Lupino 1 Maart 2000
Artikel indeks
Wenke vir suksesvolle vestiging van lupiene
Inleiding
Soetlupiene kan 'n belangrike rol speel om ingevoerde proteïen te vervang. Om die lupienebedryf in die Wes- en Suid-Kaap suksesvol te vestig en te laat herleef, is die samewerking van alle rolspelers noodsaaklik. Na samesprekings met al die rolspelers het die Proteïennavorsingstrust die stigting van 'n lupienewerkgroep vir die Wes-Kaap geïnisieer om 'n gesonde en lewensvatbare soetlupienebedryf op die been te bring. Die lupienewerkgroep is op 2 April 1997 gestig met mnr Gerhard Scholtemeijer van die Proteïennavorsingstrust as voorsitter. Die lede van die werkgroep verteenwoordig al die belangrike rolspelers in die lupienebedryf soos produsente, landboukoöperasies, veevoervervaardigers, navorsers van die Hoofdirektoraat Landbou: Wes-Kaap, Landbounavorsingsraad en universiteite asook saadhandelaars.
Die primêre taak van die werkgroep is om die belange van die plaaslike lupienebedryf te ondersteun en te bevorder. Die werkgroep sal ook poog om probleme wat die bedryf mag kniehalter vroegtydig te identifiseer en pro-aktief op te tree deur navorsingsprojekte te inisieer om die probleme aan te spreek. Verder sal die werkgroep ook bestaande tegnologie aan produsente en ander rolspelers kommunikeer deur middel van inligtingsdae, inligtings-brosjures en nuusbriewe. Vir die koördinering van tegnologie-oordrag aksies, het die Proteïennavorsingstrust vir mnr Herman Agenbag gekontrakteur met Elsenburg as standplaas.
Sedert die stigting van die werkgroep is verskeie knelpunte geïdentifiseer en aangespreek met die finansiële ondersteuning van die Proteïennavorsingstrust soos:
- Nasionale lupienecultivarproewe (18 cultivars op 10 lokaliteite in Wes- en Suid-Kaap.
- Verskillende vestigingsmetodes (4) van lupiene in Swartland en Rûens.
- Antraknose – verskillende projekte ten opsigte van weerstandsteling (2) en chemiese beheer.
- Wisselboustelselnavorsing met lupiene in koringsaaiboerderystelsels.
- Voedingsproewe met pluimvee, varke en melkbeeste.
- Studietoere na Australië en Europa om beter cultivars te vind.
- Graderingstelsel vir lupienesaad.
Die doel van die nuusbrief is om u in te lig oor belangrike sake wat deur die Werkgroep bespreek word en besluite wat geneem word asook om veral aan produsente voorligting te gee ten opsigte van lupieneproduksie. Die tema van elke nuusbrief sal so gekies word om produsente in te lig oor aksies wat op daardie tydstip deur produsente geneem moet word ten opsigte van lupieneverbouing soos byvoorbeeld saaityd, saaidigtheid, bemestings, ensovoorts.
Wenke vir suksesvolle vestiging van lupiene
Suksesvolle vestiging van lupiene is seker die belangrikste voorvereiste om 'n goeie en lonende saadopbrengs te verseker. Die vereistes vir suksesvolle lupieneverbouing is:
Saadkwaliteit
Koop slegs goeie kwaliteit saad waarvan die kiemkragtigheid en bitterstof (alkaloïed) inhoud gespesifiseer is en vry van siektes soos antraknose is. Die beste resultate word verkry met saad waarvan die kiemkragtigheid 80% en meer is. 'n Eenvoudige kiemingstoets kan deur die produsent self gedoen word. Neem 'n monster (± 100 gram) van ongeveer 10% van die sakke saad en vermeng deeglik vooraf. Tel 100 sade voetstoots (beskadigde saad ingesluit) af. Plant die saad 2-3cm diep in skoon grond en benat daagliks vir 10 dae. Tel al die gesonde saailinge sonder enige gebreke. Die kiemingspersentasie is gelyk aan die getal gesonde saailinge.
Vroeë saai
In lae reënvalgebiede met 'n kort groeiseisoen word die beste resultate behaal met vroeg saai (begin tot middel Mei) terwyl tot einde Mei in hoë reënvalgebiede gesaai kan word. Saadopbrengs neem drasties af indien in Junie gesaai word. Vroeë saai (April) veroorsaak oormatige vegetatiewe groei met swak peulset en is geneig tot omval veral op baie vrugbare grond.
Optimum saaidigtheid
Die optimum saaidigtheid van lupiene word hoofsaaklik bepaal deur die omgewing en klimaat. Saadopbrengspotensiaal van lupiene word beperk weens swak saadset veral op die sytakke en is 'n hoë saaidigtheid (meer plante) nodig om hiervoor te kompenseer. By lae saaidigthede vertoon die aantal peule per plant baie indrukwekkend, maar daar is te min plante om 'n goeie saadopbrengs te verseker. Saadopbrengs word bepaal deur die aantal plante x getal saad per plant x saadmassa (saadgrootte).
Volgens proefresultate oor jare word die beste saadopbrengs, vir meeste lupiene produksiegebiede, behaal met 'n plantestand van ongeveer 45 plante per vierkant meter (100% ontkieming). In marginale gebiede kan saaidigtheid verminder word na 35 plante.
Kalibrasie van saai-implemente is baie belangrik om 'n korrekte saaidigtheid te verseker. 'n Ander belangrike vereiste is om seker te wees van die kiemingspersentasie van die saad. Om implemente korrek te kalibreer is plante per vierkant meter in plaas van kilogram saad per hektaar die meer korrekte prosedure. Gewoonlik kalibreer produsente volgens kilogram saad per hektaar en reken dit dan om na plante per vierkant meter. Volgens Tabel 1 kan die vereiste aantal sade per vierkant meter bereken word met inagneming van die kiemingspersentasie van die saad.
Tabel 1Kiemingspersentasie | Plante per vierkant meter (m²) | ||||
---|---|---|---|---|---|
30 | 35 | 40 | 45 | 50 | |
Sade per vierkant meter (m²) | |||||
100 | 33 | 38 | 44 | 50 | 55 |
95 | 35 | 41 | 46 | 52 | 58 |
90 | 37 | 43 | 48 | 55 | 61 |
85 | 39 | 45 | 52 | 58 | 65 |
80 | 41 | 48 | 55 | 62 | 69 |
75 | 44 | 52 | 58 | 66 | 73 |
70 | 47 | 55 | 63 | 71 | 78 |
Tabel 2
Smalblaar-/geellupiene | Breëblaarlupiene | ||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Saadgrootte (g/1000 sade) |
Sade per vierkant meter (m²) | Saadgrootte (g/1000 sade) |
Sade per vierkant meter (m²) | ||||||||
30 | 40 | 50 | 60 | 70 | 30 | 40 | 50 | 60 | 70 | ||
140 – klein | 42 | 56 | 70 | 84 | 98 | 330 – klein | 99 | 132 | 165 | 198 | 231 |
150 | 45 | 60 | 75 | 90 | 105 | 360 | 108 | 144 | 180 | 216 | 252 |
160 – medium | 48 | 64 | 80 | 96 | 112 | 390 – medium | 117 | 156 | 195 | 234 | 273 |
170 | 51 | 68 | 85 | 102 | 119 | 420 | 126 | 168 | 210 | 252 | 294 |
180 – groot | 54 | 72 | 90 | 108 | 126 | 450 – groot | 135 | 180 | 225 | 270 | 315 |
190 | 57 | 76 | 95 | 114 | 133 | 480 | 144 | 192 | 240 | 288 | 336 |
Variasie in saadgrootte bring mee dat daar ook 'n variasie in saaidigtheid sal wees soos aangetoon in Tabel 2. Indien saadgrootte (massa van 1 000 sade) bekend is, kan die vereiste aantal sade m² soos bereken volgens Tabel 1 herlei word na kilogram saad per hektaar soos aangetoon in Tabel 2. Saai-implemente word gekalibreer volgens die vereiste saaidigtheid (kg/ha) in Tabel 2. Kontroleer kalibrasie deur die aantal sade per vierkant meter op die grond te tel en te vergelyk met die vereistes volgens Tabel 1.
Grondkeuse
Kies goed gedreineerde grond wat nie geneig is tot versuiping nie. Vlak gronde en gronde met 'n vlak verdigtingslaag beperk wortelpenetrasie en moet vermy word. Lupine is baie gevoelig vir kalkryke- en brakgrond. Grond met 'n pH van 6 (KCI) en hoër is ongeskik vir lupiene-produksie. Die neiging om lupiene op uitskotgrond te saai is 'n waarborg vir mislukking.
Bemesting
Lupine reageer baie goed op fosfaataanvulling. Kaliumtekorte kom selde op skaliegronde voor, terwyl sandgronde dikwels tekorte toon. Lupine se behoefte aan spoorelemente blyk groter te wees as die van graangewasse. Stikstofbemesting is nie nodig nie, aangesien lupiene self stikstof bind om in eie behoefte te voorsien deur die stikstofbindende bakterieë waarmee die saad geënt word. Waar daar aanduigings is dat enting oneffektief was, kan 'n ligte stikstof bo-bemesting oorweeg word. Volledige grondontledings van die bo- en ondergrond vir pH, fosfaat, kalium en die spoorelemente koper, sink, boor, molibdeen en mangaan is baie belangrik en moet grondmonsters gereeld geneem word wanneer lupiene verbou word. Bemes grond dan volgens die resultate van die ontledings.
Saaimetodes
Lae saadopbrengs van lupiene kan hoofsaaklik toegeskryf word aan 'n swak plantestand as gevolg van verkeerde saaimetodes. Die beste vestiging van die gewas word nog altyd met 'n planter verkry. Die ideaal moet wees om saad op 'n egalige diepte van ongeveer 40 tot 50 mm te plaas om behoorlik te bedek. Ondersoeke by verskillende produsente het getoon dat soveel as 20% van die saad bo-op die grond of so diep lê dat saailinge moeilik die oppervlak sal bereik. Baie meganiesbeskadigde saad is ook gevind. Hierdie verskynsel kom veral voor wanneer lupiene uitgestrooi en toegekrap word, met swak en onegalige stand tot gevolg. Sommige van die strooiers blyk sade te beskadig tydens die saaiproses.
Enquiries / Navrae
Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western CapeInstituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. pietl@elsenburg.com
Editors / Redaksie
PJA Lombard J Bruwer Dr N KotzeSponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting