Newsletters / Archives / Canolafokus Archives / 2005 Canolafokus No 27

CanolaFokus logo

Canolafokus 27   Junie 2005

Swartland canola kompetisie 2004

Sakkie Slabbert
Departement Landbou: Wes-Kaap

Inleiding

Canolaverbouing het reeds in 1993 in die Swartland begin. Goeie opbrengste tydens die 1996 seisoen en die gepaardgaande vestiging van markte en prysstrukture het aanleiding gegee tot 'n merkbare jaarlikse toename in hektare in die Swartland. Swak vestiging tydens die 1999 seisoen, toe die meeste aantal hektare nog gevestig is, het tot gevolg gehad dat daar tydens die 2000 seisoen minder canola gesaai is en daar ook geen noemenswaardige toename in hektare die volgende seisoen waargeneem is nie. Na goeie opbrengste in 2001 is ongeveer 3 300 ha meer canola in die 2002 seisoen gesaai. Ongeveer 10 000 ha is in 2003 gesaai wat ongeveer 800 ha meer was as in 2002. Vanjaar (2004) is ongeveer 12 500 ha in die Swartland gebied gesaai.

Hierdie kompetisie is eintlik meer 'n voorligtingsaksie om die ver­bouing van canola in die Swartland te bevorder. Die belangrikste aspek van hierdie kompetisie is nie wie die wenners gaan wees nie, maar die geleentheid wat dit skep om kennis en ondervinding uit te ruil en verskillende produksiepraktyke te besigtig. Hier kry boere en land­boukundiges die geleentheid om gedagtes, kennis en ondervinding uit te ruil. Geen spesiale groepbyeenkomste is gedurende 2004 gehou nie weens 'n tekort aan geleenthede asook as gevolg van die demper wat die droogte op die belangstelling in canola geplaas het. Tydens die September SKOG-dag is daar wel demonstrasieproewe en culti­varproewe besigtig. By geleentheid is daar ook na 'n sekere saadhandelaar se proewe in die Vredenburg omgewing gekyk. Die resultate van hierdie kompetisie is egter tydens verskeie plaasbesoeke bespreek.

Tydens die 2004 seisoen het 19 produsente ingeskryf vir die kompetisie waarvan 16 dit voltooi het. Die rede hiervoor is dat drie van die deelnemers se canola so swak was as gevolg van die droogte, dat hulle dit eerder laat bewei het en nie geoes het nie. Die verdeling van die deelnemers in die verskillende voorligtingswyke was as volg:

Malmesbury voorligtingswyk 6
Moorreesburg voorligtingswyk 8
Piketberg voorligtingswyk 2

Die vog persentasie waarby geoes is, is by die boere verkry en die olie- en proteïen persentasie is deur die Diereproduksielaboratorium op Elsenburg bepaal. Die gemiddelde opbrengs (0,65 ton/ha) vir 2004 was ongeveer 0,10 ton/ha laer as 2003 se gemiddelde opbrengs (0,75 ton/ha). Dit is natuurlik te wyte aan die droogte wat tydens 2004 geheers het. Daar was weereens 'n groot variasie in opbrengste, van 0,01 ton/ha tot 1,54 ton/ha. Die gemiddelde van 0,65 ton/ha is dus 'n goeie weerspieëling van canola-opbrengste in die Swartland tydens 2004. Alhoewel ons weet dat klimaatstoestande, veral reënval, baie verskil in die Swartland, wil ons hierdie geweldige variasie van opbrengste probeer verminder. Ons wil dus poog dat opbrengste in hoë reënval gebiede minder van mekaar moet verskil en so ook in die laer reënval gebiede.

Al die bewerkings uitgevoer en middels gebruik se kostes is in berekening gebring om die produksie koste per hektaar te bereken.

Die kompetisie word volgens twee maatstawwe beoordeel naamlik bruto marge per hektaar en graan opbrengs per hektaar.

Klimaat

Volgens grafieke 1 en 2 was die reënval baie laer as normaal met feitlik geen noemenswaardige reën in die Pools gebied. Die reënval in die Porterville en Malmesbury gebiede was egter voldoene om canola ekonomies te produseer. Die droogte het in sekere gebiede soos byvoorbeeld die Rooikaroo-Koringberg gebied veroorsaak dat feitlik geen canola opgekom het nie. In ander gebiede, selfs in die Malmesbury area, was die stande swak. Gedurende April het relatief goeie reëns voorgekom, maar gedurende Mei het dit feitlik niks gereën. Die eerste werklik wydverspreide reën het eers vanaf die eerste week van Junie af voorgekom, en die boere het geglo dat dit 'n goeie seisoen gaan wees. Bo-bemestings is gedoen en onkruide en insekte is ten duurste beheer.

Behalwe dat die seisoen baie laat begin het, was die grootste nadeel die afsny van die reën vanaf middel Augustus tot middel September. Dit is dan ook gedurende hierdie tydperk wat temperature begin styg het terwyl die plant se behoefte aan water die grootste was. Dit het aanleiding gegee tot baie ligte en klein sade.

Die klimaat gedurende oestyd (Oktober) was baie gunstig vir die oes-proses, dit wil sê relatiewe koel en windstil dae met 'n bogemiddelde lugvogtigheid. Vanaf November het temperature begin styg en die lugvog begin daal, maar die meeste produsente het reeds klaar canola geoes.

Resultate

Inligting ingewin gedurende hierdie seisoen is onder andere cultivars geplant, plantdatums, plantpopulasie, bewerkingspraktyke toegepas, grondontledings, bemesting toegedien en onkruid- en insektebeheer praktyke. Omdat dit te moeilik is om eweredig deur 'n land klein blokkies te oes vir 'n opbrengsbepaling is besluit om die totale opbrengs van die land te meet. Die lande is feitlik almal met 'n GPS opgemeet om sodoende die opbrengs akkuraat te bepaal. Hier het ons dus staat gemaak op die deelnemers se integriteit om die ware opbrengs te bepaal. Al nadeel van hierdie metode is dat die boer met 'n groot land dalk 'n laer opbrengs per hektaar kan realiseer as die een met 'n kleiner land. Die vog persentasie waarby geoes is, is by die boere verkry en die olie- en proteïen persentasie is deur die diereproduksielaboratorium op Elsenburg bepaal. Die gemiddelde opbrengs (0,65 ton/ha) vir 2004 was ongeveer 0,10 ton/ha laer as 2003 se gemiddelde opbrengs (0,75 ton/ha). Dit is natuurlik te wyte aan die droogte wat tydens 2004 geheers het. Daar was weereens 'n groot variasie in opbrengste, van 0,01 ton/ha tot 1,54 ton/ha. Die gemiddelde van 0,65 ton/ha is dus 'n goeie weerspieëling van die totale canola opbrengste in die Swartland.

Ten einde die risiko van canolaverbouing in 'n droë jaar soos 2004 te illustreer (Tabel 3) is canola-opbrengste ook uitgedruk as 'n persentasie van die gemiddelde koringopbrengs van die deelnemers. Uit hierdie tabel wil dit blyk dat canola meer riskant is in die droër jare, want in 2002 was die canola opbrengste gemiddeld 48% van koring teenoor 38% in 2003 en 33% in 2004. Daar moet egter ingedagte gehou word dat die oppervlakte onder canola aansienlik minder is as dié onder koring en dat baie min variasie ingesluit word. As voorbeeld kan die resultate van twee deelnemers in die Piketberg / Porterville omgewing geneem word. Ten spyte van die feit dat vogstrem­mingstoestande hier voorgekom het, was die canola-opbrengste gemiddeld 51% van die gemiddelde koring opbrengs. Dit was hoër as in die Malmesbury omgewing waar die droogte minder straf was. Dit beteken dat as regte praktyke gevolg word met canola, kan daar selfs in droër gebiede goeie opbrengste afgehaal word.

Tabel 3
Opbrengs van canola as persentasie van koringopbrengs
Malmesbury
Gemiddelde koring opbrengs = 2.63 t/ha
Morreesburg
Gemiddelde koring opbrengs = 1.67 t/ha
Piketberg
Gemiddelde koring opbrengs = 1.17 t/ha
Canola as % van koring Canola as % van koring Canola as % van koring
Boer Canola (%) Koring (t/ha) Boer Canola (%) Koring (t/ha) Boer Canola (%) Koring (t/ha)
4 56 5.369 1 36 2.29 9 42 2.487
5 19 1.499 2 26 1.537 16 60 3.211
6 37 3.438 3 28 1.773
7 42 2.179 8 15 1.077
10 40 3.719 11 51 2.931
12 34 3.402 13 7 0.44
14 0.5 0.064
15 30 2.173
Gem. 38 3.267 Gem. 24 1.535 Gem. 51 2.849

Daar word beklemtoon dat die tabelle se inligting as 'n moontlike tendens beskou moet word, en nie as definitiewe resultate, omdat klimaat en ander faktore ook 'n rol kan speel. Vanjaar (2004) het die droogte feitlik alle ander faktore oorheers.

Grondontledings en plantvoedingstatus van die grond

Alhoewel goeie reën eers vanaf begin Junie (2004) begin val het, het die 2004 seisoen tog belowend gelyk omdat opvolg reëns gereeld gekom het. As gevolg van hiervan het baie boere 'n bo-bemesting toegedien op die canola. Dit is in teenstelling met 2003 se droë jaar toe feitlik geen bo-bemesting gegee is nie as gevolg van 'n baie droë Junie. Hierdie seisoen (2004) het 14 van die 16 deelnemers wel bo-bemesting gegee. Die 2 deelnemers wat geen bo-bemesting gegee het derhalwe dan ook die minste stikstof gegee van al die deelnemers.

In Tabel 4 kan gesien word dat na 4 jaar se data van die kompetisie, dit wil blyk dat beter opbrengste verkry word indien slegs ± 40% van die totale stikstof bemesting met vestiging gegee word en die res later. Dit wil voorkom dat dit selfs in 2004, wat 'n droë jaar was, positiewe resultate gelewer het.

Verlede jaar (2003) het die meeste deelnemers tussen 30kg en 50kg stikstof in totaal gegee wat natuurlik groot besparings meegebring het. Gedurende 2004 het die meeste deelnemers tussen 60kg en 100kg stikstof gegee wat weereens die kostes verhoog het. Hierdie toename in stikstof toediening is veroorsaak, soos reeds genoem, deur die optimisme wat daar geheers het gedurende die seisoen as gevolg van die goeie opvolgreëns.

Tabel 4
Die invloed van stikstoftoediening met plant op die opbrengs (t/ha)
2003 2004 Gemiddeld 2001-2004
% N Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
0-30% 0.00 0% 0.00 -100% 0.85 -20%
31-40% 0.00 0% 0.72 10% 1.06 0%
41-50% 0.50 -33% 0.66 1% 0.96 -9%
51-60% 0.45 -40% 0.60 -8% 0.90 -15%
61-70% 0.00 0% 0.78 19% 0.90 -15%
70%+ 0.82 9% 0.31 -53% 0.73 -31%
Basis opbrengs 0.75 0.65 1.06

Alhoewel dit 'n droë jaar was, het hierdie hoër bemestingspeile volgens Tabel 5 nog steeds die hoogste opbrengste gegee. Die wenner met die hoogste opbrengs van 1,49 ton het 120kg stikstof per hektaar toegedien, terwyl sy totale reënval vanaf April tot Oktober 2004 277mm was. Hierdie reënval was slegs die sesde hoogste van al die deelnemers.

Tabel 5
Die invloed van totale stikstof toegedien op opbrengs (t/ha)
2003 2004 Gemiddeld 2001-2004
Totale N Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
30-50 0.64 -15% 0.31 -53% 0.24 -78%
51-60 0.50 -33% 0.25 -62% 0.19 -82%
61-80 1.90 154% 0.53 -19% 1.25 18%
81-100 0.00 0% 0.84 28% 0.97 -8%
101+ 0.00 0% 0.96 46% 0.93 -12%
Basis opbrengs 0.75 0.65 1.06

As 2004 met 2003 vergelyk word is dit duidelik dat die deelnemers in 2003 met minder stikstof beter resultate gekry het, wat weereens daarop wys dat die produsente stikstoftoedienings korrek moet bestuur.

Saadbedvoorbereiding en plantmetode

Vyf van die deelnemers het canola geplant en elf het dit breedwerpig uitgestrooi. Waar die canola geplant is, is 'n effens beter opbrengs gekry alhoewel die deelnemers met die drie beste opbrengste hulle canola uitgestrooi het. Indien daar egter na Tabel 6 gekyk word kan gesien word dat daar oor die langtermyn geen groot verskille tussen die twee metodes is nie.

Tabel 6
Die invloed van plantmetode op opbrengs (t/ha)
2003 2004 Gemiddeld 2001-2004
Metode Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
Strooi 0.82 9% 0.62 -5% 1.09 3%
Planter 0.65 -14% 0.73 11% 1.03 -3%
Basis opbrengs 0.75 0.65 1.06

Aangesien die plantmetode se gemiddelde opbrengs beter was as die strooimetode, kan die afleiding gemaak word dat canola beter vestig as dit geplant word en dus sterker plante tot gevolg hê. Met 'n planter word Canola eweredig diep geplant en word daarselde probleme ondervind met sade wat te diep lê in die grond soos wanneer dit gestrooi word.

Die meeste deelnemers (14 boere) het hulle saad teen insekte behandel. Alhoewel dit blyk dat 'n beter gemiddelde opbrengs met die onbehandelde saad verkry is gedurende 2004, moet daar eerder na die langtermyn gemiddelde (Tabel 7) gekyk word. Uit die langtermyn gemiddelde blyk dit dat wel dat saadbehandeling beter saad­opbrengste tot gevolg het.

Sommige boere het baie koste aangegaan om saad te behandel met nuwe en meer gesofistekeerde middels. Of dit egter die moeite werd is moet meer nog wetenskaplik nagevors word. Voorlopig is die aanbeveling dat die saad eerder met gewone Dimetoaat en Thiram behandel moet word. Drie deelnemers het hulle saad met hierdie duur middels behandel sonder om enige noemenswaardige opbrengs­verhoging te verkry.

Tabel 7
Die invloed van saadbehandeling op opbrengs (t/ha)
2003 2004 Gemiddeld 2001-2004
Behandelings Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
Behandel 0.63 -16% 0.65 0% 1.14 8%
Onbehandel 1.04 38% 0.68 3% 0.99 -7%
Basis opbrengs 0.75 0.65 1.06

Volgens Tabel 8 blyk dit dat die canola wat in klam grond gesaai is se opbrengs oor die algemeen hoër was as waar dit in droëgrond gevestig is. Alhoewel daar vanjaar en ook in die verlede goeie opbrengste verkry is waar in droë grond gesaai is, blyk dit dat dit steeds 'n risiko is en dat beter opbrengste verkry is waar in klam grond gesaai is. In die verlede is al baie goeie opbrengste verkry wanneer Canola ± 10mm diep in droë grond gesaai is, met ten minste twee goeie opvolg reëns binne 10 dae na saai. Droog saai in laer reënval (300–350mm) gebiede, kan of baie goeie resultate lewer met goeie opvolgreëns, of dit kan toeslaan (korsvorming) wat oneweredige en laat opkoms tot gevolg kan hê.

Tabel 8
Die invloed van plant toestande op opbrengs (t/ha)
2003 2004 Gemiddeld 2001-2004
Toestande Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
Klam 0.86 15% 0.79 21% 1.18 11%
Droog 0.59 -22% 0.56 -14% 0.90 -15%
Nat 0.00 0% 0.90 38% 0.23 -79%
Basis opbrengs 0.75 0.65 1.06

Canola cultivars

Vyf van die deelnemers het ATR Hayden gesaai. Varola 50, ATR Beacon, Outback en Varola 48 CL is elk deur twee deelnemers gesaai terwyl Varola 404 CL, 45C75 en 600TT deur een deelnemer gesaai is. Die laaste drie cultivars kan dus nie direk met die ander vergelyk word nie, selfs nie eens die cultivars wat net deur twee deelnemers gesaai is. Die cultivars wat deur slegs twee deelnemers gesaai is, kan wel oor die langtermyn vergelyk word.

Tabel 9
Die invloed van kultivarkeuse op opbrengs (t/ha)
2003 2004 Gemiddeld 2001-2004
Cultivars Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
Verola 50 0.24 -68% 0.34 -48% 0.87 -18%
Verola 44 0.21 -72% 0.00 -100% 0.72 -32%
Monty 0.00 -100% 0.00 -100% 0.68 -36%
ATR Hayden 0.82 9% 0.91 39% 1.35 20%
Mengsel 0.00 -100% 0.00 -100% 0.23 -78%
Scoop 0.00 -100% 0.00 -100% 0.37 -65%
Outback 0.00 -100% 0.60 -8% 0.45 -58%
Varola 48 CL 0.98 31% 0.54 -18% 0.91 -14%
Varola 404 CL 0.00 -100% 0.50 -23% 0.13 -88%
ATR Beacon 0.00 -100% 0.43 -34% 0.11 -89%
600 TT 0.00 -100% 1.10 68% 0.28 -74%
45C75 0.00 -100% 0.50 -23% 0.13 -88%
Basis opbrengs 0.75 0.65 1.06

Sedert die kompetisie begin het (4 jaar gelede), is ATR Hayden en Varola 50 elke jaar gesaai. ATR Hayden het die beste oor hierdie tydperk gepresteer wat heel moontlik toegeskryf kan word aan beter onkruidbeheer met Simasien. Varola 48 CL en Varola 44 is vir 3 van die 4 jare gesaai, waarvan Varola 48 CL die beste presteer het. Weereens kan dit moontlik toegeskryf word aan beter onkruidbeheer met Cysure.

Alhoewel ATR Hayden die beste in 2004 presteer het, moet ons in gedagte hou dat dit hoofsaaklik in die hoër potensiaal gebiede gesaai is. Dit blyk egter dat Outback en Varola 48 CL beter gedoen het die afgelope 4 jaar in die laer reënval potensiaal gebiede.

Planttyd, saaidigtheid en plantestand

Kyk ons na die resultate van saaityd in 2004 (Tabel 10), sien ons dat die eerste week van Junie die beste gemiddelde opbrengs gelewer het. Indien ons hierdie saaityd (eerste week Junie) buite rekening laat, asook die derde week van Mei waartydens ook net een deelnemer gesaai het, sien ons dat weke drie en vier van April die beste saaityd was. Alhoewel dit gedurende die daaropvolgende periode baie droog was blyk dit dat canola wat wel ontkiem het en hierdie droë periode oorleef het met 'n redelike opbrengs.

Oor die langtermyn wil dit voorkom asof canola tot die tweede week van Mei gesaai kan word nie. Dit blyk egter dat die kanse vir 'n goeie opbrengs beter is indien dit 10mm of meer na die middel van April reën, en canola onmiddelik gevestig kan word met die minimum grondversteuring. Dit is egter nie altyd prakties moontlik nie, omdat dit die kanse vir onkruid kompetisie is sekere gevalle kan verhoog.

Tabel 10
Die invloed van planttyd op die opbrengs (t/ha)
2003 2004 Gemiddeld 2001-2004
Tyd Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
3 week April 0.00 0% 0.68 3% 1.11 5%
4 week April 0.64 -14% 0.69 5% 1.07 1%
1 week Mei 0.58 -23% 0.51 -22% 0.98 -8%
2 week Mei 1.90 154% 0.50 -23% 1.25 18%
3 week Mei 0.00 0% 0.00 -100% 0.00 -100%
4 week Mei 0.00 0% 0.00 -100% 0.00 -100%
1 week Junie 0.00 0% 0.90 38% 0.90 -15%
Basis opbrengs 0.75 0.65 1.06

Die beste gemiddelde opbrengs in 2004 is volgens Tabel 11 verkry deur twee deelnemers wat tussen 4 en 5kg canola per hektaar gesaai het. Die tweede beste gemiddelde opbrengs is verkry deur vier deelnemers wat tussen 5 en 6kg canola per hektaar gesaai het. Oor die langtermyn byk dit dat, indien daar tussen 4 en 6kg canola per hektaar gesaai word, die kanse goed is vir 'n goeie canola oes.

Tabel 11
Die invloed van saaidigtheid op die opbrengs (t/ha)
2003 2004 Gemiddeld 2001-2004
kg/ha Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
41-1.9 0.00 0% 0.00 -100% 0.00 -100%
2-2.9 0.00 0% 0.00 -100% 1.72 63%
3-3.9 0.50 -33% 0.67 3% 1.02 -4%
4-4.9 1.13 51% 0.80 23% 1.16 10%
5-5.9 0.53 -30% 0.78 20% 1.11 5%
6+ 0.64 -15% 0.51 -23% 0.75 -29%
Basis opbrengs 0.75 0.65 1.06

Indien daar na die gemiddelde opbrengste van die verskillende plantestande (Tabel 12) gekyk word, blyk dit asof plantestand nie die saadopbrnegs tydens 2004 beïnvloed het nie. Die langtermyn plantestand wat die beste gedoen het, was egter tussen 40 en 49 plante/m2. Dit is egter moeilik om plantestand te beheer, maar oor die algemeen kan 1kg saad ongeveer 10 plante/m2 laat vestig.

Tabel 12
Die invloed van plantestand op die opbrengs (t/ha)
2003 2004 Gemiddeld 2001-2004
Plante per m² Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
1-9 0.00 0% 0.00 -100% 0.00 -100%
10-19 0.36 -53% 0.78 19% 0.53 -50%
20-29 0.60 -20% 0.98 50% 1.08 2%
30-39 0.86 15% 0.49 -26% 0.98 -8%
40-49 1.90 154% 0.85 30% 1.54 45%
60+ 0.50 -33 0.57 -13% 0.78 -27%
Basis opbrengs 0.75 0.65 1.06

Onkruidbeheer

Onkruid druk van veral breëblaar onkruide is 'n al groter wordende probleem. Ramenas, dubbeltjie en kiesieblaar is moeilik om te beheer in canola en ook in koring. Daar bestaan 'n vermoede dat ramenas en dubbeltjie weerstand-biedendheid begin toon teen onkruiddoders. Sommige van die deelnemers kon net die grasse beheer en is oesverliese dus deur breëblaar onkruide veroorsaak. Alhoewel die meeste produsente hulle grasse maklik in canola kan beheer is daar sekere grasse, veral raaigras wat op sekere plekke baie weerstandbiedend is, veral in die Malmesbury – Durbanville omgewing. Produsente moet dus deeglik bewus wees van sy kamp se onkruid geskiedenis voordat hy canola vestig.

Oor die algemeen is goeie onkruidbeheer verkry deur die deelnemers. Enkele deelnemers het hulle onkruide te laat bespuit en die onkruide het stadig gevrek. Die agt deelnemers wat triasienbestande cultivars gesaai het, het oor die algemeen goeie beheer gekry en dit lyk nou asof die boere die metode van simasien toediening begin verstaan. By twee produsente het die grasse weer later opgekom en is dit met 'n grasdoder beheer. Vier van die deelnemers het hulle onkruide met Cysure beheer waarvan een nie goeie beheer gekry het omdat hy te laat gespuit het.

Plaagbeheer

Wat plaagbeheer betref is daar basies vier plae wat canola teister naamlik Sandmyte in die saailing stadium, plantluise in die blomstadium en bolwurm en koolmot in die peulstadium.

In die Suid-Kaap het canola produsente redelik probleme met "krimpvarkies", "koffiepitte" en slakke gehad maar blykbaar was die Swartland te droog en warm vir hierdie insekte en was dit net plantluise en koolmot wat 'n probleem was. Die koolmotte se larwes, wat veral op die peule voed, se populasie was weereens baie hoog tydens die peulvul stadium en van die deelnemers het skade gely omdat hulle nie wou spuit as gevolg van die droë toestande tydens daardie periode.

Tipies van 'n droë jaar het feitlik al die deelnemers behalwe een, insekte-beheer toegepas, selfs ook in die meer hoër reënval gebiede waar tradisioneel minder insekbeheer toepas word. Bolwurm beheer het die kostes van insekbeheer verhoog veral omdat dit al begin weestand bied teen die sipermetrien. Daar is ook 'n tendens by boere om van duur saadbehandelings middels gebruik te maak, wat tot R54.00/ha kos. Of dit effektief is, sal nagevors moet word. Wat swamme betref was daar redelik probleme met swartstam in die Suid-Kaap terwyl daar geen probleme in die Swartland was nie. Boere moet egter versigtig wees om nie die periode tussen canola op dieselfde land te verkort nie, want met 'n vroeë en nat jaar in die Swartland kan swartstam ernstige verliese veroorsaak.

Kosteberekening

Om die bruto marge per hektaar van die produk op die plaas gelewer te bereken, is die werklike pryse van insette soos deur die boer betaal geneem. Die gevoel is dat indien 'n boer byvoorbeeld kunsmis goedkoop in die hande kan kry hy meer winsgewend met canola kan boer en daarom moet dit in die kompetisie syfers weerspieël word. Waar 'n boer nie die werklike prys van die insette kon gee is die lysprys van 'n produk gebruik. Met die kosteberekenings van werktuie en bewerkings is gebruik gemaak van die "Guide to Machinery Costs, Directorate of Communication" van die Departement Landbou. Die prys van canola wat vir die berekeninge gebruik word is ook die werklike prys wat die boer vir sy produk gekry het. 'n Opsomming van die Bruto marges word geïllustreer in Tabel 13. In Tabel 14 word 'n opsomming gegee van die deelnemers se verbouings praktyke.

Tabel 13
Ontleding van marges (Boere 1-8)
Boer 1 2 3 4 5 6 7 8
Opbrengs (ton/ha) 0.60 0.43 0.47 1.49 0.50 0.97 1.10 0.25
Prys (Rand/ton) 1760 1707 1770 1770 1770 1700 1760 1750
Bruto produksie waarde 1116 771 732 2652 790 1764 2046 463
Direk toedeelbare uitgawes
Saad 177 221 162 164 144 102 137 207
Bemesting 444 416 649 792 477 525 717 234
Onkruidbeheer 277 104 274 352 270 67 219 105
Swam- en insektebeheer 37 7 67 13 22 21 26 15
Bewerking 344 301 259 401 312 297 313 179
Rente op produksiekoste 124 106 144 167 122 94 147 70
Totale direk toedeelbare koste 1406 1155 1566 1779 1346 1106 1660 710
Marge na direk toedeelbare koste -290 -374 -734 764 -456 657 376 -347
Nie direk toedeelbare koste 533 566 577 616 472 559 703 424
Totale koste 1939 1722 2153 2505 1717 1665 2444 1234
Marge na gespesifiseerde koste -723 -940 -1321 147 -927 99 -317 -772

Ontleding van marges (Boere 9-16)
Boer 9 10 11 12 13 14 15 16
Opbrengs (ton/ha) 0.5 1.06 0.75 0.90 0.11 0.01 0.50 0.70
Prys (Rand/ton) 1700 1770 1730 1760 1700 1700 1700 1750
Bruto produksie waarde 900 1777 1556 1574 205 17 900 1295
Direk toedeelbare uitgawes
Saad 104 149 179 235 179 190 107 113
Bemesting 702 640 666 461 304 497 1347 563
Onkruidbeheer 114 73 216 277 50 137 277 107
Swam- en insektebeheer 32 34 45 21 52 1 72 39
Bewerking 254 244 447 320 221 176 163 295
Rente op produksiekoste 123 107 133 123 75 110 163 97
Totale direk toedeelbare koste 1329 1249 1606 1437 770 1109 2142 1215
Marge na direk toedeelbare koste -429 637 -50 147 -674 -1091 -1242 70
Nie direk toedeelbare koste 465 547 690 427 431 423 400 411
Totale koste 1795 1797 2296 1764 1311 1532 2541 1626
Marge na gespesifiseerde koste -795 90 -740 -270 -1106 -1514 -1641 -331

Wenners en naaswenners

Hoogste opbrengs Paul Truter
Beste Bruto Marge Paul Truter
Opbrengs (Tweede) André Brink
Bruto Marge (Tweede) Dirk Lesch

Ek wil graag ons Borge bedank vir hulle ondersteuning, belangstelling en hulp waarsonder die kompetisie nie kon klaarkom. Ek wil ook my medewerkers Charl van der Merwe en Gert Conradie bedank vir die rekenaarwerk. Dan wil ek ook vir Tulia George bedank vir die druk van die buiteblad en bind van die inligtingstuk, en Jossie Kotze van Swartland LOS vir die tikwerk en Henk Cerfonteyn vir die reën­valverspreidingsgrafieke. Mnr Mike Wallace het die reëval­versprei­dingskaart gedruk.

Hoofborge

Proteïennavorsingstigting (PNS) en Departement van Landbou: Wes-Kaap.

Pryse

PNS (Hoogste Opbrengs) AGRICOL (Naas-hoogste Opbrengs)
PNS (Beste Bruto Marge) AGRICOL (Naas-beste marge)
CBK (Skild vir Hoogste Opbrengs) PNS (Skild vir Hoogste Bruto Marge)

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Prof A Agenbag   Izane Leygonie
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter