- 25 NOVEMBER 2003
- 29 SEPTEMBER 2003
- 7 AUGUSTUS 2003
- 8 MEI 2003
- 11 MAART 2003
- 27 JANUARIE 2003
Notule
Sojawerkgroepvergadering
gehou om 10h00 op 25 November 2003 in die PNS-Raadsaal te Rivonia
Opening
Die vergadering word met gebed geopen deur mnr G Keun.
Verwelkoming
Die Voorsitter, mnr GJH Scholtemeijer, heet almal teenwoordig welkom by die vergadering.
Presensie
Teenwoordig
Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter) Dr J de Kock PNS Dr M Griessel PNS Mnr CJ du Plessis PNS Mnr WF van Wyk PNS-Kontrakteur Mnr H Agenbag PNS-Kontrakteur Mnr CL Grimbeek PNS-Kontrakteur Mnr L Killian PNS-Kontrakteur Mnr E Maree PNS-Kontrakteur Mnr B de Klerk Afgri Mnr C Havenga Agriocare Mnr AJ Pretorius LNR-IGG Mnr FAS Potgieter Graan SA Mnr NJ Vermaak Graan SA Mnr B Birch Konsultant van Landbou, KwaZulu-Natal Dr AA Nel LNR-IGG Mnr G Keun OPOT Mnr N Fouché Sekretariaat Verskonings
Mnr GW Bührmann GWB Saad Mnr P Lubbe SASS Mnr GP de Beer LNR-IGG Mnr TM Ndwandwe Departement van Landbou, KwaZulu-Natal
Personalia
Geen.
Vasstelling van die sakelys
Die sakelys word aanvaar, met toevoeging / verbetering van die volgende besprekingspunte:
- 9.3.2 – Sojafabriek: Potchefstroom
- 9.6.4 – Planter en Slattery stroper – Vordering verander na Slattery stroper – vordering
- 9.6.5 – Projekaansoek vir aankoop van stroper verander na Projekaansoek vir aankoop van planter
- 9.7.2 – Opname van silo-eienaars met geskikte drogingsfasiliteite word geskrap
- 9.9 – Noord-Kaap – Items 9.9, 9.9.1 en 9.9.2 verander na 10.9, 10.9.1 en 10.9.2
Notule van die vergadering van 29 September 2003
Die notule is goedgekeur.
Algemene oorsig
Provinsies
Die Voorsitter wys daarop dat die voorneme om te plant vir 2003/2004 soos op 31 Oktober en deur die Oesskattingskomitee gepubliseer 120 000ha is, teenoor die 108 000ha wat in die afgelope seisoen geplant is.
KwaZulu-Natal
Mnr Du Plessis rapporteer dat dit "strepe en kolle" in KwaZulu-Natal reën, maar dat daar nog tyd is om te plant. Hy sê die afsnydatum om in die Piet Retief-gebied te plant is 20 November en hoewel produsente in hierdie gebied byna klaar geplant het, daar groot dele is waar dit steeds te droog is om te plant. Volgens alle aanduidings, sal meer sojabone as in die vorige plantseisoen aangeplant word. Hy noem dat sojabone nog tot ongeveer 18 Desember in die Bergville-area geplant kan word en indien dit eers later reën, kan droëbone in plaas van sonneblom geplant word, aangesien sonneblom-aanplantings deur voëls vernietig kan word.
Mnr Du Plessis noem verder dat, aangesien die geleentheid om mielies te kon plant in groot dele van KwaZulu-Natal as gevolg van die droogte verby is, baie produsente besluit het om sojabone te plant en is feitlik alle saad van die bekende cultivars uitverkoop. Hy sê na raming is die toename in aanplantings teenoor die vorige jaar in Bergville / Winterton, sowat 20%, dié in Normandien / Newcastle sowat 30%, en dié in ander streke soos Vryheid, sowat 10%. Die Voorsitter wys daarop dat die NOK se skatting 24% meer is as die vorige jaar se aanplantings. Mnr Havenga volstaan by mnr Du Plessis se rapportering.
Mnr Killian rapporteer dat dit onlangs eers in die Winterton-gebied begin reën het en dat sojabone aldaar tot in Januarie geplant kan word. Hy sê dat die Kokstad-gebied steeds nie genoeg reën gehad het om te kan plant nie.
Mpumalanga
Die Voorsitter verwys na 'n skrywe wat van mnr Bührmann ontvang is, waarin hy onder andere die volgende meld: "Na jare se soek na die rede vir mielie en soja produksie afname, het ek fosfaat en potas in oormaat begin toedien, sodat daar genoeg vrye voedingstowwe van hierdie elemente beskikbaar is – het ek weer baie goeie opbrengste behaal. Die normale kunsmis maatskappy ontledings het altyd genoeg voedingstowwe bevestig. C.A.L. Laboratorium toetse het egter 'n tekort uitgewys in die vrye beskikbare voedingstowwe. Ons doen wisselbou werking van mielies en sojabone al vir 16 jaar suksesvol. Aanplantings in Mpumalanga is redelik normaal maar laat."
Mnr Van Wyk rapporteer dat groot dele van die Mpumalanga provinsie swak reën ontvang het en dat sojaboon-aanplantings meestal geweldig laat was. Hy sê dat produsente in die Bethal / Kinross / Kriel-gebied eers gedurende die vorige week met sojaboon-aanplantings begin het en dat produsente in die Middelburg-distrik reeds vroeër begin plant het. Hy wys egter daarop dat die reën in die algemeen nie genoeg was om die ondergrond nat te maak nie.
Mnr De Klerk sê volgens sy inligting ondervind slegs kleiner gebiede tans krisisse en sal die meeste produsente hul mielie-aanplantings gedurende die huidige week afhandel. Hy sê dat die sojaboon-aanplantings minder as dié van vorige seisoen sal wees. Hy wys daarop dat die Mpumalanga provinsie gedurende die afgelope seisoen 'n ondergemiddelde oes gehad het, wat deels aan die lae ondergrondse vog te wyte is. Hy sê indien die algemene reënval vir die huidige seisoen nie voldoende is nie, die oeste selfs nog swakker kan wees.
Mnr Havenga noem dat sojabone in die Morgenzon / Amersfoort-area gedurende die einde van Oktober en die begin van November aangeplant is en dat daardie gebied 'n beter reënval as Kwazulu-Natal gehad het. Hy sê ten spyte van 'n bietjie hael in die Morgenzon / Amersfoort-area, lyk die aanplantings goed. Mnr Vermaak sê Graan SA se opnames strook met die vorige sprekers se rapportering.
Die Voorsitter verneem van mnr Vermaak of Graan SA moontlik, uit hoofde van sy kontak met weerkundiges, relevante inligting aan die PNS-kantoor kan voorsien, vir insluiting by die volgende agendastukke. Mnr Vermaak noem dat inligting oor die klimaat en weer op Graan SA se webwerf beskikbaar is en dat die jongste vooruitskouings in die volgende uitgawe van SA Graan gepubliseer sal word. Mnr Vermaak sê volgens 'n onlangse aanbieding van mnr Johan van den Berg, 'n weerkundige, behoort dit teen einde November goed te reën, wat tot middel Januarie kan duur. Ondernormale reënval word volgens mnr Van den Berg vir Februarie verwag en die vooruitsigte is beter vir Maart en April.
Besluit:
- Dat die jongste beskikbare weer- en klimaatvooruitskouings van Graan SA se webwerf bekom word, vir insluiting by die volgende sakelys van die Sojawerkgroep.
Mnr Keun
- Dat die jongste beskikbare weer- en klimaatvooruitskouings van Graan SA se webwerf bekom word, vir insluiting by die volgende sakelys van die Sojawerkgroep.
Noordwes
Mnr Potgieter rapporteer dat waterbeperkings vir groot dele van die gebied ingestel is en dat aanplantings nou eers 'n aanvang neem. Hy sê dat mielie-oppervlaktes vir sojaboonaanplantings ingeboet word en dat alle gewilde cultivars uitverkoop is.
Limpopo
Mnr Van Wyk rapporteer dat daar gedurende Oktober, sowat 70mm reën vir die Noordelike Limpopo-gebied gemeet is en daar selfs meer reën noord daarvan, in Botswana en Zimbabwe geval het. Hy deel die vergadering mee dat die Limpopo-rivier wes van die Pontdrif-gebied droog is, terwyl produsente in die Pontdrif-gebied relatiewe sterk ondergrondse water uit die rivierbedding pomp. Hy sê die Noordvlakte (Naboomspruit / Roedtan) is redelik droog en dat dit gedurende die afgelope sowat twee weke goed gereën het oor die gebied suid van die denkbeeldige Warmbad / Marble Hall-lyn.
Mnr van Wyk noem dat laasgenoemde gebied gewoonlik eers in Desember onder sojabone beplant word. Hy rapporteer verder dat Groblersdal se eerste reëns 'n paar dae gelede eers begin val het en dat 30mm in die gebied aangeteken is. Loskopdam hou tans minder as 30% van sy kapasiteit. Hy sê die damme, spruite en riviere in die Palala-gebied het nie genoegsame water om sojabone te besproei nie.
Noord-Kaap
Die item staan oor.
Vrystaat
Mnr Maree rapporteer dat dit wes en suid van Bethlehem sowel as in die Ficksburg-gebied baie droog is. Hy noem dat die reënval oor die res van die Vrystaat baie wisselvallig en in die algemeen, swak was. In Marquard en Senekal is byvoorbeeld nog slegs omtrent 3mm aangeteken. Hy sê dat hy produsente adviseer om nie verder met sojaboon-aanplantings voort te gaan nie. Baie van die gewasse wat gedurende Oktober in Warden aangeplant is, het verdroog, terwyl daar weer goeie reën in die Kestell / Afrikaskop-gebied geval het.
Mnr Vermaak noem dat heelwat produsente in die Oos-Vrystaat nie voorbereiding kon doen nie, veral rondom Ladybrand, Ficksburg, Excelsior, Clocolan en Senekal, waar selfs die weidings ook begin vrek. Hy sê dat ongeveer die helfte van die sojaboon-aanplantings in die Frankfort / Villiers / Bethlehem-gebiede voltooi is. Die Reitz / Petrus Steyn / Lindley-gebiede het in die algemeen genoeg reën gehad en produsente is besig om te ploeg en plant, hoewel minder sojaboon-aanplantings verwag word. Hy sê die Noordwes-Vrystaat se reënpatroon was baie wisselvallig.
Oos-Kaap
Mnr Killian rapporteer dat slegs een produsent in die Gamtoosvallei sojabone geplant het. Hy sê die produsent wat laas jaar 15ha in Grahamstad geplant het, het dié jaar nie weer geplant nie. Hy noem dat dit volgens die jongste inligting, relatief droog in die Oos-Kaap is.
Suidwestelike Distrikte
Mnr Grimbeek rapporteer dat reënval in die Suidwestelike Distrikte baie swak was en dat hier en daar 'n 2mm en 3mm aangeteken is. Gedurende die afgelope week het sterk winde gewaai en was dit baie warm. Hy sê dat produsente in die Riversdal / Albertinia-gebied meer reën gehad het en dus al heelwat sojabone kon plant, maar dat dit steeds te droog in die George-omgewing is om te kan plant.
Gauteng
Mnr Van Wyk noem dat dit baie droog is vanaf Bronkhorstspruit tot by die Noordelike deel van Delmas en dat die Gauteng-gebied ondergemiddelde reëns gehad het.
Oesskatting
Mnr Van Wyk sê hy het van Linkseeds verneem dat dié maatskappy 6 000 sakkies saad van 'n bepaalde cultivar, "oorverkoop" het (die saad is bestel, maar kon nie gelewer word nie).
Mnr Vermaak wys op die Oesskattingskomitee se skatting van 139 000 ton vir die huidige bemarkingsjaar, teenoor SAGIS se leweringsyfer van 127 000 ton vir dieselfde jaar. Hy sê dit mag beteken dat voorraad deur produsente teruggehou word. Hy skets drie scenario's wat daarop dui dat, gegewe 'n 120 000ha oppervlakte, die oesrealisasie vir die 2004/2005-bemarkingsjaar as volg kan wees: 156 000 ton @ 1,3 ton / ha; 180 000 ton @ 1,5 ton / ha; of 204 000 ton @ 1,7 ton / ha.
Oes- en oppervlakteskatting ten opsigte van Limpopo en Noordwes Provinsie
Hierdie item word van die sakelys verwyder.
Mikpunte: 2005, 2010 en 2020
Drie-jaar vooruitskatting
Hierdie item staan oor totdat die volgende amptelike oesskattingsyfers bekend geword het.
Markaangeleenthede
Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik
Dr Griessel hou die jongste markinligting en afgeleide pryse aan die vergadering voor. Hy noem dat die skatting vir sojaboonproduksie in die VSA, vanaf sowat 80 miljoen ton in Julie 2003 na ongeveer 66 miljoen ton gedaal het en dat dié land boonop die laagste voorraadsyfer in sewe jaar het. Hoewel die jongste aanduidings was dat Brasilië en Argentinië meer sojabone sou plant, gaan dié lande ook onder droogtes gebuk. Hy sê sy persoonlike mening is dus, dat internasionale pryse 'n opwaartse tendens gaan volg.
Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban Verskeping: R2 185 | Wisselkoers: R6.57/US$ Geland Durban 47% proteïen oliekoek 2 185.00 Spoorvrag na Randfontein 150.00 2 335.00 Waarde van volvetsoja 110% R2 569.00 Prys aan produsent vir sojabone 2 046.00 – Vervoerkoste na volvet-aanleg 70.00 – Stoorkoste 60.00 – Rente 16% (6 maande) 141.00 – Ekstrusiekoste 130.00 – 5% ekstrusieverlies 122.00 Afgeleide produsenteprys vir sojabone – R/ton R2 569.00 Mnr Vermaak meld dat SAFEX se Desember 2003-prys vir sojabone, R2 670 / ton is en dat daar reeds agtien kontrakte ten opsigte van Mei 2004, teen R2 250 / ton verhandel het. Mnr Van Wyk noem dat daar tans kontrakte van tussen R2 200 en R2 300 / ton aangegaan word.
SAFEX
Die Voorsitter meld dat mnr Rod Gravelet-Blondin nie meer die PNS-Raad gaan toespreek nie, maar aangebied het om bedryfsverteenwoordigers by die SAFEX-kantore te ontvang.
Mnr Du Plessis rapporteer dat SAFEX onlangs 'n vergadering met onder andere Graan SA-verteenwoordigers en ander produsente gehou het, om te bepaal wat gedoen kan word om verhandeling van sojabone te vergemaklik en te bevorder. Dit is tydens dié vergadering genoem dat toegang tot SAFEX bevorder sal word, indien die aantal SAFEX-verhandelingspunte uitbrei.
Mnr Vermaak sê daar is tans vyf verhandelingspunte, te wete Mkondo (by Piet Retief), Bethal, Northam, Vrede en Winterton. Hy noem dat SAFEX derhalwe versoek het dat die bedryf, onder andere via die Sojawerkgroep en GSA, 'n aanduiding sal gee of die verhandelingspunte behoort uit te brei. Mnr Du Plessis noem dat die SAFEX-verhandeling van Roundup Ready sojabone as gevolg van lae volumes, nie by alle verhandelingspunte moontlik is nie en by slegs twee van die punte gelewer kan word. Na verdere bespreking van die aangeleentheid, is die vergadering dit eens dat meer SAFEX-leweringspunte tot hoër sojaboonproduksie aanleiding mag gee.
Besluit:
- Om Graan SA in te lig dat die volgende addisionele SAFEX-leweringspunte geskep behoort te word: Vryheid of Bloedrivier, Davel, Leslie (vervang Bethal), Middelburg, Bothaville, Ladybrand, Afrikaskop en Standerton (laasgenoemde twee punte vervang Vrede); en dat Mkondo, Northam en Winterton as leweringspunte behou behoort te word.
Mnr Vermaak
Mnr Keun
- Om Graan SA in te lig dat die volgende addisionele SAFEX-leweringspunte geskep behoort te word: Vryheid of Bloedrivier, Davel, Leslie (vervang Bethal), Middelburg, Bothaville, Ladybrand, Afrikaskop en Standerton (laasgenoemde twee punte vervang Vrede); en dat Mkondo, Northam en Winterton as leweringspunte behou behoort te word.
Vraag en aanbod – Mnr Hawkins se inligting aan Dr Willemse
Mnr Vermaak noem dat 'n artikel van Dr Willemse ten opsigte van relevante markinligting, in die jongste uitgawe van die SA Graan gepubliseer is en dat dr Willemse versoek is om 'n artikel ten aansien van die plaaslike markbehoefte vir sojabone, vir publikasie in die SA Graan voor te berei. Die vergadering neem met dank kennis dat Graan SA die Sojawerkgroep se versoek geakkommodeer het.
"Financial interpretation of long-term soybean / maize crop rotation systems", mnr R Armour se voorlegging
Die "Final Additional Report for the Protein Research Foundation" van Prof MF Viljoen en mnr RJ Armour, is vir kennisname by die sakelys ingebind.
Produsente-aangeleenthede
KwaZulu-Natal
Super Sojakompetisie – terugvoering
Mnr Du Plessis rapporteer dat beplanning vir die Super Sojakompetisie in die suidelike gebied feitlik gefinaliseer is en dat produsente eersdaags vir deelname aan die kompetisie geïdentifiseer sal word. 'n Lys van potensiële deelnemers word tans in samewerking met mnr Patrys Lubbe en saadmaatskappye opgestel. Hy meld dat mnr Carl Havenga en ander vorige werknemers van die Departement van Landbou, hulle hulp aangebied het. Hy sê dat daar binne twee weke met rolspelers van die Super Sojakompetisie in die noordelike gebied, gesprek gevoer sal word en dat die Departement van Landbou positief daaroor is.
Mnr Havenga sê dat daar 'n paar weke gelede 'n artikel oor die Super Sojakompetisie in die Farmer's Weekly gepubliseer is, wat eersdaags in die Landbouweekblad herhaal sal word.
Besluit:
- Dat 'n kopié van die artikel wat onlangs in die Farmer's Weekly oor die Super Sojakompetisie verskyn het, ter inligting by die volgende sakelys ingesluit word.
Mnr Keun
- Dat 'n kopié van die artikel wat onlangs in die Farmer's Weekly oor die Super Sojakompetisie verskyn het, ter inligting by die volgende sakelys ingesluit word.
Verslag – mnr B Birch
Die Voorsitter stel mnr Birch aan die woord en maak die vergadering daarop attent dat mnr Birch een van die min sojaboonkundiges in Suid-Afrika is, wat ook 'n gewaardeerde medewerker van die Sojawerkgroep was. Hy sê dit was verblydend om te verneem dat mnr Birch en mnr Barry Smith deur die Departement van Landbou in KwaZulu-Natal gekontrakteer is, ten einde navorsing te doen oor die huidige stand en potensiaal van sojaboonproduksie in dié provinsie.
Mnr Birch doen 'n voordrag aan die vergadering, waarvan 'n opsomming by die volgende sakelys ingebind sal word. Hy wys daarop dat sojabone internasionaal, die dominante plantaardige oliegewas is. Die beraamde plaaslike behoefte aan sojabone is 1,2 miljoen ton, terwyl die gemiddelde sojaboonproduksie oor die afgelope ses jaar, 180 000 ton is. Hy sê ten spyte van die Sojaboonbedryf se werksaamhede oor baie jare om produksie in KwaZulu-Natal te bevorder, dit in der waarheid gedaal het. Hy sê een strategie om produksie te verhoog, is om die opbrengs per hektaar te verhoog.
Mnr Birch wys daarop dat sojabone vroeër jare in KwaZulu-Natal primêr onder besproeiing aangeplant is, waarna droëlandproduksie weer dominant geword het. Dit het gepaard gegaan met 'n daling in produksie sowel as laer proteïenwaardes. Opbrengste in KwaZulu-Natal styg egter weer vinniger as in die ander provinsies, wat toegeskryf kan word aan 'n goeie klimaat, doeltreffender boerderypraktyke en navorsingsvoorligting. Hy sê hy voorsien 'n opbrengspotensiaal van gemiddeld 2,5 ton / ha in die dominante sojaproduserende gebiede van KwaZulu-Natal. Hy sê dat sojaboonverbouing uiteindelik 45% van die totale akkerbougebied van KwaZulu-Natal behoort te beslaan.
Hy noem dat die Amerikaanse soja/mielie prysverhouding tussen 2 en 3 varieer en dat die Suid-Afrikaanse verhouding gemiddeld 1,6 is. Laer graad sojabone kan wel ingevoer word, met 'n negatiewe effek op plaaslike pryse. Die sterker rand is tans 'n dominerende faktor ten opsigte van sojaboonpryse. Hy wys daarop dat die gewaarborgde minimum produsentepryse in die VSA en Suid-Amerikaanse lande ten doel het om prysvariasie uit te skakel en beginnerboere te ondersteun.
Hy sê hoewel voorligting tans nie na wense is nie, die PNS se bydrae 'n positiewe effek op sojaboonverbouing het. Verder het navorsing ten opsigte van verskillende dissiplines van sojaboonverbouing, daartoe bygedra dat die gemiddelde opbrengs in KwaZulu-Natal 1,9 ton / ha is. Hy maak ook melding van ander ondersteunende faktore of die gebrek daaraan, in dié provinsie: Voorligtingsdienste bestaan feitlik nie meer nie, die Super Sojakompetisies dra aansienlik by tot belangstelling in die gewas, maar die kundigheid om dit te dryf word bevraagteken; die Departement van Landbou se studiegroepe doen goeie werk; die LNR-IGG, tersiêre instellings en georganiseerde landbou in die algemeen het in die verlede goeie voorligtingswerk gedoen.
Mnr Birch doen onder meer die volgende aan die hand: 'n Moderne, gekoördineerde voorligtingsprogram; opleiding van voorligters; beter skakeling tussen die Departement van Landbou en navorsingsinstansies en 'n Navorsingsprogram om opbrengste verder te verhoog.
Hy bedank die PNS vir die uitstekende sojaboonbevorderingsprogram oor die afgelope aantal jare en sê hy het die Sojakundigheidsforum wat hy bygewoon het, van groot nut gevind. Hy voorsien 'n produksiepotensiaal van ten minste 200 000 ton sojabone in KwaZulu-Natal en sê met die hulp van bekwame kontrakteurs in die dominante produksiegebiede, sal meer mielieboere daartoe beweeg kan word om ook sojabone te verbou. Hy spreek sy kommer uit oor die vlak van navorsing in Mpumalanga, waar die meeste sojabone verbou word. Aangesien potensiaal vir sojaboonproduksie gunstiger in die koeler gebiede is, behoort navorsingswerk in daardie gebiede aandag te geniet.
Mnr Vermaak reageer op die wenk van minimum produsentepryse en sê dat Graan SA egter die vryemarkbeginsel ondersteun en aanvaar. Ten opsigte van sojaboon-produksiebeplanning, sê hy dat die mielie- / sojaboonprysverhouding altyd die dominante bepalende faktor sal wees. Hy noem dat Graan SA die voorstelle ten opsigte van beter navorsings- en voorligtingsdienste ondersteun.
Mnr Keun sê dat die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT) poog om kundigheidsforums op 'n jaarlikse basis te reël, wat tussen grondbone, sonneblom en sojabone afgewissel word. Derhalwe word die Sojaboonkundigheidsforum elke derde jaar aangebied, waarvan die laaste forum in November 2002 plaasgevind het. Tydens hierdie geleenthede, word navorsers genooi om bestaande en toekomstige werk met belanghebbendes te deel.
Mnr Du Plessis verneem van mnr Birch wat sy visie vir die insluiting van die opkomende landbousektor by sy projekdoel is, in terme daarvan om sojaboonproduksie in KwaZulu-Natal te optimaliseer. Mnr Birch sê dat baie faktore eers aangespreek sal moet word, voordat hierdie sektor enigsins 'n beduidende rol in kommersiële sojaboonproduksie sal kan speel. Hy wys daarop dat hoewel ongeveer 20% van die wêreld se sojabone deur kleinboere geproduseer word, dit meestal vir eie huishoudelike gebruik aangewend word.
Dr De Kock doen 'n vriendelike beroep op mnr Birch om die aanbeveling ten opsigte van die minimum prys van sy verslag uit te sluit.
Mnr Havenga sê dat, aangesien dit logisties moeilik is om die oeste by die opkomende boere te versamel, groter sukses in hierdie verband bereik kan word indien dié boere daartoe beweeg kan word om sojabone kollektief op groter eenhede te verbou. Hy bevestig die feit, dat daar huidig baie min bekwame voorligters in die KwaZulu-Natal provinsie oor is.
Mnr Killian gaan akkoord met die potensiaal vir produksie-uitbreidings in die koeler areas soos Kokstad, maar wys op die gevaar wat haelskade daar kan aanrig. Hy wys mnr Birch ook daarop dat navorsing te Cedara aansienlik uitgebrei het teenoor die werk wat in die negentigerjare daar onderneem is.
Die Voorsitter sê dat die PNS die gebreke ten opsigte van navorsing en voorligting in 'n mate probeer aanvul, maar dat die vraag is, tot watter mate die PNS daarin behulpsaam kan wees. Hy bedank mnr Birch vir sy aanbieding en sê dat die PNS daarna uitsien om die finale verslag te ontvang.
Besluit:
- Dat 'n opsomming van mnr Birch se voordrag by die volgende sakelys ingebind word.
Mnr Keun
- Dat 'n opsomming van mnr Birch se voordrag by die volgende sakelys ingebind word.
Griekwaland-Oos – gesprek dr Kars: terugvoering
Die aangeleentheid staan oor.
Mpumalanga
Verskillende proefaanplantings – terugvoering
Mnr Van Wyk rapporteer dat die meeste aanplantings eers gedurende die vorige week 'n aanvang kon neem, te wyte aan die laat reëns. Hy sê dat proef-aanplantings te Kinross gedurende die vorige week gedoen is en dat aanplantings te Loskopdam vir die volgende week beplan word. Die Kanhym-proewe is twee weke vantevore geplant en in Kwandebele word 'n proef saam met die Departement van Landbou gedoen, wat later in die week geplant behoort te word.
Redes vir laer mielie-opbrengste na sojaverbouing in Mpumalanga
Dr De Kock noem dat mnr Van Wyk reeds die artikel insake die swakker prestasie van mielies na sojaboonverbouing geskryf en aan hom voorsien het. Hy sê dat hy 'n paar wysigings daarop aangebring en aan mnr Pretorius (LNR-IGG) vir kommentaar voorsien het. As deel van die wysigings, het hy professor Viljoen se bevindings ingevoeg. Hy beveel aan dat die artikel eers in die Februarie-uitgawe van die SA Graan gepubliseer moet word. Die Voorsitter sê dit kan selfs in die Maart-uitgawe gepubliseer word en bedank mnr Vermaak vir die beskikbaar-stelling van publikasieruimte in die tydskrif.
Dr Griessel wys op vroeëre studies, wat uitgewys het dat die grondsamestelling tussen Mpumalanga en KwaZulu-Natal baie verskil en dat gronde in laasgenoemde provinsie se kalium- en fosfaatinhoud tot twee keer hoër as in Mpumalanga is. Dr De Kock sê dat hierdie aspek wel in die genoemde artikel aangespreek sal word.
Artikel oor gevalle van laer mielie-opbrengste na sojaverbouing
Hierdie aangeleentheid is reeds onder item 9.2.2 hanteer.
Produksiekostevergelyking tussen droëland mielies en sojabone
Mnr Keun wys daarop dat hierdie punt uit 'n Kontrakteurs- en Medewerkers-werkgroepnotule voortspruit, waartydens verwys is na 'n Agri TV-program waarin vergelykings tussen droëland mielies en sojabone getref is. Hy noem dat hy nie by Graan SA of Agri SA kon vasstel watter bronne vir die programinhoud gebruik is nie.
Die Voorsitter sê dat produsente wat byvoorbeeld hoofsaaklik mielies produseer, van produksiekostevergelykings bedien behoort te word, waar die produksiekoste van mielies naas dié van sojabone 'n beter begrip by produsente teweeg behoort te bring. Hy sê dat die PNS aandag aan die saak sal gee. Mnr Du Plessis sê dit is belangrik dat die bruto marges met mekaar vergelyk word.
Die vergadering identifiseer vervolgens die volgende persone en instansies om ten opsigte van die beoogde produksiekostevergelykings behulpsaam te wees: mnre Sakkie Koster (Afgri), Sakkie Lamprecht (Departement van Landbou, Mpumalanga), Leon Weber (MGK), Arno van Vuuren (NWK) en Johan du Plessis (KwaZulu-Natal).
Besluit:
- Dat produksiekoste-inligting ten opsigte van droëland mielies en -sojabone van die volgende persone / instansies bekom word, ten einde produksiekostevergelykings tussen dié twee gewasse te gebruik om sojaboonproduksie te help bevorder: mnre Sakkie Koster (Afgri), Sakkie Lamprecht (Departement van Landbou, Mpumalanga), Leon Weber (MGK), Arno van Vuuren (NWK) en Johan du Plessis (KwaZulu-Natal).
Mnr Keun
- Dat produksiekoste-inligting ten opsigte van droëland mielies en -sojabone van die volgende persone / instansies bekom word, ten einde produksiekostevergelykings tussen dié twee gewasse te gebruik om sojaboonproduksie te help bevorder: mnre Sakkie Koster (Afgri), Sakkie Lamprecht (Departement van Landbou, Mpumalanga), Leon Weber (MGK), Arno van Vuuren (NWK) en Johan du Plessis (KwaZulu-Natal).
Noordwes provinsie
Verskillende proefaanplantings – terugvoering
Mnr Pretorius sê dat proewe by die volgende lokaliteite geplant gaan word: Koedoeskop, Beestekraal, LNR-Industriële Gewasse (Rustenburg), LNR-Industriële Gewasse (Brits) en Noordwes Koöperasie (Lichtenburg). Hy sê dat ten minste drie proewe ook by die LNR-IGG in Potchefstroom geplant sal word.
Sojafabriek – Potchefstroom
Die Voorsitter verneem van die vergadering of daar enige nuwe inligting oor die toekoms van die sojaboonfabriek in Potchefstroom is. Die lede het egter niks daaroor te rapporteer nie.
Limpopo
Springbokvlakte
Opgaaf van onderskeie provinsies se voorligters in 'n poging om te bepaal wie die PNS behulpsaam kan wees
Mnr Van Wyk sê dat hy nog nie 'n geleentheid gehad het om 'n opgaaf van voorligters saam te stel nie. Die aangeleentheid staan dus oor.
Verskillende proefaanplantings
Mnr Pretorius noem dat die LNR-IGG aanstaande week met proefaanplantings in die Springbokvlakte sal begin. Mnr Van Wyk sê 'n proefaanplanting word vir Desember by mnr Keyter te Crecy beoog. Twee aanplantings is teen die Limpoporivier gedoen, aangesien produsente in daardie omgewing wisselbougewasse vir koring en katoen oorweeg. Hy noem dat die aanplantings mooi opgekom het en dat daar reeds wye belangstelling heers. Dr De Kock doen aan die hand dat canola ook as 'n wisselbougewas in die winter oorweeg word.
Vrystaat
Mnr Maree rapporteer dat sojabone verlede jaar by mnr Bramley geplant is en dat hy geen inligting oor Pannar se samewerking ontvang het nie. Mnr Killian noem dat mnr Bramley op Pannar se gronde gaan plant. Die Voorsitter versoek mnr Killian om met mnr Bramley in verbinding te tree, om te bepaal watter samewerking daar tussen laasgenoemde en Pannar is.
Mnr Maree noem dat 'n sekere saadmaatskappy hierdie seisoen sojaboonsaad vir ongeveer 13 000ha verkoop het, teenoor verlede seisoen se ekwivalent van 7 500ha. Hy sê die swak reëns het egter aanplantings negatief beïnvloed.
Besluit:
- Dat mnr Killian by mnr Bramley vasstel wat die aard van samewerking tussen hom en Pannar in terme van proefaanplantings is, vir rapportering tydens die volgende vergadering.
Mnr Killian
Oos-Vrystaat
Rywydte proef
Hierdie aangeleentheid staan oor.
Noordwes-Vrystaat
Algemeen
Hierdie aangeleentheid staan oor.
Suidoos-Vrystaat
Algemeen
Hierdie aangeleentheid staan oor.
Sentraal Vrystaat
Terugvoering ten opsigte van aanplantings te Glen
Mnr Maree noem dat hy geen proefaanplantings gedurende die huidige seisoen sal hanteer nie en rapporteer dat aanplantings te Ficksburg, Rietrivier en Glen, mooi opgekom het.
- Dat mnr Killian by mnr Bramley vasstel wat die aard van samewerking tussen hom en Pannar in terme van proefaanplantings is, vir rapportering tydens die volgende vergadering.
Oos-Kaap
Alexandria en Port Alfred
Mnr Killian rapporteer dat geen proewe in Alexandria en Port Alfred geplant is nie en dat een kommersiële aanplanting van 5ha te Bathurst gedoen is.
Droging van Sojabone
Mnr Grimbeek noem dat Humansdorp Koöperasie oor feitlik die enigste drogingsfasiliteite in die Oos-Kaap beskik en aangesien daar vanjaar aansienlik minder mielies geplant is, daar genoeg drogingskapasiteit vir sojabone sal wees. Hy sê dat mnr Moolman van dié koöperasie aangebied het om 50 ton sojabone as 'n proef te droog.
Die Voorsitter haal aan uit mnr Gideon Bührman se skrywe, waarin hy meld dat hy sojabone se vog met groot sukses ekonomies met GSI se Top Dry droër, vanaf 18,20% na 12,00% reduseer. Die skrywe meld verder dat ander droërs al sojabone aan die brand laat slaan het. Die Voorsitter doen aan die hand dat Humansdorp Koöperasie met kundiges oor sojaboondroging konsulteer, ten einde skade te verhoed.
Besluite:
- Dat mnr Grimbeek van mnr GW Bührmann se skrywe kennis moet neem wat handel oor sy ondervinding met die droging van sojabone.
Mnr Grimbeek
- Dat mnr Grimbeek by Humansdorp Koöperasie moet aanbeveel dat daar met kundiges oor die droging van sojabone gekonsulteer moet word, ten einde skade te verhoed.
Mnr Grimbeek
- Dat mnr Grimbeek van mnr GW Bührmann se skrywe kennis moet neem wat handel oor sy ondervinding met die droging van sojabone.
Besoek aan mnr B Muller
Mnr Killian rapporteer dat mnr Boetie Muller nie sojabone in die Addo-besproeiingskema aangeplant het soos beplan is nie, aangesien die nuwe spilpunte te laat opgerig is.
Slattery stroper – vordering
Mnr Killian meld dat Sigorei SA die Slattery stroper na 'n produsent te Grahamstad geneem het. Hy noem dat hy nie oor genoeg kundigheid beskik om te bepaal of die stroper in 'n goeie werkende toestand is nie. Die Voorsitter versoek mnr Du Plessis om die nodige reëlings te tref om te gaan bepaal of die Slattery stroper in 'n goeie werkende toestand is.
Besluit:
- Dat mnr Du Plessis reëlings tref en ondersoek gaan instel of die Slattery stroper wat in Grahamstad is, in 'n goeie werkende toestand is.
Mnr Du Plessis
- Dat mnr Du Plessis reëlings tref en ondersoek gaan instel of die Slattery stroper wat in Grahamstad is, in 'n goeie werkende toestand is.
Projekaansoek – aankoop van planter
Die Voorsitter noem dat die Tegnologiekomitee 'n aanbeveling ten opsigte van die projekaansoek van mnr Killian vir die aankoop van onder andere 'n planter vir die Oos-Kaap streek, aan die PNS-Raad sal doen.
Besluit:
- Dat die besluit van die PNS-Raad ten opsigte van die projek-aansoek van mnr Killian vir die aankoop van onder andere 'n planter vir die Oos-Kaap streek, afgewag word.
Mnr Keun
Voorsitter
- Dat die besluit van die PNS-Raad ten opsigte van die projek-aansoek van mnr Killian vir die aankoop van onder andere 'n planter vir die Oos-Kaap streek, afgewag word.
Suidwestelike Distrikte
George omgewing
Mnr Grimbeek noem dat ongeveer 60ha onder sojabone in die George-omgewing aangeplant sal word, maar dat Roundup Ready saad nie geredelik beskikbaar is nie.
Opname van silo-eienaars met geskikte drogingsfasiliteite
Hierdie item word geskrap.
Gauteng
Aanplantings
Mnr Van Wyk rapporteer dat hy proefaanplantings onder besproeiing naby Hammanskraal gedoen het, waar hy onder andere statistiese entingsproewe vir 'n paar maatskappye behartig, wat tot dusvêr suksesvol blyk te wees. Hy noem dat daar ook 'n onkruiddoderproef by hierdie perseelaanplantings gedoen word. Mnr Van Wyk rapporteer voorts dat hy ook 'n proef by Bronkhorstspruit doen, waar bemesting sowel as die effek van mielies na sojabone, sojabone na sojabone en mielies na mielies aangespreek sal word.
Noord-Kaap
Dr De Kock rapporteer dat onder andere die Douglas-, Vaalharts- en Prieska-areas en gebiede in die rigting na Upington besoek is. Hy sê dat daar baie min sojaboonaanplantings in die Vaalharts-area in die vooruitsig gestel word, veral omdat bestaande cultivars nie doeltreffende weerstand teen aalwurm bied nie. 'n Sojabooncultivarproef word egter daar aangeplant, waarvan die resultate tydens 'n boeredag bekend gemaak sal word. Vanaf Rietrivier / Modderrivier na Douglas is daar dele met swaarder grond, waarop daar blykbaar gedurende vroeër jare sojabone onder besproeiing geplant is. Hy sê dat sojabone sterk deur produsente in hierdie gebiede as 'n alternatief vir mielies oorweeg word, hoofsaaklik as gevolg van die heersende en verwagte laer mieliepryse.
Dr De Kock noem dat 'n cultivarproef gereël en later met die hulp van die LNR-IGG by mnr Haarhoff te Douglas aangeplant is. Op 'n vraag van die Voorsitter, sê dr De Kock dat die 10 000 sakkies saad wat volgens mnr Bester (Monsanto) in die Noord-Kaap bemark is, waarskynlik in die Luckhoff / Douglas-gebied geplant is. Die Voorsitter versoek mnr Keun om by Monsanto te verneem waar genoemde saad hoofsaaklik aangeplant kon gewees het. Dr De Kock rapporteer dat die meeste produsente tussen Upington en Prieska, hoofsaaklik hul lusernaanplantings uitbrei.
Besluit:
- Dat mnr Keun van Monsanto verneem in watter areas van die Noord-Kaap die 10 000 sakkies saad hoofsaaklik aangeplant is, wat volgens mnr Bester se mededeling tydens die vorige vergadering, in dié provinsie bemark is.
Mnr Keun
- Dat mnr Keun van Monsanto verneem in watter areas van die Noord-Kaap die 10 000 sakkies saad hoofsaaklik aangeplant is, wat volgens mnr Bester se mededeling tydens die vorige vergadering, in dié provinsie bemark is.
Algemeen
Bespreking van sojaboonhandleiding – terugvoering vanaf Tegnologiekomitee
Die aangeleentheid staan oor.
Biodiesel – terugvoering
Die Voorsitter noem dat daar nog geen verslag van SASOL oor die biodiesel ontvang is nie.
Nasionale cultivarproewe
Cultivarevaluasiekomiteevergadering – kontrolelys vir proefaanplantings
Kennis word geneem van die kontrolelys vir proefbesoeke wat mnr De Beer (LNR-IGG) saamgestel het en vir kennisname by die sakelys ingebind is.
Mnr Pretorius noem dat die sojabooncultivaraanbevelings vir 2003/2004 afgehandel en in 'n brosjure vervat is, soos aan die lede uitgehandig.
Besluite:
- Dat dank teenoor mnr GP De Beer (LNR-IGG) betuig word vir die samestelling van 'n kontrolelys wat sojakontrakteurs tydens proefbesoeke behoort aan te wend.
Mnr Keun
- Dat die LNR-IGG bedank word vir die samestelling van die professionele publikasie waarin die sojabooncultivaraanbevelings vir 2003/2004 vervat is.
Mnr Keun
- Dat dank teenoor mnr GP De Beer (LNR-IGG) betuig word vir die samestelling van 'n kontrolelys wat sojakontrakteurs tydens proefbesoeke behoort aan te wend.
GSA-protokol: evaluasie van nuwe cultivars
Mnr Vermaak rapporteer dat die skryf van 'n protokol vir die evaluering van nuwe sojabooncultivars nie haalbaar blyk te wees nie. Hy sê dat produsente daarop gewys word dat cultivars wat nie die LNR-IGG se evaluasieprogram geslaag het nie, op eie risiko geplant word. Hy onderneem om 'n kort verslag daaroor te skryf.
Saad
Roundup Ready saad en andere - beskikbare inligting
Mnr Andrew Bennett (Monsanto) het inligting aangaande die produksie van Roundup Ready sojabone aan die PNS voorsien, wat vir kennisname by die sakelys ingesluit is.
NAMPO-Oesdag
Dr De Kock sê aangesien die PNS jaarliks 'n aansienlike bedrag geld (± R60 000) aan uitstalruimte by die NAMPO-Oesdag spandeer, die lede hulle moet uitspreek of die uitstalling waarde vir geld bied. Mnr Maree spreek die mening uit dat die uitstalling nie in sy doel slaag nie, omdat te min produsente daar aandoen. Mnr Van Wyk stel die vraag of die stalletjie nie dalk verkeerd geleë is nie. Mnr Du Plessis noem dat daar sinergie gevind word in die feit dat die PNS in dieselfde lokaal as die LNR-IGG geplaas is. Mnr Pretorius sê die kritiese vraag is, wat die PNS sal verloor indien hy van NAMPO Oesdag onttrek. Hy doen aan die hand, dat die PNS sy uitstallings rondom bepaalde temas moet beplan.
Mnr Agenbag noem dat tasbare bemarking soos die uithandiging van brosjures en bladskrifte 'n noodsaaklikheid is. Mnr Killian sê hoewel die uitstalling volgens sy mening aantreklik genoeg is, die min belangstelling teleurstellend is. Die Voorsitter wys op die koste-implikasies indien die tema van jaar-tot-jaar verander word. Dr De Kock sê 'n tema impliseer ook dat kundige persone ten opsigte van 'n onderwerp betrek moet word, om die nodige inligting oor te dra. Hy wys daarop dat die PNS elke jaar heelwat relevante inligtingstukke by sy stalletjie beskikbaar stel. Die Voorsitter sê hoewel die PNS-stalletjie nie baie skougangers lok nie, terugvoering bevestig dat die PNS se teenwoordigheid by die NAMPO-Oesdag groot erkenning kry.
Besluit:
- Dat by die PNS-Raad aanbeveel sal word dat die PNS sy uitstalruimte by die NAMPO Oesdag behoort te behou, met inagneming van idees wat lede van die Sojawerkgroep na vore gebring het.
Dr De Kock
- Dat by die PNS-Raad aanbeveel sal word dat die PNS sy uitstalruimte by die NAMPO Oesdag behoort te behou, met inagneming van idees wat lede van die Sojawerkgroep na vore gebring het.
Navorsing
Roes
Die vergadering neem kennis van mnr Killian se verslag soos by die sakelys ingebind.
Sclerotinia
Proefwerk - Dr McLaren en mnr Killian - Terugvoering vergadering van 23 September 2003
Die Voorsitter noem dat die notule van 'n Sclerotiniawerkgroepvergadering beskikbaar is en by die volgende sakelys ingebind sal word.
Besluit:
- Dat die notule van die Sclerotiniawerkgroep by die volgende sakelys ingebind word.
Mnr Keun
- Dat die notule van die Sclerotiniawerkgroep by die volgende sakelys ingebind word.
Geregistreerde onkruiddoders vir sojabone – acetochlor
Mnr Van Wyk rapporteer dat hy met 'n paar gifstofmaatskappye in verbinding was, wat hom meegedeel het dat acetochlor nie meer vir sojabone geregistreer is nie, omdat daar te veel fitotoksiese skade onder verskillende toestande by sojabone aangerig is.
Sojaforum
Terugvoering van vergadering van Sonneblom- en Sojaboonforum gehou op 4 November 2003
Geen sake is deur die Sonneblom- en Sojaboonforum na die Sojawerkgroep verwys nie.
Sake om na die volgende Forum te verwys
Besluit:
- Dat die verskansing van sojabone via SAFEX soos onder item 8.2 van die notule bespreek, na die Sonneblom- en Sojaboonforum verwys moet word.
Mnr Keun
- Dat die verskansing van sojabone via SAFEX soos onder item 8.2 van die notule bespreek, na die Sonneblom- en Sojaboonforum verwys moet word.
Ander sake
Inligtingsdae 2003 – terugvoering
Hierdie item is onder item 17 afgehandel.
Toevoegings tot sakelys
Geen aanvullende sake is bespreek nie.
Datum van volgende vergadering
Besluite:
- Dat die Sojawerkgroepvergaderings in 2004, vir die volgende datums geskeduleer word: 27 Januarie, 2 Maart, 4 Mei, 5 Augustus, 6 Oktober en 7 Desember.
- Dat kennis geneem word dat die Super Sojakompetisie vir 14 en 15 September 2004 geskeduleer is.
- Dat mnr Maree versoek word om datums in oorleg met mnr Keun te bepaal, vir die aanbieding van inligtingsdae in die Vrystaat.
Afsluiting
Die Voorsitter bedank die lede vir hulle samewerking gedurende die afgelope jaar en wens almal 'n aangename rustyd toe, waarna hy die vergadering om 14:00 verdaag.