Notule

Sclerotiniawerkgroepvergadering

gehou op Dinsdag, 28 Junie 2005 om 10:00 in die PNS-Raadsaal te Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur mnr GJH Scholtemeijer.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, mnr GJH Scholtemeijer, heet almal teenwoordig welkom by die vergadering.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Dr J de Kock PNS
    Dr M Griessel PNS
    Mnr W van Wyk PNS
    Mnr A Ferreira Graan SA
    Mnr FAS Potgieter Oliesade-Advieskomitee
    Mnr GJ Pretorius Oliesade-Advieskomitee
    Mnr N Hackland BASF
    Mnr H Haveman BASF
    Mnr H Kriel Xenocor Bioworx
    Mnr H van der Westhuizen Philagro SA
    Mnr R Meyer Ecowise
    Mnr JJW Potgieter Pannar
    Dr R Kloppers Pannar
    Prof N McLaren Universiteit van die Vrystaat
    Dr P Caldwell Universiteit van KwaZulu-Natal
    Dr D Fourie LNR-IGG
    Me M Craven LNR-IGG
    Dr B Flett LNR-IGG
    Mnr G Keun OPOT
    Mnr N Fouché Sekretariaat

    Verskonings

    Dr G Swart Syngenta
    Dr D Oelofse LNR-Roodeplaat
    Prof ZA Pretorius Universiteit van die Vrystaat
    Prof A McDonald LNR-IGG

  4. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, met die volgende toevoeging:
    Item 6.8   Aansoek by PNS: Dr D Oelofse

  5. Goedkeuring van die notule van die vergadering van 25 November 2004

    Besluit:

    1. Dat die notule van die vergadering van die Sclerotinia-werkgroep gehou op 25 November 2004 goedgekeur word, nadat die volgende wysigings aangebring is:
      • Bl 11 Item 6.4
        Eerste par., tweede sin ⊄ moet lees "In dié verband verwys Dr De Kock na 'n artikel rakende verbouingsmetodes wat in samewerking met Drr John Purchase en Schalk van Wyk in die SA Graan gepubliseer is."
      • Bl 11 Item 6.4
        Vierde par., tweede sin – voeg by na "... aard van die siekte": "maar veral weens die gebrek aan 'n betroubare toetsmetode."
  6. Sake voortspruitend uit die notule van 25 November 2004

    1. Terugvoering ten opsigte van navorsingsprojekte, Philagro

      Mnr Van der Westhuizen noem dat die registrasie-aansoek om Sumisclex korrektief op sojabone te gebruik, by die Registrateur van Wet 36 ingedien is. Met die hulp van die werkgroep se skrywes, is tydelike noodregistrasie vir Sumisclex bekom, vir die korrektiewe beheer van Sclerotinia teen 'n dosis van 1,5 liter tot 2,0 liter per hektaar. Hy sê dat die ou registrasie vir voorkomende bespuiting van Sumisclex rondom blomtyd op die etiket behou is, sodat die produsent of voorkomend of korrektief kan bespuit.

      Mnr Van der Westhuizen doen 'n voorlegging oor sy werk in hierdie verband. Tydens die voorlegging word onder meer gemeld dat in Bergville 'n droëland- en besproeiingsproef sojabone geplant is en in Koedoeskop dieselfde proef geplant is. Slegs dié proef in die Winterton area het Sclerotinia-besmetting opgedoen en die resultate is soortgelyk aan dié van die vorige jaar.

      In die eerste jaar (2004) is twee proewe op sojabone gedoen waar die voorkomende toediening van Sumisclex met voorkomende bespuiting bestudeer is. Die nuwe registrasie van Sumisclex berus op hierdie proewe se resultate. In die tweede jaar (2005) is die voorkomende behandelings herhaal, om die resultate van die vorige jaar te bevestig. Die byvoeging van 'n spesifieke benattingsmiddel, BreakThru, het die effektiwiteit van Sumisclex verbeter, en sal verder ondersoek word. 'n Verdere doel was om te bepaal of die twee produkte BAS512 van BASF en Amistar van Syngenta wat vir roesbeheer geregistreer gaan word, 'n effek op Sclerotinia het.

      Die proefbestuurder by Winterton het ongelukkig nie die proefprotokol gevolg nie. Volgens protokol moes hy eers die Amistar- en die BASF-produk spuit en daarna met 'n enkele Sumisclex-bespuiting opvolg. Die persoon het egter begin om 'n 1 liter/ha Sumisclex-bespuiting toe te dien op 23 Februarie 2005 en die bespuiting 14 dae later met 'n enkele Amistar of BAS 512. Hierdie behandeling het 'n mate van beheer meegebring.

      Mnr Van der Westhuizen meld dat Sumisclex en BASF se middel beslis 'n goeie bydrae lewer tot addisionele siektebeheer en opbrengsverhoging. Amistar ná Sumisclex en veral BASF se middel ná Sumisclex het 'n positiewe effek op opbrengsresultate. In 2004 is waargeneem dat die BASF-middel 'n groter bydrae as Amistar by Sclerotinia-beheer teweeg kan bring.

      Mnr Hackland noem dat BASF 'n sojaboonroes-proef in die Winterton-gebied gedoen het waar geen roes ontwikkel het nie, maar dat die opbrengs in verhouding tot dosistoediening van die BASF-produk toegeneem het. Hy sê die gevolgtrekking is dat toediening van die middel moontlik die algemene plantgesondheid van die proef bevorder het, deurdat dit waarskynlik ongeïdentifiseerde simptome behandel het.

      Mnr Van der Westhuizen wys op die ekonomiese sin van Sumisclex-behandeling op sojabone. Ten spyte van die feit dat genoemde middels goeie siektebeheer en opbrengsverhoging teweeg bring, is dit teen die huidige sojaboonprys van ongeveer R900/ha, nie lonend om sojabone daarmee te behandel nie. Aan die ander kant egter, kan Sclerotinia die lande oor 'n lang termyn besmet. Teen 'n sojaboonprys van R1 700/ton sal toediening van Sumisclex teen 1,5 liter/ha en 2,0 liter/ha lonend wees. In die lig van die huidige pryse van Amistar en Sumisclex en opbrengsverhoging wat hul toediening tot gevolg het, bied die program waar die twee produkte in kombinasie gebruik kan word, die mees winsgewende opsie vir die behandeling van roes en Sclerotinia, teen 'n sojaboonprys van R1700/ton.

      Mnr Van der Westhuizen noem dat 'n proef by Koster op sonneblom gedoen is, waar sewe verskillende behandelings teen ses herhalings van elk gedoen is, vir die behandeling van stam-Sclerotinia. Benomyl, wat goedkoper as Sumisclex is, is by die proef ingesluit. Bespuiting is vier weke na opkoms, op die ry gedoen. Ongelukkig het geen Sclerotinia voorgekom nie.

      Dr Griessel vra of daar nou 'n artikel geskryf sal kan word oor die aanwending van Sumisclex vir die beheer van Sclerotinia, met die inligting wat tans beskikbaar is, veral ten opsigte van toedieningsmetodes. Mnr Van der Westhuizen sê dat die mees effektiewe wyse van toediening via spilpunt is en dat dit hierdie jaar ongelukkig nie by Koster moontlik was nie. Hy sê dat hierdie jaar gepoog sal word om spilpunttoediening daar te doen. By Koedoeskop is daar wel van spilpunttoediening gebruik gemaak. Die Registrateur sal versoek word om die produk vir spilpunt-toediening te registreer en 'n artikel sal dan in die verband geskryf word. Hy sê dat hy nog meer werk ten opsigte van die benatter wil doen om te bepaal of die afgelope seisoen se positiewe resultate herhaal kan word.

      Mnr Pretorius vra tot watter mate daar van klimatologiese omstandighede rekord gehou word. Hy sê dat proewe wat op besmette lande geplant word, dikwels nie Sclerotinia opdoen nie, wat die vraag laat ontstaan, watter klimatologiese toestande bevorderlik vir die siekte is. Dr Kloppers sê dit blyk dat reën nie bevorderlik vir die ontwikkeling van Sclerotinia is nie, maar dat vogtige toestande meer ideale toestande skep.

      Mnr JJW Potgieter sê dat kop-Sclerotinia by sonneblom plaasvind sodra die plant begin blom en dat die simptome eers sowat drie weke later waarneembaar is. Indien koel en nat toestande nie tydens blom plaasvind nie, is die kanse min dat Sclerotinia sal voorkom. Ascospore waai tydens blom op die stempels en blompakkies om kop-Sclerotinia te veroorsaak. Hy sê dat navorsing hieroor reeds deur die Amerikaanse Departement van Landbou (USDA) in Chicago gedoen is.

      Dr Caldwell sê dat 'n hele reeks aktiwiteite eers plaasvind voordat die ascospore die plant bereik. Sclerotia sal eers in die regte omstandighede apothesium probeer produseer, voordat ascii te voorskyn sal kom. Volgens literatuur is koel weer van 5°C tot 15°C vir die apothesium nodig om te ontwikkel. Mnr JJW Potgieter bevestig dat koue, nat toestande nodig is vir die ascospore om te ontwikkel. Hy noem dat die USDA tans 'n intensiewe navorsingsprogram ten opsigte van kop-Sclerotinia loods, waaruit daar binnekort interessante artikels geskryf sal word. Hy onderneem om die werkgroep op hoogte daarvan te hou.

      Dr Flett sê dat daar baie kombinasies van en interaksies tussen klimaatsomstandighede is wat siektevoorkoms en die intensiteit daarvan beïnvloed. Dit bemoeilik die ontwikkeling van 'n betroubare vroeë waarskuwingstelsel. Die Voorsitter sê hoewel hierdie feit aanvaar word, daar tog gepoog moet word om vordering in hierdie verband te maak.

      Mnr Van der Westhuizen sê dat sy maatskappy in die nuwe seisoen weereens Sumisclex op sonneblom sal toets. Mnr Pretorius versoek dat die sonneblom voorkomend vir kop-Sclerotinia gespuit word, wanneer koue en nat toestande voorkom. Mnr Van der Westhuizen onderneem om dit te probeer doen, mits dit logisties moontlik is (as gevolg van die afstand tussen die kontrakteur en die perseel). Mnr JJW Potgieter sê dat kop-Sclerotinia by sonneblom slegs op een van twee maniere beheer kan word, naamlik om sclerotia in die grond te beheer (sodat ascospore nie gevorm word nie) en om 'n sistemiese middel te gebruik, aangesien dit onmoontlik is om 'n kontakmiddel op die blom te spuit.

      Dr Kloppers noem dat Mnr Neil van Rij te Cedara heelwat sukses met modelleringswerk op verskeie gewasse behaal en doen aan die hand dat hy gekontrakteer word om proewe met Sclerotinia by sonneblom te doen. Dr Caldwell sê dat Mnr Van Rij sy meestersgraad onder haar mentorskap gedoen het en tans sy PhD doen. Sy sê dat hy goeie modelleringswerk doen en sy beveel Mnr Van Rij aan om 'n modelleringstudie te doen. Die Voorsitter reël dat 'n projekvoorlegging in hierdie verband aan die PNS voorgelê word.

      Besluit:

      1. Dat Mnr Van der Westhuizen gedurende die 2005-plantseisoen opnuut sal poog om Sumisclex met spilpunt by Koster of Winterton toe te dien.

        Mnr Van der Westhuizen

      2. Dat Mnr Van der Westhuizen die Registrateur sal versoek om op grond van die resultate met spilpunt-toediening van Sumisclex by Koedoeskop, hierdie middel vir spilpunt-toediening te registreer.

        Mnr Van der Westhuizen

      3. Dat Mnr Van der Westhuizen se proewe met benatters by die toediening van Sumisclex voortgesit sal word.

        Mnr Van der Westhuizen

      4. Dat Mnr Van der Westhuizen 'n artikel vir produsente oor die toedieningsmetodes van Sumisclex sal skryf, sodra die registrasie van hierdie produk vir spilpunt-toediening afgehandel is.

        Mnr Van der Westhuizen

      5. Dat Mnr JJW Potgieter die Sclerotinia-werkgroep op hoogte sal hou van die intensiewe navorsingsprogram wat die USDA tans ten opsigte van kop-Sclerotinia by sonneblom loods, waaruit daar waarskynlik binnekort artikels sal begin verskyn.

        Mnr JJW Potgieter

      6. Dat Mnr Van der Westhuizen sal poog om sonneblomproewe voorkomend vir kop-Sclerotinia te spuit, wanneer nat en koue toestande voorkom, indien dit logisties moontlik is.

        Mnr Van der Westhuizen

      7. Dat 'n projekvoorlegging ingewag word ten opsigte van 'n Sclerotinia-modelleringstudie by sonneblom, wat deur Mnr N van Rij behartig sal word.

        Dr Caldwell


    2. Terugvoering ten opsigte van navorsingsprojekte, Sojabone: LNR-IGG


      Prof McLaren noem dat cultivarproewe op Bloemfontein en Bethlehem geplant is. Drie herhalings is vanaf middel November tot laat Desember geplant, ten einde ook die invloed van verskillende weerstoestande te kan bepaal. Al die proewe is tydens blom met behulp van sclerotinia wat op sorghumsaad gekweek is geïnokuleer, waarna die persentasie verlepte plante bepaal en met dié van die vorige seisoen vergelyk is.

      Uit die grafiese voorstelling voorgehou aan die vergadering blyk dit dat daar heelwat minder infeksie gedurende 2005 plaasgevind het, as in 2004. 'n Aantal cultivars het redelik stabiel oor die seisoene presteer. Die proefresultate toon dat Wenner en LS599 die vatbaarste en Carnia 5550 die minste vatbaar vir Sclerotinia is. Hy wys op die verskille oor seisoene tussen cultivars. Hoe hoër die infeksievlak, hoe hoër is die opbrengs.

      Prof McLaren meld dat die interaksie van cultivars ten opsigte van infeksiepotensiaal en die omgewing ook bepaal is. Die infeksiepotensiaal van die ses (6) proewe oor die twee seisoene, is in die algemeen laer vir 2005 as in 2004. Die waargenome stamvrot-intensiteit is grafies teenoor stamvrotpotensiaal gestel. Daar was basies drie tipes reaksies:

      • sommige cultivars het 'n baie hoë vatbaarheid, selfs teen 'n baie lae siektepotensiaal;
      • ander bied weerstand tot 'n sekere drumpel siektepotensiaal; en
      • die derde groep met redelike stabiele weerstand, met toenemende siektepotensiaal. Die meeste cultivars het geblyk vatbaar vir Sclerotinia te wees.

      Prof McLaren sê in antwoord op n vraag aan Dr Kloppers, dat Roundup nie by hierdie proef op Roundup Ready cultivars toegedien is nie. Hy sê dit blyk tog dat die Roundup Ready cultivars in die proef, matig minder as die ander besmet was. Mnr Van Wyk noem dat hy sowat drie seisoene gelede 'n proef met die Roundup Ready cultivar A5409 gedoen het, waar hierdie cultivar baie goed presteer het, terwyl die ander cultivars swaar met Sclerotinia besmet was.

      Prof McLaren sê dit word voorgestel dat die projek voortgesit word om te bepaal hoe stabiel die model, ten opsigte van die mate van weerstandbiedendheid teenoor verhoogde infeksiepotensiaal van die cultivars is. Hy sê die vraag kom ook na vore, wat die nasionale siektepotensiaal is. Hy sê aangesien daar beter resultate in die koeler en klammer klimaat van Bethlehem verkry word, hy daaraan dink om addisionele proefaanplantings daar te doen. Hy bevestig dat hy saam met die projekleier, Me Maryke Craven en Dr Flett, baie nou by die projek betrokke is. Dr Kloppers nooi Prof McLaren om hom te kontak, sou hy 'n gedeelte van die proef na Greytown wil verplaas.

      Dr Flett sê dit is die eerste stap om Sclerotinia-proewe in terme van klimaat te modelleer. Hy sê dat klimaat 'n rol by siektepotensiaal speel. Die proef help ook om cultivars te identifiseer wat na gelang van hul potensiaal, bespuit behoort te word.

      Dr Griessel sê hy herinner hom dat Dr M Smit 'n aantal jare gelede tydens 'n besoek aan Argentinië genoem het, dat die LNR-IGG 'n model ontwikkel het om Sclerotinia te voorspel. Aangesien geen een van die persone teenwoordig daarvan kennis dra, onderneem Dr Griessel om dit op te volg.

      Dr De Kock wys daarop dat voortsettingsaansoeke vir die plantseisoen van 2006, teen 1 Augustus 2005 ingedien moet wees. Mnr Keun sê aangesien sclerotiniaprojekte gesamentlik deur OPOT en die PNS gefinansier word, word projekaansoeke by die PNS ingedien en ook deur die PNS geadministreer.

      Prof McLaren noem dat swamdoderproewe oor drie herhalings en met vyftien swamdoders gedoen is. Dit is onbekend waarom daar min verskil tussen die behandelde persele en die proefkontrole was. Die kontrole het 'n lae siektepotensiaal getoon. Hy vertoon die proefresulate aan die vergadering. 'n Groter proef sal moontlik gedoen moet word om alternatiewe inokulasietegnieke te evalueer – moontlik in 'n M.Sc.-studie. Swamdoderpenetrasie word bemoeilik deurdat die blaardak die blomme beskerm. Swamme penetreer die plante deur die blomme. In die glashuis kan omtrent elke blom gespuit word, maar in veld- en kommersiële toestande is dit onmoontlik. Mnr Kriel sê dat biologiese produkte wat in die grond toegedien word, saam met chemiese middels 'n groter verskil kan maak.

      Besluit:

      1. Dat Me Craven se LNR Sclerotinia-projek ten opsigte van sojabone in samewerking met Prof McLaren voortgesit sal word om te bepaal hoe stabiel die model is ten opsigte van die mate van weerstandbiedendheid teenoor verhoogde infeksiepotensiaal van cultivars.

        Me Craven

      2. Dat kennis geneem word van die voorneme om addisionele proefaanplantings in Bethlehem te doen, as gevolg van die beter proefresultate aldaar, as in Bloemfontein.

        Me Craven

      3. Dat kennis geneem word, dat Prof Mclaren steeds baie nou by die Sclerotinia-projek ten opsigte van sojabone betrokke is, in samewerking met Me Craven (projekleier) en Dr Flett.

        Prof McLaren

      4. Dat Prof McLaren kennis neem van Dr Kloppers se aanbod om fasiliteite vir Prof McLaren se Sclerotinia-proef op sojabone, in Greytown beskikbaar te stel.

        Me Craven

      5. Dat Dr Griessel navrae sal doen of die LNR-IGG vroeër reeds 'n Sclerotinia-voorspellingsmodel ontwikkel het.

        Dr Griessel


    3. Terugvoering ten opsigte van navorsingsprojekte, Sonneblom: LNR-IGG

      Dr Fourie hou die afgelope seisoen se resultate ten opsigte van chemiese beheer van Sclerotinia, aan die vergadering voor. Dr Fourie meld dat in die afgelope seisoen die proewe slegs Sclerotinia-kopvrot behels het.

      Proewe (cultivar DK4040) is te Potchefstroom (LNR-IGG), Delmas en Greytown geplant. Laasgenoemde twee is op Pannar se navorsingstasies geplant. DK4040 (vatbare cultivar) is in 'n gerandomiseerde proef, bestaande uit sestien behandelings en drie herhalings, geplant. Die Potchefstroom-proef is kunsmatig besmet met die Sclerotinia-patogeen en die proef is besproei. By Delmas en Greytown se proewe is daar op natuurlike infeksie staatgemaak, sonder besproeiing.

      Omdat daar slegs op kopvrot gekonsentreer is, is al die saad, behalwe die onbehandelde kontrole, met Benlate behandel. Die res van die behandelings het Benlate-bespuiting, Amistar, Sumisclex, Switch, BASF 512 LKF, BASF 51604f, BASF 5160f, BASF 512 LKF + Sumisclex en Punch Xtra ingesluit. Produkte (behalwe Switch) is tydens vroeë blomstadium toegedien en bespuitings is twee weke na eerste bespuiting herhaal. Punch Xtra is slegs tydens vroeë blom toegedien en een behandeling het BASF 512 LKF tydens vroeë blom, gevolg deur Sumisclex (2 weke na toediening van die BASF-produk) ingesluit. Dosisse soos deur die vervaardigers aanbeveel, is gebruik. 'n Volledige tabel wat die tyd van toediening en dosisse aandui, is aan die vergadering getoon.

      By die Potchefstroom-proef het geen Sclerotinia ontwikkel nie en slegs die opbrengs is bepaal. Geen beduidende opbrengsverskille is aangeteken nie. Sclerotinia het laat in die seisoen in Delmas voorgekom, maar geen akkurate waarnemings is gedoen nie. Sclerotia was egter in al die saadmonsters teenwoordig. Geen beduidende opbrengsverskille is in die Delmas-proef waargeneem nie. Aansienlik hoër opbrengste is by Potchefstroom behaal (waar geen Sclerotinia voorgekom het nie) as by Delmas (waar Sclerotinia wel ontwikkel het).

      By Greytown is kopvrot-persentasies, die intensiteit van die siekte en opbrengsdata aangeteken. Beduidende verskille het tussen behandelings voorgekom, in terme van die persentasie besmette plante en opbrengs. By die kontrole is die kleinste persentasie besmette plante aangeteken (3,8%), maar die opbrengs daarvan was ondergemiddeld. Behandeling met BASF-produkte het die beste proefresultate in terme van persentasie besmette plante en opbrengs opgelewer.

      Die resultate van die cultivarproef te Greytown, word per tabel aan die vergadering getoon. Sestien cultivars is by die proef ingesluit, waar besmette persentasies vanaf 9,5% (PAN 7351) tot 39,1% (Hysun 350) gewissel het.

      Dr Griessel vra of Sclerotinia-waarnemings by die cultivarproewe gedoen word. Drr Fourie en de Kock sê dat Sclerotinia-waarnemings volgens hulle kennis nie by cultivarproewe ingesluit word nie. Heelwat bespreking volg ten opsigte van die gifstofproefresultate van Greytown. Dr Flett wys daarop dat daar nie sinvolle gevolgtrekkings gemaak kan word uit 'n enkele proef op 'n enkele perseel soos hierdie nie. Dr Fourie sê dat 'n volledige verslag moontlik meer lig sal werp op die uitskieters. Sy sê sy beplan om die proewe gedurende die volgende seisoen te herhaal, terwyl kunsmatige besmetting weer eens by Potchefstroom toegepas sal word.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word, dat Dr Fourie (LNR-IGG) haar Sclerotinia-proewe tydens die 2005-plantseisoen sal herhaal, terwyl kunsmatige besmetting weer eens by Potchefstroom toegepas sal word.

        Dr Fourie


    4. Navorsing, Universiteit van Natal

      Dr Caldwell rapporteer oor die sake voortspruitend uit die vorige notule:

      • Sy noem dat sy en Prof McLaren 'n projek opgestel het, waar sy navorsingsondersteuning met glashuisproewe sal onderneem.
      • Kopieë van Me D Visser se literatuurstudie ten opsigte van Sclerotinia-weerstandbiedendheid by sojabone, is beskikbaar.
      • Sy noem dat toediening van BASF se middel en Sumisclex as gevolg van haar universiteitsverpligtinge, nog nie gedoen is nie. Sy sê dat inokulasie met ascospore gedoen sal word en dat baie sclerotia nodig is. Me D Visser is onder andere besig om sclerotia te versamel en ascospore te vermeerder. Daarom kon daar nog nie begin word om te inokuleer nie.
      • 'n Projekvoorlegging van die Universiteit van Natal wat swamdoders insluit, is in samewerking met Prof McLaren voorberei.

      Die Voorsitter verwys na die vorige notule, waar hy verneem het of sojabooncultivars in volgorde van weerstandbiedendheid vir Sclerotinia gerangskik kan word. Sy maak melding van die internasionale tegniek wat ten opsigte van sojaboonroes ontwikkel is en sê sy glo dat dieselfde deurbraak ook ten opsigte van Sclerotinia moontlik is, aangesien daar konstant met die patogeen gewerk word.

      Dr De Kock sê dat hy met Dr Caldwell en Prof McLaren gesprek gevoer het. Hy sê namate die Universiteit van Natal met die navorsingswerk vorder, daar eventueel 'n behoorlike tegniek geformuleer sal word. Dr Caldwell sê dat sy meer inligting van die VSA sal bekom oor hul Sclerotinia-evaluasietegnieke. Prof McLaren bevestig teenoor die Voorsitter, dat daar met navorsing voortgegaan word, met die doel om cultivars te rangskik in die volgorde van vatbaarheid.

      Dr Griessel sê dat hy graag sou wou sien dat die navorsingswerk wat in Ohio gedoen word, hier plaaslik herhaal word, sodat eers bepaal word watter plante meer vatbaar vir Sclerotinia as ander is. Hy sê dat Prof McLaren die inokulum by verskeie geleenthede toegedien het, maar telkens verskille in veldproewe gekry het. Daarom sou dit wenslik wees om die ideale toestande in die glashuis te skep, waarbinne die plante evalueer kan word en daarom is besluit dat Dr Caldwell en Prof McLaren moet saamwerk. Prof McLaren sê dat daar slegs een omgewingstoestand in die glashuis heers, terwyl 'n Sclerotinia-proef 'n verskeidenheid omgewingstoestande vereis. Hy sê literatuur bevestig ook dat glashuis proefresultate nie met veldproefresultate korreleer nie.

      Dr De Kock sê dat Dr Caldwell versoek is om navorsing te doen oor die beste metode vir die ontwikkeling van die siekte in glashuisomstandighede. Hy noem dat hierdie aspek reeds in die navorsingsprojekvoorlegging wat aangebied is, vervat word. Hy sê dat die resultate van Prof McLaren se veldproewe nie met dié in die glashuise ooreenstem nie. Die Amerikaanse tegnieke wat hier ter plaatse gedupliseer is, was onsuksesvol. Daarom is besluit dat Prof McLaren op die veldproewe sal konsentreer, waar hy moontlik 'n beter reaksie sal kry. Indien daar intussen 'n inokulumtegniek ontwikkel kan word wat beter as die Amerikaanse tegniek is, kan daar teruggegaan word na die glashuis, waar dit wetenskaplik ondersoek kan word.

      Dr Flett sê dat die interaksie dalk nie korrek verstaan word nie. Hy sê met werk wat in terme van verskeie ander siektes gedoen word, word 'n bepaalde interaksie gevind. Hy sê dat Prof McLaren se navorsing klimatologiese variasie in ag neem. Die tegniek is op diplodia kopvrot by mielies en ergot op sorghum toegepas, waarvan 'n lesing oorsee aangebied is en deur internasionale wetenskaplikes aanvaar is. Deur die toepassing van hierdie tegniek sal voorspellings gemaak kan word.

      Prof McLaren sê daar word infeksie in die glashuis gevind, maar dit korreleer net nie met die veldproewe se resultate nie. Hy verduidelik dat, in toestande van wisselende siektepotensiaal, daar verskillende plantreaksies waargeneem en gekwantifiseer word. 'n Hoër siektevoorkoms word in die glashuis gevind, aangesien die siektepotensiaal daar waarskynlik groter is as in die veld. Dr Caldwell sê indien miscelia in plaas van ascospore in die glashuis gebruik word, soos in die veldproewe, dit onmiddellik toegepas kan word.

      Dr Caldwell sê benewens die literatuurstudie, is daar ook kursuswerk gedoen. Daar word gekyk watter omstandighede die beste vir die produksie van ascospore is. Elektro-mikroskopiese werk is ook gedoen om jong sclerotia na te vors.

      Dr De Kock verneem van Dr Caldwell of sy Sumisclex en BASF se middel by die swamdoderproef ingesluit het. Dr Caldwell sê dat hierdie twee produkte wel ingesluit is en op advies van die maatskappye, tydens blom toegedien word. Sy sê Prof Laing het voorgestel dat Impact en Baytan ook op die blaarstadiums R1 tot R4 toegedien word.

      Besluit:

      1. Dat Dr Caldwell meer inligting van die VSA sal bekom oor hul Sclerotinia-evaluasietegnieke.

        Dr Caldwell

      2. Dat daar met navorsing voortgegaan word, met die doel om sojabooncultivars in die volgorde van vatbaarheid vir Sclerotinia te rangskik.

        Dr Caldwell
        Prof McLaren

      3. Dat Dr Caldwell en Prof McLaren met mekaar oorleg sal pleeg oor die kombinasie van veld- en glashuisproewe ten opsigte van Sclerotinia by sojabone.

        Dr Caldwell
        Prof McLaren


    5. Saadbehandeling van Sojabone

      Die Voorsitter verneem watter vordering met saadbehandeling van sojabone gemaak is. Dr De Kock sê dat dit tydens die vorige vergadering nog onseker was of beheer by aanvanklike besmetting van sonneblom toegepas sou kon word, om te verhoed dat Sclerotinia die wortels en stam en uiteindelik die kop bereik. Hy sê dat die voorlegging van Dr Kloppers meer lig gewerp het op die wyse waarop besmetting plaasvind.

      Dr De Kock sê die gedagte is ook genoem dat saadbehandeling 'n goedkoper metode is en die plant vir 'n langer periode siektevry gehou sou kon word, indien die metode suksesvol is. Die bewering is ook vroeër gemaak, dat Benlate van die mark onttrek sou word. Benomyl (aktiewe bestanddeel van Benlate) word by baie van die PNS se proewe gebruik, soos by Dr Fourie se sonneblomproewe as 'n aparte kontrole en by Dr Caldwell se nuwe voorlegging. Die Tegnologiekomitee het aanbeveel om, voordat 'n finale besluit aangaande saadbehandeling geneem word, die resultate uit voorgenoemde twee proewe beoordeel behoort te word.

      Dr Kloppers sê dat daar heelwat weerstand teen Benlate opgebou is. Hy sê dat Benlate by Prof McLaren se proef ingesluit is, aangesien dit die enigste produk is wat vir die saadbehandeling van Sclerotinia geregistreer is. Hy sê dat dit gepas sou wees indien chemiese maatskappye sorg sou dra dat die nodige proewe op nuwe generasie saadbehandelingsmiddels uitgevoer word, sodat dit vir registrasie op sonneblom en sojabone kan kwalifiseer. Hy sê daar rus 'n verantwoordelikheid op die bedryf om die primêre verspreiding van die patogeen, deur middel van saadbehandeling te verhoed.

      Mnr Hackland sê dat BASF se Duitse navorsingslaboratorium, wat hy oor sowat twee weke sal besoek, tans 'n program vir die ontwikkeling van saadbehandelingsmiddels loods. Hy sê hy is onseker of Sclerotinia by die program ingesluit is, maar dat hy sal poog om te reël dat 'n produk wat BASF plaaslik ontwikkel het, daarby ingesluit word. Hy onderneem om terugvoering aan Dr De Kock te verskaf.

      Dr Kloppers noem dat Syngenta se "Select" vir sojabone in die VSA geregistreer is en doen aan die hand, dat die PNS dit met hierdie maatskappy opneem. Die Voorsitter reël dat Dr De Kock hierdie aangeleentheid met Dr Swart by Syngenta opneem. Mnr Van der Westhuizen noem dat Philagro ook onlangs 'n nuwe produk ontwikkel het wat baie effektief teen Sclerotinia blyk te wees.

      Mnr Kriel sê dat daar biologiese produkte is wat vir die behandeling van saad in kombinasie met chemiese middels toegedien kan word. Dr Kloppers sê aangesien saadbehandeling-proewe nie saam met gewone proewe ingesluit kan word nie, goeie protokol vir die hantering van sulke proewe, in Drr Alan Philips en Van der Westhuizen se werk nageslaan word. Dr Caldwell sê sy neem kennis hiervan en sal dit by die samestelling van 'n meestersgraad-studieprogram in gedagte hou. Die Voorsitter versoek dat daar op die suksesvolle resultate uit 'n meestersgraadstudie voortgebou word. Dr Caldwell sê dat dit die gedagte is.

      Besluit:

      1. Dat Mnr Hackland sal poog om te reël dat 'n produk wat BASF plaaslik ten opsigte van saadbehandeling vir Sclerotinia ontwikkel het, by 'n saadbehandelings-navorsingsprogram wat deur BASF se Duitse laboratorium geloods word, ingesluit word en dat hy terugvoering daaroor aan Dr De Kock sal verskaf.

        Mnr Hackland

      2. Dat Dr De Kock met Dr Swart van Syngenta sal skakel om meer te wete te probeer kom oor hierdie maatskappy se "Select" swambeheermiddel wat vir Sclerotinia in die VSA geregistreer is.

        Dr De Kock

      3. Dat Dr Caldwell rekening sal hou met die protokol vir saadbehandelingsproewe, soos gepubliseer in werk van Drr Alan Philips en Van der Westhuizen.

        Dr Caldwell

      4. Dat die saadbehandelingsprojek wat as deel van 'n meestersgraadstudie by die Universiteit van Natal hanteer word, ook ná die afhandeling van die meestersgraad voortgesit sal word.

        Dr Caldwell


    6. Skematiese voorstelling van die siklus van Sclerotinia by sonneblom

      Dr Kloppers hou 'n skematiese voorstelling van die siklus van Sclerotinia by sonneblom aan die vergadering voor. Hy sê daar is basies twee stadia in Sclerotinia se lewensiklus, naamlik die geslagtelike stadium en die miscelium-ontkiemingstadium. Dit begin by die sclerotia wat in die grond lê. Wanneer die plantwortel naby die sclerotia groei, sal miscelia in 'n ongeslagtelike ontwikkelingstadium die wortel en die res van die plant penetreer waarna dit sigbare wit, wollerige miscelia en sclerotia vorm, wat in die grond beland. Hierdie siklus illustreer dat Sclerotinia moeilik chemies beheerbaar is.

      Dr Kloppers sê deur van sclerotia ontslae te raak, die inokulum verminder sal word. Hy skat dat 80% tot 90% van sonneblom se Sclerotinia-probleme kop- en stam Sclerotinia is, wat dieselfde oorsprong het. Sclerotia ontkiem in vogtige en koue (4°C tot 10°C) toestande wat die ontwikkeling van apothesia op die sclerotia bevorder en waaruit asci ontstaan. In elke ascus vorm agt ascospore, wat deur die wind oor groot afstande versprei kan word. Die spore kan uiteindelik op sonneblomkoppe en -stamme beland. Wanneer die miscelia oorlewingstrukture vorm, word sclerotia gevorm wat weer in die grond te lande kom. Vestiging van die swam kan deur voorkomende behandeling van die grond verhoed word.

      Mnr Pretorius sê aangesien ascospore lande oor groot afstande kan infekteer, dit nie sin maak om lande van bewerking te weerhou nie. Mnr JJW Potgieter sê tydens 'n internasionale sonneblomkongres van sowat 12 jaar gelede het Argentyne gerapporteer dat mielies na sonneblom 'n uitstekende beheermaatreël is. Hy noem dat daar geweldige goeie vordering gemaak word met die teel van plante wat genetiese weerstand teen Sclerotinia bied. Cultivars sal aanstaande jaar kommersieel beskikbaar wees.

      Dr Kloppers sê slegs die spore wat in die boonste oppervlak van die grond lê, sal ontkiem. Sclerotia wat tussen die saad lê, sal te diep wees om te ontkiem en dus nie apothesia kan vorm nie. Hy sê dat 'n suksesvolle proef met biologiese beheer van Sclerotinia by Delmas gedoen is, maar dat die risiko van luggedraagde spore steeds hoog is, terwyl daar ook 'n verskeidenheid gashere vir Sclerotinia bestaan. Op Dr Caldwell se vraag, sê Dr Kloppers dat sukses met biologiese beheer van Sclerotinia op proefskaal, dikwels nie in kommersiële toestande herhaal word nie.

      Mnr Kriel noem dat sy maatskappy 'n grondinokulant-produk bemark wat die wortelsisteem bevorder en 'n inhiberende effek op patogene-organismes uitoefen. Sclerotinia is as een van die kritiese plae geïdentifiseer, waarop gefokus word. Kommersiële aanwending van die produk op sojabone in die Lichtenburg-omgewing, het goeie resultate getoon. Op gronde waar die produk nie benut is nie, is ernstige Sclerotinia-infeksie ondervind. Resultate in hierdie verband is aan die LNR-IGG en Dr De Kock voorsien. Hy sê dat chemiese en biologiese beheerstelsels in kombinasie met mekaar beproef behoort te word. Hy sê dat dit ondersoek kan word om die biologiese produk via oorhoofse bespuiting in 'n sekere ontwikkelingstadium van die plant, op die gewas toe te dien.

      Dr De Kock noem dat organiese middels volgens sy kennis, nie geregistreer hoef te word nie. Die Voorsitter vra of die suksesvolle aanwending van die produk wetenskaplik bewys is. Dr De Kock sê dat die produk wel by wyse van wetenskaplike proewe deur die Universiteit van die Vrystaat, as 'n beheermaatreël bewys is.

      Die Voorsitter sê die PNS se beleid is om enige projekvoorstel / -voorlegging te oorweeg, mits dit onder beheerde toestande geskied en aan sekere wetenskaplike vereistes voldoen. Hy nooi Mnr Kriel om die vereistes vir die indiening van 'n projek van Mnr Keun te bekom.

      Die Voorsitter stel die vraag of dit sinvol is om biologiese beheer op hierdie stadium by wyse van 'n projek te ondersoek. Dr Caldwell sê dat daar 'n beperkte aantal chemiese middels vir die beheer van Sclerotinia beskikbaar is, in teenstelling met sojaboonroes. Mnr JJW Potgieter sê dat daar eers seker gemaak behoort te word dat biologiese beheer onder laboratoriumtoestande behaal word, voordat daar veldproewe geplant word.

      Mnr Meyer sê sodra 'n aanspraak in terme van biologiese plaagbeheer gemaak word, dit aan dieselfde vereistes as enige geregistreerde produk moet voldoen. Hy sê dat Mnr Kriel se produk tot dusver 'n inokulant is wat van wetlike registrasie vrygestel is, maar sodra dit vir die beheer van Sclerotinia aanbeveel kan word, moet dit aan dieselfde vereistes as dié van chemiese beheer voldoen. Hy noem dat dit in die praktyk ondervind is, dat 'n kombinasie van chemiese en biologiese beheer, beter resultate lewer as suiwer biologiese en suiwer chemiese beheer. Grondgedraagde Sclerotinia word goedkoper met biologiese metodes as met chemiese middels beheer. Mnr Van der Westhuizen sê dat hierdie spesifieke produk primêr vir swambeheer gebruik word en dat dit tog die moeite sal loon om wetenskaplik te bepaal of dit ook 'n effek op Sclerotinia het.

      Dr Kloppers sê dat biologiese middels, in teenstelling met chemiese middels, daarin kan slaag om inokulum in die grond te verminder. Deur grond-inokulum in Kanadese proewe te verminder, is in 1976 reeds bewys dat verwelkte plante noemenswaardig verminder kan word. Hy sê hy gaan nie akkoord met die siening dat biologiese middels aan dieselfde vereistes as dié van chemiese beheer moet voldoen nie.

      Besluit

      1. Dat Mnr Kriel die vereistes vir die indiening van 'n projek by die PNS, van Mnr Keun sal bekom.

        Mnr Kriel

      2. Dat vasgestel word of biologiese middels aan dieselfde registrasie vereistes moet voldoen as chemiese middels.

        Mnr Keun


    7. PNS-Projekplan vir Sclerotinia – 2004 en verder

      Dr De Kock spel die PNS se projekplan vir Sclerotinia as volg uit:

      • Mnr Van der Westhuizen sal die registrateur versoek om Sumisclex vir spilpunt-toediening te registreer. Spilpunttoediening sal opnuut by Koster se proewe probeer word. Hy sê dat 'n opvolg artikel vir produsente ten opsigte van toedieningsmetodes by sojabone geskryf moet word, sodra die registrasie van Sumisclex vir spilpunt-toediening afgehandel is.
      • Veral tydens hierdie vergadering is heelwat nuwe inligting oor Sclerotinia by sonneblom verkry, wat moontlik ook in 'n artikel beskikbaar gestel kan word.
      • Die lewenssiklus van Sclerotinia soos deur Dr Kloppers voorgehou, sal met erkenning aan dr Kloppers, op die PNS se webwerf geplaas word.
      • Mnr Kriel behoort met chemiese maatskappye kontak te maak, om sy idees oor die kombinasie van biologiese en chemiese middels verder te voer.
      • Daar word met verwagting uitgesien na positiewe resultate uit Dr Fourie se navorsingswerk, wat voortgesit word. Indien dit weer eens nie bevredigende resultate oplewer nie, behoort die PNS indringend te besin oor herbefondsing van die projek.
      • Prof McLaren se voortsettingsaansoek met betrekking tot die sojabooncultivarproef, moet die aspekte wat tydens hierdie vergadering bespreek is, in ag neem.
      • Prof McLaren sal ten opsigte van besmettingstegnieke by sojabone, moontlik 'n nuwe projek voorlê.
      • Dr Caldwell se projekvoorlegging is ontvang. Sy en Prof McLaren moet oorleg pleeg ten opsigte van die kombinasie van die veld- en glashuisproewe.
      • Gesprek sal met Mnr N van Rij gevoer word oor die moontlikheid van 'n sonneblomproef, om meer navorsing oor die toestande gunstig vir besmetting te doen en die resultate in 'n model saam te vat.
      • Dr De Kock sal met Dr Swart van Syngenta in aanraking kom, om meer te wete te kom oor die saadbehandelingsmiddel.
      • Alle navorsers wat navorsing oor Sclerotinia by sonneblom en/of soja in die volgende seisoen wil doen, se skriftelike navorsings­protokolle sal tydens 'n gesamentlike vergadering van navorsers bespreek word. Die vergadering kom ooreen dat die Sclerotinia-werkgroepvergadering se sakelys van 27 September 2005, vir so 'n bespreking voorsiening sal maak.
    8. Aansoek by PNS: Dr D Oelofse

      Die Voorsitter meld dat die PNS 'n aansoek van Dr D Oelofse (LNR-Roodeplaat) ontvang het, soos ook elektronies aan die lede voorsien. Dr Griessel gee toeligting omtrent die aansoek, wat basies behels dat bepaalde genetiese tegnologie ingespan word om Sclerotinia te beheer. Hy sê aangesien daar reeds vorige suksesvolle navorsingswerk hieroor gedoen is, is Dr Oelofse geadviseer om met chemiese maatskappye kontak te maak.

      Mnr JJW Potgieter noem dat drie maatskappye saamgewerk het om 'n geen te ontdek wat weerstand teen Sclerotinia bied en dat dié drie maatskappye eienaarskap daarvan hou. Hy noem dat daar egter 'n aantal probleme met die geen is. Die plant moet 'n genetiese toleransie teen Sclerotinia besit en dit verg baie meer as om bloot die geen by 'n vatbare plant te voeg ten einde toleransie te verkry. Die betrokke geen veroorsaak voorts 'n opbrengsagterstand. Sonneblomolie verhandel teen 'n premie in die mark, aangesien dit nie GMO is nie en daarom sal dit ten minste vir die huidige onwys wees om die geen by sonneblom te gebruik. Die Voorsitter reël dat Mnr JJW Potgieter hierdie feite met Dr Griessel deel.

  7. Datum van volgende vergadering

    Die volgende vergadering is vir 27 September 2005 geskeduleer.

  8. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank almal vir hulle waardevolle insette en toewyding aan die belangrike saak en wens elkeen 'n veilige terugrit toe. Nadat hy die lede vir verversings genooi het, verdaag hy die vergadering om 12:30.