- 11 OKTOBER 2015
- 23 APRIL 2015
- 27 MAART 2015
Notule
Sojawerkgroepvergadering
gehou om 10h00 op 1 Maart 2015 in die Konferensielokaal, PNS-kantoorgebou, Woodmead
Opening
Mnr Gerhard Scholtemeijer open die vergadering met gebed.
Verwelkoming
Die Voorsitter, Mnr GJH Scholtemeijer, heet almal welkom by die eerste vergadering van die Sojawerkgroep van die jaar. Hy heet in die besonder vir Mnr Chris Jacobs, produsent van die Oos-Vrystaat welkom, wat vir die eerste keer 'n vergadering van die Sojawerkgroep bywoon. Hy sê verder dit is verblydend dat die saad- en chemiese bedrywe so goed verteenwoordig is by die vergadering.
Presensie
Teenwoordig
Mnr GJH Scholtemeijer Voorsitter Me R Beukes DAFF Mnr J Botma Produsent: Vrystaat Mnr P Breet SAGIS Dr E Briedenhann PNS Mnr PL Büchner Profert Mnr C Cloete Dow AgroSciences Mnr H Conradie Produsent: Mpumalanga Me AS de Beer LNR-IGG Dr J Dreyer PNS Mnr CJ du Plessis Produsent: KwaZulu-Natal Mnr B Germishuys BASF Mnr J Grey GraanSA Mnr C Havenga PNS Mnr C Jacobs Produsent: Oos-Vrystaat Mnr S Jacobs Agricol Mnr M Janse van Rensburg Dept Landbou: Mpumalanga Mnr G Keun Hoof Uitvoerende Beampte Mnr D Kritzinger Syngenta SA Dr S Lamprecht LNR-NIPB Mnr C Louw GraanSA Prof F Meyer PNS/BFAP Mnr J Rankin GraanSA Dr D Strydom UFS Dr Y Tewoldemedhin LNR-NIPB Mnr D Van der Westhuizen Produsent: Mpumalanga Mnr WF van Wyk PNS-kontrakteur Verskonings
Mnr G de Beer PNS-Kontrakteur Dr J de Kock PNS Mnr J du Plessis Produsent: Noordwes Prof D Fourie NWU Mnr N Hawkins SAGIS Mnr T Prinsloo LNR-IGG Me M Scheepers DAFF Mnr C Sturgess JSE Dr G Thompson LNR-IGG Mnr R van Niekerk Agricol Mnr C van Rooyen Landbouweekblad Me R van Vuuren Madumbi
Personalia
Mnr Van Wyk word gelukgewens met die toekenning van beste spreker, waarmee hy vereer is tydens die Ottosdalse Bewaringslandboukonferensie. Drs Lamprecht en Tewoldemedhin word terugverwelkom, na afloop van hul onlangse studietoer na Suid-Amerika.
Vasstelling van die sakelys
Die sakelys word aanvaar, sonder enige wysigings of toevoegings.
Goedkeuring van die notule
Notule van die Sojawerkgroepvergadering van 22 Oktober 2014 en verwysing na Webblad
Besluite:
- Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep gehou op 22 Oktober 2014 word as gelese beskou en goedgekeur.
- Die notule van die vergadering van die Sojawerkgroep van 22 Oktober 2014 word na die Bemarkingskomitee verwys, vir plasing op die webblad van die PNS.
Huidige prys van sojabone – internasionaal en plaaslik
Dr Briedenhann rapporteer dat die sojabooninligting wat vervat is in die United States Department of Agriculture (USDA) se World Agricultural Supply and Demand Estimates (WASDE)-verslae grootliks onveranderd gelaat is oor die laaste vyf maande, met die vorige week se WASDE-verslag wat aangedui het dat internasionale sojaboonproduksie tans te staan kom op 315,1 miljoen ton.
Dr Briedenhann noem dat die internasionale sojaboonoordragvoorraad opwaarts aangepas is vanaf die vorige maand se 89,3 miljoen ton na 89,5 miljoen ton. Hy sê die oordragvoorraad het betekenisvol toegeneem sedert 2014 se vlak van 57,4 miljoen ton, met gepaardgaande prysdalings. Hy noem dat arbeidskwessies in Brasilië en berigte van voëlgriep in die Verenigde State van Amerika (VSA) faktore is wat in die korttermyn in gedagte gehou moet word, sover dit pryse betref.
Dr Briedenhann verskaf vervolgens 'n oorsig van sojaboonpryse op die Chicago Board of Trade (CBOT). Hy is van mening dat sojaboonpryse oor die langtermyn op dieselfde vlakke sal bly as die huidige, of selfs effe laer kan neig. Hy sê SAFEX-pryse het die CBOT in 'n groot mate nagevolg, hoewel die nuus oor verwagte Paraguayaanse sojabooninvoere van 150 000 ton 'n negatiewe effek gehad het op plaaslike pryse. Hy noem dat 90 000 van die 150 000 ton invoere reeds bevestig is, en dat 87 000 ton sojabone per maand by plaaslike aanlegte gepers sal kan word.
Dr Briedenhann meld op navraag van Mnr Scholtemeijer dat die plaaslike oliepersbedryf vir 'n geruime tyd nog in 'n tekortsituasie sal wees, in gedagte gehou die plaaslike sojaperskapasiteit.
Dr Briedenhann sê dit is interessant dat die geprojekteerde syfers vir 2014-2015 daarop dui dat plaaslike oliekoekproduksie vir die eerste keer oliekoekinvoere sal verbysteek. Hy beskou dit as 'n baie positiewe scenario.
Kennis word geneem dat die produsenteprys vir sojabone op 17 Maart 2015 te staan gekom het op R5 062 per ton, en die vorige dag op SAFEX verhandel is teen R5 035 per ton.
SAGIS
Mnr Breet bied 'n oorsig aan van die nasionale en internasionale vraag- en aanbodsituasie van sojabone, en van die huidige stand van sake ten opsigte van produsentelewerings, soos gemeet teen die amptelike oesskattingsdata. Hy verskaf onder andere ook inligting oor plaaslike verbruiksyfers, oor plaaslike en internasionale pryse, en oor in- en uitvoere. Kennis word geneem dat dié en ander data ook gepubliseer word op die SAGIS-webblad (www.sagis.co.za).
Kennis word geneem van die SAGIS Weeklikse Bulletin gedateer 5 Maart 2015, van die Maandelikse Bulletin van opgawe-inligting, gedateer 24 Februarie 2015, en van die South African Grain and Oilseeds Supply and Demand Estimates Report, gedateer 13 Januarie 2015.
Weer- en klimaatsvooruitskouing
Mnr Botma noem dat 'n droë voorjaar aan die begin van die seisoen voorspel is, wat gevolg sou word deur 'n nat najaar. Hy sê syns insiens is die belangrikste kenmerk van die huidige seisoen die ondergemiddelde reënval, wat kol-kol uitsak. Hy sluit af deur te sê dat almal bekommerd is oor die weer, veral wanneer daar gepraat word oor die moontlikheid van 'n droë siklus van sewe tot tien jaar.
Mnr Van der Westhuizen sê syns insiens het produsente in 'n gemaksone beland, met die goeie jare wat in die onlangse verlede ervaar is. Hy noem dat hy na die laaste paar goeie seisoene nie meer so gefokus was daarop om risiko te bestuur nie, en nie gefokus het op cultivars wat droogtetoestande kan vat nie. Hy sê daar is nie geplant vir droogtes nie, maar vir rekordoeste.
Oesskattings
Die Voorsitter stel Me Beukes aan die woord om meer inligting te verskaf oor die finale produksieskatting vir sojabone in die 2014-seisoen, en om toeligting te verskaf oor die nuutste oesskatting vir 2015.
Me Beukes noem dat die oes vir die 2014-seisoen gerealiseer het op 948 000 ton, wat effens hoër was as September 2014 se finale skatting van 944 340 ton. Sy sê dit was ook 14% hoër as die eerste skatting van Februarie 2014.
Me Beukes meld voorts dat die oppervlakte beplant met sojabone te staan kom op 687 300 hektaar, volgens die nuutste oesskatting vir 2015, terwyl die produksieskatting 938 350 ton beloop. Sy verskaf ook 'n oorsig van die oppervlakte beplant, die produksie en die gemiddelde opbrengste per hektaar vanaf die 2010- tot die 2015-produksieseisoen. Sy wys daarop dat die oppervlakte wat met sojas beplant is meer as verdubbel het vanaf 2010 tot 2015.
Me Beukes verwys na die produksieskatting per provinsie, en sê volgens dié skatting word die grootste sojaboonoes in Mpumalanga verwag, naamlik 348 000 ton, gevolg deur die Vrystaat met 310 000 ton, KwaZulu-Natal met 84 000 ton, Limpopo met 72 000 ton en Gauteng met 54 000 ton. Sy sê die oorblywende provinsies verteenwoordig 70 350 ton, of 7% van die oes.
Me Beukes noem dat die Vrystaat verantwoordelik was vir die grootste uitbreiding in sojahektare, waar 109 000 hektare meer aangeplant is, gevolg deur Mpumalanga, waar die hektare toegeneem het met 37 000, en Noordwes, waar die hektare toegeneem het met 19 000. Sy sê die droogte het egter tot gevolg gehad dat die tonnemaat nie dienooreenstemmend toegeneem het nie.
Me Beukes meld voorts dat die oppervlaktebydrae van sojabone tot somer-gewasaanplantings in die Vrystaat toegeneem het vanaf 2005 se 1,53% tot 2015 se 16,35%, in Mpumalanga toegeneem het vanaf 2005 se 11,79% tot 2015 se 32,79%, en in KwaZulu-Natal toegeneem het vanaf 17,11% in 2005 tot 31,32% in 2015. Sy sê sojas het in 2005 4,17% van die oppervlakte onder somergewasse in die Republiek beslaan, teenoor die huidige 16,71%.
Me Beukes meld ten slotte dat kwaliteitskontrole tans gedoen word, veral in die lig van die groot uitbreiding van sojaboonaanplantings in die Vrystaat en Noordwes. Sy sê dit wil voorkom asof die oppervlaktes wat in die huidige seisoen per boer geplant is groter is as dié van die vorige seisoen.
Die Voorsitter spreek sy waardering uit teenoor Me Beukes vir die interessante inligting wat tydens die Sojawerkgroepvergaderings voorgelê word.
Produsente-aangeleenthede
KwaZulu-Natal
Algemeen
Die Voorsitter noem dat die oppervlakte onder sojas in KwaZulu-Natal toegeneem het van 35 000 hektare in die vorige jaar na 42 000 hektare in die huidige seisoen, met 'n geskatte produksie van 84 000 ton, teenoor die vorige jaar se finale oes van 98 000 ton sojabone.
Mnr Du Plessis bevestig dat heelwat meer sojas aangeplant is as in die vorige seisoen. Hy sê die onbepaalde groeiers het baie goed herstel na aanleiding van die reën wat kol-kol voorgekom het, terwyl die vroeë aanplantings erg deurgeloop het onder die droogte.
Mnr Havenga is van mening dat die gemiddelde opbrengs van 2 ton per hektaar aan die hoë kant is. Hy sê hoewel die sojas goed lyk, is die peule aan die klein kant.
Soja-opbrengskompetisie
Kennis word geneem van die verslag oor die PNS se KwaZulu-Natalse soja-opbrengskompetisie, wat aangebied is in die 2013-2014 produksiejaar.
Mnr Du Plessis rapporteer dat die PNS se soja-opbrengskompetisie, wat voorheen in die vorm van 'n brutomargekompetisie aangebied is, nadelig beïnvloed is deur die huidige seisoen se droogtes. Hy sê veral die vroeë aanplantings het geweldig skade gely.
Die Voorsitter sê daar word beoog om die soja-opbrengskompetisie na meer streke uit te brei. Hy sê 'n eerste prys van R25 000 is tans op die spel in die onderskeie streke, met 'n superprys wat in die vooruitsig gestel word vir die landswenner. Hy noem dat daar ook beoog word om die onderskeie maatskappye by die kompetisie te betrek.
Mpumalanga en Gauteng
Algemeen
Die Voorsitter sê volgens die Oesskattingskomitee is 240 000 hektare sojas in die huidige produksiejaar in Mpumalanga aangeplant, met 'n verwagte produksie van 348 000 ton, teenoor die vorige seisoen se 203 000 hektare en finale oes van 335 000 ton.
Mnr Grey is van mening dat die Oesskattingskomitee se huidige produksieskatting vir Mpumalanga waarskynlik afwaarts aangepas sal moet word.
Mnr Conradie noem dat van die produsente reeds begin stroop het, met opbrengste wat wissel tussen 500kg en 1,2 ton per hektaar. Hy sê hoewel die langergroeiers beter vertoon, is dit nie duidelik of daar voldoende tyd sal wees vir die plante om die boonste peule vol te maak nie. Hy noem dat die pitte per peul ook minder is as wat gewoonlik die geval is. Hy is in ooreenstemming dat die produksieskatting vir Mpumalanga waarskynlik afwaarts aangepas sal moet word.
Kennis word geneem dat die oppervlakteskatting vir sojas in Gauteng 30 000 hektare beloop, met 'n produksieskatting van 54 000 ton. Mnr Van Wyk bevestig dat die aanplantings na die ooste se kant nie goed lyk nie.
Noordwes- en Limpopoprovinsie
Algemeen
Die Voorsitter wys daarop dat die oppervlakte onder sojas in die Noordwesprovinsie verdubbel het, met 35 000 hektare wat beplant is, teenoor die vorige seisoen se 16 000 hektare. Hy sê die produksieskatting kom te staan op 52 500 ton, teenoor die vorige seisoen se finale oes van 32 000 ton.
Mnr Rankin is van mening dat die Oesskattingskomitee se syfers redelik akkuraat is. Hy sê die soja-aanplantings lyk nog goed, ongeag die droogte, met 'n laat reëntjie wat baie sal help, veral vir die langergroeiers.
Die Voorsitter noem dat sojas tradisioneel onder besproeiing aangeplant word in Limpopo. Hy sê volgens die Oesskattingskomitee is 24 000 hektare sojas in die huidige seisoen aangeplant, teenoor die 22 000 hektare van die vorige jaar, terwyl die produksie geskat word op 72 000 ton, teenoor die finale oes van 66 000 ton in die vorige seisoen.
Vrystaat
Algemeen
Die Voorsitter noem dat die oppervlakte onder sojas in die Vrystaat toegeneem het vanaf die vorige seisoen se 201 000 hektare na 310 000 hektare, terwyl produksie na verwagting 310 000 ton sal beloop, in vergelyking met die vorige seisoen se finale oes van 352 000 ton.
Mnr Jacobs noem dat die Vrystaatse produsente te kampe het met dieselfde probleme as dié waarmee die produsente in Mpumalanga sit. Hy sê die vroeë groeiers, wat tans gestroop word, lewer nagenoeg een ton per hektaar. Hy noem dat daar nie sekerheid is oor die opbrengste wat met langergroeiers behaal gaan word nie, met van die langergroeiers wat hy aangeplant het, wat nou weer begin blom, en waarskynlik beskadig sal word deur ryp. Hy bevestig dat die Oesskattingskomitee se raming van 'n gemiddelde opbrengs van een ton per hektaar aanvaarbaar is.
Mnr Botma rapporteer dat sy vroeë soja-aanplantings vergeel het, en glad nie geblom het nie. Hy sê van die ander aanplantings dra baie peule, hoewel die plante droog, hard en stokkerig is. Hy noem dat sekere cultivars wat hy geplant het welig groei, en begin peule maak, terwyl ander wel mooi peule gemaak het, maar dat slegs drie of so pitte gesien kan word wanneer daardie peule teen die lig gehou word. Hy sê syns insiens sal die produsente sukkel om 700kg sojas per hektaar in die Bothavillegebied af te haal.
Oos- en Noord-Kaap en Suid-Westelike distrikte
Algemeen
Geen verslaglewering.
Navorsing
Nasionale cultivarproewe 2014-2015
Me De Beer rapporteer dat dertig cultivars evalueer word in die nasionale cultivarevaluasieproewe wat in 2014-2015 produksiejaar aangeplant is, met volwassenheidsgroepe 4,0 tot 7,3 wat ingesluit is. Sy noem dat die cultivars aangeplant is by 22 lokaliteite.
Me de Beer rapporteer voorts dat die proef by Bethlehem op 28 November oorgeplant is, nadat die eerste aanplanting na 'n geweldige bui reën verspoel het. Sy sê die proef lyk nie sleg nie. Sy noem dat die proef by Clocolan op 7 November aangeplant is, toe dit redelik droog was. Sy noem dat sy die proef die vorige week besoek het, en verras was oor die buitengewoon goeie prestasie wat onder die omstandighede aldaar behaal is deur twee van LinkSeed se cultivars. Sy sê die proef by Delmas, wat op 4 November geplant is, lyk baie goed. Sy noem dat die proef by Kinross nie sleg lyk nie, hoewel een van die herhalings onkruiddoderskade opgedoen het. Sy sê dit wil tog voorkom asof die twee herhalings wat oorgebly het wél goed genoeg is om in te sluit by die proewe. Sy meld voorts dat die proef by Kokstad na wat berig word nie sleg lyk nie, maar voeg by dat proewe wat visueel goed vertoon teleur kan stel met oestyd. Sy sê die proef by Middelburg vertoon tans die beste van al die proewe, te danke aan die medewerker, Mnr Gideon Anderson.
Me De Beer rapporteer vervolgens oor die proewe wat in die matige gebiede aangeplant is. Sy sê die proef by Cedara het goed herstel, nadat dit twee keer deur haelstorms beskadig is. Sy meld egter dat die stand by daardie proef nie baie goed is nie. Sy noem dat die proef by Dundee eers op 5 Desember aangeplant is, aangesien dit té droog was om vroeër te plant. Sy sê die besproeiingsproef by Glen lyk tot dusver glad nie sleg nie, hoewel besproeiing 'n ruk lank nie toegedien kon word nie, weens kabeldiefstal. Sy noem dat 'n inligtingsdag op 16 April by Glen aangebied word. Sy meld voorts dat hael die proef by Greytown weggeslaan het. Sy sê hoewel 'n paar cultivars baie swak presteer het by die Hoopstadlokaliteit, is sy werklik verras oor die prestasie wat een of twee ander cultivars daar behaal het. Sy noem dat die Migdolproef ook heeltemal weggeslaan is deur hael, en baie laat oorgeplant is. Sy sê hoewel daar peule op die plante is, het dit intussen nie veel gereën nie, en sal dit interessant wees om te sien hoe daardie peule uiteindelik gaan vul.
Sy noem dat drie proewe aangeplant is in Potchefstroom, met die besproeiingsproef wat uit die aard van die saak baie goed lyk. Sy sê die sogenaamde "aanplanting een", wat op 14 November geplant is, is beskadig deur duiwe, maar is nie oorgeplant nie, sodat waarnemings gedoen kan word oor die effek van die lae plantestand na die duiweskade. Sy noem dat die tweede aanplanting gedoen is op 5 Desember, en redelik goed lyk, hoewel die peulvul oënskynlik nie baie goed is nie. Sy sê die aanplanting by Stoffberg is oorgeplant, nadat dit deur hael weggeslaan is, maar voeg by dat die tweede aanplanting weer weggeslaan is, met die gevolg dat daar niks van dié proef sal kom nie.
Me De Beer rapporteer dat die proef by Brits nie sleg lyk nie, met die eerste kortgroeiers wat vanaf die volgende week uitgeoes sal word. Sy sê die proef by Groblersdal moes ook oorgeplant word, as gevolg van duiweskade, wat vir die eerste keer by daardie lokaliteit voorgekom het. Sy noem dat 'n boeredag reeds daar aangebied is. Sy rapporteer dat die proef by Koedoeskop tans redelik goed lyk.
Me De Beer noem dat droogte, hael en duiweskade as groot uitdagings ervaar is in die 2014-2015 seisoen. Sy bied ten slotte 'n oorsig van die resultate van die proewe wat in die 2013-2014 produksieseisoen aangeplant is.
Me De Beer meld op navraag van Dr Lamprecht dat die saad wat in die nasionale cultivarproewe aangeplant word slegs geënt word, met geen saadbehandelings of swamdoders wat toegedien word nie. Sy sê slegs Roundup®Ready cultivars is aangeplant. Na aan­leiding van Mnr van Wyk se opmerking dat onkruidbeheer in die proewe in die huidige jaar heelwat verbeter het, bevestig sy dat goeie resultate gekry is met die nuwe onkruiddoder, Strongarm. Sy sê glifosaat is ook by sekere lokaliteite gebruik.
Die Voorsitter bedank Me De Beer vir haar goeie voorlegging.
Roes
Kennis word geneem dat geen roeswaarnemings tot dusver aangemeld is in die huidige seisoen nie.
Rhizobium: terugvoering
Die Voorsitter noem dat nuwe maatreëls ten opsigte van biologiese middels, met inbegrip van inokulante, na verwagting eersdaags in werking gestel sal word.
Mnr Louw rapporteer dat hy die vorige week in kennis gestel is van die nuwe maatreëls en vereistes, wat in plek gestel sal word.
Die Voorsitter bevestig dat terugvoering verskaf sal word sodra meer inligting bekom is.
Besluit:
- Dat terugvoering ingewag word oor die nuwe maatreëls ten opsigte van biologiese middels, met inbegrip van inokulante, wat na verwagting eersdaags in werking gestel sal word.
Voorsitter
Sojawerkgroep
- Dat terugvoering ingewag word oor die nuwe maatreëls ten opsigte van biologiese middels, met inbegrip van inokulante, wat na verwagting eersdaags in werking gestel sal word.
Biobrandstowwe
Kennis word geneem van die verslag getitel "Nuusberigte en tendense in die biobrandstof- en oliesadebedryf: Vierde kwartaal 2014", wat ingebind is as deel van Bylae F.
Sojaboonwebstudie: Februarie 2015
Kennis word geneem dat 'n elektroniese weergawe van die nuutste webstudie wat gedoen is oor verwikkelinge in die internasionale sojabedryf aangevra kan word by Mnr Keun.
Sojaboonsiektes – Verslag van Suid-Amerikaanse studietoer
Drs Lamprecht en TewoldemedhinDr Yared Tewoldemedhin bied 'n voorlegging aan oor sy en Dr Lamprecht se onlangse studiebesoeke aan Embrapa, die EEAOC en Rizobacter in Suid-Amerika. Hy verskaf onder andere 'n oorsig van die stand van sake sover dit sojaproduksie en -navorsing in Brasilië en Argentinië betref, en van die aktiwiteite wat hy en Dr Lamprecht by die onderskeie besoekpunte onderneem het. Hy verskaf ook 'n uiteensetting van die belangrike sojaboonsiektes wat in die twee lande voorkom, van die voorkomings- en beheermaatreëls wat toegepas word, en van weerstandbiedende cultivars wat ontwikkel word. Hy sê saadbehandeling, wisselbou, weerstandbiedende cultivars en verminderde grondkompaksie verteenwoordig die standaardbenadering tot siektebeheer in beide lande.
Dr Tewoldemedhin spreek ten slotte sy en Dr Lamprecht se waardering uit teenoor die PNS en die LNR, wat die besoek moontlik gemaak het.
Die Voorsitter noem dat Drs Lamprecht en Tewoldemedhin se verslag oor die Suid-Amerikaanse studiebesoek beskikbaar gestel sal word aan die lede van die Sojawerkgroep. Hy bedank die twee navorsers vir die bydraes wat hulle lewer tot sojaboonnavorsing in Suid-Afrika.
Saad
Die Voorsitter wys daarop dat die nuutste tegnologie nie plaaslik beskikbaar gestel sal word, alvorens 'n eindpunttantiémestelsel geïmplementeer is nie.
Mnr Louw spreek die oortuiging uit dat goeie vordering met die inisiatief gemaak sal word in 2015.
Mnr Louw meld op navraag dat 'n opname, wat hy die afgelope twee weke onderneem het, daarop dui dat voldoende sojasaad vir 620 000 hektare beskikbaar sal wees in die volgende produksiejaar. Hy sê hy is nie seker of LinkSeed ten tye van die opname reeds in 'n posisie was om die impak van haelskade op hulle saadvermeerdering te verreken nie.
Tegnologie-oordrag
Inligtingsdae 2015: Datums
Kennis word geneem dat die volgende inligtingsdae en ander byeenkomste beplan word:
19 Maart Brits Boeredag 16 April Glen Boeredag 1 Julie PNS-Sojasimposium: Ermelo 23 Julie PNS-Sojasimposium: Nampopark 1-3 September Supersoja "No-Till" Konferensie
Die Voorsitter doen 'n beroep op die lede om die PNS in kennis te stel van beplande inligtingsdae. Hy sê daar is 'n groot behoefte aan tegnologie-oordrag.
PNS-Sojasimposium 2015
Dr Dreyer bied 'n kort oorsig van die beoogde simposiumprogram. Hy noem dat die Amerikaanse spreker, Prof Stefan Knezevic, heelwat kwantitatiewe werk gedoen het oor hoe onkruid sojaboonopbrengste beïnvloed, terwyl Prof Charlie Reinhardt in sy voorlegging sal fokus op sojabone en die plaaslike onkruidsituasie. Hy sê Dr Brian de Villiers sal die kwessie van tenkmengsels en alles wat daarmee saamgaan hanteer. Hy noem dat die laaste aanbieding die onkruidsituasie vanuit 'n produsente-oogpunt sal skets, wat gevolg sal word deur 'n paneelbespreking.
Video-opnames
Die Voorsitter doen 'n beroep op die lede om die PNS attent te maak op interessante sojaverbouingsvideo's, wat op die PNS se webblad beskikbaar gestel kan word.
Ander sake
Nuusbrokkies
Kennis word geneem van die nuusberigte, wat ingebind is as deel van Bylae I.
Artikels
Kennis word geneem van die artikels, wat ingebind is as deel van Bylae J.
Werksaamhede van die Sandgrondontwikkelingskomitee
Dr Dreyer rapporteer dat 'n boeredag op 17 Maart aangebied word op Mnr Danie Minnaar se plaas. Hy bevestig dat op hoogte van sake gebly word met die aktiwiteite van die Sandgrondontwikkelingskomitee.
"GMO Soybeans: Commodity clearance approvals"
Geen verslaglewering.
Finale verslag: "Insect biodiversity and abundance in soybean (Glycine Max)"
Me J Truter, LNR-IGGKennis word geneem van die finale verslag oor die navorsingsprojek wat Me Truter onderneem het oor insekte op sojabone.
Inkomste- en kosteramings vir geselekteerde gewasse in somerreënvalgebiede 2014-2015
Mnr SG FerreiraKennis word geneem van die dokument getitel "Inkomste- en koste-ramings vir geselekteerde gewasse in somerreënvalgebiede 2014-2015".
Sclerotinia: artikel
Kennis word geneem van die artikel "Die beheer van stamvrot (Sclerotinia sclerotiorum) met HIT500SC".
Kennis word voorts geneem van die artikel "Strongarm: 'n wenner teen onkruid by soja- en grondbone, sê boere".
Datum van volgende vergadering
Die datum van die volgende vergadering van die Sojawerkgroep word bevestig as 23 April 2015.
Afsluiting
Die Voorsitter bedank die teenwoordiges vir insette gelewer, asook vir hul aktiewe deelname. Hy wens die lede 'n voorspoedige rit na hul onderskeie tuistes toe, en verdaag die vergadering om 13:05.