Geskiedenis van die Proteiennavorsingstigting (PNS)

Wie is die PNS

Sekere doelstellings van die Proteïennavorsingstigting (PNS) en sy voorgangers asook die befondsing van navorsing om spesifieke doelstellings te bereik dateer terug tot sovêr as 1973. Daar was egter voor 1990 sekere ander doelstellings wat met spesifieke fondse nagestreef moes word, maar dit is in 1989 gestaak om plek te maak vir 'n suiwer navorsingsfunksie en aanverwante geleenthede wat gedurende 1990 formeel in plek geplaas is met die daarstelling van 'n navorsingstrust wat vandag bekend staan as die Proteïennavorsingstigting (PNS).

In die vroeër sewentiger jare het die Vismeelnywerheid heelwat vismeel op die wêreldmark verkoop. Vismeel was egter geklassifiseer as 'n strategiese produk en moes daar eers aan die plaaslike behoeftes voldoen word alvorens vismeel uitgevoer kon word. Die Vismeelvereniging was in hierdie jare uiters krities teenoor die veevoervervaardigers vanweë die hoë insluitingspeile van vismeel in veevoer en hulle het geen geheim daarvan gemaak nie. Dit het amper tot hofsake gelei in 1971 en 1972. Die Vismeelvervaardigers het aangevoer dat sojabone-oliekoek aangewend kan word om die groot druk op die vraag na vismeel te verlig. In hierdie verband het die "Animal Feed Manufacturers Association" (AFMA) reeds so vroeg as 1972 aan die Regering berig dat soveel as 150 000 ton sojameel gebruik kan word in die plek van vismeel. Die wêreldproduksie van sojabone in 1972 het nou wel 44 miljoen ton beloop waarvan die VSA 35 miljoen ton geproduseer het, Brasilië 3.2 miljoen ton en Argentinië slegs 100 000 ton. In Suid-Afrika is daar slegs 4 600 ton gedurende 1972 geproduseer.

AFMA het inderdaad in 1973 'n tekort aan proteïenbronne veral plaaslik geproduseerde oliekoek gehad, en hierdie knelpunt is deur AFMA onder die aandag van die Departement van Landbou-ekonomie en Bemarking gebring. In 1973 is daar 'n vergadering tussen die Departemente van Landbou-ekonomie en Bemarking asook Handel- en Nywerheid gehou met verteenwoordigers van die Veevoervervaardigersbedryf en die vismeelbedryf. Die doel van die vergadering was: "... om die proteïenvoorsieningsposisie van die Republiek met verwysing na die beskikbaarheid van oliekoek en vismeel in die lig van die wêreldtekort aan proteïen en 'n moontlike tekort in die Republiek te bespreek". Dit is voorafgegaan deur 'n besluit wat op 22 Desember 1972 geneem is naamlik om 'n sogenaamde "subsidised Procurement Fund" daar te stel wat befonds sou word uit heffings op vismeel en oliekoek. Hierdie vergadering het die besluit bevestig en is daar ooreengekom om sodanige aanbevelings te maak.

Die Prys van vismeel is op 6 Maart 1973 met R44 per ton verhoog wat 'n heffing van R7.50 per ton vismeel op 125 000 ton ingesluit het. Hierdie heffing was die begin van die sogenaamde vismeelheffingsfonds wat 'n vrywillige fonds was. Die doel van hierdie fonds was om ingevoerde vismeel te subsidieer.

Daar is egter ook besluit om R500 000 van hierdie Vismeelheffing in 'n aparte navorsingsfonds te stort te wete die Proteïennavorsingsfonds. Hierdie navorsingsfonds moes aangewend word om die produksie van proteïenmateriaal vir dierevoeding, met besondere klem op die verhoogde produksie van sojabone en sojakoek, te bevorder. Inderdaad is dit dus die oorsprong van die huidige PNS met sy navorsingsopdrag en wel sover terug as 1973. Daar is egter ook deur die Minister in 1973 besluit om onder die Bemarkingswet 'n heffing op oliekoek te plaas om die invoere van oliekoek te subsidieer. So het die sogenaamde oliekoek heffingsfonds ontstaan – twee fondse dus om pryse te stabiliseer en een fonds om navorsing mee te befonds.

Wat die subsidiëring van ingevoerde proteïen betref het daar nie veel van gekom nie. Gedurende 1976 is sowat 6 000 ton vismeel gesubsidieer teen R20 per ton en daarna hoogstens by uitsondering. Inligting hieromtrent is skraps. Die ingevoerde volumes het te groot geword, en subsidiëring uit die beskikbare fondse sou bykans nie effek gehad het nie.

In 'n poging om meer oliekoek in Suid-Afrika beskikbaar te stel vir veevoer doeleindes het die Oliesaadraad 'n sogenaamde sonneblom-pariteitskema daar gestel met die belangrikste bepaling dat die olie wat onder hierdie skema geproduseer is uitgevoer moes word, maar dat die oliekoek in Suid-Afrika behoue moes bly. Hoewel hierdie maatreël verligting gebring het, kan sonneblom-oliekoek nooit werklik vismeel of selfs sojaboonoliekoek vervang nie.

Wat die heffing op oliekoek betref vir storting in die sogenaamde oliekoekheffingsfonds, het die Oliepersbedryf elke ton oliekoek wat verkoop is, belas met 'n ekstra R7 per ton wat deur hulle in die fonds in betaal is, maar wat uiteindelik gedra is deur die Veevoervervaardiger, selfmenger, of te wel die eindverbruiker – soos ook maar die geval was met die Vismeelheffing.

Tydens dieselfde vergadering tussen die twee departemente en die twee belange groepe in 1973, is daar besluit om 'n sogenaamde Proteïenstudiegroep saam te stel om die aangeleentheid rondom proteïenmateriaal vir dierevoeding te ondersoek en aanbevelings aan die Regering te maak. Daar is nie veel inligting omtrent die aktiwiteite van die studiegroep tussen 1973 en 1976 nie.

In 1976 is die Proteïenstudiegroep omskep tot die Proteïen Advieskomitee (PAK) en was die belangrikste rolspelers die Departemente van Landbou asook Omgewingsake (Vissery), Oliesadebeheerraad, Vismeelbedryf, Veevoerbedryf, Oliepersbedryf en die Suid-Afrikaanse Landbou Unie.

Tot en met 1978 het daar nie veel van navorsing gekom nie. In die Voorsittersrede by AFMA in 1978 is die volgende gesê: "Gesien in die lig van die toenemende knelpuntsituasie wat ontstaan as gevolg van die vismeel beskikbaarheid, is dit noodsaaklik dat die boerdery bedryf in Suid-Afrika baie ernstig kyk na die stimulering van die produksie van sojaboontjies." Die PAK het in opvolging hierop 'n staande punt op sy agenda aangebring getitel "The Encouragement of Soybean Production". Aan die einde van 1978 het die PAK berig dat 'n oesskatting van 40 000 ton sojabone aanvaar is en dat dit prakties moontlik is om oor die nabye toekoms produksie te verhoog tot 100 000 ton. (Dit het egter eers momenteel gematerialiseer in 1989 en 1990, en daarna vanaf 1997 nadat die PNS die sojawerkgroep gestig het.)

In 1983 het Dr JG Cloete 'n dokument getitel "Memorandum oor Proteïenvoorsiening vir Diereproduksie" die lig laat sien en met aanbevelings na die PAK gekom. Van die belangrikste aanbevelings was dat die Proteïennavorsingsfonds versterk moes word om 'n kapitaalbedrag van R2.5 miljoen te beloop waarvan rente en dividende vir navorsings aangewend kon word. In 1985 het die Minister goedgekeur dat die heffingsfondse ook in die navorsingsfonds gestort kon word om die kapitaal te versterk tot 'n bedrag van R3 miljoen. Die aanwending van fondse vir navorsing vanaf Julie 1973 tot 1990 is baie oorsigtelik op die PNS webblad beskikbaar.

Wanneer dit alles gesê is, blyk dit steeds dat daar nie veel gedoen is om sojaboonproduksie tot en met 1990 te stimuleer nie. Fondse is vir navorsing ten opsigte van 'n verskeidenheid ander proteïenbronne aangewend, maar bitter min ten opsigte van sojabone.

Op 10 Mei 1990 is daar 'n vergadering van 'n sogenaamde "Interimreëlingskomitee vir die Proteïennavorsingsfonds" gehou. In 'n skrywe van die DG van die Departement van Landbou is berig dat die proteïenfonds asook die vismeel- en oliekoeknavorsingsfondse oorgeplaas moes word in 'n "landbounavorsingsrekening". Daar is ook verder deur die Interimreëlingskomitee en die Minister besluit" ... dat 'n Trustfonds gestig word en die Proteïen Navorsing Advieskomitee (PNAK) die Raad van Trustees uitmaak".

Op 4 Desember 1990, hou die Proteïennavorsingsadvieskomitee sy eerste vergadering onder voorsitterskap van Dr RD Bigalke. Tydens hierdie eerste vergadering is onder andere besluit dat die lede oor die kort- en langtermyn behoeftes vir proteïen en oor die navorsingsbehoeftes skriftelik verslag sal doen by die volgende vergadering. Hierdie saak kry steeds tot vandag toe nog aandag.

Die eerste PNAK het uit 10 Raadslede plus 'n sekretaris bestaan, en is net een vergadering in 1990 gehad. In 1991 en 1992 is twee vergaderings per jaar gehou, in 1993 drie vergaderings, 1994 vier vergaderings en daarna ses vergaderings per jaar. Van dag een af is alle werk deur die Raadslede en 'n sekretaresse gedoen terwyl van departementele fasiliteite gebruik gemaak is waaronder Dr Bigalke se kantoor en die Raadsaal in die gebou wat later die LNR gehuisves het.

Na etlike haak en skaafplekke is die Trust, soos voorsien deur die Interimreëlingskomitee en die Minister, uiteindelik in 1994 gestig en het die eerste vergadering van die Proteïennavorsingstrust (PNT) plaasgevind op 9 November 1994.

Aangesien daar etlike kommoditeitstrusts gestig is gedurende 1997 volgens bepalings van die Bemarkingswet, waaronder die Mielietrust, Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT), en andere, het die PNS in 2002 besluit om die naam van die Proteïennavorsingstrust (PNT) te verander na die Proteïennavorsingstigting (PNS) in 'n poging om moontlike verwarring met die nuutgestigte kommoditeitstrusts te voorkom.

Alhoewel die huidige doelstellings van die PNS terugdateer na 1973, is hierbo daarna verwys dat bydraes tot befondsing asook die subsidiëring van ingevoerde proteïen in 1989 gestaak is, en gevolglik het die Raad van die PNS besluit dat die amptelike stigtingsdatum van die PNS vasgestel sal word as 1990 aangesien dit vanaf hierdie datum 'n suiwer navorsingsopdrag gehad het.

GERHARD JH SCHOLTEMEIJER

PROTEÏENNAVORSINGSTIGTING


2023 STRUKTUUR

Die PNS se struktuur soos in 2023