Canolafokus 95 September 2020
Kletodimskade op canola – sien is glo!
In Canolafokus 90 van November 2019, is die drie vernaamste oorsake van Kletodimskade breedvoerig bespreek. Die drie is natuurlik:
- die dosis wat gespuit word,
- die groeistadium van die canola tydens toediening en
- of stremmingstoestande soos droogte, vog en/of temperatuur stremming wat die plant se metabolisme verlaag tydens periode van spuit.
Die tegniese span van Villa Crop het besluit om 'n reeks proewe te doen om die werklike gevolge van Kletodim wanaanwending te demonstreer (Figuur 1). Dit vorm deel van die "Villa Answer plots". Onder leiding van Francois Lourens het Jaco Carstens 'n aantal proewe, versprei oor die Wes-Kaap, gespuit om die effek van verkeerde praktyke uit te wys. Die Kletodim wat gebruik was, was die 240 gram/l konsentrasie produk en is saam met 'n geregistreerde benatter en ammoniumsulfaat gespuit.
Konsentrasie en groeistadiums
Om te verseker dat simptome wel sal voorkom, is die volgende behandelings in die proewe ingesluit met 240 gram/l konsentrasie:
- Kletodim is teen 500ml/ha (1x) (LW, die aanbevole dosis),
- 1000ml/ha (2x)
- 1500ml/ha (3x), en
- 2000ml/ha (4x) gespuit.
Die groeistadiums van die canola tydens bespuiting:
- 2 blaar
- 4 blaar
- 6 blaar
- Begin stamverlengingstadium
- Onbehandelde kontrole
'n Triasien tolerante kultivar was aangeplant op 18 Mei 2020 teen 3,5kg/ha.
Resultate van proewe
Die reeks foto's geneem deur Piet Lombard, toon nie net die graad van skade wat voorgekom het nie, maar ook die uitwerking van verskillende spuitstadiums en dosisse gespuit op die canolaplant. In sommige opsigte, is dit verbruining en/of afspeen van blomme terwyl by ander is groeipunte vervorm.
Die canolaplante het geen sigbare skade getoon na bespuiting met 1000ml/ha Kletodim (240 gram/l formulasie) tydens die 2- en 4-blaarstadium nie (Figuur 2 en 3). Dit stem ooreen met die aanbeveling om eerder vroeër as later te spuit. Let asseblief daarop dat 1000ml/ha Kletodim (240 gram/l formulasie) dubbel die aanbevole dosis (2x) is en net gebruik is om die effek van hoër dosisse te toets en moet geensins as praktyk oorweeg word nie.
Tydens die 6-blaarstadium het dubbel die aanbevole dosis Kletodim (1000ml/ha) reeds ernstige skade getoon aan die blomme (Figuur 4). Tydens stamverlenging het selfs die aanbevole dosis in die proef reeds baie ernstige skade opgedoen (Figuur 5 en 6), die skade het net erger geraak waar 2x die aanbevole dosis toegedien was (Figuur 7 en 8).
Opsomming uit Canolafokus 90
'n Enkele faktor kan Kletodimskade by canola veroorsaak, maar die voorkoms van 'n kombinasie van faktore verhoog aansienlik die risiko. Produsente moet soos in Australië aanbeveel word, eerder op 'n vroeër blaarstadium as later spuit en nie meer as 500ml/ha Kletodim (240g/l) produk nie.
Benut canola se vermoë om later ontkiemende onkruide doeltreffend te beheer deur uitskerming. Wat egter van uiterste belang is om dit reg te kry, is dat die canolastand eweredig en egalig moet wees. Plante van egalige grootte maak ook die keuse van die regte tyd van toediening soveel makliker.
Moets en moenies
- Moet nie ACC-ase onkruiddoders in tenkmengsels anders as wat op die etiket verskyn spuit nie.
- Benut net benatters / byvoegmiddels soos op die etiket aangedui.
- Los ten minste 2 weke voor of na die toediening van 'n ander onkruiddoder vir 'n Kletodimspuit om die plant se metabolisme kans te gee om te herstel.
- Moet nie Kletodim (of enige ACC-ase onkruiddoder) 'n tweede keer in een seisoen op dieselfde land spuit nie.
Enquiries / Navrae
Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western CapeDirektoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. piet.lombard@westerncape.gov.za
Editors / Redaksie
PJA Lombard J Bruwer Franco le RouxSponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting