Notule

Slakwerkgroepvergadering

gehou op 30 November 2004 te Elsenburg



  1. Presensie

    Teenwoordig

    Prof GA Agenbag US
    Dr N Hanekom UAP
    Dr JM Laubscher DLWK
    Dr SC Lamprecht LNR (NIPB)
    Mnr R Bosch Bayer Crop Science
    Mnr H Agenbag PNS Wes-Kaap
    Me M Kellerman DLWK

    Afwesig met verskoning

    Mnr C Cumming Bayer Crop Science
    Dr I Trautmann DLWK
    Mnr C van Rooyen DLWK - Caledon

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, dr S Lamprecht, verwelkom almal teenwoordig.

  3. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar sonder enige byvoegings.

  4. Vordering

    1. Projek - Dr Laubscher

      Dr. Laubscher rapporteer oor die aksies en resultate by twee lokaliteite naamlik Roodebloem (CRK Proefplaas) en Tygerhoek Proefplaas. Op beide lokaliteite is putvalle aangebring en waarneming op gereelde basis gedoen om vas te stel watter slakke en insekte voorkom. Uit die opnames is die volgende waargeneem:

      • By Roodebloem het die slakaktiwiteite later in die seisoen voort geduur as wat die geval by Tygerhoek was.
      • Krimpvarkies (isopoda) was redelik aktief by albei lokaliteite gedurende die hele waarnemingsperiode.
      • Vroeg in die seisoen is krimpvarkies die grootste probleem en daar is min slakaktiwiteite weens gebrek aan vog.
      • Slakaktiwiteite neem toe net na reënval en blyk slakke dus klimaatsgebonde te wees. Krimpvarkies en kewers word blykbaar nie deur reënval beïnvloed nie.
      • Naakslakke was die grootste probleem by beide lokaliteite terwyl feitlik geen toring- of dopslakke waargeneem is nie.
      • Vog en temperatuur speel 'n belangrike rol by die uitbroei van slakeiers. Naakslakke word selfs in die somer waargeneem by gewasverbouing onder besproeiing.

      Volgens dr Laubscher is die doel van die projek om slakke en ander insekte oor 'n lang periode op beide lokaliteite te monitor om sodoende 'n geskiedenis van slak- en insekaktiwiteite op te bou.

      Tydens bespreking van die resultate word die onderstaande kommentaar gelewer:

      • Die voortsetting van die projek is nie die moeite werd nie indien monitering slegs gedurende die winter en lente geskied.
      • Somermonitering is baie belangrik sodat die invloed op die volgende seisoen bepaal kan word, om moontlik vooraf te kan voorspel wat die volgende seisoen te wagte kan wees.
      • Die invloed van somerreën op die voorkoms van slakke gedurende die volgende seisoen is ook baie belangrik.
      • Putvalle is beperkend en dus kan die monitering van slakke en insekte nie oor groot oppervlaktes gedoen word nie.
      • Die plasing van stukke plaat is moontlik goedkoper as putvalle en kan gedurende die hele jaar vir monitering gebruik word.
      • Plaatvangste kan deur produsente self op die plase gedoen word.
    2. Beheer van slakke

      Voorheen was die effektiewe beheer van slakke 'n baie groot probleem vir produsente maar namate meer kennis opgedoen is, en inligting ingewin is, het die probleme verminder en kan dit nou al redelik suksesvol bestuur word. Chemiese beheer met slakpille was baie suksesvol en het 'n groot bydrae gelewer om die probleem te bekamp. Suksesvolle chemiese beheer van slakke is moontlik indien:

      • Voldoende lokaas volgens slakpopulasies toegedien word met ander woorde dien baie slakpille indien daar baie slakke aanwesig is.
      • Konsentreer op probleem areas soos byvoorbeeld klipbanke, waar baie slakke normaalweg voorkom.
      • Dien lokaas (± 5 kg / ha) toe tydens saai, asook met opkoms van saailinge.
      • Moniteer aanplantings gereeld vir slakke en beheer dadelik indien nodig.

      Daar is ook verskeie ander beheermaatreëls wat produsente voor saai kan toepas soos:

      • Stoppelbestuur om so min as moontlik enige skuilplek vir slakke te bied.
      • Vroeë vlaktand met mespuntebewerking om grond los te maak sodat slakkeiers kan verdroog en dus nie uitbroei nie.

      Vir suksesvolle slakbeheer is dit noodsaaklik belangrik om produsente behoorlik en tydig in te lig oor hierdie beheermaatreëls. Mnr Robert Bosch onderneem om riglyne saam te stel vir publikasie in SA Graan, Canolafokus en die Landbou Burger. Dr Hanekom bied aan om kostes te dra vir publisering van die riglyne indien nodig.

    3. Literatuurstudie

      Dr Geoff Tribe van die LNR (Plantbeskerming) is tans besig met 'n literatuurstudie oor insekprobleme by canola met die finansiële ondersteuning van die Proteïennavorsingstigting.

      Die literatuurstudie oor slakke by canola en kleingrane is deur mnr Niel Hopkins voltooi. Dr Lamprecht bedank hom in sy afwesigheid vir sy bydrae. Dr Willem Sirgel sal genader word om die literatuurstudie te redigeer vir korrektheid, waarna dit aan lede van die Slakwerkgroep beskikbaar gestel sal word.

    4. Vraelyste

      Vraelyste oor die swak vestiging van canola en lupine in die Suid-Kaap is aan 20 produsente gestuur vir voltooing om sodoende moontlike inligting ten opsigte van die probleem te bekom. Belangrike inligting uit die vraelyste is:

      • Probleme met swak stand is hoofsaaklik te wyte aan diep plant, droogte (na saai) en slakke.
      • Verliese aan plantestand wissel van 25-75%.
      • Kultivars met swak groeikragtigheid dra blykbaar by tot swak vestiging.
      • Suidelike en suid-oostelike hellings is meer onderhewig aan slakskade.
      • Vroeë reën vererger probleme met plantestand.
      • Wanneer canola na gars gesaai word, is die probleme baie erger.

      Uit die vraelyste is dit duidelik dat daar indringend aandag gegee moet word aan:

      • Stoppelbestuur
      • Plantdiepte
      • Saadbehandeling
      • Chemiese beheer met slakpille

      Die inligting uit die vraelyste sal verwerk word en die resultate sal dan aan die vergadering asook deelnemende produsente beskikbaar gestel word.

  5. Aksies 2005

    1. Ad Hoc ondersoeke

      Daar is heelwat probleem areas (insekte, slakke, siektes, ens.) wat verdere ondersoeke verg. Die vergadering is egter van mening dat al hierdie ondersoeke binne een groot projek moeilik haalbaar is.

      Die grootste probleme kom gewoonlik tot Junie voor. Daar word 'n vriendelike versoek gerig aan al die lede en ander veldbeamptes om probleme so gou moontlik aan die projekleier/voorsitter te kommunikeer sodat die projekspan verdere waarnemings kan doen. Daar word egter fondse benodig vir sodanige ondersoeke en sal daar finansiële ondersteuning gevind moet word.

    2. Navorsing

      Die vergadering besluit dat die literatuurstudie van dr Tribe eers afgewag en deeglik bestudeer word voordat enige navorsings­projekte voorgelê word.

    3. Ruitrugmot

      Volgens inligting was die ruitrugmot 'n ernstige probleem by canola gedurende 2004. Daar was selfs vermoedens dat die mot weerstand teen sekere insek-doders opgebou het.

      Die ruitrugmot kom eers teen ongeveer Augustus voor wanneer canola in die blom tot vroeë peulstadium is. Die mot het geen invloed op jong saailinge nie en sal dus nie swak vestiging (plantestand) tot gevolg kan hê nie.

      Ruitrugmotte voed hoofsaaklik op die blare van canola wat 'n verlies aan blaaroppervlakte veroorsaak en dus saadopbrengs kan benadeel. Die larwes rig ook aansienlike skade aan by jong peultjies wat veroorsaak dat peule makliker oopspring tydens platsny.

      Indien ruitrugmotte wel weerstand teen insekdoders ontwikkel het, kan dit baie ernstige probleme vir die canolabedryf veroorsaak.

    4. Ander

      Geen ander sake vir bespreking nie.