Working Group Minutes / Archives / Soy / 29 Januarie 2008

Notule

Sojawerkgroepvergadering

gehou om 10h00 op 29 Januarie 2008 in die Raadsaal van die Proteïennavorsingstigting, Rivonia



  1. Opening

    Die vergadering word met gebed geopen deur Mnr GJH Scholtemeijer.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemejer, heet almal welkom by die eerste vergadering van die Sojawerkgroep van die jaar, en in die besonder vir Mnr Snyman van die Southern African Soyfood Association (SASFA), wat vir die eerste keer 'n vergadering van die Sojawerkgroep bywoon.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer Voorsitter
    Mnr J Botma Produsent: Noord Vrystaat
    Mnr AC Cronjé Produsent: Mpumalanga
    Dr J de Kock PNS
    Mnr CJ du Plessis Produsent: KZN
    Dr H du Plessis LNR-IGG
    Dr M Griessel PNS
    Mnr C Havenga PNS-Kontrakteur
    Mnr L Killian PNS-Kontrakteur
    Mnr ID Lamprecht Mpumalanga: Departement van Land­bou
    Mnr E Maree PNS-Kontrakteur
    Mnr FAS Potgieter PNS / GraanSA
    Me M Scheepers NDL
    Mnr D Snyman SASFA
    Mnr WF van Wyk PNS-Kontrakteur
    Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte
    Me E Harmse Sekretariaat

    Verskonings

    Mnr G Bührmann GW Bührmann Saad
    Me A Enslin SAGIS
    Mnr N Hawkins GraanSA
    Mnr W Loubser SANSOR
    Mnr P Lübbe Agriocare
    Mnr AJ van Vuuren NWK
    Mnr IJ van Zyl GraanSA

  4. Personalia

    Mnr Lübbe word volkome herstel toegewens na die ongeluk waarin hy betrokke was. Mnr van Vuuren word gelukgewens met sy herverkiesing tot die Bestuur van die Gewasproduksievereniging.

  5. Vasstelling van die sakelys

    Die sakelys word aanvaar, met toevoeging van:

    • Item 13.2: Sojabladskrif
  6. Goedkeuring van notule

    1. Notule van die Sojawerkgroepvergadering van 4 Oktober 2007

      Besluit:

      1. Dat die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 4 Oktober 2007 goedgekeur word.
  7. Algemene oorsig

    1. Oesskatting

      Die Voorsitter verwys die vergadering na Bylae B, waarin die opname van die tweede voorneme om kommersiële somergewasse te plant, die finale oppervlak- en pro­duksiesyfers van mielies en sorghum vir die 2006/07 seisoen, en die oppervlak- en vyfde pro­duk­sie­skatting van wintergewasse vir die 2007 seisoen vervat is. Hy wys daarop dat die Oesskattingskomitee meer resente inligting bekend gestel het as die dokumente wat ingesluit is by die stukke van die vergadering, en neem die voorlopige oppervlakskatting van somergewasse vir die 2007/2008 seisoen gedateer 24 Januarie ter tafel. Hy stel Me Scheepers aan die woord.

      Me Scheepers meld dat die eerste voorneme om sojabone te plant aangepas is van 165 000 hektaar na 150 000 hektaar, wat 'n daling van nagenoeg 10% teenoor die vorige seisoen se aanplantings verteenwoordig. Sy sê die berekening van finale produksiesyfers word gebaseer op werklike lewerings aan die hand van SAGIS-inligting, en sluit terughoudings en verbruik op plase in. Sy wys daarop dat die finale mielie-oes op 7 125 000 ton te staan gekom het. Sy meld dat die oppervlakskatting van sojabone ingevolge die nuutste opname onveranderd gelaat is. Sy rapporteer dat die skatting gebaseer is op inligting ontvang van produsente-medewerkers, graansilo-eienaars, saadmaatskappye en die provinsiale departement van landbou.

      Me Scheepers noem dat die oppervlakskattings vir die Noord- en Oos-Kaap, wat 'n klein deel van die aanplantings verteenwoordig, onveranderd gebly het teenoor die vorige seisoen. Sy sê die oppervlakskatting vir die Vrystaat het afgeneem van 45 000 hektaar na 44 000 hektaar, vir Kwa-Zulu-Natal van 20 500 hektaar na 17 500 hektaar en vir Mpumalanga van 90 000 hektaar na 87 000 hektaar. Sy wys daarop dat die grootste afname in Limpopo voorsien word, waar die aantal hektare beplant volgens aanduidings sal daal vanaf 12 500 die vorige seisoen na 6 000 in die teenswoordige seisoen. Sy meld dat aanplantings in Gauteng na verwagting met 2 500 hektaar en in die Noordwesprovinsie met 1 500 hektaar sal daal. Sy rap­porteer dat die dalings hoofsaaklik te wyte is aan 'n tekort aan saad, met populêre cultivars wat uitverkoop is, en verhoogde mielie- en sonneblomaanplantings.

      Die Voorsitter reël dat die algemene oorsig aan die hand van die onderskeie provinsies bespreek word, en doen aan die hand dat daar terselfdertyd berig gelewer word oor die algemene toestande wat in die provinsies ervaar word.

      Besluit:

      1. Dat die vergadering kennis neem van die oppervlak­skatting van somergewasse vir die 2007/2008-seisoen soos uitgereik deur die Oesskattingskomitee op 24 Ja­nuarie, die opname van die tweede voorneme om kom­mersiële somergewasse te plant, die finale oppervlak- en produksiesyfers van mielies en sorghum vir die 2006/07 seisoen, en die oppervlak- en vyfde produksieskatting van wintergewasse vir die 2007 seisoen.

        Lede

    2. Provinsies

      1. KwaZulu-Natal

        Mnr Du Plessis sê hoewel aanplantings in die Winterton-Bergville area nie veel afgeneem het nie, daar tot soveel as 15 na 18% minder sojabone in die Newcastle-Normandien area aangeplant is. Hy rapporteer dat mielies tans onbekombaar is in dié provinsie, met die gevolg dat produsente besluit het om dié gewas in groter mate aan te plant. Hy noem dat die heersende prys van R2 000/ton waarteen mielies tans in KwaZulu-Natal verhandel word, 'n verdere bydraende faktor tot dié besluit was. Hy meld dat die gesaaides in 'n baie mooi toestand is, hoewel heelwat hael streep-streep voorgekom het, met tot 100% skade in sommige gevalle. Hy sê daar word tans teen roes gespuit, na die eerste roes die vorige week waargeneem is te Cedara-proefplaas. Hy noem dat daar egter normaalweg in die praktyk teen roes gespuit word. Mnr Havenga rap­porteer dat droogte kol-kol voorkom in die oostelike gedeelte van die provinsie.

      2. Mpumalanga

        Die Voorsitter sê hy het vanaf Mnr Bührmann berig ontvang dat daar merkbaar minder sojabone aangeplant is in Mpuma­langa, in plekke tot 40% minder as tydens die rekordjaar van 2005/2006. Hy meld aan die hand van Mnr Bührmann se brief dat swaar reëns plek-plek verhoed het dat boere in die lande kon kom vir bewerking en plant, en aanplantings hier gevolglik jonk is. Hy noem dat die reën laat begin val het in die omstreke van Middelburg, Carolina en Lydenburg, of meer na die ooste van die provinsie, en dat die boere eers laat begin plant het in hierdie gebiede. Hy sê dat die aanplantings merkbaar verbeter het na die goeie sonskyn wat gevolg het op die koue en nat weerstoestande wat tydens Desember ervaar is. Mnr Lamprecht is die mening toegedaan dat die oesskatting baie na aan die kol is, en rapporteer dat die Mpumalanga-omgewing baie mooi vertoon.

        Mnr Cronjé is in ooreenstemming met die verminderde aanplantings. Hy rapporteer dat die sojas wat in Oktober aangeplant is, tans begin blom, en prentjiemooi is. Hy sê sclerotinia is nog nie waargeneem nie, ten spyte van die klam weer en sonlose tydperke wat tot tien dae aanmekaar ervaar is. Hy spreek die gedagte uit dat hoër opbrengste sal kompenseer vir die verminderde aantal hektare aan­geplant.

        Mnr van Wyk noem dat hy onlangs besoek afgelê het by 'n produsent in die omgewing van Mnr Cronjé se boerdery, en blaartjies waargeneem het wat oënskynlik die eerste tekens van sclerotinia toon. Hy spreek die kommer uit dat voortdurende klam weerstoestande wél aanleiding sal gee tot sclerotinia-besmetting. Hy meld dat die algemene toestande baie mooi lyk, dat goeie reëns geval het, en die sojabone wat hy op die lande gesien het, baie goed vertoon. Hy noem dat gespuit moes word teen 'n groot infestasie van veral bolwurm, die landmeter- en die bontrokkieruspe, op 'n tydstip wat die lande onbegaanbaar was. Hy sê dat van die plante gevolglik getrap is, omdat die rye reeds begin toemaak het toe die produsente wél kon spuit.

        Mnr Cronjé verduidelik dat die boonste blaartjies as gevolg van die eendeweer 'n tipe onkruiddoderskade opdoen, veral op die wenakker van die land waar die spuit draai, en meer in die binnesirkel as buite spuit. Hy noem dat die kolle presies lyk soos sclerotinia wat gaan posvat. Hy sê sodra die son weer begin skyn, verberg die hergroei die oën­skynlik sieklike blare. Hy rapporteer dat hy die nodige insekgif toegedien het saam met die laaste Roundup bespuiting.

        Dr De Kock noem dat sclerotinia op sonneblomstamme in die Lichtenburg-omgewing waargeneem is, en ook op 'n beperkte skaal op sojas in die Koedoeskop-area. Hy meld dat sclerotinia op die Philagro-proewe in Winterton waar­geneem is.

      3. Noordwesprovinsie

        Mnr Potgieter is in ooreenstemming met die opper­vlakskatting, en dui 'n tekort aan saad aan as rede vir die verminderde aanplanting. Hy spreek die gedagte uit dat minder graan as saad teruggehou is as in die verlede. Hy sê hoewel hy nie berig ontvang het van sclerotinia-uitbrake nie, hy wél verneem het dat ongeveer 1 500 hektaar sojabone van Atlanta, rivier af, tot by Makoppa in die Limpopo-gebied onder water was. Hy noem dat dit moeilik is om die skade in hierdie geval te bereken, aangesien sojas goed herstel wanneer die water sak. Hy rapporteer dat die sojabone mooi staan, veral ook op pad van Carletonville na Magaliesburg, waar hy vir die eerste keer 'n sojaboonaanplanting gesien het. Dr Du Plessis rapporteer dat sy die vorige week die proewe op Brits besoek het, en die proef net van 'n afstand kon waarneem omdat daar heelwat reën die oggend geval het. Sy meld dat die sojas bietjie geel vertoon weens die baie reën, maar dat geen siektes waargeneem is nie.

      4. Limpopo

        Die Voorsitter spreek sy twyfel uit oor die akkuraatheid van die Limpopo-oppervlakteskatting. Mnr Potgieter sê hy het nie duidelikheid oor die gebied waar soveel minder sojabone aangeplant is nie, en noem dat daar beslis nie minder sojabone langs die rivier geplant is nie. Hy wys daarop dat die sorghum-aanplanting volgens die skatting met 9 500 hektaar toeneem na 14 000 hektaar. Hy sê die sorghum sal waarskynlik op die Vlakte geplant word, en noem dat daar nie soveel soja op die Vlakte geplant is dat die sorghum soja-aanplantings kan vervang nie.

        Mnr van Wyk is die mening toegedaan dat die soja-aanplantings in die Groblersdal-omgewing heelwat afge­neem het. Hy sê hy beskik egter nie oor inligting oor die soja-aanplantings in Roedtan en die Marble Hall-omgewing nie. Hy rapporteer dat daar nie veel gekom het van die beplande ongeveer 3 000 hektaar soja-aanplantings deur opkomende boere in Limpopo nie. Dr De Kock noem dat daar by die Gewas-produksiekongres verslag gelewer is oor 'n sojaboonverbouingsproef wat by die Universiteit van Limpopo onderneem is.

        Mnr Cronjé wys daarop dat die oppervlakskatting van sonneblom die afname in sojas verklaar. Hy sê die opper­vlakteskatting van sonneblom het met 10 000 hektaar toegeneem in Limpopo, en met 70 000 hektaar in Noord­wes. Mnr Potgieter betwyfel dié moontlikheid, aangesien sonneblom tradisioneel in die omgewing van Lichtenburg en die Vlakte verbou word, waar nie só baie soja-aanplantings is dat dit dié effek kan hê nie. Hy is in ooreenstemming dat minder sojabone aangeplant is, maar is die mening toegedaan dat dit nie soveel minder is as wat deur die Oesskattingskomitee aangedui is nie.

      5. Noord-Kaap

        Die Voorsitter wys daarop dat Noord-Kaap se opper­vlakskatting konstant gebly het.

      6. Vrystaat

        Mnr Maree sê dat die Vrystaat goeie reën gehad het, behalwe in Lesotho en omstreke, waar dit baie droog was. Hy rapporteer dat versuiptoestande voorgekom het in Clarens en Fouriesburg, met hael wat geval het in Warden en veral skade aangerig het op die koring, wat toe al ryp was. Hy sê die sojas en mielies sal herstel ná die haelskade. Hy noem dat dit tans baie nat is tussen Lindley en Senekal, waar die opkoms en stand van die sojabone baie swak is. Hy bevestig dat die sojas op Reitz, Warden en elders baie goed vertoon.

        Mnr Botma meen dat 'n raps minder sojas aangeplant is in die Noord-Vrystaat. Hy noem dat 'n groot tekort aan saad ook in dié gebied as probleem ervaar is, en dat hy die helfte van die saad wat hy geplant het, nuut aangekoop het. Hy spreek die gedagte uit dat minder saad die vorige jaar teruggehou is weens die droogte. Hy sê die sojas vertoon baie mooi. Hy rapporteer dat roes nog nie op sy sojas waargeneem is nie. Hy sê Dr Staphorst en Me Bloem het rhizobium-monsters op sy plaas getrek, en bevind het dat die stikstofbinding goed was, veral waar hy per abuis dubbel die rhizobium toegedien het as wat hy moes. Hy noem dat proewe met die toediening van verskillende stikstofpeile ook by hom onderneem is. Hy meld dat daar geen stikstofbinding plaasgevind het waar hoë peile stikstof toegedien is nie. Hy sê hy sal die teorie dat stikstof in die sanderige grond toegedien moet word voortaan in heroorweging neem, en eerder fokus op aalwurm, wat 'n probleem begin raak veral in die natter kolle in die sandgebied. Dr Griessel beveel aan dat 'n cultivar soos Egret, wat baie meer weer­standbiedend teenoor beide vorms van aalwurm is, in dié probleemgebiede aangeplant word.

        Die Voorsitter rapporteer dat Mnr Lübbe laat weet het dat bietjie meer sojas in die Suidwes-Vrystaat geplant is, en ook baie goed vertoon.

      7. Oos-Kaap

        Die Voorsitter is die mening toegedaan dat sojaproduksie in die Oos-Kaap bevorder sal word indien 'n lisensie vir biobrand­stofproduksie uitgereik word aan Rainbow Nation Renewable Fuels (RNRF). Mnr Killian noem dat hy nie kennis dra van soja-aanplantings in Cookhouse en Cradock nie. Hy sê die voornemens om soja in die Oos-Kaap aan te plant sal nie realiseer voordat daar nie duidelikheid is oor die uitreiking van lisensies nie. Die Voorsitter sê dat die Oesskattingskomitee se oppervlakskatting van 500 hek­taar aanvaarbaar is.

      8. Suidwestelike Distrikte

        Die Voorsitter wys daarop dat daar volgens die Oes­skattingskomitee geen sojas in dié gebied geplant sal word nie.

      9. Gauteng

        Mnr van Wyk rapporteer dat hy nog nie in die produserende gebiede rondgery het nie, en nie 'n skatting sou wou waag nie. Hy onderneem om by die volgende vergadering oor soja-aanplantings in Gauteng te rapporteer.

    3. Weer- en klimaatsvooruitskouing

      Mnr Cronjé rapporteer dat beriggewing op RSG se Land­bouradioprogram daarop gewys het dat die land steeds 'n El-Niña situasie beleef, met vog wat uit die trope oor die land instoot. Hy sê die goeie reëns is beslis nie verby nie, en kan slegs op die korttermyn beïnvloed word deur sikloonvorming in die Indiese Oseaan tussen Mosambiek en Madagaskar.

    4. Mikpunte: 2010 en 2020

      1. Driejaarvooruitskatting

        (Besluit 7.4.1.1 van die vergadering van die Sojawerk­groep gehou op 4 Oktober 2007)

        Die Voorsitter wys daarop dat sojabone een van die gewasse is wat ingesluit is by die regering se onlangs-vrygestelde strategie vir die plaaslike biobrandstofbedryf. Hy dui aan dat Sasol en Rainbow Nations Renewable Fuels beplan om aanlegte te bou sodra die lisensies waarvoor aansoek gedoen is, uitgereik word.

        Mnr Botma rapporteer dat die biodieselopleidingsaanleg op die proefplaas te Bothaville feitlik voltooid is. Hy noem dat daar veral vanuit Soweto belangstelling getoon is in opleiding. Hy sê daar word 9 000 liter soja-olie by die aanleg gebruik, en dat daar beoog word om later ook 'n persfasiliteit by die aanleg te vestig. Hy meld dat daar nie sekerheid is of beoog word om sonneblom of sojas te pers nie. Hy noem dat daar tans oorweeg word om gebruikte olie, wat volop beskikbaar is, te gebruik in die produksie van biobrandstof, weens die hoër winsgrens wat hier ter sprake sou wees. Hy sê daar word as gevolg van die kommer oor voedselsekerheid in die rigting van biodiesel beweeg, ook weens die groter vraag na diesel vir byvoorbeeld kragopwekkers. Hy noem dat die kommersiële produsente, wat van groot trekkers gebruik maak, versigtig is om biodiesel te gebruik weens waarborgimplikasies, maar dat dit nie geld vir die opkomende landbouers nie, wat bereid sou wees om biodiesel uit te toets. Hy spreek die gedagte uit dat sojasaad in aanvraag sal wees veral by die groot maatskappye soos Sasol, en sê dat daar definitief ook 'n tekort is aan volvetsojas. Die Voorsitter is die mening toegedaan dat daar verwikkelinge in die sojaboon­bedryf sal wees sodra die eerste biodieselvervaardig­ingslisensies uitgereik word. Hy vra wat die soja­boonbedryf as prioriteite sou aandui ten einde meer sojabone te produseer om te voldoen aan die behoeftes van die biobrandstofproses. Hy sê hoewel meer plaaslike soja-oliekoek aan die veevoerbedryf beskikbaar gestel sal word, is die behoefte van só 'n aard dat soja-oliekoek steeds ingevoer sal moet word.

        Dr Griessel wys daarop dat Suid-Afrika tans jaarliks meer as 'n miljoen ton sojaboon-oliekoek invoer, teen 'n geraamde jaarlikse verlies aan buitelandse valuta van meer as twee biljoen rand. Hy ag gevolglik verhoogde plaaslike sojaboon­produksie as van nasionale belang. Die Voorsitter verwys na Mnr Botma se vroeër opmerking oor die belangrikheid van aalwurmweerstandbiedendheid. Hy sê daar word reeds die afgelope tien jaar plaaslik navorsing gedoen oor aalwurm­weerstandbiedende cultivars, en wys op die moontlikheid dat dergelike cultivars in die buiteland bekom kan word. Hy opper die moontlikheid om moontlike navorsingsterreine by 'n volgende vergadering te bespreek, nadat die lede daaroor besin het.

        Mnr Potgieter meld dat daar bepaald gekyk moet word na 'n saad wat beter presteer. Hy is in ooreenstemming dat weer­standbiedendheid ook aandag moet geniet, en benadruk die belangrikheid dat die sojaboonteeltprogram weer momentum moet kry. Hy sê oorsese cultivars wat beter presteer kan ook onder die loep geneem word. Hy sê die huidige opbrengsplafon van vyf ton onder besproeiing, met 'n gemiddeld van drie en 'n half ton, en twee ton op droëland, bly 'n wesentlike uitdaging. Hy noem dat verhoging van die opbrengsgemiddeld in Mpumalanga met een ton per hektaar, betekenisvol sal wees.

        Die Voorsitter vra na die waarde wat die Supersoja­kompetisie tot die bedryf toevoeg. Mnr Du Plessis opper die moontlikheid dat die inligting wat deur die kompetisie ingesamel is, verwerk word. Hy wys op die belangrikheid van kruisbestuiwing tussen die deelnemers, veral ten opsigte van verminderde bewerkingspraktyke. Hy sê hoër produksie word enersyds oorweeg, en kostebesparing andersyds. Hy sê verminderde bewerking is die enigste manier om koste te bespaar sonder om in te boet op produksie. Hy sê dié praktyk vat al hoe meer pos in KwaZulu-Natal, veral ook weens die besparing wat op brandstofkostes bewerkstellig word. Hy beskou die identifisering van beter bewerkingspraktyke met mee­gaande besparing op insetkoste, sonder om produksie te benadeel, as prioriteit vir die sojabedryf. Hy is die mening toegedaan dat daar ten opsigte van die Supersoja­kompetisie vasgestel moet word welke invloed veranderde bewerkingspraktyke op die uiteindelike bruto-marge uitoefen. Hy sê daar kan aan die hand hiervan besluit word of die Supersojakompetisie wél sy doel bereik het. Hy is die mening toegedaan dat die grootste uitbreidings­potensiaal vir sojaboonproduksie in die sanderige gronde is. Hy benadruk dat die mees gewenste bewerkings­praktyke vir dergelike grond egter ter aanvang aan­gespreek sal moet word.

        Mnr Botma meld dat dit vir hom uiteraard om hoër produksie gaan, weens die gunstige sojaboonprys. Hy wys op die voordelige uitwerking van stikstoftoediening op mielie-opbrengste, en sê dat die insetkoste van mielies verlaag kan word met stikstofbinding bewerkstellig deur sojas in wisselbou. Hy wys daarop dat marktoegang as probleem ervaar word in die sandgebied, omdat dit nie betalend is vir groot hanteerders om 'n hele buis vir sojas oop te hou as voldoende tonnemaat nie beskikbaar is nie. Hy is van mening dat dié kwessie aandag moet geniet. Hy sê die stygende pryse van stikstof maak dit al hoe moeiliker vir produsente om winsgewend te produseer.

        Die Voorsitter wys daarop dat saadmaatskappye hulle saadpryse verhoog het toe die mielieprys die hoogte ingeskiet het, maar dat saadpryse nie noemenswaardig verminder het toe die mielieprys gedaal het nie. Hy spreek sy kommer uit dat dieselfde sal gebeur met stikstofpryse. Hy spreek sy waardering uit vir Mnr Botma se opmerking dat hoë stikstofpryse 'n geleentheid ten gunste van die sojabedryf bied, en benut moet word.

        Dr Griessel spreek sy optimisme uit oor die vordering wat gemaak is met navorsing oor aalwurmweerstandbiedende cultivars. Hy sê die PNS het reeds tien jaar gelede aangedui dat toekomstige uitbreiding in die sanderige gronde sal wees, waar probleme met aalwurm ondervind word. Hy rapporteer dat merkergene vir beide Meloidogyne incognita en M. javanica reeds identifiseer is, wat op geskikte cultivars vanuit veral Suid-Amerika ingebou kan word. Die Voorsitter noem dat belowende buitelandse cultivars by die nasionale cultivarproewe ingesluit kan word.

        Mnr Potgieter meld dat daar geweldige ontwikkeling in die mieliebedryf plaasgevind het, as gevolg van 'n feitlike verdubbeling van opbrengste wat behaal word met sekere cultivars. Hy benadruk dat die uiters gunstige olie­sadepryse tans 'n uitstekende geleentheid bied om die sojaboonbedryf te bevorder, en sê dat dit onverstaanbaar is dat die sojabedryf deur 'n opbrengsplafon belemmer kan word as die mieliebedryf deur 'n opbrengsplafon kon breek. Mnr Lamprecht wys op die groot potensiaal onder opkomende landbouers, en is die mening toegedaan dat spesialisvoorligtingsdienste en opleiding hier van groot nut kan wees. Die Voorsitter wys op die gebrek aan kapasiteit ten opsigte van sojaboonkundigheid by die LNR en provinsiale departemente van landbou, en is in ooreenstemming dat hierdie gebrek met betrekking tot tegnologie-oordrag of voorligting moontlik deur die PNS aangespreek moet word.

        Mnr Killian ondersteun die moontlikheid dat ondersoek ingestel word na die oorsese teelprogramme met die oog op hoër opbrengste. Hy rapporteer dat die Suid-Amerikaanse lyne van Donmario wat deur Mnr Lübbe ingevoer en in sy proewe ingesluit is, baie goed presteer, en reeds na veertig dae blom, of 'n maand vroeër as Highveld Top. Hy sê die lyn is 'n onbepaalde groeier wat vir 'n periode van sewe weke blom. Hy rapporteer dat die proef wat op 23 Oktober geplant is, tans 30 tot 40 % in saadvul is, met ongeveer 85% drie-sadige peule, met hier en daar 'n paar viersadige peule.

        Mnr Maree noem dat hy by 'n paar top-produsente in Warden en in die omgewing van Fouriesburg vasgestel het dat dié produsente in die eerste plek die pH van die grond regstel. Hy sê hierná word 'n wisselbouprogram in plek gestel, wat oor 'n paar jaar loop en nie noodwendig prysgebaseerd is nie. Hy rapporteer dat buitegewoon goeie oeste in goeie jare behaal word, met koringopbrengste op droëland van tot vyf ton per hektaar, sojaboonopbrengste van 3,5 tot 4 ton/hektaar, en by een van die produsente tydens die vorige jaar se droogte, 'n sojaboonopbrengs van 2 ton/hektaar. Hy sê bemestingskoste daal namate die pH van die grond korrek is. Hy wys daarop dat kalk nie juis goedkoop is nie, en dat die vervoerkoste verbonde aan kalk uitermatig is. Hy is in ooreenstemming dat daar 'n geweldige potensiaal vir verdere aanplanting van sojas in die Vrystaat is. Dr Griessel spreek die gedagte uit dat daar hipoteties-beskou altyd sprake sal wees van 'n voort­durende balans. Hy sê terwyl Mnr Potgieter verwys na die snelle vordering wat met mielies behaal is, en hy glo dat dieselfde mate van vordering om goeie redes nie met sojabone behaal is nie, moet die balans wat meegebring is deur die hoë olieprys nie uit die oog verloor word nie.

        Mnr Cronjé sê Mpumalanga se Hoëveldstreek het 'n besliste potensiaal vir die verdriedubbeling van historiese sojaboon­aanplantings. Hy sê hoewel winsgewendheid in die verlede as remskoen gedien het, sal die gunstige prys behoue bly as gevolg van die wêreldwye tekort aan plantaardige olie. Hy noem dat produksie in die Hoëveld gekniehalter word deur die hoë produksiekoste van alle gewasse, en dat geenbewerking, soos in KwaZulu-Natal, die antwoord hierop is. Hy rapporteer dat Mnr Allen, 'n produsent wat glo aan die toedien van stikstof, reeds vier keer tydens die huidige seisoen by hom besoek afgelê het om waar te neem welke praktyke op sy plaas gevoer word. Hy meld dat daar geen verskil merkbaar is tussen die 700 hektaar mielies wat volgens geenbewerkingspraktyke verbou word, en dié hektare mielie-aanplantings waarop brandstof vermors is nie. Hy sê al waardeur sy boerdery tans gekortwiek word, is die lae opbrengspotensiaal van sojas. Hy berig dat hy tydens 'n besoek aan Brasilië tydens 2007 ingelig is dat 82 000 miljoen ton sojagraan per jaar daar geproduseer word, met 'n nasionale gemiddeld van 3 t/hektaar, in 'n gebied met die vrugbaarste grond denkbaar, wat tweekeer die gemiddelde reënval as plaaslik ontvang. Hy beskou die cultivars waarna Mnr Killian verwys het, as 'n toekomsmoontlikheid, afhangend van die hoeveelheid peule wat geoes word.

        Mnr Havenga noem dat basterkrag as een van die groot redes beskou kan word vir die verskil in opbrengs tussen mielies en sojas. Hy sê volgens sy waarnemings is die riglyne vir fosfaatbemesting in die sandgronde, behalwe vir dié in KwaZulu-Natal, nie korrek nie.

        Dr De Kock meld opsommend dat aalwurmweerstand en die regstel van grondsuurheid aangespreek moet word. Hy wys daarop dat daar 'n groot verskil is tussen die effektiwiteit van die metabolisme van mielies en sojabone, aangesien die een 'n C3 en die ander 'n C4 plant is. Hy verduidelik dat daar by mielies 'n baie vinniger energie-omset is as by sojabone. Hy sê daar bestaan tans heelwat onduidelikheid oor die fisiologie van die sojaboonplant. Hy noem as voorbeeld dat daar nie duidelikheid is oor die rede waarom 70% blomverlies by sojabone plaasvind nie, met slegs 30% peulvorming onder goeie omstandighede, en noem dat die meganisme hiervan onseker is. Hy bevestig dat beperkte navorsing hieroor gedoen is, maar dat hy nie bekend is met die nuutste ontwikkelinge op dié terrein nie. Die Voorsitter bedank Dr De Kock vir sy opsomming, en benadruk dat die moontlikheid om belowende cultivars uit die buiteland te bekom nie uit die oog verloor moet word nie. Hy sê die PNS moet daarna streef om die huidige soja-oes te verdubbel in die mediumtermyn, wat oor die volgende vyf na tien jaar strek. Hy bedank die lede vir waardevolle insette gelewer.

    5. SAGIS

      Die Voorsitter stel die SAGIS-dokumentasie vervat in Bylae C ter tafel. Hy vestig die aandag op die totale plaaslike invoer van nagenoeg 107 000 ton sojabone oor die afgelope elf maande. Die vergadering neem kennis van die inligting vervat in die dokumentasie.

      Besluit:

      1. Dat die vergadering kennis neem van die inligting vervat in die SAGIS-dokumentasie.

        Lede

  8. Markaangeleenthede

    1. Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik

      Die Voorsitter stel Dr Griessel aan die woord. Dr Griessel rapporteer dat die 2007/2008 openingsvoorrade van die tien belangrikste oliesade op 83,4m ton te staan gekom het. Hy sê volgens Mnr Milke se vooruitskouing in die Oil World van 25 Januarie, sal die 2008/2009 openings­voorraad met 22,8m ton daal na 60,6m ton weens verhoogde verbruik. Hy sê daar sal na Mnr Milke se verwagting tien tot elf miljoen hektaar meer oliesade aangeplant word gedurende 2008/2009, mits sterk prysaanduidings gegee word om hierdie uitbreidings te bewerkstellig, aangesien stywe kompetisie van ander grane verwag word. Hy sê 'n totale produksiesyfer van 418,1m ton word onder goeie, normale omstandighede voorsien. Hy meld dat dit 'n verhoging van 32,9m ton op die 2007/2008 produksietotaal van 385,2m ton verteen­woordig, en sê dat 23,6m ton van die 32,9m ton oliesade, sojabone sal wees. Hy sê 218,9m ton sojabone die vorige jaar geproduseer is, met 'n verwagte produksie van 242,5 ton in 2008/2009. Hy wys daarop dat die mees onsekere veranderlike in Mnr Mielke se vooruitskatting klimaats­omstandighede is, en dat die produksie-vooruitskatting van 418,1m ton optimisties mag wees indien die gereelde ekstreme klimaatsomstandighede voortduur.

      Dr Griessel sê verbruik tydens 2008/2009 sal na ver­wagting styg vanaf die 2007/2008 verbruiksyfer van 408,0m ton na 419,0m ton. Hy sê terwyl 'n produk­sieverhoging van 32,9m ton voorsien word, is die aanvangsvoorraad 22,8m ton minder as tydens 2007/2008, met die gevolg dat die totale beskikbare voorraad slegs nagenoeg 10m ton meer sal wees. Die styging in verbruik van 11m ton impliseer dat die eindvoorraad in 2008/2009 op 59,7m ton te staan sal kom, teenoor die 2007/2008 eindvoorraad van 60,6m ton. Hy sê die verhouding tussen voorraad en verbruik daal van 14,8% na 14,2%, wat die laagste verhouding in jare verteenwoordig.

      Dr Griessel rapporteer dat Mnr Mielke sy vooruitskouing afsluit met die stelling "There is a relatively high risk that world production will not rise sufficiently and that the global balance will remain tight also in 2008/2009". (* Tabel met opsomming van die vooruitskouing t.o.v. die wêreldbehoefte aan en -produksie van die tien belangrikste oliesade aangeheg as addendum 1 tot die notule.)

      Dr Griessel sê volgens sy berekening, wat afgelei word van die prys waarteen sojabone ingevoer word, kan die produsent R3 481/ton behaal vir sojabone, wat aansienlik laer is as die huidige SAFEX-prys. Hy noem interes­santheidshalwe dat die prys vir Februarie-verskeping R3 657/ton beloop, terwyl die prys vir Maart-verskeping R24/ton laer is en R3 633 beloop, en die prys vir April-verskeping op R3 465 te staan kom. Hy wys daarop dat veevoervervaardigers dikwels vir die volgende twee of drie maande aankoop, om hulleself te verskans teen ver­hogings. Die Voorsitter bedank Dr Griessel vir sy uiteensetting, en stel die geleentheid vir vrae.

      Dr Griessel bevestig op navraag van Mnr Potgieter dat die oorlê van 'n skip in die hawe tot US$90 000 per dag kan beloop. Die Voorsitter sê oorstaankoste, vertragings en verskepingskoste het hoë koste-implikasies. Hy wys daarop dat die kontrak wat aangegaan word om goedere te koop, stipuleer teen welke hoeveelheid ton per uur ontskeping kan plaasvind. Hy wys daarop dat 'n handelaar se inset op 'n besprekingspunt soos hierdie waardevol sou wees, en reël dat só 'n persoon genooi word na ver­gaderings van die Sojawerkgroep.

      Die lede neem kennis van die grafiese uitbeelding van pryse van sojabone gelewer in Randfontein vanaf Januarie 2005 tot September 2007, en van die SAFEX-inligting voorsien deur Mnr van Zyl van GraanSA.

      Waarde van sojabone afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteíen) geland Durban soos op 28 Januarie 2008
      Verskeping: R3 657   |   Wisselkoers: R7.23/US$
      Geland Durban 47% proteïen oliekoek 3 657.00
      Vervoer na Randfontein (per ton) 200.00
      Rente 2 weke 15% 18.00
      0,5% hanteringsverlies 18.00
      Gelande prys 3 893.00
      Waarde van volvetsoja 110% R4 282.00
      Min koste om sojabone na volvetsojabone te verwerk 801.00
      – Vervoerkoste na volvet-aanleg 70.00
      – Stoorkoste 109.00
      – Rente 13% (6 maande) 238.00
      – Ekstrusiekoste 180.00
      – 5% ekstrusieverlies 204.00
      Afgeleide produsenteprys vir sojabone (op plaas) – R/ton R3 481.00

      Besluit:

      1. Dat 'n handelaar genooi word om vergaderings van die Sojawerkgroep by te woon.

        Mnr Keun

    2. SAFEX

      Mnr Du Plessis rapporteer op versoek van die Voorsitter, dat die SAFEX-prys van R3 910 die vorige dag vir die eerste keer deur die R3 900-grens gebreek het. Hy sê daar is tot op hede 25% meer kontrakte verhandel as dieselfde tyd die vorige jaar. Hy meld dat die prys na verwagting binne die volgende twee weke die R4 000 kerf sal oorsteek. Mnr Potgieter sê hy het pas berig ontvang dat die prys vir lewering in Mei 2008 R3 965 beloop.

      Besluit:

      1. Dat kennis geneem word van die SAFEX-prysinligting.

        Lede

  9. Produsente-aangeleenthede

    1. KwaZulu-Natal

      1. Supersojakompetisie – terugvoering

        Die Voorsitter neem die verslag rakende die Super­sojakompetisie wat tydens 2007 aangebied is, ter tafel. Hy wys daarop dat minimumbewerking ingesluit moet word as een van die doelstellings van die kompetisie. Hy spreek sy teleurstelling uit oor die opbrengste wat deur die deelnemers behaal is. Hy wys daarop dat uitstaande resultate behaal is gedurende die eerste tien jaar van die kompetisie, met verhoogde proteïen- en olie-inhoud, en verhoogde opbrengste. Hy vra dat die toekoms­planne met betrekking tot die kompetisie toegelig word. Hy versoek ook dat duidelikheid verstrek word rakende die berekening van die brutomarge.

        Mnr Havenga verduidelik dat Mnr Joubert se metodologie toegepas word by die berekening van die brutomarge, met uitsluiting van die berekening van die meganiese bewerkingskoste. Die Voorsitter versoek dat daar met Mnr Joubert in gesprek getree word, sodat die Supersojakompetisie-berekenings in lyn gebring word met Mnr Joubert se metodologie. Hy stel die verslag oop vir bespreking.

        Mnr Havenga noem dat daar dikwels in die verlede waargeneem is dat die fosfaatstatus van die grond nie op optimumvlakke was nie. Hy sê hoewel die situasie verbeter het, is daar steeds gevalle waargeneem waar die fosfaat- en die kaliumvlakke nie na wense is nie. Die Voorsitter versoek dat die lesse wat uit die Supersojakompetisie geleer is, en met die ander provinsies gedeel kan word, saamgevat word in 'n kort verslag vir voorlegging en bespreking tydens die volgende vergadering van die Werkgroep.

        Mnr Du Plessis sê met verwysing na die Voorsitter se vroeër vraag na die nut van die kompetisie, dat produsente die verslag vergelyk met hul eie data ten einde hul eie prestasie te meet. Hy is ooreenstemming dat die lesse wat uit die kompetisie geleer is waardevolle inligting sal bied vir die lede van die Sojawerkgroep, en doen aan die hand dat die afgelope twee tot drie jaar se pitkos-inligting voorgelê word. Hy noem dat die kompetisie ook gebruik word om opleiding te gee aan tegnici van die Departement Landbou: KwaZulu-Natal.

        Dr Griessel noem dat die Tegnologiekomitee beoog om die data van die afgelope drie Supersojakompetisies aan 'n grond­kundige voor te lê ten einde sy insette te verkry oor sekere aspekte.

        Mnr Havenga noem dat die kompetisie die geleentheid bied om vas te stel wat in die veld aangaan. Hy sê daar kan oor 'n tydperk van jare waargeneem word in welke rigting ontwikkeling plaasvind. Hy meld dat die langtermyneffek van minimum­bewerking byvoorbeeld só vasgestel kan word, en wat gedoen word om die opbrengste onder minimumbewerking te verbeter.

        Mnr Havenga rapporteer dat daar na verwagting 36 sojaboonlande in die Winterton-Bergville gebied ingeskryf sal word deur agtien boere, met ses nuwe toetreders tot die 2008 Supersojakompetisie. Hy sê daar word hier­benewens meer as dertig inskrywings vanuit Noord KwaZulu-Natal verwag, met 31 Januarie as die sluitings­datum vir inskrywings. Hy noem dat die boere oor die algemeen baie positief is oor die Supersojakompetisie, en dat daar veral uit die Dundee-Newcastle gebied versoek is dat die kompetisie voortgesit moet word. Hy sê die kompetisie skep die geleentheid om inligting deur ver­skillende kommunikasiekanale oor te dra.

        Besluite:

        1. Dat daar met Mnr Joubert in gesprek getree word, sodat die Supersojakompetisie-berekenings in lyn gebring word met Mnr Joubert se metodologie.

          Mnr Du Plessis
          Mnr Havenga

        2. Dat die lesse wat uit die Supersojakompetisie geleer is, en met die ander provinsies gedeel kan word, saamgevat word in 'n kort verslag vir voorlegging en bespreking tydens 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep.

          Mnr Du Plessis
          Mnr Havenga
          Mnr Keun

      2. Navorsing

        Verslaggewing oor nasionale cultivarproewe onder besprekingspunt 10.1.1.

    2. Mpumalanga

      1. Supersojakompetisie te Mpumalanga

        (Besluit 9.2.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 4 Ok­tober 2007)

        Die Voorsitter reël dat die saak oorstaan totdat meer duidelikheid verkry is oor die rol wat sojabone in die plaaslike biobrand­stofbedryf gaan speel.

        Besluit:

        1. Dat die saak rakende die moontlike herinstelling van die Supersojakompetisie te Mpumalanga oorstaan na 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep, totdat meer duidelikheid verkry is oor die rol wat sojabone in die plaaslike biobrand­stofbedryf gaan speel.

          Voorsitter
          Mnr Keun

      2. Navorsing

        1. Proewe – Rhizobium

          Mnr Cronjé rapporteer dat 'n OAK/OPOT befondse proef op sy plaas onderneem is. Hy sê 'n proef is in samewerking met Dr Staphorst en Me Bloem uitgelê met een cultivar op grond wat nie vantevore met sojas beplant is nie. Hy noem dat drie verskillende handelsmerke van -middels gebruik is, waarvan al drie veenmiddels is, en dat 'n kontrole-proef ook geplant is. Hy rapporteer dat die navorsers voorverlede week besoek afgelê het by die proef. Hy sê dat geen ooglopende verskille tans waargeneem kan word tussen die verskillende behandelings nie. Hy opper die moontlikheid dat stikstofoordraging plaasgevind het ná die vorige jaar se droogte. Hy noem dat geen bemesting toegedien is nie, en dat die plante goed vertoon en tans op heuphoogte staan. Hy sê Dr Staphorst en Me Bloem het voor die plantdatum -monsters uit sy stoor getrek, en rapporteer dat twee van die drie monsters as substandaard bevind is, en gevolglik nie in die proef gebruik is nie.

          Die Voorsitter rapporteer dat daar vanaf produsente-kant versoek is dat die effektiwiteit van verskillende middels getoets word, en dat Mnr Weber as onafhanklike konsultant versoek is om monsters van die entstof by die betrokke produsente en ook by koöperasies te trek. Hy onderneem om die navorsingsresultate bekend te maak aan die Sojawerkgroep.

    3. Noordwesprovinsie

      1. Navorsing

        Verslaggewing oor nasionale cultivarproewe onder besprekingspunt 10.1.1.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    4. Limpopoprovinsie

      1. Navorsing

        Verslaggewing oor nasionale cultivarproewe onder besprekingspunt 10.1.1.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    5. Vrystaat

      1. Navorsing

        Verslaggewing oor nasionale cultivarproewe onder besprekingspunt 10.1.1.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    6. Oos-Kaap

      1. Navorsing

        Verslaggewing oor nasionale cultivarproewe onder besprekingspunt 10.1.1.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    7. Suidwestelike Distrikte

      1. Navorsing

        Verslaggewing oor nasionale cultivarproewe onder besprekingspunt 10.1.1.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    8. Gauteng

      1. Navorsing

        Verslaggewing oor nasionale cultivarproewe onder besprekingspunt 10.1.1.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    9. Noord-Kaap

      1. Navorsing

        Verslaggewing oor nasionale cultivarproewe onder besprekingspunt 10.1.1.

      2. Ander

        Geen verslaggewing ten opsigte van hierdie gebied.

    10. Algemeen

      1. Aanplant van oliesade in sekere provinsies met die oog op ontwikkelende landbou en biobrandstof

        (Besluit 9.10.1.1 van Sojawerkgroepnotule van 4 Ok­tober 2007)

        Die Voorsitter reël dat die saak rakende die aanplant van oliesade in sekere provinsies oorstaan na 'n volgende vergadering.

        Besluit:

        1. Dat die saak rakende die aanplant van oliesade in Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Oos-Kaap oorstaan tot regerings­terugvoer aangaande biobrandstowwe ontvang is.

          Mnr Keun

  10. Navorsing

    1. Nasionale cultivarproewe

      1. Nasionale cultivarproewe 2007-2008

        (Besluit 10.1.2.1 van Sojawerkgroepnotule van 4 Ok­tober 2007)

        Die Voorsitter reël dat Dr Du Plessis vervolgens verslag lewer oor die status quo met betrekking tot die aanplant van die nasionale cultivarproewe in die onderskeie pro­vinsies. Dr Du Plessis noem dat die lokaliteite breedvoerig bespreek is by 'n vorige vergadering. Sy sê van die 28 lokaliteite wat bespreek is, het 26 gerealiseer, aangesien besluit is om die George-lokaliteit nie hierdie jaar in te sluit nie, en daar nie 'n medewerker in Amersfoort identifiseer kon word nie. Sy rapporteer dat die aanplantings op al 26 lokaliteite afgehandel is, met 23 cultivars en agt fase-een inskrywings. Sy meld dat besoek afgelê is by sommige proewe, met Mnr Erasmus wat tans besoek aflê by die ander proewe om sekere waarnemings te maak. Sy versoek dat Mnr Killian terugvoer sal verskaf oor die Addo-proef, en Mnr Havenga oor die KwaZulu-Natal proewe.

        Dr Du Plessis rapporteer dat die Ficksburg-proef goed lyk, hoewel een van die herhalings wat geplant is nie baie goed opgekom het nie. Sy sê hoewel die Glen-proef hierdie jaar besonder mooi is, die betrokke medewerker slegs na die proef kan omsien, aangesien hy nie waarnemings kan neem nie. Dit bly gevolglik moeilik om by al die lokaliteite uit te kom om die verskillende blomdatums en dies meer sinvol te neem. Sy dui haar tevredenheid aan met die proewe op Bethlehem, Reitz en Bothaville, en rapporteer dat laasgenoemde lokaliteit egter gespuit moes word vir uintjies. Sy meld dat Delmas die enigste lokaliteit is wat tot dusver afgeskryf is, en wél weens swak stand, waarvoor sy nie 'n verklaring kan verskaf nie. Sy sê hoewel sy versoek het dat die waarnemings oor peulhoogtes, blomdatums en dies meer steeds gedoen word, sal die opbrengs nie ingesluit kan word. Sy noem dat die Kinross-proef ook goed lyk, en dat die proewe oor die algemeen hierdie jaar besonder goed vertoon.

        Mnr Killian rapporteer dat die Addo-proef baie goed gedoen het voor die groot hoeveelheid reën wat tussen Kersfees en Nuwejaar neergesak het. Hy sê versuipkolle het hierna in die land begin ontwikkel. Hy noem dat hy die grond wat op sekere plekke toegeslaan het weens 'n lae vlak van organiese materiaal, met pikke laat losslaan het. Hy sê hoewel hy vir tien dae nie besproeiing kon toedien nie, weens onderdele wat weggeraak het, die proef weer mooi herstel het.

        Mnr Havenga rapporteer dat twee nasionale proewe en een fase-een proef in die noorde van KwaZulu-Natal aange­plant is. Hy sê die proef by Normandien het baie goed herstel na geringe haelskade, en dat dié proef en ook die fase-een proef op die proefstasie besonder goed lyk. Hy berig dat probleme ondervind is met die Vryheid-proef, waar slegs 39mm reën tydens Desember en nagenoeg 45mm reën in Januarie geval het.

        Mnr Maree bevestig dat die Bloemfontein-proef besonder goed lyk. Hy sê dat standprobleme egter by die Ficksburg- en proewe te LNR-Kleingraaninstituut waargeneem is, wat moontlik verbonde kan wees aan die Link Seed cultivar. Dr Du Plessis bevestig dat die Link Seed cultivar swak presteer by laasgenoemde lokaliteit, maar sê dat dié cultivar besonder goed presteer by 'n ander lokaliteit. Mnr Maree sê die vergeling by Ficksburg en LNR-Kleingraaninstituut het reeds uitgegroei. Dr Du Plessis noem dat die Potchefstroom-proef oorgeplant is, nadat die stand van die eerste aanplanting nie bevredigend was nie.

        Mnr van Wyk rapporteer dat hy teenwoordig was tydens die aanplanting van die Koedoeskop-proef, maar dat hy nog nie weer daar besoek afgelê het nie. Hy sê een van die proewe op Vaalharts lyk ook redelik.

        Die Voorsitter verwys die lede na die artikel "Sojabone: watter cultivars is meer geskik vir jou", soos vervat in Bylae F. Hy sê daar word 'n onderskeid getref tussen warm, matige en koel gebiede, maar dat die onderskeie kli­maatstreke nie behoorlik omskryf word nie. Hy vind dit vreemd dat daar in die teks verwys word na cultivars wat nie vervat is in die tabelle met lyste van cultivars nie, soos Dumela, Ibis en SCS 1. Dr De Kock is in ooreenstemming hiermee, maar noem dat 'n soortgelyke opsomming van die verslag van die cultivarproewe baie bruikbaar sal wees vir 'n produsent.

      2. Gesprek met provinsiale departemente insake Nasionale Cultivarproewe

        (Besluit 10.3.1 van die Sojawerkgroepnotule van 4 Ok­tober 2007)

        Die Voorsitter reël dat die saak oorstaan tot ná gesprek­voering met die Departemente van Landbou van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga bewerkstellig is.

        Besluit:

        1. Dat die gesprek met provinsiale departemente insake die Nasionale Cultivarproewe oorstaan tot ná gesprekvoering met die Departemente van Landbou van van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga bewerkstellig is.

          Mnr Keun

    2. Roes

      1. Inligting vanaf Sojaboonroeswerkgroep

        Die Voorsitter rapporteer dat die eerste roes op 17 Ja­nuarie waargeneem is deur Dr Caldwell in die siektetuin by die Universiteit van KwaZulu-Natal te Pietermaritzburg. Hy meld dat berig ontvang is van Me Tweer van Pannar dat sojaboonroes bevestig is op beide varïeteite wat as vangerproewe op Greytown aangeplant is, te wete PAN 538R op R2 of vol in blom, en PAN 1454R op R6, of vol in saad.

        Mnr Du Plessis spreek namens die produsente dank uit vir die tydige kennisgewing wat ontvang word oor die voorkoms van roes. Die Voorsitter opper die moontlikheid om dié inligting ook in die pers bekend te stel deur GraanSA se medialys, wat heelwat trefkrag het. Dr De Kock rapporteer dat Dr Craven nog nie roes waargeneem het op enige van haar vangerproewe nie.

    3. Sclerotinia

      1. Proefwerk – terugvoering Sclerotinia­werkgroep­vergadering

        Die Voorsitter versoek Dr De Kock om die vergadering in te lig oor die huidige stand van sclerotinianavorsing. Dr De Kock rapporteer dat al die proewe reeds geplant en aan die gang is. Hy herinner die lede aan sy vroeër beriggewing aangaande die voorkoms van sclerotinia te Koedoeskop en op die Philagro-proewe te Winterton. Hy wys daarop dat dit egter nog vroeg in die seisoen is.

      2. Sclerotinia-opnames

        (Besluit 10.3.2.1 van Sojawerkgroepnotule 4 Oktober 2007)

        Die Voorsitter noem dat die beskikbare bronne van inligting in Suid-Afrika tans ooreis is, en spreek sy waardering uit vir die samewerking wat deur die Oes­skattingskomitee verleen word met die sclerotinia-opnames. Hy versoek dat dit as sodanig oorgedra word aan die betrokke komitee.

        Besluit:

        1. Dat die PNS se waardering oorgedra word aan die Oesskattingskomitee vir die samewerking wat verleen word met die sclerotinia-opnames.

          Mnr Keun

      3. Artikel: "Evaluation of soybean cultivars for resistance to sclerotinia stalk rot in South Africa", Prof NW McLaren en Dr M Craven

        Die lede neem kennis van die artikel "Evaluation of soybean cultivars for resistance to sclerotinia stalk rot in South Africa", wat voortgespruit het uit navorsing wat onderneem word deur Prof McLaren en Dr Craven. Dr De Kock bevestig dat die navorsing steeds voortgesit word.

  11. Saad

    1. Terughouding van graan as saad

      (Besluit 11.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 4 Ok­tober 2007)

      Die Voorsitter rapporteer dat geen verdere terugvoering van GraanSA ontvang is nie, nadat Mnr Botha by 'n vorige vergadering aangedui het dat hy beoog om 'n projek­aansoek rakende die vergelyking van nuwe saad met teruggehoude graan as saad in te dien.

      Mnr Potgieter noem dat daar wél so 'n projek aan die gang is. Mnr Cronjé meld dat die projek op sy plaas aangeplant is. Hy sê saad wat van een cultivar teruggehou is, is uit verskeie bronne verkry en saam met vars saad wat deur Pannar verskaf is onder die toesig van Pannar en die Departement Landbou: Mpumalanga aangeplant. Hy rapporteer dat die aanplanting reeds heuphoogte staan, en goed lyk, maar sê dat die stroper sal praat. Mnr Botma rapporteer dat hy ook deur GraanSA versoek is om só 'n proef te plant. Hy sê hy het teruggehoude en nuwe saad van twee cultivars geplant. Die Voorsitter noem dat hy nie kennis gedra het van hierdie proewe nie, maar spreek sy tevredenheid uit dat die proewe wél onderneem word. Hy versoek Mnr Lamprecht om toeligting te verskaf rakende die proefuitleg. Mnr Lamprecht rapporteer dat saad geskenk is deur Pannar en vier produsente. Mnr Cronjé noem dat daar per cultivar vier rye van 0,82 meter oor 'n lengte van 700 meter aangeplant is. Hy sê die oesgedeeltes sal by oestyd afgemeet word sodat die herhalings in die lengte verkry kan word. Hy meld dat dit onder toesig van Mnr Lamprecht en Pannar sal geskied. Die Voorsitter reël dat Mnre Botma, Cronjé en Lamprecht by die volgende vergadering verdere verslaggewing in hierdie verband lewer.

      Die Voorsitter verwys na Mnr Botma se navraag rakende die tonnemaat saad wat werklik verkoop is. Hy sê die saadmaatskappye het tydens 'n vergadering die vorige jaar daarop aanspraak gemaak dat 85% van saad wat geplant word, teruggehoude graan is. Hy noem dat daar volgens aanduidings van SANSOR voldoende saad beskikbaar was om 140 000 hektaar sojas in die huidige seisoen aan te plant. Hy wys daarop dat 140 000 hektaar sojas wél geplant is, maar dat daar vroeër melding gemaak is van die onbeskikbaarheid van saad. Mnr Botma sê hy het 55% nuwe saad gekoop. Hy rapporteer dat hy sonder welslae probeer het om by die groot maatskappye vas te stel hoeveel saad verkoop word, sodat die werklike gebruik van teruggehoude graan as saad gemeet kan word.

      Dr De Kock wys daarop dat SANSOR tydens hulle algemene jaarvergadering jaarlikse statistieke beskikbaar stel van saadverkope deur ledemaatskappye. Die Voorsitter reël dat uitnodigings bekom word na SANSOR se algemene jaarvergadering. Hy reël voorts dat Mnr Loubser, as Hoofbestuurder van SANSOR, en verteenwoordigers van die saadmaatskappye genooi word na die volgende vergadering van die Sojawerkgroep sodat die saak rakende die beskikbaarheid en die totale verkope van saad uitgeklaar kan word. Hy versoek dat die saak ook by GraanSA se spesialiswerksgroep aangeroer word. Hy spreek die gedagte uit dat dié sake in 'n persverklaring uitgelig behoort te word.

      Mnr Potgieter noem dat GraanSA bewus is van die probleem, en skriftelike bewys het van die SANSOR-inligting dat voldoende saad beskikbaar was om in die huidige seisoen 140 000 hektaar sojas aan te plant. Hy sê die saak word in 'n ernstige lig beskou, en maan dat die onbeskikbaarheid van saad aanleiding sal gee tot die terughouding van graan as saad.

      Die lede neem kennis van die artikel "Effect of farmer-retained canola seed on yield and quality", soos vervat in Bylae H.

      Besluite:

      1. Dat Mnr Loubser, as Hoofbestuurder van SANSOR, en verteenwoordigers van die saadmaatskappye genooi word na die volgende vergadering van die Sojawerkgroep sodat die saak rakende die beskikbaarheid en die totale verkope van saad uitgeklaar kan word.

        Mnr Keun

      2. Dat Mnre Botma, Cronjé en Lamprecht by die volgende vergadering verdere verslag lewer oor die proewe rakende die gebruik van nuwe saad teenoor teruggehoude graan as saad.

        Mnre Botma, Cronjé, Lamprecht en Keun

  12. Biobrandstof

    1. "Biofuels industrial strategy of the Republic of South Africa"

      (Besluit 12.1.1 van die Sojawerkgroepnotule van 4 Ok­tober 2007)

      Die Voorsitter neem die "Biofuels industrial strategy for the Republic of South Africa" soos vervat in Bylae I ter tafel. Hy sê heelwat debat is oor die onderwerp gevoer, onder meer oor die moontlike aanwending van mielies by die produksie van biobrandstof. Hy reël dat positiewe verwikkelinge, soos die uitreik van lisensies, ingewag word voordat die saak verder bespreek word.

      Besluit:

      1. Dat die saak rakende die vestiging van 'n plaaslike bio­brandstofbedryf oorstaan totdat berig ontvang word van positiewe verwikkelinge, soos die uitreik van lisensies.

        Mnr Keun

    2. Aansoek om rabat – vordering

      (Besluit 12.2.1 van die Sojawerkgroepnotule van 4 Ok­tober 2007)

      Dr Griessel bevestig dat die veevoervervaardigers se aansoek om 'n rabat op die invoer van sojaboonoliekoek goedgekeur is. Mnr Keun rapporteer dat die afkondiging in die Staatskoerant van 21 Desember gepubliseer is, en dat die rabat van 8% van toepassing is met ingang 1 Julie 2008 en geld tot 30 Junie 2011. Die Voorsitter wys daarop dat die uitdaging vir sojaboonprodusente daarin lê dat voldoende sojabone plaaslik geproduseer moet word om teen 2011 aan die plaaslike behoeftes te voldoen.

  13. Tegnologie-oordrag

    1. Inligtingsdae 2008: datums en terugvoering


      26 Februarie Sojaboonproewe: Boeredag, Universiteit van Pretoria-proefplaas, Hatfield
      12 Maart Boeredag – 'Groendag': Broodsnyersplaas, G&M Farming, op die pad tussen Middelburg en Bethal, Mnr Allen
      13-16 Mei Nampo-Oesdag, Bothaville
      3 September Sojabooncultivarevaluasiekomiteevergadering
      3-4 September "No Till"-klub, KwaZulu-Natal

    2. Sojabladskrif

      Die Voorsitter rapporteer dat besluit is om 'n sojabladskrif op die been te bring na aanleiding van versoeke wat tydens die Soja­dinkskrum gerig is. Hy berig dat Mnr Weber gekontrakteer is om artikels saam te stel, en dat GraanSA ingewillig het om dié inligting gratis te publiseer in die SAGraan.

  14. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die webtuiste – nuus­brokkies

      Die Voorsitter reël dat inligting oor die voorkoms van roes onmiddelik op die webblad beskikbaar gestel word. Hy reël voorts dat die goedgekeurde notules van die Sojawerk­groepvergaderings, en inligting oor komende inligtingsdae ook op die webblad gelaai word.

      Besluit:

      1. Dat inligting oor die voorkoms van roes onmiddelik op die webblad beskikbaar gestel word, en dat die goedgekeurde notules van die Sojawerkgroepvergaderings, en inligting oor komende inligtingsdae ook op die webblad gelaai word.

        Mnr Keun

    2. Opname ten opsigte van besoeke aan die PNS-webtuiste

      Die Voorsitter meld dat dié besprekingspunt op die agenda geplaas is ten einde vas te stel hoe gereeld die lede van die Werkgroep die webblad besoek, en om by die lede vas te stel hoe die webblad verbeter kan word. Hy moedig die lede aan om enige wenke in dié verband deur te gee.

    3. Inkomste- en Kosteramings

      Die Voorsitter verwys die lede na die PNS se amptelike inkomste- en kosteramings, soos opgestel deur Mnr Joubert. Hy stel Dr Griessel aan die woord. Dr Griessel rapporteer dat 'n artikel oor GraanSA se produksiekoste-begrotings vir die verskillende gewasse in die verskillende gebiede onlangs in die Landbouweekblad gepubliseer is. Hy sê hy het tydens die vorige vergadering aanbeveel dat Mnre Joubert en Botha van GraanSA samesprekings voer oor die kosteramings, aangesien Mnr Joubert ernstige probleme het met Mnr Botha se berekening van oorhoofse koste. Hy noem dat die oorhoofse koste deurgaans op R1 107/hektaar bereken word, ongeag die plaasgrootte en dies meer. Hy sê dat dergelike inligting verwarrend is vir produsente. Hy berig dat Mnr Joubert in samewerking met plaaslike landbou-ekonome tot die slotsom gekom het dat die 'combuds'-stelsel die mees geskikte model is. Hy sê die stelsel is gebaseer op inligting oor die mees ekonomiese maniere waarop spesifieke gewasse verbou word, soos ingewin vanaf produsente in 'n spesifieke streek.

      Dr Griessel wys daarop dat daar enorme verskille is in die bemestingskoste van die onderskeie gebiede, soos bereken deur Mnr Botha, wat wissel van R127/hektaar vir Morgenzon tot die R1 083/hektaar soos aangedui vir die Piet Retief-gebied. Hy noem die moont­likheid van óf oorbemesting óf beter prestasie in Piet Retief. Mnr Du Plessis noem dat Mnr Botha se syfers gebaseer is op inligting verkry van produsente, en noem dat die effek van verskillende bewerkingspraktyke in gedagte gehou moet word.

      Die Voorsitter benadruk dat dieselfde metodiek by bere­kenings gevolg moet word. Hy bevraagteken die moont­likheid dat daar so 'n groot verskil kan wees ten opsigte van die bemestingskoste in verskillende gebiede, siende dat bemesting nie 'n groot faktor is by sojabone nie. Dr De Kock noem dat die mikpuntopbrengste van 2,5 t/hektaar by Piet Retief, en 1,75 t/hektaar by Morgenzon, verskil. Hy vind die saadkoste wat by Morgenzon as R324 en Kinross as R155 aangedui word egter as onverklaarbaar, en wys daarop dat die mikpuntopbrengste van die twee gebiede baie na aan mekaar is. Dr Griessel noem dat faktore soos saadterughouding en verskille in plantdigtheid hier 'n rol kan speel. Hy sê dat die onkruidbeheerkoste van R497/hektaar vir die Reitz, Bethlehem en Harrismith-gebiede in vergelyking met die koste van R175/hektaar vir gebiede soos Bergville en Karkloof wat weens hoë reënval probleme sal hê met onkruid, vir hom vreemd voorkom. Die Voorsitter reël dat die punt ook verder bespreek word deur die Bemarkingskomitee van die PNS.

      Die Voorsitter rapporteer dat hy die Hoofbestuurder van GraanSA per brief versoek het om 'n gespreksgeleentheid met die PNS-Dagbestuur en GraanSA se landbou-ekonome te reël, ten einde die metodologie waarvolgens koste­ramings bereken word, te stan­daardiseer. Hy benadruk dat daar gewaak moet word daarteen om verwarrende inligting aan produsente te verskaf. Hy onderneem om die ver­gadering op hoogte te hou van verwikkelinge.

      Besluit:

      1. Dat die vergadering op hoogte gehou word van ver­wikkelinge rakende die standaardisering van die meto­dologie wat gevolg word by beramings van produksie­koste.

        Mnr Keun

    4. Weerstandigheid teen onkruiddoder by Round­up Ready sojabooncultivars

      Dr De Kock vra of enige weerstandbiedendheid teen Roundup Ready opgemerk is waar Roundup Ready sojabone geplant is. Hy bevestig dat hy nie verwys na 'n vergeling van sojaboonblare nie, maar na onkruid wat nie beheer kan word nie. Hy maan dat daar goed gelet moet word op moontlike onkruiddoderweerstandbiedendheid. Hy sê gevalle van stamrusper-weerstand teen die Bt-geen op mielies is reeds gerapporteer. Hy noem dat enkelgeen­weerstand oorkom kan word, en 'n wesenlike gevaar inhou.

      Mnr Du Plessis rapporteer dat hy die verskynsel waar­geneem het op Roundup Ready sojabone wat op Roundup Ready mielielande in KwaZulu-Natal geplant is. Hy meld dat die opslagmielies nie beheer word deur die onkruiddoder nie. Mnr Botma sê dit wil voorkom of grond wat reeds twee jaar met RoundUp gespuit is, vinniger vuil word, en dat die saadbed begin verander. Hy noem dat daar nie noodwendig sprake is van onkruiddoderweerstand­biedendheid nie, maar wél van klaarblyklike vinniger onkruidontkieming. Hy sê nuwe lande wat met RoundUp gespuit is, bly langer skoon. Dr De Kock spreek 'n mate van kommer uit oor Mnr Botma se beriggewing.

      Mnr Cronjé bevestig dat hy aandag sal skenk aan moontlike onkruiddoderweerstandbiedendheid tydens die komende produsente-toer na die VSA. Dr De Kock sê die Bt-geen is op dieselfde manier as die Roundup Ready geen ingedra op die gewas, en verduidelik dat weerstand­biedendheid na verwagting by enkelgeenweerstand kan ontwikkel. Hy is die mening toegedaan dat hierdie kwessie na behore bestuur moet word, sodat Suid-Afrika nie onverhoeds oorval word deur weerstandbiedendheid nie.

      Mnr Botma rapporteer dat Suid-Amerika die verste ge­vorder het met die Bt-geen, en dat daar, met uitsluiting van Frankryk, in Europese lande soos Spanje en Tsjeggië met groter belangstelling hierna gekyk word. Hy meld dat daar in Amerika 'n Bt-geen gebruik word met weerstand teen drie soorte ruspes. Hy sê groot versigtigheid word egter aan die dag gelê, met 'n verpligte aanplanting van sones wat geen Bt bevat nie. Hy noem dat dié maatreëls gevolg het na aanleiding van probleme wat in Australië met Bt opgeduik het. Hy sê Bt-vrye sones word ook voortdurend gemonitor.

      Dr Griessel wys daarop dat Roundup Ready weer­standbiedendheid op die onkruid in beide soja- en mielielande sal voorkom. Hy sê daar sal nie plaaslik probleme ervaar word met RUR-mielies nie, wat onlangs eers tot die plaaslike mark toegetree het. Hy noem dat RUR-sojas ook maar die afgelope nagenoeg drie jaar plaaslik geplant word, en dat dit die moeite werd sou wees om inligting oor Roundup Ready weerstandbiedendheid vanaf Amerika te bekom, waar dié cultivars lank reeds aangeplant word.

      Dr De Kock rapporteer dat Suid-Afrika een van die eerste lande is waar stamrusperweerstand teen die Bt-geen waargeneem is, en wél deur Dr van Rensburg van die LNR-IGG. Hy noem dat die registrasie van die Bt-geen in Frankryk teruggehou word, juis as gevolg van resultate wat in Suid-Afrika verkry is.

      Mnr Cronjé maan dat daar teen onderdosering by be­spuiting gewaak moet word sover dit weerstand­bied­endheid by onkruide teen Roundup Ready betref. Hy sê die dosis moet korrek wees, en klimaatsomstandighede gunstig by bespuiting, anders sal die gewenste resultate nie behaal word nie. Hy wys daarop dat die nageslag van plante wat oorleef, vir seker weerstand sal opbou. Hy rapporteer dat Monsanto veral in Mpumalanga, waar hoë onkruiddruk ervaar word, benadruk dat daar nie op die voorgeskrewe dosis gesny moet word nie.

      Mnr Potgieter rapporteer dat een van MGK se land­bouvoorligters hom meegedeel het dat RUR-sojabone neig om minder bestand te wees teen RoundUp-toedienings na drie of vier dae bewolkte weer, en skade op die boontjie opgedoen kan word. Hy sê daar is melding gemaak dat Roundup Ready toegedien moet word na afloop van ten minste een sonskyndag, aangesien die RUR-geen blykbaar deur die sonlig geaktiveer word. Mnr van Wyk berig dat boere opkoms gehad het van veral kakiebos, nadat Roundup Ready gespuit is. Hy sê die kakiebos het opgekom net voor die rye sou toemaak, en hoewel hy van mening was dat die kakiebos nie sou oorleef nie, het die boere hom ingelig dat die kakiebos die stroopproses belemmer.

      Die Voorsitter meld dat die impak van die saadbank ook nie negeer kan word nie, en doen aan die hand dat 'n kundige genooi word om 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep toe te spreek oor onkruid wat moontlik nie beheer kan word op Roundup Ready sojaboonaanplantings nie.

      Besluit:

      1. Dat 'n kundige genooi word om 'n volgende vergadering van die Sojawerkgroep toe te spreek oor onkruid wat moontlik nie beheer kan word op Roundup Ready sojaboonaanplantings nie.

        Mnr Keun

  15. Datums van volgende vergaderings

    Die datums vir die Sojawerkgroepvergaderings tydens 2008 is soos volg geskeduleer:

    • 4 Maart 2008
    • 6 Mei 2008
    • 29 Julie 2008
    • 24 Oktober 2008 (moontlik gekombineer met 'n laatmiddag sosiale funksie)
    • 25 November 2008
  16. Afsluiting

    Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette gele­wer. Die vergadering verdaag om 13:45.