CanolaFokus logo

Canolafokus 109   Januarie 2023

Die gevare van teruggehoude saad

P Lombard, L Smorenburg en J Strauss

Hierdie artikel is nie 'n nuwe onderwerp nie, maar wel 'n onderwerp wat die afgelope twee seisoene baie bespreek is. Ons staan op die oomblik in die Wes-Kaap voor belangrike keuses:

1.
Stop ons ons wisselbou stelsel?
2.
Plant ons enige beskikbare cultivar?
3.
Plant ons teruggehoude saad?

Hierdie artikel bestaan uit 'n opsomming van data van Australië, maar ook plaaslike data wat op Langgewens Navorsingsplaas gedurende 2022 ingesamel is.

Opsomming van plaaslike data van die gebruik van teruggehoude saad:

  • Saadopbrengs daal met 5.5-24.1% (7-17% in Aust.);
  • Sommige cultivars se opbrengs daal minder as ander, maar hierdie proef se gemiddelde afname was 13.9%;
  • Olie-inhoud neem af met 0.8%;
  • Saailinge sterf af (swakker oorlewing);
  • Swartstaminfeksie neem toe (11%-20.2%)

Inleiding

Die vraag word gereeld binne die bedryf gevra, "kan canolasaad teruggehou word en weer geplant word"? Dit is belangrik dat ons verstaan hoe word canola geteel en wat sal die gevare van so 'n praktyk wees. 'n Bastercultivar word uit twee lyne geteel, 'n vader en moederlyn. Elkeen van die lyne is baie suiwer en gevolglik besit nageslag wat uit hulle kom altyd dieselfde eienskappe. Teruggehoude saad (of dan F2) besit dan nie meer presies dieselfde kombinasie van gene nie. Hierdie artikel fokus hoofsaaklik op die plaaslike studie, maar Potter et al (2014) het 'n deeglike studie in Australië gedoen. Die resultate stem baie ooreen met wat plaaslik bevind is.

Testing retained sowing seed of hybrid canola over a range of rainfall zones (Adelaide)

Materiaal, metodes en bespreking

'n Proef met ses cultivars (almal F1) en dieselfde cultivar (F2) afkomstig uit die 2021 seisoen teruggehoude saad is op Langgewens in die Swartland aangeplant. Daar was drie herhalings en normale agronomiese praktyke was toegepas. Die teruggehoude saad was nie behandel met 'n swamdoder nie, maar die hele proef het wel op 4-5 blaarstadium 'n swartstambespuiting ontvang. Planttellings is gedoen na ontkieming en direk na afloop van die oes. Blomdatums, saadopbrengs en olie-inhoud van die saad is bepaal.

Groeikragtigheid en saailingoorlewing

In die proef op Langgewens was die groeikragtigheid van die plante van die teruggehoude saad by al die cultivars swakker as die kontrole (Figuur 1). Die aantal sade wat geplant was per vierkante meter was dieselfde vir teruggehoude saad en maatskappysaad (F1). Verskille tussen cultivars het voorgekom, maar daar was gemiddeld 10 plante meer per m² by die Maatskappysaad. Vier van die cultivars het betekenisvol meer saailinge verloor in die F2 aanplanting (Figuur 2).

Figuur 1: Teruggehoude saad en maatskappysaad (F1) tydens rosetstadium (links) en tydens laat blomstadium (regs) op Langgewens in 2022
Canola lande in roset- en blomstadium

Blomdatum

Die blomdatum van die teruggehoude saad was in die meeste gevalle een dag later as die van die kontrole. Wat belangrik is, teruggehoude saad het later klaar gemaak met blom as die kontrole (Figuur 1 en 3).

Figuur 2: Aantal plante per m² tydens oes van die maatskappysaad en teruggehoude saad
Figuur 2 wys aantal plante per m2 tydens oes van die maatskappysaad en teruggehoude saad
Figuur 3: Teruggehoude saad (links) en maatskappysaad (F1, regs) tydens einde van blomstadium op Langgewens in 2022
Figuur 3 wys teruggehoude saad en maatskappysaad tydens einde van blomstadium op Langgewens in 2022

Swartstam

Die interne swartstaminfeksie op Langgewens het betekenisvol verskil tussen die teruggehoude saad (20.2%) en die Maatskappysaad (11%). Daar was wel cultivar verskille, sommige cultivars het 'n groter verskil in interne swartstaminfeksie getoon as ander (Figuur 3).

In Australië het die interne swartstaminfeksie van teruggehoude saad, wat met Jockey® behandel was, slegs op een lokaliteit betekenisvol verskil van die maatskappysaad, hoewel daar deurgaans meer swartstam was by die teruggehoude saad.

Figuur 4: Interne swartstaminfeksie van die verskillende cultivars
(Maatskappysaad is in grys en teruggehoude saad in blou aangedui)
Figuur 2 wys interne swartstaminfeksie van die verskillende cultivars

Opbrengs

Die opbrengs het met tussen 5.5 tot 24.1% afgeneem as die teruggehoude saad met die kontrole vergelyk word. Die gemiddelde afname in opbrengs was 13.9%. Indien ons op 'n verwagte opbrengs van 2 ton ha-1 werk is die gemiddelde afname 278 kg, maar is tot soveel as 482 kg ha-1 vir inskrywing 2. In Figuur 3 is aangetoon hoe hoog die swartstaminfeksie by inskrywing 6 was. Dit is wel bekend dat interne swartstaminfeksie opbrengs verlaag. Hierdie opbrengsverlaging moet ook gemeet word aan verlies aan inkomste soos in Tabel 1 opgesom is.

Tabel 1: Opsomming van afname in opbrengs en die potensiële verlies aan inkomste indien teruggehoude saad geplant sou word. In Australië wissel die opbrengs verlaging tussen 7% en 17%
Inskrywings Persentasie opbrengs van kontrole Verlies aan inkomste (2 ton ha-1 opbrengs teen R10,000 ton-1)
2 T 75.9 R4 828
6 T 92.8 R1 440
7 T 87.4 R2 520
8 T 87.7 R2 460
9 T 88.7 R2 260
10 T 94.5 R1 111
Maatskappysaad 100 R0
Teruggehoude saad 87.8 R2 440
Figuur 5: Die saadopbrengs van die verskillende inskrywings vir die maatskappysaad
Figuur 5 wys saadopbrengs van die verskillende inskrywings vir die maatskappysaad

Olie-inhoud

In Australië was die persentasie olie-inhoud van die teruggehoude saad by al drie getoetste lokaliteite laer as die van die maatskappysaad. Op Langgewens was die olie-inhoud van die teruggehoude saad gemiddeld 0.8% minder (7% vog).

Figuur 6: Die persentasie olie-inhoud van die verskillende inskrywings vir die maatskappysaad en teruggehoude saad
Figuur 6 toon die persentasie olie-inhoud van die verskillende inskrywings vir die maatskappysaad en teruggehoude saad

Opsomming

Daar was 'n afname in opbrengs met verhoogde swartstamdruk waar teruggehoude saad (F2) gebruik was. Die voordele van maatskappysaad is meer as die kostebesparing met die gebruik van teruggehoude saad. Die hoër interne swartstaminfeksie skep die gevaar, dat daar verhoogde siektedruk in komende jare verwag kan word, met noodlottige gevolge vir die bedryf. Indien ons suiwer net kyk na die voordele wat teruggehoude saad inhou, is dit dus veel minder as die nadele verbonde aan die praktyk.

'N OPLOSSING MOET GEVIND WORD VIR DIE VOLHOUBARE VOORSIENING VAN GOEIE EN AANGEPASTE CULTIVARS.

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. piet.lombard@westerncape.gov.za

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Franco le Roux
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter