CanolaFokus logo

Canolafokus 88   Mei 2019

Op die spoor van Dikvoet

L Nowers en PJA Lombard

Gewoonlik word die tegniek van spoorsny aangewend met die hoofdoel om 'n spesifieke teiken te vind. In hierdie inligtingstuk, word die leser egter aangemoedig tot 'n spoorsny-jagtog met 'n ander doel: naamlik om hopelik NOOIT die teiken teë te kom nie! Dikvoet is 'n vreesaanjaende siekte vir enige Brassica-produsent, maar dis juis daarom dat moed aan die dag gelê moet word om op sy spoor te bly. Sodoende sal veral die canola-bedryf nie onkant gevang word indien hierdie siekte op 'n dag in canola in die Wes-Kaap geïdentifiseer word nie. Díe siekte is reeds jare gelede in die Kaapse Vlakte aangemeld en daar is tans reeds bekende besmette areas in die George-omgewing.

Om die oorhand te hê oor hierdie grond-, wind- en plantgedraagde siekte, is dit belangrik om te weet hoe dit lyk, waar dit skuil, hoe dit beweeg en baie belangrik, hoe om dit te beveg!

Dikvoet word veroorsaak deur 'n mikro-organisme genaamd Plasmodiophora brassicae. Dit is nie 'n swam of 'n bakterie, soos baie ander plantpatogene nie, maar dit is wel 'n eensellige organisme met eienskappe soortgelyk aan swamme. Die simptome is opgeswelde wortels, soos duidelik sigbaar in Figuur 1. Blare toon tydelike verwelk gedurende sonnige dae, maar soos die plant verswak, verander dit in permanente verwelk.

Figuur 1: Dikvoet simptome
Figuur 1: Dikvoet simptome

Eenvoudig gestel, kom Plasmodiophora in 'n siklus van 2 fases (geslagtelik en ongeslagtelik) voor:

Primêre fase

Die primêre fase (ongeslagtelik) behels baie klein rustende spore wat in die grond voorkom. Hierdie spore kan tot 20 jaar in die grond oorleef, sonder enige gasheerplante. Wanneer toestande gunstig is, ontkiem hierdie spoor en vorm 'n zoöspoor wat in die grondwater swem tot by gasheerplante se haarwortels. Dit penetreer die haarwortels, gaan oor na 'n geslagtelike fase en hier begin die sekondêre fase.

Sekondêre fase

Dit is tydens hierdie fase wat die organisme vermeerder binne-in die ondergrondse dele van die plant en die galle vorm. Met genoegsame ontwikkeling, vorm die organisme weer rustende spore (primêre fase). Hierdie rustende spore word vrygestel wanneer die geïnfekteerde wortels van nature begin afbreek in die grond.

Ideale omstandighede vir infeksie

  • hoë grondtemperature (20-24°C)
  • baie grondvog
  • pH <5.5 (KCl)

Aksies om Plasmodiophora-spore uit produksie-areas te hou

Daar is verskeie aksies wat gebruik kan word om  (a) te verhoed dat Dikvoet skade begin aanrig, of om  (b) die spoorlading in die grond te verminder. (Indien spoorlading onder 1,000 spore per 1g grond is, sal gewasproduksie nie beïnvloed word nie, maar soos dit vermeerder, vermeerder die moontlikheid van oesverliese).

Hierdie verskillende aksies moet egter as 'n pakket uitgeoefen word om suksesvolle beheer te kry. Alles moet gedoen word om die Plasmodiophora-spore uit produksie-areas te hou en terselfdertyd moet produksielande hanteer word asof daar reeds spore in die grond is. Hierdie aksies behels die volgende:

  • Toets

    In Kanada word aanbeveel dat grond in 'n laboratorium getoets word vir Plasmodiophora-spore. Na konsultasie met plaaslike laboratoriums deur die DLWK, het SPORATEC, 'n spesialis laboratorium te Stellenbosch, na vore getree om hierdie toets as diens beskikbaar te stel aan plaaslike produsente. Die ontwikkeling van hierdie toets is tans onderweg en derhalwe sal dit hopelik binnekort vir produsente moontlik wees om grondmonsters in te handig vir die toets van Plasmodiophora-spore. Die toets van 'n land of blok se grond is egter slegs 'n aanduiding en behoort nie as 'n 100% finale toets aanvaar te word nie. So 'n grondtoets moet tesame met al die volgende stappe geneem word.

  • Observeer

    Wees op die uitkyk vir simptome. Dit behels gereelde besoeke aan alle dele van 'n land, maar veral nat kolle en naby ingangshekke waar implemente besmette grond kon indra. Trek verdagte plante uit om te kyk vir enige verdikkings ondergronds. Die beste tyd vir so 'n visuele ondersoek is tydens blomtyd, maar na platsny of oes is dit makliker om deur die aanplanting te stap. Enige Dikvoet-galle sal steeds aan die wortels vassit, selfs ná oes. Dikvoet simptome moenie verwar word met ander simptome, soos in die voorbeelde in Figuur 2 en Figuur 3 nie.

    Figuur 2: Hibridisasie nodules op canolawortels
    Figuur 2: Hibridisasie nodules op canolawortels
    Figuur 3: Simptome van hormoononkruiddoderskade op canola
    Figuur 3: Simptome van hormoononkruiddoderskade op canola
  • Verwyder

    Enkele plante wat verlep tydens warm dae kan op die siekte dui en indien sulke plante wel Dikvoet het, moet dit verwyder en vernietig word. Onthou dat verskeie onkruide gasheer kan speel vir hierdie organisme. Opslag-canola, mosterd, wildemosterd, ramnas, herderstassie, peperbossie en stinkkruid moet verwyder word van canola aanplantings, maar onthou om ook hierdie plante se ondergrondse dele te ondersoek vir tekens van galle!

  • Gooi die net wyd

    Ou groentelande en –tuine, sowel as areas waarin voertuie of implemente van ander gebiede beweeg het, kan 'n verskuilde bron van inokulum wees. Die feit dat die rustende spore vir tot 20 jaar kan oorleef, maak dit baie belangrik om nie te vergeet van hierdie areas nie. Kyk ook hier vir simptome op alle plantwortels.

  • "Vries"

    Indien 'n besmette area geïdentifiseer is, moet die grond liefs nie versteur word nie. Die spore is baie mobiel en kan maklik beweeg, hetsy in klonte grond wat vassit aan skoene, wiele, implemente, ensovoorts of met behulp van die stof wat deur die wind gewaai word. Die aanbeveling in die literatuur is dat die betrokke stuk grond bedek word en/of geen-bewerking geïmplementeer word.

  • Wees bedag / waaksaam

    Aangesien canolaprodusente van die Wes-Kaap groot lande moet bestuur, is hierdie aksie baie moeilik om uit te voer. Moenie voertuie van onbekende afkoms in onbesmette lande toelaat nie. Enige "vreemdelinge" moet liefs hul voertuie, ens. eers steriliseer deur byvoorbeeld hul bande met 'n ontsmettingsmiddel te bespuit indien hulle wel op 'n land toegelaat moet word.

  • Wees fluks

    Alhoewel dit moontlik 'n irritasie sal wees om vol te hou, is daar tóg meriete in om die modder van voertuig- en implementwiele en hul onderkante te verwyder. Die ideaal is dat toerusting, implemente, voertuigwiele en enige items waaraan grond kan vasklou, behoorlik skoongemaak en gesteriliseer word tussen verskillende lande/blokke. Selfs al word die grond slegs gedeeltelik verwyder, sal dit steeds help om spoor-oordrag te verminder. Indien daar positief geïdentifiseerde Dikvoet-geïnfesteerde areas in die omgewing is, is dit 'n goeie idee om hoë-druk waterspuite te gebruik hiervoor (Figuur 4).

    Figuur 4: Hoë-druk spuitskoonmaak
    Figuur 4: Hoë-druk spuitskoonmaak

    'n 50% Hipochloried-wateroplossing (gewone huishoudelike bleikmiddel) is 'n effektiewe steriliseringsmiddel, maar moet gereeld vars aangemaak word. Produsente en besoekers se skoene kan ook hiermee gesteriliseer word. Hou in gedagte dat 1g grond tot 20 000 Plasmodiophora-spore kan dra!

  • Roteer

    'n Rotasiestelsel met die afwesigheid van enige Brassica-gewasse vir ten minste 2 jaar behoort spoorgetalle in die grond te laat verminder.

  • Reageer

    Stuur verdagte plantmateriaal in 'n verseëlde sak na 'n laboratorium om getoets te word. Die Universiteit van Stellenbosch het 'n diagnostiese laboratorium waar plantmonsters deurlopend getoets kan word.

  • Bestuur

    Indien 'n area positief vir Dikvoet besmetting geïdentifiseer word, behoort dit met 'n grasgewas toegesaai te word vir 'n aantal jare. Saai ook 'n groot area as buffer rondom hierdie besmette kol met grasse. Indien die area dalk by die ingang na 'n kamp is, oorweeg die moontlikheid om die ingang te verskuif.

  • Bied weerstand

    Daar is verskillende rasse van Plasmodiophora. Kanada het 'n aantal weerstandbiedende kultivars, maar hulle is nie effektief teen alle rasse nie. Kultivars word geklassifiseer as weerstandbiedend (minder as 30% besmetting as vergelyk word met vatbare kontrole), matig vatbaar (minder as 30-50% besmetting as vergelyk word met vatbare kontrole) en vatbaar (50-100%). In Kanada is kultivars met weerstand 'n noodsaaklike skakel in die beheer van Dikvoet op die plaas. Kultivars met weerstand moet afgewissel word om genetiese skuiwe binne die siekte te voorkom. Die afwisseling van kultivars moet deel vorm van 'n geïntegreerde beheerstelsel. Dis onbekend, hoewel baie onwaarskynlik, of enige kultivars in Suid-Afrika weerstand teen Dikvoet het. In Australië vanwaar ons kultivars kom, kom Dikvoet (nog) nie op canola voor nie.

    Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het in 2019 begin om grondtemperature by verskeie lokaliteite waar canola-proewe geplant word, te moniteer. Die doel hiervan is om 'n vertrekpunt te hê vir die monitering van Dikvoet in canola-produserende gebiede van die Wes-Kaap. Enige verdagte lande en materiaal kan by die Plantpatologie-afdeling (kontakbesonderhede onderaan) op Elsenburg aangemeld word. Hierdie siekte is 'n gemeenskaplike vyand van alle Brassica-produsente en daarom is dit in die beste belang van alle rolspelers om saam op die spoor van hierdie vyand te bly!

Lizette Nowerslizetten@elsenburg.com / 021 808 5269

Piet Lombardpietl@elsenburg.com / 021 808 5415

  1. Twelve tips to clubroot management
    7 January 2019
  2. Compendium of Brassica Diseases
    Rimmer SR, et al, bladsye 25-28.
  3. Fungi on plants and plant products in the United States
    Farr DF, et al.

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. piet.lombard@westerncape.gov.za

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Franco le Roux
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter