- 30 NOVEMBER 2004
- 8 JUNIE 2004
Notule
Slakwerkgroepvergadering
gehou op 8 Junie 2004 te Elsenburg
Presensie
Teenwoordig
Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter) Prof GA Agenbag US Dr WF Sirgel US Dr N Hanekom UAP Dr I Trautmann DLWK Dr JM Laubscher DLWK Dr SC Lamprecht LNR-Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming Mnr MC Walters Mnr W Voigt DLWK – George Mnr C van Rooyen DLWK – Caledon Mnr J Lusse CRK Mnr R Bosch Bayer Crop Science Mnr H Agenbag PNS Wes-Kaap Mnr W Techman DLWK Mnr D van Papendorp Produsent (CBK) Mnr I Slabbert DLWK – Moorreesburg Me M Kellerman DLWK Afwesig met verskoning
Mnr C Cumming Bayer Crop Science
Verwelkoming
Die Voorsitter verwelkom almal teenwoordig. Hy rig ook 'n spesiale woord van verwelkoming aan mnr W Techman en me M Kellerman wat die vergadering vir die eerste keer bywoon.
Vasstelling van die sakelys
7.5 Projek van dr JM Laubscher word bygevoeg tot die sakelys.
Notule van vorige vergadering
Die notule van die vergadering gehou op 2 Desember word as gelese beskou en met dank aanvaar en goedgekeur sonder enige wysigings.
Doelwitte van die werkgroep
Die Voorsitter skets kortliks die agtergrond van die slakwerkgroep. Daar is alreeds drie vergaderings gehou waaruit dit blyk dat slakke nie alleen verantwoordelik is vir al die skade by canola en lupiene nie. Insekte soos "krimpvarkies" (isopoda) rig ook baie skade, veral aan jong lupiene-saailinge aan.
Die werkgroep se doel is om deur beide kort- en langtermyn navorsing die probleme aan te spreek om 'n oplossing te vind. Vir die uitvoering hiervan is daar 'n taakgroep saamgestel om moontlike navorsings- / moniteringsprojekte te formuleer en die slakwerkgroep te adviseer oor aksies wat uitgevoer moet word. Dr S Lamprecht is benoem as sameroeper van die taakgroep.
Vordering
Gedurende 2003 is 'n proefperseel uitgelë op garstoppel te Roodebloem waarin putvalle geplaas is vir monitering van slakgetalle voor en na sekere behandelings met slakpille. Volgens die resultate blyk dit dat slakpille baie effektief gebruik kan word vir die beheer van slakke.
Volgens mnr van Rooyen was daar gedurende 2003 baie meer slakke as vanjaar (2004) en blyk klimaat 'n groot rol te speel in die aanwesigheid van slakke.
Dr Hanekom rapporteer ook kortliks resultate van 'n loodsproef ten opsigte van die voorkoms en beheer van isopoda in lupiene in die Caledon-omgewing. Die volgende behandelings is toegepas:
- Neem planttelings binne kafrye asook buite kafrye.
- Herhaal planttelings na drie weke.
- Moniteer vreetskade aan lupiene.
- Verskillende behandelings vir chemiese beheer met slakpille en insekdoders.
Tydens die duur van die proef is sekere waarnemings gedoen:
- Baie vreetskade aan lupiene binne die kafry met ander woorde waar daar 'n digte stoppelbedekking was, was daar meer insekte.
- Slakpille was baie effektief op slakke maar nie op insekte (isopoda) nie.
- Insekdoders was ook nie baie doeltreffend nie.
- Baie klein slakkies is waargeneem wat vreet aan die blare maar wat nie in die putvalle gevang word nie.
Volgens mnr Bosch is goeie resultate by canola behaal met:
- Saadbehandeling met Gaucho, Apron en Regent.
- Spuit vooraf Roundup en sipermetrien.
- Dien slakpille toe na saai.
Goeie beheer van slakke is verkry met slakpille en plantluise met Gaucho.
Produsente moet nie wag met chemiese beheer nie tot dat die probleem verskyn nie aangesien slakke groot skade binne enkele dae kan aanrig.
Aksies
-
Literatuurstudie
Volgens mnr Walters is 'n deeglike literatuurstudie baie noodsaaklik. Die Voorsitter ondersteun die gedagte van 'n literatuurstudie deur 'n nagraadse student. Volgens mnr Walters is 'n literatuurstudie deur 'n student 'n baie goeie idee maar dan moet dit geskied onder leiding van 'n kundige persoon soos dr Sirgel (slakke). Die insekteprobleem behoort 'n afsonderlike studie te wees. Volgens dr Laubscher is slakprobleme in Australië anders as ons plaaslike probleem met slakke. Dr Sirgel noem dat wit dopslakke 'n groot probleem in Nieu-Seeland en word minder aandag aan naakslakke gegee.
Die vergadering besluit dat daar na geskikte studente gesoek moet word vir die uitvoer van literatuurstudies ten opsigte van slakke en insekte.
-
Korttermynnavorsing
Die doel van korttermynnavorsing moet wees om so gou moontlike na oplossings te soek vir die probleem. Sekere aksies kan nog gedurende 2004 aandag geniet soos:
- Dr Hanekom en mnr Bosch sal voortgaan met ondersoek na korttermyn oplossings en terugvoering gee aan die werkgroep.
- Doen proewe met slakmiddels ten opsigte van dosis asook die frekwensie van toedienings met die oog op moontlike registrasie van die middles vir gebruik op canola en lupiene.
- Dr Laubscher is reeds besig met die monitering van insekte in dr Hardy se wisselbouproewe te Langgewens Proefplaas.
Volgens me Kellerman is haar stelselproef te Tygerhoek Proefplaas beskikbaar vir die uitvoer van sodanige proewe. Mnr Walters stel voor dat saadbehandelingsmiddels in die glashuis getoets kon word om te bepaal of dit werk. Hy beveel ook aan dat sekere hipotesis vooraf geformuleer moet word en dan binne navorsingsprojekte getoets moet word om te bepaal of dit werklik so is, soos byvoorbeeld canola na medics of aanliggend daaraan is meer kwesbaar vir slakke en insekte as canola na koring of langs koring.
Volgens mnr Walters is wetenskaplike navorsing, waar behandelings teenoor kontroles getoets moet word, baie belangrik. Voorlopige resultate is baie spekulatief en geen sinvolle (korrekte) afleidings kan gemaak word nie.
-
Langtermynnavorsing
Die Voorsitter wil weet of chemiese beheer die enigste oplossing vir die probleem is en of daar ook ander moontlike oplossings sou wees.
Volgens dr Hanekom is dit noodsaaklik dat alle boerderypraktyke, soos tans van toepassing by produsente, ondersoek behoort te word om te bepaal watter invloed dit op die probleem het. Prof Agenbag is van mening dat die literatuurstudies eers voltooi moet word alvorens enige besluite geneem word oor langtermyn aksies. Mnr Walters wys daarop dat daar langtermyn stelselproewe te Langgewens en Tygerhoek is en dat die resultate / bevindings van die literatuurstudie dan maklik by genoemde stelsels ingesluit kan word.
Volgens dr Trautmann moet die taakgroep gereeld tussen die vergaderings kommunikeer met die werkgroep om vordering te kan rapporteer by die werkgroepvergaderings.
-
Inligting aan produsente
Dit is baie belangrik dat praktiese riglyne deur die werkgroep formuleer moet word vir toepassing deur produsente om die probleem aan te spreek.
-
Projek – Dr Laubscher
'n Navorsingsprojek van dr Laubscher is voorgelê aan die Proteïennavorsingstigting vir oorweging en moontlike befondsing. Die doel van die loodsprojek is om ondersoek in te stel na die invloed van verskillende bestuurstrategiëe teen probleem-organismes tydens vestiging van canola. Daar sal gepoog word om tydens die ondersoek die verskillende probleemspesies sistematies te identifiseer en moontlik nuwe aksies teen hulle te loods.
Die ondersoek sal uitgevoer word op 'n medic-weidingsproef in 'n canola-kleingraan-medics wisselbouproef te Roodebloem (Caledon).
-
Afsluiting
Die Voorsitter bedank almal vir hul teenwoordigheid en verdaag die vergadering om 11:20.
Afsluiting
Die datum van volgende vergadering sal later aan lede bekend gemaak word.