Newsletters / Archives / Canolafokus Archives / 2002 Canolafokus No 15

CanolaFokus logo

Canolafokus 15   Junie 2002

Olie- en proteïeninhoud van canola cultivars in die winterreënstreek gedurende die 1998, 1999 en 2000 seisoene

DJ Hanekom, PJA Lombard, H de Wet, H van Zyl en M Viljoen

Canola is die term of naam wat in verskeie lande gebruik word vir 'n groep variteite van olieraap. By canola is die vlakke van twee negatiewe voedingsfaktore naamlik erosiensuur en glikosinolate deur middel van teling verlaag tot vlakke waar die olie geskik is vir menslike gebruik. Gedurende die afgelope dekades het hierdie verbeteringe gely tot 'n dramatiese toename in die belangrikheid van dié gewas, soveel so dat canola tans wêreldwyd die derde belangrikste oliegewas naas soja en palmolie is en die tweede belangrikste bron van plantaardige proteïen is.

Canolasaad bevat normaalweg sowat 36% tot 46% olie en sowat 18% tot 24% proteïen. Canola word hoofsaaklik vir die hoë olie-inhoud verbou, maar die oliekoek as byproduk is redelik gewild as plaaslike bron van proteïen. Canola word egter ook in die volvet vorm aangewend in voedingsrantsoene.

Verskeie faktore het 'n invloed op die olie- en proteïeninhoud van gewasse. Alhoewel elke canolacultivar 'n inhertente geneigtheid tot 'n hoë olie-inhoud het, al dan nie, het faktore soos omgewingstoestande (reënval, temperatuur, grondtipe ensovoorts) en produksiepraktyke (saaidatum, wisselbou, bemesting, oesaksies ens.) 'n definitiewe invloed op die samestelling van die saad. Derhalwe sal die olie- en proteïeninhoud van canola wissel by verskillende lokaliteite en oor produksie jare.

Die Hoofdirektoraat Landbou: WK het die afgelope paar seisoene 'n reeks cultivar proewe uitgevoer waar die aanpasbaarheid en opbrengs van verskeie canola cultivars geëvalueer is. Hiermee saam is ook 'n studie gedoen op die chemiese samestelling van canola in die winterreënstreek en is die saad afkomstig van hierdie proewe geanaliseer deur die Elsenburg Dierproduksielaboratorium. Die analises is gedoen deur middel van "naby infrarooi spektrofotometrie nadat kalabrasies kurwes saamgestel is deur middel van standaard chemiese analise ("natchemie"). Sowat 1400 canola monsters, afkomstig van cultivarproewe, uitgevoer gedurende die 1998, 1999 en 2000 seisoene, is geanaliseer vir TRP en olie-inhoud.

Vervolgens word die invloed van produksiejaar, lokaliteit en cultivar op die olie- en proteïeninhoud van canola gedurende die 1998, 1999 en 2000 seisoen getoon.

Die invloed van lokaliteit

Figuur 1 toon die invloed van lokaliteit op die olie-inhoud van canola. As voorbeeld word die olie-inhoud van 'n reeks cultivars gedurende die 2000 seisoen gebruik. Duidelike verskille in die gemiddelde olie-inhoud van canola, by die verskillende lokaliteite, kan waargeneem word. Die laagste olie inhoud is gemeet by die saad afkomstig van die Eendekuil proef waar 'n gemiddelde olie persentasie vir al die cultivars, van slegs 29.10% gemeet is. Vogstremming en hoë temperature tydens korrelvulling was vermoeidelik hier die hoofoorsaak aangesien dit ook gelei het tot 'n proefgemiddelde opbrengs van slegs 461,7kg/ha. By die Napier proef is 'n relatief hoë gemiddelde olie-inhoud van 40.41% gemeet. Die gemiddelde saadopbrengs by hierdie lokaliteit was ook bogemiddeld vir die 2000 seisoen wat dui op dui op gunstige klimaatstoestande wat gedurende die betrokke produksiejaar voorgekom het.

Die syfers betreffende die totale ruproteïeninhoud of TRP (Figuur 2) bevestig die negatiewe korrelasie tussen die olie- en proteïeninhoud van canola. Wat dit impliseer is dat die proteïeninhoud sal toeneem soos die olie persentasie afneem en omgekeerd. Die data uit figuur 1 en 2 dui ook dat die olie en TRP tussen 58% en 63% van die saad uitmaak op 'n "as is" basis en dat 'n 40% olie-inhoud benaderd op 'n 20% proteïninhoud dui.

Figuur 1
Die invloed van lokaliteit op olie-inhoud van canola
Figuur 1: Die invloed van lokaliteit op olie-inhoud van canola
Figuur 2
Die invloed van lokaliteit op TRP-inhoud van canola
Figuur 2: Die invloed van lokaliteit op TRP-inhoud van canola

Die invloed van produksiejaar

Met die wete dat die omgewingsinvloed 'n wesentlike invloed op die inherente olie-eienskappe van 'n canola cultivars het, kan daar verwag word dat hierdie eienskap sal wissel met produksiejaar. Figuur 3 en 4 toon die wisseling in olie- en proteïeninhoud van canola cultivars soos gedurende die 1998, 1999 en 2000 seisoen by die Malmesbury lokaliteit gemeet. Opvallend is die lae olie-inhoud van canola cultivars van die 1999 seisoen. Die gemiddelde opbrengs by die Malmesbury lokaliteit gedurende die 1999 siesoen was 1.37 t/ha in vergelyking met 1.93 ton/ha en 2.50 ton/ha gedurende die 1998 en 2000 seisoen onderskeidelik wat daarop dui dat die 1999 seisoen nie die produksie van canola bevoordeel het nie. Kenmerkend van hierdie seisoen was 'n redelik uitgebreide midwinter droogte in die Swartland wat die opbrengs potensiaal van gewasse geknou het en tot laer opbrengste gelei het ten spyte van goeie neerslae tydens Augustus en September. Dit is duidelik dat ook die olie-inhoud van canola negatief beïnvloed is. Verder dui Figuur 3 en 4 ook die negatiewe verband tussen olie- en proteïeninhoud duidelik aan.

Figuur 3
Die invloed van produksiejaar op die olie-inhoud (%) van canola
Figuur 3: Die invloed van produksiejaar op die olie-inhoud(%) van canola
Figuur 4
Die invloed van produksiejaar op die TRP-inhoud (%) van canola
Figuur 4: Die invloed van produksiejaar op die TRP-inhoud (%) van canola

Die invloed van cultivar

Afgesien van faktore soos plantdatum, bemesting en rypheid tydens sekere oesaksies bied cultivar keuse ook 'n middel waardeur 'n produsent 'n hoë olie-inhoud van sy canola kan verseker. In figuur 5 en 6 word die driejaar gemiddelde van 'n reeks cultivars geïllustreer. Die olie-inhoud van die cultivars het gewissel van 32.75% (Karoo) tot 40.55% (Varola 54).

Onder normale verbouings praktyke word die olie-inhoud van canola gewoonlik aangegee as tussen 36% tot 46%. Australiese data dui verder aan dat van die cultivars tot 50% olie kan bevat. Lesings van die olie-inhoud van saad afkomstig van die cultivarproewe het egter slegs in sekere gevalle vergelykbare syfers getoon. Die redes hiervoor lê waarskynlik in die relatief lae reënval van die winterreënstreek in vergelyking met die produksieareas in ander lande asook die moontlikheid van konserwatiewe N-bemestingpeile wat vir toediening by canola aanbeveel word.

