Lupino logo

LUPIENWERKGROEP NUUSBRIEF

Lupino 5   Maart 2001


Spoorelementtekorte by lupiene

Herman Agenbag

Inleiding

Tydens besoeke aan 21 lupienprodusente in die Swartland- en Sandveldareas was dit baie duidelik dat die aanvulling van spoorelemente by lupiene 'n baie lae prioriteit by lupienprodusente geniet. Slegs een van hierdie produsente laat jaarliks sy grond vir spoorelemente ontleed en vul tekorte aan by lupiene, terwyl vier gereeld tekorte aanvul by koring, maar nie by lupiene nie. Die rede hiervoor was dat lupiene se opbrengs te laag is en nie hierdie ekstra kostes sou regverdig nie. Die verskoning berus egter op vermoedens en nie op klinkklare bewyse nie. Volgens sommige produsente vertoon die lupienplante "siek" en groei swak. Volgens blaarontledings het dit geblyk dat die "siekte" hoofsaaklik te wyte was aan gebreke aan mangaan (Mn), sink (Zn) en in enkele gevalle ook boor (B) en koper (Cu). Enkele gebreke aan fosfor (P) en stikstof (N) is ook waargeneem. Volgens grondontledings het ongeveer 60% van die grondmonsters "laag" tot "gebrekkig" ontleed vir een of meer van die elemente.

Gebreksimptome

Verswakte plantmetabolisme is gewoonlik die oorsaak van gebreksimptome wat by plante waargeneem word. Volgens navorsingsresultate in Australië, verskyn sodanige simptome eers wanneer plante se groei minder as 70% van die normale groei is en derhalwe al met byna 30% gestrem is as gevolg van een of ander tekort. Gebreksimptome is derhalwe al 'n vroeë aanduiding dat normale groei gestrem word. Sommige van die gebreksimptome kan maklik geïdentifiseer word en na 'n spesifieke element herlei word, terwyl ander simptome minder spesifiek is en deur 'n tekort aan meer as een element veroorsaak kan word.

Die beweeglikheid van voedingstowwe binne die plant en die translokasie daarvan tusen ou blare en nuwe groei, bepaal watter dele van die plant gebreksimptome sal toon. Spoorelemente is oor die algemeen baie min beweeglik en is simptome gewoonlik net by nuwe groei en jong blare waarneembaar. Voedingstowwe soos stikstof, fosfor en kalium is egter baie meer beweeglik en simptome word meestal by ouer blare waargeneem.

Gebreksimptome kom gewoonlik in verskillende patrone voor soos chlorose, nekrose en pigmentasie op blare of selfs misvorming by blare. Waar blaarmisvorming voorkom, kan daar tussen vier baie duidelike blaarvorms, naamlik klou-, sambreel-, boot- en stervormig onderskei word (Figuur 1). 'n Gebrek aan sommige elemente kan blaarverlies en wortelmisvorming tot gevolg hê.

Dit is baie belangrik dat spoorelementtekorte by lupiene korrek geïdentifiseer moet word. As toekomstige hulpmiddel vir die produsente, word die kenmerkendste simptome van tekorte aan koper, sink, mangaan, yster, boor en molibdeen kortliks aangetoon.

Figuur 1
Blaarmisvorming by lupiene as gevolg van spoorelementtekorte:
a. sambreelvormig; b. klouvormig; c. stervormig; en d. bootvormig
Figuur 1: Blaarmisvorming by lupiene as gevolg van spoorelementtekorte

Koper

Smalblaarlupiene toon selde of ooit enige sigbare simptome van 'n tekort aan koper, terwyl simptome by breëblaarlupiene op jong blare verskyn. Die jong blare vou nie ten volle oop nie en vertoon silwerkleurig weens die blootstelling van die fyn haartjies op die blaar se rugkant aan die lig. Namate die blare ouer word, bly die punte toegedraai en ontwikkel 'n nekrose. Die blare vertoon nou 'n duidelike bootvorm. By 'n ernstige tekort, draai die blaarpunte met 'n hoek in dieselfde rigting en vertoon 'n kenmerkende "ster"-vorm. Die saadlobbe en oudste blare vertoon donkergroen. Hoewel blomvorming normaal vertoon, word min of geen peule gevorm by plante met 'n kopertekort nie.

Sink

Die eerste simptome van 'n sinkgebrek word by die jong blare aan groeipunte waargeneem. Wanneer die jong blare oopvou, vertoon dit chloroties tussen die nerwe en later selfs 'n rooi pigmentasie. Soms word blare erg nekroties, gaan dood en val af. Die aangetaste blare vou ook soms terug en skep 'n sambreeleffek. By smalblaarlupiene vertoon die jong blare bleek tot liggroen teenoor die heldergroen van ouer blare en vorm 'n baie duidelike rosetpatroon. By nuwe blare ontwikkel daar bruin kolle al langs die hoofnerf en toon tekens van misvorming deurdat die blare in verskillende rigtings begin krul, dikwels agteroor na die blaarsteel.

Mangaan

By breëblaarlupiene is 'n algemene bleekgroen-kleur met ligte chlorose tussen die nerwe by jong blare die eerste tekens van 'n gebrek aan mangaan. In 'n vroeë stadium is hierdie simptome identies aan 'n marginale gebrek aan yster. Die eerste kenmerkende simptome van 'n tekort is die inrol van die blaarrande en die voorkoms van bronskleurige nekrose al langs die rand. Namate die tekort voortduur, krul die blare op in 'n klouvorm met 'n baie duidelike rooibruin verkleuring aan die blaarpunte.

By smalblaarlupiene vertoon die jong blare liglemmetjie-kleurig met klein, bruin kolletjies op die blaarpunte. Soos die blare ouer word, verkleur dit vuilbruin, terwyl die basis van blare groen bly. By 'n ernstige tekort, verkleur die jong blare en krul op in 'n "klou" met perskleurige punte. Ernstige tekorte by smalblaarlupiene kan lei tot die kenmerkende "splitseed" waar die saad voor rypwording bars. Hierdie verskynsel is gewoonlik beperk tot die soet smalblaarcultivars.

Yster

Soos by 'n mangaantekort, vertoon die nuwe groei ook bleekgroen in kontras met die donkergroen saadlobbe en oudste blare. Baie kenmerkend van 'n ernstige tekort is die wit verkleuring by jong blare sonder enige letsels. 'n Tekort aan yster by lupiene beperk ook wortelontwikkeling en verhoed blomvorming.

By smalblaarlupiene vertoon die nuwe blare 'n egalige heldergeel verkleuring oor die hele blaar. Wanneer 'n ernstige tekort ondervind word, verdroog die blare vanaf die punte na die basis. Die blaarpunte gaan vinnig dood en hang agteroor. Die dooie blaarpunte verkleur wit en verskil van die vuilbruin verkleuring soos ondervind word met 'n mangaantekort.

Boor

Die eerste sigbare tekens van 'n boortekort by breëbaarlupiene is die kenmerkende donkergroen kleur van die blare. Die blare vertoon 'n duidelike sambreelvorm, terwyl heldergeel kolle op sommige blare ontwikkel en selfs later 'n pers verkleuring. Die jong blare bly styf toegevou en groeipunte se groei staan stil. Daar is 'n toename in die vorming van sywortels met 'n duidelike verdikking aan die wortelpunte. Die wortels verkleur later bruin en word slymerig.

By smalblaarlupiene word die wortels eerste aangetas voor daar enige simptome by die vegetatiewe groei sigbaar is. Die tekortsimptome aan die wortels is soortgelyk aan die simptome wat by breëblaarlupiene voorkom. Nuwe groei vertoon donkergroen met 'n waterige voorkoms. Soos by breëbaarlupiene vou die jong blare ook nie ten volle oop nie. Die blaarstele is verkort en vorm 'n duidelike roset met geringe misvorming by nuwe blare. Indien die tekort voortduur, vrek al die nuwe groei met verskyning.

Molibdeen

Molibdeen speel 'n baie belangrike rol by die stikstofbindingsproses van lupiene. Weens die molibdeeninhoud van lupiensaad en die grootte en massa daarvan in vergelyking met koring en hawer, verskyn die simptome eers baie later by lupiene as by kleingrane. 'n Tekort aan molibdeen sal beide by breëblaar- en smalblaarlupiene 'n ligte stikstoftekort tot gevolg hê. Die hele plant sal 'n ligte groen kleur hê met 'n duidelike stremming in vegetatiewe groei. Blomvorming sal ook vertraag word.

Grondontledingsnorme vir spoorelemente

Die grondontledingsnorme vir spoorelemente wat tans vir lupiene gebruik word, is as volg (mg per kilogram, EDTA oplosbaar).

Element Gebrekkig Laag Voldoende
Koper 0,3 0,3-0,5 0,5
Sink 0,3 0,3-0,5 0,5
Mangaan 2-5 5-25 25
Boor (warm water) 0,2-0,3 0,3-0,5 0,5

Sekere faktore soos grondtekstuur, pH, bekalking, loging, hoë koolstofinhoud en grondkleur kan dikwels gebruik word as indikasie vir moontlike tekorte.

Aanvulling van spoorelemente

Spoorelementontledings van alle lupiengronde word aanbeveel en moontlike tekorte moet aangevul word. Blaarontledings kan ook van groot waarde wees indien plantontwikkeling swak is.

By hoë pH (KCl)-waardes van 5,5 en hoër, mag tekorte aan sink, en in 'n mindere mate mangaan, voorkom terwyl boor-, molibdeen en swaweltekorte by lae pH-waardes (4-5) mag voorkom. Tekorte kom meer dikwels op sand- as op skaliegronde voor.

Spoorelement aanvulling is nodig wanneer grond "laag" of "gebrekkig" ontleed. Tekorte aan spoorelemente kan aangevul word deur blaar­bespuitings of grondtoedienings. Grondtoedienings se nawerking is gewoonlik baie langer as die van blaarbespuitings. In kalkryke gronde met hoë pH, word mangaan in die grond ontoeganklik vir plante en sal dit as blaarbespuiting toegedien moet word. Belangrike aspekte wat in gedagte gehou moet word vir die suksesvolle aanvulling van spoorelemente is:

  • Tekorte moet reg geïdentifiseer word.
  • Plante moet droog wees.
  • Plante moet aktief groei en die blaaroppervlakte moet voldoende wees.
  • Nie baie warm wees tydens aanvulling nie.
  • Beste ouderdom vir aanvullig is ongeveer 30-50 dae na opkoms.
  • Ten minste 2-3 uur tyd moet verloop na blaarbespuiting voor reën of besproeiing vir voldoende opname deur die plant.
  • Kom spesifikasies van die vervaardigers deeglik na om sukses te verseker.
  • Grondtoedienings, waar moontlik, is verkieslik aangesien 'n eenmalige toediening aan die grond tekorte vir 5 jaar en langer volkome sal ophef.
  • Voeg benattingsmiddel by indien aanbeveel word.

Aanbevelings by lupiene is as volg:

Spoorelemente Blaarbespuiting Grondtoediening
500 liter water per hektaar kg per hektaar
Sink (Zn) 1-2kg sinkoksied 3,5-7kg sinkoksied
Mangaan (Mn) 2-4kg mangaansulfaat Ondoeltreffend
Boor (B) 2-4kg boraks of
0,5-1kg solubor
10kg boraks of
5kg solubor
Koper (Cu) 1-1,5kg koperoksichloried 2,5-5kg koperoksichloried of 125kg supers wat 1% koper bevat
Molibdeen (Mo) 100-150g natrium of
ammoniummolibdaat
250-500g natrium of
ammoniummolibdaat
* Bron:
Symptoms of nutrient deficiencies in lupins.
Snowball K and Robson AD, 1986. Soil Science and Plant Nutrition, University of Western Australia.

Antraknose en saadbehandeling

Dr Alwyn B van Jaarsveld

Dit is algemeen bekend dat skoon, siektevrye saad die beginpunt in die beheer van antraknose op lupiene moet wees. Uit ondervinding die afgelope paar jaar is dit duidelik dat siektevrye saadproduksies in besmette gebiede feitlik onmoontlik is en dat saad nie as siektevry gewaarborg kan word nie.

Goeie saadverwerking kan al 'n groot bydrae in die bekamping van saadoordraging lewer. Saad wat visueel skoon is van erg geïnfekteerde pitte (Figuur 1) is egter nie noodwendig siektevry nie want die swam se spore kan op die oppervlak van die saad vaskleef. Dit is dan noodsaaklik dat saad behandel moet word om moontlike besmetting uit te wis. In Suid-Afrika is geen saadbehandelings middel vir lupiene teen enige siekte geregistreer nie en kan aanbevelings dus nie gedoen word nie.

Alhoewel proewe met sekere karbendazim bevattende middels al plaaslik gedoen is, kon registrasie belangstelling nie verkry word nie en sal daar na algemeen beskikbare middels soos byvoorbeeld Thiram gekyk moet word. In Australië is die effektiewiteit van hierdie middel al bewys en word dit nou daar aanbeveel teen 100g in 1,5 liter water/100kg saad. Die middel is nie sistemies nie en sal dus slegs spore op die oppervlak van die saad dood. Mengsels met sistemiese middels is ook gevind om goed te werk. Hierdie middels behoort geen effek op die knoppies bakterie in die entstof wat vir lupiene gebruik word, te hê nie. Vooraf behandeling behoort ook geen invloed op ontkieming te hê nie. Hopelik sal saad behandeling in die toekoms geregistreer word.

Figuur 1
Verwydering van duidelik verkleurde pitte sal die inokulumbron vroegtydig verminder
Figuur 1: Verwydering van duidelik verkleurde pitte sal die inokulumbron vroegtydig verminder

Lupien skroeisiekte en lupinose

Dr Alwyn B van Jaarsveld

Lupien skroeisiekte word deur 'n swam, Diaporthe toxcica (syn. Phomopsis leptostromiformis) veroorsaak. Hierdie swam is nie 'n sterk patogeen wat altyd sigbare simptome op lupiene veroorsaak nie. Dit is egter 'n baie sterk saprofiet wat lupienstoppels baie goed koloniseer.

By smalblaar lupiene (L. angustifolius) groei die swam simptoomloos in die groen plant terwyl dit by breëblaar lupiene (L. albus) 'n ligte bruin verkleuring op die groen stam veroorsaak. Soortgelyke simptome kom by geellupiene (L. luteus) voor. Wanneer die plante afsterf begin die saprofietiese fase oorneem en is die stoppels van alle lupien spesies ewe vatbaar vir kolonisasie (Figuur 1). Die mees kenmerkende simptoom op stoppels word in Figuur 2 aangedui. Hierdie kolonisasie van stoppels kom voor na "ontydige" somerreën. Die swart stippels (piknidia waarin die swamspore gevorm word) is baie selde waarneembaar gedurende die aktiewe groeistadium van die plant. Twee biotipes van die swam is al beskryf. Biotipe A vorm die groot swart spikkels soos in Figuur 1 terwyl biotipe B baie kleiner stippels in lig verkleurde areas op die dooie stoppels vorm.

Figuur 1
Lupienstoppels besmet met Phomopsis leptostromiformis
Figuur 1: Lupienstoppels besmet met Phomopsis leptostromiformis
Figuur 2
Tipiese veld simptoom van lupien skroeisiekte
Figuur 2: Tipiese veld simptoom van lupien skroeisiekte

Beide tipes is toksies, maar dit is gevind dat biotipe A die meeste toksiene (phomopsin A en C) afskei. Die toksiene kom in die swamdrade voor, wat beteken dat die voorkoms van die swart spikkels nie altyd as maatstaf van toksisteit gebruik kan word nie. Dit is egter 'n sterk aanduiding van die swam se teenwoordigheid en dui op die potensiële gevaar van lupinose. As die besmette stoppels nat reën begin die swam weer aktief groei en word daar dus meer toksiene gevorm. Die optimum temperatuur vir mycelium ontwikkeling is rondom 27°C. Hierdie temperature kom altyd in die somer voor. Omdat die stoppelds dan nat en sag is neem skape meer daarvan in en dit kan dan akute lupinose veroorsaak. Kroniese lupinose kom ook voor wanneer skape as gevolg van hoë weidingslading gedwing word om droeë stoppels te vreet.

Beide tipes lupinose kan met goeie weidingsbestuur voorkom word. Na deurdringende reën moet skape van lupienstoppel lande vir ten minste 14-21 dae verwyder word of vir solank dit neem vir die stoppels om weer droog te word. Daarna neem die gevaar van lupinose af. In die geval van kroniese lupinose moet skape nie toegelaat word om vir lang periodes op skoon lupienstoppels te wei nie. Die weiding moet afgewissel word met koring stoppels of ander weiding. Dit sal ook help om skape eers op koringstoppels, aangevul met lupien pitte, te laat wei voordat hulle in 'n skoon lupienstoppel land geplaas word. Dit help om skape gewoond te maak om eers die pitte te soek voordat hulle na die stoppels oorgaan. Alhoewel nie aan te beveel vir goeie lupien produksie nie, is 'n vuil onkruid besmette lupien stoppelland minder gevaarlik omdat daar meer alternatiewe weiding in voorkom.

Omdat die toksiene die lewer aantas moet skape gereeld vir afwykings wat verband hou met lewerskade, ondersoek word. Vergeling om die oë, ingeduikte flanke, verlies aan eetlus, fotosensitisering en algemene swakheid is aanduidings van lupinose. Skaap troppe kan ook vir 'n paar honderd meter vinnig aangejaag word. Enige swakker dier moet verder ondersoek word. Geen geneesmiddel is nog beskikbaar nie. Onttrekking van die lupiene met genoeg water en ander voer sal help om skape met matige lupinose te laat herstel. Voedings aanvulling of enige dosering wat koper bevat moet vermy word. Die lewer is nie instaat om koper uit te skei nie.

Lupinose kom sporadies voor en is geen bedreiging vir enige skaapboer nie. Hy moet net bewus wees dat daar wel so 'n probleem kan ontstaan veral by plaaslik ontwikkelde lupien cultivars. Nuwe Australiese cultivars soos Tanjil en Wonga het goeie weerstand teen infeksie van die swam en behoort dus veilig aangewend te kan word.


Enquiries / Navrae

Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western Cape
Instituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Dr N Kotze
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter