CanolaFokus logo

Canolafokus 10   Maart 2001

Artikels indeks

Suksesverhale van canola produsente in die Rûens

Gewasskade deur onkruiddoders in canola

Canola kompetisie

"Canolafokus" – nuusbrief van die Canolawerkgroep

Suksesverhale van produsente met canola verbouing in die Rûens


  1. Napier


    Pierre Laubscher
    BNK Landbou (Eiendoms) Beperk

    Canola in die Suid-Kaap is in 1992 op 'n groter skaal as proefpersele deur 'n aantal graanprodusente aangeplant. Die produsent onder bespreking het in 1993 begin met 'n canola aanplanting op 22ha. 'n Uitstekende opbrengs van 1,9 ton/ha is in hierdie eerste jaar behaal. Canola is in die opvolgende jare geleidelik vermeerder om 'n groter rol in sy wisselboustelsel te speel. Sedert 1993 was die swakste opbrengs 1,3 ton/ha wat in 1999 verkry is. Die beste opbrengs was 1,9 ton/ha wat een jaar op 150ha behaal is.

    'n Wisselboustelsel van 5 jaar aangeplante peulgewasweidings gevolg deur 5 jaar kontantgewasse, word op die meeste kampe gebruik. In die kontantgewasfase van 'n kamp word koring direk na weidings gesaai, gevolg deur gars, canola, koring en laastens gars met weidings ondergesaai. Die produsent noem dat dit belangrik is om nie sulfoniel-urea onkruiddoders op die voorafgaande koring te spuit nie. Grondoordraging van die middels kan die groei van canola benadeel.

    Een primêre bewerking met 'n hakploeg ongeveer 140mm diep word teen 'n redelike hoë spoed gebruik om die grond los te maak. Dit word voor saai opgevolg deur 'n onkruid bespuiting. 'n Lugdruk saaimasjien in kombinasie met 'n medium tandimpliment gevolg deur 'n medium tot swaar eg en rollers word gebruik om in een aksie te saai. Die saad word net agter die tandimpliment voor die eg en rollers uitgestrooi. Hierdie saaiproses werk baie goed. Die saai van koring verskil net daarin dat die saad voor die tandimpliment uitgestrooi word.

    Bemesting van canola word gedoen deur 35kg stikstof en 30kg fosfaat met saai toe te dien. Dit word opgevolg met 35kg stikstof as bobemesting tydens stamverlenging. Koring kry dieselfde fosfaat en ongeveer 25kg stikstof per hektaar minder.

    Twee tot drie insekbespuitings word op canola gedoen afhangende van die voorkoms van plantluise en die ruitrugmot. Die produsent noem dat daar spesiale aandag gegee moet word of die middels wat gebruik word die ruitrugmot wel goed beheer.

    Groot getalle canola plante wat as gevolg van swartstamsiekte in 'n jaar op 'n land omgeval het, het duidelik uitgewys hoe belangrik dit is om canola cultivars te kies met 'n goeie swartstam weerstand. Die goue reël om canola net een in vier jaar op dieselfde land te verbou om swartstamsiekte tot die minimum te beperk, word baie goed in die produsent se wisselboustelsel nagekom. Canola word ongeveer een uit tien jaar op dieselfde kamp verbou.

    Canola word platgesny op die normale aanbevole stadium wanneer tussen 50 tot 60 persent van die sade van groen na bruin tot swart verkleur het. Volgens die produsent word kleiner en groener saad geoes wanneer te vroeg platgesny word met 'n gevolglike laer oes. Plante word so hoog as moontlik net onder die laagste peule platgesny sodat so min as moontlik materiaal deur die stroper hoef te gaan. In sommige jare is van die kampe tot by heuphoogte afgesny wat geen probleme met oes veroorsaak het nie.

    Die oesproses begin ongeveer 10 tot 12 dae na platsny by nagenoeg 10 persent vog. Daar word in die aande van seweuur of soggens van vyfuur gedors afhangende van die hoeveelheid dou wat op die plante voorkom. Daar word soms ook op klam dae gedors.

    Stroper verstellings word gedoen volgens die spesifikasies van die stroper vir canola. Dit is veral belangrik om die herhaler van die stroper ("repeater") dop te hou wanneer te vuil gedors word. Dit is dikwels slegs 'n klein verstelling aan die siwwe of wind wat nodig mag wees. Die konkaaf van die stroper word normaalweg op 5 vir canola teenoor 1,5 vir koring, en die dromspoed op 650 teenoor 800 vir koring gestel.

    In die 2000 seisoen het koring 'n gemiddeld van 2,8 ton/ha gelewer. Koring direk na lusern in hierdie jaar het 'n gemiddelde opbrengs van 2,2 ton/ha gelewer. Koring na canola en na medics het basies dieselfde opbrengste gelewer, wat heelwat beter was as die koring na lusern. Medics maak egter 'n baie klein persentasie van die weidings uit. Die positiewe effek (0,6 ton/ha meer) is dus hoofsaaklik deur die voorafgaande canola veroorsaak. Selfs met die gars wat die koring na canola opvolg word 'n goeie positiewe effek verkry.

    Tabel 1
    Vergelykende inkomste en kostes per ha tussen canola en koring in 2000
    Canola (per ha) Koring (per ha)
    Ton 1.5 2.8
    Inkomste (na aftrekkings) R1 800 R2 576
    Direkte uitgawes
    Saad R93 R230
    Kalk R20 R20
    Stikstof R238 R157
    Fosfaat R240 R240
    Spoorelemente R30 R20
    Insekdoders R50 R50
    Onkruiddoders R72 R45
    Swamdoders - R72
    Kontrakwerk R45 -
    Totale direkte uitgawes R788 R834

    Tabel 2
    Bruto marge vergelyking tussen canola en koring
    Canola Koring na lusern Koring gemiddeld
    Bruto marge R1 012 R1 190 R1 742

    Oor die jare is die voordele van canola verbouing in sy wisselboustelsel duidelik deur die produsent waargeneem. Gras word meer effektief in canola uitgespuit. 'n Laer siektedruk in koring en gars kom voor wat bydra tot laer insetkostes. Dit is veral die koring en gars opbrengste wat na canola volg, wat baie verbeter. Buiten die wisselbouvoordele van canola word risiko ook verlaag deur diversifikasie met meer gewasse.

  2. Swellendam


    Jannie Bruwêr
    SSK

    Gemiddelde reënval

    420mm (174mm in April-September)

    Vestiging

    Grond word diep losgemaak met 'n tand-implement voor plant, na die eerste reën. Indien klimaatstoestande dit toetlaat word daar later weer met 'n fyner tand-implement (Trash Field Span) oor die land beweeg om 'n fyn saadbed te kry. Die saad word met kunsmis gemeng en word breedwerpig uitgesaai waarna dit met 'n 10 duim vlerk toegemaak word. Hierdie prosedure het nog altyd goeie opkoms en vestiging gelewer. Canola word nie gesaai as daar nie genoeg ondergrondse vog is nie. Nadat daar toegemaak is, word 'n roller ook gebruik om goeie kontak tussen die saad en grond te kry. Geen roller word egter gebruik as die grond te nat is nie aangesien dit lei tot korsvorming.

    Wisselbou

    Die wisselboustelse sien soos volg daaruit:

    • Vyf jaar lusern gevolg deur, hawer (wei) / koring, canola, koring, hawer en gars.
    • Die land se geskiedenis sal bepaal of daar koring of hawer (weiding) gevestig gaan word.

    Bemesting

    Die canola is met 50 kg/ha stikstof per hektaar gesaai. Indien nodig word 'n kopbemesting van 20 kg/ha stikstof gegee. Verder word swawel as bemestingstof in die program ingesluit asook spoorelemente, veral molibdeen.

    Oesbeskerming

    • Insekbeheer word na opkoms toegepas vir rooibeensandmyt / snywurm.
    • Bespuiting van ruitrugmot en bolwurm, indien redelike infestasie voorkom, is wenslik.
    • Indien daar grasse in die canola teenwoordig is, word dit beheer word. Die beheer van grasse in die weidingsfase is ook belangrik.

    Oes

    Canola word in hierdie stelel direk gestroop. Geen of baie min waaier aksie word tydens die oesproses gebruik. Die waaier en grondspoed moet ongeveer dieselfde wees. Die canola word stadig en met sorg gestroop.

    Windspoed – Relatief laag.
    Bo-sif – Meer oop as vir koring / gars.
    Ondersif – 90% toe.

    Oes canola wanneer vog 10% is.

    Opbrengs

    'n Gemiddelde opbrengs van 1,3-1,5 ton/ha is oor die afgelope 5 jaar behaal. Die eerste paar jaar was opbrengste egter hoër gewees. As gevolg van swak reënval die afgelope twee jaar is swakker oeste egter behaal.

  3. Heidelberg – verbouing van canola


    Jannie Bruwêr
    SSK

    Gemiddelde reënval

    350mm (220mm in April-September)

    Vestiging

    In hierdie geval is die produsent op geen bewerking ingestel met die gevolg dat daar geen voorsaai bewerking gedoen word nie en alle onkruide word voor die saaiaksie, chemies beheer. Die saad word breedwerpig uitgestrooi en met 'n tand-implement toegemaak. Kunsmis word ook gebandplaas. Agter die tand-implement word 'n ketting-eg en roller gehak om met toemaak-aksie te help asook om goeie kontak tussen saad en grond te bewerkstellig.

    Wisselbou

    Vyf jaar lusern: Koring, Koring, Canola, Koring, Gars en Lusern.

    Bogenoemde stelsel was eers:
    Vyf jaar lusern: Koring, Gars, Canola, Koring, Gars en Lusern.

    Probleme met garsgradering het nou tot gevolg dat produsent koring na koring saai wat nie die idiale stelsel is nie.

    Oesbeskerming

    Saadbehandeling word met Gaucho gedoen wat 'n redelike lang nawerking het en goeie beheer teen snywurm en rooibeensandmyt gee.

    Grasse word al in die lusern weidingsfase beheer. Indien grasse in die canola voorkom word dit ook beheer.

    Beheer van ruitrugmot en bolwurm word, indien nodig, gedoen.

    Bemesting

    Stikstof word teen 35kg/ha met saai toegedien. Indien nodig word 'n kopbemesting van 35-40 kg stikstof / ha gegee met die aanvang van stamverlenging.

    Swawelbemesting is belangrik en tussen 6 tot 10kg S, verdeel tussen saai en kopbemesting, word toegedien.

    Spoorelemente naamlik Mankosyn (MnCuZn) word 2 tot 3 weke na opkoms toegedien terwyl boor tydens blomvorming gespuit word.

    Oes

    Canola word platgesny sodra 50-70% saadverkleuring het. Die canola word gestroop sodra 'n vogpersentasie van 10% bereik word, wat verseker dat oesverliese verminder word. Teen 'n vogpersentasie van 8% of laer, is verliese te groot.

    Opbrengs

    Die gemiddelde opbrengs oor vyf jaar is sowat 1,3 ton/ha. Die afgelope twee jaar het swak opbrengste as gevolg van lae reënval die gemiddeld laat daal. Gedurende die 2000-seisoen is 'n gemiddelde opbrengs van 1 ton/ha aangeteken.


Gewasskade deur onkruiddoders in canola

MI Ferreira
Elsenburg

Daar is in 2000 met 'n onkruidbeheerprojek op Langgewens (Swartland) en Tygerhoek (Suid-Kaap) begin waar die invloed van onkruiddoders op canola cultivars evalueer word. Alhoewel een jaar se resultate nog nie as voldoende beskou word om tot wetenskaplike gevolgtrekkings te kom nie, is sekere neigings en tendense wel opvallend. Dit blyk dat die spesifieke canola cultivars wat in 2000 in die proewe gebruik is, se verdraagsaamheid vir onkruiddoders, beslis verskil. Canola-produsente het slegs 'n beperkte keuse vir breëblaar onkruidbeheer omdat net Preecede en Simazine [vir triasien-verdraagsame (TT) cultivars] tans vir die doel geregistreer is. Verder bly onvoldoende onkruidbeheer van byvoorbeeld ramenas, een van die beperkende faktore in sekere gebiede vir winsgewende canola produksie. Die beheer van grasonkruide in canola, as breëblaar-gewas, is uit die aard van die saak relatief maklik.

Op Langgewens is die beste opbrengs gelewer waar die onkruiddoder Preecede teen dubbel die aanbevole dosis op die cultivar Varola 50 toegedien was. 'n Kortkop hierna was die opbrengs gelewer deur die eksperimentele onkruiddoder DPX, toegedien teen 'n dubbeldosis op die cultivar Varola 50. Die derde beste opbrengs is behaal waar die aanbevole etiket-dosis (enkeldosis) van Preecede op Varola 50 toegedien was.

Hierdie resultate moet in die lig gesien word van die relatief warm en droë periode wat in die winter van 2000 in die Swartland geheers het. Dit is dan duidelik hoekom 'n vooropkoms onkruiddoder soos Preecede goed gevaar het. Aanvanklik tydens onkruiddoder-toediening was daar voldoende grondvog om die vooropkoms onkruiddoder te aktiveer om ontkiemende onkruidsade te beheer. Teen die tyd dat die na-opkoms onkruiddoders DPX en Brodal toegedien was, het onkruide moontlik aan droogte-stres gely met gevolglike swak onkruiddoderopname. Onkruiddoderopname mag afneem tydens warm droë weerstoestande, want hoër temperature en lae relatiewe humiditeit lei tot vinnige afdroging van spuitdruppels en groter onkruiddoderverliese weens evapotranspirasie.

In teenstelling hiermee is die hoogste opbrengs (1.43 t ha-1) op Tygerhoek, waar die voorseisoen baie nat was, behaal waar Lontrel teen 'n enkeldosis op die cultivar Hyola 42 toegedien was. Hierop het die opbrengs gevolg wat behaal is waar Preecede teen 'n dubbeldosis op Hyola 42 toegedien was. Die derde beste opbrengs is gelewer waar die aanbevole etiket-dosis (enkeldosis) van Brodal op Varola 50 toegedien was, gevolg deur Preecede wat teen 'n enkeldosis op Hyola 42 toegedien was.

Die cultivars wat vir sekere behandelings op Langgewens geen verdraagsaamheid teenoor onkruiddoders getoon het nie, was die cultivars Monty en Varola 50 wat teenoor beide Brodal en DPX onverdraagsaam was en totaal afgesterf het. Dieselfde neiging ten opsigte van cultivars is in 2000 op Tygerhoek waargeneem, maar die onverdraagsaamheid het teenoor die onkruiddoders Brodal en Lontrel voorgekom.

Die maklikste manier waarop produsente gewasskade deur onkruiddoders kan voorkom, is om nie onkruiddoders aan onkruide in 'n gewas toe te dien indien strestoestande, soos uiterstes in temperatuur en vog, heers nie.


Canola kompetisie

Canola het hom reeds as suksesvolle gewas in die Wes-Kaap se droëland saaigebied bewys en daarom word daar gevoel dat die verbouing daarvan nog meer bevorder moet word. Ten einde hierdie doel te bereik is daar op inisiatief van die Hoofdirektoraat Landbou en die Proteïennavorsingstrust besluit om 'n Canola kompetisie te loods.

Canola word sedert 1990 kommersieël in die Wes-Kaap verbou en het gou byval gevind as 'n wisselbougewas. Koring opbrengste na canola is gemiddeld 20% beter as koring in 'n monokultuurstelsel. Omdat canola so goed inskakel in'n kleingraan wisselboustelsel is dit ook in pas met die vereistes van 'n bewaringsboerdery stelsel. Canola verseker die volhoubaarheid van saaiboerdery deurdat dit risko verminder deur diversifisering asook die grondstruktuur verbeter.

Canola-olie die primêre produk, is laag in poli-onversadigde vetsure en hoog in omega-3 vetsure wat volgens voedingkundiges uiters voordelig is. Die Wes-Kaap is 'n netto invoerder van proteïen vir dierlike gebruik, hetsy uit die binneland of vanaf internasionale bemarkers. Canola-oliekoek as neweproduk van canola kan hierdie mark benut en kan die afhanklikheid van invoere verlig.

Na raming is daar huidiglik sowat 385 boere in die Wes-Kaap wat canola op ongeveer 22500 ha produseer. 'n Aaname is egter gemaak dat daar sowat 100 000 ha onder canola verbouing kan wees. Daar bestaan reeds drie olieperse wat hierdie canola kan verwerk.

Die primêre doel van die kompetisie is hoofsaaklik die promosie van canola as wisselbou gewas, maar dit het ook groot waarde as voorligtingsgebruikmiddel. Produsente is geneig om meer geredelik produksiesyfer van hul kollegas te glo as syfers wat uit navorsing gebore word. 'n Sekondêre voordeel van die kompetisie is egter dat resultate vanuit die kompetisie wat noukeurig geboekstaaf gaan word, gebruik kan word om navorsingsbevindinge te bevestig. Verder kan die negatiewe sentiment oor die gewas wat tans by sekere produsente lê, wat hoofsaaklik as gevolg van gebreke in produksiepraktyke is, weerlê word en kan die uiters voordelige effekte van canolaverbouing deur middel van gevalle studies bewys word.

Tydens die duur van die kompetisie sal alle aksies, besluite en resultate geboekstaaf word. Deelnemers sal aangemoedig word om die ander betrokkenis se plase asook proefpersele te besoek waartydens kennis en navorsingsinligting uitgeruil sal word. Dit sal dus 'n formele leerproses vir ieder en elk wees wat deelneem.

Die kompetisie sal in twee afdelings geskied naamlik een vir die Suid-Kaap en een vir die Swartland. Pryse sal toegeken word aan produsente wat die beste relatiewe opbrengs (as persentasie van die langtermyn gemiddelde koringopbrengs) geproduseer het, asook die produsente wat die beste bruto marges behaal.

Inskrywingsvorms en inligting kan by die volgende persone verkry word:

Sakkie Slabbert, Moorreesburg Tel. 022 433 2330
Charl van Rooyen, Caledon Tel. 028 212 1158

"Canolafokus" – nuusbrief van die Canolawerkgroep


Inleiding

Gedurende September 1998 het die canolawerkgroep besluit om sy eie nuusbrief in die lewe te roep as kommunikasiekanaal tussen die werkgroep en veral produsente. Die nuusbrief verskyn kwartaaliks en is verkrygbaar by die plaaslike landboukoöperasies en saadmaatskappye.

Doel van nuusbrief

Die doel van die nuusbrief is om produsente in te lig oor belangrike sake wat op werkgroepvergaderings bespreek word. Verder poog die Redaksie om deur die nuusbrief ook inligting ten opsigte van canolaproduksiepraktyke aan produsente te verskaf.

Onderwerpe wat reeds in "Canolafokus" verskyn het

  • Januarie 1999, No. 1

    • Resultate van canolacultivarproewe – 1998.
    • Voorkoms van swartstam op canola in Wes-Kaap.
    • Saadkwaliteit.
  • Maart 1999, No. 2

    • Saadbedvoorbereiding, vestiging en onkruidbeheer by canola.
  • Junie 1999, No. 3

    • Siektes op canola in die Wes-Kaap.
    • Probleem-insekte op canola in Wes-Kaap.
    • Canola, u kanaal tot volhoubaarheid.
    • Nuus oor Canolakonferensie – 1999.
  • September 1999, No. 4

    • Die voedingswaarde en gebruik van canola oliekoek en volvet canola.
    • Canola markstruktuur en winsgewendheid.
    • Die oes van canola.
  • Februarie 2000, No. 5

    • Resultate van nasionale canolakultivarproewe 1999.
  • Maart 2000, No. 6

    • Die bemesting van canola.
  • Julie 2000, No. 7

    • Insekbeheer op canola.
  • September 2000, No. 8

    • Die Swartland langtermyn-wisselboustelsel proef. Ekonomiese voordele van canola en lupine in kontantgewas – wisselboustelsel.
    • Enkele voordele van canola in 'n wisselboustelsel.
  • Februarie 2001, No. 9

    • Resultate van nasionale canolakultivarproewe 2000.

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. piet.lombard@westerncape.gov.za

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Franco le Roux
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter