Newsletters / Archives / Canolafokus Archives / 2002 Canolafokus No 14

CanolaFokus logo

Canolafokus 14   Maart 2002

Klimaatsvooruitsigte vir die Wes-Kaap vir die 2002-seisoen

Johan van den Berg

Inleiding

Die afgelope seisoen is gekenmerk deur baie reën in die westelike gedeelte en baie min reën, veral in die eerste gedeelte van die winter, in die Suid Kaap. Gedeeltes rondom Stellenbosch het byvoorbeeld meer as 800mm gekry vanaf Julie tot Desember wat byna twee keer die langtermyn-gemiddelde syfer is vir die tydperk. Gedeeltes in die Suid Kaap het eers noemenswaardige reën gekry vanaf Julie 2001. Gebiede soos die kusgebiede vanaf George tot ongeveer Swellendam het tussen 200mm en 400mm gekry sedert Julie 2001 wat heelwat minder is as die langtermyngemiddelde reënval.

See-temperature

See-temperature is 'n belangrike faktor wat reënvalverspreiding oor tyd maar ook hoeveelhede bepaal. Die twee gebiede wat veral van belang is en wat 'n groot invloed het op die Suid-Afrikaanse en ook Wes-Kaapse reënval is eerstens die see-temperature in die Stille Oseaan (El Niño / La Niña) asook die see-temperature rondom ons kusgebiede. Warm seewater is verantwoordelik vir die ontwikkeling van laagdruksisteme en dus stygende lug. Dit is dan ook 'n belangrike meganisme wat wolkvorming stimuleer as gevolg van vogtige lug wat opwaarts vervoer word om te kondenseer as wolke in hoër luglae. Grootskaalse verwarming of verkoeling wat plaasvind (soos die El Niño-verskynsel) verander weerspatrone op globale vlak maar veral in die Suidelike Halfrond. Dit veroorsaak veral 'n verskuiwing in die reënvalverspreiding oor tyd.

El Niño / La Niña

Tydens El Niño-jare begin die winter gewoonlik vroeër met koue fronte wat reeds teen die einde van April/begin Mei die suidelike gedeeltes tref. Dit veroorsaak dat die reënseisoen in die Wes-Kaap vroeg begin en die binneland vroeg ryp kry. Daarteenoor is seisoene redelik laat indien daar 'n La Niña-verskynsel is. Die Wes-Kaap is gewoonlik baie warm in die laat somer en herfs, die binneland kry reën tot diep in Mei en koue fronte begin eers die kontinent tref teen Junie en Julie. In Figuur 1 is die waarskynlikheid (%) om ten minste 20mm per 10-dae periode te kry in tipiese El Niño- (vaste lyn) en La Niña-jare (gebroke lyn) grafies voorgestel vir 'n plek soos Malmesbury. In Figuur 1 kan verder gesien word dat die kanse vir reën (20mm of meer per 10-dae periode) hoër is tydens El Niño-jare (vaste lyn) as La Niña-jare vanaf April tot die laaste gedeelte van Julie asook in die begin van September. Dit is duidelik dat El Niño-jare (vaste lyn) gewoonlik beter is in die eerste tot middelste gedeelte van die wintergroeiseisoen maar swakker is in die lente en somer. Daarteenoor is La Niña-jare (gebroke lyn) swak in die eerste gedeelte maar beter teen die laaste gedeelte.

Figuur 1
Waarskynlikheid (%) om ten minste 20mm per 10-dae periode te kry tydens tipiese El Niño- en La Niña-jare vir Malmesbury
Figuur 1: Waarskynlikheid (%) om ten minste 20mm per 10-dae periode te kry tydens tipiese El Niño- en La Niña-jare vir Malmesbury

See-temperature om die RSA-kus

Warm see-temperature teen die RSA-kus is verantwoordelik vir die ontwikkeling van laagdruksisteme. Die afgelope seisoen of twee is gekenmerk deur sterk verwarming wat plaasgevind het teen veral die Weskusgebiede tot so ver as die Angolese kus. Temperature was dikwels 2ºC of meer warmer as normaal. Dit het tot gevolg gehad dat meer vog as normaalweg beskikbaar was vir veral die westelike gedeeltes met goeie reën wat in die sentrale tot westelike helfte van die land voorgekom het.

Hoe lyk temperature tans en wat word verwag?

See-temperature aangrensend aan die hele RSA-kus maar veral die Kaapse kus is tans baie warmer as normaal. Rooigety is 'n teken van warmer water en minder suurstof en het dan ook in Februarie sterk voorgekom naby Elandsbaai. Die verwagting is dat dit behoort af te koel na die winter.

Wat betref die see-temperature in die Stille Oseaan is daar tans nie 'n El Niño of La Niña-verskynsel nie. Die verwagting is dat 'n El Niño sal ontwikkel vanaf ongeveer Mei / Junie 2002 en dat daar nie weer 'n La Niña-verskynsel sal wees soos die afgelope drie seisoene nie.

Wat verwag ons in terme van reënval?

Tans is see-temperature normaal in die Stille Oseaan wat aandui (Figuur 2) dat goeie kanse vir reën ietwat later begin (Mei) as in El Niño-jare maar vroeër as in La Niña-jare. Dit is veral Malmesbury (Figuur 2, dik lyn) wat sterk aandui dat die reënseisoen waarskynlik in Mei behoort te begin. Bredasdorp (Figuur 2, dun lyn) toon nie so 'n sterk tendens nie maar kanse verbeter ook vanaf Mei. Dit is tans te vroeg om te veel waarde te heg aan voorspellings vir Julie en later aangesien 'n El Niño-verskynsel (indien dit voorkom) die voorspellings kan verander.

Figuur 2
Waarskynlikheid (%) om ten minste 20mm per 10-dae periode te kry vir die 2002-seisoen vir Malmesbury en Bredasdorp
Figuur 2: Waarskynlikheid (%) om ten minste 20mm per 10-dae periode te kry vir die 2002-seisoen vir Malmesbury en Bredasdorp

Om op te som

Gunstige reënvaltoestande word verwag vir veral die suidwestelike gedeelte van die Kaap vanaf Mei 2002. Huidiglik is die see-temperature rondom die Kaapse kus baie warmer as normaal en kan verantwoordelik wees vir hoër reënval aan die weskus maar laer reënval na die oostelike gedeeltes. Dit is egter belangrik om op hoogte te bly aangesien toestande huidiglik redelik vloeibaar is en vinnig kan verander.

Vir verdere inligting

Johan van den Berg
Enviro Vision
Posbus 100938
Brandhof
Bloemfontein 9301
Tel / Faks: 051-436 5550
Sel: 082 374 4692
E-pos: jvandenberg@xsinet.co.za


Onkruiddoder oordrag op canola en lupiene in kleingraanwisselboustelsels

Hoofdirektoraat Landbou (Moorreesburg) Opgedateer deur HRAC Werkgroep, AVCASA

Die afgelope seisoen het skade by canola en lupiene voorgekom as gevolg van die oordrag van sulfonielureas (SU's) wat gedurende die vorige seisoen op koring gespuit is. Omdat canola en lupiene al meer na vore tree as belangrike wisselbougewasse met goeie kontant potensiaal en 'n heilsame invloed op koringproduksie, moet produsente bedag wees op hierdie probleem en die nodige voorsorgmaatreëls tref. Onkruidbeheerprogramme moet aangepas word om dit te verhoed.

Let op na die volgende


Onthoudingsperiode

Die nakoming van die onthoudingsperiode, soos aangedui deur die vervaardigers van onkruiddoders, is een van die belangrikste vereistes wat heel dikwels deur produsente geïgnoreer word. Dit is baie belangrik vir produsente om nie gevoelige gewasse soos canola en lupiene na koring te saai voordat die onthoudingsperiode van die betrokke onkruiddoders, wat in die vorige seisoen se koring gebruik is, nie verstryk het nie.

In Tabel 1 word die onthoudingsperiodes van die verskillende kleingraanonkruiddoders aangetoon.

Rekordhoudingstelsel

Noukeurige rekord moet gehou word van alle onkruiddoders en mengsels daarvan wat per land toegedien is. In die rekordhoudingstelsel moet aangeteken word, (1) die onkruiddoder en / of mengsel, (2) die dosis toegedien en (3) veral die datum van toediening. Hierdie inligting sal help om te bepaal of dit veilig is om canola of lupiene na kleingrane te verbou. Dit geld nie alleen vir kleingraanonkruiddoders nie maar ook vir onkruiddoders wat op canola of lupiene toegedien is aangesien sommige van hierdie middels ook 'n skadelike effek op kleingrane mag hê.

Grondsuurheid

In gronde met 'n pH >6.5 (KCl) breek onkruiddoders baie stadig af. Die aanwesigheid van vrykalk in die grond, veral wanneer kalk in droë grond net voor saai toegedien word, vertraag ook die afbraak van onkruiddoders. Produsente moet dus ook baie deeglik hiervan kennis neem.

Bewerkingspraktyke

Minimum of geen bewerking is nie baie bevorderlik vir vinnige en effektiewe afbraak van onkruiddoders nie en mag 'n invloed op die onthoudingsperiode hê. Produsente wat hierdie bewerkingstelsels toepas sal ook baie versigtig moet wees en hul self vergewis van wat met sy onkruiddoder gaan gebeur. Doen navraag by die vervaardigers.

Faktore wat die residuele werking van onkruiddoders verder kan beïnvloed

Behalwe grondsuurheid, vrykalk in grond, kalkstrooi in droë grond net voor saai en bewerkingspraktyke kan ander faktore ook 'n invloed hê soos:

  • Ondergemiddelde reënval gedurende die seisoen gevolg deur 'n baie droë somer vertraag die afbraak van sulfonielureas.
  • Hoë sulfonielurea dosisse asook dubbel dosisse neem langer om af te breek.
  • Laat toedieningstye van sulfonielureas in die graanfase gevolg deur vroeë aanplantings van medics, canola en lupiene kan probleme veroorsaak deur dat die onthoudingsperiode te kort is.

Die gebruik van indikatorplante voor die aanvang van die seisoen om die status van die grond te bepaal word aanbeveel waar onsekerheid bestaan oor die SU inhoud van gronde. Gewasse soos radys, slaai en boontjies is baie gevoelig.

Produsente neem asseblief kennis dat die toediening van te veel sulfoniel-ureas kan lei tot onkruidweerstandbiedenheid

Tabel 1
Onthoudingsperiode van onkruiddoders vir opvolggewasse in maande
Onkruiddoder Opvolggewasse
Koring Hawer Gars Lupien Medic Canola
MCPA 0 0 0 0 0 0
BUCTRIL (Bromoksolnil) 0 0 0 0 0 0
BUCTRIL / MCPA 0 0 0 0 0 0
COMPETE 0 0 0 0 0 0
AURORA 1 1 1 1 1 1
DERBY 1 1 1 12 3 12
GLEAN (15g-17,5g) 1 10 10 20 20 20
GLEAN (8g) + ALLY (10g) 1 6 6 10 10 10
GRANSTAR (10g) + ALLY (10g) 1 1 1 10 10 10
HARMONY M 1 1 1 10 10 10
GRANSTAR 1 1 1 6 6 6
ALLY 1 1 1 10 10 10
ALLY EXPRESS 1 6 6 10 10 10
LOGRAN 13g 6 6 6 9 11 24
LOGRAN (37,5g) (VOOROPKOMS) 0 8 8 11 13 24
LOGRAN + ALLY 6 6 6 9 11 24
HERO 12 12 12 12 12 12
PEAK 6 6 6 9 11 24
MONITOR 12 18 18 18 18 18
HUSSAR 9 9 9 9 9 9
COSSACK 9 9 9 9 9 9

Suid-Kaap Canola Kompetisie 2001

CL van Rooyen

Die eerste canolakompetisie is die afgelope jaar in die Suid-Kaap gehou. Produsente se produksiepraktyke, opbrengste per hektaar en bruto marge per hektaar is bepaal. Die bruto marges is op standaard lyspryse bereken om sodoende die koste van praktyke te vergelyk en nie die produsente se bedingingsvermoë te vergelyk nie. Die saai-, bemesting-, chemiese beheer- en oespraktyke is beoordeel.

Die Canolabedryfskomitee (CBK) het twee skilde geskenk aan die wenners. Die een aan die wenner wat die hoogste opbrengs (2.01 ton/ha) behaal het naamlik Crookes Brothers op die plaas Panorama. Mnr Alfred Mckinnon het die skild asook die skild vir die hoogste bruto marge in ontvangs geneem. Die bruto marge van hierdie wenblok was R1 796/ha of R856.70/ton. Avanta Africa het by monde van Mnr P Fouché 4 sakkies canolasaad aan Crookes Brothers geskenk ten bedrae van ongeveer R2 600.

Die tweede plek is gedeel deur Mnre. Jaco Rossouw, Luaan Gilomee, Heinrich Schöenfeldt en Boontjieskraal Landgoed. Die PNT het aan elk van hulle 'n prys van R500 geskenk. My dank aan die medewerkers wat die program laat vlot het.

Prysvooruitskatting en internasionale markinligting

Die prys van canola word hoofsaaklik afgelei van die plaaslike prys van sojaboonoliekoek (47% proteïen). Die prys van ingevoerde sojaboon­oliekoek uit die VSA vir April 2002 word beraam op R2 490 per ton. Volgens die waarde van canola teenoor sojaboonoliekoek sal die prys van canola as volg wees:

Volvet canola

  • Pluimveerantsoene (94% van 47%-oliekoek) = R2 340/ton
  • Varkrantsoene (100% van 47%-oliekoek) = R2 490
  • Suiwelrantsoene (58% van 47%-oliekoek) = R1 444/ton

Canola oliekoek

  • Pluimveerantsoene (53% van 47%-oliekoek) = R1 320/ton
  • Varkrantsoene (65% van 47%-oliekoek) = R1 619/ton
  • Suiwelrantsoene (60% van 47%-oliekoek) = R1 494/ton

Geliewe daarop te let dat bogenoemde pryse nie produsente prys is nie aangesien kostes soos vervoer, opberging, finansiering ensovoorts nog verhaal moet word.

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Prof A Agenbag   Izane Leygonie
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter