Newsletters / Archives / Canolafokus Archives / 2006 Canolafokus No 29

CanolaFokus logo

Canolafokus 29   Maart 2006

Indeks van artikel

Swartland Canola Kompetisie 2005

Sakkie Slabbert
Departement Landbou: Wes-Kaap

Algemeen

Tydens die 2005 seisoen het 19 produsente ingeskryf vir die kom­petisie. Gelukkig was die toestande gedurende 2005 baie gunstig en kon al die deelnemers hulle canola tot volwassenheid laat groei en oes.

Die verdeling van die deelnemers in die verskillende voorligtingswyke was as volg:

Malmesbury voorligtingswyk 6
Moorreesburg voorligtingswyk 9
Piketberg voorligtingswyk 4

Hierdie kompetisie is eintlik 'n voorligtingsaksie om die verbouing van canola in die Swartland te bevorder. Canola verbouing het reeds in 1993 in die Swartland begin, met baie hoë opbrengste in 1996, wat aanleiding gegee het tot die gewildheid van canola.

Sedertdien het die oppervlaktes onder canola baie gewissel as gevolg van wissellende inkomstes uit canola wat weer beinvloed is deur die wisselende prys van canola. Die oppervlakte wat onder canola verbou word, word ook beïnvloed deur koring se winsgewendheid. In 2004 is ongeveer 12 500ha in die Swartland gesaai. Die grootste toename in oppervlakte was in die Malmesbury voorligtingswyk. Na skatting is in 2005 ongeveer 14 000ha canola in die Swartland gesaai. Hierdie toename was hoofsaaklik in die Malmesbury wyk en die hoër reënvalgebiede van Porterville.

Die belangrikste aspek van hierdie kompetisie is nie wie die wenners gaan wees nie, maar die geleentheid wat dit skep om kennis en ondervinding uit te ruil en verskillende produksiepraktyke te besigtig. Hier kry boere en landboukundiges die geleentheid om gedagtes, kennis en ondervinding uit te ruil.

Die kompetisie koördineerder het in samewerking met die CBK en PNS 'n geslaagde canola inligtingsdag by Langgewens gehou. Die volgende aspekte is bespreek: canola cultivars, bemesting, onkruidbeheer, bemarking en swartstam. Tydens die Maart SKOG-dag is die kompetisie resultate bespreek. Tydens die September SKOG-dag is daar demonstrasie en cultivar proewe besigtig. Die resultate van hierdie kompetisie is egter tydens verskeie plaasbesoeke bespreek.

Inligting ingewin gedurende seisoen vir die kompetisie is onder andere, cultivars geplant, plantdatums, plantpopulasie, bewerkingspraktyke toegepas, grondontledings, bemesting toegedien en onkruid- en insektebeheer praktyke.

Omdat dit te moeilik is om eweredig deur 'n land klein blokkies te oes vir 'n opbrengsbepaling is besluit om die totale opbrengs van die land te meet. Die lande is feitlik almal met 'n GPS opgemeet om sodoende die opbrengs akkuraat te bepaal. Hier het ons dus staat gemaak op die deelnemers se integriteit om die ware opbrengs te bepaal. Al nadeel van hierdie metode is dat die boer met 'n groot land dalk 'n laer opbrengs per hektaar kan realiseer as die een met 'n kleiner land. Die vog persentasie waarby geoes is, is by die boere verkry, maar geen olie en proteïen bepalings gedoen weens kapasiteitsprobleme.

Die gemiddelde opbrengs (1,30) vir 2005 was ongeveer 0,65 ton/ha hoër as 2004 se gemiddelde opbrengs (0,65 ton/ha). Hierdie hoër opbrengs is hoofsaaklik te wyte aan baie beter reënvalverspreiding gedurende 2005 as 2004. 'n Ander bydraende faktor is dat die meeste deelnemers hulle canola vroëer kon saai weens die vroeë reëns in April en gepaardgaande opvolg reëns. Daar is steeds 'n groot wisseling in opbrengs van 0,6 ton tot 2,04 ton, maar die gemiddelde is 'n goeie weerspieëling van die canola opbrengste in die Swartland. Die gemiddelde opbrengs in 2002 was egter die hoogste nog, naamlik 1,49 ton/ha.

Alhoewel ons weet dat klimaatstoestande, veral reënval, baie verskil in die Swartland, wil ons hierdie geweldige variasie van opbrengste probeer verminder. Ons wil dus poog dat opbrengste in hoë reënval gebiede minder van mekaar moet verskil en so ook in laer reënval gebiede.

Al die bewerkings uitgevoer en middels gebruik se kostes is in berekening gebring om die produksie koste per hektaar te bereken. Die kompetisie word volgens twee maatstawwe beoordeel naamlik bruto marge per hektaar en graanopbrengs per hektaar.

Klimaat

Volgens grafieke 1 en 2 was die reënval redelik normaal maar weereens onder normaal in die Pools (Rooikaroo) – Koringberg gebiede. Alhoewel nog steeds onder normaal, is goeie neerslae in April gemeet. Die belangrikste was dat daar na die eerste reëns weer opvolg reën was binne 'n week.

Reënval gedurende Mei was ook onder normaal en hopeloos te min in die Rooikaroo–Koringberg gebiede. In die res van die Swartland was daar egter gereelde opvolg buie in Mei wat die klein ontkiemende plante aan die lewe gehou het. In Junie was die reënval normaal en was feitlik dieselfde as die langtermyn gemiddelde deur die hele Swartland.

Julie se reënval was weer vêr onder normaal met bo-normale temperature. Sommige van die groot canola plante was duidelik onder vogstremming. Dit het eers weer in die tweede helfte van Julie begin reën. Bo-normale reën is geduremde Augustus in die hele Swartland aangeteken, en grondvogtoestande was goed.

Na Augustus se goeie reëns het die reën in September vir feitlik vier weke weggebly in die droër gebiede, maar in die hoër reënvalgebiede was daar ligte reënbuie van 2mm tot 5mm gedurende hierdie vier weke. Gedurende die derde week van September het die temperature ook taamlik gestyg.

As 2005 met 2002, wat 'n goeie canola jaar was, vergelyk word, was daar in Julie en September tye van vogstremming wat nie so erg was in 2002. Hierdie vogstremmingstye was veral tydens blomsteel verlenging (begin blom) en saadvorming.

Canola opbrengste is ook uitgedruk as 'n persentasie van die gemiddelde koringopbrengs van die deelnemers, om die risiko van canola verbouing in 'n goeie jaar soos 2005 te illustreer (Tabel 3)

Alhoewel in die Piketberg/Porterville omgewing slegs twee deel­nemers was, het hulle nie te sleg gevaar nie, want hulle opbrengste was gemiddeld 52% van die gemiddelde koring opbrengs. Dit was hoër as in die Malmesbury omgewing. Dit beteken dat as jy moeite doen met canola kan jy selfs in droër gebiede goed vaar. Hierdie tabel bewys ook dat baie produsente nie ernstig is met canola verbouing, want as die canola opbrengste in die Piketberg–Porterville omgewing 52% van die koring opbrengste is, kan dit nog meer wees in die Malmesbury omgewing.

Tabel 3
Opbrengs van canola as persentasie van koringopbrengs
Malmesbury
Gemiddelde koring opbrengs = 2.63 t/ha
Morreesburg
Gemiddelde koring opbrengs = 1.67 t/ha
Piketberg
Gemiddelde koring opbrengs = 1.17 t/ha
Boer Canola as % van koring Boer Canola as % van koring Boer Canola as % van koring
Canola (%) kg/mm reën Canola (%) kg/mm reën Canola (%) kg/mm reën
4 39 4.5 1 43 4.7 9 44 4.0
5 56 4.25 2 36 3.34 10 60 3.61
6 52 5.2 3 56 4.9 11 25 3.9
7 18 1.3 8 47 4.3 16 81 5.93
12 36 3.2 14 40 4.1
13 43 3.1 15 36 4.1
17 56 4.5
18 44 3.8
19 40 3.2
Gem 41 3.59 Gem 44 4.1 Gem 52 4.36

Daar word beklemtoon dat die tabelle se inligting as 'n moontlike tendens beskou moet word, en nie as definitiewe resultate, omdat klimaat en ander faktore ook 'n rol kan speel.

Plantvoedings-status van die grond

Die 2005 seisoen het goed afgeskop met die reëns in April en by Junie was die meeste canola, veral dit wat in April gesaai is, goed gevestig. Die meeste produsente het dus voor die einde van Junie hulle bo-bemestings gegee.

Twee deelnemers het glad nie bo-bemesting gegee nie en twee deelnemers het geen aanvangsbemesting gegee nie. Een deelnemer het geen bemesting gegee en nogsteeds 1 ton/ha ge-oes. Hy het egter canola met die eerste reëns in April gesaai wat dalk die rede is waarom canola onder hierdie omstandighede relatief goed gedoen het.

In Tabel 4 kan gesien word dat opbrengste beter as die gemiddelde verkry is indien 30%-50% van die stikstof bemesting met saai gegee word, en die res as bo-bemesting. Die teendeel is ook waar naamlik dat daar ten minste 30% met saai gegee moet word sodat goeie sterk plante kan vestig. Selfs in 2002 het die deelnemers wat 30%-40% stikstof met saai gegee het, 59% beter opbrengs as die gemiddelde verkry het.

Tabel 4
Die verdeling van N met plant
2002 2005
%N Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
0-30% 1.45 -2% 1.25 -4%
31-40% 2.36 59% 1.5 15%
41-50% 1.24 -16% 1.5 15%
51-60% 1.58 -7% 1.2 -8%
61-70% 1.56 5% 1.1 -15%
70%- 0.00 - 0.9 -31%
Basis Opbrengs 1.49 1.3

Die meeste deelnemers het tussen 60-100kg stikstof per hektaar toegedien. Vier deelnemers het minder as 50kg stikstof per hektaar toegedien, een het selfs geen stikstof toegedien nie. Slegs een deelnemer het meer as 100kg N per hektaar toegedien. Daar is egter nog heelwat wisseling in die hoeveelheid stikstof wat toegedien word en elkeen dien toe na eie goeddunke.

Die tendense (Tabel 5) wys egter dat die deelnemers wat tussen 60 en 100kg toegedien het bo-gemiddelde opbrengste gerealiseer het. Die deelnemer wat geen stikstof bemesting gegee het nie, het baie vroeg gesaai en dit blyk dat saaityd baie gewig dra tot hoër opbrengste. Een deelnemer het meer as 100kg N gegee, maar as 'n bo-bemesting. Hierdie bemesting was weer te laat want die plante was basies vir 6 weke sonder voeding.

Tabel 5
Totale N
2002 2005
Totale N Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
0-30 0.81 -38%
31-50 0.00 - 1.16 -11%
51-60 0.00 - 1.0 -23%
61-80 1.10 -26% 1.43 10%
81-100 1.55 4% 1.43 10%
101+ 1.57 6% 1.1 -15%
Basis Opbrengs 1.49 1.3

As 2005 met 2002 vergelyk word blyk dit dat die deelnemers minder in 2005 bemes het. Die hoër bemestingspeile in 2002 het blykbaar meer invloed gehad as gevolg van reënval verspreiding.

Saadbedvoorbereiding en aanplantings

Ses van die deelnemers het canola geplant en 13 het dit breedwerpig uitgestrooi. Die wat geplant het, het 'n effens beter opbrengs gekry. Indien daar egter na Tabel 6 gekyk word kan gesien word dat daar geen groot verskille tussen die twee metodes is nie. Ook in 2002 was daar nie groot verskille nie.

Tabel 6
Die invloed van plantmetode
2002 2005
Metode Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
Strooi 1.49 0% 1.26 -3%
Planter 1.47 -1% 1.83 6%
Basis Opbrengs 1.49 1.3

Minder as die helfte van die deelnemers het hulle canola saad teen insekte behandel. Die deelnemers wat hul saad wel behandel het, het effens beter gedoen as die wat nie behandel het volgens Tabel 7. Sommige boere het baie koste aangegaan om saad te behandel met nuwerwetse en meer gesofistekeerde middels. Of dit egter die moeite werd is moet meer wetenskaplik nagevors word. Voorlopig is die aanbeveling dat daar eerder met gewone Dimetoaat en Thiram behandel moet word. Drie deelnemers het hulle saad met hierdie duur middels behandel sonder om enige bogemiddelde opbrengste te verkry.

Tabel 7
Die invloed van saadbehandeling
2002 2005
Behandelings Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
Behandel 1.66 12% 1.31 1%
Onbehandel 1.10 -26% 1.27 -2%
Basis Opbrengs 1.49 1.3

Indien na Tabel 8 gekyk word blyk dit dat die canola wat in klam grond gesaai is se opbrengs oor die algemeen hoër was as die in nat grond. Grondtoestande gedurende 2005 se saaityd was baie gunstig en die grond het nooit regtig uitgedroog en harde korse gevorm nie. Daar is byvoorbeeld nêrens deur die deelnemers in droëgrond gesaai.

Tabel 8
Die invloed van plant toestande
2002 2005
Toestande Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
Klam 1.63 9% 1.34 3%
Droog 1.29 -13%
Nat 0.00 - 0.91 -30%
Basis Opbrengs 1.49 1.3

Canola cultivars

Vier van die deelnemers het Outback gesaai. ATR Beacon, Tornado 555 TT en ATR Hayden is elk deur drie deelnemers gesaai. Varola 600 TT, Varola 50, Varola 404 CL en Rainbow is elk deur een deelnemer gesaai. Twee deelnemers het 44 C73 gesaai. Daar is te min deelnemers wat die onderskeie cultivars gesaai het om afleidings te maak.

As ons moet afleidings maak volgens Tabel 9, was 44 C73 redelik stabiel met goeie opbrengste. ATR Hayden en Outback het ook goeie opbrengste gegee maar was effens wisselvallig. Indien korrekte afleidings gemaak moet word, moet daar eerder na die canola cultivar proewe gekyk word omdat hulle onder dieselfde omstandighede gekompeteer het.

Tabel 9
Die invloed van kultivarkeuse op opbrengs
2002 2005
Cultivars Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
Rainbow 0.00 - 1.1 -15%
Verola 50 1.38 -7% 1.0 -23%
Verola 44 1.15 -23% 0.00 -
Monty 1.40 -6% 0.00 -
ATR Hayden 2.18 47% 1.40 8%
Mengsel 0.00 - 0.00 -
Scoop 1.46 -2% 0.00 -
Outback 1.20 -19% 1.41 8%
Varola 48 CL 2.11 42% 0.00 -
Varola 404 CL 0.00 - 1.0 -23%
ATR Beacon 0.00 - 1.29 -1%
Varola 600 TT 0.00 - 0.6 -54%
44C73 0.00 - 1.55 19%
Tornado 555 TT 0.00 - 1.35 4%
Basis Opbrengs 1.49 1.3

Planttyd, saaidigtheid en plantestand

Kyk ons na die saaityd in 2005 (Tabel 10) sien ons dat die derde week van April se gesaaides die beste gemiddelde opbrengs gelewer het. Die vierde week van April het die tweede beste opbrengste gelewer. Ook in 2002 het die derde week van April die beste opbrengste gelewer. Dus dit blyk dat selfs oor die lang termyn die beste saaityd die laaste 2 weke van April is.

Dit blyk egter dat die kanse vir 'n goeie opbrengs baie goed is indien dit 10mm of meer reën na die middel van April, en jy onmiddellik canola kan plant of saai met die minimum grond versteuring. Dit is nie altyd prakties moontlik, omdat nie almal planters het, en ook omdat dit die kanse vir onkruid kompetisie verhoog. Dit is egter goed om 'n stukkie grond gereed te hê vir so 'n vroeë aanplanting.

Tabel 10
Die invloed van planttyd
2002 2005
Tyd Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
2 Week April 0.00 - 1.18 -9%
3 Week April 1.89 27% 1.43 10%
4 Week April 1.30 -13% 1.31 1%
1 Week Mei 1.49 0% 1.07 -18%
2 Week Mei 1.25 -16% 1.21 -7%
3 Week Mei 0.00 - 0.00 -
4 Week Mei 0.00 - 0.00 -
1 Week Junie 0.00 - 0.90 -
2 Week Junie 0.00 - 0.00 -
Basis Opbrengs 1.49 1.3

Volgens Tabel 11 is die verskil in opbrengste vanaf saaidigtheid 3kg tot 6kg maar klein, alhoewel 5-6kg die beste opbrengste gerealiseer het. Ook in 2002 was 5-6kg saaidigtheid die beste. In 2005 was daar heelwat deelnemers (7) wat onnodig meer as 6kg saad per hektaar gesaai het. Dit was moontlik deelnemers wat hulle eie saad van die vorige jaar gehou het en dus gedink hulle kan nou meer as 6kg saad saai, want die saad kos niks.

Oor die algemeen lyk dit dat, indien daar tussen 4 en 6kg canola per hektaar gesaai word, 'n potensiaal vir 'n redelike goeie oes geskep word.

Tabel 11
Die invloed van saaidigdheid
2002 2005
Kg/ha Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
1-1.9 0.00 - 0.00 -
2-2.9 0.00 - 0.63 -52%
3-3.9 1.56 5% 1.31 1%
4-4.9 1.27 -14% 1.42 9%
5-5.9 1.75 -18% 1.59 22%
6+ 1.45 -2% 1.18 -10%
Basis Opbrengs 1.49 1.3

Met die goeie aanvangsreëns in 2005 was die ontkieming van saad goed en het 10 van die deelnemers meer as 60 plante/m² gehad. Die beste opbrengste is verkry van plantestande bo 50/m² (Tabel 12). Die deelnemer wat gewen het, het net 37 plante/m² gehad.

As ons na 2002 kyk sien ons dat 40-49 plante die beste opbrengste gegee het en dat die opbrengste kan daal as daar meer as 50/m² is. Oor die langtermyn blyk dit dat tussen 40 en 60 plante voldoende is vir 'n goeie oes. Daar is ook gevind dat indien die plante te dig (meer as 70m²) is, hulle kan omval indien die winde, gepaardgaande met reën, baie sterk is.

Tabel 12
Die invloed van plantestand
2002 2005
Plante / m² Opbrengs Relatiewe afwykings Opbrengs Relatiewe afwykings
1-9 0.00 - 0.00 -
10-19 0.97 -35% 0.00 -
20-29 1.35 -9% 1.21 -7%
30-39 1.25 -16% 1.06 -18%
40-49 1.73 16% 1.1 -15%
50-59 1.37 -8% 1.54 18%
60+ 1.38 -7% 1.34 3%
Basis Opbrengs 1.49 1.3

Onkruidbeheer

Onkruiddruk van veral breëblaar onkruide is 'n al groter wordende probleem. Ramenas, dubbeltjie en kiesieblaar is moeilik om te beheer in canola en ook in koring. Daar bestaan 'n vermoede dat ramenas en dubbeltjie weerstandbiedendheid begin toon teen onkruiddoders. Sommige van die deelnemers kon net die grasse beheer en is oesverliese dus deur breëblaar onkruide veroorsaak. Alhoewel die meeste produsente hulle grasse maklik in canola kan beheer is daar sekere grasse, veral raaigras wat op sekere plekke baie weerstandbiedend is, veral in die Malmesbury–Durbanville omgewing. Produsente moet dus deeglik bewus wees van sy kamp se onkruid geskiedenis voordat hy canola plant.

Met die dat die reëns vroeg in April gekom het, het onkruide goed ontkiem en sodoende kon onkruide voorsaai beheer word. Dit het veral die druk van weerstandbiedende onkruide baie verlig. Alhoewel vogtoestande baie gunstig was tydens saai was die werking van vooropkomsmiddels, wisselvallig. Gelukkig het die voorsaai beheer onkruide goed beheer. Onkruid was dus nie 'n groot probleem in canola gedurende 2005 nie.

Plaagbeheer

Wat plaagbeheer betref is daar basies vier plae wat canola teister, naamlik sandmyte in die saailing stadium, plantluise in die blomstadium en bolwurm en koolmot in die peulstadium.

Insekplae was baie min en net een deelnemer het bolwurm gespuit. Ongeveer die helfte van die deelnemers het hulle saad behandel teen insekte terwyl die meeste ook voorkomend teen luis gespuit het tydens onkruidbeheer. Ruitrugmot besmetting was heelwat minder as die vorige jaar en feitlik geen beheer was nodig.

Die rede vir hierdie lae insekgetalle was die hoër reënval jaar. In sulke jare is insek aktiwiteite heelwat laer.

Kosteberekening

Om die Bruto marge per hektaar van die produk op die plaas gelewer te bereken, is die werklike pryse van insette soos deur die boer betaal geneem. Die gevoel is dat indien 'n boer byvoorbeeld kunsmis goedkoop in die hande kan kry hy meer winsgewend met canola kan boer en daarom moet dit in die kompetisie syfers weerspieël word. Waar 'n boer nie die werklike prys van die insette kon gee is die lysprys van 'n produk gebruik. Met die kosteberekenings van werktuie en bewerkings is gebruik gemaak van die "Guide to Machinery Costs, Directorate of Communication" van die Departement Landbou. Die prys van canola wat vir die berekeninge gebruik word is ook die werklike prys wat die boer vir sy produk gekry het. 'n Opsomming van die Bruto marges word geïllustreer in Tabel 13.

Algemeen

Aangeheg is ook Tabel 14 wat in kort 'n opsomming gee van die deelnemers se praktyke.

Uitslae

  • Wenners
    • Dirk Lesch – Beste gemiddelde marge afgelope 5 jaar
    • Daniel Rossouw – Hoogste opbrengs
    • Daniel Rossouw – Beste bruto marge
  • Naaswenners
    • AJ Louw – Opbrengs
    • AJ Louw – Bruto marge
Opsommende data van deelnemers
Boer Cultivar Week
van
saai
Saai­digt­heid
kg/ha
Plante­stand plante/m² Insek behandel Toestande met saai %N met plant Totale N Plant metode Opbrengs ton/ha
Boer 1 Outback 4 April 6.0 52 Ja Klam 48% 62 Planter 1.2
Boer 2 Varola 50 3 April 6.0 37 Ja Klam 58% 60 Strooi 1.0
Boer 3 44C73 1 Mei 5.5 66 Ja Klam 31% 95 Strooi 1.54
Boer 4 ATR Hayden 4 April 8.7 130 Geen Klam 31% 96 Strooi 1.33
Boer 5 Tornado 555 TT 3 April 5.0 50 Geen Klam 46% 82 Strooi 1.93
Boer 6 ATR Hayden 3 April 4.0 100 Ja Klam 13% 96 Planter 1.79
Boer 7 Varola 600 TT 1 Mei 3.8 37 Geen Nat 56% 91 Strooi 0.6
Boer 8 Outback 4 April 5.0 100 Geen Klam 48% 77 Strooi 1.3
Boer 9 Outback 2 April 7.5 110 Geen Klam 0% 112 Planter 1.1
Boer 10 Tornado 555 TT 2 April 3.5 55 Ja Klam 32% 87 Planter 1.5
Boer 11 Tornado 555 TT 3 April 2.8 37 Ja Klam 100% 28 Planter 0.625
Boer 12 ATR Beacon 4 April 9.4 80 Ja Klam 51% 98 Strooi 1.17
Boer 13 ATR Beacon 3 April 10 144 Geen Klam 34% 71 Strooi 1.5
Boer 14 Rainbow 2 April 3.5 84 Geen Klam 0% 40 Strooi 1.1
Boer 15 Varola 404 2 April 6.0 75 Ja Klam 0% 0 Strooi 1.0
Boer 16 Outback 3 April 3.8 37 Ja Klam 60% 72 Planter 2.04
Boer 17 44C73 4 April 4.7 87 Geen Klam 40% 90 Strooi 1.56
Boer 18 ATR Beacon 2 Mei 4.0 20 Geen Nat 100% 44 Strooi 1.21
Boer 19 ATR Hayden 3 April 4.5 42 Geen Klam 65% 61 Strooi 1.1

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Prof A Agenbag   Izane Leygonie
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter