CanolaFokus logo

Canolafokus 9   Februarie 2001

Nasionale Canola Cultivarevaluasie: Wes-Kaap 2000

DJ Hanekom, H De Wet en H van Zyl

Inleiding

Produksie van canola gedurende die 2000 seisoen word geskat op sowat 22 000 ton geproduseer op ongeveer 19500 hektaar (Canola werkgroep). Die syfers verteenwoordig 'n afname van ongeveer 3000 tot 4000 ton vergeleke met die 1999 seisoen. Hierdie afname kan hoofsaaklik toegeskryf word aan 'n relatief goeie koring prys, 'n canola prys wat nog steeds nie die internasionale oilekoekpryse weerspieël nie, kontantvloeiprobleme van produsente en swak opbrengste as gevolg van vestiging en oesprobleme.

Gedurende die 2000 seisoen het die Hoofdirektoraat Landbou, soos tydens die 1998 en 1999 seisoen, 'n reeks canola cultivars geëvalueer vir aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Sowat 21 cultivars is op 12 lokaliteite, 6 in die Suid-Kaap en 6 in die Wes-Kaap, getoets. 'n Addisionele saaidtyd is ook op die Tygerhoek en Langgewens proefplase beoog, maar kon slegs by eersgenoemde aangeplant word, omrede die laat begin van die seisoen in die Swartland 'n vroeë saaityd onmoontlik gemaak het. Heelwat nuwe cultivars asook belowende teellyne is ook in die program ingesluit. Data aangaande die opkoms, blomdatum en opbrengs is ingesamel en statisties verwerk. Ongunstige omgewingstoestande asook voëlskade, veral in die Swartland, het egter meegebring dat van die proewe se data nie in die finale analise ingesluit is nie.

Reënvaloorsig


Suid-Kaap

By die Caledon lokaliteit het ondergemiddelde neerslag, veral tydens April en Mei, voorgekom met die res van die seisoen wat relatief normaal vertoon. Besonder hoë reënval het tydens Julie voorgekom. By die Tygerhoek lokaliteit was die reënval redelik vergelykbaar met die langtermyngemiddelde behalwe vir Junie waar 'n syfer van heelwat onder die gemiddelde aangeteken is. By Napier het relatief lae reënval tydens April tot Junie voorgekom met goeie neerslae tydens Julie tot September. By Swellendam het ondergemiddelde reënval van April tot September voorgekom met veral lae syfers tydens Augustus. Die reënval syfers van die Heidelberg lokaliteit toon 'n jaar waarin die reënval tydens die seisoen baie ooreenstem met die langtermyn gemiddelde. By George het ondergemiddelde reënval van April tot Oktober voorgekom.

Swartland

Die reënval in die Koeberg area was met die uitsondering van September onder die langtermyngemiddelde vir die maande April tot Oktober. In die Malmesbury gebied het ondergemiddelde reënval aan die begin van die seisoen, April tot Junie, geval, met bogemiddelde tot normale neerslag tydens Julie tot September. Op die Langgewens proefplaas is ondergemiddelde reënval tydens April, Mei en Junie gemeet met bogemiddelde reënval tydens Julie en September. Dieselfde tendens is ook by die Hopefield, Eendekuil (Pools) en Porterville proeflokaliteite waargeneem.

Aangesien syfers van beide gebiede slegs die totale vir elke maand weergee, word die lae grondvog toestande wat na middel Junie voorgekom het, nie weerspieël nie. Ernstige vogtekorte tydens hierdie tydperk het redelike stremming op gewasse in sekere gebiede geplaas. Die goeie reënval van Julie en September maand in veral die Swarland het egter tot 'n redelike herstel gelei.

Tabel 1
Dae tot blom van cultivars
2000 2000 2000 1998/1999 3 Jaar
Wes-Kaap Suid-Kaap Gemiddeld Gemiddeld Gemiddeld
Charlton 93 100 97 96 96
Oscar 98 107 102 101 102
Rainbow 89 101 95 96 96
Grousse 82 86 84 99 91
Scoop 84 84 84 84 84
Georgie 84 91 87 * 87
Dunkeld 93 102 98 97 97
PAC N 163 78 74 76 * 76
Hyola 42 81 78 80 88 84
Varola 50 83 88 85 88 87
Varola 54 88 91 89 93 91
Hylite 200 72 66 69 75 72
Hylite 200 TT 71 65 68 73 71
Insignia 93 101 97 * 97
Bugle 92 103 97 * 97
Emblem 87 102 95 * 95
54801 84 85 84 90 87
Monty 84 74 79 78 78
Varola 44 78 74 76 * 76
PAC N 150 86 94 90 * 90
TM 8 96 106 101 * 101
Gemiddeld 85 89 87 89 88

Dae tot blom

Die dae tot blom, 'n aanduiding van die groeiseisoenlengte van cultivars word in Tabel 1 weergegee. Gemiddeldes van onderskeidelik die Suid-Kaap en Swartland proewe, asook die gemiddelde dae tot blom van cultivars gedurende die 1998 en 1999 seisoene word aangedui asook 'n gemiddelde syfer vir die afgelope 3 jaar. Aangesien slegs 2000 data beskikbaar is vir die nuwe cultivars, verteenwoordig die syfers van hierdie cultivars in die "3 jaar" kolom slegs 'n enkele jaar se data.

Uit die data blyk dit dat die 2000 seisoen se inligting ooreenstem met die 1998 en 1999 seisoene. Die uitsonderings is die cultivars Grousse en Hyola 42 wat opmerkbaar vroeër geblom het tydens die 2000 seisoen. Die gemiddelde dae tot blom van cultivars tydens die 2000 seisoen het gewissel van 102 dae (Oscar) tot so kort as 73 dae (Hylite 200 TT). Met 'n klassifikasie van ultrakort(<78 dae), kort (78-85 dae), medium (86-95 dae) en lank (>95 dae) kan 4 cultivars as ultrakort, 6 as kort, 5 as medium en 6 as lank geklassifiseer word. Met die 1998 en 1999 data bygewerk ("3 Jaar Gem") is dit slegs die cultivar Grousse, waar 'n redelike verskil voorkom en wat moontlik aan 'n foutiewe saadbron toegeskryf kan word. Alhoewel nie so groot nie, word dieselfde ook by die cultivar Hyola 42 opgemerk.

Opbrengs

Die opbrengs van cultivars word in Tabel 2 en 3 getoon. In die Suid-Kaap is al die proewe, met die uitsondering van die Caledon lokaliteit, voltooi. Strawwe vogstremmings toestande na saai het hier tot uiters swak vestiging gelei en is die proef gevolglik gestaak.

In die Swartland het vogstremming na saai by al die lokaliteite met die uitsondering van die in die Koeberg en Malmesbury distrikte voorgekom. Hierdie toestand was veral straf by die Hopefield lokaliteit en het tot oneweredige opkoms gelei en is die proef gevolglik nie, wat opbrengs betref, voltooi nie. Die relatief goeie reënval wat tydens Julie by al die lokaliteite gemeet is het egter tot 'n redelike mate van herstel by die Langgewens, Porterville en Eendekuil proewe gelei. Vanjaar is egter die eerste noemenswaardige voëlskade ook in die Swartland opgemerk. Dit was waarskynlik as gevolg van die laat aanvang van die seisoen wat veroorsaak het dat canola die enigste beskikbare voedingsbron vir voëls op 'n stadium was. Dit het veroorsaak dat die Koeberg, Malmesbury en Porterville proewe so erg deur voëls beskadig is, dat die data nie ingesluit is in die finale verwerking nie. Vervolgens dan die opbrengste soos gemeet by die verskillende lokalitiete.

Tabel 2
Opbrengs (kg/ha) van canola cultivars by lokaliteite in die Suid-Kaap
Cultivar planthatum Tygerhoek 1
24/04/00
Tygerhoek 2
26/05/00
Swellendam
28/04/00
Napier
29/04/00
Heidelberg
03/05/00
George
04/05/00
Gemiddeld
Charlton 1644.2 1326.9 1275.9 1983.8 447.5 1477.2 1359.3
Oscar 1764.9 1275.7 1309.6 1939.6 * 1286.7 1515.3
Rainbow 1881.8 1390.3 1454.2 2256.9 536.6 1297.3 1469.5
Grousse 1610.6 1417.7 1257.6 1316.4 765.9 1603.8 1328.7
Scoop 1796.3 1380.7 1431.7 1850.6 605.7 1372.6 1406.3
Georgie 1819.7 1522.2 1350.7 2053.8 675.3 1306.4 1454.7
Dunkeld 1603.1 1327.4 1209.6 1905.3 622.7 1352.3 1336.7
PAC N 163 1916.2 1250.9 1380.0 1302.8 1115.4 1262.8 1371.4
Hyola 42 2241.5 1905.4 1923.2 1610.0 1043.9 1796.2 1753.4
Varola 50 1967.3 1476.1 1562.3 1812.6 675.5 1655.9 1525.0
Varola 54 1685.5 1409.1 1420.3 1903.6 451.4 1497.9 1394.6
Hylite 200 859.3 1130.2 893.8 508.5 1047.1 876.3 885.9
Hylite 200 TT 1285.8 1441.1 1323.0 764.2 1138.9 875.3 1138.1
Insignia 1760.8 1429.8 1284.6 1972.9 665.6 1658.1 1462.0
Bugle 1220.0 1111.3 952.0 1448.8 431.6 990.5 1025.7
Emblem 1739.3 1290.7 1369.3 1701.7 503.4 1345.6 1325.0
54801 1850.2 1520.4 1491.5 1575.3 997.9 1827.6 1543.8
Monty 1714.8 1845.3 1491.4 1737.2 851.9 1582.5 1537.2
Varola 44 2102.3 1858.5 1960.6 1502.6 1011.3 1896.0 1721.9
PAC N 150 1465.7 1360.0 1024.0 1247.9 665.4 1220.6 1163.9
TM 8 1419.4 1222.3 924.3 1665.6 440.4 1370.1 1173.7
Gemiddeld 1683.3 1423.4 1347.1 1621.9 734.7 1407.2 1369.6
KBV (5%) 240.2 249.5 251.2 411.0 248.7 342.2
KBV (1%) 321.4 333.8 336.1 549.9 332.8 547.8
KV (%) 8.65 10.62 11.3 15.35 20.65 14.73

Suid-Kaap

By die Tygerhoek saaityd 1 proef (24 April) is die hoogste proefgemiddelde van 1683.3 kg/ha gemeet. Die opbrengs van canola het gewissel van 859 kg/ha (Hylite 200) tot 2241.5 kg/ha (Hylola 42). Die cultivars Hyola 42, Varola 44, Varola 50 en die teëllyn, PACN 163 het opbrengste van digby die 2 ton en meer gelewer. By die tweede aanplanting is oor die algemeen effe laer opbrengste gemeet en het dit gewissel van 1111.3 kg/ha (Hylite 200) tot 1905.4 kg/ha(Hyola 42). Die cultivars Hylite 200, Hylite 200 TT en Monty het egter beter opbrengste gelewer as by die eerste saaityd wat die steling dat dit beter is om kortgroeiseisoen variteite te gebruik wanneer daar later in die seisoen geplant word, bevestig. 'n Proefgemiddelde van 1423.4kg/ha is by die Swellendam proef gemeet. Die cultivars Hyola 42 (1923.2 kg/ha) en Varola 44 (1960.6 kg/ha) het die beste opbrengs gelewer met die ander cultivars wat tussen 893.8 kg/ha (Hylite 200) en 1562.3 kg/ha (Varola 50) opbrengs geproduseer het.

By die Napier proef het die cultivars gemiddeld sowat 1621.9 kg/ha gelewer. Opvallend is dat veral die cultivars met 'n langer groeiseisoenlengte goed presteer het. Die cultivars Charlton, Oscar, Rainbow, Georgie, Dunkeld, Varola 54 en Insignia het almal meer as 1900 kg/ha gelewer. 'n Moontlike rede hiervoor is die bogemiddelde reënval wat tydens September hier voorgekom het. Die lae reënval wat by die Heidelberg lokaliteit voorgekom het, het meegebring dat 'n proefgemiddelde van slegs 734.7 kg/ha gerealiseer het. Die cultivars Varola 44, Hylite 200 TT, Hyola 42 en die teellyn, PACN 163, het egter nog steeds daarin geslaag om onder hierdie toestande meer as 'n ton per hektaar te produseer. Opbrengste by die George lokaliteit was gemiddeld sowat 1407.2 kg/ha met 8 van die cultivars wat by 1500 kg/ha en meer gelewer het. Die beste opbrengs is deur die cultivar Varola 44 (1896.0 kg/ha) gelewer gevolg deur die teellyn 54801(1827.6 kg/ha).

Die gemiddelde opbrengste van cultivars vir die Suid-Kaap streek toon dat die cultivars Hyola 42 en Varola 44 oor die algemeen die beste in die gebied gepresteer het. Die gemiddeldes van die ander cultivars was tussen 885.9 kg/ha (Hylite 200) en 1543.8 kg/ha (54801) met sowat 6 van die cultivars met 'n gemiddelde van meer as 1500 kg/ha. 'n Gemiddelde van 1369.6 kg/ha vir alle cultivars oor al die lokaliteite word getoon wat redelik ooreenstem met 'n gemiddelde opbrengs van produsente van sowat 1200 kg/ha wat deur koöperasies in die gebied aangehaal word.

Swartland

Opbrengste van canola by die Langgewens proef het gewissel van 1042.9 kg/ha (Charlton) tot 2703.8 kg/ha (Varola 44) met 8 van die cultivars wat meer as 2000 kg/ha gelewer het en 'n proefgemiddelde van 1757.6 kg/ha (Tabel 3).

Strawwe vogtekorte na saai het waarskynlik veroorsaak dat canola slegs sowat 461.7 kg/ha gemiddeld gelewer het by die Eendkuil proef. Nieteenstaande het die cultivar, Varola 44, nog steeds daarin geslaag om meer as 'n ton per hekataar onder hierdie toestande te lewer. Wat ook duidelik is, is dat die kortgroeiseisoen cultivars, afgesien van die swak opbrengste, beter vertoon en dus beter aangepas is vir hierdie gebied.

Alhoewel die gemiddelde vir die Swartland slegs bereken is uit die resultate van twee lokaliteite en seker nie van pas is nie, kan tog geredeneer word dat beide 'n lae en hoë potensiaal gebied ingesluit word. Wat egter duidelik is, is dat die cultivar Varola 44 in beide gebiede top gepresteer het. Dieselfde kan ook van die cultivar Hyola 42 en die PACN 163- en 54801-teellyn gesê word. Hieruit kan afgelei word dat hierdie cultivars 'n wye aanpassings vermoë het.

Tabel 3
Opbrengs van canola cultivars by lokaliteite in die swartland
Cultivar plantdatum Langgewens
31/05/00
Eendekuil
30/05/00
Gemiddeld
Charlton 1042.9 329.5 686.2
Oscar 2485.7 225.7 1355.7
Rainbow 1619.0 501.9 1060.5
Grousse 1828.6 415.2 1121.9
Scoop 1467.6 607.6 1037.6
Georgie 1578.1 489.5 1033.8
Dunkeld 1546.7 261.9 904.3
PAC N 163 2414.3 717.1 1565.73
Hyola 42 2587.6 741.9 1664.8
Varola 50 2188.6 501.9 1345.3
Varola 54 1432.4 161.9 797.2
Hylite 200 1389.5 631.4 1010.5
Hylite 200 TT 1224.8 716.2 970.5
Insignia 2027.6 228.6 1128.1
Bugle 1050.5 210.5 630.5
Emblem 1503.8 247.6 875.7
54801 2064.8 730.2 1397.5
Monty 2065.7 435.2 1250.5
Varola 44 2703.8 1083.8 1893.8
PAC N 150 1235.2 213.3 724.3
TM 8 1451.4 243.8 847.6
Gemiddeld 1757.6 461.7 1109.6
KBV (5%) 506.1 200.2
KBV (1%) 677.1 267.9
KV (%) 17.45 26.28

Oessekerheid

Die statistiese ontleding met die AMMI metode (interaksie-analise) lewer ook oessekerheids-data (Tabel 4) wat dit moontlik maak om die opbrengs van cultivars by sekere opbrengs-potensiale (mikpunte) te skat. Cultivars wat die beste by 'n spesifieke opbrengspotensiaal gepresteer het, word met 'n asteriks aangedui. Die cultivars Monty, Hyola 42, Varola 50, Varola 44 en die teellyn 54801 het deurgaans by al die potensiale goed gepresteer, terwyl Insignia ook goeie oessekerheid by potensiale bokant 1.5 ton verleen het.

Ten einde 'n cultivarkeuse vir 'n spesifieke gebied te maak word daar eerstens besluit op die potensiaal wat ter sprake is. Die tweede stap is dan om die tabel te raadpleeg en vas te stel watter cultivar presteer die beste by die gekose potensiaal. Dieselfde word ook by die onmiddelik aangrensende potensiale gedoen, aangesien dit onwaarskynlik is, dat die gekose potensiaal 100% verwesenlik sal word. Daar moet dus voorsiening gemaak word dat 'n hoër of laer opbrengs behaal kan word. Cultivars wat by al drie potensiale goed vertoon, kan dan met vrymoedigheid by die betrokke potensiaal of mikpunt aanbeveel word.

Tabel 4
Oessekerheid by die verskillende opbrengsmikpunte, 2000
Opbrengsmikpunte
Cultivar 0.5 1.0 1.5 2.0 2.5 3.0 Gemiddeld
Charlton 0.00 0.34 0.77 1.21 1.65 2.08 1.01
Oscar 0.00 0.45 1.17 1.90 2.62* 3.35* 1.28
Rainbow 0.17 0.71 1.24 1.77 2.30 2.84 1.23
Grousse 0.36* 0.86* 1.36 1.87 2.37 2.88 1.22
Scoop 0.26 0.71 1.15 1.60 2.04 2.49 1.21
Georgie 0.29 0.79 1.29 1.79 2.28 2.78 1.24
Dunkeld 0.24 0.75 1.26 1.77 2.28 2.79 1.09
PAC N 163 0.17 0.68 1.19 1.70 2.21 2.72 1.47
Hyola 42 0.58* 1.25* 1.92* 2.59* 3.26* 3.93* 1.74
Varola 50 0.25 0.89* 1.53* 2.17 2.81* 3.45* 1.40
Varola 54 0.00 0.52 1.09 1.67 2.24 2.82 1.09
Hylite 200 0.38 0.53 0.68 0.83 0.98 1.13 0.99
Hylite 200 TT 0.61* 0.80 0.99 1.17 1.36 1.55 1.19
Insignia 0.14 0.77 1.41* 2.05* 2.69* 3.33* 1.23
Bugle 0.07 0.45 0.83 1.21 1.58 1.96 0.83
Emblem 0.06 0.62 1.17 1.73 2.28 2.84 1.11
54801 0.60* 1.07* 1.54* 2.02* 2.49* 2.97 1.44
Monty 0.27 0.85* 1.44* 2.02* 2.60* 3.19* 1.40
Varola 44 0.52* 1.10* 1.68* 2.26* 2.84* 3.41* 1.79
PAC N 150 0.07 0.50 0.92 1.35 1.78 2.21 0.99
TM 8 0.10 0.58 1.06 1.54 2.02 2.50 0.95

Resultate van strookproewe


Langgewens

Bewerking : Vlak tand.
Plantdatum : 28 Mei 2000
Saaidigtheid : 4 kg/ha
Bemesting : 15 kg/ha P ingewerk, 60 kg/ha N verdeel.
Onkruidbeheer : Galant Super teen 500ml/ha (grasse).
Pes- en plaagbeheer : Supermethrin teen 1 liter/ha (bolwurm)
Langgewens 2000

Figuur 1: Resultate van strookproewe by Langgewens - 2000

Napier

Bewerking : Vlak tand.
Plantdatum : 15 Mei 2000
Saaidigtheid : 5 kg/ha
Bemesting : 15 kg/ha P ingewerk, 80 kg/ha N verdeel.
Onkruidbeheer : Galant Super teen 500ml/ha (grasse).
Pes- en plaagbeheer : Decis teen 200ml/ha (bolwurm)
Napier 2000

Figuur 2: Resultate van strookproewe by Napier - 2000

Prysvooruitskatting en internasionale markinligting

Die prys van soja-oliekoek (47% proteïen) uit die VSA vir invoer gedurende Junie 2001 word beraam op R1 864 per ton. Volgens die waarde van canola teenoor soja-oliekoek sal die waarde van volvet-canola as volg wees:

Pluimvee (94% van 47% soja-oliekoek) R1 752 / ton
Varke (100% van 47% soja-oliekoek) R1 864 / ton
Suiwel (58% van 47% soja-oliekoek) R1 081 / ton

Die waarde van canola-oliekoek is:

Pluimvee (53% van 47% soja-oliekoek) R989 / ton
Varke (65% van 47% soja-oliekoek) R1 212 / ton
Suiwel (60% van 47% soja-oliekoek) R1 118 / ton

Voorsaaikontrak

Volgens inligting is voorsaaikontrakte reeds beskikbaar vir 35 000 ton teen 'n minimum prys van R1 400 per ton. Die aanvraag vir canola blyk baie goed te wees aangesien bogenoemde hoeveelheid die behoefte van slegs 'n enkel koper is.

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. piet.lombard@westerncape.gov.za

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Franco le Roux
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter