Projeksies van proteïenbehoeftes vir diereverbruik vir 2010 en 2020
Saamgestel deur JSG Joubert (Februarie 2006)

  1. Inleiding

    Tabelle 1 tot 4 weerspieël die geprojekteerde proteïenbehoeftes vir diereverbruik vir die periodes 2010 en 2020 teen vier (4) verskillende scenarios.

    1. Die periode 2004 wat gebruik is as die basisjaar vir die projeksies het betrekking op die periode 1 April 2004 tot 31 Maart 2005.
    2. Die proteïenbehoeftes vir 2004 wat as vertrekpunt gebruik is is 1 472 315 ton wat 100 000 ton vismeel en 104 400 ton pluimvee afval insluit.
    3. Die vismeel en pluimvee afval verbruik is onderskeidelik met 'n faktor 1.4 en 1.2 vermenigvuldig om dit om te reken na 'n sojaboon oliekoekekwivalent.
    4. Vir hierdie doel is die fokus op die verwagte verbruik van oliekoek en word die vismeel en pluimvee afval, nadat dit omgeskakel is na oliekoekekwivalent, afgetrek van die geprojekteerde proteïenverbruik. Die vismeel en pluimvee afval word vir projeksie doeleindes vasgepen teen die hoeveelhede in die basisjaar gebruik.
    5. Die vier (4) scenarios behels die volgende:
      • Hoë inkomstegroei en hou beskermende tariewe in plek;
      • Hoë inkomste groei en faseer beskermende tariewe uit;
      • Lae inkomte groei en hou beskermende tariewe in plek;
      • Lae inkomste groei en faseer beskermende tariewe uit.
    6. BER se bevolkingsgroei projeksies is gebruik.
    7. Die APR model (Briedenhann model) is gebruik om die verhouding van oliekoek verbruik tussen die verskillende spesies te bepaal; en
    8. Internasionale mark faktore (byvoorbeeld vraag- en aanbod faktore ten opsigte van diereprodukte en die afgeleide vraag na proteïen vir diereverbruik en die effek daarvan op pryse in reële terme) is in aggeneem.

    Tabel 1

    Projeksies van proteïenbehoeftes vir 2010 and 2020 vir vier (4) verskillende scenarios ¹
    Scenario Basisjaar 2004 Jaarlikse groeie
    vanaf basisjaar
    2010 Jaarlikse groeie
    vanaf basisjaar
    2020
    Ton % Ton % Ton
    Scenario 1 1 472 315 2.46 1 703 735 2.15 2 068 449
    Scenario 2 1 472 315 0.13 1 483 793 1.13 1 762 883
    Scenario 3 1 472 315 0.84 1 547 672 0.56 1 609 962
    Scenario 4 1 472 315 -1.13 1 375 649 -0.17 1 433 381

    ¹   Scenario 1: Hoë inkomste groei en hou beskermende tariewe in plek.
    Scenario 2: Hoë inkomste groei en faseer beskermende tariewe uit.
    Scenario 3: Lae inkomste groei en hou beskermende tariewe in plek.
    Scenario 4: Lae inkomste groei en faseer beskermende tariewe uit.


    Gerieflikheidshalwe word enkele veranderlikes wat in die projeksies van die Proteïenbehoeftes gebruik is hieronder aangedui in Tabel 2.

    Tabel 2

    Inkomste groei en bevolkingsgroei
    Asiërs Stedelike Swartes Landelike Swartes Kleurlinge Blankes
    % per jaar
    Lae inkomste groei 1.0 0.0 -2.0 0.0 0.0
    Hoë inkomste groei 2.8 2.8 0.8 2.8 1.5
    Asiërs Stedelike Swartes Landelike Swartes Kleurlinge Blankes
    % per jaar
    Bevolkingsgroei tot 2011 1.42 1.31 0.57 0.18 1.14
    Bevolkingsgroei tot 2016 1.14 1.08 0.53 0.02 0.93
    Bevolkingsgroei tot 2021 0.95 0.90 0.43 -0.08 0.77
    Bevolkingsgroei tot 2026 0.81 0.76 0.33 -0.16 0.63
    Bevolkingsgroei tot 2031 0.69 0.64 0.24 -0.22 0.52

  2. Geprojekteerde proteïenbehoeftes

    Ten einde te kan bepaal hoe plaaslike produksie van oliekoek tred hou met die geprojekteerde verbruik van oliekoek moet daar besluit word watter scenario van die vier projeksies die werklike situasie die beste naboots. Gegewe die huidige ekonomiese parameters en dit wat voorsien word oor die mediumtermyn, sal die hoë inkomste groei syfers soos in Tabel 2 uitgebeeld, 'n beter weergawe wees van die werk­likheid. Verder is dit volgens kenners ook onwaarskynlik dat beskermende tariewe wat tans op lewende hawe produkte van toepassing is oor die termyn ter sprake uitgefaseer sal word. Vir hierdie doel sal die geprojekteerde proteïenbehoeftes volgens scenario 1 dus gebruik word om die vordering van die plaaslik geproduseerde oliekoek mee te vergelyk.

    1. Geprojekteerde oliekoekbehoeftes vir 2010 en 2020 is die geprojekteerde proteïenbehoeftes minus die vismeel komponent (100 000 x 1.4 = 140 000 ton oliekoek) en minus die pluimvee afval (104 400 x 1.2 = 125 280 ton oliekoek).
    2. In die basisjaar 2004/2005 was die werklike verbruik van oliekoek 1 212 593 ton en die plaaslike produksie 416 736 ton wat die plaaslike produksie in terme van totale verbruik op 34.4% te staan bring. Gedurende 2003/2004 was hierdie persentasie 43.6% en word dit op 39.4% geraam vir die 2005/2006 seisoen. Omdat die omvang van plaaslik geproduseerde oliekoek van verskeie faktore onder andere klimaat afhang aanvaar ek vir hierdie oefening die gemiddelde vir die drie (3) seisoene.

    Tabel 3

    Plaaslik geproduseerde oliekoek as persentasie van totale verbruik
    Tydperk Plaaslik geproduseerde oliekoek Persentasie van totale verbruik
    Ton %
    2003/2004 489 413 43.6
    2004/2005 416 736 34.4
    2005/2006 472 221 39.4
    Gemiddeld 459 457 37.9

  3. Op grond van inligting A en B kan antwoorde op die volgende vrae verskaf word

    1. Teen watter koers moet die plaaslike produksie van oliekoek jaarliks groei om nog steeds in 38% van die totale behoeftes te kan voorsien?
    2. Teen watter koerse moet die plaaslike produksie van oliekoek jaarliks groei indien die huidige gaping tussen plaaslike produksie en verbruik vernou wil word?
    3. As plaaslike oliekoekproduksie teen die historiese groeikoers groei watter persentasie sal dit uitmaak in 2010 en 2020 van die geprojekteerde oliekoekbehoeftes?

    Tabel 4

    Plaaslik geproduseerde oliekoek as persentasie van geprojekteerde oliekoekbehoeftes 2010
    (geprojekteerde verbruik is 1 438 455 ton)
    Plaaslike produksie groeikoers per jaar Hoeveelheid oliekoek Persentasie van geprojekteerde verbruik
    % Ton %
    2.94 546 613 38
    11.08 863 073 60
    16.54 1 150 764 80
    20.95 1 438 455 100
    Plaaslike groei teen historiese koers
    3.69 571 072 39.7

    Tabel 5

    Plaaslik geproduseerde oliekoek as persentasie van geprojekteerde oliekoekbehoeftes 2020
    (geprojekteerde verbruik is 1 803 169 ton)
    Plaaslike produksie groeikoers per jaar Hoeveelheid oliekoek Persentasie van geprojekteerde verbruik
    % Ton %
    2.53 685 204 38
    5.50 1 081 901 60
    7.41 1 442 535 80
    8.92 1 803 169 100
    Plaaslike groei teen historiese koers
    3.69 820 544 45.5

    Tabel 6

    Produksie en verbruikstendensie van proteïenkommoditeite
    Kommoditeit 96/97 97/98 98/99 99/00 00/01 01/02 02/03 03/04 04/05 05/06 Gemid-
    delde
    jaar-
    likse
    groei %
    Ton
    Vismeel verbruik 196 039 187 374 96 267 127 386 142 848 118 414 82 988 127 000 127 000 127 000 -0.29
    Vismeel produksie 78 430 100 000 88 340 95 000 110 000 128 000 123 000 122 000 132 000 121 000 5.63
    Vismeel invoere 117 809 87 374 7 927 32 386 32 848 0 0 0 0 6 000 22.30
    Oliekoek verbruik 832 600 785 401 1 080 354 1 063 338 1 021 862 1 149 224 1 210 396 1 121 460 1 212 593 1 200 000 4.88
    Oliekoek produksie 400 675 319 006 493 581 554 903 514 020 482 448 472 311 489 413 416 736 472 221 3.69
    Oliekoek invoere 431 925 466 395 586 773 508 435 507 842 666 776 738 085 632 047 795 857 727 779 7.26
    Oppervlakte beplant Ha
    Sojabone 87 000 125 000 130 500 93 787 134 150 124 150 100 150 135 000 150 000 208 090 13.43
    Soetlupiene NA NA 16 300 19 000 14 705 14 785 11 000 10 100 7 100 14 100 4.23
    Canola NA NA 17 000 25 000 19 145 27 000 33 000 44 200 44 250 41 200 16.29
    Produksie Ton
    Sojabone 76 806 120 000 200 900 188 367 148 720 209 705 216 000 136 500 220 000 272 500 20.96
    Soetlupiene NA NA 9 000 13 000 17 360 16 338 11 700 4 040 3 950 14 100 33.28
    Canola 8 734 11 000 21 000 23 000 26 549 25 750 37 975 40 770 32 000 45 310 23.75

    Figuur 1

    Oliekoek verbruik, produksie en invoere

    Graph showing oilcake consumption, production and imports

    Figuur 2

    Oppervlakte beplant en produksie van proteïenkommoditeite

    Graph showing areas and production of protein commodities

  4. Enkele gevolgtrekkings

    1. Die historiese koers waarteen die jaarlikse produksie van plaaslike oliekoek toegeneem het sal daarin slaag om die gaping tussen produksie en verbruik van oliekoek tot 2010 in stand te hou.
    2. As die historiese jaarlikse groeikoers van plaaslik geproduseerde oliekoek volhoubaar is tot 2020 sal dit die gaping tussen produksie en verbruik marginaal verbeter.
    3. Verskeie faktore beïnvloed die oppervlakte aanplantings van proteïenryke gewasse oor die medium- tot langtermyn waarvan die relatiewe prys verhoudings tussen kommoditeite plaaslik asook internasionale markfaktore 'n belanrike rol speel. Verder speel klimaat ook 'n belangrike rol oor die korttermyn. Grond is ook 'n beperking en is dit te betwyfel of die historiese groeikoers van 3.69% oor die langer termyn volhoubaar sal wees.
    4. Biodiesel aanlegte sal die vlak van oliekoek produksie aansienlik verhoog wat 'n verhoging in oliekoekproduksie oor die kort- tot medium­termyn tot gevolg sal hê. Dit word egter steeds betwyfel of 'n hoër as die historiese groeikoers gehandhaaf sal kan word oor die langtermyn.
    5. Internasionale markfaktore (toenemende voorrade, rekord aanplantings en aanbod, ongunstige wisselkoerse, ens.) het 'n neer­druk­kende effek op plaaslike pryse van proteïenryke sade wat die PNS se taak bemoeilik om die kommoditeite te bevorder. Die relatief ongunstige mielie- en koringpryse kon egter benut word om 'n verskerpte promosieveldtog die lig te laat sien.
    6. Tabel 6 verskaf inligting oor die historiese produksie- en verbruiktendense van proteïenkommoditeite. 'n Positiewe aspek is dat die oppervlakte toename van sojabone en canola op 'n jaargrondslag teen 13.43% en 16.29% onderskeidelik plaasgevind het. Van nog groter betekenis is dat die hoeveelheid geproduseer op 'n jaargrondslag met onderskeidelik 20.96% en 23.75% toegeneem het. Dit dui daarop dat die hoeveelheid proporsioneel meer toegeneem het as die oppervlakte. Alhoewel klimaat ook 'n rol speel wil ek dit ook toeskryf aan die positiewe impak wat navorsing en die oordrag van tegnologie gehad het.
    7. Die afgelope seisoen was daar ook 'n noemenswaardige toename in die oppervlakte onder lupiene wat die historiese koers, wat voor­heen negatief was, omgedraai het tot 'n positiewe groeikoers. Die PNS vertrou dat hierdie tendens volhoubaar sal wees.
    8. In die lig van die feit dat grond 'n beperking is en die negatiewe internasionale markfaktore, sal die PNS meer klem moet lê op navorsing wat produktiwiteit in die hand werk asook verbeterde kwaliteit (byvoorbeeld hoër proteïen per massa en per oppervlakte). Dit sal die betrokke gewas meer mededingend maak relatief tot kompeterende gewasse asook verhoogde winsmarges per eenheid tot gevolg hê. Verder moet die bevordering van hierdie gewasse in 'n wisselboustelsel hoë prioriteit geniet.

(Gebaseer op sekere inligting soos gegenereer uit die Nieuwoudt/McGuigan Model)