Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 29 September 2003 in die PNS-Raadsaal te Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur mnr Du Plessis.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter heet almal hartlik welkom. Hy noem dat lede van die Kontrakteurs- en medewerkerswerkgroep vir die eerste keer by die Sojawerkgroep inskakel, met die oog daarop om duplisering by dié twee groepe se sakelyste uit te skakel. Daarom heet hy mnr Agenbag by dié vergadering welkom asook vir mnr Jack Armour van die UOVS, wat 'n voorlegging ten opsigte van sojabone in 'n wisselboustelsel sal lewer. Hy noem dat mnr Armour se plakkaatvoorlegging onlangs tydens die internasionale landbou-ekonomiese kongres in Durban, die tweede plek behaal het.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Dr M Griessel PNS
    Dr J de Kock PNS
    Mnr CJ du Plessis PNS
    Mnr L Killian PNS-Kontrakteur
    Mnr C Grimbeek PNS-Kontrakteur
    Mnr H Agenbag PNS-Kontrakteur
    Mnr WF van Wyk PNS-Kontrakteur
    Mnr FAS Potgieter GSA
    Mnr ID Lamprecht Departement Landbou: Mpuma­langa
    Mnr GP de Beer LNR-IGG
    Mnr B Bester Monsanto
    Mnr J Armour Universiteit van die Vrystaat
    Mnr G Keun OPOT
    Mnr N Fouché Sekretariaat

    Verskonings

    Mnr E Maree PNS-Kontrakteur
    Mnr AJ van Vuuren NWK
    Mnr TM Ndwandwe Departement van Landbou: KwaZulu-Natal
    Mnr C Havenga SASS
    Mnr NJ Vermaak GSA
    Mnr A Bennet Monsanto
    Mnr AJ Pretorius LNR-IGG
    Mnr A Jarvie Pannar

  4. Personalia

    Namens die vergadering wens mnr Du Plessis die Voor­sitter hartlik geluk met sy verjaarsdag wat hy op 25 Sep­tember gevier het. Dr de Kock word hartlik terug ver­welkom na sy oorsese vakansie.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar na die toevoeging van die volgende besprekingspunte:

    • Item 9.6.1"Droging van sojabone"
    • Item 13.2.2Geregistreerde onkruiddoders vir soja­bone
    • Item 13.2.3Invoer van generiese sojabone

    Die Voorsitter reël dat item 7, Oesskattings en Mikpunte saam onder die provinsies hanteer word. Mikpunte vir 2010 en 2020 sal nie bespreek word nie.

  6. Notule van die vergadering van 27 Augus­tus 2003

    Die notule is goedgekeur.

  7. Algemene oorsig

    1. Provinsies

      1. KwaZulu-Natal

        Mnr Du Plessis sê hy het met drie van die groot saadmaatskappye gesels, wat sê dat hulle sojaboonsaad uitverkoop is in KwaZulu-Natal sowel as 'n deel van Mpumalanga. Hy sê baie produsente wat nie verlede jaar geplant het nie, koop nou weer sojaboonsaad. 'n Agt persent toename word in die amptelike "voorneme om te plant" aangedui. Hy voel dat baie produsente wat wisselbou toegepas het, terug beweeg na die ou stelsels.

        Mnr Killian noem gedurende September 2003 is 'n sojaboondag in die Winterton / Bergville-area gehou, waar sowat veertig boere byeen was. Hulle het aangedui dat hulle 20% tot 30% meer gaan aanplant. Vanaf 12 September het Suid-Natal redelike goeie reëns gehad. Die ondergrond is egter nog droog.

        Die finale skatting vir KZN 2002/2003 het onveranderd gebly op 23 200 ton. Mnr Du Plessis sê indien die reën te lank wegbly, produsente ingelig moet word dat hulle só moet plant dat die rywydtes, plantestand en cultivarkeuses ideaal sal wees vir die laat seisoen. Hoe later die reëns, hoe digter moet die plantestand wees. Hy wys daarop dat dit meer krities vir die Hoëveld is, aangesien planttyd daar baie korter is.

        Daar word gemeld dat mnr Killian by 'n Kontrakteurs­vergadering aangedui het dat sojaboonproduksie in 2006 moontlik 30 000ha mag bereik. Mnr Du Plessis voel dat toekomstige uitbreiding baie van mnr Brian Birch se projek afhang asook die wyse waarop dié provinsie se Departement van Landbou die projek gaan motiveer en aanvul. Hy sê die kapasiteit en oppervlakte is daar om 30 000ha te plant. Hy sê die beoogde biodieselprojek van Sasol moet ook in gedagte gehou word, aangesien die potensiële behoefte hiervan alleen ongeveer 400 000 ton is. Die Voorsitter versoek dat die Sasol-projek vir die huidige buite rekening gelaat moet word.

        Mnr Bester sê dat Monsanto se sojaboonsaad uitverkoop is en dat baie produsente Roundup Ready saad teruggehou het. Hy sê Monsanto kon as gevolg van produksie­toestande, nie genoeg saad aan die mark voorsien nie. Dié maatskappy het beplan om ongeveer 50 000 sakkies saad te bemark, waarvan slegs 30 000 sakkies gerealiseer het.

      2. Mpumalanga

        Mnr Du Plessis sê volgens sy inligting het handelaars in die Piet Retief / Dirkiesdorp-area al hulle sojaboonsaad uitverkoop. Mnr Lamprecht voel dat die produsente se sentiment positief is jeens sojaboon-aanplantings, maar dat dit tans droog in die streek is.

        Mnr Van Wyk wys daarop dat sekere produsente glad nie meer sojabone wil plant nie, van weë die opbrengs­verlaging by mielies ná soja. Dit was as gevolg van gronduitdroging in 'n reeds droë seisoen. Hy noem dat kunsmismaatskappye oppervlakontledings in die gebied doen, waarvolgens swakker gronde "uitgegooi" word vir sojaverbouing en beter gronde vir mielieverbouing aanbeveel word. Hy sê dat produsente wat vroeë koring ná soja's wou plant, ná sy advies aan hulle, daarvan afgesien het. Hulle wil egter steeds iets anders soos sorghum, droëbone of sonneblom in wisselbou met sojabone plant. Baie produsente wat reeds droëbone aanplant, wil pro­duksie daarvan aansienlik uitbrei. Van hierdie produsente wil egter steeds sojabone aanplant, hoewel op hulle swakker gronde. Vir hierdie rede sal cultivarproewe in die Hoëveld dalk na swakker gronde skuif. Hy sê baie produsente wat verlede jaar nié geplant het nie, wil vanjaar weer plant en daar is ook heelwat produsente wat sojabone vir die eerste keer wil verbou.

        Mnr Van Wyk onderneem om 'n artikel oor bogenoemde aspekte te skryf en dit aan dr De Kock vir verifieering te voorsien, met die oog op publikasies daarvan in die SA Graan tydskrif.

        Dit is egter moeilik om die verwagte toename in per­sentasievorm uit te druk. Hy sê hy is egter nog hoopvol dat 80 000ha binne die volgende drie jaar behaal sal kan word. Dr Griessel voel dat die PNS verkieslik met die kunsmis­maatskappy/e in gesprek moet tree oor laasgenoemde se aanbevelings. Dr De Kock sê hy sou verkies om eers 'n in-huis gesprek oor die saak te hê en meer spesifiek oor die gewasopvolgingstelsel wat gevolg word.

        Mnr Du Plessis wys daarop dat sojabone nie net méér vog as mielies gebruik nie, maar ook 'n groter voeder van nutriënte is. Daarom sal mielies ná sojabone neig om swakker as in 'n mielie-monokultuurstelsel te presteer. Mnr Van Wyk noem dat dié situasie slegs in abnormale jare soos vanjaar voorkom. In normale jare presteer mielies na sojabone net so goed of beter as in 'n mielie-monokultuurstelsel. Die Voorsitter verneem of mnr van Wyk in sy proefwerk hierdie bevindings aanspreek, waarop laasgenoemde sê dat hy vanjaar daarmee gaan begin.

        Mnr Potgieter wil weet wat die potensiaal van sojabone in swaarder gronde gedurende 'n goeie, normale jaar is. Mnr Van Wyk sê dit is grootliks onbekend. In Katspruit- en Kroonstadtipe grond sal sojabone gedurende onder­gemiddelde jare redelik goed presteer, aangesien hierdie tipe gronde goed water hou. In goeie reënjare mag dit gebeur dat die plante versuip. Mnr Du Plessis wys daarop dat proewe uitgewys het dat drie tot vier ton sojabone per hektaar op swak gronde geoes kan word indien dit reg bemes word. Hy is verder van mening dat, aangesien produsente 'n swak finansiële jaar beleef, die meeste van hulle waarskynlik wéér nie hulle sojabone gaan bemes nie. Mnr Lamprecht voel dat daar nie genoeg voorligters is om die produsente te adviseer nie. Hy sê aangesien daar 'n nie-konstante opbrengsverhoging by sojabone onder wisselbou is, die boodskap aan produsente moet wees dat bemesting op swakker gronde toegepas moet word. Die Voorsitter sê die Tegnologiekomitee moet dalk daaroor besin om 'n vlugskrif oor hierdie aspek te laat druk om by inligtingsdae, ensomeer uit te handig.

        Besluite:

        1. Dat mnr van Wyk cultivarproewe moet inrig om die redes vir laer mielie-opbrengste ná sojaverbouing in Mpuma­langa gedurende "abnormale" jare te probeer vasstel en oplossings daarvoor te probeer vind.

          Mnr Van Wyk

        2. Dat die aangeleentheid gemeld in besluit 7.1.2.1 na die Tegnologiekomitee verwys word vir bespreking.

          Sekretaris

        3. Dat mnr van Wyk 'n artikel oor die gevalle van laer mielie-opbrengste ná sojaverbouing sal skryf en dit aan dr De Kock moet voorsien, met die oog op publikasie in die SA Graan-tydskrif.

          Mnr Van Wyk
          Dr De Kock

      3. Noordwes

        Die NOK-oppervlakskatting vir 2002/2003 is 2 500ha en die Kontrakteurs en Medewerkerswerkgroep het in Julie geraam dat dit binne drie jaar na 6 000ha mag verhoog. Mnr Potgieter sê daar is sprake van waterbeperkings in die gebied en dat produsente mag wegbeweeg van mielies indien dit nie gou reën nie.

      4. Limpopo

        Mnr Van Wyk sê die voorligtingsbeampte te Potgietersrus het vir hom 'n medewerker in die Crecy-area gereël. Hy meld verder dat indien 'n inligtingsdag nie te Crecy realiseer nie, daar dalk 'n inligtingsdag te Towoomba gehou moet word, waar daar in elk geval cultivaraanplantings is.

      5. Noord-Kaap

        Mnr Bester rapporteer dat sy maatskappy al sowat 10 000 sakkies saad vir die Noord-Kaap onder besproeiing "geskryf" het.

        Die Voorsitter noem dat die PNS beoog om voor die einde van Oktober 2003 'n besoek aan die Noord-Kaap te bring.

      6. Vrystaat

        Kennis word geneem dat mnr Maree in Julie aangedui het dat daar tot 35 000 hektaar onder sojabone in die Vrystaat aangeplant kan word.

      7. Oos-Kaap

        Mnr Killian deel die vergadering mee dat mnr Boetie Muller (Voorsitter: Sigorei SA) voornemens is om teen die einde van Oktober as 'n eerste poging, sojabone onder spilpunt in die Addo-besproeiingskema te verbou.

        Besluit:

        1. Dat mnr Killian so gou doenlik 'n besoek aan mnr Boetie Muller in die Oos-Kaap moet bring om hom van advies te bedien met sy eerste aanplanting van sojabone onder spilpunt.

          Mnr Killian

      8. Suidwestelike Distrikte

        Mnr Grimbeek wys daarop dat sojabone steeds moeilik bemark word, omdat Tuinroete Agri die produk inneem sonder dat daar noodwendig 'n onmiddelike of potensiële koper is. Hy sê dié silo-eienaar het 'n opbergingsprobleem ook. Mnr Agenbag berig dat dr Olivier (Hoofbestuurder: Agri Tuinroete) verneem het wat die PNS gaan doen met die sojabone wat in daardie gebied verbou word en of produksie aldaar gaan uitbrei. Dr Griessel sê volgens sy inligting neem Meadow Voere alle sojabone in daardie gebied in.

        Mnr Potgieter wys op die brandgevaar indien sojabone nie reg gedroog word nie.

        Mnr Du Plessis sê, omdat veevoervervaardigers standaard­rantsoene vir byvoorbeeld melkkoeie bemark, sal silo-eienaars neig om sojabone en ander kommoditeite nie op kleinmaat aan te koop nie.

        Die Voorsitter deel die vergadering mee dat gesprek gevoer is met rolspelers en die verstandhouding is dat elk 'n klein bydrae behoort te maak om sojabone in die Suidwestelike Distrikte gevestig te kry. Meadow Voere het onder andere hulle vragmotors, wat gewoonlik leeg na die Wes-Kaap terugkeer, aangebied om sojabone daarheen te vervoer.

        Mnr Grimbeek se aanduiding in Julie was dat ongeveer 1 000ha sojabone binne drie jaar in hierdie gebied geplant sal kan word.

        Die vergadering besluit dat mnr Grimbeek 'n opname moet doen van silo-eienaars wat geskikte drogingsfasiliteite vir sojabone het.

        Besluit:

        1. Dat mnr Grimbeek 'n opname moet doen van silo-eienaars wat geskikte drogingsfasiliteite vir sojabone het.

          Mnr Grimbeek

      9. Gauteng

        Mnr Van Wyk sê hy is tevrede met die amptelike skatting, naamlik 4 000ha vir Gauteng en is steeds hoopvol vir 'n uitbreiding na 6 000ha binne drie jaar.

        Mnr Du Plessis sê hy het met Kontrakteurs gepraat, wat aangedui het dat hulle weer 'n voorlegging ingedien het om nagenoeg 1 000ha sojabone vir die Gauteng-projek van mnr Patrys Lubbe aan te plant.

        Die Voorsitter noem dat die sojafabriek in Potchefstroom in die mark is en dus nie dié jaar sojabone gaan aankoop nie.

    2. Oesskatting

      1. Oes- en oppervlakteskatting ten opsigte van Limpopo en Noordwes Provinsie

        Die aangeleentheid is onder item 7.1 bespreek.

    3. Mikpunte: 2005, 2010 en 2020

      1. Drie-jaar vooruitskatting

        Die aangeleentheid is onder item 7.1 bespreek.

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Dr Griessel bied die jongste markinligting aan, asook prysaanduidings gebaseer hierop.

      Verwagte wêreldproduksie van sommige oliesade (2003/2004)
      2003/2004 miljoen ton 2002/2003 miljoen ton
      Sojabone 201,50 195,26
      Raapsaad en Canola 36,23 32,74
      Katoensaad 35,43 33,28
      Grondbone 23,51 21,51
      Sonneblomsaad 26,60 24,21

      Hy toon ook statistiek ten opsigte van 'n vooruitskatting van die wêreldbalansstaat vir die tien vernaamste oliesade, soos in "Oil World" publiseer. Dit blyk dat wêreldproduksie sowel as verbruik met sowat 17 miljoen ton elk sal toeneem en dat die wêreld-eindvoorraad op 52,2 miljoen te staan sal kom.

      Oil World (19 September 2003): Tien oliesade – wêreldvraag en -aanbod (miljoen ton)
      2003/2004 miljoen ton 2002/2003 miljoen ton 2001/2002 miljoen ton
      Openingsvoorraad 51,1 49,3 48,1
      Produksie 342,3 325,7 322,4
      Totale aanbod 393,4 375,0 370,5
      "Disappearance" 340,9 323,9 321,2
      Eindvoorraad 52,5 51,1 49,3

      Die afgeleide gemiddelde produsenteprys vir sojabone soos op 26 September 2003, is R1 881 / ton. Dit word afgelei van ingevoerde soja-oliekoek met 47% proteïen @ R2 038 per ton soos op 26 September 2003 en wisselkoers @ R7.14:$1 VSA.

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban
      Verskeping: R2 038   |   Wisselkoers: R7.14/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 2 038.00
      Spoorvrag na Randfontein 150.00
      2 188.00
      Waarde van volvetsoja 110% R2 407.00
      Prys aan produsent vir sojabone 1 881.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 70.00
      – Stoorkoste 60.00
      – Rente 16% (6 maande) 151.00
      – Ekstrusiekoste 130.00
      – 5% ekstrusieverlies 115.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone – R/ton R2 407.00

    2. SAFEX

      Die Voorsitter sê mnr Rod Gravelet-Blondin sal in November 2003 'n voordrag aan die PNS-Raad lewer. Hy sê vanweë die dalende omset op die Effektebeurs, het die JSE besluit om voor die einde van die eerste kwartaal sy personeel met ten minste 10% te besnoei. Daarom mag dit gebeur dat marginale kommoditeite nie langer verhandel sal word nie.

    3. Verwerkingskapasiteit

      Hierdie item word van die sakelys verwyder.

      Besluit:

      1. Dat die aangeleentheid van die sakelys afgehaal kan word.

        Sekretaris

    4. Vraag en aanbod

      Na aanleiding van die vorige besluit, sê dr Griessel dat die kantoor alle toepaslike markinligting aan mnr Hawkins voorsien het. Mnr Du Plessis sê mnr Hawkins het hom meegedeel dat die syfers ooreenkomstig dr Griessel se inligting aangepas is.

      Die Voorsitter doen 'n beroep op mnr Potgieter om ingevolge Besluit 8.4.2 van 7 Augustus 2003, sorg te dra dat mnr Vermaak met dr Willemse skakel, sodat markinligting aan produsente oorgedra word. Dr Willemse moet versoek word om die omvang van die totale mark in die Landbouweekblad uit te lig. Mnr Vermaak moet daarom versoek word om die inligting waaroor mnr Hawkins beskik, aan dr Willemse te verskaf.

      Besluit:

      1. Dat die inligting waaroor mnr Hawkins beskik aan dr Willemse verskaf word met die versoek dat die omvang van die totale mark in die Landbouweekblad uitgelig word.

        Mnr Potgieter
        Mnr Vermaak

    5. Organiese verbouing

      'n Dokument wat mnr Moffat se praatjie van 7 Augustus 2003 opsom, is vir kennisname by die sakelys ingesluit.

      Dr De Kock stel voor dat produsente ingelig word dat hulle seker moet maak dat hulle 'n mark het vir produkte wat organies verbou word en dat inligting oor organiese verbouing by mnr Moffat en/of sy organisasie bekom kan word.

      Dr Griessel wys daarop dat organiese sojaboonverbouing beperkte potensiaal in die veevoerbedryf het en die PNS dit dus nie finansieel sal ondersteun nie, en dat dié aangeleentheid na die Sonneblom- en Sojaboonforum verwys moet word.

      Besluite:

      1. Dat produsente ingelig word dat hulle seker moet maak dat hulle 'n mark het vir produkte wat organies verbou word en dat inligting oor organiese verbouing by mnr Moffat en/of sy organisasie bekom kan word.

        Mnr Vermaak
        Mnr Potgieter

      2. Dat aangesien organiese sojaboonverbouing beperkte potensiaal in die veevoerbedryf het en die PNS dit dus nie finansieel sal ondersteun nie, moet dié aangeleentheid na die Sonneblom- en Sojaboonforum verwys word.

        Sekretaris

    6. "Financial interpretation of long-term soybean / maize crop rotation systems", prof MF Viljoen en R Armour

      Mnr Armour sê die PNS het hom genader met die versoek om 'n finansiële interpretasie te doen van 'n wissel­boustelsel wat sojabone insluit. Vorige studies was té beheerd gedoen en was dus nie realisties genoeg nie. Die doel was om die plaasvlak prestasie van wisselboustelsels wat sojabone insluit, in die Bethlehem- en Viljoenskroon-areas te bepaal. Verteenwoordigers uit die soja belange­groepe soos die chemiese en voerbedrywe asook GSA het saamgewerk om die navorsingsinligting te verifieer en na plaasvlak­resultate te ekstrapoleer.

      Dr De Kock som mnr Armour se resultate op: As gevolg van 'n laer Stikstof (N)-toediening by mielies, sal die na-effek van sojabone se N positief op mielie-opbrengste inwerk. Die kombinasie van die gebinde sojaboonstikstof plus ongeveer 40kg/ha N op mieliegronde, gee die beste respons by mielies. Hy wys verder daarop dat die verkreë navorsingsinligting strydig met mnr van Wyk se bevindings blyk te wees omdat diep, sanderinge gronde in die navorsingsgebied voorkom wat voldoende bemes was, die produsente nie geplant het voordat dit reën nie, en normale reënval voorgekom het.

      Mnr Armour toon 'n "leerkurwe" wat daarop dui dat moontlik 'n verlies met sojaboonproduksie (in wisselbou met mielies) in die eerste jaar ondervind kan word, maar namate meer rhizobium en bakterieë in die grond kom en boerdery praktyke meer effektief raak, word hoër opbrengste behaal, met 'n maksimum potensiële opbrengs in die vierde jaar. Hy toon ook 'n skaal waarvolgens bepaal word teen watter mielie- en sojaprodusentepryse dit lonend sal wees om welke kommoditeit te verbou, hetsy in rotasie of monokultuur.

      Dr De Kock stel voor dat:

      • Die PNS mnr Armour se grafiek wat sojaboon­opbrengsverandering in wisselbou met mielies uitbeeld, in plakkaatvorm sal voorberei; en
      • Die Tegnologiekomitee versoek sal word om te besin hoe die UVS se mielie/soja-rotasiemodel in stand gehou behoort te word.

      Besluite:

      1. Dat die PNS mnr Armour se grafiek wat sojaboon­opbrengsverandering in wisselbou met mielies uitbeeld, in plakkaat-vorm sal voorberei.

        Mnr Vermaak
        Mnr Potgieter

      2. Dat die Tegnologiekomitee versoek sal word om te besin hoe die UVS se mielie/soja-rotasiemodel in stand gehou behoort te word.

        Sekretaris

  9. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Super Sojakompetisie – terugvoering

        Mnr Du Plessis rapporteer dat 68 produsente die Super Sojakompetisie te Cedara bygewoon het en daarop aangedring het dat dieselfde sprekers weer moes optree. Die produsente het hulle eie reëlings getref en 'n boeredag in die Bergville / Winterton-area gehou, waar 40 produsente opgedaag het. Op Dundee het 95 mense die sojadag bygewoon, wat minder as die vorige jaar is. Hy bedank die Voorsitter vir sy bydrae daar. Mnr Havenga het ook sy dank in hierdie verband aan die PNS oorgedra. Die Voorsitter sê hy is tevrede dat die sojadae puik aangebied en bygewoon is.

    2. Mpumalanga

      1. Verskillende proefaanplantings – terugvoering

        Mnr Van Wyk se projekvoorlegging is by die Kontrakteurs- en Medewerkerswerkgroep se sakelys ingebind. Dr Griessel vra of die invloed van winterbewerking op rhizobium by mnr van Wyk se projek ingewerk kan word, waarop mnr Van Wyk sê dat dit deel van die projekplan vorm.

    3. Noordwes provinsie

      Dat die aangeleentheid van die sakelys afgehaal word.

      Besluit:

      1. Dat die aangeleentheid van die sakelys afgehaal kan word.

        Sekretaris

    4. Limpopo

      1. Springbokvlakte

        Mnr Van Wyk sê dat mnr Carel Kayser in hierdie provinsie met die hulp van die voorligter (mnr Coetzee) te Potgietersrus gewerf is en dat 'n demonstrasie onder besproeiing daar gereël sal word. Mnr Coetzee tree egter in Desember 2003 af. Hy sê indien 'n boeredag nie te Crecy gehou kan word nie, dit wel te Towoomba aangebied sal word.

        Die vergadering besluit dat 'n opgawe van die onderskeie provinsies se voorligters bekom moet word en gepoog sal word om te bepaal wie die PNS behulpsaam kan wees.

        Besluit:

        1. Dat 'n opgawe van die onderskeie provinsies se voorligters bekom moet word en gepoog sal word om te bepaal wie die PNS behulpsaam kan wees.

          Mnr Van Wyk

      2. Verskillende proefaanplantings

        Die aangeleentheid is onder item 9.4.1 afgehandel.

    5. Vrystaat

      Mnr Killian sê hy het inligting ontvang dat Pannar 'n navorsingseenheid naby Glen het en dat dié saad­maatskappy aangedui het dat hy met die proewe wil saamwerk.

      Besluit:

      1. Dat die inligting van mnr Killian opgevolg word, naamlik dat Pannar met die proewe te Glen wil saamwerk.

        Mnr Maree

      1. Oos-Vrystaat

        1. Rywydte proef

          Hierdie aangeleentheid staan oor.

      2. Noordwes-Vrystaat

        1. Algemeen

          Hierdie aangeleentheid staan oor.

      3. Suidoos-Vrystaat

        1. Algemeen

          Hierdie aangeleentheid staan oor.

      4. Sentraal Vrystaat

        1. Terugvoering ten opsigte van aanplantings te Glen

          Hierdie aangeleentheid staan oor.

    6. Oos-Kaap

      1. Alexandria en Port Alfred

        Mnr Grimbeek sê daar heers groot belangstelling vir sojabone. Produsente ondervind steeds probleme om die regte cultivars betyds te bestel. Droging is 'n probleem wat binnekort aangespreek sal word. Baie sojabone is aan Meadow Voere verkoop, wat produksie verder behoort te stimuleer.

        Die Voorsitter noem dat die PNS-Raad besluit het dat die LNR-IGKW nie met potensiaalbepaling in hierdie gebied sal voortgaan nie, maar om dié aksie via Sigorei SA te doen.

        Dr Griessel vra waarom droging in byvoorbeeld Koedoes­kop onnodig is, maar wel in die Gamtoosvallei gedoen moet word. Mnr Potgieter sê dat deurlugting nodig is by 'n vogpersentasie van hoër as 13%. Die humiditeit is hoër in die Gamtoosvallei en dit ryp nie soos in Koedoeskop nie.

        Mnr Du Plessis sê omdat baie produsente in die Oos-Kaap sigorei, pynappels en ander gewasse plant, behoort 'n planter vir dié gebied ernstig oorweeg te word.

      2. Droging van Sojabone

        Die Voorsitter deel die vergadering mee dat, na aanleiding van 'n versoek van mnr Helgaard Muller in Patensie en nadat inligting van mnr Grimbeek verkry is, sal die nodige gesprek oor die droging van sojabone gevoer word met Humansdorp Koöperasie.

    7. Suidwestelike Distrikte

      1. George omgewing

        Die aangeleentheid is onder item 7.1.8 afgehandel.

    8. Gauteng

      1. Aanplantings

        Die aangeleentheid is onder item 7.1.9 afgehandel.

  10. Nasionale cultivarproewe

    1. Cultivarevaluasiekomiteevergadering

      Mnr De Beer rapporteer dat die Cutlivarevaluasie­komiteevergadering op 9 September 2003 plaasgevind het. Gedurende die vorige jaar is 45 proewe uitgestuur, waarvan 11 nie opgeneem kon word nie, hoofsaaklik as gevolg van droogte. 'n Verdere 4 proewe "het dit nie gemaak nie". Sewe nuwe cultivars is in die cultivarproewe opgeneem, waarvan 4 Roundup Ready cultivars was. Agt nuwe cultivars, waarvan 3 Roundup Ready cultivars is, is in fase een ingesluit. Daar is nou 7 Roundup Ready cultivars op die variëteitslys. Vir die komende seisoen is drie nuwe Roundup Ready cultivars ingeskryf. Dertig cultivars sal in die cultivarproewe ingesluit word en 39 cultivars in fase een.

      Mnr Potgieter sê die resultate sal in die volgende uitgawe van SA Graan beskikbaar wees.

      Mnr Du Plessis berig dat dit aanvaar is dat lang groeiers nie in die koeler gebiede aangeplant sal word nie.

      Mnr Killian sê dat die Cultivarevaluasiekomitee nie konsensus kon bereik oor definisies vir regoptipe en 'n bostipe sojabone nie.

      Mnr Du Plessis wys daarop dat die LNR-IGG soos versoek, die bladskrif meer verbruikersvriendelik gemaak het en dat 'n beknopte weergawe in die SA Graan gepubliseer sal word.

      Dr Griessel verwys na die cultivarproewe wat vanjaar in die Reitz-omgewing gedoen is en sê dit help nie dat die PNS en LNR-IGG die cultivarevaluasieproef befonds indien die medewerkers nie saamwerk nie. Hy wys daarop dat die resultate uit daardie proewe onbruikbaar is. Die Voorsitter sê in probleemgevalle soos hierdie, sal die PNS-Kontrakteurs met die medewerkers moet saamwerk en kontrole help toepas. Mnr De Beer deel die vergadering mee dat hy 'n kontrolelys vir kontrakteurs opgestel het, wat laasgenoemde sal help om kontrole te hou oor proewe by medewerkers.

      Besluit:

      1. Dat mnr De Beer versoek word om 'n kontrolelys vir proef-aanplantings aan die Kontrakteurs beskikbaar te stel.

        Mnr De Beer

    2. GSA-protokol: evaluasie van nuwe cultivars

      Die aangeleentheid is onder item 10.1 afgehandel.

  11. Saad

    1. Roundup Ready saad en andere - beskikbare inligting

      Mnr Bester handig 'n dokument uit wat onder meer inligting bevat oor nuwe cultivars en die meganisme ten opsigte van Roundup Ready saad en verhaling van tantiéme. Dit sal ook as 'n aanhangsel tot die notule aan die lede gesirkuleer word. Hy sê dat dat silo-eienaars toerusting besit om sojaboonlewerings vir Roundup Ready te toets en dat tantiéme op positief-getoetste lewerings betaalbaar is. Mnr Van Wyk sê daar was gevalle waar sojabone verkeerdelik positief vir Roundup Ready getoets is, as gevolg van stropers wat eers in Roundup Ready lande werk en sodoende gekontamineer raak. Mnr Bester sê in 'n dispuut word monsters deur die LNR-IGG geverifieer. In so 'n geval behoort die produsent sy naaste Monsanto-verteenwoordiger te skakel.

      Besluit:

      1. Dat die dokument rakende "Roundup Ready" sojabone ter tafel gelê tydens die vergadering, by die notule aangeheg word.

        Sekretaris

  12. NAMPO-Oesdag

    Daar word gemeld dat die sinvolheid van die PNS en Sojawerkgroep se betrokkenheid by die Nampo-Oesdag, tydens die volgende vergadering bespreek word. Kennis word geneem dat aanstaande jaar se Nampo-oesdag vanaf 18-21 Mei plaasvind.

    Besluit:

    1. Dat die sinvolheid van die PNS en Sojawerkgroep se betrokkenheid by die Nampo-oesdag, tydens die volgende vergadering te bespreek.

      Voorsitter
      Dr De Kock

  13. Navorsing

    1. Roes

      Geen.

    2. Sclerotinia

      1. Proefwerk - Dr McLaren en mnr Killian - terugvoering vergadering van 23 September 2003

        Dr Griessel sê saadbehandeling met Benlate om Sclerotinia te beheer, was een van die behandelings. Volgens die Navorsings­instituut vir Plantbeskerming (LNR-NIPB) is Benlate giftig en kan dit die Rhizobium bakterieë beïnvloed. Saadbehandeling in die proewe het egter geblyk effektief te wees. Die koeffisiënt van variasie op sy proewe was te groot om statistiese gevolgtrekkings te maak. Omdat dit nie 'n "Sclerotinia jaar" was nie, was daar nie groot verskille tussen die onderskeie behandelings nie. Mnr van der Westhuizen van Philagro, het gerapporteer dat daar geen verskil te bespeur was tussen proewe met en sonder toediening van die middel nie. Dr McLaren het die vergadering meegedeel dat hy 'n tegniek vanaf die Ohio State University bekom het om cultivarweerstand­biedendheid vir Sclerotinia in cultivars te bepaal.

        Daar is besluit dat die proewe aanstaande seisoen herhaal sal word. Die proewe sal moontlik te Bethlehem onder besproeiing plaasvind, omdat 'n koeler area met hoë vog bevorderlik vir die ontwikkeling van Sclerotinia is. Dr McLaren is besig om 'n inokulum vir besmettings­doeleindes te produseer om die proewe kunsmatig te besmet. Mnr Killian sal soortgelyke proewe doen sonder om kunsmatig te besmet en verskillende nuwe middels by sy projekvoorlegging insluit.

        Dr McLaren sal 'n projekvoorlegging doen om die vat­baarheid van cultivars vir sclerotinia by wyse van glashuisproewe te probeer bepaal. Dr Deidré Fourie sal die werk op sonneblom herhaal. Mnr Johan Potgieter (Pannar) het egter gesê hy weet nie of 'n sonneblomplant geïdentifiseer sal kan word wat minder of meer weerstandbiedend is nie omdat stamvrot, blomvrot, ensomeer op verskillende stadiums van die plantfisiologie die navorsing kan belemmer. Dr Fourie is versoek om 'n literatuurstudie in dié verband te doen.

        Mnr Du Plessis wys daarop dat sclerotinia neig om in kolle op lande voor te kom en vra hoe navorsing dit aanspreek. Dr De Kock sê mnr Killian is aanbeveel om sy perseel­groottes te verklein en die aantal herhalings te verhoog.

      2. Geregistreerde onkruiddoders vir sojabone

        Mnr Van Wyk verneem of die aktiewe bestanddeel acetochlor op sojabone geregistreer is. Dié bestanddeel was tot en met 1998 vir sojabone geregistreer.

        Hy sê hy het van die Wenchem-verteenwoordiger verneem dat Sencor nie meer op die mark is nie, maar dat dié bestanddeel steeds in die "boek" verskyn. Hy sê volgens sy kennis is 'n hele paar soja-kultivars sensitief vir Sencor. Dr De Kock sê dit mag soms gebeur dat 'n bestanddeel wat in die boek verskyn, deur 'n maatskappy onttrek word.

        Besluit:

        1. Dat mnr Van Wyk by dr Saayman-du Toit (LNR-IGG) moet verneem na die registrasie van acetochlor vir sojabone.

          Mnr Van Wyk

      3. Invoer van generiese plaagbeheer middels vir sojabone

        Mnr Du Plessis sê Duel se patentreg het verval en daar sal moontlik heelwat nuwe, goedkoper generiese middels ingevoer word.

        Na bespreking besluit die vergadering dat GSA versoek word om produsente in te lig dat hulle bedag moet wees op ongeregistreerde plaagbeheermiddels aangesien dit hulle plante en opbrengste kan benadeel.

        Besluit:

        1. Dat GSA versoek word om produsente in te lig dat hulle bedag moet wees op ongeregistreerde plaagbeheer­middels, aangesien dit hulle plante en opbrengste kan benadeel.

          Mnr Du Plessis

  14. Sonneblom- en Sojaboonforum

    1. Terugvoering van Sonneblom- en Sojaboon­forum

      Kennis word geneem van die inhoud van die notule van die Sonneblom- en Sojaboonforumvergadering van 4 Augustus 2003.

    2. Sake om na die volgende Forum te verwys

      Organiese verbouing word na die Sonneblom- en Soja­boonforum verwys.

  15. Ander sake

    1. Inligtingsdae 2003 – terugvoering

      Rapportering is reeds gedoen oor die Supersojadae, Sclerotinia-dag en die Sojavoedselkonferensie.

    2. Inligtingsdae 2004

      23 Augustus 2004 Super Sojakompetisie, Cedara
      24 Augustus 2004 Super Sojakompetisie, Dundee

  16. Toevoegings tot sakelys

    1. Finale verslag: PU vir CHO, dr PDR van Heerden

      • "The influence of dark chilling on the endogenous rhythms of photosynthesis and sucrose synthesis in Glycine max. (L.) Merr."
      • "The impact of dark chilling followed by exposure to high light intensities on ultra-structure and selected biochemical reactions of photosynthesis in Glycine max. (L.) Merr."
      • "The effect of dark chilling and its interaction with drought stress on various aspects of photosynthesis in Glycine max. (L.) Merr."

      Kennis word geneem van die inhoud van die finale verslag.

    2. Bespreking van Sojaboonhandleiding

      Besluit:

      1. Dat die aangeleentheid na die Tegnologiekomitee verwys word vir bespreking.

        Voorsitter
        Sekretaris

  17. Datum van volgende vergadering

    Die Kontrakteurs- en Medewerkerswerkgroep sal weereens saam met die Sojawerkgroep vergader en wel op 25 No­vember 2003. Eers­genoemde se vergadering wat aan­vanklik vir 1 Desember geskeduleer was, word dus her­skeduleer vir 25 November.

    Die eerste vergadering van voorgenoemde twee groepe in die nuwe jaar, is vir Dinsdag, 27 Januarie 2004 geske­duleer.

  18. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die lede vir hul teenwoordigheid en deelname en verdaag die vergadering om 13:10.