daar weereens baie aandag geskenk aan die data basis wat nou goed gevestig is en word nuwe navorsingsinligting soos dit ontvang word daarop geplaas. Daar word ook 'n aanvang geneem met die plasing van historiese navorsingsinligting op die databasis. Nuusbrokkies is steeds 'n gewilde item en word ook nou beter bestuur deur nuus items wat verouderd is op 'n gereelde grondslag te verwyder en ook nuus items vanaf werksgroepe op te laai. Koppelings met ander webblaaie is nog steeds 'n hoë prioriteit en is daar gedurende die 2008 ver­slagjaar 'n koppeling gemaak met 'n Australiese webwerf voortspruitend uit 'n besoek aan Australië deur een van ons Raadslede. Die betrokke webblad het intussen 'n belangrike verwysingsbron vir besoekers van die PNS-webblad geword.

Die populariteit van die PNS-webblad kan gemeet word aan die aantal unieke besoekers oor tyd en is soos volg:

Verslagjaar

Unieke besoekers

2004
2005
2006
2007
2008
  1 691
  3 285
  4 552
  5 404
11 104

Soekenjins is nog steeds die belangrikste verwysingsbronne en word bykans 70% van die besoekers via soekenjins verwys. Van die belangrikste soekenjins is www.aardvark.co.za.