Figuur 5
Die olie-inhoud van 'n reeks cultivars gedurende die 1998, 1999 en 2000 seisoene
Figuur 5: Die olie-inhoud van 'n reeks cultivars gedurende die 1998, 1999 en 2000 seisoene
Figuur 6
Die TRP-inhoud van 'n reeks cultivars gedurende die 1998, 1999 en 2000 seisoene
Figuur 6: Die TRP-inhoud van 'n reeks cultivars gedurende die 1998, 1999 en 2000 seisoene

Canola produksie in die somersaaigebied

André Nel
LNR – Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Die veevoerbedryf kan jaarliks sowat 100 000 ton canola benut. Die produksie daarenteen, was vir 2001/2002 net minder as 26 000 ton. Daar bestaan tans dus aansienlike markruimte vir canola. Afgesien vir moontlike uitbreiding in die Wes-Kaap kan canola ook in die somersaaigebied, soos koring, onder besproeiing gedurende die winter verbou word. 'n Projek wat deur die Proteïennavorsingstrust finansieël ondersteun word, is gedurende 2001 deur die LNR-IGG begin om die potensiaal van canola onder besproeiing in die somersaaigebied te ondersoek.

Canola kan veral 'n rol speel waar vrotpootjie 'n probleem vir koringproduksie geword het. Canola is plantaardig nie aan koring verwant nie en kry nie dieselfde siektes nie wat dit in dié opsig 'n goeie wisselbougewas maak. Alhoewel canola ook deur voëls gevreet word, is dit minder aantreklik vir voëls en lyk dit op die stadium of ander voedselbronne voorkeur bo canola geniet.

Enkele canola cultivars is by Atlanta noord van Brits, Potchefstroom en Vaalharts geplant. Opbrengste het tussen 2 000 en 4 100kg ha-1 gewissel. Afgesien daarvan dat byna al die aspekte van produksie onder besproeiing nog aandag deur navorsing sal moet kry, kan sekere aanbevelings reeds gemaak word om te voorkom dat voornemende produsente nie ooglopende foute maak. Vervolgens dan die opbrengs en olie- en proteïeninhoud van 'n reeks cultivars by verskillende lokaliteite en plandatums in die somerreënvalstreek soos gemeet tydens die 2001 siesoen.

Tabel 1

Die opbrengs en olie- en proteïeninhoud van 'n reeks cultivars by verskillende lokaliteite en plandatums in die somerreënvalstreek (2001)

Potchefstroom: 23/05/2001
Cultivar Bemesting Opbrengs Olie (%) TRP (%)
Charlton KAN 3390 36.9 26.3
Monty 3770 32.9 27.5
Varola 44 4190 37.1 26.9
Varola 50 3640 37.7 26.9
Charlton ASN 3190 36.6 26.2
Monty 3760 30.9 27.8
Varola 44 3810 32.5 28.3
Varola 50 3250 37.1 27.3
Potchefstroom: 05/06/2001
Cultivar Bemesting Opbrengs Olie (%) TRP (%)
Varola 44 KAN 4115 35.2 27.2
Potchefstroom: 10/06/2001
Cultivar Bemesting Opbrengs Olie (%) TRP (%)
Charlton KAN 2445 37.9 26.9
Hylite 200 TT 2010 35.9 26.2
Monty 2495 35.7 27.3
Varola 44 2690 36.3 27.5
Varola 50 2350 39.0 27.5
Varola 44* 2080 35.0 27.7
Potchefstroom: 01/07/2001
Cultivar Bemesting Opbrengs Olie (%) TRP (%)
Varola 44 KAN 2140 35.7 28.1
Vaalharts: 08/05/2001
Cultivar Bemesting Opbrengs Olie (%) TRP (%)
Charlton 3245 42.3 21.4
Monty 3412 36.9 23.2
Varola 44 3195 42.0 23.4
Varola 50 3190 42.5 23.2
Atlanta: 29/05/2001
Cultivar Bemesting Opbrengs Olie (%) TRP (%)
Charlton 3250 42.1 21.3
Monty 3412 38.2 22.3
Varola 44 3330 38.4 23.5
Varola 50 2937 44.2 20.6

Wenners van die Super Canola Kompetisie in die Swartland

Beste opbrengs: Friaan Bester
Naaswenners: Dirk Lesch
Michiel Smuts
Beste bruto marge: Friaan Bester
Naaswenner: Dirk Lesch

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Prof A Agenbag   Izane Leygonie
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter