Newsletters / Archives / Lupino / 2008 Lupino No 35

Lupino logo

LUPIENWERKGROEP NUUSBRIEF

Lupino 35   Desember 2008


Antraknose by smalblaar lupiene

PJA Lombard
Departement Landbou: Wes-Kaap, Privaatsak X1, Elsenburg 7607

Antraknose het vanjaar met die geweldige nat toestande en min sonskyn vinnig in die Wes-Kaap op smalblaar lupiene ontwikkel. Die siekte het ook sporadies in die Suid-Kaap voorgekom. Die antraknose swam (Colletotrichum gloeosporiodes) is die siekte wat wêreldwyd die meeste gevrees word by lupiene.

Volgens wyle dr AB van Jaarsveld, is die siekte in 1994 in die Oos-Vrystaat geïdentifiseer. Dit het daarna na die Wes-Kaap versprei en het eers na 2000 ernstige afmetings in die Wes-Kaap aangeneem. Die breëblaar lupienbedryf het tot stilstand gekom, aangesien die kultivars hoog vatbaar was vir antraknose. Die smalblaar kultivar Wonga en daarna Tanjil is minder vatbaar vir die siekte en was letterlik die ruggraat van die bedryf vir 'n paar jaar.

Antraknose by smalblaar lupiene

Weerstand

Antraknose het die afgelope seisoen (2008) op al die kultivars en lyne in die nasionale cultivar-proewe voorgekom. In tabel 1 is die Australiese weerstand indeks en die RSA waarnemings opgesom. Quilinock is die vatbaarste (van die plaaslike kultivars) volgens Australië en dit wil voorkom of dit ook in Suid-Afrika meer vatbaar is vir antraknose. Die siekte is ook by verskeie kommersiële aanplantings waargeneem in die Swartland, wat Quilinock en ander kultivars insluit. Totale weerstand bestaan ongelukkig nie teen die siekte nie.

Tabel 1
Weerstands indeks van cultivars in Australië (Thomas, 2007)
Cultivar Antraknose weerstand Australiese indeks (1-9) RSA Indeks (1-5)
Slegs 1 proef
Wonga Weerstand (lw. nie immuun nie) 7  
Tanjil Weerstand (lw. nie immuun nie) 7 4
Mandelup Matige weerstand 6 4
Quilinock Vatbaar 3 1
Kiev Uitermate vatbaar 1  

Simptome

Antraknose kom op die bogrondse dele van die plant voor. Die mees kenmerkende simptoom is die stam wat draai met 'n bruin letsel aan die binnekant van die draai (foto 1 en 2). Dit is die meeste sigbaar wanneer die plante begin blom. Soms word oranje of pienk spoormassa vrygestal vanuit die letsel. Die stam gaan gewoonlik dood bo die letsel of breek af. Die blaarsteel kan ook 'n letsel ontwikkel en word gewoonlik waargeneem as die blaar by die letsel knak en afsterf. Die letsels ontwikkel ook op die peule en word gewoonlik aan misvormde peule uitgeken (foto 3). Die hele peul kan afsterf, maar indien dit nie gebeur nie, word die saad besmet sonder enige sigbare tekens.

Lupien plant besmet met antraknose
Foto 1. Lupien plant besmet met antraknose
Antraknose letsel op stam van lupien plant
Foto 2. Antraknose letsel op stam van lupien plant
Besmette lupienpeule
Foto 3. Besmette lupienpeule

Lewenssiklus van antraknose

Die siekte is saadgedraag en die besmette saad se saailing ontwikkel reeds vroeg letsels en stel spore vry. Die spore word hoofsaaklik deur spattende reëndruppels versprei. Wind tesame met reën kan volgens die literatuur die siekte met tot 100m versprei. Ongelukkig versprei masjiene, insekte en voëls die siekte oor veel groter afstande. Die spore kan ook oorleef maar, is nie baie goed aangepas daarvoor nie. Die spore benodig vog op die blare vir 4 ure om te ontkiem. Die letsel ontwikkel binne 'n paar dae. Warm weer help die ontwikkeling aan en spore word vinniger vrygestel. Diagram 1 dui die lewenssiklus van die siekte grafies aan.

Lewenssiklus van antraknose
Diagram 1. Die lewenssiklus van antraknose (Producing lupins, 2008)

Risiko

Antraknose word versprei deur besmette saad, stoppels of ander besmette aanplantings. Hoë reënval (periodes met baie reën) met warmer temperature is die mees ideale omstandigehde vir die siekte. Die risiko word vererger deur die saai van besmette saad, klimaatsomstandighede of deur vatbare cultivars wat gesaai word in die omgewing van besmette aanplantings.

Die blomme en peule is meer vatbaar as die ander dele van die plant. Dit sluit alle cultivars in (weerstandbiedende cultivars ook). Peulvorming kan erg benadeel word met 'n verlaagde oesopbrengs. Dis 'n saadgedraagde siekte en daarom is die siekte meer aggressief tydens peulvorming.

Bestuur

  1. Plant cultivars met groter weerstand.
  2. Plant skoon saad van 'n betroubare bron (verkieslik die verskaffer in RSA).
  3. In Australië word die saad met Thiram behandel (110g aktief per 100kg saad). Thiram gee ongelukkig swak beheer teen bruin-blaarvlek. Thiram voorkom nie die verspreiding van die siekte vanaf die saad nie, maar verminder die siekte oordraging met tot 75%.
  4. Berging van saad kan help met die beheer van die siekte. In Australië is gevind dat die saad se infeksie afneem oor tyd. Hulle het gevind dat die infeksie met tot 95% kan afneem na 18 maande van berging. Dit kan egter nie gewaarborg word nie.
  5. Volg 'n rotasie van lande en produsente moet verkieslik nie binne 2 jaar lupiene in dieselfde kamp saai nie. Dit is uiters riskant om direk in lupienstoppels te plant. Produsente moet verkieslik hul lupien kampe so vêr as moontlik van mekaar plant.
  6. NB. Bio-sekuriteit op die plaas is uiters belangrik. Produsente moet die gewas op die volgende seisoen (2009 in die geval) se lupienkamp oes, voor die huidige seisoen se lupiene geoes word. Dit sal voorkom dat spore van die siekte met stroper versprei.

Aanbeveling

Lupiene word met groot sukses as wisselbougewas in sekere areas verbou waarvan sommige nie geskik is vir canola nie. Antraknose het reeds die opsie van breëblaar lupiene (L. Albus) as gewas verwyder. Goeie en verantwoordelike bestuur sal die gewas se toekoms beskerm, maar produsente moet dan die bestuursriglyne volg.

Bronne

  • Lupien cultivarevaluasie: Wes- en Suid-Kaap.
    Lombard P en Smorenburg L. Lupino 32, 2007.
  • "Lupin anthracnose – identification and management."
    Thomas G. Farmnote no. 15/2003.
  • "Producing lupins."
    White P, French B and McLarty A. Bulletin 4720.

Enquiries / Navrae

Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western Cape
Instituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Dr N Kotze
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter