Lupino 2 Junie 2000
Artikels indekse
Lupiene presteer as wisselbougewas in die Eendekuil area
Die invloed van lupiene op die saadopbrengs van koring in 'n koring/lupiene wisselboustelsel in Australië
Lupiene presteer as wisselbougewas in die Eendekuil area
Johan de Lange
Bestuurder: Landboubestuursdienste, PLK Landbou (Edms) Bpk
Inleiding
Aangesien lupiene 'n integrale deel vorm van gewasproduksie in Eendekuil area, word die produksiekoste van lupiene, sowel as die impak van hierdie wisselbougewas op die opvolggewas (hoofsaaklik koring) jaarliks geëvalueer. Hierdie monitering vind plaas via die Eendekuil kleingraanstudiegroep.
Produksiekoste en bruto marge (1999/2000 produksieseisoen)
Ten einde gemiddelde produksiekoste en bruto marges per ha vir koring, lupiene, canola asook ander gewasse vir die Eendekuil area te bepaal, word daar jaarliks 'n finansiële ontleding by studiegroeplede gedoen. Tien boerderyondernemings se syfers word verwerk en die gemiddelde kostes en marges word bepaal. Heelwat klem word gelê op individuele kampprestasies, derhalwe word studiegroeplede aangemoedig om alle kampe in te skryf. Gedurende die afgelope seisoen het 10 lede in die Eendekuil area deelgeneem en is die syfers van 153 kampe geëvalueer wat sowat 4 081ha koring en 1 261ha lupiene behels het.
Die toedeelbare veranderlike koste (TVK) ook genoem die insetkoste per ha vir die gemelde produksieseisoen vir lupiene het gewissel van R358.05 tot R831.00 per hektaar. Die bruto marge (bruto inkomste min TVK) per ha het gewissel tussen -R206.58 en R1 022.34. Die gemiddelde insetkoste vir lupiene het R551.30 per ha beloop, terwyl die gemiddelde bruto marge R374.09 per ha was. Die gemiddelde insetkoste vir koring was R851.88 per ha, terwyl die gemiddelde bruto marge R982.91 per ha was.
Indien bogenoemde syfers as persentasie uitgedruk word, sien dit as volg daar uit:
Insetkoste van lupiene uitgedruk as persentasie van die insetkoste van koring | 64.7% |
Bruto marge van lupiene uitgedruk as persentasie van die bruto marge van koring | 38.06% |
Bruto marge van lupiene uitgedruk as persentasie van die insetkoste van lupiene | 67.9% |
Bruto marge van koring uitgedruk as persentasie van die insetkoste van koring | 115.4% |
Dit blyk dus duidelik dat die finansiële prestasie van lupiene swakker is as die van koring ten spyte van die feit dat koring se insetkoste per ha hoër as die van lupiene is. Derhalwe moet lupiene vir die produsent ander voordele inhou ten einde sy gewildheid in hierdie gebied te verklaar. Moontlike redes hiervoor word vervolgens bespreek.
Wisselbouvoordele
Gedurende die 1999/2000 produksieseisoen was die bydrae van lupiene as wisselbougewas in die Eendekuilgebied weer opvallend.
Figuur 1 dui die vergelyking tussen die insetkoste en marge bo koste van die lupiene/koring- teenoor die koringmonokultuurstelsel aan. Hierdie syfers is die gemiddelde vir die kleingraanstudiegroep soos gevind gedurende die 1999/2000 produksieseisoen.
Figuur 1Die gemiddelde insetkoste per ha van koring in die monokultuurstelsel (dit is nou lande waarop koring gedurende die vorige jaar geproduseer was) het R893.25 beloop, terwyl die gemiddelde insetkoste van koring in 'n wisselboustelsel met hoofsaaklik lupiene R819.27 (8.3% laer as die voormelde syfer) beloop het.
Die groot finansiële verskil was die bruto marge per ha. In die geval van die monokultuur koring was dit R893.62/ha, terwyl die bruto marge van die koring geproduseer na lupiene R1 152.88/ha beloop het; dus 'n verskil van 29%. Nie alleen het die koring beter opbrengste gerealiseer nie, maar was die kwaliteit (graad) van koring geproduseer op hierdie lande ook deurlopend beter.
Die finansiële voordeel wat lupienlande aan die lewende hawe (veral skape) bied, is nie in ag geneem nie. Dit is egter alom bekend dat lupienstoppellande goeie weiding in die somermaande bied.
Gevallestudie
In geval van een van die boerdery ondernemings in die Eendekuil area, het syfers duidelik getoon dat lupiene 'n onmisbare komponent van graanproduksie is.
Figuur 2 dui die wisselbousamestelling van die spesifieke boerdery onderneming aan. Die oppervlakte koring ter sprake is 900 hektaar. Uit hierdie grafiek kan afgelei word dat feitlik een derde van die koring op lupienlande gesaai word.
Figuur 2Figuur 3 dui die vergelyking tussen die toedeelbare veranderlike koste per ha en die marge bo koste per ha van die monokultuurstelsel teenoor die lupien/koring wisselboustelsel aan. Alhoewel die kostes per ha feitlik dieselfde daar uitsien, was die marge bo koste vir die lupien/koring stelsel 55% hoër as die van die koring/koring stelsel. Lupiene verseker dus meer volhoubare koringproduksie vir hierdie betrokke boerdery onderneming.
Figuur 3Gevolgtrekking
Geen wisselbougewas in die Eendekuil area, anders as lupiene, het tans dieselfde effek ten opsigte van koringproduksie nie. Dit is natuurlik van uiterste belang dat graanprodusente al die verskillende opsies moet oorweeg ten einde graanproduksie meer volhoubaar te maak. Ons almal weet dat krimpende winsmarges in die meeste landboubedrywe aan die orde van die dag is. Die voordelige effek van lupiene as wisselbougewas in die Eendekuil area, soos uitgebeeld in bogenoemde gevallestudie, is baie duidelik.
Ten spyte van die wisselbouvoordele van lupiene, is daar egter nog aspekte wat die groei in oppervlakte van lupiene kniehalter waarvan die volgende vier die belangrikste is:
- Die gebrek aan chemiese onkruiddoders vir die effektiewe beheer van Emex australis (Kaapse duwweltjie) en Arctotheca calendula (Soetgousblom).
- Wisselvallige produksie as gevolg van lupiene se gevoeligheid vir ongunstige klimaats-toestande.
- Die gebrek aan 'n beproefde beheerstrategie ten einde Antraknose te bekamp.
- Produksiestimulering deur die verbruikers/kopers van lupiene.
Die invloed van lupiene op die saadopbrengs van koring in 'n koring/lupiene wisselboustelsel in Australië
Herman Agenbag
Die mees populêre wisselboustelsel met lupiene in Australië is 'n koring-lupiene rotasie op 'n 1:1 basis dit wil sê koring-lupiene-koring-lupiene. Lupine word egter ook in ander stelsels gebruik soos byvoorbeeld twee jaar koring gevolg deur een jaar lupiene of koring-lupiene-canola of koring-medics-lupiene. Graanmonokultuur of intensiewe gewasverbouing word beperk deur die lae stikstofinhoud van gronde asook swak grondstruktuur, siektes en onkruide. Lupine speel 'n baie belangrike rol in die oorbrugging van hierdie probleme deur die verhoging van grondstikstofvlakke, onderdrukking van veral wortelsiektes ("wit aar") by koring en die verbetering van grondstruktuur as gevolg van 'n diep wortelstelsel. Volgens beraming laat 'n goeie stand lupiene ongeveer 40-50kg N/ha in die grond na vir die opvolggewas. Die diep wortelstelsel van lupiene hef verdigtingslae in grond effektief op en maak dit moontlik vir koringwortels om dit beter te penetreer. Probleem grasonkruide soos predikantsluis in koring kan effektief in die lupienefase beheer word, terwyl probleem breëblaaronkruide soos dubbeltjies in lupiene weer gedurende die koringfase beheer kan word. Dit beteken dus 'n verbetering in onkruidbeheer in beide fases van die wisselboustelsel.
Navorsingsresultate van 'n langtermynstudie in Victoria, Australië toon dat die saadopbrengs van koring met ongeveer 18% gedaal het in 'n monokultuurstelsel terwyl daar 'n toename van 28% was in 'n koring-lupiene rotasie. Opnames by produsente tydens dieselfde periode het toenames van 1-2,7 ton in die saadopbrengs van koring getoon na lupiene teenoor 'n gemiddelde saadopbrengs van 2,2 ton/ha in die koringmonokultuur. Volgens die resultate van 130 wisselbouproewe wat tot 1986 oor die hele Australië oor jare uitgevoer was, het die gemiddelde saadopbrengs (1,87 ton/ha) van koring na lupiene met 45% gestyg teenoor die koringmonokultuur se opbrengs (1,29 ton/ha). Volgens verdere resultate van 31 proewe in Wes-Australië was die saadopbrengs van koring na lupiene aansienlik (1-1,5 ton/ha) beter as koring met hoë stikstofbemesting in die monokultuur-rotasie. Die resultate dui verder ook op 'n beduidende toename in die proteïeninhoud en kwaliteit van koring na lupiene.
Plaaslike wisselbounavorsing met lupiene en canola in 'n koringsaaiboerderystelsel is tans aan die gang op Langgewens-proefplaas. Voorlopige resultate oor die afgelope drie jaar bevestig die Australiëse bevindings en toon 'n verbetering in die saadopbrengs van koring na lupiene wat wissel tussen ongeveer 17 tot 48%. Die proteïeninhoud van koring na lupiene is ook beduidend beter as die van koring in die monokultuurstelsel.
Plaaslike navorsing met lupiene en canola in 'n koringwisselboustelsel is tans nog aan die gang en sal die resultate later beskikbaar wees. Voorlopige resultate dui egter ook op 'n verbetering in die saadopbrengs van koring na lupiene en canola.
Prysstruktuur van lupiene vir die jaar 2000
Hoewel die voorsaaikontrakprys van R920/ton vir L. albus en R880/ton vir L. angustifolius redelik laag is, word verwag dat pryse later vanjaar moontlik mag verbeter. Tans is daar internasionaal 'n groot aanvraag na sojaboonoliekoek as gevolg van 'n afname in die wêreldvoorraad en kan daar verwag word dat die prys van die kommoditeit sal styg. Die huidige verswakking in die wisselkoers asook die sterkte van die VSA-dollar teenoor die Rand sal pryse selfs verder laat styg. Die prys van ingevoerde sojaboonoliekoek (47% proteïen) is tans R1 800 per ton. Volgens die waarde van lupiene teenoor sojaboonoliekoek behoort die prys vir L. albus en L. angustifolius onderskeidelik R1 224 en R1 050 per ton te wees.
Enquiries / Navrae
Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western CapeInstituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. pietl@elsenburg.com
Editors / Redaksie
PJA Lombard J Bruwer Dr N KotzeSponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting