Lupino logo

LUPIENWERKGROEP NUUSBRIEF

Lupino 29   Maart 2007


Wenke vir suksevolle verbouing van soetlupine in die Wes- en Suid-Kaap

Herman Agenbag
Proteïennavorsingstigting

Inleiding

Goeie verbouingspraktyke is noodsaaklik vir die suksesvolle verbouing van lupiene. Die verbouing van soetlupiene as kontantgewas vereis meer insette van produsente as wanneer bitterlupiene vir weidingsdoeleindes verbou word. Net soos enige ander gewas, sal soetlupiene ook baie baat vind by korrekte en optimale verbouingspraktyke en is dit belangrik dat produsente kritiese verbouingspraktyke in ag sal neem om sukses te verseker. Die belangrikste verbouingspraktyke is:

Navorsing in Wes-Australië (1979) het bewys dat die toepassing van korrekte verbouingspraktyke 'n beduidende invloed op saadopbrengs asook die inkomste uit lupiene het soos aangedui in Tabel 1.

Tabel 1
Invloed van verbouingspraktyke op die saadopbrengs en inkomste uit lupiene
Toepassing van verbouingspraktyke
(soet smalblaarlupiene)
Saadopbrengs Inkomste
Ton/ha R/ha
Totale toepassing "Doen alles reg" 1.6 1 600
Verkeerde cultivar 0.75 750
Laat plant (Junie) 0.56 560
Lae saaidightheid (35 plante/m²) 1.35 1 350
Swak onkruidbeheer 1.46 1 460
Geen toepassing "Doen alles verkeerd" 0.21 210

Opmerkings

  • Lupieneprys – R1 000/ton.
  • Lae saaidigtheid – lupiene besit vermoë om redelik goed te kompenseer met meer sytakke.
  • Swak onkruidbeheer – lupiene kan redelike kompetisie van grasse verdra maar is baie gevoelig vir breëblaaronkruide kompetisie.

Wisselbou

Lupiene is baie gevoelig vir verskeie verwelken wortelsiektes en is 'n gesonde wisselboustelsel met kleingrane baie belangrik. Die plek van lupiene binne die wisselboustelsel is dus baie belangrik om sukses te verseker.

'n Kort rotasie van lupiene en kleingrane soos byvoorbeeld lupiene, koring, lupiene is ongewens weens die hoë risiko van wortelsiektes by lupiene. Indien lupiene en hawer in 'n kort rotasie verbou word is die risiko van wortelsiektes baie minder aangesien hawer 'n negatiewe uitwerking op die voorkoms van die siektes het. Lupiene moet nooit na enige breëblaargewas soos canola verbou word nie weens die risiko van ander siektes soos Sclerotinia. 'n Gesonde wisselboustelsel vir lupiene sou wees wanneer lupiene vir ten minste drie jaar deur kleingrane en ander gewasse opgevolg word voordat dit weer op dieselfde grond verbou word.

Grondkeuse

Lupiene is baie gevoelig vir versuiping en is dit belangrik om lupiene te saai op goedgedreineerde grond wat nie geneig tot versuiping is nie. Vlak gronde en grond met 'n vlak verdigtingslaag beperk wortel­penetrasie en moet vermy word.

Lupiene is baie gevoelig vir kalkryke- en brakgrond. Grond met 'n pH van 6 (KCl) en hoër moet liefs nie aangewend word vir lupiene­verbouing nie.

Die neiging by produsente om lupiene op uitskot en minderwaardige grond te verbou is 'n waarborg vir mislukking.

Cultivarkeuse

Grondtipe, verwagte hoeveelheid besikbare vog, groeiseisoenlengte, verwagte siektes asook cultivars se gevoeligheid vir siektes sal deur produsente in ag geneem moet word wanneer cultivarkeuses gemaak word.

So byvoorbeeld aard breëblaarlupiene beter op swaarder gronde terwyl smalblaarlupiene weer beter aangepas is op ligter tot sandgrond.

Die belangrikste siektes tans by lupiene is antraknose en poeieragtige meeldou (witroes). Cultivars se gevoeligheid vir die siektes sal dus ook 'n belangrike oorweging wees wanneer daar oor cultivars besluit word.

Die cultivars wat tans kommersieël verbou word is Tanjil en Quilinock (beide smalblaar) en CED6150 (breëblaar). Tanjil beskik oor 'n goeie en Quilinock oor 'n redelike goeie weerstand teen antraknose. Beide cultivars is redelik pitvas maar is egter vatbaar vir witroes. CED6150 is baie pitvas met goeie weerstand teen witroes maar is egter gevoelig vir antraknose.

Saad

Koop slegs gesertifiseerde saad waarvan die kiemkragtigheid en bitterstof (alkaloïed) inhoud spesifiseer is. Sodanige saad sal ook vry van antraknose besmetting wees.

Daar word met groot kommer kennis geneem van die toenemende neiging by produsente om eie saad terug te hou of saad by ander produsente te koop. Die algemene verskoning vir die praktyk is dat saad van saadhandelaars te duur is en die produksiekoste van lupiene onrealisties verhoog. Die logika van laer insetkoste as gevolg van goedkoper saad is verstaanbaar maar die werklike finansiële besparing word egter sterk betwyfel.

Die nadele verbonde aan hierdie praktyk kan groot gevare inhou vir die produsent en selfs ook vir die hele lupienebedryf soos die oordrag van ernstige siektes soos antraknose. Antraknose ontwikkel baie vinnig onder gunstige toestande en kan lupiene-aanplantings oor 'n baie wye gebied binne 'n kort periode totaal uitwis.

Gebruik slegs suiwer saad met goeie kiemkragtigheid. Swak kieming van saad gee aanleiding tot swak vestiging met onrealistiese lae saad­opbrengs. Vermengde lupienesaad mag ook onaanvaarbaar wees vir kopers.

Saadenting

Die doel van saadenting is om vars entstof by die saad te voeg sodat wanneer die saad ontkiem, die rhizobium–bakterieë die plantwortel kan binne dring en stikstofbinding reeds in 'n vroeë groeistadium kan begin. Voordele van saadenting is:

  • Optimale plantontwikkeling en saadopbrengs.
  • Verhoging in porteïeninhoud van saad.
  • Besparing op stikstofbemesting by opvolggewas.

Saadenting is noodsaaklik wanneer lupiene op "nuwe" grond gesaai word waar nog nooit voorheen of gedurende die vorige drie jaar lupiene verbou is nie. 'n Goeie praktyk is om van tyd tot tyd weer die rhizobium populasies in grond op te bou deur saadenting met vars entstof.

Vir suksesvolle saadenting is daar 'n paar baie belangrike vereistes:

  • Gebruik die regte entstof dit wil sê die spesifieke groep vir lupiene.
  • Maak seker dat die entstof vars is deur te let na die vervaldatum op die etiket.
  • Stoor entstof in 'n koel plek (4-24°C) indien nie dadelik gebruik word nie.
  • Gebruik 'n dubbel dosis (500g op 50kg saad) wanneer in droë grond gesaai word of wanneer Thiram-bevattende middels vir saadbehandeling gebruik word. Gebruik die regte hoeveelheid entstof volgens die voorskrif van die vervaardiger.
  • Ge-ente saad moet nie aan direkte sonlig blootgestel word nie, aangesien ultravioletstrale die bakterieë kan vernietig.
  • Gebruik 'n kleefmiddel, verkieslik metielsellulose (5g op 500ml water per 50kg saad). 'n Minder effektiewe kleefmiddel is 30g (2 eetlepels) suiker op 500ml water.
  • Saad moet so gou as moontlik na enting in klam grond gesaai en bedek word, verkieslik binne 2 uur.

Saaityd

In lae reënvalgebiede en gebiede met 'n kort reënseisoen word die beste resultate verkry met vroeë saai vanaf middel April tot middel Mei, terwyl in hoë reënvalgebiede tot einde Mei gesaai kan word. Saadopbrengs neem drasties (60–70%) af indien na middel Junie gesaai word. Saai langseisoen cultivars vroeër as kortseisoen cultivars.

Die ideaal sou wees om lupiene met voldoende grondvog te saai. Indien reën egter lank weg bly, kan saai in droë grond oorweeg word met die volgende voorbehoude:

  • Grond moet baie droog wees sodat saad nie gedeeltelik ontkiem en weer uitdroog nie.
  • Verhoog saaidigtheid met ongeveer 10%.
  • Plaas die saad op 'n diepte van 40mm in sandgrond en 30mm in swaarder gronde waar dit koel is en saad behoorlik bedek is.
  • Moet nie ge-ente saad in droë grond saai nie aangesien rhizobium-bakterieë sal dood gaan.
  • Indien dit "nuwe" grond is waar saadenting noodsaaklik is, moet daar liefs gewag word totdat daar voldoende grondvog is.

Saaidigtheid

Saaidigtheid van lupiene word bepaal deur omgewing en klimaat. Volgens proefresultate oor baie jare en wêreldwyd word die beste saadopbrengs in die meeste lupieneproduksiegebiede behaal met 'n plantestand van ongeveer 45 plante (100% ontkieming) per vierkant meter. In marginale saaigebiede met lae reënval en kort reën seisoen kan saaidigtheid egter verminder word na 35 plante per vierkant meter.

Korrekte kalibrasie van saai-implemente is baie belangrik om sodoende korrekte saaidigtheid te verseker. 'n Ander baie belangrike vereiste is om te weet wat die kiemingspersentasie van die saad is. 'n Eenvoudige kiemingstoets kan deur die produsent self gedoen word as die kiemingspersentasie van saad nie bekend is nie.

Neem 'n monster (± 100 gram) uit elk van ongeveer 10% van die sakke saad en vermeng deeglik vooraf. Tel nou 100 sade voetstoots (beskadigde saad ingesluit) af. Plant die sade 20–30mm diep in skoon grond en benat daagliks vir 10–14 dae totdat plante bokant die grond verskyn het. Tel nou al die gesonde saailinge sonder enige gebreke. Die kiemingspersentasie is gelyk aan die aantal gesonde saailinge. Herhaal die proses en neem dan die gemiddelde resultaat.

Volgens Tabel 2 kan die vereiste aantal sade per vierkant meter bereken word met in agneming van die kiemingspersentasie.

Tabel 2
Aantal sade m² benodig om korrekte plantestand met m² te bepaal volgens die kiemingspersentasie van die saad
Kiemingspersentasie Plante per vierkant meter (m²)
30 35 40 45 50
Sade per vierkant meter (m²)
100 33 38 44 50 55
95 35 41 46 52 58
90 37 43 48 55 61
85 39 45 52 58 65
80 41 48 55 62 69
75 44 52 58 66 73
70 47 55 63 71 78

* Waardes laat 10% saailingvrektes toe na ontkieming

Tabel 3
Saaidigtheid (kg/ha) benodig vir die verskillende saadgrootte
Smalblaar / Geellupiene Breëblaarlupiene
Saadgrootte
(gram per 1 000 sade)
Sade per vierkant meter Saadgrootte
(gram per 1 000 sade)
Sade per vierkant meter
30 40 50 60 70 30 40 50 60 70
140 – klein 42 56 707 84 98 330 – klein 99 132 165 198 231
150 45 60 75 90 105 360 108 144 180 216 252
160 – medium 48 64 80 96 112 390 – medium 117 156 195 234 273
170 51 68 85 102 119 420 126 168 210 252 294
180 – groot 54 72 90 108 126 450 – groot 135 180 225 270 315
190 57 76 95 114 133 480 144 192 240 288 336

Variasie in saadgrootte bring mee dat daar ook 'n variasie in saaidigtheid sal wees soos aangetoon in Tabel 3. Indien saadgrootte (massa van 1 000 sade) bekend is, kan die vereiste aantal sade m² soos bereken volgens Tabel 2 herlei word na kilogram saad per hektaar soos aangetoon in Tabel 3. Saai-implemente word gekalibreer volgens die vereiste saaidigtheid (kg / ha) in Tabel 2. Kontroleer kalibrasie deur die aantal sade per vierkant meter op die grond te tel en te vergelyk met die vereistes volgens Tabel 2.

Saaimetodes

Swak saadopbrengs van lupiene kan hoofsaaklik die gevolg wees van 'n swak plantestand as gevolg van verkeerde saaimetodes. Die beste vestiging word nog steeds met 'n planter vekry. Die ideaal is om saad op 'n uniforme diepte van ongeveer 40mm in ligte grond en 30mm in swaarder grond te plaas en behoorlik te bedek. Ondersoeke gedurende 1997 by verskillende produsente het getoon dat soveel as 20% van die saad of bo-op die grond of so diep lê dat saailinge moeilik die oppervlakte sal bereik. Hierdie verskynsel is meestal gevind waar lupiene breedwerpig uitgestrooi en toegekrap word, met 'n swak en onegalige stand tot gevolg. Baie meganies beskadigde saad is ook gevind wat moontlik die oorsaak is van strooiers wat saad tydens strooiproses beskadig.

Saadbedvoorbereiding

Lupiene is nie baie kieskeurig wat saadbedvoorbereiding betref nie, maar sal soos alle ander gewasse goed reageer op goeie saadbed­voorbereiding.

Volgens proefresultate op die skaliegronde van die Swartland het skaar- (200mm) en tandbewerking (150mm) beter saadopbrengste realiseer as vlak tandbewerkings en of geen bewerking. Lupiene­verbouing skakel baie goed in by bewaringsboerderystelsels waar minimum­bewerkings­praktyke toegepas word.

In gebiede waar winderosie 'n ernstige probleem is moet daar gepoog word om soveel moontlike graanstoppel op die oppervlakte te laat om saailinge teen windskade te beskerm. Goeie stoppelbedekking bied ook goeie beskerming teen bruinblaarvlek (Pleiochaeta setosa) aan saailinge.

Bemesting

Volledige grondontledings van die bo- en ondergrond (200–300mm) vir pH, fosfor, kalium asook spoorelemente swawel, koper, sink, boor en mangaan is baie belangrik en moet gereeld bepaal word wanneer lupiene verbou word. Bemes volgens die resultate van die ontledings om moontlike tekorte aan te vul.

Lupiene reageer baie goed op fosforaanvulling veral op gronde waar nog nooit voorheen lupiene verbou is nie. Kaliumtekorte kom selde op skaliegronde voor, terwyl ligter sandgronde dikwels tekorte toon.

Lupiene as peulplant bind atmosferiese stikstof deur knoppies-bakterieë om in eie behoefte te voorsien en is algemeen aanvaar dat stikstofbemesting nie nodig is nie. Navorsing in Nederland met sojabone toon egter dat klein hoeveelhede stikstofbemesting (10–20kg N/ha) met saai die nodulering en saadopbrengs van peulplante kan verbeter veral op grond met lae natuurlike of residuele stikstofvlakke. Ligte sanderige gronde is gewoonlik arm aan stikstof. In gronde met lae stikstofvlakke kan ook swaweltekorte verwag word en word swawelbevattende kunsmismengsels aanbeveel. Plaaslik is daar enkele produsente wat goeie resultate behaal met fosfaat­kunsmismengsels wat swawel en stikstof bevat as standaard bemesting vir lupiene. Indien daar aanduidings is dat saadenting nie doeltreffend is nie kan 'n blaarbespuiting met natrium-molebdaat (molibdeem) ongeveer 6 weke na opkoms toegedien word.

Lupiene se behoefte aan spoorelemente blyk groter te wees as die van kleingrane. By pH-waardes van 5.5 (KCl) en hoër, mag tekorte aan sink en 'n mindere mate mangaan, voorkom terwyl boor-, swawel- en molibdeen tekorte by lae pH (4–5 KCl) waardes mag voorkom. Tekorte kom meer dikwels op sand- as skaliegronde voor. Tekorte aan spoor­elemente kan aangevul word deur blaarbespuitings of grond­toedienings.

Onkruidbeheer

Die belangrikste voordele wat verkry word met suksesvolle onkruid­beheer is:

  • Saadopbrengs is betekenisvol beter.
  • Saadkwaliteit verbeter en realiseer 'n beter prys as gevolg van min of geen onkruidsade in lupiene nie.
  • Geïntegreerde boerderystelsels is moontlik waar onkruidbeheer in die opvolggewasse makliker en goedkoper is.
  • 'n Doeltreffende onkruiddoderstrategie bied die geleentheid om selektiewe onkruiddoders in elke wisselboufase te gebruik om onkruid­probleme in die opvolggewas te verminder.

Onkruidbeheer in lupiene blyk nog 'n redelik ernstige probleem te wees vir lupieneprodusente weens 'n gebrek aan doeltreffende onkruid­doders veral teen breëblaaronkruide. Om die probleem verder te vererger, kom onkruiddoder-weerstand veral by raaigras en wildehawer nou redelik wyd verspreid voor. Produsente sal dus 'n goed beplande onkruidbeheerstrategie binne 'n kleingraan-lupiene wisselboustelsel moet volg. 'n Doeltreffende onkruidbeheerstrategie vir onkruidbeheer in lupiene berus op:

  • Wisselbou met ander gewasse om onkruiddruk te verminder.
  • Chemiese onkruidbeheer net voor saai wanneer aanwesige onkruide met glifosaat of skroeimiddels soos parakwat en dikwat vernietig word.
  • Saai vroeg met optimale plantpopulasies om onkruide vinnig te onderdruk.
  • Wissel chemiese onkruiddoders vir beheer van gras- en breëblaaronkruide om moontlike weerstand te voorkom.
  • Someronkruide soos wildekomkommer en kweek wat groot probleme met saai kan veroorsaak, moet reeds gedurende die somer en herfs chemies beheer word.

Produsente kan ook ander praktyke volg soos:

  • Ligte bewerking na eerste reën voor saai om onkruidkieming te stimuleer en onkruide dan voor saai dood te spuit.
  • Plant "probleem" kampe later om onkruide langer kans te gee om te ontkiem.
  • Sommige produsente brand selfs graanstoppels vooraf om onkruidsaad bo-op die grondoppervlakte te vernietig. Die praktyk is egter baie ongewild by bewaringsboerderypraktyke.

Probleme met swak onkruidbeheer deur vooropkom onkruiddoders soos simasien word algemeen ervaar deur produsente. Moontlike redes hiervoor is:

  • Gebrek aan voldoende grondvog wanneer toegedien veral wanneer lupiene in droë grond gesaai word.
  • Afwesigheid van opvolg reën binne 'n week na toediening om middel behoorlik in te loog.
  • Baie stoppel op grondoppvervlakte verhoed goeie kontak tussen grond en simasien met swak resultate tot gevolg.

Produsente ervaar baie probleme met vooropkom onkruiddoders by lupiene asook canola met bestaande bewaringsboerderypraktyke waar stoppels op grondoppervlakte gelaat word.

Algemene wenke vir doeltreffende onkruidbeheer

  • Lupiene is baie gevoelig vir breëblaaronkruiddoders wat by kleingrane gebruik word en spuittoerusting moet vooraf baie deeglik met chemiese reiningingsmiddels skoongemaak word. Om spuittoerusting skoon te maak kan 'n amoniakoplossing (1%) of wassoda (2kg per 100 liter water) gebruik word. Daarna word toerusting baie deeglik met skoon water gespoel.
  • Verseker dat die spuitpomp in 'n goeie werkende toestand is.
  • Kalibreer die spuitpomp op die kamp wat gespuit moet word.
  • Monitor die lewering van die spuitpomp ten minste een maal per dag of elke keer wanneer van een kamp na 'n ander beweeg word om te verseker dat die kalibrasie korrek is.
  • Maak gereeld seker dat spuitkoppe nie verstop is nie.
  • Moenie spuit gedurende ongunstige weerstoestande soos sterk wind of reën wat egalige toediening kan belemmer met swak onkruidbeheer tot gevolg.
  • Pasop vir oorwaai van spuitmis na nabygeleë gevoelige gewasse.
  • Let op na die mengbaarheid van middels.
  • Lees altyd die etiket baie noukeurig.

Insekbeheer

Hoewel ernstige insekteskade by lupiene nie gereeld jaarliks voorkom nie, is lupiene meer gevoelig vir insekteskade as kleingrane. Die gereelde inspeksie van lupiene-aanplantings vir die teenwoordigheid van insekte gedurende die saailing-, blom- en peulstadium is dus uiters belangrik en noodsaaklik.

Wees op die uitkyk vir insekte veral gedurende die volgende groeistadiums:

  • Saailing tot 6 weke na opkoms.
    Swart sandmyte en lusernerdvlooie kan groot skade aanrig en moet vroegtydig beheer word.
  • Blomperiode.
    Plantluise kan veral by soet smalblaarlupiene skade veroorsaak.
  • Laat blomstadium en peulstadium.
    Wees op die uitkyk vir bolwurms. Bolwurms is seker die grootste potensiële plaag by lupiene wat ernstige skade aan peule en sade aanrig met groot verliese aan saadopbrengs. Volgens bevindings in Australië kan een volwasse bolwurm per vierkant meter 'n verlies van ongeveer R5 per hektaar veroorsaak. Oesverliese van tussen 30 en 90 persent is nie ongewoond nie.

Besoek aanplantings ten minste twee keer per week en bepaal omvang van plaag. Begin met chemiese beheer sodra 5 tot 10 larwes per vierkant meter aanwesig is.


Enquiries / Navrae

Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western Cape
Instituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Dr N Kotze
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter