Newsletters / Archives / Canolafokus Archives / 2011 Canolafokus No 46

CanolaFokus logo

Canolafokus 46   Februarie 2011


Canola cultivarevaluasie: Wes- en Suid-Kaap 2010

Saamgestel deur PJA Lombard
Departement van Landbou Wes-Kaap, Instituut vir Plantproduksie, Elsenburg

Inleiding

Die verteenwoordiging van cultivargroepe in die proewe het heelwat verander oor die afgelope dekade van net konvensioneel tot konvensioneel, TT en CL. Die aantal bastercultivars in die 2010 proewe het ook 'n merkbare toename getoon. Dit is 'n aanduiding dat maatskappye in Australië toenemend op basters, en spesifiek binne die TT en CL groepe, fokus in hul teelbeleide. Onkruiddoders met imasamoks as aktiewe bestanddeel kan gebruik om onkruide te beheer by CL cultivars. Hierdie CL-cultivars is dus ideaal vir gebruik waar peulgewasse (byvoorbeeld lusern) ondergesaai word, aangesien imasamoks-onkruiddoders ook geregistreer is vir gebruik in lusern en medics. Die TT-groep cultivars is tolerant teen simazine- en atrazine-bevattende onkruiddoders. Simazine-, atrazine- en imasamoks-bevattende onkruiddoders kan egter nie gebruik word waar konvensionele cultivars geplant word nie. Inligting oor spesifieke cultivars en hul aanwending in die onkruidbestuursprogram kan vanaf die saadmaatskappye verkry word wat hulle in Suid-Afrika versprei.

Nasionale cultivarproewe

Die Departement van Landbou:Wes-Kaap het gedurende die 2010 seisoen 'n reeks cultivarproewe in die Wes en Suid-Kaap uitgevoer. Sewe proewe is in die Suid-Kaap aangeplant (11 Mei tot 2 Junie), maar slegs 2 proewe se data word hier bespreek. Die ander proewe se resultate was weens droogte (2) slakke (2) en onkruidprobeleme (1) nie bruikbaar nie. In die Swartland is 7 proewe tussen 7 Mei en 20 Mei aanplant op 6 lokaliteite waarvan slegs een se data weens oneweredige en swak ontkieming nie bruikbaar was nie.

Klimaat oorsig

In die algemeen was die klimaatstoestande gedurende 2010 meer gunstig vir gewasverbouing in die Swartland as in die Suid-Kaap (Tabel 1). Nogtans is die 2010 groeiseisoen gekenmerk deur onder-gemiddelde reënval in die middel Swartland (Langgewens) (Figuur 1).

Tabel 1
Klimaatsdata vir Swartland en Suid-Kaap: 2010
(Maandelikse gemiddelde reënval, maksimum en minimum temperature)
Riversdal Voorstekop Napky Tygerhoek Elsenburg Porterville Pools Langgewens
Reënval (mm)
Maart 21 2 13 69 13 15 11 8
April 21 22 10 25 0 16 12 38
Mei 22 29 19 45 19 136 84 130
Junie 53 58 37 74 107 95 36 64
Julie 52 32 21 59 47 44 28 34
Augustus 21 21 8 25 56 60 35 46
September 24 29 7 35 29 28 13 16
Oktober 104 91 55 42 52 - 26 29
Maksimum temperatuur (°C)
Maart 27.8 27.8 27.5 27.9 30.3 32.7 33.7 31.0
April 23.4 23.2 23.7 23.5 27.8 27.9 28.8 26.0
Mei 22.2 21.2 21.7 21.5 17.2 21.9 22.6 20.4
Junie 18.9 18.4 19.0 18.6 18.2 19.5 20.4 18.1
Julie 18.9 18.3 18.3 17.4 18.6 20.2 20.5 17.9
Augustus 20.9 20.8 20.7 19.5 19.6 21.6 22.4 19.6
September 21.4 21.3 21.9 22.0 20.3 23.1 24.6 21.3
Oktober 21.2 21.4 21.6 22.9 22.1 26.3 23.2
Minimum temperatuur (°C)
Maart 16.0 16.2 16.3 15.5 15.0 17.2 16.5 17.1
April 11.8 12.8 11.8 11.7 12.7 11.9 12.1 12.7
Mei 10.9 11.7 11.3 10.2 5.5 11.1 11.2 11.1
Junie 7.4 8.7 7.5 6.2 7.3 8.4 7.2 9.2
Julie 6.5 8.0 6.3 5.3 6.1 6.7 5.1 7.4
Augustus 7.0 8.5 7.5 6.3 7.1 7.7 6.0 8.8
September 7.8 9.1 8.5 7.3 8.0 9.0 7.1 8.7
Oktober 10.6 11.2 11.3 10.0 9.5 9.8 10.8

In die Suid-Kaap is die proewe by Riversdal en Tygerhoek vroeg geplant (11 Mei) en is goeie opbrengste behaal. Aanplantings in die Swellendam area is egter vanweë baie droë toestande later gedoen en was die opbrengste so laag en wisselvallig dat dit nie statisties verwerk kon word nie.

Aangesien dit gedurende April en Mei in beide die Swartland en Suidkaap min gereën het, was die vooropkoms beheer van onkruide nie baie suksesvol nie.

Gemiddelde temperature het voorgekom tydens die vegetatiewe groeistadium van die plante (tot blom). Die maksimum temperature tydens Augustus en September was by Langgewens en Tygerhoek hoër as die langtermyngemiddelde.

Agronomiese praktyke

Die proefpersele in die Swartland en Suid-Kaap is voor plant met 'n vlak tand bewerk ten einde 'n fyn, gelyk saadbed te verseker. Die proewe is geplant met 'n Wintersteiger perseelplanter. Die duisendkorrelmassa en ontkiemingspersentasie van elke cultivar is bepaal en saaidigthede is bereken ten einde 'n mikpunt van tussen 50 en 70 plante m-2 te verseker.

Alle bemesting is toegedien volgens grondontledings van grondmonsters wat by elke proefperseel geneem is. Enkel supers is as fosfaat bron toegedien teen 15kg P ha-1 op alle lokaliteite om aan die plante se fosfaat- en swawelbehoeftes te voorsien. Stikstofbemesting is volgens aanbeveling gedoen en is aangepas volgens grondtipe en reënvalsyfers en het gewissel van 60 tot 100kg N ha-1, wat verdeel is in twee tot drie toedienings (plant, roset en stamverlenging). 'n Boorbespuiting is op alle lokaliteite gedoen teen die einde van die stamverlengingsfase om bevrugting te bevorder.

Chemiese onkruidbeheer, waar nodig, is volgens onkruidspesie toegepas, maar dieselfde onkruiddoders is vir alle cultivars gebruik. Die voordele wat CL- en TT-cultivars ten opsigte van die gebruik van spesifieke onkruiddoders inhou, is dus nie benut nie. Waar chemiese onkruidbeheer nie doeltreffend was, is onkruid met die hand verwyder om 'n onkruidvrye stand te verseker.

Die beheer van insekte het hoofsaaklik bestaan uit 'n vroeë bespuiting om die saailinge te beskerm. Later in die seisoen is waar nodig gespuit vir die beheer van plantluise, ruitrugmotlarwe en bolwurms.

Figure 1A, 1B en 1C
Langtermyn en 2010 klimaatsdata vir Langgewens en Tygerhoek, reënval (a), minimum-(b) en maksimum temperature (c)

Figuur 1A

Figuur 1a: Langtermyn en 2010 klimaatsdata vir Langgewens en Tygerhoek – reënval

Figuur 1B

Figuur 1b: Langtermyn en 2010 klimaatsdata vir Langgewens – minimum en maksimum temperature

Figuur 1C

Figuur 1c: Langtermyn en 2010 klimaatsdata vir Tygerhoek – minimum en maksimum temperature

Proewe is met 'n net toegemaak om hulle teen voëls en die ergste wind te beskerm. Met rypwording is persele direk gestroop met 'n Wintersteiger perseelstroper, waarna die saad skoongemaak en toegelaat is om 'n resulterende vogpersentasie (≥8%) te bereik voordat dit geweeg is.

Resultate

Al die cultivars in die Suid-Kaap het langer geneem om te blom as in die Swartland (Figuur 2). Die cultivars 43C80 en Hyola571CL het die vroegste geblom. Kultivars wat vroeg blom (blomstadium gouer bereik) het 'n voordeel en kan die moontlike ongunstige warm en droë periode gedurende September vryspring aangesien hulle dan reeds klaar hul saad gevul het.

Figuur 2
Dae tot Blom

Figuur 2: Dae tot blom in die Swartland en Suid-Kaap

Die opbrengsresultate word opgesom in Tabel 2 en 3 vir die onderskeie gebiede. Die "Clearfield (CL)" en "Triasien tolerante (TT)"-cultivars se data is geskei van die konvensionele cultivars, terwyl die bastercultivars met 'n * aangedui word.

In die Swartland was die gemiddelde opbrengste vir 2010 hoër as in 2009 (1.923 ton ha-1 teenoor 1.664 ton ha-1). Die proefgemiddeldes vir die Swartland het volgens Tabel 2 gewissel tussen 1.7 ton ha-1 (Langgewens: 1ste planttyd op 7 Mei) en 2.3 ton ha-1 (Langgewens 2de planttyd op 20 Mei). Die laer opbrengste vir die eerste aanplanting by Langgewens kan toegeskryf word aan minder gunstige (droër) klimaatstoestande tydens plant.

In die Swartland het die bastercultivar Hyola 50 goed presteer en was gemiddeld oor alle lokaliteite die beste produseerder met 'n opbrengs van 2.438 ton ha-1. Die baster Hyola 571CL se opbrengs van 2.388 ton ha-1 was nie betekenisvol laer as dié van Hyola 50 nie. Die bastercultivars, AGA Max (2.211 ton ha-1) en die "Clearfield"-cultivar, 46Y78 (2.235 ton ha-1) was op hul beurt nie betekenisvol swakkker as Hyola 571CL nie.

In 2010 het die twee baster TT cultivars, CB Tumby HT (1.791 ton ha-1) en CB Jardee HT (1.707 ton ha-1) die hoogste opbrengs oor alle lokaliteite in die Swartland gelewer in die TT groep. Tawriffic- en Thunder TT het nie betekenisvol van CB Tumby HT verskil nie. Die opbrengs van die TT-cultivars (1.615 ton ha-1) was egter gemiddeld 25.26% laer in vergelyking met die konvensionele cultivars (2.161 ton ha-1). Die gemiddelde opbrengs van die CL cultivars was egter nie laer as die van die konvensionele cultivars nie.

In die Suid-Kaap (Tabel 3) het die gemiddelde opbrengs per proef gewissel van 1.536 ton ha-1 by Riversdal tot 1.634 ton ha-1 by Tygerhoek 1. Die gemiddelde opbrengs van CL- en TT-cultivars was egter onderskeidelik 5% en 22.1% laer as die gemiddelde van die konvensionele cultivars.

AGA Max (2.378 ton ha-1) het die hoogste gemiddelde opbrengs oor alle lokaliteite in die Suid-Kaap gelewer. Die bastercultivars Hyola 50 (2.135 ton ha-1) en die CL-cultivar 45Y82 (2.108 ton ha-1) het nie betekenisvol van AGA Max (2.378 ton ha-1) verskil nie.

CB Jardee HT (1.855 ton ha-1) het die hoogste gemiddelde opbrengs in die TT groep geproduseer en was slegs betekenisvol laer as AGA Max. Daarteenoor het ATR Cobbler, Bravo TT en Thunder TT betekenisvol laer opbrengste gelewer in vergelyking met CB Jardee HT.

Tabel 2
Swartland saadopbrengs (ton ha-1)
Langg. 1 Langg. II Darling Grasrug Porter­ville Swart­land
Konvensioneel
AGA Max* 2.161 ab 3.018 a 2.155 cdef 2.528 a 2.269 ab 2.211 bc
AV Garnet 1.566 def 2.627 abc 2.936 a 2.168 abc 2.072 abcd 2.113 cd
Hyola 50* 2.068 abcd 3.005 a 2.702 ab 2.072 bcd 2.413 a 2.438 a
Hyola 61* 1.620 cdef 2.273 bcde 2.701 ab 1.904 cdef 2.057 abcd 1.880 ef
1.854 2.731 2.624 2.168 2.203 2.161
CL
43C80 1903 bcde 2.334 bcde 2.217 cde 2.114 abcd 1.926 bcde 1.997 de
44C79 1.878 bcde 2.406 bcd 2.468 bc 2.022 bcde 1.728 de 2.013 de
45Y77* 2.495 a 2.948 a 2.117 defg 2.134 abcd 2.061 abcd 2.166 cd
45Y82* 1.986 abcd 2.667 ab 2.550 b 2.335 ab 1.998 bcd 2.181 cd
46Y78* 2.100 abc 2.981 a 2.214 cde 2.113 abcd 2.212 abc 2.235 bc
Hyola 571 Cl* 1.996 abcd 2.887 a 3.000 a 2.346 ab 2.258 ab 2.388 ab
2.060 2.704 2.428 2.177 2.031 2.163
TT
ATR Cobbler 1.230 f 1.765 f 1.766 h 1.602 ef 1.742 de 1.492 i
Bravo TT 1.146 f 1.746 f 1.820 gh 1.629 ef 1.762 de 1.468 i
CB Jardee HT* 1.114 f 2.391 bcd 2.139 defg 1.876 cdef 1.542 e 1.707 fgh
CB Tumby HT* 1.303 f 2.351 bcde 2.399 bcd 1.727 def 1.771 de 1.791 fg
Tawriffic TT 1.172 f 1.944 def 2.221 cde 1.869 cdef 1.826 cde 1.641 ghi
Thunder 1.321 f 1.912 ef 1.976 efgh 1.717 def 1.806 cde 1.607 ghi
Tornado 1.411 ef 2.168 cdef 1.881 fgh 1.498 f 1.747 de 1.599 hi
1.242 2.040 2.029 1.703 1.742 1615
cv 18 11 8 13 13 13
kbv 0.525 0.463 0.324 0.421 0.413 0.190

1.   KBV – kleinste betekenisvolle verskil by 95% betroubaarheid interval
2.   Kultivars gemerk met * is baster cultivars.

Tabel 3
Suid-Kaap saadopbrengs (ton ha-1)
Tygerhoek 1 Riversdal Suid-Kaap
Konvensioneel
ABA Max* 2.584.0 a 2.173 a 2.378 a
AV Garnet 1.915.0 bcde 1.960 abc 1.938 bc
Hyola 50* 2.104.3 abc 2.166 a 2.135 ab
Hyola 61* 1.743.0 bcdef 1.640 cde 1.692 cdefg
2.087 1.985 2.036
CL
43C80 1.872.3 bcde 1.860 abcd 1.866 bcde
44C79 1.686.0 bcdef 1.418 ef 1.552 fgh
45Y77* 2.086.7 abcd 1.612 def 1.849 bcdef
45Y82* 2.219.0 ab 1.996 ab 2.108 ab
46Y78* 2.210.3 ab 1.484 ef 1.847 bcdef
Hyola 571 Cl* 1.811.0 bcdef 2.047 ab 1.929 bcd
2.082 1.785 1.933
TT
ATR Cobbler 1.285.0 f 1.452 ef 1.368 h
Bravo TT 1.490.0 ef 1.398 ef 1.444 gh
CB Jardee HT 1.997.3 bcde 1.713 bcde 1.855 bcdef
CB Mallee HT 1.649.0 cdef 1.524 def 1.586 efgh
CB Tumby HT 1.632.3 cdef 1.715 bcde 1.674 cdefgh
Tawriffic TT 1.709.0 bcdef 1.528 def 1.619 defgh
Thunder 1.552.3 def 1.293 f 1.423 gh
Tornado 1.642.0 cdef 1.609 def 1.626 cdefgh
1.634 1.536 1.585
cv 17.5 12 15
kbv 0.536 0.342 0.312

1.   KBV – kleinste betekenisvolle verskil by 95% betroubaarheid interval
2.   Kultivars gemerk met * is baster cultivars.

Gevolgtrekking

Uit die resultate is dit duidelik dat die cultivar keuse 'n groot invloed op die uiteindelike opbrengs en dus ook die winsgewendheid van canola mag hê. Produsente moet dus seker maak dat die beste cultivar vir sy spesifieke produksie-area en produksietoestande (onkruidsituasie) gebruik word.

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Prof A Agenbag   Izane Leygonie
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter