Lupino logo

LUPIENWERKGROEP NUUSBRIEF

Lupino 33   April 2008


Die lewenssiklus, simptome en bestuur van bruinblaarvlek en Pleiochaeta wortelvrot by lupiene

Departement Landbou: Wes-Kaap, Privaatsak X1, Elsenburg 7607 (pietl@elsenburg.com) en
LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming, Privaatsak X5017, Stellenbosch 7599 (lamprechts@arc.agric.za)

Inleiding

Bruinblaarvlek en Pleiochaeta wortelvrot word deur dieselfde swam (Pleiochaeta setosa) veroorsaak. Alhoewel bruinblaarvlek 'n siekte is wat reeds lank aan produsente bekend is, is die belang en verspreiding van die wortelvrot stadium plaaslik onbekend. Bruinblaarvlek het tot onlangs geïsoleerd en op klein skaal voorgekom. Ons waarnemings, die afgelope paar jaar, is egter dat bruinblaarvlek toeneem in intensiteit en verspreiding. Sekere produsente vind dit reeds baie moeilik om lupiene suksesvol te verbou weens die siekte. Bruinblaarvlek is verantwoordelik vir die grootste produksie verliese van al die siektes by lupiene (in Australië), terwyl Pleiochaeta en Rhizoctonia wortelvrot die belangrikste wortelsiektes is van lupiene in Australië.

Al die cultivars wat op hierdie stadium plaaslik verbou word, is vatbaar vir bruinblaarvlek. Die waarneembare verskil in vatbaarheid is tussen spesies en nie tussen cultivars nie. Die Lupinus albus cultivar (CED 6150) en lyn (HE16) se proefpersele op Hopefield (Foto 1) het in die 2007 seisoen byna geen opbrengs gelewer nie. Die L. angustifolius cultivars was ook erg geïnfekteer, maar blyk minder vatbaar te wees.

Foto 1
Bruinblaarvlek op L. albus in proefpersele by Hopefield
Bruinblaarvlek op L. albus in proefpersele by Hopefield

Siektesiklus

Gedurende die winter en lente word groot hoeveelhede spore op dooie geïnfekteerde blare vrygestel (Figuur 1). Reëndruppels spat die spore tot op die die blare wat weer tot sekondêre infeksies, binne vier tot vyf dae, lei. Die spore oorleef gedurende die somer en raak vermeng met die boonste 10cm van die grond. By die aanplant van die volgende lupiene ontkiem hierdie spore en infekteer saailing wortels. Die spore op die oppervlak spat en beland op die blare en infekteer dus die saailing op 'n baie vroeë stadium bo-gronds. Besmette blare en stoppels kan na onbesmette lande versprei deur wind. In Australië is saadoordraging van bruinblaarvlek met smalblaar lupiensaad (Lupinus angustifolius) skaars, maar infeksie van saad kan wel voorkom.

Figuur 1
Lewenssiklus van die Pleiochaeta swam
(www.agric.wa.gov.au, Farmnote 5/96)
Lewenssiklus van die Pleiochaeta swam

Simptome

Die pen- en sywortels ontwikkel donker letsels en kan doodgaan en gevolglik verwelk saailinge en sterf af voor vierblaar stadium. Sywortels kan kompenseer vir die afsterf van die penwortel indien voldoende grondvog beskikbaar is. Hierdie plante is minder groeikragtig en kan later in die seisoen verdring word deur gesonde plante. Opbrengs sal gevolglik afneem.

Die bogrondse simptome is meer sigbaar en dus bekend. Bruin letsels vorm op blare, maar kan ook netvormig wees (Foto 2). Geïnfekteerde blare gaan dood en val op die grond en stel dus weer spore vry.

Die peule van L. albus (breëblaar lupiene) het bruin kolle op en die saad kan wel geïnfekteer wees (is dus saad-oordraagbaar). Die geïnfekteerde smalblaar lupiensaad is gewoonlik nie kiemkragtig nie en die siekte kan dus nie so versprei nie. Let daarop dat die saad wel geïnfekteer kan wees en die siekte kan op hierdie manier versprei.

Foto 2
Besmette smalblaar lupienblare wys die gevolge van bruinblaarvlek op lupiene
Besmette smalblaar lupienblare wys die gevolge van bruinblaarvlek op lupiene Besmette smalblaar lupienblare wys die gevolge van bruinblaarvlek op lupiene

Bestuur

Wisselbou

In Australië neem die getal Pleiochaeta spore jaarliks met ongeveer die helfte af. "Double cropping" word ten sterkste afgeraai. Die vlak van vorige infeksie moet dus in ag geneem word wanneer 'n produsent besluit oor die rusperiode tussen lupien aanplantings. 'n Drie jaar rus-siklus word aanbeveel vir lupiene in 'n rotasiestelsel.

Stoppelbestuur

Voldoende stoppels op die grond verminder die spat van Pleiochaeta spore met reëndruppels vanaf die grond na die blare. Dit verlaag die infeksie van die plante. Hoe meer stoppels op die grond voorkom hoe minder is die infeksie. Ongelukkig is die praktyk dat sommige boere die stoppels moet verwyder, hierdie boere moet veral op hul rotasiestelsel let.

Saadbehandeling

In Australië word behandeling van saad met Rovral of Sumislex aanbeveel. Dit beskerm die saailinge die eerste vier weke na plant. Die behandeling word nie in isolasie gesien nie en word saam met genoemde bestuurspraktyke aanbeveel.

Saadbron

Produsente moet seker maak hulle saai nie saad wat moontlik met Pleiochaeta geïnfekteer is nie.

Saaidatum

Saailinge ontwikkel baie stadiger wanneer laat gesaai word weens laer temperature. Die plante neem dus langer om 'n blaredak te vorm en is gevolglik langer blootgestel aan spore wat kan spat weens reëndruppels.

Saaidigtheid

Digte stande veroorsaak 'n goeie blaarbedekking wat die boonste blare beskerm teen infeksie. 'n Stand van 40-45 plante/m² word aanbeveel, veral in gevalle waar wortelvrot voorkom wat die plante stand kan uitdun.

Plant en bewerking

Geen of minimumbewerking is die mees ideale manier vir die plant van lupiene. Pleiochaeta besmetting word tot die minimum beperk. Die spore op die oppervlak word die minimum versteur en die stoppel word op die oppervlak gelaat. Wanneer grond bewerk word, word die onkruide en Pleiochaeta spore begrawe en is dit dus onmoontlik om onder die spore te plant. Simazine as vooropkoms onkruiddoder vereis 'n vermenging met die grond, hierdie praktyk help ongelukkig met die versprei van Pleiochaeta spore deur die grondprofiel.

Figuur 2 demonstreer dat vlak saai van lupiene die infeksie risiko baie verhoog. Die penwortel moet deur 'n band van spore groei. 'n Plantdiepte van 5cm word aanbeveel aangesien die hipokotiel van lupiene nie deur Pleiochaeta setosa aangeval word nie.

Figuur 2
Die tipiese verspreiding van Pleiochaeta spore in die grondprofiel na direksaai
(www.agric.wa.gov.au, Farmnote 5/96)
Die tipiese verspreiding van Pleiochaeta spore in die grondprofiel na direksaai

Plantvoeding

Plante met fosfaat- en kaliumtekorte is meer vatbaar vir bruinblaarvlek. Plante met tekorte is korter, minder groeikragtig en het minder blare en gevolglik bied dit minder beskerming teen reëndruppels.

Opsomming

Bruinblaarvlek en Pleiochaeta wortelvrot sal waarskynlik in die toekoms met ons wees. Die gebruik van 'n geïntegreerde beheerstrategie kan die impak van hierdie siekte grootliks verminder. Produsente kan ook verder 'n belangrike rol speel om inligting rakende die siekte in te samel deur enige gevalle van die siekte aan te meld.

Bron


Enquiries / Navrae

Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western Cape
Instituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Dr N Kotze
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter