PNS nagraadse studiebeurs
in proteïenvoorsiening en/of proteïenbenutting ten opsigte van dierevoeding

Doel van die studiebeurs

Die doel van dié beurs is om verdienstelike kandidate die geleentheid te bied om 'n Meestersgraad te verwerf wat hul in staat sal stel om 'n bydrae te maak tot hoë gehalte wetenskaplike navorsing in die voorsiening en/óf die benutting van proteïen ten opsigte van dierevoeding. In hierdie geval moet die studie-onderwerp binne die breë raamwerk van die PNS se visie, missie en doelstellings val. Beurse vir 'n Doktorsgraad sal ook oorweeg word indien die studie-onderwerp as 'n hoë prioriteit beskou word deur die PNS.

Vereistes

Die beurs is tot beskikking van burgers van die Republiek van Suid-Afrika wat oor die toelatingsvereistes vir 'n Meesters- of Doktorsgraad van 'n erkende tersiêre instelling beskik.

Beoordeling

Die beurs word volgens verdienste toegeken, en in die geval van 'n Doktorsgraad, ook volgens die PNS se behoefte aan die spesifieke studie.

Waarde van en aantal beurse

Die totale waarde van die beurs wissel na gelang van die omvang van die studie. Vir die Meestersgraad is die riglyn twee jaar en vir die Doktorsgraad, drie jaar. Die beurse beloop tans R100 000 per jaar. Die bedrag ter sprake word aan die begin van elke akademiese jaar direk aan die kandidaat oorbetaal, nadat bewys ontvang is dat die kandidaat vir die betrokke akademiese jaar by die Universiteit aanvaar en geregistreer is. Die toekenning van 'n beurs gedurende die eerste jaar, is nie 'n waarborg dat sodanige toekenning in die daaropvolgende jare herhaal sal word nie. Beurstoekennings vir die daaropvolgende akademiese jaar sal betaal word na ontvangs van 'n dokument vanaf die studieleier dat bevredigende vordering in die voorafgaande akademiese jaar gemaak is, asook bewys van die kandidaat se herregistrasie by die universiteit.

Verpligtinge

Die suksesvolle kandidaat moet 'n goedgekeurde navorsingsprojek uitvoer onder leiding van 'n erkende studieleier aan die betrokke universiteit. Die projek kan aangewend word as gedeeltelike vereiste vir 'n nagraadse kwalifikasie. 'n Formele kontrak moet onderteken word deur beide partye.

Vorderingsverslae

Die beurshouer word versoek om, benewens die normale vorderingsverslae van die studieleier, ook 'n finale verslag (tesis) by voltooiing van die navorsing in te dien. Die PNS word graag ingelig van referate of artikels voortspruitend uit die betrokke navorsing, wat óf in die wetenskaplike op populêre pers gepubliseer is, met die oog op beskikbaarstelling van die inligting aan 'n breër gehoor deur middel van die PNS-webwerf.

Keuring van kandidate

Kandidate word versoek om beursaansoeke in te dien by die universiteitsadministrasie, en kandidate wat vir die eerste keer aansoek doen in prioriteitsvolgorde gelys moet word deur die universiteit. Die aansoeke van gekeurde kandidate wat deur die universiteite voorgelê word, sal deur die PNS gedurende Oktober oorweeg word. Gekeurde kandidate kan versoek word om op die PNS se koste 'n persoonlike onderhoud met die PNS te voer. Die uitslag van die PNS sal onmiddellik na die vergadering bekend gemaak word (30 Oktober).

Sluitingsdatum

Voltooide aansoekvorms moet die PNS bereik teen 30 September.


Verdere besonderhede en aansoekvorms is verkrygbaar by

Administration Manager
Proteïennavorsingstigting
Posbus 1564
Rivonia
2128

Riverstraat 49, Woodmead Ekstensie 1
Sandton
2191

T.  +27 11 803 1894
T.  +27 11 803 2579
E.  maria@proteinresearch.net