Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 7 Augustus 2003 in die PNS-Raadsaal te Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur mnr Keun.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter heet almal hartlik welkom en in besonder vir mnre Moffett, Bester en Fouché, wat die Sojawerkgroep­vergadering vir die eerste keer bywoon.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Mnr CJ du Plessis PNS
    Dr J de Kock PNS
    Dr M Griessel PNS
    Mnr WF van Wyk PNS-Kontrakteur
    Mnr E Maree PNS-Kontrakteur
    Mnr L Killian PNS-Kontrakteur
    Mnr NJ Vermaak GSA
    Mnr FAS Potgieter GSA
    Mnr AJ Pretorius LNR-IGG
    Dr J Dreyer LNR-IGG
    Mnr AJ van Vuuren NWK
    Mnr ID Lamprecht Departement Landbou, Omge­wing en Bewaring: Mpumalanga
    Mnr TM Ndwandwe Departement Landbou en Omge­wingsake: KZN
    Mnr C Havenga Departement Landbou en Omge­wingsake: KZN
    Mnr JC Moffett Produsent – Organiese soja­bone
    Mnr B Bester Monsanto
    Mnr G Keun OPOT
    Dr BJ Willemse Suider-Afrikaanse Sojavoedselvereniging
    Ms Weber US Soyfood Association

    Verskonings

    Mnr P Lubbe SASS
    Mnr GP de Beer LNR-IGG
    Mnr A Bennet Monsanto

  4. Personalia

    Geen.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar.

  6. Notule van die vergadering van 8 Mei 2003

    Hierdie notule is goedgekeur.

  7. Algemene oorsig

    1. Provinsies

      1. KwaZulu-Natal

        Mnr Du Plessis meld dat volgens die plaaslike koöperasie die gelewerde oes in KwaZulu-Natal 28 000 ton is, teenoor die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se skatting van 23 000 ton. Hy sê volgens statistiek van die Super Sojakompetisie die opbrengs gemiddeld tien persent laer as verlede jaar is. Mnr Du Plessis spekuleer dat 'n hoeveelheid sojabone dalk vanaf buitesilo's na KZN se silo's oorgedra is. Hy meld verder dat baie produsente traag is om saadbestellings te plaas.

        Dr Griessel sê ten spyte daarvan dat sojaboon- en sonneblompryse na-aan dieselfde is en sojaboon-opbrengste in die algemeen ietwat hoër is, verkies produsente om eerder sonneblom te verbou. Hy skryf dit toe aan die moeiliker verbouings­praktyke wat vir sojabone geld. Mnr Du Plessis sê produsente is meer vertroud met sonneblomproduksie. Mnr Pretorius voeg by dat dit makliker is om sonneblom te stroop. Mnr Bester beaam dat die verkope van sojaboonsaad traag verloop, wat hoofsaaklik aan die droogte te wyte is.

        Mnr Du Plessis berig dat volgens handelsbanke minstens twintig persent van die produsente nie weer vir finansiering sal kwalifiseer nie. Die voorlopige aanduiding is dat produsente minder mielies en meer ander gewasse soos droëbone wil aanplant.

        Mnr Killian noem dat produsente in die Bergville / Winterton-area ongeveer 30% meer sojabone as in die vorige jaar wil aanplant, maar dat dit droog is in die Noord-Natal.

      2. Mpumalanga

        Mnr Van Wyk meld dat volgens sommige produsente in die Kinross-distrik, presteer mielies ná sojabone aansienlik swakker en dat die produsente nou eerder koring na sojabone wil plant. Drr De Kock en Dreyer wys daarop dat sojabone 'n sterk fosfaat- en vogaptyt het. In dié betrokke omgewing is die moontlikheid ook sterk dat soetgras 'n koringland mag verdring. Mnr Havenga sê dat sojabone ook 'n sterk voeder op kalium is. Dr de Kock sê dat proewe met koring in Chrissiesmeer dalk reeds antwoorde op dié aspekte kan gee. Hy sê 'n beplande wisselboustelsel behoort gevolg te word.

