Newsletters / Archives / Lupino / 2007 Lupino No 28

Lupino logo

LUPIENWERKGROEP NUUSBRIEF

Lupino 28   Januarie 2007


Lupien Cultivarevaluasie: Wes- en Suid-Kaap 2006

PJA Lombard, L Smorenburg en DJ Hanekom
Departement Landbou: Wes-Kaap, Privaatsak X1, Elsenburg 7607

Algemene oorsig  (Herman Agenbag – PNS)

Volgens beraming is daar ongeveer 15 500 ha soetlupiene gedurende die 2006 seisoen in die Wes- en Suid-Kaap aangeplant. Dit verteenwoordig 'n toename van 1 400 ha teenoor die 14 100 ha gedurende die 2005 seisoen. In die Swartland was daar ongeveer 9 000 ha soetlupiene aangeplant terwyl die produksie in die Suid-Kaap en Overberg ongeveer 6 500 ha beslaan het. Gedurende 2006 was daar 'n toename in die produksie van bitterlupiene in die Wes- en Suid-Kaap en was die oppervlakte onder verbouing ongeveer 9 000 ha.

Volgens aanduidings was die gemiddelde saadopbrengs van soetlupiene ongeveer 1 ton/ha. Daar was egter produsente wat saadopbrengste van 1.5 tot 2 ton/ha behaal het. Ongunstige klimaat (koue, reën, sterk winde) gedurende die blom- en peulvorming stadiums het saadopbrengs benadeel deurdat blomme en peule afgespeen het. Die seisoen was gekenmerk deur baie goeie vegetatiewe groei wat die opbrengste negatief beïnvloed het.

Wat die cultivars se prestasies betref was dit veral LAG 28 (Russiese teellyn) en die nuwe Australiese cultivar Mandelup wat deurgaans oor alle lokaliteite baie goed presteer het. Die breëblaar cultivar CED 6150 het oor al die lokaliteite gemiddeld beter presteer as Quilinock en Tanjil.

Die teellyn LAG 28 is ongelukkig geneig tot uitspring en word uitfaseer gedurende 2007. Saad van CED 6150 sal op 'n beperkte skaal beskikbaar wees vir plaaslike produksie. Daar sal egter voldoende saad van Quilinock en Tanjil beskikbaar wees vir die 2007 seisoen.

Klimaat oorsig

Klimaatstoestande tydens die 2006 seisoen was gekenmerk deur aanvanklike goeie reënval in die Swartland. Dele van die Porterville area het in Mei buitengewoon baie reën ontvang en jong gesaaides het plek-plek versuip. Vroeg September was dit baie warm en droog en skade het in die Piketberg en Eendekuil areas voorgekom. Die Swartland het nat begin en droër geëindig terwyl die teenoorgestelde in die Suid-Kaap gebeur het. Die Napier area het hul eerste goeie reën in Julie ontvang met verdere goeie reën in Julie en Augustus. Die res van die Suid-Kaap het voldoende vog gedurende April en Mei gehad vir ontkieming en vestiging van gesaaides. Tydens Augustus het die Oostelike deel van die Suid-Kaap tussen 150–200mm reën gehad. Die daaropvolgende maande in die hele Suid-Kaap was gekenmerk deur gereelde reën en bewolkte weer wat die oesproses baie bemoeilik het.

Figuur 1
Reënval vir Suidelike area van Swartland (2006)
Figuur 1: Reënval vir Suidelike area van Swartland (2006)
Figuur 2
Reënval vir Noordelike area van Swartland (2006)
Figuur 2: Reënval vir Noordelike area van Swartland (2006)
Figuur 3
Reënval vir Oostelike area van Suid-Kaap (2006)
Figuur 3: Reënval vir Oostelike area van Suid-Kaap (2006)
Figuur 4
Reënval vir Westelike area van Suid-Kaap (2006)
Figuur 4: Reënval vir Westelike area van Suid-Kaap (2006)

Agronomiese praktyke

Proefpersele by beide die Swartland en Suid-Kaap lokaliteite het 'n vlak tandbewerking voor plant gekry ten einde 'n fyn en gelyke saadbed te verseker. Die proewe is geplant met 'n Wintersteiger perseelplanter. Die duisendkorrelmassa en ontkiemingspersentasie van elke cultivar is bepaal. Saaidigthede is bereken ten einde 'n mikpunt van 45 plante/m² te verseker.

Alle bemesting wat toegedien is, is gebasseer op grondontledings van grondmonsters wat by elke proefperseel geneem is. Bemesting is volgens aanbeveling van die Elsenburg grondontledingslaboratorium gedoen. Molibdeen en boor blaarbespuiting is by alle lokaliteite op ongeveer 60 tot 70 dae na plant gedoen.

Onkruidbeheer waar nodig is volgens onkruidspesie en –druk toegepas. Daar is hoofsaaklik gebruik gemaak van 'n voor-opkoms bespuiting met simasien gevolg deur na-opkomsbeheer met Brodal (deflufenican), Aramo (tepraloxydim) en Focus Ultra (cycloxydim). Insekbeheer het hoofsaaklik bestaan uit 'n bespuiting teen rooibeensandmyt en lusernerdvlooi na vestiging, gevolg deur bespuitings later in die seisoen vir die beheer van plantluise en bolwurms. Die middels wat gebruik is, was Dimet (dimetoaat) en Dursban (chlorpiriphos).

Met rypwording is persele gestroop met 'n Wintersteiger perseelstroper waarna die saad skoongemaak en toegelaat is om 'n resulterende vogpersentasie te bereik voordat dit geweeg is. Smalblaarcultivars wat geneig is tot uitspring is platgesny op ongeveer 60% vog en in sakke gelaat op die land wat dan tydens oestyd deur die stroper gegooi is.

Resultate

Op Tygerhoek het min verskil in die gemiddelde opbrengs tussen die eerste (25 April) en tweede aanplanting (8 Mei) voorgekom. Beide die breëblaar cultivars (CED 6150 en Vladimir) het beter gevaar by die tweede aanplanting. Die opbrengste van die smalblaar tipes by die eerste aanplanting het gewissel van 1.245 ton/ha (LAF 8) tot 2.510 ton/ha (LAG 28). By die tweede aanplanting was die opbrengste baie dieselfde en het gewissel van 1.269 ton/ha (Tanjil) tot 2.213 ton/ha (LAG 28).

In die Suid-Kaap was die smalblaarcultivar Mandelup (2.183 ton/ha) gemiddeld die beste cultivar. Cedara 6150 (1.912 ton/ha) was tweede gevolg deur Quilinock (1.703 ton/ha) en Tanjil (1.553 ton/ha). By LAG 28, LAG 16-3, Polenez en LAF 8 is die saad geneig om uit te spring en sal hierdie cultivars nie verder in die proewe geëvalueer word nie. Vladimir het weens die baie nat toestande by Swellendam wortelsiektes gekry en gevolglik was sy produksie baie laag.

Die proefopbrengste was beter in die Swartland as in die Suid-Kaap. Die saadopbrengs het gewissel van 1.403 ton/ha (Philadelphia) tot 2.488 ton (Hopefield). Die opbrengs van die tweede aanplanting (2.226 ton/ha) by Langgewens was heelwat beter as die eerste aanplanting (2.019 ton/ha). Die warm droë weer in die begin van September kan 'n rede wees waarom die eerste aanplanting swakker gevaar het. Die proef by Philadelphia is laat aangeplant en wortelsiektes het by baie plante op 'n laat stadium voorgekom. Bruinblaarvlek het by Hopefield voorgekom en veral die opbrengs van CED 6150 benadeel.

Tabel 1
Swartland saadopbrengste (kg/ha)
Langgewens 1 sv Langgewens 2 sv Darling sv Hopefield sv Philadelhia sv
CED 6150
3027 a 3193 a 1766 c 1180 e 882 c 2010 6
Vladimir
2647 ab 2860 b 1594 c 2379 cd 1081 bc 2112 3
LAG 28
2344 bc 2294 c 2478 a 3122 a 1801 a 2408 1
Mandelup
1825 d 2105 cd 2414 a 3067 a 1860 a 2254 2
LAG 16-3
1810 d 2149 c 1955 abc 2768 ab 1505 ab 2037 5
Tanjil
1666 de 1825 d 1774 c 2568 bc 1212 bc 1809 8
Polenez
1954 cd 2182 c 2382 ab 2428 bcd 1486 ab 2086 4
LAF 8
1263 e 1453 e 1984 abc 2136 de 954 c 1558 9
Quilinock
1629 de 1976 cd 1824 bc 2749 abc 1844 a 2004 7
Gemiddeld
2019 2226 2019 2488 1403 2031
KV (%)
12.12 8.24 16 8.11 21.88
KBV (0.05)
423.48 317.81 559.22 374.93 531.36
Tabel 2
Suid-Kaap saadopbrengste (kg/ha)
Tygerhoek 1 sv Tygerhoek 2 sv Napier sv Riversdal sv Swellendam sv Caledon sv
CED 6150
1574 cd 1766 bc 2270 ab 2017 bc 1865 b 1980 cde 1912 3
Vladimir
1320 ef 1356 de 2034 bc 1627 cd 815 e 1520 f 1445 8
LAG 28
2510 a 2123 a 2661 a 2741 a 2283 a 2630 a 2491 1
Mandelup
1733 bc 1863 ab 2164 abc 2171 abc 2670 a 2499 ab 2183 2
LAG 16-3
1953 b 1501 cde 2202 abc 2170 abc 1571 c 2052 cd 1908 4
Tanjil
1390 def 1269 e 1265 d 2266 ab 1911 b 1218 def 1553 6
Polenez
1529 cde 1664 bc 1268 d 1779 bcd 1099 d 1728 def 1511 7
LAF 8
1245 f 1271 e 1271 d 1321 d 1087 d 1593 ef 1298 9
Quilinock
1421 def 1605 bcd 1109 cd 1926 bcd 1925 b 2230 bc 1703 5
Gemiddeld
1631 1602 1805 2002 1692 1939 1778
KV (%)
8.71 10.89 17.18 18.32 8.64 11.09
KBV (0.05)
246 302.01 575.86 634.95 250.05 399.31

Die sv kolom dui statistiese verskille aan. Opbrengste (cultivars per lokaliteit) verskil nie betekenisvol van mekaar indien hulle dieselfde letter/s bevat nie. Die letters word bereken volgens die kleinste betekenisvolle verskil (KBV). Die beste opbrengs is a en die swakste opbrengs het die laaste alfabetiese letter.

In die Swartland was die smalblaarcultivar Mandelup (2.254 ton/ha) gemiddeld die beste cultivar. Vladimir (2.112 ton/ha) was tweede gevolg deur Ced 6150 (2.010 ton/ha), Quilinock (2.004 ton/ha) en Tanjil (1.809 ton/ha). Mandelup was in beide gebiede die beste smalblaarcultivar gevolg deur Quilinock en Tanjil.


Enquiries / Navrae

Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western Cape
Instituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Dr N Kotze
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter