- 25 NOVEMBER 2015
- 20 AUGUSTUS 2015
- 11 JUNIE 2015
- 9 APRIL 2015
Notule
Canolawerkgroepvergadering
gehou te Elsenburg op 9 April 2015
Opening en verwelkoming
Die vergadering word deur mnr Keun met gebed geopen. Die Voorsitter verwelkom almal teenwoordig, veral persone wat die vergadering vir die eerste keer bywoon.
Presensie
Teenwoordig
Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter) Dr J de Kock PNS Mnr JG Loubser PNS Mnr G Keun PNS Mnr C Cumming PNS Mnr I Slabbert DLWK Mnr N Raath Experico Mnr P Laubscher Overberg Agri Mnr W Heunis Overberg Agri / MKB Mnr F Human Overberg Agri Mnr L Coetzee Kaap Agri Mnr K Meintjies DOW Mnr J McDermott Pioneer Mnr M le Roux US Mnr JWP Bruwer Bayer Me R van der Merwe BASF Dr P Swanepoel US Prof A Agenbag US Me L van Zyl Sekretariaat Verskoning vir afwesigheid
Dr I Trautman DLWK Me A Swanepoel DLWK Dr A Malan US Mnr C Louw GSA Mnr JCG van Niekerk Overberg / MKB Mnr J Pepler BASF Mnr JJ Bester GSA Mnr M Heydorn CBK Mnr PJ Blom SSK Mnr F le Roux SOILL Mnr P Fouché Phyto Energy Mnr AP Theron PNS Mnr P Lombard DLWK Mnr G Conradie DLWK Mnr H Cerfonteyn DLWK Dr J Strauss DLWK Dr S Lamprecht LNR-NIPB Me L Smorenburg DLWK Me A Pieterse US Dr G Tribe Dr T Brand
Personalia
Geen.
Vasstelling van die sakelys
Betrokkenheid van DOW, Plaaslik en Internasionaal – Mnr K Meintjies.
Goedkeuring van notule – 9 April 2015
Die notule van die vergadering gehou op 27 November 2014 word as gelese beskou en goedgekeur.
Algemene oorsig
SAGIS Inligting
Daar word besluit dat die jongste inligting (24 Februarie 2015) soos deur SAGIS verskaf, aanvaar word
- Canola supply and demand table
- Maandelikse data
- Weeklikse bulletin
Oesskatting
Die NOK 2014 oppervlakte en produksieskatting soos op 13 Februarie 2015 vrygestel, is ter inligting by die sakelys aangeheg – 123 500 ton canola van 95 000 hektare.
H Cerfonteyn
Winterreënstreek
Swartland/Suid-Kaap
Verteenwoordigers rapporteer soos volg:
- Overberg Agri/MKB het dieselfde hoeveelheid saad vir 2015 as in 2014 verkoop, terwyl Pioneer van mening is dat minder saad verkoop is;
- Die meeste produsente hou by die wisselboustelsel op die plaas, maar dit gebeur dat wanneer produsente vir die eerste keer canola geplant het en dit nie suksesvol was nie, hulle maklik weer van plan verander;
- Produsente in die Swartland soms teruggehoude saad gebruik in watter geval die redenasie gewoonlik is dat hulle eerder die risiko van laer opbrengs weens teruggehoude saad sal neem as om die hoë koste van gesertifiseerde saad te betaal;
- Dat alhoewel dit algemeen aanvaar word dat veral bastersaad nie teruggehou moet word nie, dit wel gebeur omdat produsente oningelig is en nie altyd bewus is hoe bastersaad vermeerder word nie;
- Die Suid-Kaap het reeds hulle eerste reën gehad en in die Swellendam area is daar al begin om te plant;
- Daar word voorsien dat 5000 tot 6000ha minder in die SSK gebied geplant sal word, totaal ongeveer 32 000ha en dat daar 2000ha meer in die OA gebied geplant sal word, totaal 32 000ha.
Daar word besluit dat die boodskap uitgedra moet word dat die gebruik van teruggehoude saad, veral baster kultivars, 'n groot risiko inhou en dat die praktyk nie aanbeveel word nie.
Almal
Somerreënvalgebied / Oos-Kaap / Ander
Daar is geen inligting oor aanplantings in ander gebiede beskikbaar nie. Daar was wel 'n navraag uit Noord-Kaap en Dr de Kock sal die navraag uit Kwazulu Natal (aartappelprodusent plant canola as siektebeheer maatreël) opvolg.
Dr De Kock
Prysinligting
Neem kennis dat die waarde van canola afgelei van sojaboon-oliekoek (47% proteïen) geland in Kaapstad op 20 Maart 2015 soos volg daar uitsien:
47% Proteïen teen 'n waarde van R 5 545/ ton teen 'n wisselkoers van R12.30.
Relatiewe waarde van volvet canola is dus:
Pluimvee (94%) R5 212 per ton Varke (100%) R5 545 per ton Suiwel (58%) R3 216 per ton
Die relatiewe waarde van canola oliekoek is dus:
Pluimvee (53%) R2 939 per ton Varke (65%) R3 604 per ton Suiwel (60%) R3 327 per ton Weervooruitskatting
Neem kennis dat aangaande die periode April tot Junie 2015 die weerdiens 'n goeie kans (45% tot 50%) vir bo-normale reën in die Wes-Kaap voorspel. Die Universiteit Kaapstad se voorspellings is minder gunstig, maar min of meer soos die langtermyn gemiddelde voorspelling. Die res van die seisoen blyk ook redelik positief te wees.
Besluit dat mnr Cerfonteyn sal navraag doen omtrent die Australiese lang(er) termyn weervoorspellingsmodel en of dieselfde model in Suid-Afrika gebruik word.
H Cerfonteyn
Navorsing
Nasionale Cultivarproewe 2013/2014
Neem kennis dat die Desember Canolafokus volledige terugvoer oor die 2014 kultivarproewe bevat.
Die Werkgroep dra hulle dank oor aan mnr Lombard en die DLWK – span vir die uitvoer van die 2014 kultivar evaluasie-proewe asook die volledige terugvoer van die proefresultate.
Na aanleiding van die proewe in die sandgronde van Darling/Eendekuil word gemeld dat dieselfde cultivars wat in ander areas goed presteer het ook hier goed presteer het. Die klimaat en temperatuur het 'n groter invloed op die sukses van canola in die gebiede (dit moet koel wees gedurende Augustus/September). Die sand se voghouvermoë kan ook 'n beperkende faktor in 'n warmer/droër seisoen wees en plantvoeding kan 'n uitdaging wees.
Mnr Lombard sal in 2015 die proewe in die sandgronde herhaal, verkieslik ook op grond waar daar nie voorheen bewaringsboerdery toegepas is nie.
P Lombard
Bywoning van canola proefbesoeke
Daar word besin of daar met die proefbesoeke in die Swartland voortgegaan moet word, aangesien die bywoning nie na wense was nie. Alhoewel die gedagte aanvanklik was dat geleentheid vir die Werkgroeplede geskep word om die proewe te kan besigtig, dit nie 'n geslote geleentheid is nie. Lede word dus aangemoedig om ander belangstellendes soos agente of produsente in die omgewing van die proewe, na die geleentheid saam te nooi.
Besluit dat
- reëlings insake die SKOG-inligtingsdae asook die Proefbesoeke vroeër en beter aan rolspelers bekend gestel moet word, byvoorbeeld via landboubesighede kommunikasie media en direkte e-pos of sms kommunikasie;
- die proefbesoeke in die Suid-Kaap en Swartland verkieslik nie op twee agtereenvolgende dae gehou moet word nie, maar eerder 'n week uitmekaar gereël moet word. Die PNS kantoor sal dit opvolg.
PNS Kantoor
Canola in somerreënval areas
Neem kennis dat die PNS Raad Phyto Energy se versoek vir navorsing op canola in die somerreënval area oorweeg het, maar daarteen besluit het. Die saak word as afgehandel beskou.
Biobrandstowwe
Nuusberigte en tendense in die oliesade en bio-brandstofbedryf is ter inligting by die sakelys aangeheg.
Tegnologie oordrag
Canolafokus
Die risiko en beheer van Sclerotinia stamvrot is deur middel van die Januarie 2015 Canolafokus aan die bedryf kommunikeer.
Daar word genoem dat chemie vir beheer van swamsiektes op canola ontwikkel word.
Redaksie
Inligtingsdae 2015
Wêreld Raapsaad Kongres, Kanada 6 tot 8 Julie Suid-Kaap proewe 18 Augustus Swartland proewe 19 Augustus Riversdal Inligtingsdag 26 Augustus Roodebloem Inligtingsdag 1 September SKOG Dag 9 September Agri Mega Week 16-19 September Agri SA Kongres 14-16 Oktober Almal
'n Verteenwoordiger van INTA, Dr Milisich besoek Suid-Afrika en hy sal die proefbesoeke asook die canolawerkgroep vergadering in Augustus bywoon.
Slakskade
Neem kennis dat Dr De Kock navraag gedoen het en op terugvoer oor slakbeheer in Australië wag.
Dr De Kock
Video-opnames
Besluit dat lede enige interessante inligting/videos oor canola verbouing aan die PNS kantoor moet deurstuur.
Almal
Behoeftes van
Mark – canola
Generiese reklame
Lede word versoek om enige interessante video-opnames oor canola aangeleenthede aan die kantoor te voorsien, wat dit sal verwerk vir verspreiding via die sosiale media.
Almal
Produsente – canola
Pryse
Geen pryse vir die 2015 seisoen is beskikbaar nie.
Super canolakompetisie
'n Verteenwoordiger van die pers, Me L Botha sluit vir die duur van die bespreking by die vergadering aan.
Daar word kennis geneem van die verslae van die 2014 Suid-Kaap en Swartland Super Canola Kompetisies wat by die sakelys aangeheg is en verder toegelig word.
Wenner Swartland
Hoogste opbrengs, Hoogste opbrengs per mm reënval, Beste Bruto Marge: Mnr Dirk Lesch
Wenners Suid-Kaap
Hoogste opbrengs: Raka Boerdery
Hoogste opbrengs per mm Reënval: Verfheuwel Boerdery
Beste Bruto Marge: Hammansdal BoerderyDie Werkgroep dra hulle dank oor aan mnre Slabbert en Loubser vir die hantering van die kompetisies asook ander lede wat betrokke was, naamlik Mnr Theron, Prof Agenbag en Mnr Cumming.
Canola-opbrengskompetisie
Die Voorsitter kondig aan dat
- die kompetisie in die huidige formaat tot 'n einde kom en dat die PNS Raad weens redes besluit het dat dit vanaf 2015 deur 'n CANOLA OPBRENGS KOMPETISIE vervang word;
- Mnr Cumming as koördineerder van die kompetisie in die Suid-Kaap, en Mnr Loubser as koördineerder van die kompetisie in die Swartland sal optree;
- deelnemers kan as individu of as groep/span inskryf;
- daar sal slegs 10 deelnemers per streek volgens sekere riglyne toegelaat word (registreer Junie/Julie) en daar sal net een wenner per streek wees; en
- elke wenner aanvanklik 'n prysgeld van R25 000 sal ontvang.
A Agenbag
Toediening van boor en swael
Neem kennis dat die redaksie van mening is dat voldoende inligting oor die toediening van boor en swael reeds in publikasies deurgegee is en besluit dat daarby volstaan word.
Daar word genoem dat alhoewel organiese materiaal baie swael bevat dit nie teen lae temperature mineraliseer nie, en swael toediening dus nog steeds aanbeveel word.
Sclerotinia
Neem kennis dat volledige inligting in die Januarie 2015 Canolafokus publiseer is.
Insek in Eendekuil
Neem kennis dat daar nog nie duidelikheid is oor die beheer van die insek Camenta innocua / "Christmas Beetle" / "Flying Peanut" wat in die Eendekuil area voorgekom het en soortgelyke skade as die mieliekewer aanrig. Om die grond in die somer te bewerk om die larwes te vernietig is in stryd met bewaringslandbou metodes. Dit is ook nie seker wat die effek van saadbehandeling sal wees nie.
Daar word aanbeveel en besluit dat die voorkoms van die insek in die 2015 seisoen gemonitor sal word na aanleiding waarvan verdere optrede beplan sal word.
A Agenbag
Saad
Beskikbaarheid van saad
Neem kennis dat saadmaatskappye saamwerk om genoeg van die saad van keuse betyds beskikbaar te hê.
Saadmaatskappye
Ander sake
Nuusbrokkies
Neem kennis dat afskrifte van interessante nuusbrokkies ter inligting by die sakelys aangeheg is.
Canola tydskrif artikels
Neem kennis dat afskrifte van enkele artikels ter inligting by die sakelys aangeheg is.
Sprekers wat oorweeg kan word vir toekomstige Canolawerkgroep vergaderings
Neem kennis en besluit dat lede voorstelle van moontlike sprekers / onderwerpe vir toekomstige Werkgroepvergaderings aan die kantoor of prof Agenbag kan deurgee.
Dr Erik Eksteen van Syngenta sal by die volgende vergadering toeligting oor die doodspuit van canola verskaf.
Almal
Canolawebstudie
Neem kennis dat Mnr Keun oor die webstudie toeligting sal verskaf by 'n volgende vergadering.
G Keun
Notule van gesprek met Dr David Bowran
Die notule van die gesprek na afloop van Dr Bowran se besoek aan Suid-Afrika gehou te Spier, Stellenbosch is ter inligting by die sakelys aangeheg.
Betrokkenheid van Dow Agro Science
Mnr Meintjies gee toeligting oor DOW se betrokkenheid internasionaal sowel as plaaslik. DOW fokus plaaslik hoofsaaklik op gewasbeskerming veral breëblaar onkruiddoders. Die grootste mark vir landbou chemie is in die kleingraanbedryf gesetel.
Datums van 2015 vergaderings
Kennis word geneem van die volgende vergaderings, naamlik:
- Donderdag, 11 Junie 2015;
- Donderdag, 20 Augustus 2015;
- Donderdag, 26 November 2015 wat geskeduleer is.
Afsluiting
Die vergadering word na 'n woord van dank afgesluit en verdaag.