      3. Noordwes

        Mnr van Vuuren meld dat in die provinsie sowat 700 ton sojabone onder droëland en besproeiing gelewer is, wat 1,85 ton/ha verteenwoordig en wat kommoditeite soos grondbone en droëbone oortref het. Plantvooruitsigte lyk meer belowend as vir die vorige seisoen. Hy noem die beraamde gelykbreekpryse vir droëland sojabone, sonne­blomsaad en mielies in die Lichtenburg-omgewing, vir die komende seisoen soos volg daaruit sien:

        Kommoditeit Gelykbreek-prys (Rand) Opbrengs
        Sojabone 1 985.00 @ 1,2 ton/ha
        Sonneblom 1 309.00 @ 1,5 ton/ha
        Mielies 805.00 @ 3 ton/ha (streek 2)

        Hy meld verder dat die verwagte koste om sojabone in die volgende seisoen in die Lichtenburg-omgewing te produ­seer R2 380 / ha is, wat beteken dat teen ± R2 000 / ton, die opbrengs aansienlik meer as een ton per hektaar moet wees om 'n lonende oes te kan realiseer.

        Die Voorsitter sê hy sal die UOVS-verslag ten opsigte van die vergelykende produksiekostes tussen mielies en sojabone in die Viljoenskroon- en Bethlehem distrikte, aan mnr van Vuuren voorsien.

        Besluit:

        1. Dat die Sojawerkgroep tydens die volgende vergadering, sojaboon-produksiekostes sal bespreek.

          Voorsitter

      4. Limpopo

        Die aangeleentheid is nie bespreek nie.

      5. Noord-Kaap

        Mnr Bester meld dat al meer produsente in die Luckhoff area in sojabone belangstel. Meer as 'n 1 000 sakkies saad (25kg sakkies) is reeds verkoop om onder besproeiing te plant.

        Besluit:

        1. Dat die Nasionale Oesskattingskomitee via mnr AJ Pre­torius versoek word om die Noord-Kaap Provinsie se soja­boon­skattings by die nasionale oesskattings by te voeg.

          Mnr Keun

      6. Vrystaat

        Die Voorsitter meld dat die Sojawerkgroep se siening oor die verwagte stand van sojaproduksie oor drie jaar, tydens die volgende vergadering bespreek sal word.

        Mnr Maree sê dit het die dag vantevore op sommige plekke begin reën, wat die belangstelling om te begin plant, laat opvlam het. Die feit dat silo-eienaars nou weer berg­ingsplek vir sojabone het, help ook die belangstelling aan.

        Besluit:

        1. Dat die Sojawerkgroep se siening oor die verwagte stand van sojaproduksie oor drie jaar, tydens die volgende vergadering bespreek word.

          Voorsitter
          Sekretaris

      7. Oos-Kaap

        Kennis word geneem dat hoofsaaklik proefaanplantings in dié provinsie gedoen word.

      8. Suidwestelike Distrikte

        Die aangeleentheid is nie bespreek nie.

      9. Gauteng

        Die aangeleentheid is nie bespreek nie.

    2. Oesskatting

      1. Oes- en oppervlakteskatting ten opsigte van Limpopo en Noordwes Provinsie

        Afgehandel onder item 7.1.

    3. Mikpunte: 2005, 2010 en 2020

      Staan oor vir bespreking tydens die volgende vergadering.

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Dr Griessel doen soos volg verslag.

      Wêreldproduksie van oliesade
      2003/2004 miljoen ton 2002/2003 miljoen ton
      Wêreldproduksie: 7 Oliesade 340,4 319,2
      – Sojabone 205,6 195,9
      – Sonneblomsaad en Canola 62,6 56,2
      – Ander 72,2 67,1
      Verbruik 335,7 318,5
      Eindvoorraad 54,6 49,9

      Die opbou van wêreldvoorrade het 'n negatiewe uitwerking op die internasionale prys van oliekoek.

      Dr Griessel verskaf 'n berekening van die verwagte gemid­delde gelande (Durban) soja-oliekoekprys vir Augustus, September en Oktober teen 47% proteïen. Dit blyk daaruit dat die geraamde ekwivalente plaaslike volvetsojaprys vir genoemde periode, R2 204 / ton is wat 'n produsenteprys van R1 693 / ton meebring.

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban
      Verskeping: R2 029   |   Wisselkoers: R7.26/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 2 029.00
      Spoorvrag na Randfontein 150.00
      2 004.00
      Waarde van volvetsoja 110% R2 204.00
      Prys aan produsent vir sojabone 1 693.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 70.00
      – Stoorkoste 60.00
      – Rente 16% (6 maande) 146.00
      – Ekstrusiekoste 130.00
      – 5% ekstrusieverlies 105.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone – R/ton R2 204.00

      Dr Griessel meld verder dat Argentinië die hoogste sojaboonproduksie in sy geskiedenis verwag en daar internasionaal 205 miljoen ton sojabone verwag word. Internasionale produksie van sonneblom- en raapsaad sal na verwagting ook toeneem. Met inagneming van 2003/2004 se verwagte verbruik, is die geprojekteerde internasionale sojaboon-eindvoorraad vir die einde van die seisoen, 4 tot 5 miljoen ton meer as vir die vorige jaar.

      Die Voorsitter bedank dr Griessel vir sy deeglike verslag.

    2. SAFEX

      Mnr Du Plessis berig dat tot en met Julie 2003 daar 470 ton sojabone op SAFEX verhandel is. SAFEX het aanbeveel dat die sojaboonbedryf die gebruik van SAFEX onder sy rolspelers aanmoedig. Indien genoeg kontrakte nie verhandel word nie, sal SAFEX genoop wees om gedurende Februarie / Maart 2004 dié kommoditeit by SAFEX te deregistreer.

    3. Verwerkingskapasiteit – Dr Willemse

      Staan oor.

    4. Vraag en aanbod – Mnr N Hawkins

      Die Voorsitter verwys na mnr Nico Hawkins (GSA) se inligtingsblad in bylae C van die sakelys – met spesifieke vermelding van nota 4, wat meld dat die plaaslike sojameel-behoefte 440 000 ton is, wat die ekwivalent van 536 000 ton sojabone is. Die Voorsitter wys daarop dat, bo-en-behalwe die plaaslike sojaboonproduksie, Suid-Afrika 'n verdere hoeveelheid sojaboon-oliekoek invoer. Dr Griessel sê volgens Doeane en Aksyns is gedurende 2002/2003 sowat 737 000 ton oliekoek ingevoer waarvan 582 000 ton soja-oliekoek was en dat daar in dié periode nagenoeg 28 000 ton sojabone ingevoer is.

      Mnr Vermaak stel voor dat mnr Hawkins met dr Griessel moet skakel om die korrekte inligting te bekom ten opsigte van onder andere plaaslike verbruik- en invoersyfers van sojabone en oliekoek, ten einde GSA behulpsaam te wees om meer betroubare bedryfstatistiek beskikbaar te stel.

      Mnr Potgieter sê ten spyte van die aansienlike oordrag­voorrade, die invoer van oliekoek en gevolglike afname in die verwerking van volvetsojabone, is die produksieruimte op 150 000 hektaar gestel. Hy noem dat verwerkers sukkel om sojabone te bekom en dat pryse van tot R1 850/ton behaal word.

      Mnr Vermaak wys op die situasie waar die plaaslike vraag en aanbod min of meer in balans begin beweeg het, in teenstelling met die vorige jaar, toe ongeveer die helfte van die oes oorgedra is. Hy sê dat Graan SA in oorleg met die PNS, die siening ten opsigte van produksieruimte behoort op te volg en 'n sterk boodskap daaroor aan die produsente moet oordra. Die Voorsitter wys daarop dat dr Willemse deur OPOT gekontrakteer is om oliesade-inligting op 'n maandelikse basis te publiseer, en hieroor genader kan word.

      Besluite:

      1. Dat mnr Hawkins met dr Griessel moet skakel om die korrekte inligting te bekom ten opsigte van onder andere plaaslike verbruik- en invoersyfers van sojabone en oliekoek, ten einde GSA behulpsaam te wees om meer betroubare bedryf­statistiek beskikbaar te stel.

        Mnr Vermaak

      2. Dat mnr Vermaak met dr Willemse sal skakel om die veranderde plaaslike marksituasie en produksie­geleent­hede ten opsigte van sojabone aan die produsente te kommunikeer.

        Mnr Vermaak

    5. Organiese verbouing – toeligting, Mnr Moffett

      Mnr Moffett spreek die vergadering toe oor die beginsels van organiese verbouing. 'n Dokument in dié verband met mnr Moffett se kontakbesonderhede sal by die notule aangeheg word en sal met die Sonneblom- en Soja­boonforum gedeel word. Hy noem dat die verbruikersvraag na organies-verboude produkte internasionaal toeneem. Hoe hoër die grond se waterdraende vermoë, hoe hoër is die potensiële opbrengs.

      Chemikalië word wel tot 'n mate saam met organiese verbouing toegedien en nutriënte soos kalk word ook wel gebruik. 'n Holistiese benadering ten opsigte van organiese verbouing moet geneem word. Hy sê dat 'n twaalf-jaar gewasrotasiestelsel sedert 1990 by hulle boerdery geïmplementeer is. Inset- en produksiekostes by organiese verbouing kan laer wees as by konvensionele verbouing. Waar sonneblom en sojabone van vier rye elk mekaar afwissel, word simbiose ondervind.

      Besluite:

      1. Dat die voorlegging van mnr Moffett by die notule aangeheg word.

        Sekretaris

      2. Dat die voorlegging van mnr Moffett aan die Sonneblom- en Sojaboonforum beskikbaar gestel word.

        Sekretaris

    6. "Texturised vegetable protein" (TVP)

      "Dr Willemse addressed the meeting on texturised vegetable protein. He reported that the food-soy conference focussed on the promotion of soy foods' image and consumption as well as improving the quality thereof in South Africa. He referred to the soybean processing diagramme in the annexed document included in the agenda, detailling the various products that could be made from soybeans.

      He said the TVP soy flour is used in the "mince chunk" foods. A detailled description of the applications thereof and of other soy components were included in the agenda.

      Miss Weber of the US Soyfood Association mentioned that the sales of soyfood in the USA were growing by about 10% per annum. In 1980, soyfood sales amounted to US $45 million and in 2002 it was US $3,65 billion. Meal replacements and protein powders are good sellers. Other popular products are energy bars, soy milk and patties. The market share of soy milk is about 25%. Some 25% of soy products contain organic ingredients.

      American people are of the opinion that soy food is healthy and tasty. The main promotional message to the consumer is that soy is tasty and secondly, healthy. The slogan used by the American Association is "Good taste, good health". It is experienced that the American consumers rather add soyfood to their diet instead of replacing it with potential substitutes. Soy is predominantly used for feed (±97%). The ±3% soyfood represents about 2,5 million tonnes of soy. Projects for the promotion of soyfood are funded by means of a statutory 'check-off' system, that is administered by the United Soybean Board. Processors also contribute voluntarily."

  9. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Super Sojakompetisie

        Die Voorsitter noem dat hy, mnr Du Plessis en mnr Joubert die uittrede van mnr Havenga met drr Kars en Louw sal bespreek. Mnr Havenga tree teen die einde van die maand uit diens van die Departement van Landbou en Omgewingsake (KZN). Hy sê dat die PNS mnr Havenga as 'n kundige en professionele kollega leer ken en waardeer het. Hy bedank hom vir sy positiewe en onvermoeide ywer waarmee hy die PNS se werksaamhede hanteer het, soos die geval was met die Super Soja­kompetisies. Hy sê mnr Havenga het 'n standaard gestel wat moeilik geëwenaar sal word, maar dat gepoog sal word om sy aktiwiteite op dieselfde vlak voort te sit. Mnr Havenga bedank die Voorsitter vir die woorde en sê dit was 'n voorreg om met die PNS saam te werk.

        Mnr Du Plessis handig 'n program vir Dundee se super sojadag uit, wat op 27 Augustus gehou sal word. Vir 26 Augustus is 'n super sojadag vir Cedara gereël. Die verslae van die twee streke word tans saamgestel. Op die Voorsitter se vraag, sê mnr Du Plessis dat mej Fryer steeds in die Suidelike Natalstreek betrokke is en sal voortgaan met die Super Sojadagkompetisie aldaar. Mnr Ndwande sal die Super Sojakompetisie aan die Noordelike Natalstreek hanteer. Die Voorsitter wens mnr Ndwande sukses toe met sy taak.

    2. Mpumalanga

      1. Verskillende proefaanplantings – terugvoering

        Mnr Van Wyk sê hy het reeds 'n voorlegging by dr de Kock ingehandig, rakende die proefaanplantings.

    3. Noordwes provinsie

      1. Verskillende proefaanplantings – terugvoering

        Mnr Pretorius sê dat strookproewe aangeplant sal word.

    4. Limpopo

      1. Springbokvlakte

        Mnr Van Wyk rapporteer dat die proewe te Towoomba en Palala steeds op dreef is.

        Hy sê hy en mnr Daan Coetzee van Potgietersrus onderhandel tans met boere in Crecy om strookproewe daar te doen. Die watertafel in Palala en in die Springbok-vlakte het met tot een-en-'n-halwe meter gedaal. Hy meld dat aartappelboerdery vir heelwat produsente minder lonend geword het, wat nou in sojaboonverbouing belangstel.

      2. Verskillende proefaanplantings

        Die aangeleentheid is onder item 9.4.1 bespreek.

    5. Vrystaat

      1. Oos-Vrystaat

        1. Rywydte proef

          Die aangeleentheid is nie bespreek nie.

      2. Noordwes-Vrystaat

        1. Algemeen

          Die aangeleentheid is nie bespreek nie.

      3. Suidoos-Vrystaat

        1. Algemeen

          Die aangeleentheid is nie bespreek nie.

      4. Sentraal Vrystaat

        1. Terugvoering ten opsigte van aanplantings te Glen

          Mnr Maree sê die grond by Glen is reeds vir die volgende seisoen bewerk. 'n Nuwe spuit en besproeiingstelsel is aangekoop. 'n Trekker is reeds vir die proefwerk aldaar geoormerk.

    6. Oos-Kaap

      1. Alexandria en Port Alfred

        Mnr Killian verhuis aan die einde van 2003 na die Oos-Kaap streek en sal dan voltyds verantwoordelikheid aanvaar vir ontwikkelingswerk in dié provinsie.

    7. Suidwestelike Distrikte

      1. George omgewing

        Aanplantings in die Suidwestelike distrikte is nog in sy kinderskoene.

    8. Gauteng

      1. Aanplantings

        Mnr van Wyk sê hy beoog om 'n paar klein perseelproewe te doen en statisties uit te lê met die oog op publikasie. Die Voorsitter noem dat PNS-kontrakteurs voortaan hulle beoogde proefwerk in projekvorm by die PNS se Tegno­logiekomitee moet indien.

    9. Algemeen

      1. Volvetsoja-dag – terugvoering

        Dr Griessel sê die proewe is steeds op dreef. Die saak word van die sakelys verwyder totdat dr Griessel vordering daaroor kan rapporteer.

        Besluit:

        1. Dat die aangeleentheid voorlopig van die sakelys afgehaal word.

          Sekretaris

  10. Nasionale cultivarproewe

    1. Algemene oorsig – terugvoering

      Die Voorsitter meld dat die nasionale cultivareva­luasiekomitee vergader op 9 September 2003. Hy sê die nasionale cultivar­proefresultate is belangrike inligting vir die sojaboonbedryf en daarom is dié komitee se werksaamhede van onskatbare waarde.

      Mnr Pretorius sê dat die proefdata tans verwerk word en dat die verslag gedurende Augustus aan die komiteelede beskikbaar gestel sal word.

    2. Inligting aan cultivarevaluasiekomitee vir bespreking

      Geen bykomende sake word na die Cultivarevalua­siekomitee verwys nie.

    3. GSA-protokol: evaluasie van nuwe cultivars

      Die Voorsitter verwys na bylae E waarin die "Konsep-protokol tussen GSA, SANSOR en die LNR vir die agronomiese evaluasie van nuwe cultivars" vervat is. Die Voorsitter meld dat die konsep-protokol billik blyk te wees. Mnr Pretorius sê slegs dié cultivars wat kommersieel verbou word en waarvan daar saad kommersieel beskikbaar is, word op die nasionale cultivarlys geplaas. Verder is baie min inligting oor ongetoetsde cultivars aan die LNR en die Nasionale Departement van Landbou bekend. Teen hierdie agtergrond, doen dr De Kock 'n wenk aan die hand, naamlik om 'n nota op die nasionale cultivarlys aan te bring dat die cultivars wat daarop gelys is, die enigstes is wat die nasionale cultivareva­lueringsproses geslaag het.

      Besluit:

      1. Dat die Sojabooncultivarevaluasiekomitee adviseer word om 'n nota op die nasionale cultivarlys aan te bring, dat die cultivars wat daarop gelys is, die enigstes is wat die nasionale cultivar-evaluerings-proses geslaag het.

        Mnr Du Plessis

  11. Saad

    1. Teelprogram – beplanning / vordering

      Die Voorsitter noem dat die PNS en OPOT beide befondsingsvennote van die LNR-IGG se teelprogram is. Daar is ooreengekom dat die vennote twee keer per jaar sal vergader. Die LNR-IGG het aangedui dat geen nuwe sojacultivars in die komende seisoen beskikbaar gestel sal word nie. Twintig lyne lyk belowend en oor sowat 'n jaar sal dit bekend wees of daar cultivars vir kommersiële doeleindes beskikbaar gestel sal kan word. Dr Griessel wys daarop dat die PNS se fokus is op droogte- en nematode-weerstandbiedenheid, kouetoleransie en roesbestandheid. Hy sê baie vordering is reeds met die teelprogram behaal. Die Voorsitter bedank mnr Pretorius, dr Dreyer en die res van die LNR-IGG se personeelkorps vir hulle goeie werk.

    2. Roundup Ready saad en andere – beskikbare inligting

      Mnr Bester noem dat Monsanto sal voortgaan om produsente ingelig te hou oor nuwe cultivars, beskikbare Roundup Ready cultivars en produksiepraktyke. Inligting sal gereeld in onder andere Pro-Agri en die Landbou­weekblad gepubliseer word.

      Die Voorsitter wys daarop dat die aanvanklike versoek was dat Monsanto 'n dokument moes saamstel om die voor- en nadele van Roundup Ready sojabone aan die produsent te verduidelik, asook dat mnr Bennet 'n inligtingsdokument in dié verband vir alle betrokke partye moes saamstel. Die Voorsitter sê dat laasgenoemde dokument vir kommentaar onder die lede versprei sal word, wat tydens die volgende vergadering vir bespreking sal dien.

      Dr De Kock verwys na mnr du Plessis wat tydens vorige vergaderings genoem het dat produsente meer te wete wou kom oor die stelsel van Roundup Ready, veral ook waar ander saadmaatskappye met GM-sojabone begin eksperimenteer. Hy noem dat mnr Bennet op 'n inligtingsdag te Loskop die Roundup Ready beginsel, die affektering van produksiestelsels, asook die heffingstelsel aan produsente verduidelik het. Mnr Bennet het verder oor die moontlike inskakeling van Pannar verslag gedoen.

      Besluite:

      1. Dat mnr Bester vir die volgende vergadering 'n dokument moet voorberei en aan die vergadering moet voorhou wat onder andere die Roundup Ready beginsel, die affektering van produksiestelsels, asook die heffingstelsel ver­duidelik – geskoei op mnr Bennet se onlangse praatjie en transparante te Loskop.

        Mnr Bester
        Mnr Bennet

      2. Dat mnr Bester met mnr Vermaak moet skakel om inligting rakende Roundup Ready en ander relevante inligting soos in die Pro-Agri gepubliseer aan hom beskikbaar te stel, vir moontlike publikasie in Graan SA.

        Mnr Bester
        Mnr Vermaak

  12. NAMPO-Oesdag

    Die sinvolheid van die PNS en die Sojawerkgroep se betrokkenheid by die NAMPO-Oesdag sal tydens die volgende vergadering bespreek word. Volgende jaar sal die oesdag vanaf 18 tot 21 Mei plaasvind.

  13. Navorsing

    1. Roes

      1. Roes Taakspan – terugvoering / beplanning, vergadering 24 Julie 2003

        Dr De Kock rapporteer dat die Roestaakspan op 24 Julie te Bothaville vergader het. Twee aanbiedinge van litera­tuuroorsigte is gelewer, wat bymekaar gevoeg en gekorrigeer sal word. 'n Inligtingspamflet is aan produsente beskikbaar gestel en sal met die nuutste inligting op datum gebring word. Alle betrokke navorsers het oor hul werksaamhede gerapporteer.

        Daar is onder andere gerapporteer dat geen roes wes van die Drakensberg voorgekom het nie. Dit het intussen ook aan die lig gekom dat roes wat in Brasilië uitgebreek het, ook Phakopsora pachyrhizi is. Dit is ook bevestig dat Punch die siekte die beste beheer het. Die ontwikkelingstempo van die siekte verskil tussen cultivars. By langer groeiers is die siekte se ontwikkelingstempo stadiger; by later plantdatums kom meer roes voor as by vroeër plant­datums. Hoewel nouer rywydtes meer roes meebring as wyer rye, is die verskil in opbrengs te min om dit as 'n roesbeheermeganisme te gebruik. In die teelprogram is 126 isolasies te Cedara geplant, waarvan 76 enkel­plantseleksies gemaak is. Een lyn is dieselfde as dié wat in Zimbabwe getoets was en het 'n goeie weerstand. 'n Tweede lyn met 'n redelike weerstand is ook geïdentifiseer. Die program sal herhaal word, omdat onvoldoende besmettings op aanplantings te Cedara verkry is.

        Dr de Kock sê dr Caldwell het soortgelyke resultate as in die vorige jare behaal. Vier Monsanto-lyne is in potte in glashuise geplant, wat op verskillende stadiums bespuit is. Twee lyne toon minder siektes en kan as tolerant beskou word. Hy sê dr Sakkie Pretorius het bevind dat akkerbone wat aan roes blootgestel was, geen infeksie getoon het nie.

        Dr de Kock wys verder daarop dat mnr Killian se proef as basis sal dien vir volgende jaar se aanplantings en dat die nasionale cultivarproewe daarmee saam geplant sal word. Hopelik sal die cultivars ná die volgende seisoen ten opsigte van roesweerstandbiedendheid gerangskik kan word, omdat drie jaar se inligting van mnr Killian se proewe beskikbaar sal wees asook moontlik 'n jaar se resultate uit die nasionale cultivarproef.

        Met verwysing na die nasionale cultivarproewe, is aanbeveel om seker te maak dat 'n hoër roesbesmetting verkry word deur van spreader rows gebruik te maak. Prof Pretorius het drie besmettingstipes geïdentifiseer en gevind dat daar meer as een ras is, maar die verskille tussen die rasse is te min om verdere navorsing daaroor te doen. Telers moet seker maak dat hulle altyd dieselfde ras of isolaat vir besmetting gebruik.

        Volgende jaar se Roestaakspan-vergadering is vir 22 Julie geskeduleer. Mnr Potgieter noem dat roes onlangs in Bolivië gerapporteer is.

    2. Sclerotinia

      1. Proefwerk - Dr McLaren en mnr Killian - terugvoering

        Kennis word geneem dat terugvoering gegee sal word op 23 September 2003 tydens 'n vergadering van die Sclerotinia­werkgroep.

  14. Sojaboonforum

    1. Terugvoering van vergadering van Sonneblom- en Sojaboonforum

      Geen.

    2. Sake om na die volgende Forum te verwys

      Mnr Keun sal die relevante aspekte uit hierdie notule, op die Forum se sakelys plaas. Mnr Du Plessis versoek dat "SAFEX" by die Forum bespreek word.

  15. Ander sake

    1. Inligtingsdae 2003 – terugvoering

      PNS-kontrakteurs word versoek om datums vir inligtingsdae so gou doenlik aan die PNS te verstrek. Geskeduleerde datums vir die res van die jaar is soos volg:

      26 Augustus 2003 Super Sojadag te Cedara
      27 Augustus 2003 Super Sojadag te Dundee
      23 September 2003 Sclerotiniadag

  16. Toevoegings tot sakelys

    1. "Effect of soybean growth and development on rust development" – ter inligting

      Die inligtingstuk is vir kennisname by die sakelys as bylaag G ingebind.

    2. "Soy Food Conference"

      Die program vir 5 en 6 Augustus 2003 is ter inligting by die sakelys as bylaag H ingebind.

    3. PNS webtuiste

      Kennis word geneem van die PNS se webblad, naamlik www.proteinresearch.net

    4. EU jongste voorstelle oor GM-voedsel / -voer

      Kennis word geneem van bylaag I in die sakelys, insake bogenoemde aangeleentheid.

  17. Datum van volgende vergadering

    'n Sojawerkgroepvergadering sowel as 'n Kontrakteurs- en Medewerkerswerkgroepvergadering word vir 29 September 2003 geskeduleer.

  18. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die lede vir hul deelname en wens hulle 'n voorspoedige terugreis toe, waarna hy die vergadering om 14:15 verdaag.