Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 22 Oktober 2002 in die PNS-Raadsaal te Rivonia



  1. Opening

    Mnr Potgieter open die vergadering met gebed.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, mnr GJH Scholtemeijer, heet almal teen­woordig welkom by die vergadering.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Dr J de Kock PNS
    Mnr GW Bührmann Bührmann Saad
    Mnr B de Klerk OTK
    Mnr CJ du Plessis PNS
    Dr M Griessel PNS
    Mnr C Havenga Departement Landbou, KwaZulu-Natal
    Mnr L Killian PNS-kontrakteur, KwaZulu-Natal
    Mnr ID Lamprecht Departement Landbou, Mpu­malanga
    Mnr JC Lubbe SASS
    Mnr E Maree PNS-kontrakteur, Vrystaat
    Mnr K Nel Nedan Oil Mills
    Dr JL Purchase LNR-IGG
    Mnr AJ Pretorius LNR-IGG
    Mnr FAS Potgieter GSA
    Mnr F Stapelberg Produsent
    Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur, Mpumalanga en Noordelike Provinsie
    Me M Pretorius Sekretaresse

    Verskonings

    Mnr NJ Vermaak GSA
    Mnr AJ van Vuuren NWK
    Mnr Mataré Departement Landbou, Mpumalanga
    Mnr L Weber MGK
  4. Personalia

    Gelukwensing en sterkte word aan dr Purchase oorgedra met sy aanstelling by Graan SA.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar nadat die volgende items toe­gevoeg is:

    • 7.1.3Tender, Sojabedryf – Departement van Landbou, KZN
    • 10.2Vergadering terugvoering
    • 14.1Biodiesel
    • 15.2Sojakundigheidsforum
  6. Notule van die vergadering van 22 Augus­tus 2002

    Die notule van 22 Augustus 2002 word goedgekeur nadat die volgende wysigings aangebring is:

    Besluit:

    1. Dat die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 22 Augustus 2002 goedgekeur word, nadat die volgende wysigings aangebring is:
      • Bladsy 3, 7.1.1, tweede punt, tweede reël vervang "materiaal" met "basis".
      • Bladsy 4, 7.2.1, tweede paragraaf eerste sin gewysig word om soos volg te lees: "Die Voorsitter meld dat die werk wat deur mnr Van Wyk gedoen is, gedoen word om aan te toon dat die swak opbrengste wat in Mpumalanga ervaar word verbeter kan word."
      • Bladsy 4, 7.2.1, die vyfde reël gewysig word om soos volg te lees: "Mnr Van Wyk voel dat die rywydtes nou aangespreek moet word na aanleiding van die sclerotinia wat vanjaar kop uitgesteek het en groot skade veroorsaak het."
      • Bladsy 4, 7.2.1, sewende reël gewysig word om soos volg te lees: "Hy meld voorts dat daar 'n verhoging in die opbrengste is waar kalsium vlakke gelig is deur gips om die katioon balans te verhoog."
      • Bladsy 8, 7.9, voeg "distrikte" in na "Heidelberg".
      • Bladsy 10, 9.1, tweede paragraaf, eerste reël – vervang "dr Loubser" met "dr Liebenberg".
      • Bladsy 10, 9.1.1, eerste reël – vervang "dr Loubser" met "dr Liebenberg".
      • Bladsy 12, 14.1.1, derde reël gewysig word om soos volg te lees: "Baie van die aktiwiteite van die projekte is reeds suksesvol uitgevoer."
  7. Algemene oorsig en oesskatting

    Kennis word geneem van die inhoud van Bylae A wat by die sakelys aangeheg is en spesifiek dat die voorneme om sojabone te plant 116 000ha vir die 2002/2003 seisoen beloop.

    Volgens mnr De Klerk is daar nie 'n dramatiese afname in die sojaboon-aanplantings vir die 2002/2003 seisoen nie. Mnr Lubbe rapporteer dat daar wel 'n paar produsente wegbeweeg vanaf sojabone en mielies gaan plant en dat sowat 5-8% minder sojabone geplant sal word. In KZN blyk dit of daar dieselfde en/of minder sojabone geplant gaan word indien saadverkope inaggeneem word.

    Mnr Bürhmann rapporteer dat die saadverkope in die begin van die seisoen nie so goed was nie, maar verbeter het na die laat reën wat geval het. Daar is tog 'n klein afname vir die 2002/2003 plantseisoen.

    Volgens mnr Potgieter sal daar in die Magaliesburg gebied minder sojabone geplant word, maar dat die afname nie dramaties is nie. Die saad wat gestoor is, is vir kommer­siële doeleindes en nie vir saad nie.

    Mnr Van Wyk rapporteer dat daar groot produsente is wat tussen 40-50% minder sojabone gaan plant, maar daar 'n hele paar nuwe produsente is wat sojabone gaan plant.

    Mnr Du Plessis onderneem om elke maand vir mnr Nico Hawkins van GSA die Kort- en Mediumtermynbehoeftes en gebruik van vismeel en oliekoek van die PNS deur te stuur. Hierdie inligting sal dan in SA Graan gepubliseer word.

    Besluite:

    1. Dat mnr Du Plessis maandeliks die Kort- en Medium­termyn behoeftes en gebruik van vismeel en oliekoek van die PNS aan mnr N Hawkins van GSA voorsien.

      Mnr Du Plessis

    2. Dat die inligting gemeld in 7a in SA Graan gepubliseer word.

      Mnr Du Plessis

    1. KwaZulu-Natal

      1. Super Sojakompetisie

        Noordelike KZN

        Mnr Havenga rapporteer dat die Super Sojakompetisiedag in die Noordelike KZN deur sowat 86 persone bygewoon is. Baie positiewe kommentaar is ontvang. Hy meld dat die Super Soja-dag baie suksesvol was.

        Suidelike KZN

        Mnr Du Plessis rapporteer dat die Super Soja­kompetisiedag by Cedara baie suksesvol was en dubbel soveel mense opgedaag het as die vorige jaar. Terugvoering vanaf die produsente is baie positief. Die deelnemers was minder as die vorige jaar, maar die uitslae was baie goed. Dank word aan die Voorsitter oorgedra vir sy professionele bydrae by die Super Sojakompetisies.

        Die Voorsitter komplimenteer die twee (2) persone wat betrokke was by die reëlings van die Super Sojakompetisie naamlik mnr Havenga sowel as mnr Du Plessis, die Voorsitter van die Super Sojakompetisie, vir die puik inligtingsdae wat gehou is.

        1. Suksesse en knelpunte van die Super Soja­kompetisie in KwaZulu-Natal

          Mnr Havenga lig die vergadering in rakende die suksesse en knelpunte sowel as die meriete van 'n Super Soja­kompetisie as 'n voorligtings / tegnologie-oordrag instrument / metode.

          Aangeheg aan die notule is 'n volledige dokument in die verband.

        2. Die meriete van 'n Super Sojakompetisie as 'n voorligtings / tegnologie-oordragsinstrument / metode

          Die aangeleentheid is reeds afgehandel onder item 7.1.1.1.

      2. Uitbreidingspotensiaal en beplanning

        Mnr Killian berig dat 'n cultivarproef van die top 10 kort­seisoen cultivars by die Kokstadproefstasie geplant is en nie 'n nasionale cultivarproef nie.

      3. Tender, Sojabedryf – Departement van Land­bou, KwaZulu-Natal

        Kennis word geneem dat die tender nog nie toegeken is nie.

    2. Mpumalanga

      1. Verslag mnr W van Wyk

        Kennis word geneem van die inhoud van Bylae B ingebind in die sakelys.

        Mnr Van Wyk rapporteer dat daar nie vroeër geplant is nie as gevolg van die laat reën. Hy meld dat hy verskeie planttye in Oktober, November en Desember op een proefperseel beplan. Verder sal daar demonstrasieproewe geplant word met verskeie onkruiddoders en mengsels van onkruiddoders. Gipsproewe en rywydte proewe met verskillende plantestand sal ook gedoen word. Bhradyrhizobium sal gebruik word saam met verskillende byprodukte soos byvoorbeeld groeistumilante van verskillende maatskappye. Mnr Van Wyk meld verder dat hy ook weer 'n proef wil doen met A5409RR en A5409, aangesien daar die vorige seisoen 'n groot verskil was met die aanplanting.

        Die Voorsitter doen aan die hand dat daar geen nodigheid is om proefwerk te doen op Roundup Ready sojabone nie en dat daar 'n gesprek gevoer word moet tussen dr's De Kock, Griessel en mnr W van Wyk om eerder sclerotinia proewe te doen.

        Kennis word geneem dat daar 'n grondontleding vir die bogemelde proewe gedoen is en die voedingstatus van die grond van so aard is dat daar besluit is dat geen bemesting toegedien gaan word nie.

        Mnr Van Wyk meld dat op Middelburg onder droëland toestande proewe geplant gaan word met verskillende bemesting, aangesien die grond se pH-waarde en K-waardes laag is. Die grond ontleding is na dr Farina gestuur wat bepaalde aanbevelings gemaak het. Die proewe op Middelburg sal geplant word sodra dit gereën het.

        Die Voorsitter meld dat die werk in Mpumalanga gedoen word om te bewys dat daar wel suksesvol sojabone geproduseer kan word.

        Besluit:

        1. Dat geen proefwerk met Roundup Ready sojabone gedoen word nie, maar dat daar 'n gesprek gevoer word tussen dr's De Kock, Griessel en mnr W van Wyk om oorweging te skenk aan die doen van proewe ten opsigte van sclerotinia.

          Voorsitter
          Dr Griessel
          Dr De Kock
          Mnr Van Wyk

    3. Noordwes provinsie

      1. Bevordering van Sojabone in Provinsie

        Geen nuwe inligting is beskikbaar nie en die item kan van die sakelys afgehaal word.

        Besluit:

        1. Dat die item van die sakelys afgehaal word.

          Sekretaresse

      2. Gesamentlike program deur dr Purchase en mnr Van Vuuren

        Dr Purchase rapporteer dat hy met mnr Van Vuuren van Noordwes Koöperasie (NWK) geskakel het en dat proewe nie gedoen gaan word in samewerking met NWK nie. Dr Purchase meld verder dat daar wel cultivarproewe te Lichtenburg en Rietgat is, asook 'n strookproef by Lichtenburg. Daar sal ook 'n boeredag deur die LNR-IGG gehou word te Licthenburg.

        Dr Purchase meld verder dat daar te Potchefstroom drie (3) cultivarproewe aangeplant is, waarvan twee (2) onder besproeiing is en een (1) 'n droëland aanplanting is. Verder word daar beoog om 'n algemene boeredag in die nuwe jaar by LNR-IGG te hou. Daar is ook twee (2) strookproewe te Potchefstroom waarvan een (1) onder besproeiing is en een (1) 'n droëland aanplanting is.

    4. Limpopo

      1. Springbokvlakte – potensiaal vergelyking

        Mnr Van Wyk rapporteer dat in die Groblersdal gebied dieselfde proewe as die vorige jaar geplant gaan word. Dr De Kock meld dat hy met dr Joubert geskakel het en hy bevestig het dat die proewe wel daar gedoen sal word en dat die kwotasie bietjie hoër sal wees as die vorige jaar. Sodra die kwotasie goedgekeur is deur die PNS sal daar geplant word. Die grond is tans onder koring en mnr Van Wyk sal dus eers teen middel November daar kan plant. Mnr Van Wyk bevestig dat die reëlings vir die aanplanting reeds getref is.

        Mnr Van Wyk meld dat hy met die produsente in Limpopo gesprek gevoer het en 'n proef van 2ha by mnr H Willemse (Weipe) geplant sal word. Hy meld verder dat die proef te Warmbad (Tawoomba) geskrap is, aangesien daar reeds 'n cultivarproef geplant is.

        Dr Purchase meld dat in die MGK gebied by Brits, Koedoeskop, Beestekraal en Rustenburg daar cultivar­proewe geplant is. 'n Boeredag sal by Koedoeskop gereël word in samewerking met mnr Jonker van MGK.

        Besluit:

        1. Dat die kwotasie vanaf dr Joubert afgewag word.

          Dr De Kock

    5. Vrystaat

      1. Oos-Vrystaat

        1. Algemeen

          Mnr Maree rapporteer dat daar demonstrasieproewe by die Le Roux Broers aangeplant is en Topgroei van prof Swie­gers toegedien is. Daar sal 'n inligtingsdag by die Le Roux Broers gehou word alhoewel dit baie droog is.

      2. Noordwes-Vrystaat

        1. Algemeen

          Mnr Maree meld dat dieselfde aanplantings as die vorige seisoen in die Noordwes-Vrystaat gedoen word en dat geen nuwe aanplantings gedoen gaan word nie.

          Mnr Lubbe rapporteer dat die Bothma's in die Viljoenskroon gebied meer sojabone vanjaar gaan plant. Daar is 'n nuwe produsent (mnr N Liebenberg) wat 60ha sojabone onder besproeiing gaan plant. Hy meld ook dat mnr Shahim weer sojabone gaan plant en beoog om hierdie jaar meer te plant.

      3. Suidoos-Vrystaat

        1. Algemeen

          Mnr Maree meld dat VKB belangstel om by een van die produsente Roundup Ready sojabone te plant, maar dit blyk dat daar nie saad beskikbaar is nie. Mnr Maree word versoek om met mnr Killian gesprek te voer om Rissiesap te bekom.

          Besluit:

          1. Dat mnr Maree met mnr Killian in verbinding tree ten einde Rissiesap te bekom.

            Mnr Maree
            Mnr Killian

      4. Sentraal-Vrystaat

        1. Algemeen

          Mnr Maree rapporteer dat daar nie vordering in die Sentraal Vrystaat is nie. Hy meld verder dat daar wel kommersieel aangeplant sal word by dr Reinach asook proewe te Hebron.

          Op versoek van die LUR van Landbou in die Vrystaat het die Voorsitter, dr De Kock en mnr Maree in die Vrystaat besoek afgelê. Gesprek is gevoer oor strookproewe te Glen. Die LUR het ook aangedui dat daar etlike produsente van Sandvet is wat bereid is om sojabone te plant. Mnr Maree word versoek om vas te stel wie die kommersiële produsente is wat betrokke wil raak by die verbouing van sojabone.

          Besluit:

          1. Dat mnr Maree vasstel wie die kommersiële produsente is wat betrokke wil raak by die verbouing van sojabone.

            Mnr Maree

        2. Aanplantings in samewerking met LNR-IGG, mnr De Beer

          Hierdie item word nie bespreek nie.

    6. Oos-Kaap

      1. Alexandria en Port Alfred

        Mnr Killian rapporteer dat daar beoog is om gedurende September 2002 in Alexandria en Port Alfred te plant, maar as gevolg van die baie reën dit nie moontlik was nie. Daar is wel by twee (2) produsente 3ha sojabone geplant. Aalwurmbestande cultivars is by die produsente geplant.

        Mnr Killian meld verder dat die winter aanplanting van sojabone nie suksesvol was nie as gevolg van die koue en nat winter. Kennis word geneem dat hy beoog om elke maand 'n blok sojabone te plant met verskillende rywydtes om die regte plantdatum te bepaal.

        Mnr Lubbe rapporteer dat daar beplan word om sowat 70ha sojabone kommersieel in die Lusikisiki omgewing te plant, maar dat die projek nog nie deur die regering goedgekeur is nie. Mnr Lubbe onderneem om die vergadering op hoogte te hou rakende die aangeleentheid.

        Dr Purchase noem dat mnr Morgan bedank het by die Departement van Landbou, Oos-Kaap.

        Mnr Killian noem dat daar 'n produsent van die Butterworth omgewing hom gekontak het wat 30ha sojabone wil plant en onderneem om die vergadering op hoogte hou van enige verwikkelinge in die verband.

        Besluite:

        1. Dat mnr Lubbe die vergadering op hoogte hou rakende enige verwikkeling ten opsigte van die kommersiële aanplanting van ongeveer 70ha sojabone in die Lusikisiki omgewing.

          Mnr Lubbe

        2. Dat mnr Killian die vergadering op hoogte hou van die aanplanting van 30ha sojabone deur 'n produsent in die Butterworth omgewing.

          Mnr Killian

    7. Suidwestelike Distrikte

      1. George omgewing

        Die Voorsitter rapporteer dat mnr Grimbeek aan hom genoem het dat daar verlede jaar 6 of 7 produsente was wat vir demonstrasie doeleindes sojabone geplant het en dat daar nou kommersiële belangstelling van sowat 200ha is. Kennis word geneem dat daar 'n persoon is wat belangstel om 'n soja-aanleg in George op te rig.

    8. Noord-Kaap

      1. Proewe te Upington

        Dr De Kock rapporteer dat mnr Van Wyk laat in November 2002 gaan plant in Upington en dat alle reëlings reeds deur mnr Van Wyk getref is.

        Dr De Kock meld dat daar 2,4ha beskikbaar is vir strook­proewe waar slegs die vier beste cultivars aangeplant sal word.

        Die Voorsitter meld dat die Rietrivierskema ook 'n moont­likheid is om sojabone te plant.

    9. Gauteng

      Mnr Van Wyk rapporteer dat daar by Kwandebele demonstrasieproewe gedoen gaan word op baie arm gronde. Die grondontledings is aan dr Farina gestuur wat reeds aanbevelings in die verband gedoen het.

      Op 'n vraag van die Voorsitter rakende die betrokkenheid van personeel van die Departement van Landbou, Gauteng meld mnr Van Wyk dat daar reeds samewerking van die Departement ontvang word.

      Die Voorsitter doen aan die hand dat mnr Van Wyk meer moet uitvind aangaande die verwikkelinge by Tarlton.

      Mnr Lubbe meld dat daar oos van Soweto 'n projek aan die gang is en dat finansiering reeds goedgekeur is. Hy meld verder dat daar sowat 2 600ha reeds bewerk is en daar slegs gewag word dat dit reën om die aanplantings te doen.

    10. Algemeen

      1. Mikpunte – 2000, 2010 en 2020

        Hierdie item word nie bespreek nie.

      2. Plakkaat, dr De Kock

        Kennis word geneem van die inhoud van Bylae C ingebind in die sakelys.

        Die aangeleentheid word as afgehandel beskou en die item kan van die sakelys geskrap word.

        Besluit:

        1. Dat die aangeleentheid as afgehandel beskou word en die item van die sakelys geskrap word.

          Sekretaresse

      3. Plakkaat, mnr Du Plessis

        Hierdie item staan oor na die volgende vergadering.

      4. Publikasie van plakkaat

        Hierdie item word as afgehandel beskou en kan van die sakelys geskrap word.

        Besluit:

        1. Dat die aangeleentheid as afgehandel beskou word en die item van die sakelys geskrap word.

          Sekretaresse

  8. Behoeftes van die mark en produsente

    1. Mark

      1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

        Dr Griessel meld dat 3,5 miljoen ton minder canola vir 2002/2003 voorsien word as die vorige jaar. In Amerika was die sojaboonproduksie 87,67 miljoen ton vir die 2001/2002 jaar terwyl dit 72,28 miljoen ton vir 2002/2003 beloop. In Argentinië word verwag dat die sojaboon aanplantings sal verhoog met 1,2 miljoen ha vir 2002/2003. In Brazilië word verwag dat die sojaboon aanplantings gaan verhoog met 1,2 miljoen ha vir 2002/2003.

        In die Suid-Amerikaanse lande word verwag dat in 2002/2003 tussen 8,5 en 9 miljoen ton meer sojabone geproduseer sal word.

        Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland Durban September, Oktober, November en Desember
        Verskeping: R2 562   |   Wisselkoers: R10.20/US$
        Geland Durban 47% proteïen oliekoek 2 562.00
        Spoorvrag na Randfontein 150.00
        2 712.00
        Waarde van volvetsoja 110% R2 983.00
        Prys aan produsent vir sojabone 2 380.00
        – Vervoerkoste na volvet-aanleg 70.00
        – Stoorkoste 60.00
        – Rente 16% (6 maande) 201.00
        – Ekstrusiekoste 130.00
        – 5% ekstrusieverlies 142.00
        Afgeleide produsenteprys vir sojabone – R/ton R2 983.00

      2. SAFEX

        Kennis word geneem dat die SAFEX prys R2 660 /ton is, maar dat daar geen verhandeling plaasvind nie, aangesien daar nie kopers is nie.

      3. Verwerking

        Kennis word geneem dat daar weer gekyk word na verwerking van sojabone. Die Voorsitter doen aan die hand dat mnr Nel tydens die volgende vergadering terugvoering gee rakende die totale verwerkingskapasiteit in die sojaboonbedryf.

        Besluit:

        1. Dat mnr Nel tydens die volgende vergadering terug­voering gee rakende die totale verwerkingskapasiteit in die sojaboonbedryf.

          Mnr Nel

    2. Produsente

      1. Algemeen

        Geen.

  9. Saad

    1. Teelprogram – beplanning / vordering

      Kennis word geneem dat die PNS Tegnologiekomitee 'n vergadering het met die bestuur en verwante persone van die LNR-IGG op Vrydag, 25 Oktober 2002.

    2. Roundup Ready sojabone

      Kennis word geneem van die inhoud van Bylae D ingebind in die sakelys.

      Daar word ooreengekom dat die aangeleentheid as afgehandel beskou kan word.

      Besluit:

      1. Dat die item van die sakelys geskrap word.

        Sekretaresse

  10. Nasionale cultivarproewe

    1. Algemene oorsig

      Dr Purchase rapporteer dat die beplanning min of meer dieselfde is as die vorige seisoen met een of twee ver­anderings. Hy meld verder dat daar 'n bekommernis is oor die planttyd as gevolg van die droogte.

      Die Voorsitter doen aan die hand dat die aanplantings by Glen tydens die vergadering van 25 Oktober 2002 met die LNR-IGG uitgeklaar word.

      Dr De Kock rapporteer dat die Departement van Landbou, Vrystaat Provinsie graag die navorsingswerk op Glen wil bevorder. Hy meld verder dat daar wel grond beskikbaar is onder besproeiing vir die sojabooncultivarproef en dat daar ook grond beskikbaar sal wees vir aanplantings onder droëland toestande. Verder is daar grond beskikbaar vir strookdemonstrasie-proewe onder droëland. Mnr Maree is verantwoordelik vir alle reëlings asook die plant van proewe te Glen. Dr De Kock doen aan die hand dat daar nie later as die tweede week in November geplant word nie.

      Besluite:

      1. Dat die aanplantings te Glen tydens die vergadering van 25 Oktober 2002 met die LNR-IGG bespreek word.

        Voorsitter
        Dr De Kock
        Dr Griessel

      2. Dat mnr Maree verantwoordelik is vir alle reëlings en plant van proewe te Glen.

        Mnr Maree

      3. Dat die aanplantings nie later as die tweede week van November geplant word nie.

        Dr De Kock
        Mnr Maree

    2. Vergadering – terugvoering

      Dr Purchase rapporteer dat die vergadering van die Nasionale Cultivarevaluasiekomitee baie goed afgeloop het en dat die aan­bevelings wat voortspruit uit die vergadering baie sinvol was. Hierdie aanbevelings is reeds in die SA Graan gepubliseer.

  11. Meganisasie – sleepstroper en stroper­tafel

    Hierdie item word nie bespreek nie.

  12. NAMPO Oesdag

    Dr De Kock lig die vergadering in dat daar nog nie 'n finale besluit geneem is of die PNS voortgaan met die uitstalling by die NAMPO Oesdag nie. Die aanbeveling van die PNS-Tegnologiekomitee is dat daar wel voortgegaan sal word. Dr De Kock onderneem om die vergadering op hoogte te hou in die verband.

  13. Sojaboonforum

    1. Terugvoering van vergadering

      Die volgende Sonneblom- en Sojaboonforum is geske­duleer vir 5 November 2002.

    2. Sake om na die volgende Forum te verwys

      Geen.

      Die Voorsitter doen aan die hand dat item 13 op die sakelys verskuif word vir bespreking onder item 14.

      Besluit:

      1. Dat in die toekoms item 13 op die sakelys verskuif word vir bespreking onder item 14.

        Sekretaresse

  14. Navorsing

    1. Roes

      1. Roes Taakspan – terugvoering

        Dr Purchase rapporteer dat die werk voortgaan soos beplan. Die volgende vergadering is geskeduleer vir 24 Julie 2003 op Bothaville. Hy meld verder dat dr Alec McDonald alle reëlings van die Taakspan asook die Voorsitterskap oorneem vanaf 1 November 2002.

        Die Voorsitter doen aan die hand dat aangesien die Roes Taakspan gesamentlik befonds word deur die PNS en OPOT 'n persoon soos dr De Kock die aangewese persoon sal wees om aangewys te word as Voorsitter van die Taakspan. Hierdie aangeleentheid sal tydens 'n volgende vergadering aandag kry.

        Besluit:

        1. Dat kennis geneem word dat dr Alec McDonald vanaf 1 November 2002 alle reëlings sowel as die Voorsitterskap van die Roes Taakspan oorneem, maar dat die aange­leentheid tydens 'n volgende vergadering bespreek sal word.

          Dr Purchase

      2. Proefwaarnemings, Cedara

        Kennis word geneem van die inhoud van Bylae E ingebind in die sakelys. Mnr Killian word versoek om die addisionele inligting tot Bylae E aan die Sekretaresse deur te gee om by die notule aan te heg.

        Besluit:

        1. Dat mnr Killian die addisionele inligting tot Bylae E aan die Sekretaresse deurgee, welke inligting by die notule aangeheg moet word.

          Sekretaresse
          Mnr Killian

    2. Sclerotinia

      1. Samesprekings – terugvoering

        Dr De Kock rapporteer dat daar op 15 Oktober 2002 samesprekings gevoer is met LNR-IGG, Syngenta, Philagro, dr S van Wyk, Mnr Killian en GSA rakende sclerotinia op sonneblom en sojabone. Die siekte is grondgedraag maar dit kan ook deur die saad en plantreste versprei word. Die identifikasie tussen sclerotium en sclerotinia is uiters belangrik veral as daar gekyk wil word na die beheer deur bewerking / wisselbou. Sclerotium hom hoofsaaklik op die stam of die onderdeel van die stam net bokant die grond voor terwyl sclerotinia op die stam en die blaar voorkom.

        Die siekte kom meer drasties voor in toestande met hoë vogtigheid en koeler temperature. Die moontlikheid van teling is dat die spektrum van variasie in weerstand volgens die huidige kennis te nou is om te begin met 'n konvensionele teelprogram. Die variasie wat wel bestaan kan gebruik word in die bestuur van die siekte onder bekende toestande.

        Sclerotinia kan beheer of voorkom word deur:

        • altyd skoon saad te gebruik;
        • wisselbou;
        • insluiting van gras gewasse;
        • bewerking;
        • ryspasiëring; en
        • oriëntasie van die rye (oos / wes rye).

        Vir plante om te herstel van sclerotinia is die volgende van toepassing:

        • sluit in al die voorkomende praktyke soos bo aangedui; en
        • saad kan met Benlate behandel word.

        Kennis word geneem dat dit baie belangrik is dat entstof in die vloeibare vorm toegedien moet word. Chemiese beheer behoort slegs toegepas te word indien voorkomende beheer nie moontlik is nie. Dr De Kock doen aan die hand dat slegs geregistreerde middels volgens voorskrif gebruik word.

        Die chemiese beheermiddels is soos volg:

        • Sumislex – daar bestaan nog onsekerheid oor die toedieningsmetodes en verdere navorsingswerk moet nog gedoen word. Hierdie middel is wel geregistreer op sojabone; en
        • Amistar – is nog nie geregistreer op sojabone nie, maar word tans geregistreer vir roes op sojabone.

        Daar word gemeld dat verdere navorsing nog op die volgende aangeleenthede gedoen moet word en 'n verdere gesprek met LNR-IGG gevoer sal word oor enkele van die onderstaande punte op 25 Oktober 2002:

        • Onsekerheid bestaan oor watter wisselboupraktyke werklik gevolg moet word;
        • Toedieningsmetodes van swamdoders en saadbe­handeling;
        • Waarneming van soja roes middels op sclerotinia;
        • Effek van middels op die fisiologie van die plant;
        • Kwalifisering van bestaande toleransie in cultivars; en
        • Volgens verskeie verslae toon dit dat Roundup Ready sojabone weerstand bied teen sclerotinia. 'n Versoek is aan mnr Pretorius van Monsanto / GSA gerig om, indien daar sulke inligting beskikbaar is, dit te bekom en aan die werkgroep beskikbaar te stel.

        Die twee chemiese maatskappye Syngenta en Philagro het onderneem om die toedieningsresultate beskikbaar te stel. Hulle het verder onderneem dat indien daar werk gedoen word by die LNR-IGG hulle 'n finansiële bydrae sal oorweeg.

        Die PNS het aangebied om sy kantore hiervoor as sekretariaat aan te wend. Die Voorsitter doen aan die hand dat die vergadering 'n afskrif van die notule van 15 Oktober 2002 sal ontvang.

        Mnr Killian gaan ook werk doen op sclerotinia en word versoek dat hy met dr N McLaren van LNR-IGG gesprek voer rakende die werk.

        Besluite:

        1. Dat 'n afskrif van die notule van die Sclerotinia ver­gadering gehou op 15 Oktober 2002 aan die werkgroep beskikbaar gestel word.

          Sekretaresse

        2. Dat mnr Killian met dr N McLaren gesprek voer rakende die werk wat hy gaan doen op sclerotinia.

          Mnr Killian
          Dr McLaren

    3. Lys van goedgekeurde projekte, PNS

      Kennis word geneem van die inhoud van Bylae F ingebind in die sakelys. Die lys van goedgekeurde projekte wat deur OPOT finansier word sal by die notule aangeheg word.

      Besluite:

      1. Dat kennis geneem word van die inhoud van die lys van goedgekeurde projekte wat deur die PNS befonds word.

        Dr Griessel

      2. Dat die lys van goedgekeurde projekte wat deur OPOT finansier word by die notule aangeheg word.

        Sekretaresse

    4. Biodiesel

      Hierdie item staan oor na die volgende vergadering.

      Besluit:

      1. Dat die item oorstaan na die volgende vergadering vir bespreking.

        Sekretaresse

  15. Ander sake

    1. Inligtingsdae 2002

      Sojakundigheidsforum: 6 November 2002.

  16. Toevoegings tot sakelys

    1. Sojakundigheidsforum

      Me Pretorius noem dat die amptelike uitnodigings en 'n voorlopige program uitgestuur is en dat die Sojakundig­heidsforum plaasvind op 6 November 2002, te Caesars.

  17. Datum van volgende vergadering

    Die volgende vergadering van die werkgroep is geskeduleer vir 3 Desember 2002.

  18. Afsluiting

    Aangesien daar geen verdere sake vir bespreking is nie, verdaag die Voorsitter die vergadering om 14:00.