Newsletters / Archives / Canolafokus Archives / 2004 Canolafokus No 22

CanolaFokus logo

Canolafokus 22   Maart 2004

Suid-Kaap Canola Kompetisie 2003

Charl van Rooyen
Departement van Landbou: Wes-Kaap, Posbus 43, Caledon 7230

Inleiding

Die organiseerders van die 2003 kompetisie se doelstellings was:

  • Wenners met 'n saadopbrengs van bo 2 ton/ha.
  • Vestiging van canola in die Suid-Kaap as wisselbougewas.
  • Oplossings vir onkruidprobleme te vind.

Daar is geslaag met die eerste doelwit aangesien van die deelnemers meer as twee ton per hektaar gehaal het. Ons sê geluk aan DC Fourie (Koppies), JJB Gilomee (Flooikraal), Paul Neethling van Serjaensrivier en Peter Delport (Franskraal), wat opbrengste bo 2 ton/ha gehaal het.

Dit kan nou met sekerheid gesê word dat canola gevestig is in die wisselboustelsels van die Suid-Kaap en dat dit 'n uitkoms bied vir die saaiboer wat sukkel met onkruidweerstand.

Die sukses met simasien by triasienbestande cultivars bied uitkoms aan die graanprodusent met raaigrasweerstandsprobleme. Lande was steeds teen oestyd nog skoon en daar was geen probleme met opvolggewasse nie. Die verbouing van koring na canola werk, maar dit is egter belangrik dat die koring dan 'n laat kopbemesting van stikstof (N) moet kry om te voorkom dat die hoë opbrengs van koring na canola nie benadeel word as gevolg van lae proteïen nie.

Klimaat

Die jaar het begin met goeie vroeë reën en selfs in die oostelike dele is goeie reëns in Maart aangeteken. Die onderstaande tabel dui aan die hoeveelheid en verspreiding van reënval. Reënval gedurende Junie en Julie was minder gunstig en het 'n negatiewe invloed op plantegroei en plantestand gehad veral by die laat gesaaide canola. Alhoewel die laat reën in Augustus stand met oestyd ewe goed laat lyk het, was daar duidelik hoër chlorofiel% by die stande wat dunner was aan die begin.

Tabel 1
Reënval Maart tot Oktober 2003
Maand Boontjieskraal Serjaensrivier Koppies Franskraal
Maart 84.9 165.2 101 80
April 15.6 23.2 27 13
Mei 61.6 62.8 50 57
Junie 11.6 14.4 15 3
Julie 18.5 34.8 21.7 14
Augustus 137.4 160.8 129 144
September 29.2 48 37.5 28
Oktober 45.3 22.4 17 20
Totaal 404.1 531.6 398.2 359

Chlorofiel-inhoud het gewissel so tussen 1 en 12%. Dit kom ooreen met wat in die buiteland gevind is. Dit is wenslik om die chlorofiel-inhoud voor oes te laat toets indien canola aanvanklik yl gevestig het en later kompenseer as gevolg van goeie reën. Indien die chlorofiel-inhoud te hoog is moet sodanige canola liefs vir voerdoeleindes gelewer word waar daar nie penalisasie vir hoë chlorofiel is nie.

Slak- en insekskade

Kolle met baie swak tot geen stande canola het veral teen die hellings by sommige produsente voorgekom. Daar is putvalle uitgeplaas op verskeie lokaliteite in die Caledon gebied om vas te stel watter organismes voorkom in gebiede met skade aan canola-stande.

Tabel 2
Canola putvalle in Caledon
Plaas Produsent Beskrywing Suiderbreedte Oosterlengte
Witkop Ters Maree Damkamp 34º10,702 19º15,197
Ysbrandtskop H Schonfeldt Proewe 34º14,425 19º34,559
Onder strooi 34º14,425 19º34,559
Ysbrandtskop Hein Human Gesleep 34º14,179 19º34,529
In strooi 34º14,179 19º34,529
Ysbrandtskop H Schonfeldt en Hein Human James Milne 34º16,474 19º34,309
Herwin PJ Delport Proewe 34º07,142 19º29,439
Krige Schonfeldt Agter K se huis 34º12,599 19º35,295
Roodebloem CRK Proewe 34º14,188 19º31,839
Grens 34º14,988 19º31,779
Gebrand 34º14,018 19º32,000
Langhoogte SJ le Roux Gekrap / saai 34º12'46" 19º16'16"

Vangste in die putvalle het aangedui dat daar wel 'n verskeidenheid van organismes teenwoordig is. Die probleemorgamismes wat egter by al die persele voorgekom het gedurende die seisoen was naakslakke, koffiepitte en "krimpvarkies" (Isopoda). Daardeur wil nie te kenne gegee word dat ander insekte of faktore nie ook kon bygedra het tot die probleem nie maar wel dat al bogenoemde enkel of gesamentlik deel was van die kolle wat enekele produsente in canola-lande ondervind het. Die vangste in die putvalle het gelei tot ander sienings van die probleem. Ondersoeke het voorts aan die lig gebring dat die "krimpvarkies", wat primêre ontbinders is en in die verlede van blaam onthef is, die grootste skade in veral lupiene veroorsaak het deurdat hulle die ontkiemende saad sowel as die jong plantjies opvreet. Daar is ook gekyk na kewers, want verskeie tipes is in die putvalle gevang.

Die vangste van naakslakke (doplose slakke) het gelei tot 'n ondersoek deur Dr W. Sirgel van die Universiteit Stellenbosch. Hy het drie verskillende species geïdentifiseer wat bekend is dat hulle skade aan landbougewasse aanrig. Die afgelope paar jaar was daar telkens canola en lupien lande wat nie goeie stande gelewer het nie. Die probleme is eers toegeskryf aan verkeerde saaitegnieke, swak saad en 'n menigte ander moontlikhede. Vanaf April is putvalle op Roodebloem en nog tien ander lokaliteite in die CRK-gebied uitgeplaas. Daar is verskeie insekte asook drie slakspecies gevang. Die putvalle in lupienlande het duidelik meer koffiepitte en isopoda "krimpvarkies" gevang as by ander gewasse. Koffiepitte is toe na die glashuis geneem om vas te stel of hulle wel lewende plante vreet. Dit was duidelik dat koffiepitte canola in die glashuis uitroei. Die slakspecies wat gevang is, is almal uitheemse species naamlik Milax gagates, Deroceras reticulatum en Deroceras panormitanum. Hierdie slakke is gevang in putvalle op die tien lokaliteite vanaf April tot 3 November. Dit is duidelik dat naakslakke in groepe saambeweeg en nie elke nag wei nie. Daar is twee slakpille getoets, metaldehied en metiokarb. Beide middels het slakke gedood. Onthou dat slakpille slegs 50% van die populasie kan dood.

Die beste beheermetode vir slakke is 'n aanpassing in verbou­ingspraktyke. Ideaal sou wees dat die canolaland diep gewerk word. Dit kan 'n saaioperasie wees met 'n planter waar die mespunt vervang word met 'n breër skaar vir die canola-, lupien- of medicland. Die grond moet versteur word tot verkieslik 300 mm diep. Daarna moet alle groen materiaal op die land doodgespuit word tot saaityd. Die toediening van slakpille moet geskied direk na saai/plant. Toediening van slakpille wanneer daar groen vreetbare materiaal op land is, werk nie. Slakke verkies groenmateriaal bo slakpille. Slakke word slegs verlam deur die slakpille en brand die son hulle dood aangesien hulle nie in die koelte kan skuil nie. Indien daar genoeg plante is waar onder hulle kan skuil kan die slak deur middel van slymafskeiding homself ontgif. Die slakke wat in die Suid-Kaap gevang is se kleur was aansienlik donkerder as wat die foto's toon.

Figuur 1
Slakke, isopodas en insekte
Bronne: JM Laubscher Elsenburg, Canola council of Canada & NDSU Extension Service
Deroceras panormitanum

Deroceras panormitanum

Milax gagates

Milax gagates

Deroceras reticulatum

Deroceras reticulatum

Swartmieliekewer

Swartmieliekewer

Groentesnuitkewer

Groentesnuitkewer

Isopoda (krimpvarkie)

Isopoda (krimpvarkie)

Koffiepitkewer

Koffiepitkewer

Grondkewer

Grondkewer

Swartmieliekewerlarwe

Swartmieliekewerlarwe

Swartstam probleme

Dit het gedurende die seisoen gesneeu in die middel Rûens en groot dele van die canola aanplantings het gaan lê. Die meeste cultivars het weer orent gekom maar by verskeie lande was dit die begin van swartstam. Heelwat deelnemers wat 2 ton/ha verwag het, is uiters teleurgesteld. Daar is gevalle waar produsente so min as 850kg/ha geoes het terwyl die grootste deel van die oes op die grond lê. Lande met ernstige swartstam besmetting het voorgekom en daar moet nou aksies geneem word om dit te voorkom.

Volgens literatuur is daar 2 tipes swartstam wat voorkom. Die eerste is 'n matige besmetting wat gewoonlik laat in die seisoen plaasvind en oppervlakkige letsels op die stam veroorsaak en selde oesverlies tot gevolg het. Die aggresiewe tipe kan reeds tydens ontkieming die plant infekteer of op enige later stadium. Dié tipe veroorsaak erge stamkankers en omval van plante. Cultivar proewe in Suid-Australië se data (DV Phillips & D Spradlin 2001) dui op groot verskille (7-90%) in besmetting. Produsente moet hulle laat lei deur die resultate van cultivars in hul omgewing oor die afgelope tyd en seker maak dat 'n cultivar gekies word met lae swartstam risiko in die praktyk en nie net op papier nie. Kies cultivars met 'n "horisontale" of veld weerstand en nie enkelgeen weerstand soos die sylvestrisgeen weerstand nie. Produsente kan onafhanklike adviseurs by die landboubesighede nader indien hulle nog twyfel oor saadbestellings vir 2004.

Figuur 2
Swartstam verwoes canola

Swartstam verwoes canola

Bemesting

Grondontledings van die 2003-kompetisie dui aan dat die swaelinhoud van gronde steeds 'n probleem bly. Slegs 20% van die deelnemers se swael-inhoude van die kampe was aanvaarbaar (7-12mg/kg). Die hoë swawelbehoefte van canola moet in ag geneem word in die voorsaai bemestingbesluite en veral met die kopbemesting 30 dae na opkoms is aanvulling van tekorte belangrik. Deelnemers in die kompetisie het gemiddeld 10-15kg S toegedien en dit moet volgens 2002 en 2003 se ontledings 15-20kg/ha gewees het. Maak seker dat die boodskap by die bemestingsadviseur uitkom. Die produsente wat vloeibare kunsmis aanwend kan swael laat inmeng, dis veral vloeibare P wat min tot geen swael bevat.

Uit verskeie plaasbesoeke was dit weereens duidelik dat canola wat vroeg gesaai is die beste gevaar het. Die eerste stikstofkopbemesting asook swaelaanvulling moet ongeveer 30 dae na opkoms geskied sodat sterk plante gevorm kan word wat gelyk blom en rypword. Dit vergemaklik platsny en verminder die risiko van groen pitte in die monster.

Die riglyne van die Canola-werkgroep beveel 'n pH van 5.5 of hoër aan. Slegs 40% van die deelnemers het hierdie regstelling korrek gemaak. In 'n wisselboustelsel waar gars en peulplant weiding voorkom kan die pH beslis nie toegelaat word om tot so laag as 4.8 te val nie. Die pH bepaal die opname van alle voedingstowwe en moet eerste reggestel word. Dit help nie om blaarbespuitings te gee met allerhande stimulante as die basis van bemesting nie reggestel is nie.

Die fosfaatstatus van die gronde was by 80% van die deelnemers 36dpm of hoër en selfs die laagste ontleding was nie uiters laag nie. Bemesting met fosfaat word duidelik nie afgeskeep nie. Op die skalie gronde is daar geen kalium gebreke gevind nie. Die koolstofinhoud van die gronde was gemiddeld 2.11%. Dit dui op minimum bewerking wat slaag in 'n wisselboustelsel met verskeie plantmetodes.

Tabel 3
Produksiekoste van deelnemers
Gemiddelde syfers per hektaar van sewe deelnemers
Bruto Produkwaarde 3 318
Direk toedeelbare uitgawes
Saad 150
Bemesting 759
Onkruidbeheer 223
Swam- en insektebheer 85
Bewerking 329
Diverse uitgawes 78
Rente op produksiekoste 119
Totale direk toedeelbare koste 1 823
Marge na direk toedeelbare koste 1 495
Marge na direk toedeelbare koste / ton 713
Nie-direk toedeelbare koste 553
Totale koste / Ha 2 376
Marge na gespesifiseerde koste ± 1.9 ton / ha 942

Produksiekoste vir 'n spesifieke kamp canola kan nie gebruik word om 'n algemene koste van canola te bereken nie. Die kostes is slegs 'n aanduiding van wat op 'n spesifieke kamp vir een jaar gebeur het. Sekere deelnemers het hoë bemestingsbehoeftes gehad a.g.v. die geskiedenis van die kamp, soos byvoorbeeld lae pH, lae fosfaat of lae swael. Regstellings kan dan ook gemaak word slegs vir die canola jaar of vir die langtermyn. Die canola mag opgevolg word deur koring met lusern wat ondergesaai word. In so 'n geval kan kalk en fosfaat aangevul word om die leeftyd van die lusern te hou. Die deelnemer mag ook besluit om die kamp se P-status te verhoog en al hierdie faktore mag die koste so deur die onderstaande syfers beïnvloed. Kampe met hoë P-vlakke sal dus beter (hoër marges) realiseer.

Die bestaande meganisasieuitleg op elke plaas verskil en sekere skaalvoordele en saaimetodes, veral in die oorgangsfase waarin meeste Rûensprodusente verkeer mag goedkoper of duurder syfers tot gevolg hê.

Die brutoprodukwaarde van R3 318 verteenwoordig 'n gemiddelde opbrengs van ongeveer 1.9 ton/ha vir die boonste sewe deelneemers van die kompetisie. Dit is 'n uitstekende prestasie en die canolaprodusente kan voorentoe net beter doen.

Wenners

Dit is dan vir my aangenaam om mnr DC Fourie van Koppies as 2003 se wenner van die hoogste opbrengs aan te kondig, met mnr JJB Gilomee van Vlooikraal as naaswenner.

Die wenner van die beste brutomarge skild is mnr Peter Delport van Franskraal met mnr DC Fourie van Koppies in die tweede plek.

Alhoewel hy nie deelgeneem het aan die kompetisie nie wil ek mnr D de Kock van Quarry gelukwens met sy hoë opbrengs van 2.9 ton/ha wat hy behaal het.

Bedankings

Hiermee net dank aan die medewerkers vir die ondersteuning vir die 2003 kompetisie:

  • Pierre Laubscher – BNK
  • Johan Lusse – CRK
  • Jannie Bruwer – SSK
  • Pieter Plaatjies – Departement Landbou Wes-Kaap
  • Carel le Roux – Roodebloem (CRK)

Dis aangenaam om met 'n sterk span manne die canola-bedryf verder te neem. Voorts ook dank aan die manne van die chemiese en kunsmisbedrywe wat met ywer canola bemark het in die Suid-Kaap. My persoonlike dank aan die saadhandelaars vir hul entoesiasme om die bedryf te ondersteun op alle vlakke. Aan die kopers van canola kan ek net sê dat die goeie verhouding wat daar heers in die bedryf hoog op prys gestel word. Mag 2004 groot winste inhou vir alle rolspelers in die canola bedryf.

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Prof A Agenbag   Izane Leygonie
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter