- RSG RADIO PROGRAM 2006 CANOLA
- RSG RADIO PROGRAM 2005 CANOLA
RSG (Radio Sonder Grense) Radioprogram – 2005
Index of Program Topics
Inleiding
Ekonomie en Mark
- Mark (grootte)
- Ekonomiese voordele van canola
- Ekonomiese mededingbaarheid van canola en sojabone met koring en mielies respektiewelik
Grondvoorbereiding en Vestiging
- Belangrikste aspekte by canolaverbouing
- Saadbedvoorbereiding
- Saaityd
- Plantdigdheid / plantmetode
- Grondvoorbereiding aan einde van seisoen
Verbouingsaspekte
Siekte en Plae
Oesstadium en Oestegnieke
Kwaliteitsaspekte
Benutting
Slot
Openingsprogram
Gerhard Scholtemeijer, Pietman Lourens & Dirk van Papendorp
Kobus Stewart
Met die huidige krisis in die Graanbedryf, veral die lae koringprys, gaan ons binne die volgende paar weke so bietjie gesels oor winsgewende alternatiewe gewasse vir die koringboere. Canola is dan 'n baie goeie gewas om te oorweeg. Gesels ek vanmiddag dan met Gerhard Scholtemeijer (Voorsitter van die Proteïennavorsingstigting), Dirk van Papendorp (Voorsitter van die Canolabedryfskomitee van GSA) en Pietman Lourens (Voorsitter van die Koödineerende komitee van die Wintergraanprodusente in die winterreënstreek).
Gerhard Scholtemeijer (Voorsitter van die Proteïennavorsingstigting) hoekom is canola spesifiek dan nou 'n goeie alternatief vir die koringboere?
Kobus die Proteïennavorsingstigting is baie bekommerd en baie bewus van die krisis waarin die koringbedryf van die Wes- en Suid-Kaap hom tans bevind. Ons is ook bewus daarvan dat daar min alternatiewe is om die probleem op te los veral oor die korter termyn, maar ons is wel bewus daarvan dat daar een (1) winsgewende alternatief tot koring is en dit is dan canola.
Ons praat spesifiek van canola is daar enige ander gewasse wat ook oorweeg kan word?
Kobus daar word baie gepraat oor hawer in die Wes-Kaap, maar hawer het 'n beperkte mark en ons moet net versigtig wees dat ons nie weer in 'n strik trap nie. Canola daarenteen het 'n onbeperkte mark en ook sy prys fluktuasie is baie meer beperk as byvoorbeeld die van koring.
Ons gaan nou binne die volgende paar weke daaroor praat, maar kom sê net vinnig nog iets oor canola.
Kobus ons het nie twyfel daaroor dat canola die gewas is nie, want ons is nou al tien (10) jaar besig om navorsing te befonds oor canola. In 1994 is daar 'n oppervlakte van 500 ha geplant en die afgelope jaar het ons by bykans 50 000 ha gaan draai en daar is nog baie ruimte oor.
Ons gaan nou binne die volgende paar weke in 'n reeks programme praat, waaroor gaan ons alles praat in hierdie reeks?
Kobus soos met enige gewas is dit noodsaaklik dat die produsente die basiese dinge moet reg doen, daarom dan hierdie program vir die bestaande en die voornemende canola produsente. Ons beplan om kundiges op verskeie onderwerpe te betrek en as die riglyne wat deur hulle beklemtoon word, gevolg word het ons geen twyfel dat canola baie winsgewend kan wees.
Dirk, as Voorsitter van die Canolabedryfskomitee van GSA, kom ons praat oor die winsgewendheid van canola. Is dit 'n winsgewende gewas?
Kobus, ja ongetwyfeld. Ons by die Canolabedryfskomitee maak canola ons werk en ons is baie opgewonde oor die gewas. Ek dink as ons luister na Gerhard van die hektare wat vermeerder het oor die afgelope aantal jare dan dink ek spreek dit vanself.
Pietman, soos gesê jy's Voorsitter van die Koödineerende Komitee van die Wintergraanprodusente in die winterreënstreek, is canola 'n goeie alternatief vir die huidige probleme in die graanbedryf?
Kobu,s ja van Graan SA se kant af – ons weet wat met die mieliemark aan die gang is met 'n oorproduksie - gars as sulks is ook 'n baie moeilike produk waar daar 'n sekere volume benodig word. Die alternatiewe is slegs koring en canola, ons weet wat koring se prys tans is en as ons moet rigting gee vir ons boere dan moet ons sê "Gaan kyk na canola", maak jou somme en vind uit waaroor gaan die produk en wat is die positiewe faktore van hom.
Verbouing van canola
Dirk van Papendorp
Kobus Stewart
Ja dis weer Donderdag en tyd vir ons Rubriek Dr Jos Vra, waarin ons dan elke Donderdag so bietjie gesels oor canola en die Akkerboukundige dr Jos de Kock vra die vrae.
Dr Jos, canola is aanvanklik 10 jaar gelede hier in die omgewing van 1995 tot die plaas se wisselboustesel toegevoeg en die rede hiervoor vir die inbring van 'n breëblaar gewas was eerstens aanloklik, aangesien grasse nou meer selektief beheer kon word. Probleme met die gras beheer in die koring, gars en die hawer, het toe alreeds begin kop uitsteek. Die vestiging van hierdie nuwe gewas, in die vorm van 'n oliesaadgewas, was ook vir my aanloklik, aangesien dit diversifikasie weg van slegs gars of koring kon bevorder.
So jy het heelwat voordele geput uit die verbouing van die gewas. Sê dan vir ons, word meer boere aangeraai om die verbouing van canola te oorweeg?
Ongetwyfeld ja, na 'n aanvanklike steil leerkurwe, omdat daar tevore geen navorsing oor canola in Suid-Afrika gedoen is nie, het baie van ons boere die gewas suksesvol begin produseer. Opbrengste was aanvanklik laag maar namate meer en beter cultivars, veral uit Australië ingevoer is, het dit ook verbeter. Baie navorsing met betrekking tot verbouingspraktyke oor die afgelope 10 jaar het ook meegehelp, dat boere met meer selfvertroue canola in hulle wisselboustelsels kon inbring. Canola is ook die alternatiewe wintergewas in die Suid- en Wes-Kaap, waar die mark tans 'n onbeperkte groei vermoë het. Nou gegewe die lae koring- en garspryse is dit vir my net logies dat Canola oorweeg moet word. Met die bedreiging van onkruiddoderweerstand wat ons ook almal in die gesig staar, soveel te meer.
Hoe lyk die toekoms vir Canola verbouing in die Suid- en Wes-Kaap: sal dit nog uitbrei?
Wat vir my interessant is, is dat die hektare onder canola in veral die droë dele in die Suid-Kaap, praat van Swellendam / Heidelberg omgewing, wat tradisioneel die droë dele in die canola produserende deel is, drasties oor die afgelope vier (4) jaar toegeneem het. Sensitiwiteitsanalises wat op die belangrikste akkerbougewasse in die Sentraal Suid Koöperasie (SSK), se bedieningsgebied gedoen is staaf hierdie tendens. Canola teen 1,3 ton per hektaar lewer feitelik dieselfde inkomste per hektaar as koring teen 2 ton per hektaar. Nou tel hierby die tot 30% hoër opbrengs vir koring of gars in die daaropvolgende jaar na canola en die som lyk net nog beter. As deel van 'n weerstandstrategie by onkruid bestuur word canola ook met groot sukses in die Suid- en Wes-Kaap gebruik, veral hierdie aspek dink ek sal vir produsente die grooste aansporing word om canola deel van hul wisselboustelsel te maak. Die moontlikheid om onkruiddoders uit ander chemiese groepe met ander metodes van werking te kan gebruik is hier soveel groter as by al die ander gewasse. Daar is gewis 'n uitbreidingspotensiaal vir canola en ek dink ons gaan binnekort 'n oplewing in die aantal hektare sien.
Is daar voldoende inligting beskikbaar oor al die verbouingsaspekte vir die boere?
Dr Jos ja, die Canolabedryfskomitee (CBK) het hom sedert sy ontstaan dit ten doel gestel om produsente van die nuutste en betroubaarste inligting te voorsien. Daar word jaarliks gekoördineerd verskeie boeredae of simposiums in al die vernaamste produksie gebiede gehou. Die Canolafokus wat kwartaalliks by Landboubesighede en voorligting kantore versprei word en deur die PNS befonds word, is sekerlik die vlagskip. Publikasie Inligting word ook gereeld in SA Graan die mondstuk van Graan SA gepubliseer. Nou al hierdie inligting word jaarliks gekontroleer, hetsy by GSA of deur die PNS en waar nodig opgedateer. Sou 'n nuwe probleem op die produksie of die verwerkingsvlak opduik word dit dan deur die relevante komitee binne die bedryf voor die regte deur geplaas, vir die regte antwoorde. Produsente moet net hierdie dae bywoon en ek dink hulleself instudeer. Baie van hierdie inligting is ook op die web bladsye, van die onderskeie organisasie en komitees beskikbaar. En hulle kan sodoende hulle instudeer in alle aspekte om van Canola 'n sukses te kan maak.
Dr Jos De Kock
Dankie Dirk, ek hoop dat boere die inligting ontvang het, en dat hulle wel gebruik sal maak daarvan.
Voordele van canola (1)
Dirk Hanekom
Kobus Stewart
Nou vir ons rubriek dr Jos Vra, waarin ons bietjie kyk na canola as 'n winsgewende alternatief vir koring. Met die lae koringprys moet die boere nou na alternatiewe kyk en is canola dan sommer 'n baie goeie keuse. Dr Jos de Kock bekende akkerboukundige gesels dan vandag met Dirk Hanekom 'n canola navorser van die Wes-Kaapse Departement van Landbou op Elsenburg.
Dirk verlede week het ons gepraat oor cultivar keuse, maar ek dink voor ons verder gaan moet ons eers besin oor watse voordele is daar in canola in 'n wisselboustelsel. Volgens jou het canola vyf (5) hoof voordele, wat sal dit wees?
Die belangrikste voordele van canola is eerstens dat dit goed inskakel by bestaande boerderystelsels in die Wes-Kaap en tweedens het dit 'n baie heilsame invloed op die grond. Derdens breek dit die siklus van peste en plae en het dit 'n bioberokingseffek wat die voorkoms van grondgedraagtesiektes verminder. Vierdens maak dit verskillende opsies moontlik by die beheer van onkruide en laastens bied canola goeie weiding en is ook 'n uitstekende kuilvoer gewas.
Dit is interesaant. Ek wil hê ons moet elkeen van die vyf (5) voordele bietjie bespreek. Die eerste een (1) wat ek wil vra is, Hoe skakel canola in by 'n bestaande boerderystelsel?
Canola as 'n alternatiewe gewas of as 'n wisselbougewas pas goed in by die bestaande stelsels aangesien die standaard of die konvensionele graan toerusting gebruik kan word in die plant en die oes aksies. Hierdie aksies vind hoofsaaklik uit ritme met koring plaas. Soos die gewas erken word as 'n onontbeerlike deel van ons wisselboustelsel het markte en hanteringsfasiliteite oor die laaste paar seisoene ook aansienlik verbeter en die wins marge van hierdie gewas vergelyk baie goed met koring. Natuurlik gegewe goeie praktyke want dit is 'n moeilike gewas om te verbou is canola 'n alternatiewe gewas met 'n hoë stabiele opbrengs en inkomste en beter risiko verspreiding is natuurlik moontlik. 'n Verhoogde opbrengs van tot 25% word in koring waargeneem en dikwels kry ons ook 'n verbetering in die kwaliteit van ons koring graan.
Sê vir ons watse gunstige effek het dit op die grond?
Canola het 'n redelike diep penwortel wat dien as 'n biologiese ploeg en verbeter dus die wortelindringing van die daaropvolgende gewas, wat beter infiltrasie van reënwater en verminderde afloop en verminderde oppervlak erosie te weeg bring. Canola gooi ook 'n massa blaarmateriaal af net voor oestyd wat natuurlik die bioberokingseffek aanhelp, maar ook 'n redelike hoeveelheid voedingstowwe en organiese materiaal in die grond terugplaas.
Voordele van canola (2)
Dirk Hanekom
Kobus Stewart
Nou vir ons rubriek dr Jos Vra, waarin ons bietjie gesels oor canola as 'n alternatief vir die lae koringprys. Op die oomblik bied canola dan 'n baie goeie alternatief vir die boere om te oorweeg. Dr Jos die bekende Akkerboukundige gesels dan vandag weer met Dirk Hanekom 'n canola navorser van die Wes-Kaap se Departement van Landbou op Elsenburg. Verlede week het hulle bietjie gesels oor die voordele van canola en nou praat hulle verder daaroor.
Dirk verlede week het jy begin en vir ons verduidelik daar's vyf (5) hoof groepe van voordele van canola in 'n wisselboustelsel. Ons het die eerste twee (2) behandel en vandag wil ek aangaan met die derde baie belangrike voordeel. Dit gaan oor watter voordelige effek het canola op die beheer van siektes?
Siektes, peste en plae van die opvolggewas word verminder natuurlik as gevolg van die siektebreek effek wat canola het. Dit impliseer dan dat ons minder spuit en dit laer insetkostes tot gevolg het. Soos ek reeds genoem het, het canola 'n bioberokingseffek omdat die voorkoms daarvan grondgedraagte siektes soos vrotpotjie en oogvlek verminder. Wisselbouproewe wat oor 'n paar jaar hier by ons gedoen is toon duidelik dat daar baie minder witare in koring voorkom na canola in vergelyking met koring wat in 'n monokultuur stelsel is.
Weereens is dit vir my baie interessant. Verduidelik asseblief die gunstige effek wat dit het op onkruidbeheer.
Ja, die beheer van probleem onkruide soos predikantsluis, wat 'n groot probleem is hier by ons en weerstandbiedende raaigras is natuurlik moontlik in die canola jaar. Die gebruik van triasien weerstandbiedende cultivars maak dit moontlik om alternatiewe chemie te gebruik, in ons onkruidbeheer program wat dan ook een (1) van die hoofdoele is van ons weerstandsbestuur wat ons gebruik. Die middel simasien word gebruik as vooropkoms onkruiddoder op canola en onder die regte toestande word goeie resultate verkry.
Laastens verduidelik aan ons hoe kan canola 'n weidingswaarde bied?
Ja, canola wat vroeg geplant is kan natuurlik uitstekende groenweiding bied en nadat die vee onttrek is kan canola selfs gelaat word om uit te groei waarna redelike goeie oeste nog steeds behaal kan word. Navorsing hier by Elsenburg het ook getoon dat die weidingswaarde van canola stoppel in baie gevalle beter is as die van koring. Wat ons ook vind is dat baie van ons produsente canola gebruik in die volvetvorm as deel van hulle voedingsrantsoen vir byvoorbeeld melkbeeste.
Mark (grootte)
Gerhard Scholtemeijer
Kobus Stewart
Elke Donderdag hier op die program gesels ons oor canola, dit nou in ons rubriek dr Jos Vra en die Akkerboukundige dr Jos de Kock wat die vrae vra.
Ons praat vandag met Gerhard Scholtemeijer, 'n welbekende ekonoom tans Voorsitter van die Proteïennavorsingstigting, en in eie reg 'n boer. Gerhard ek wil graag by jou die markruimte vir canola bepaal. Canola word vir benewens sy wisselbou voordele ook verbou, vir olie en oliekoek. Kan die mark die olie nog opneem?
Jos ja, Suid-Afrika voer etlike honderde duisende tonne eetbare olie in en canola olie sal eintlik net 'n druppel in die emmer wees. En hierbenewens is canola natuurlik 'n baie gesogte olie vanweë sy spesifieke gesondheidseienskappe en behoort dit dus geen probleme te skep nie.
Tweedens wat is die posisie met oliekoek, is daar nog 'n mark daarvoor?
Ja, die mark vir oliekoek is relatief onbeperk, want enersyds voer Suid-Afrika jaarliks meer as 600 000 ton oliekoek in, en andersyds wat die Wes-Kaap provinsie betref, hulle maak bykans uitsluitlik gebruik van ingevoerde oliekoek vir dierevoeding.
Tans word aanbeveel dat meer canola in die Wes- en Suid-Kaap in wisselbou met koring verbou behoort te word, is daar genoegsame verwerkingskapasiteit hiervoor?
Ja, alle canola hoef natuurlik nou nie gepers te word nie alhoewel daar steeds 'n groter perskapasiteit is, as wat die huidige produksie is of in die nabye toekoms sal wees. Canola in sy heel vorm of te wel, soos ons dit noem volvet canola kan natuurlik as sulks in veevoer gebruik word, en daarom is perskapasiteit nie bepalend of selfs beperkend met betrekking tot die produksie van canola nie.
Sê vir ons indien verbouing sou uitbrei na ander gebiede, soos die sentrale besproeiingsgebiede, sal die mark in Suid-Afrika dit ook kan hanteer?
Ja, Jos die Suid-Afrikaanse mark vir olie en oliekoek is baie groter as die potensiële oppervlakte wat onder canola beplant kan word, tewens selfs as die biodiesel uit sojabone en die bio-etanol uit mielies projekte op dreef kom sal ons steeds olie en oliekoek moet invoer. Kortom die mark vir Canola is relatief onbeperk.
Dr Jos De Kock
Baie dankie vir hierdie waardevolle inligting, mense vra gedurig wat is die mark vir canola, ons het die prentjie nou duidelik.
Ekonomiese voordele van canola
Deon Joubert
Kobus Stewart
Ons praat met dr Jos de Kock bekende Akkerboukundige wat elke Donderdag 'n bietjie vrae vra oor canola. Met die lae koringprys moet boere nou na alternatiewe gewasse kyk. Canola is dan 'n baie goeie winsgewende alternatief vir koring.
Ons praat vandag met Deon Joubert 'n baie bekende landbou-ekonoom. Deon is tans Onder-Voorsitter van die PNS. Deon dit is bekend dat canola 'n goeie wisselbougewas is. Skets asseblief aan ons hoe vergelyk die ekonomie van canola met die van koring in die Wes- en Suid-Kaap.
Jos die inkomste- en kosteramings waaroor ons beskik van canola en koring vir die Swartland sowel as die Rûens toon dat daar werklik min verskil is in die koste om 'n hektaar canola en 'n hektaar koring te produseer en ook te oes. Verskille in koste kan egter voorkom afhangende van die tipe bewerkingstelsel wat gevolg word en natuurlik die gewas wat die voorafgaande jaar op die land was. Met die huidige prysstrukture van canola en koring vergelyk die bruto marge van canola baie goed met die van koring in die Swartland. In die Rûens is die bruto marge van canola egter aansienlik beter as die van koring. Wat ek ook hier kan sê wat belangrik is, is dat die ekonomiese voordele van die wisselbou-effek nog nie in berekening gebring is by die bepaling van die bruto marge nie.
Wat is hierdie ekonomiese voordele van canola in 'n wisselboustelsel?
Ja, soos jy self weet, afgesien van die bekende tegnies biologiese voordele soos beter onkruidbeheer, die berokingseffek vir beter grondstruktuur ens. van canola, het studies getoon dat die opbrengs van koring na canola in die eerste jaar tot soveel as 25% kan toeneem. Verder is dit ook bepaal dat die rendement op investering van 'n stelsel waarin canola voorkom, dubbel soveel kan wees as 'n monokultuur stelsel met koring.
Kan ek jou daar onderbreek Deon. Wat van die kontantvloei wat so 'n belangrike aspek is by enige boer?
Ja, dit is interessant dat jy hierdie vraag vra, want 'n stelsel waarin canola voorkom het ook 'n beter kontantvloei tot gevolg en gee aanleiding tot minder wisselvallige boerdery inkomste. Die effek van wisselende koringpryse en opbrengste soos wat ons nou ervaar, wat met koringmonokultuurverbouing gepaard gaan word in 'n groot mate deur so 'n wisselboustelsel uitgeskakel.
Die wisselende koringpryse wek egter kommer. Wat is die prysvooruitsigte van canola en koring?
Jos, jy weet om pryse vir die medium- tot langtermyn te voorspel is baie moeilik omdat daar 'n hele aantal faktore onderliggend tot so 'n prys is. As ons byvoorbeeld geweet het dat die koringprys tot sy huidige vlakke sou daal, sou daar byvoorbeeld minder koring geplant gewees het as wat tans die geval is.
Gaan daar dan 'n vinnige verandering intree?
Wat ek wel kan sê is dat daar geen rede is om te glo dat daar binnekort 'n drastiese verandering in die fundamentele faktore sal kom wat pryse positief sal beïnvloed nie en kan koring- en canolapryse die huidige vlakke handhaaf vir 'n hele tyd lank. Produsente moet natuurlik ook in hul beplanning kennis neem dat koringpryse meer wisselvallig is as die van canola en sal canola in 'n boerderystelsel definitief 'n beter risiko en kontantvloei verspreiding tot gevolg hê.
Pryse vir canola wissel dus minder, maar wat is die markvooruitsigte vir canola.
Jos, dit is interessant. Canola lewer twee (2) belangrike produkte naamlik, olie vir die eetmark en proteïen vir diereverbruik. Dit kan ook ongepers in voerrantsoene ingesluit word wat beide energie en proteïen verskaf. In die Wes-Kaap het ons die situasie dat daar 'n tekort aan beide olie en proteïen is en self al sou die canola-oes verdubbel sal daar nog steeds 'n tekort situasie in die Wes-Kaap wees ten opsigte van olie en proteïen. Die langtermyn projeksies wat ons gemaak het van proteïen vir diereverbruik in die RSA dui byvoorbeeld daarop dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die produksie van proteïen in die Wes-Kaap en RSA die verbruik sal oorskry. Produsente is dus in die gelukkige posisie dat hulle 'n produk vir 'n onversadigde mark produseer.
Dus wil u vir my sê, meer canola kan nog geproduseer word?
Definitief, verdere inligting wat hier bykom is dat as daar meer canola in die Wes-Kaap geproduseer word skakel jy duur vervoerkoste van proteïen en olie vanaf die noorde en die buiteland uit en in die tweede plek is die ekonomie in die Wes-Kaap ook meer in balans, want daar is dan nou ook minder koring wat dat ten duurste uitgevoer moet word na die res van die RSA of die buiteland.
Dr Jos de Kock
Dankie Deon, dit is vir my baie duidelik dat canola beslis 'n goeie opsie is.
Ekonomiese mededingbaarheid van canola en sojabone met koring en mielies respektiewelik
Johan Willemse
Kobus Stewart
Nou vir ons rubriek dr Jos Vra waar ons elke Donderdag so bietjie gesels oor canola. Sluit ons dan nou weer aan by dr Jos de Kock, die bekende Akkerboukundige.
Ons praat vandag met prof Johan Willemse, hy is tans verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat. En soos u almal weet hy was die vorige jaar die ekononoom van die jaar. Johan in die lig van die relatief lae koring en mieliepryse word daar melding gemaak van canola en sojabone as alternatiewe gewasse. Wat is jou mening hieromtrent?
Jos, ek dink wat belangrik is, is om te besef dat die mark en prys risiko in ons landbou drasties toegeneem het. Een (1) van die erkende metodes om jou risiko te verminder is om nie net op een (1) vertakking te konsentreer nie, maar om jou mark en prysrisiko te versprei oor 'n paar bedrywe, waar dit moontlik is. Hierdie diversifisering is 'n baie belangrike metode en iets waarna ons moet kyk vorentoe.
Kan jy vir my sê hoe lyk die prys vooruitsigte vir mielies en koring asook die van sojabone en canola?
Jos, ek dink die groot verskil is, mielies en koring is redelik volop internasionaal, dit word gesubsidieer en is daar nie 'n probleem ten opsigte van die aabod nie. Daar is genoeg van die goed en hulle vraag groei nie. Hierteenoor is daar 'n baie groot vraag na oliesade en dit bly groei. Dit is verstommend hoe dit groei. Dit is veral die vraag na veevoer, maar ook kookolie en dan ook vir menslike voedsel. Die verdere feit is ons voer omtrent 700 000 ton oliekoek in en net soveel kookolie. Daar is groot ruimte vir invoervervanging met oliesadeprodukte in ons mark.
Die mark is dus daar. Wat sal dan die finansiële implikasies wees vir ons produsente as hulle nie betyds aanpassings in hulle boerdery patroon aanbring nie?
Jos, hierdie ondersoek in die Wes-Kaap rondom koring het baie duidelik getoon dat as jy in een (1) vertakking is, is jou risiko net soveel groter en om jou risiko te verminder en om finansieel te oorleef is juis om in 'n paar bedrywe te wees. Dit versprei jou risiko en jou kans op finansiële oorlewing is net soveel beter, as jy dit doen.
Dit beteken dat daarna gestreef sal moet word om canola in 'n wisselboustelsel in te bring. As daar dan nou meer canola geplant word ter gedeeltelike vervanging van koring, hoe sal dit die ekonomie van die landbou beïnvloed?
Ek dink dit gaan daaroor, daar is ruimte vir canola, ja daar word baie gestoei oor koring, maar dit gaan weer vir my oor risiko en die ander belangrike faktor wat navore tree is kontantvloei. Kontantvloei verbeter heelwat tussen bedrywe as jy meer as een (1) bedryf het. Jou risiko verminder en weer het ondersoeke bevestig dat jou kans op finansiële oorlewing is net soveel beter as wat jy net een (1) gewas die heeltyd verbou.
Dr Jos de Kock
Johan, baie dankie, ek dink dit gee vir ons 'n insig daarin dat daar plek is om te verander en veral te kyk na oliesade gewasse.
Belangrikste aspekte by canolaverbouing
Petrus Fouché
Kobus Stewart
Nou ons rubriek dr Jos Vra. Die koringprys is op die oomblik laag en boere moet na alternatiewe kyk en canola dan 'n goeie keuse. Dr Jos de Kock 'n bekende akkerboukundige gesels vandag met Petrus Fouché 'n canola kenner uit die Wes-Kaap.
Petrus ons het gehoor dat canola 'n goeie alternatief en wisselbougewas vir koring is. Wat is die belangrikste aspekte wat dadelik aandag moet kry?
Dr Jos ons moet sorg dat die saai implemente gereed en saad bestel is. Doen jou canola lande se voorbereiding eerste en plant indien vog voldoende is om opkoms te verseker. Die beste weiding- en saadopbrengs word tog behaal deur canola vroeg te plant veral in droë seisoene. Deur te plant met eerste front gee gemiddeld R650/ha hoër opbrengs. Onthou Februarie en Maart aanplantings kan weiding voorsien in die moeilike April tot Julie en steeds goeie saadopbrengste lewer.
Wat is dan die korrekte saaidigtheid?
Ons moet waak teen 'n te hoë plantestand by canola. Die optimum droëland plantestand is 20 tot 50 plante per vierkante meter (m²) en dit is haalbaar met 2 tot 4 kg saad/ha. Beskerm eerder 'n lae saaidigtheid met saadbehandeling en insek beheer.
Hoe verseker 'n mens hierdie goeie stand?
Deur saadbehandeling van gesertifiseerde saad asook deur 'n breë spektrum insekdoder te spuit met voorsaai onkruidbeheer of met plant. Onthou oorhou saad verloor cultivar eienskappe, bevoordeel siektes en kan saadopbrengs en wins meer benadeel as wat die saad jou kos.
Petrus wanneer is volgens jou mening die beste planttyd?
Ons moet nie plant volgens 'n plantdatum nie, wel met die eerste herfsreëns. Canola moet geplant word in goeie vog direk na reën. Dit verseker goeie opkoms asook vooropkoms onkruidbeheer. Canola kan wel ook droog gesaai word dan word vooropkoms onkruiddoder eers gedoen met die reën.
Kan canola as 'n wisselbou gewas gebruik word?
Verseker en is ook 'n baie goeie wisselbougewas. Canola verhoog koring opbrengste met tot 25% in jaar een. Die effek is reeds tot in jaar vier (4) waargeneem. Canola verminder ook versuip toestande met sy penwortel, verminder slytasie en bewerkingskoste en lei tot beter water indringing en opname van voedingstowwe en water deur opvolg gewasse. Canola beheer vrotpootjie in koring, bruinskurf by aartappels, verminder knopwortelaalwurm populasies en verhoog so die opbrengs. Grasweidings sal ook na eenjaar canola wisselbou beter presteer.
Saadbedvoorbereiding
Petrus Fouché
Kobus Stewart
Nou weer vir ons rubriek dr Jos Vra waar ons elke Donderdag na canola as 'n goeie alternatief vir koring kyk. Met die lae koringprys moet boere nou na alternatiewe gewasse kyk. Canola is dan 'n baie goeie alternatief vir koring. Hier by my is dan weer dr Jos de Kock en Petrus Fouché, canola kenner uit die Wes-Kaap.
Petrus by die vorige geleentheid het ons 'n aantal belangrike aspekte oor canola verbouing hanteer. Vandag kan ons in meer diepte op van die onderwerpe ingaan. Ons bespreek dus vandag saadbedvoorbereiding. Wanneer begin 'n mens met saadbedvoorbereiding?
Ek glo dat saadbedvoorbereiding moet begin met die eerste reën na die vorige gewas geoes is. Indien saaityd reën dan laat kom kan canola droog gesaai word om nie in te meng met koring saaityd nie. Dan word vooropkomsonkruiddoder soos simasien wat deur die wortels opgeneem word toegedien voor of tydens reën. Terwyl metazachlor wat deur die koloptiel werk ook direk na reën toegedien kan word, volgens my ondervinding.
Is voorplant onkruidbeheer nodig en hoe word dit gedoen?
Dit is nie by canola nodig om eers te bewerk om onkruide te laat ontkiem wat voor planttyd doodgespuit moet word nie. Die vooropkoms onkruiddoders doen daardie werk. Dit kan gebeur dat die opvolg reën vir plant so laat kom dat canola se opbrengs drasties daal. Waar glifusaat voorplant toegedien word moet boere versigtig wees dat daar nie te gou na bespuiting geplant word nie.
Is sandgronde ook geskik vir canolaverbouing?
Verseker dr Jos. Canola aard ook op sandgronde soos bewys by Eendekuil, Vredenburg, Hopefield en selfs Redelinghuys waar dit waarlik sand is. Selfs in baie droë jare is hier goeie resultate behaal.
Hoe noodsaaklik is saadbehandeling van canola?
Saadbehandeling met cruiser of gaugho het bewys om beter beskerming te bied teen insekte tydens en na-opkoms. Ook swamdoders is belangrik, aangesien skade aan die saailinge tot oestyd vervoer van voedingstowwe en dus opbrengs benadeel.
Saaityd
Petrus Fouché
Kobus Stewart
Nou weer vir ons rubriek dr Jos Vra, dr Jos de Kock bekende Akkerboukundige wat gesels met Petrus Fouché 'n canola kenner in die Wes-Kaap. Ons het so 'n tyd gelede begin gesels oor canola as 'n alternatiewe gewas vir koring. Met die lae koringprys moet boere na alternatiewe gewasse kyk, canola is dan 'n uitstekende gewas daarvoor.
Petrus dis lekker om weer met jou te praat. Met ons vorige gesprek was dit duidelik dat goeie saadbedvoorbereiding altyd nodig is. Vandag bespreek ons saaityd. Wanneer is die beste planttyd vir canola in die Wes-Kaap?
Dr Jos vir saadopbrengs en kuilvoer is die beste planttyd einde Maart of begin April met die eerste herfsreën. Moenie volgens 'n plantdatum plant nie, plant met reën.
Is dit slegs reën wat 'n rol speel of is dou ook belangrik?
Ek glo dou speel 'n groot rol vir canola om die droogtes wat normaalweg voorkom na die vroeë reën te oorkom. Canola se penwortel en laer plantestand as graangewas oorkom sulke droogtes met gemak.
Na jou mening hoe nadelig is dit om canola eers later te plant?
Dr Jos indien gewag word tot met die tweede reën bewys saaitydproewe dat gemiddeld 350 kg/ha minder geoes word. Dit is baie geld. In droë jare is die opbrengs verlies nog groter.
Sê aan my, indien weens omstandighede eers later geplant kan word, waarna moet veral opgelet word?
Moet nooit eers al jou grond bewerk en dan canola of selfs na koring canola plant nie. Die grond kan dan te veel uitgedroog het en canola wat vlakker as koring geplant word kan ongelyk opkom weens onvoldoende vog vir opkoms. Wanneer dit egter laat reën, al is dit Julie, kan nog steeds geplant word en geld dieselfde, plant eers canola en dan koring. Met laat plant is saadbehandeling met swamdoders nog belangriker.
Verskaf canola goeie groenweiding en is saaityd dan ook belangrik?
Dr Jos, ja, die regte canolacultivars kan 1½ tot twee (2) keer meer groen voer as hawer gee. Die kwaliteit voer van canola is ook beter as kleingraangewasse. Vir wei en oes kan canola reeds vanaf Januarie geplant word. Hoe vroeër die vee onttrek word vanaf April, wat verseker met bemesting moet geskied, hoe beter sal die opbrengs potensiaal wees.
Plantdigdheid / plantmetode
Petrus Fouché
Kobus Stewart
Nou vir ons rubriek dr Jos Vra, dr Jos de Kock bekende Akkerboukundige wat in hierdie program gesels oor canola as 'n alternatief vir die lae koringprys. Met die lae koringprys moet boere na ander winsgewende gewasse kyk. Canola is dan 'n uitstekende keuse daarvoor. Vandag gesels dr Jos dan weer met Petrus Fouché 'n canola navorser in die Wes-Kaap.
Petrus vandag bespreek ons plantdigtheid en plantmetode. Hoeveel saad per hektaar is werklik nodig vir canola?
Dr Jos om die optimum plantestand van 20 tot 50 plante per vierkant meter onder droëland toestande te bereik is twee (2) tot vier (4) kg saad per hektaar voldoende. Vir bastersaad is dit 'n twee (2) tot drie (3) kg per hektaar en drie (3) tot vier (4) kg per hektaar vir gewone saad. Onder besproeiing is dit ook twee (2) tot maksimum drie (3) kg per hektaar.
Canolasaad is so fyn, moet dit geplant word of kan dit gesaai word?
Canola aard uitstekend in minimum bewerking situasies en kan suksesvol geplant word, dan moet die laer plantestand gebruik word naamlik twee (2) tot drie (3) kg per hektaar. Waar canola uitgestrooi word kan dit ook met kunsmis gemeng word om die verlangde saaidigtheid te bereik, solank as wat dit op dieselfde dag gemeng en uitgestrooi word om brandskade te vermy.
Indien dit geplant word, hoe diep moet die saad geplaas word en word bemesting by die saad geplaas of nie?
Dr Jos maksimum plantdiepte is twee (2) tot drie (3) cm. Dit word maklik oorskry met planters veral ook met saai op losgrond. Verseker altyd 'n ferm saadbed, maak seker jou drukwiel by planters is smaller as sewe (7) cm en V vormig om goeie saadgrondkontak te bewerkstellig. Plasing van kunsmis moet verkieslik onder of langs die saad geskied en nie meer as 20kg stikstof per hektaar per toediening wees nie. Onthou met plant tot bobemesting by canola is die verhouding 40 tot 60, dit is andersom as by koring.
Is daar insekte en ander plae waarop bedag moes wees en hoe word daar opgetree om dit te beheer?
Verskeie kewers en larwes kan canola vreet. Selfs met saadbehandeling is dit aan te beveel dat 'n breë sprektrum insekdoder met plant toegedien word en nie eers met opkoms nie. Besoek ook die canola na-opkoms elke twee (2) tot drie (3) dae om moontlike skade te voorkom. Kyk veral vir luise wat selfs in droogte toestande veral in saailingstadium vroegtydig beheer moet word.
Grondvoorbereiding aan einde van seisoen
Petrus Fouché
Kobus Stewart
Nou weer vir ons rubriek Dr Jos Vra. Elke Donderdag gesels ons 'n bietjie oor canola en die bekende Akkerboukundige, dr Jos de Kock is dan vanmiddag hier by my.
Ons praat vandag weer met Petrus Fouché, welbekende akkerbouer en canolakundige in die Wes-Kaap. Petrus die oes is pas ingesamel en word nog ingesamel. Wat moet in ag geneem word om te besluit of canola weer geplant gaan word?
Dr Jos, ja die lae pryse en die relatief swak winsgewendheid van koring en mielies, die weerstandbediedende onkruid probleme wat voorkom, ook waar lusern gevestig moet word en om die groen droogte te breek skep almal geleenthede om canola te plant. Om lae opbrengste met sigorei weens aalwurms en bruinskurf by aartappels te verhoed. Selfs boere in die Vrystaat en Oos-Kaap sal baat vind deur reeds in 2006 klein aanplantings van canola te doen al is dit net vir weiding om sodoende die gewas te leer ken, om later te deel in die aanplantings vir die biodiesel projek wat reeds in 'n gevorderder stadium is. Onthou tog net dat weens gevaar van swartstam canola nie binne vier (4) jaar na mekaar op dieselfde grond geplant moet word nie. Vir dieselfde rede moet cultivars meer afgewissel word sodat die swartstam swam moeiliker kan aanpas.
Moet daar nou iets gedoen word aan die grond op die land waar canola geplant gaan word?
Ja, ons moet probeer om weg te bly van lande waar sulfenielureums (SU) gespuit is. SU oordrag veroorsaak vertraagde ontwikkeling en laer opbrengs by canola. Om moontlike SU oordrag vinniger te laat afbreek veral vir diegene op minimum bewerkingstelsels is 'n bewerking êrens voor canola die beste. Jou canola lande moet eerste gereed wees sodat indien die reën middel April nog nie geval het nie jy reeds 'n voorbereide land droog kan saai of plant. Dus behoort die eerste voldoende reëns vir bewerking benut te word om reeds 'n ferm saadbed te skep.
Is hierdie aksies net eenmalig of moet dit weer herhaal word voor planttyd?
Met die duur brandstof wat ons nou het moet ons eerder die land chemies skoonhou. Dit is ook 'n voorvereiste om insek en slak getalle te verminder, so tensy 'n harde reënbui verdigting veroorsaak het, behoort dit dus nie weer nodig te wees om diep te bewerk nie en kan canola dus suksesvol geplant of gesaai word.
Vir watter datum word gemik vir plant?
Dr Jos, ek wil dit ernstig beklemtoon dat canola nie volgens 'n datum geplant moet word nie, maar wel met voldoende grondvog onmiddellik na die eerste reën en nie eers wanneer jy al jou grond klaar bewerk het nie. Die lekkerte van canola is ook dat dit jou help om die groen droogte te breek. Dit beteken dat jy minstens een (1) land met jou eerste reën, of vir die Vrystaat dalk met die laaste somerreën selfs al Januarie kan plant. Hierdie vroeg geplante canola verskaf dan drie (3) en meer ton droë materiaal as weiding in April, Mei of Julie. Daarna kan jy die vee onttrek en nog steeds 'n ton of meer saad oes as kontant inkomste. Vir canola wat jy nie gaan bewei nie kan jy vanaf einde Maart plant. Jou vroeg geplante canola sal jou beste opbrengs lande wees.
Cultivarkeuse
Dirk Hanekom
Kobus Stewart
Nou vir ons rubriek dr Jos Vra, dis 'n rubriek waarin ons spesifiek kyk na canola as 'n winsgewende alternatief vir die lae koringprys. Dit is dr Jos de Kock bekende Akkerboukundige wat die vrae vra en vandag gesels hy dan met Dirk Hanekom 'n canola navorser van die Departement van Landbou, Wes-Kaap op Elsenburg.
Dirk welkom by ons, ons bespreek vandag cultivar keuse van canola. Jy doen reeds etlike jare navorsing oor canola cultivars. Wat behels dit alles, asseblief?
Dok ons plant jaarliks hier by die Departement van Landbou, Wes-Kaap sowat 16 cultivars waarby ingesluit word verskeie moontlike nuwe cultivars. 'n Ruim voorsiening word dus gemaak om die bes moontlike cultivars vir alle omstandighede te kry. Hierdie culitvars word geplant in perseelproewe op ses (6) lokaliteite in die Wes-Kaap en dan ook op ses (6) lokaliteite in die Rûens gebied.
Dankie Dirk dit is interessant. Sê vir my is daar verskille tussen hierdie cultivars?
Beslis ja, alhoewel Kanada, Amerika en Australië onder andere baie canola verbou kom ons culitvars hoofsaaklik van Australië af. Die groep cultivars bevat lang, medium en kort groei seisoen cultivars. Daar is ook nog cultivars wat natuurlike weerstand het teen triasien onkruiddoders sowel as cultivars waarby onkruidmiddels gebruik kan word wat goed inpas by ons strategie van weerstandbestuur van onkruide teen spuitmiddels. Sommige cultivars is ook natuurlik beter aangepas vir die meer alternatiewe gebruik van canola soos weidings en die maak van kuilvoer.
Interessant jy praat van triasien bestande cultivars. Hoe kan hulle benut word?
Wel die culitvars is 'n groep cultivars wat weerstand teen die triasien groep onkruiddoders het en vooropkoms onkruiddoders soos simasien kan dan gebruik word vir die beheer van beide breëblaar asook grasonkruide. Waar produsente sukkel met probleme soos weerstandbiedende raaigras bied canola en in die geval die triasien bestande canola 'n besliste oplossing vir die probleem. Wisselbouproewe hier by ons in die Departement toon dat daar 'n merkbare afname is in die saadbank en spesifiek raaigras met die gebruik van die stelsel.
Waar kan 'n mens meer inligting bekom oor die prestasie van al die cultivars wat beskikbaar is?
Die resultate van die Nasionale Cultivarproewe word jaarliks in die Canolafokus gepubliseer wat beskikbaar is by alle koöperasies. Die afgelope seisoen se resultate verskyn dan in die Februarie uitgawe van die Canolafokus en gee die opbrengste by die verskillende lokaliteite asook opbrengsyfers oor die jare. Luisteraars kan ook inskakel op die webwerf van die Proteïennavorsingstigting vir hierdie inligting asook ander inligting rakende al die praktyke van canola verbouing.
Laastens net waar kan 'n mens canola saad bekom?
Eerstens wil ek net sê dit is belangrik om slegs gesertifiseerde saad te gebruik. Die produsente moet gewoonlik twee (2) of drie (3) cultivars kies wat aangepas is by hulle spesifieke behoeftes. Dan moet hulle faktore in ag neem soos siekte weerstand, die groeiseisoen lengte, die opbrengs potensiaal asook moontlike onkruid probleme wat mag voorkom. Daar is tans drie (3) saadmaatskappye wat canola bemark naamlik Klein Karoo Advanta, Agricol en Pioneer saad. Hierdie saad is vrylik beskikbaar by koöperasies en verskillende landbou besighede.
Bemesting
Dirk Hanekom
Kobus Stewart
Nou vir ons rubriek dr Jos Vra, waarin ons elke Donderdag so bietjie gesels oor canola.
Ons sê welkom aan Dirk Hanekom soos u weet, die bekende canola navorser op Elsenburg. Vandag praat ons oor bemesting van canola. Watter aspekte moet in ag geneem word ten opsigte van stikstof bemesting by canola?
Wel eerstens is die potensiaal van die gebied, dit wil sê die hoeveelheid reënval, belangrik. Dan is daar ook faktore soos die grondtipe belangrik, is dit 'n swaar of ligte grond, wat is die koolstofinhoud van die grond, hoe diep is die grond, wat is die vogstoorvermoë ensovoorts. Dan is die faktore soos die voorafgaande gewas ook natuurlik belangrik, was dit 'n peulgewas of nie, indien wel was dit lusern, was die lusern vry van grasonkruide? Was dit dalk 'n eenjarige peulgewas soos lupiene? As dit koring was, hoe word die koring verbou, word die stoppel gebrand of bo-op die grond gelaat? En dan ten laaste is die plantmetode tydens vestiging ook natuurlik belangrik. Was die stikstof saam met die canola saad in die grond gebandplaas of is dit breedwerpig uitgestrooi tydens vestiging? Al hierdie faktore gaan bepaal hoeveel en wanneer jy stikstof sal toedien. Die aanvangshoeveelheid is dit wat ons met plant toedien wat gewoonlik so 30kg/ha waar jy uitstrooi is en so 20 tot 25 kg/ha is waar die stikstof gebandplaas word. Toedienings kan wissel van so min as 30 tot 40 kg/ha vir die seisoen byvoorbeeld na lusern tot so veel as 120 kg/ha na stoppellande.
Dirk, baie dankie, ek weet ook dat die aanbevelings ten opsigte van bemesting wel in 'n bladskrif beskikbaar gestel word. So boere moet daarvan kennis neem en met jou daaroor skakel. My tweede vraag aan jou: is dit nodig om stikstoftoedienings te verdeel in verskillende bobemestings en hoe word dit gedoen?
Wel dok hier by ons in die Wes-Kaap is dit 'n verpligte praktyk. Met ons vlak gronde en lae vogstoorkapasiteit asook die hoë intensiteit van ons reënval wat ons hier kry, is loging van stikstof maar 'n probleem. Die effektiwiteit daarvan kan egter geweldig verhoog word deur die stikstof in paaiemente by verskillende groeistadiums toe te dien. Dit word gedoen deur die met plant toediening op te volg deur een (1) of twee (2) bobemestings. Toedienings word gewoonlik gedoen tydens die rosetfase, dit is so 30 dae na opkoms en dan weer tydens die stingelverlengingsfase, wat gewoonlik so maand later is. Grondtekstuur en natuurlik die reënvalverspreiding bepaal gewoonlik of jy een (1) of twee (2) bobemestings sal toedien.
Dirk baie dankie, genoeg van stikstof. Sê vir my is fosfaat nodig en is daar riglyne vir hoeveelhede?
Ja, fosfaat is beslis belangrik en word normaalweg toegedien volgens die grondontleding van die spesifieke land. By 'n sitroensuur evaluering van so 35 dele per miljoen kan ons slegs 'n onderhoudstoediening van so 10 kg/ha fosfaat toedien. Onderkant hierdie waarde word die fosfaat natuurlik dienooreenkomstig toegedien soos jou grondontleding dan vir jou aandui.
Dan ontstaan die vraag by 'n mens. Word kalium ook benodig of is dit in julle geval oorbodig?
Wel kalium met ons kaliumgronde word selde hier by ons benodig, maar as riglyn word die kaliuminhoud van grond op ongeveer 80 mg/kg vir swaarder en 60 mg/kg vir ligte tekstuur gronde gestel. Waar jou ontleding natuulik laer is word die kalium toegedien soos wat dit by koring gedoen word. Dit is natuurlik net belangrik om in ag te neem dat die persentasie kalium op die uitruilbaarheids-kompleks ten minste so 4% moet wees.
Ek het nog altyd gewonder is daar enige ander element of spoorelemente wat belangrik is, of kan 'n mens met dit wat jy sover gesê het volstaan?
Ja, wel die swael-behoefte van canola is ongeveer viermaal so hoog as wat dit vir koring is. Canola benodig so tussen 15 tot 20kg swael per hektaar per jaar. So dit 'n belangrike element by canola. Waar jou gronde laag in swael is kan jy dit regstel deur so 300kg gips per hektaar toe te dien wat net so voor planttyd vlak ingewerk word. Dan is boor ook 'n belangrike spoorelement by canola en 'n bespuiting van boor net so voor die aanvang van die blomstadium sommer so saam met een (1) van die insekbespuitings kan 'n beslisde voordeel inhou. Die aanbeveling is so 800g/ha solubor, wat dan voldoende behoort te wees. Ek wil miskien net produsente waarsku om nie die solubor saam met een (1) van hul onkruidmiddels te spuit nie, want dit kan nogal 'n erge skroei veroorsaak.
Dr Jos de Kock
Dit is al in verband met die bemesting, ek wil ook net vir ons produsente weer daaraan herinner dat daar 'n bladskrif beskikbaar is en dat u kan skakel na Elsenburg en by Dirk Hanekom die besonderhede kry.
Onkruidbeheer
Chris Cumming
Kobus Stewart
Nou vir ons rubriek dr Jos Vra, waarin ons elke Donderdag so bietjie gesels oor canola as 'n alternatief vir koring. Met die lae koringprys moet die boere nou na alternatiewe gewasse kyk en canola dan sommer 'n baie goeie keuse daarvoor. Die bekende Akkerboukundige dr Jos de Kock vra dan die vrae.
Ons praat vandag met Chris Cumming 'n bekende in onkruiddoder in die Wes-Kaap en Voorsitter van AVCASA en ons gaan by hom meer hoor oor onkruidbeheer in canola. Chris wanneer begin 'n mens met onkruidbeheer in canola verbouing?
Jos, omdat canola net elke vier (4) jaar op dieselfde grond verbou kan word, moet dit deel maak van 'n geintergreerde verbouingsstelsel, met ander woorde jou produsent moet dit deel maak van langtermyn beplanning.
Is daar genoeg middels in SA beskikbaar en geregistreer en op watter stadium word dit aangewend?
Voorplant bespuitings word met Glifusaat en Parakwat bevattende middels gedoen om die aantal onkruide (onkruiddruk) te verlaag. Dit is uiters belangrik mits vroeë reëns voorkom natuurlik. Dan is daar produkte soos Trifluralin, Metazachlor, Triasiene wat met plant toegedien word of net na plant, maar voor enige onkruide begin ontkiem. Dan is daar die groep selektiewe grasdoders, ons ken hulle as die fops en dims en ook Kerb wat gebruik kan word om grasse na opkoms, maar in 'n jong stadium te beheer. Waar ons egter soms met probleme sit in canola is om die volle spektrum breëblaar onkruide te beheer.
Dikwels vind 'n mens dat onkruiddoders wat vir die vorige gewas toegedien is nadelig is vir die volgende gewas. Is dit by canola ook 'n gevaar?
Jos, ja beslis Sulfonielureum (SU) onkruiddoders wat in kleingrane gebruik word is gevaarlik vir opvolg gewasse. Dit is uiters belangrik om die regte keuse van produk te maak. Die onthoudingsperiodes van gevoelige opvolggewasse soos canola wissel van ses (6) maande tot vier-en-twintig (24) maande vir die verskillende SU produkte.
Sê vir ons is onkruiddoder weerstand 'n gevaar en hoe behoort produsente dit te hanteer?
Ja, ongelukkig, onkruiddoderweerstand is 'n realiteit in die Wes-Kaap en 'n geïntergreerde beheer stelsel is noodsaaklik om dit te bestuur. Canola is 'n belangrike wisselbougewas in die ketting en dit bied vir ons opsies om verskillende onkruiddoder groepe te kan afwissel. Maar 'n mens moet ook nie net op chemiese opsies staatmaak nie, maar ook kyk na nie-chemiese opsies.
Geïntegreerde onkruidbeheer strategie
Chris Cumming
Kobus Stewart
Elke Donderdag gesels ons ook oor Canola, en dan sluit ons weer aan by die Akkerboukundige Dr Jos De Kock, wat dan die vrae vra.
Ons praat vanmiddag met Chris Cumming 'n wel bekende Landboukundige en Voorsitter van AVCASA in die Wes-Kaap. Chris ons weet daar's baie gevalle van onkruiddoderweerstand in die Wes-Kaap, daar is 'n taakspan aangestel deur die Proteïennavorsingstigting met die Departement van Landbou Wes-Kaap as saamroeper om hierdie groter wordende probleem te hanteer. Sê vir ons wat is die samestelling van hierdie taakspan?
Jos, die taakspan behels persone van die Departement daar by Elsenberg, daar is mense van die Universiteit van Stellenbosch en Landbouchemiese bedryf en die LNR-Kleingraaninstituut wat betrokke is.
Dankie! Sê vir ons wat is die opdrag van die hierdie taakspan, en hoe werk dit?
Die taakspan is daar om knelpunte ten opsigte van onkruiddoderweerstand in eenjarige gewasse te identifiseer, en strategie in plek te sit om volhoubare gewasproduksie te ondersteun. Ek dink een van die belangrikste dinge is die koördinering van navorsing insette om die beperkte hulpbronne wat beskikbaar is optimaal aan te wend.
Chris ek hoop hierdie taakspan gaan reg te werk, want die probleem is 'n probleem wêreldwyd. Watter prosedure moet 'n produsent volg wanneer hy byvoorbeeld raaigrasweerstand by koringverbouing waarneem?
Jos hy moet eerstens wetenskaplik laat toets om wel te bevestig dat dit weerstand is al dan nie. Dan sal 'n teenweerstand strategie in plek gesit moet word, wat wisselbou gewasse insluit soos byvoorbeeld Canola. Afwisseling van chemiese groepe, en natuurlik nie-chemiese opsies vir onkruidbeheer is noodsaaklik.
Sê vir ons, hoe kan 'n produsent verhoed dat onkruiddoderweerstand by hom 'n probleem word?
Jos, hy moet 'n goeie geïntegreerde strategie in plek sit wat die volgende behels. Rekordhoudingstelsel, doelgerigte beplanning, die benutting van soveel verskeidenheid as moontlik ten opsigte van gewaskeuses, afwisseling van chemiese groepe onkruiddodder sowel as bewerkingsmetodes. Die mikpunt ten alle tye moet wees om te verhoed dat veral grasonkruide saad maak en die uitputting van saad reserwes in die grond.
Ons wil aan die produsente uitwys dat hierdie is 'n ernstige probleem, u moet werklikwaar versigtig wees daarvoor en as dit opgemerk word maak werk daarvan. Chris sê vir ons is daar net by graanverbouing die probleem van onkruiddoderweerstand, en wat word by die ander gevalle gedoen?
Nee, ongelukkig nie Jos, onkruiddoderweerstand is net so 'n kopseer vir meerjarige gewasprodusente en dieselfde reëls geld by hulle ten opsigte van die toepassing van 'n goed beplande geïntegreerde beheer strategie.
Wisselbou
Mark Hardy
Kobus Stewart
Elke Donderdag hier in die program gesels ons 'n bietjie oor canola in ons rubriek dr Jos Vra, die bekende Akkerboukundige dr Jos de Kock wat dan die vrae vra.
Ons gesels dan vandag met dr Mark Hardy. Mark is 'n wel bekende navorser in die Wes-Kaap en hy het al baie werk gedoen op wisselbou en gewasopvolgingstelsels. Ons gesels met hom oor canola in so 'n wisselboustelsel. Mark is daar 'n opbrengs voordeel in koringopbrengs na canola?
Ja, daar is beslis 'n opbrengs voordeel vir koring na canola. In ons wisselboustelsel navorsing oor die afgelope nege (9) jaar het ons getoon dat daar 'n gemiddelde verhoging van 15% tot 20% is in die opbrengs van koring wat na canola verbou word.
Sê vir ons het canola enige bydrae om wortelsiektes teen te werk?
Ja, dr Sandra Lamprecht van die Plant Beskermings Navorsingsintsituut te Stellenbosch het 'n drie (3) jaar studie onderneem. Die studie het dan gewys dat daar 'n laer insidensie van kroonvrot in koring voorkom, wanneer canola na koring verbou word in vergelyking met die stelsel waar koring na koring verbou word. Opbrengs verliese van tot 50% kan verwag word in kroonvrot besmette koringlande. Dus is canola 'n belangrike gewas waar dit in wisselbou met koring gebruik kan word om sulke verliese te kan verminder.
Kan jy verder vir ons sê, of die insluiting van canola in die koringstelsel bydrae tot die verbetering van onkruidbeheer?
Dit is een (1) van die groot vrae wat die boere op die oomblik het en grasse is dan die belangrikste onkruide wat koring opbrengs kan beperk. In die eerste plek, aangesien canola 'n breëblaar gewas is, kan algemene grasdoders in canola gespuit word om grasse te beheer. Dit verhoed dat grassade tot die saadbank in 'n canola jaar toegevoeg word. Tweedens onkruiddoderweerstand, van veral raaigras, begin om ernstige negatiewe gevolge vir die Graanbedryf in te hou. Om canola in die wisselbou in te bring kry produsente een (1) van die min kanse wat hulle het om onkruiddoders met alternatiewe werking te gebruik, waar weerstand vir spesifieke groepe onkruiddoders in 'n kamp of plaas reeds ontwikkel het. Maar, en seker van groter belang, as onkruiddoderweerstand nog nie op die plaas voorkom nie, is die verbouing van canola een (1) van die beste opsies om onkruiddodergroepe van een (1) jaar na die volgende te wissel om te voorkom dat onkruiddoderweerstand op die plaas wel ontwikkel.
Ek dink dit is 'n baie belangrike aspek en ek hoop produsente kan hiervan meer gebruik maak. Wat is die belangrikste voordele van canola in 'n wisselboustelsel?
Na al die jare se werk en van ekonomiese ontledings blyk dit dat die belangrikste voordeel van canola is om boerdery risiko te versprei. Gedetailleerde langtermyn ekonomiese analises van produksie data afkomstig van ons wisselbouproef te Langgewens het gewys dat in vergelyking met koringmonokultuur byvoorbeeld: Eerstens 'n koring, canola, koring, lupien wisselboustelsel die beste opbrengs op kapitaalbelegging in die langtermyn gegee het. Dié stelsel was gelykstaande aan die opbrengs van 'n koring / medic stelsel; Tweedens produsente wat so 'n stelsel toepas se kontantvloei, het ook die potensiaal om vinniger te herstel, in 'n ramp jaar soos in 2003 waar koring opbrengste deur die droogte erg benadeel is.
Siektebeheer (algemeen)
Sandra Lamprecht
Kobus Stewart
Elke Donderdag gesels ons so bietjie oor canola. Hier by my vanmiddag is dan weer die Akkerboukundige Dr Jos de Kock wat die vrae vra.
Weer praat ons met Dr Sandra Lamprecht 'n bekende plantsiektekundige van die LNR in die Wes-Kaap en die onderwerp siektes in canola. Is daar enige wortelsiektes wat tans probleme skep in canola verbouing?
Ja, daar is belangrike siektes van canola wat deur grond gedraagdepatogene veroorsaak word. Die eerste een wat ek graag sal wil noem is saailing afsterf. Hierdie siekte word deur 'n kompleks van organismes soos Fusarium, Pythium en Rhizoctonia spesies veroorsaak. Dan ook 'n ander siekte wat belangrik is, is die hipokotielvrot wat deur Rhizoctonia spesies veroorsaak word, en dan het ons natuurlik ook probleme soms met sclerotinia stamvrot wat deur Sclerotinia sclerotiorum veroorsaak word. Ek wil ook net noem dat Leptoshearia maculans wat Swartstam by canola veroorsaak, ook die wortels van canola kan infekteer, maar op hierdie stadium weet ons nog nie eintlik wat die belang hiervan is by canola verbouing nie.
Kan hierdie siektes met saad behandeling beheer word, en hoe word dit gedoen?
Ja, twee (2) van hierdie siektes saailing afsterf en Hipokotielvrot kan baie effektief deur saadbehandeling beheer word. Saad behandeling beskerm natuurlik die saailinge slegs vir vier (4) tot ses (6) weke na plant. Ons is op die oomblik besig met 'n navorsingsprojek om 'n saad behandelingsmiddel op canola te registreer, en sodra dit gedoen is sal dit 'n groot bydrae lewer om vestiging by canola te verbeter. Ek wil ook net noem dat sclerotinia stamvrot ongelukkig nie deur saad behandeling beheer kan word nie.
Sê vir ons, watter bogrondse patogene is belangrik en hoe word dit beheer?
Die twee (2) belangrike bogrondse siektes is Swartstam, wat deur Leptoshearia maculans veroorsaak word, en Altenaria blaarvlek wat dan deur Alternaria brassicae veroorsaak word. Daar is op die oomblik geen chemiese middels vir die beheer van hierdie twee (2) siektes in Suid-Afrika geregistreer nie. Swartstam word gewoonlik taamlik effektief beheer deur weerstandbiedende cultivars te gebruik, en dan word albei hierdie siektes beheer deur skoon saad te gebruik, want beide van hierdie siektes word deur saad oorgedra. Verder word albei siektes ook deur stoppels oorgedra. So deur die oordrag deur stoppels te verminder, kan hierdie siektes beheer word, en dan kan wisselbou natuurlik ook gebruik word om hierdie twee (2) siektes te beheer.
Van wisselbou gepraat, watter bydra kan wisselbou lewer om die siektes te verminder?
Volgens my is wisselbou een van die mees effektiewe beheer maatreëls om hierdie siektes te beheer. Daar word in die algemeen aanbeveel dat canola slegs elke 4de jaar op dieselfde land verbou word, en dat canola nie binne 500m van die vorige jaar se canola stoppels verbou word nie. Die rede hiervoor is natuurlik dat meeste van die siektes van canola deur plantreste of stoppels oorgedra kan word.
Julle mense wat praat oor siektes maak mens soms bekommerd, maar sê vir my is daar enige onmiddellike gevaar van siektes in canola verbouing?
Ja, ek sou sê Swartstam is tans die belangrikste siekte van canola in Suid-Afrika, en dit kan natuurlik geweldige verliese veroorsaak, soos ons alreeds hier by ons plaaslik gesien het en ook oorsee. Hierdie siekte kan baie effektief beheer word deur weerstandbiedende cultivars, maar ons moet onthou dat die patogeen homself kan aanpas om hierdie weerstand te oorkom. Dit het reeds in Australië en ook tot 'n mate hier plaaslik gebeur, en ek wil voorstel dat navorsing op hierdie siekte op canola tans prioriteit moet geniet.
Siekte (swartstam)
Gert van Coller
Kobus Stewart
Nou hier by my is weer dr Jos de Kock die Akkerboukundige met sy gereelde Donderdag rubriek Dr Jos Vra, waarin daar spesifiek gekyk word na canola.
Vandag is die onderwerp van bespreking Swartstam in Canola, en ons praat met Gert van Coller 'n jong navorser wat op canola siektes werk vir die Departement Landbou, Wes-Kaap op Elsenberg. Gert in ons gesprek met Sandra verlede week het ons gehoor dat Swartstam 'n belangrike siekte in canola is. Wanneer kom die siekte voor en hoë word dit oorgedra?
Doktor die primêre bron van die siekte is canola stoppels van die vorige jaar. Na voldoende reën geval het sal spore vrygestel word vanaf die stoppels en dit word dan deur die wind oorgedra, na die saaillinge toe. Die simptome kan al waargeneem word op saailinge wat pas bo die grond verskyn het en hierdie vrystelling van spore kan ook vir 'n lang tydperk plaasvind. Die siekte kan ook oorgedra word, wanneer geïnfekteerde saad geplant word of as saailinge in direkte kontak met canola stoppels is. Jou koolagtige onkruide soos Ramnas en Wilde Mostert is ook potensiële bronne van besmetting.
Is daar verskille in vatbaarheid tussen die cultivars wat in Suid-Afrika verbou word?
Doktor vorige inligting het bevestig dat daar wel verskille is, maar in Afrika is daar min bekend hieroor. Cultivars met enkelgeen weerstand teen Swartstam het gewoonlik hoër vlakke van weerstand terwyl jou cultivars met weerstand met verskeie gene dikwels 'n laer vlak van weerstand het. Maar dis egter gevaarlik om slegs cultivars met enkelgeen weerstand aan te plant, aangesien hierdie weerstand binne 'n paar jaar oorkom kan word deur sekere rasse van die patogeen. Dit kan ly tot massiewe oesverliese soos wat verlede jaar in sekere dele van Australië waargeneem is. Daarom is dit veiliger om cultivars te verbou wat weerstand deur middel van verskeie gene het.
Is die Swartstam wat hier voorkom dieselfde as die in Australië?
Doktor op hierdie stadium is dit nog onseker. Swartstam word deur twee (2) verskillende swampatogene veroorsaak wat elk bestaan uit 'n reeks subgroepe wat verskil in hulle vermoë om siekte te veroorsaak. Die patogeen populasie wat in Suid-Afrika voorkom is tans nog onbekend, en ons beplan om die saak aan te spreek in my navorsing. Wanneer ons meer duidelikheid het oor die patogeen populasie van Suid-Afrika kan ons vasstel watter rasse van die patogene in staat is om weerstand in Canola cultivars te oorkom.
Sê vir ons kan die siekte chemies beheer word, indien wel hoe?
Doktor in Suid-Afrika is daar geen chemiese middels geregistreer teen Swartstam van canola nie. Vorige werk wat in Suid-Afrika gedoen is, was onsuksesvol om dit te beheer, en verdere probleme met chemiese behandelings is dat dit duur is en gewoonlik nie regverdig kan word met die opbrengs nie. Daar is onlangs in Australië goeie vordering gemaak om verskillende tipe chemiese behandelings te ontwikkel maar geen van hierdie praktyke is al getoets of geregistreer in Suid-Afrika nie.
Watter ander praktyke kan gevolg word om hierdie siekte te beheer?
Doktor nuwe canola aanplantings moet sover moontlik windop aangeplant word vanaf die vorige jaar se stoppels en 'n wisselboustelsel waar canola slegs eenkeer elke 4 jaar op dieselfde stuk grond verbou word. Oordraging van die siekte deur saad kan verminder word deur slegs gesertifiseerde saad aan te plant en wanneer 'n hoë insidensie van Swartstam waargeneem is kan die canola stoppels aan die einde van die seisoen in die grond ingewerk word of verbrand word om sodoende die siekte druk te laat afneem. Koolagtige onkruide soos Ramnas en Wilde Mostert is potensiële bronne van besmetting en moet dus ook beheer word, verder moet opslag canola plante ook so gou moontlik verwyder word aangesien dit patogene kan huisves. Die opslag canola plante kan gebruik word vir weiding waarna die land verkieslik met 'n kontakdoder gespuit moet word om hergroei te stop.
Beheer van slakke
Sandra Lamprecht
Kobus Stewart
Nou sluit ons aan by dr Jos de Kock, bekende Akkerboukundige vir ons Rubriek dr Jos Vra, waarin hy elke Donderdag so bietjie gesels oor canola.
Ons praat vandag met Sandra Lamprecht. Dr Lamprecht is 'n bekende plantsiektekundige en ook sameroeper van die Slakwerkgroep. Ons wil graag by jou weet Sandra as sameroeper van hierdie Taakspan wat is die doel van die span en hoe is dit saamgestel?
Dr De Kock, hierdie taakspan wat kyk na beter vestiging van canola of dan ook die Slakwerkgroep, soos ons algemeen bekend staan is deur die Proteïennavorsingstigting geïnisieer nadat daar heelwat probleme met vestiging van canola in veral die Suid-Kaap ondervind is. Nou hierdie span is saamgestel uit lede van die Proteïennavorsingstigting, navorsers, voorligters, produsente en dan ook werknemers van privaat maatskappye. Ons het beide kort- en langtermyn doelwitte. Korttermyn probeer ons om alle inligting rakende die oorsake van swak vestiging by canola in te samel. Dis natuurlik inligting soos skade wat deur slakke, insekte en swamsiektes veroorsaak word en langtermyn sal hierdie Taakspan ook projekte identifiseer wat dan hierdie probleem van swak vestiging by canola verder sal ondersoek.
Sê vir ons verder Sandra, is alle slakke 'n probleem by canola verbouing?
Ja slakke kan groot probleme veroorsaak tydens vestiging van canola. Ons het reeds drie (3) slak spesies in canola lande waar daar ernstige skade voorgekom het geïdentifiseer, naamlik Deroceras reticulatum, Deroceras panormitanum en dan ook Milax gagates. Van hierdie drie (3) spesies lyk dit vir ons of Milax gagates die mees skadelike is.
Hoe kan hulle chemies beheer word?
Slakke kan tans baie effektief chemies beheer word. Daar word slak pille gebruik wat metaldehied bevat en wat dan ook goeie reënvaste eienskappe het. Dit is egter belangrik dat 'n mens die slakpille toedien sodra canola gesaai is en dan ook na opkoms van die saailinge. Verder beveel ons dan ook aan dat aanplantings gereeld gemoniteer word vir slakke en dat die slakpille dadelik toegedien word indien nodig.
Is daar enige ander beheer maatreëls wat gevolg kan word of is hierdie al?
Ja, ek dink ons moet onthou dat slakke deur verskillende toestande bevoordeel word en deur hierdie toestande te vermy kan 'n mens dan die skade as gevolg van slakke heelwat verminder. Ons het byvoorbeeld gevind dat skade deur slakke gewoonlik erger is wanneer die saailinggroei deur koue, nat weerstoestande vertraag word. Slak skade kom ook baie meer voor op natter dele van 'n plaas, dan ook meer op klipperige grond of op grond wat 'n klei persentasie van 20% of hoër het. Dan is slakke natuurlik 'n groot probleem teen die koeler suidelike hellings. Verder het ons ook gevind dat slakke bevoordeel word deur bewaring van stoppels en soos ons almal weet het bewaringsboerdery heelwat voordele. Die taakspan het dus besluit dat oplossings vir hierdie slakprobleme binne bewaringsboerderystelsels gevind moet word.
Insekte beheer
Chris Cumming
Kobus Stewart
Nou weer vir ons rubriek dr Jos Vra waarin ons elke Donderdag so bietjie gesels oor canola as 'n alternatiewe gewas vir koring. Die bekende Akkerboukundige dr Jos de Kock, vra die vrae.
Ons onderwerp vandag is insekbeheer in canola en weereens maak ons gebruik van Chris Cumming wel bekende navorser in die Wes-Kaap. Is myte en erdvlooie 'n bedreiging en hoe kan dit beheer word en wanneer kom dit ook voor Chris?
Jos, rooibeensandmyte en erdvlooie is veral in die vroë vestigingstadium 'n probleem. Daar moet verkieslik met 'n geskikte saadbehandeling geplant word om die klein saailing te beskerm.
Skets asseblief aan ons die belangrikste luisprobleme in canola en die beheer daarvan.
Daar is drie (3) plantluis spesies wat van belang is in canola in die Wes-Kaap. Hulle is die koollluis, die raapluis asook die groenperskeluis. Die plantluise kan saailinge ernstig beskadig en tydens die blomstadium is luise 'n probleem. Sodra populasies hoog genoeg is moet hulle met 'n effektiewe middel gespuit word.
Die afgelope seisoen was daar gerugte van probleme met ruitrugmot. Is dit 'n ernstige plaag en hoe kan dit beheer word?
Ja, ruitrug mot larwes was 'n probleem by baie produsente en moes gespuit word. Gereelde verkenning is van kardinale belang, veral vanaf die blom stadium.
Sê vir ons wanneer kom bolwurm voor en hoe kan dit beheer word?
Bolwurm motte begin eiers lê wanneer daar kos is vir die larwes met ander woorde rondom die blomstadium. Soos met ruitrugmot is besmettings wisselvallig en monitering is noodsaaklik. Vir beste resultate moet bespuitings op klein larwes (ons praat van 3 na 7mm) plaasvind.
Is daar ander belangrike insekte waarna opgelet moet word en wanneer kom dit voor?
Jos, as koel en nat toestande heers tydens ontkieming kan slakke 'n groot probleem wees en groot skade aanrig. Ander plae soos loopers en Bagrada besies kom sporadies voor en sal net bespuitings regverdig as die getalle toeneem.
Dr Jos de Kock
Chris baie dankie, ek dink hierdie inligting is vir al ons produsente van waarde. Ons praat weer met jou.
Beheer van bolwurm
Chris Cumming
Kobus Stewart
Dr Jos de Kock, Akkerboukundige is vanmiddag weer hier by my soos elke Donderdag en hy vra vandag die vrae vir Chris Cumming, Voorsitter van AVCASA in die Wes-Kaap oor bolwurm by canola.
Chris, sê vir ons hoe lyk bolwurm kan dit maklik waargeneem word en op watter stadium kom dit voor?
Jos, bolwurms het kenmerkende strepe langs hulle sye. Hulle wissel van net oor die 1mm as hulle uitbroei, en hulle kan tot 3cm en effens groter word net voor die papie stadium bereik word. Hulle is gewoonlik bruin en skakerings van groen in kleur, maar die maklikste manier om hulle uit te ken is die sogenaamde "GT stripes" langs die kante van die bolwurm.
Sê vir ons kan hierdie insek groot skade veroorsaak, en hoe?
Jos, hulle vreet gate in jong peule en vrugte en hulle vreet soms tot binne in die peul. Die swam siektes dring die gate binne en sekondêre skade word veroorsaak en skade kan wissel van so min as 5% tot so veel as 80% afhangend van die bolwurmpopulasie.
Produsente beweer dikwels dat hulle nie weet hoe om te beheer nie. Is daar 'n drumpelwaarde of is daar 'n besmettingspersentasies, of hoe bepaal hulle wanneer moet hulle beheer en wat moet hulle spuit?
Jos, die algemene drumpelwaarde wat vir beheer van bolwurms in plek is, is 5 tot 10 larwes per 4 vierkante meter. Gereelde monitering vanaf vroeë peulvormingstadium is uiters belangrik om besmettings vroegtydig te identifiseer.
Dit beteken dat 'n man maar in die land in moet beweeg om te kan waarneem wat daar gebeur. Sê vir ons wanneer en hoe word die beheer gedoen?
Sodra hierdie drumpelwaarde bereik word, moet bespuiting begin, en omdat dit vanaf die blomstadium geskied word gewoonlik van ligte bespuiting gebruik gemaak. Kleiner larwes 1ste tot 3de "in star" of vervelling beheer die maklikste. Dit is baie moeilik om groot larwes dood te spuit. Ek wil net noem, daar is twee (2) groepe chemie beskikbaar: dit is piretroïdes en methomyl en daar is al sensitiwiteitsverskuiwing of 'n mate van weerstand met piretroïdes in sommige gebiede waargeneem en dit is baie belangrik om chemie af te wissel in die beheer van bolwurm.
Oestegnieke
Dirk Hanekom
Kobus Stewart
Nou weer ons rubriek dr Jos Vra, waarin ons elke Donderdag so 'n bietjie gesels oor Canola. En Dr Jos de Kock die Akkerboukundige, wat dan die vrae vra.
Vandag gaan ons gesprek oor die oestegnieke van canola, en daarvoor gebruik ons die kennis van die bekende akkerbouer en canola navorser op Elsenburg Dirk Hanekom. Dirk canola kan plat gesny word of direk gestroop word, watter metode word tans meer algemeen gebruik in die Wes- en Suid-Kaap?
Ja Dok, in die Suid-Kaap het baie van die produsente reeds die toerusting om plat te sny omdat daar natuurlik ook baie gars in die streek verbou word. En dan die klimaatstoestande in die Suid-Kaap vereis ook meer dat daar van hierdie metode gebruik gemaak word, aangesien canola baie stadiger ryp word as gevolg van die feit dat die temperature effens koeler in die streek is, en daar ook dikwels reën voorkom tydens die oestyd. In die Swartland is die situasie effens anders omdat nie al die boere toegang tot platsnyers het nie. Die canola is ook geneig om vinniger en meer egalig ryp te word, met die gevolg daar is baie canola wat wel direk gestroop word. Van die produsente wat redelike groot aanplantings in hierdie gebied het sal natuurlik neig om hulle canola eerder plat te sny, omdat dit die druk so effens sal verlig tydens die oestyd.
Wat is die voordele van platsny?
Ja, die belangrikste voordeel van platsny, is natuurlik dat jy baie meer uniformige rypwording kry, veral waar jy ongelyke stande het en waar jou grondtipes dan verskil. Canola is ook geneig om baie sneller en meer uniform uit te droog wat dan weer natuurlik jou vog probleme by lewering verminder. Dit vergemaklik ook die oesproses, en dit maak dit moontlik dat jy die canola in baie gevalle vroeër kan oes. Wat natuurlik baie belangrik is, is die verminderde saadverlies tydens rypwording en die oes van die gewas.
Dirk wat is die korrekte sny hoogtes van platsny, en hoekom word dit so gedoen?
Ja, die korrekte sny hoogte is om die canola te sny bokant die vertakking van die plante, om 'n mik te vorm waarin die windry kan lê, sodat die canola windry nie deur die wind weg gewaai kan word nie, en ook dat dit nou nie diep in die stoppel insak nie. Hierdeur word beter lugvloei verseker en die hoeveelheid materiaal wat dan deur die platsnyers en die stroper gehanteer moet word, is ook baie minder. Dit is verkieslik dat saam met die normaal heersende windrigting gesny word, en dan ook verkieslik van die kant, waarna die peule lê opgetel word.
Jy is self tans besig met navorsing oor oestegnieke. Wat is jou voorlopige bevinding, is daar iets beter as platsny?
Ja, platsny het beslis 'n voordeel by die oes van Canola veral waar daar ongelyke of onegalige rypwording voorkom. Waar geskikte toerusting nie beskikbaar is nie, kan die canola met 'n skroeimiddel of ook genoem 'n ontblaringsmiddel soos Paraquat gespuit word wat baie goeie resultate lewer. Ek wil produsente egter net waarsku dat die werking van ontblaring baie vinnig is en dat die risiko van oopspring groter is as by die stand waar canola toegelaat word om normaal uit te droog. Canola kan onder normale toestande waar 'n egalige stand voorkom met groot sukses natuurlik direk gestroop word. Die maak of breek van hierdie tegniek is natuurlik die voginhoud asook die relatiewe humiditeit van die omgewing. My navorsing toon dat die tyd van die dag wanneer daar gestroop word, en opgetel word, bitter belangrik is, aangesien dit die voginhoud van canola bepaal. Die voginhoud hou direk verband met die persentasie oesverliese wat mag voorkom al dan nie.
Dr Jos de Kock
Dirk, baie dankie vir hierdie inligting, ek dink boere sal beslis hieraan aandag skenk, want die tyd vir oes is nie meer so vêr nie.
Oesstadium
Dirk Hanekom
Kobus Stewart
Soos elke Donderdag gesels ons vandag weer oor Canola, en dr Jos De Kock die Akkerboukundige gesels dan met Dirk Hannekom daar op Elsenburg.
Dirk ons het nou al gehoor dat platsny die mees algemene oes metode in die Wes- en Suid-Kaap is, op watter stadium moet die plante platgesny word en hoe word dit bepaal?
Wel platsny behoort plaas te vind wanneer 40 tot 60% van die sade verkleur het. Canola word egter van onder af ryp met die gevolg dat sade op sekere hoogtes gebruik moet word om die rypheid stadium te bepaal. Die aanbeveling is dat genoeg peule in die middel van die plant gemonster moet word. Ook moet daar in verskillende plekke in die land gemonster word om die korrekte gevolgtrekking te maak. Praktiese bepaling is dat jou sade ferm moet wees wanneer daar met die vinger gerol word, en die vog inhoud lê gewoonlik so tussen 30 en 35%.
Sê vir ons hoe lank na blomstadium word die korrekte stadium vir platsny bereik?
Dit hang af van jou omgewingsklimaat, maar dit is gewoonlik as jou canola gereed vir platsny is, wat so tussen veertien (14) tot agt-en-twintig (28) dae nadat die blomstadium voltooi is. Die blomstadium is voltooi wanneer daar nog minder as 10% van die blomme sigbaar is en jou peule oorwegend klaar gevorm is.
Hoe lank na platsny kan die plant opgetel en geoes word?
Ja, weereens hang dit af van die heersende omgewingstoestande, soos jou dagtemperature, die wind, die hoeveelheid dou wat daar snags mag voorkom. Sodra jou vog in die saad benede 8.5% daal, kan dit opgetel word. Dit neem normaalweg so tussen sewe (7) tot tien (10) dae. As daar drogingsfasiliteite beskikbaar is kan dit self by 'n hoër voginhoud opgetel word.
In die vorige program het jy vir ons gesê dat canola ook direk gestroop kan word, watter stadium kan dit gedoen word?
Ja, canola kan met groot sukses direk gestroop word, maar weereens noukeurige en tydige monitering van die stand van rypheid tydens die oesproses is baie, baie belangrik. Canola is gereed vir oes sodra die peule begin geel verkleur het, en die sade is donker van kleur en as jy die peule skud dan ritsel die sade binne in die peul. Indien drogingsfasiliteite beskikbaar is kan daar selfs van 14% vog gestroop word. Canola kan egter slegs benede 8.5% vog opgeberg word. Die metode wat gebruik word is om genoeg peule op verskillende sytakke van die plant op verskillende dele van die land te monster om dan 'n totale beeld te kry. Sodra die Canola plant volwasse is dan raak dit gewoonlik baie vinnig ryp en kan hierdie optimum oestydperk wat ons kry slegs enkele dae wees. So dit is belangrik om gereeld te monitor. Die rypwording begin van die basis van die stingel en beweeg opwaarts so daar moenie gewag word dat die plante heeltemal dood ryp is voordat die oesproses begin word nie, aangesien dit kan lei tot groot saad verliese. Selfs die olie-inhoud kan nadelig beïnvloed word en produsente moet maar die paar groen peule wat daar dalk mag voorkom aan die bo punte van die plant ignoreer.
Laastens, watter nadele is gebonde aan te vroeg platsny?
Ja, te vroeg platsny kan verliese in opbrengs, olie persentasie, proteïen-inhoud en selfs die kwaliteit van die olie meebring. Waar daar teveel groen sade voorkom, kan dit lei tot hoë chlorofil vlakke in die olie wat geneig is om die olie te laat donker word wat natuurlik onaanvaarbaar is vir die verbruiker.
Oes van canola
Pietman Lourens
Kobus Stewart
Nou weer vir ons rubriek Dr Jos vra, elke Donderdag waarin ons bietjie gesels oor canola en sluit ons aan by dr Jos de Kock die Akkerboukundige.
Ons gesels vandag met 'n bekende canola boer en dit is mnr Pietman Lourens. Hy is ook die Voorsitter van GSA in die Wes- en Suid-Kaap. Pietman julle is hard besig met die canola sê vir ons wanneer is die beste stadium om canola plat te sny?
Ons het 'n praktiese implikasie wat ons toepas. Ons loop deur die land pluk impulsief peultjies vir ± 50 meter uit mekaar uit. Dan vryf jy daai peultjies oop tel hulle en as daar so 40 tot 50% van hierdie peultjies gekleur het vanaf groen na enigsins geel, bruin of swart toe weet jy, jy kan sny. Wat die twee (2) metodes betref die een is waar hulle reguit die canola werk met die stropers en die ander is platsny, maar as gevolg van die variasie in weersomstandighede wind, reën, ensovoorts is dit baie moeilik om die verskil in die verliese van die twee (2) metodes te bepaal. Dan is dit natuurlik by platsny baie belangrik om nie korter as 300mm verkieslik tot by 400mm plat te sny nie. Sny so hoog as moontlik plat.
Sê dan vir ons hoe lank na platsny kan canola opgetel en geoes word?
Jos, ons kyk so na ± 14 dae afhangende natuurlik nou van die weer en dan ook na stroper beskikbaarheid. As jy een (1) stroper het en sê jy het 500-600 ha wat jy moet afhaal dan natuurlik gaan jy vroeër begin oes, maar dan word drogingskoste weer 'n probleem. Dit sal ideaal wees as jy hom 14 dae kan laat lê en jou stokke wat nog staan raak voos sodat as jy hom optel die "pickup" nie daaistokke vorentoe druk wat die ry vashou nie maar wel afknak, dit is dan jou minste verlies wat jy kan kry.
Pietman baie interessant. Ons is ook geïnteresseerd in wat jy as praktiese boer sê, watter gevare wag vir 'n mens / waarna moet boere veral oplet en gee vir ons 'n aantal wenke wat jy in die praktyk al geleer het?
Jos, ja vinnig is daar baie klein goedjies, soos die terughou van eie saad. Dit veroorsaak swak ontkieming, daar is swak groeikragtigheid. Jou eie saad terughouding het ook groot effek op jou olie-inhoud van die canola wat jy die jaar daarna oes. En hulle gaan weer in die toekoms op olie-inhoud gradeer. Dan moet hulle ook onthou canola kan skoon gedors word, praat van tussen 4-5% sifsels sonder dat jy mors. Ons moet oppas om te min wind te gee wanneer ons canola dors omdat hy so klein is, is ons bang vir te veel wind. In die ou tyd het ons gepraat van "jy het 'n oorry op jou stroper se siwwe" en dit is baie gevaarlik en jou vermorsing is hoër. So moenie te suinig wees met jou wind nie. Dan, moet tog nie canola self probeer opberg nie, selfs al is hy droog. Lewer hom maar by jou landboubesigheid. Hulle is ingerig om dit te doen en hulle kan dit ordentlik doen. Dan soos met lupiene moet onthou word, canola se doel is 'n wisselbougewas om jou grasonkruide met weerstandbiedenheid uit te haal. Die opbrengs wat ons kry is 'n bonus. Nou ons is nou alreeds daar weens finansiële implikasies dat as jou opbrengs swak is dan wil ons nie saai nie, ons moet net onthou sy hoofdoel bly 'n wisselbou-gewas soos lupiene ook destyds was. Dan hierso Januarie / Februarie as jy lekker reën kry en daar is baie opslag op jou land dan dink jy, jy het baie skaapkos, onthou net dat jy of te laat platgesny of jou stroper mors. Dan as jy begin oes, sorg dat jy 'n paar rolle plastiese "tape" by jou het. Al die gaatjies op die stroper wat jy kan sien moet jy maar toeplak en jou massa bakke moet jy maar almal toeplak tot jou gleuwe aan die onderkant moet jy ook maar toeplak. Iets anders wat ook interessant is as jy te groen platsny laat hom definitief 14 dae lê anders kan jy chlorofil probleme kry. Ons neig om te vinnig op te tel, jy kan maar redelik stadig optel al kan jou stroper vinniger hom inneem om 'n groter kapasiteit, moet nie te vinnig probeer dors nie. Koel dag is natuurlik ideaal, maar is nie nodig om hom in die nag op te tel nie. Baie belangrik, moenie hom doodspuit, met middels wat nie geregistreer is nie as jy hom wil reguit werk of "straight werk", soos ons sê nie.
Kwaliteitsaspekte
Jannie Bruwer
Kobus Stewart
Nou weer ons rubriek dr Jos Vra. Dr Jos de Kock die Akkerboukundige is weer vanmiddag hier by my en elke Donderdag dan gesels ons so bietjie oor canola.
Vandag is ons onderhoud dan met Jannie Bruwer, 'n bekende akkerboukundige van Sentraal Suid Koöperasie (SSK) by Swellendam en ons wil van hom weet of canola se kwaliteitseienskappe na wense is. Nou Jannie word Canola graan nadelig beïnvloed deur omgewingsfaktore.
Ja Dr, ongeveer 90 to 95% van die finale olie-inhoud word deur omgewing faktore bepaal. Die res word as gevolg van die genetiese potensiaal van die Cultivar bepaal. Omdat die olie-inhoud die laaste komponent van saadontwikkeling is kan vogstres of ryp van middelblom tot saadvul 'n invloed op die persentasie olie-inhoud hê. Warm weer gedurende hierdie periode het tot gevolg dat blomme afspeen en opbrengs verlies tot gevolg het, maar geen invloed op die olie-inhoud nie.
Sê vir ons is die stadium van platsny belangrik vir goeie kwaliteit, en wanneer moet dit geskied?
Ja, die platsny stadium van Canola is baie belangrik, want die platsny op optimumstadium, veroorsaak of het tot gevolg dat ons maksimum olie-inhoud het en minimum verliese. Wanneer ons te vroeg platsny kan saadgrootte, olie-inhoud en opbrengs nadelig beïnvloed word. Nog 'n verdere nadeel van te vroeg platsny is, dat sade nie fisiologies ryp kan raak of volwasse raak nie, en dan groen pitte tot gevolg het. Hierdie chlorofil speel 'n rol by gradering en dit het ook 'n invloed op die kwaliteit van die olie. Nou op die tweede vraag wanneer canola platgesny moet word sê die literatuur vir ons die saad verkleuring moet tussen 40 en 70% wees. Persoonlik verkies ek 'n saad verkleuring van tussen 50 en 60% die vog inhoud is dan rofweg tussen 30 en 40%. Om hierdie saad verkleuring te bepaal moet daar rofweg 100 peule gepluk word, wat verteenwoordigend van die land is. Omdat saad rypwording aan die onderkant van die plant begin, moet ons peule aan die onderkant, die bokant en die middel van die plant aan die hoofhalm gepluk word om rypheid te bepaal. En dan kyk jy na sade wat van groen na geel, bruin of swart verkleur tel dit dan. Hou saad teen 'n wit agtergrond. Rofweg kan ons monsters begin neem 15 dae na einde blom. Ek wil net vinnig noem dat einde blom word gedefinieer as die punt waar daar nog rofweg 10% blomme aan die plant is met 'n lig geel skynsel op die land. Canola is ook ideaal vir platsny net vir 3 of 4 dae en hierdie periode is rofweg 21 to 25 dae na einde blom, maar klimaat speel ook 'n baie belangrike rol. Die verkleuring kan vinniger plaasvind as dit baie warm is as wat dit in koeler temperature gaan wees.
Dis nou 'n hele mond vol, sê vir ons. Ons weet dat nagenoeg 2 seisoene gelede daar erg kommer was oor groen korrel in canola graan. Kom dit dikwels voor?
Dr Jos, nie werklik nie. Vroeër jare het dit voor die begin van oestyd voorgekom, maar die probleem het dan later verdwyn. Volgens Kanadese literatuur kom hierdie groenpitte in canola voor wanneer die chlorofil vasgelê word in die saad en dit nie fisiologies kan ryp raak nie. So daar is 'n klompie faktore wat hierdie groen pitte kan veroorsaak, en dit kan wees vroeë ryp, warmdroëtoestande, te vroeg platsny, siekte en cultivar eienskappe. Twee (2) seisoene gelede is baie warm droë toestande tydens die rypwordingstadium ondervind, en normaalweg sny ons canola plat wanneer die vog so tussen 30-40% is. As gevolg van die droëtoestande het die canola baie vinnig sy vog verloor tot onder 20% en die ensiem wat nodig is om die chlorofil te laat verdwyn werk by 'n saadvog persentasie van 20% en die ensiem kon met ander woorde nie 100% sy werk doen om die normale rypwordingsproses te laat plaasvind nie. Nog 'n rede kan wees, te vroeg platsny wat ook groen saad tot gevolg het. Ons kan egter op die regte stadium platsny maar dan te vinnig die canola optel, met ander woorde die normale rypwordings proses kan dan nie volledig plaasvind nie. Ek dink daardie betrokke jaar was daar 'n kombinasie van warm droë toestande en canola wat te vroeg platgesny is.
Aansluitend hiertoe, hoekom is dit nadelig vir olieproduksie?
Hierdie groen pitte gee vir die canola-olie 'n groenerige kleur. Die proses om die groen kleur te verwyder is baie moeilik.
Het dit ook 'n nadelige effek as canola vir veevoer gebruik word?
Dr Jos, volgens my is daar geen nadele vir veevoer nie.
Laastens net: is daar nog navorsing in Suid-Afrika nodig oor kwalitietsaspekte van canolagraan?
Dr Jos, ek dink tog so, want as ons kyk na die olie inhoud wat die Australiërs kry is dit baie hoër as in Suid-Afrika. Ons gebruik dieselfde cultivars as die Australiërs en as ons die omgewingsfaktore buite rekening laat wat 'n invloed op die olie inhoud het is daar dalk moontlik produksie praktyke wat 'n hoër olie inhoud tot gevolg kan hê.
Canola van plaas tot fabriek
Kellie Becker
Kobus Stewart
Nou weer vir ons rubriek Dr Jos vra, elke Donderdag gesels ons 'n bietjie oor canola en die bekende Akkerboukundige, dr Jos de Kock is dan vanmiddag hier by my.
Ons praat vandag weer met Kellie Becker, Hoofbestuurder van Southern Oil (SOIL) en die onderwerp wat ons bespreek is hoe kan 'n mens canola hanteer van die plaas tot by die fabriek. Kellie, eerstens watter prosedure moet op die plaas gevolg word om canola by die regte vog persentasie te kry vir lewering en wat is die vogpersentasie?
Ja dr Jos, normaalweg sny die produsent sy canola plat wanneer omtrent 40-60% van die pitte bruin verkleur het. Daarna moet hy vir minstens twee (2) weke die goed in rye laat lê voordat hy begin oes. Ondervinding het geleer dat die optimale vog persentasie ± 10% is om teen te oes. As die boer te droog oes is die oesverliese onnodig groot en waar hy weer te nat dors gaan hy baie aan drogingskoste spandeer. Die basis vir vog is 8 tot 12%, waar die graandepot canola vir SOIL ontvang. Op Swellendam word canola ontvang wat selfs tot 16% vog het. Dit is nie nodig vir die produsent om self te droog nie.
Moet canola op die plaas skoongemaak word vir lewering en indien wel, hoe?
Nee, dit is geensins nodig nie, tensy die boer se saad baie vuil is of as dit voorwerpe bevat wat volgens die gradering nie toelaatbaar is nie. Onder normale omstandighede word canola ontvang tot en met 10% vreemde materiaal of ander graansade en sifsels. Ek weet egter van gevalle waar canola saad baie vuiler as dit gelewer is en sonder probleme ontvang is by die leweringspunt. Die graandepot wat vir SOIL canola ontvang is oor die algemeen baie akkommoderend wat dit betref.
Hierdie inligting is vir die boer natuurlik van baie waarde. Sê vir ons is daar enige ander behandeling wat canola moet ondergaan en wat is dit. Watter eienskappe moet die produsent aandag aan gee as hy canola begin oes?
Canolasaad hoef geensins behandel te word nie doktor. Die produsent moet spesifiek net let op chlorofil in die saad. Ons het twee (2) jaar terug so bietjie probleme met chlorofil gehad. Dit is wanneer die saad 'n duidelike groen kleur kry aan die binnekant, wanneer jy hom platdruk. Dit ontstaan gewoonlik as jou saad ryp word in die afwesigheid van voldoende vog of as gevolg van ryp (koue) en is meestal seisoensgebonde. Ons ondervinding is dat dit help om die canola langer in die rye te laat lê, veral as dit 'n bietjie reën kry. Ons laat toe vir tot 6% groen pitte. Verder is ons baie sensitief op onaangename reuke, gemufte pitte of pitte wat deur hitte beskadig is. Al hierdie faktore ontstaan normaalweg as die canola saad met 'n te hoë vog of gebrek aan ventilasie gestoor word. Die produsent moet dus maar versigtig wees om canola self te probeer stoor. Dit kan baie maklik 'n baie duur oefening raak. Dit is die beste om die saad so vinnig as moontlik na die oes by een (1) van ons onderskeie leweringspunte te lewer. As die produsent nie binne bereik van so 'n ontvangspunt geleë is nie kan hy gerus met ons by SOIL skakel en ons kan reël vir die vervoer van die saad vanaf sy plaas.
Canola: graderingsregulasies
Dirk van Papendorp
Kobus Stewart
Nou weer vir ons rubriek Dr Jos vra, elke Donderdag gesels ons 'n bietjie oor canola en die bekende Akkerboukundige, dr Jos de Kock is dan vanmiddag hier by my.
Ons praat vandag met Dirk van Papendorp, bekende canola boer en Voorsitter van die Canola Bedryfskomitee (CBK). Dirk, julle is al geruime tyd besig met graderingsregulasies op canola. Wat is die doel hiervan?
Ja dr Jos, soos almal seker weet is canolaproduksie in 'n groeiende mark en soos by enige groeiende mark neem kopers aan die begin alle tonne van die produk geproduseer (ongeag kwaliteit) op, aangesien dit vir almal 'n leer kurwe is. Namate rolspelers van beide kante (produsent en verwerker) egter die produk en sy unieke eienskappe leer ken, kan die geneigdheid ontstaan om standaarde te begin manipuleer tot voordeel van hetsy die koper of die verkoper se eie unieke omstandighede. Kortom vir een (1) koper mag byvoorbeeld sifsels geen rol speel nie in die bepaling van aankoopprys nie, terwyl by 'n ander se prosesse dit 'n wesenlike rol speel. Net so kan die produsent ook manipuleer om byvoorbeeld hoër sifsels te lewer omdat daar nie 'n perk aan hom gestel word nie en dit kan sake vir die koper dan aansienlik bemoeilik. Dit is maar net een (1) van die faktore. 'n Ander rede is om 'n internasionaal erkende standaard in die binnelandse mark te skep waaraan ook byvoorbeeld 'n ingevoerde, kompeterende produk sou moes voldoen. En dan derdens, om 'n geordende verhandeling van die produk in die binnelandse mark te verseker. Beide koper en verkoper erken die intrinsieke waarde van die produk.
Ek besef dit kan vir produsente meer na beheer klink, maar die regulasies word reeds toegepas op 'n proeflopie-basis. Hoe vind die toepassers dit, werk dit en sal dit aanvaar word?
Ja, dr die regulasies is deur 'n loodskomitee wat uit alle verteenwoordigers van die bedryf bestaan opgestel en in sy konsepvorm is dit alreeds in 2004 se oesseisoen in die praktyk getoets. So dit was al verlede jaar gebruik. Omdat baie van die parameters alreeds etlike jare net so in die praktyk gebruik word, is daar verbasend min wat nie reeds beproef is nie. Die enkele veranderlike wat tans bietjie skaafwerk nodig het, is die bepaling van 'n aanvaarbare sifselpersentasie. Drie persent (3%) was die norm as sifsels met 'n laboratoriumreiniger bepaal is, maar die regulasies skryf die handsiffie metode voor wat nie heeltemal so skoon maak soos lab-reiniger nie. Die probleem ontstaan dus dat 'n verwerker se sifselverlies groter is as wat hulle volgens die regulasie aangekoop het. Laboratoriumreinigers is egter duur en ons het gevoel ons wil nie as gevolg hiervan produksie uitbreiding kortwiek nie. Die gevoel is dus dat die sifselspersentasie dalk afwaarts aangepas behoort te word. Ons wou nie 'n lukrake besluit hieroor neem nie en het dus besluit dat alle graanhanteerders vir ons deur die 2005-oes data bymekaar moet maak. So 'n groot streekproef kan ons help om die regte sifselpersentasie neer te lê. Enkele probleme kom ook soms voor by die interpretasie van groenpitte of dan chlorofil inhoud. Die gedagte is hier om moontlik 'n kleurkaart op te stel wat met gradeerderopleiding gebruik kan word. Ons het ook die moontlikheid ondersoek om olie-inhoud in die regulasie in te bring, maar vanweë probleme met die bepaling daarvan by lewering, het die bedryf gevoel dat dit liewer moet oorstaan. Die voordeel van olie-inhoud sou egter vir beide die produsent en die verwerker daarin lê dat by cultivarkeuse, olie-inhoud ook punte sou tel en dus kon die bedryf in sy geheel hierby baat. Ons is egter nog nie klaar met hierdie punt nie en sien daarna uit om vordering daarop te monitor en te kyk of ons dit nie wel oor twee (2) of drie (3) jaar kan inbring nie.
Gebruike (veevoer)
Munro Griessel
Kobus Stewart
Nou weer terug na ons program met Dr Jos De Kock die akkerboukundige met sy gereëlde Donderdag rubriek Dr Jos Vra, waarin daar spesifiek gekyk word na Canola. Dr Jos is vandag siek, daarom sal ek maar die vrae vra. Ons gesels vandag met Dr Munro Griessel die Voorsitter van die Tegnologiekomitee van die Proteïennavorsingstigting.
Nou Dr kom ons praat so bietjie oor die gebruike van canola as 'n veevoer. Eerstens net kan canola as 'n veevoer gebruik word en in watter vorm?
Kobus ja, canola saad kan as sulks in sekere voere gebruik word, en in hierdie vorm dit wil sê die saad praat ons gewoonlik van die volvet canola. Die ander vorm is Canola oliekoek, dit wil sê die produk wat oorbly nadat die olie uit die canola saad gepers is. By enkelmaag diere word die verteerbaarheid van canola saad aansienlik verbeter deur die saad te maal of dit deur 'n rol pers te rol. By herkouers egter is maal of die rol van die saad nie nodig nie. Ek kan ook noem dat werk by die Universiteit van Natal op braaikuikens aan die lig gebring het, dat wanneer die rantsoen verpil word dit ook nie nodig is om die saad te maal nie.
Het canola 'n goeie waarde as veevoer?
Ja, volvet canola se waarde in braaikuikenvoer byvoorbeeld is, 94% van die waarde van sojaboon-oliekoek. Gewoonlik wissel sojaboon-oliekoek tussen 45 en 47% proteïen, maar jou volvet canola is omtrent 94% van die waarde van die sojaboon-oliekoek. Hierteenoor het canola-oliekoek omtrent 65% van die waarde van sojabone-oliekoek in 'n braaikuikenvoer. Canola-oliekoek se proteïen-inhoud is omtrent 37% teenoor die 47% wat ons in sojaboon-oliekoek kry. Wat die aminosure betref wil ek noem dat alhoewel sojaboon-oliekoek 'n hoër lisieninhoud het as canola, die ander tipiese aminosure soos, metionien, sisteien en treosien baie gunstig vergelyk met die van sojaboon-oliekoek.
Dr, ons weet dat sojabone verhit moet word om die beste resultaat te kan kry, is dit met canola ook nodig om te doen?
Kobus, dis 'n goeie vraag, laat ek jou so antwoord. Sojabone bevat antivoedingsfaktore, waarvan jou tripsien inhibeerders waarskynlik die belangrikste is. Hierdie tripsien inhibeerders vorm komplekse verbindings met die verteringsensiem tripsien wat deur die pankreas afgeskei word. Met ander woorde hierdie tripsien inhibeerders deaktiveer die verteringsensiem tripsien. Die gevolg is dat proteïen vertering ernstig in die wiele gery word. Gelukkig word hierdie inhibeerders deur voldoende hitte behandeling vernietig. Om dus behoorlike proteïen benutting te bewerkstellig moet sojabone verhit word. Canola bevat nie hierdie tripsien inhibeerders nie, en daarom is die hittebehandeling nie by canola nodig nie.
Nou Dr, word canola in die res van die wêreld ook as 'n veevoer gebruik?
Kobus ja, canola word wêreldwyd in verskeie veevoer rantsoene gebruik. Om sy belangrikheid as veevoer en plantolie aan te toon, mag ek noem dat verwag word dat gedurende die 2004/2005 seisoen 46,1 miljoen ton canola wêreldwyd geproduseer gaan word. Wat dit na sojabone die 2de hoogste geproduseerde oliesaad in die wêreld maak.
Gebruike (olie)
Kellie Becker
Is canola-graan 'n goeie olie-bron (Suid-Afrika en wêreld)?
Ja, canolasaad bevat ongeveer 40% olie. In Suid-Afrika beslaan canolasaad 4-5% van die produksie van oliesade. Internasionaal beloop die produksie van raapsaad en canolasaad ± 11% van alle oliesade geproduseer, maar dit lewer 19% van die olie afkomstig uit oliesade.
Is die gehalte van canola-olie goed of minder goed?
Canola-olie is besonder goed in terme van menslike gesondheid deurdat dit ±10% omega-3 vetsure bevat en die laagste in versadigde vette is van alle olies. Canola-olie word byvoorbeeld deur die Hartstigting aanbeveel vir gebruik om hierdie rede.
Is die prosessering van olie in Suid-Afrika op dieselfde vlak as die res van die wêreld?
Die prosesse wat gebruik word is basies dieselfde, met die verskil dat internasionale oliepersers meestal op 'n baie groter skaal werk, wat 'n laer eenheidskoste meebring.
Produseer Suid-Afrika genoeg canola vir die mark of kan ons nog meer produseer?
Soos die publiek bewus word van die goeie gesondheidseienskappe van canola-olie groei die vraag daarna. Hoewel canola-olie hierdie unieke gesondheidseienskappe besit, word dit geprys om vir die breë publiek bekostigbaar te wees. Dit beteken dat daar nog baie potensiaal is in die mark vir canola-olie en vir produkte van canola-olie.
Waarvoor word canola-olie hoofsaaklik gebruik?
Canola-olie vaar uitstekend, as kookolie vir alle huishoudelike gebruike, en dan ook as bestandeel in margarien, slaaisouse, mayonaise en ook vir diepbraai.
Benutting van canola op die plaas
Tertius Brand
Kobus Stewart
Nou hier by my is ook weer Dr Jos de Kock, Akkerboukundige met sy rubriek Dr Jos Vra. Die afgelope paar maande het ons elke Donderdag so bietjie gesels oor canola. Net so terloops hierdie reeks loop nou volgende week ten einde.
Ons praat vanmiddag met Dr Tertius Brand bekende veekundige en spesialis navorser op Elsenburg, ons wil van hom weet hoe kan ons canola op die plaas benut. Tertius wat is die voedingswaarde van canola vir plaasdiere?
Wel Dr, eerstens moet daar onderskeid getref word tussen volvet canola. Dit is die ongeprosesseerde canola saad en dan canola-oliekoek wat die residu is nadat die olie meganies uit die saad uitgedruk is. Nou beide hierdie produkte is hoë kwaliteit produkte wat baie goed deur plaas diere benut word. Die proteïen-inhoud van plaaslik geproduseerde volvet canola is ongeveer 27% met 'n olie inhoud van so 36%, daarteenoor het canola-oliekoek 'n proteïen inhoud van 36% en 'n olie inhoud van ongeveer 9%. 'n Belangrike aspek is die relatiewe geld waarde van volvet canola wat so 90 tot 95% van die waarde van sojaboon-oliekoek is, en die geld waarde van canola oliekoek wat ongeveer 70% van die geldwaarde van sojaboon-oliekoek.
Tertius dankie, hoe kan canola in die rantsoene van skape, varke, volstruise, melkkoeie en hoenders benut word?
Doktor, plaaslike navorsing wat deur die PNS befonds is dui daarop dat ideale rantsoen insluitingspeile van volvet canola en canola-oliekoek so tussen 12 en 15% vir skape en tussen 6 en 12% vir melkbeeste is. Wat enkelmaag diere betref is die ideale insluitingspeile in die diëte van varke so 12 to 18%, vir volstruise is dit ongeveer 10%, en vir hoenders tussen 5 en 10%. Dit is interessant om te weet dat met die insluiting van volvetcanola in die diëte van hoender, vark en melkkoeie 'n gesonder vet en melkvet profiel verkry is. Dit is 'n hoër konsentrasie onversadigde teenoor versadigde vette. Dus baie gesonder. Dit is verder vir produsente belangrik om te onthou dat die beste benutting van volvet canola verkry word, indien die canola saad met graan vermeng word tydens die maal proses.
Kan jy vir ons sê is canola stoppellande van enige waarde?
Doktor, 'n studie wat op Elsenberg uitgevoer is het aangedui dat canola stoppellande goed deur weidende diere benut word, en met korrekte byvoeding kan twee ooie per hektaar vir langer as 3 maande aangehou word. In 'n ander studie het skape wat canola stoppels bewei het self beter gevaar as 'n vergelykbare groep, wat koringstoppel bewei het.
Dr Jos De Kock
Boere, daar het u die antwoorde as u dalk die canola op die plaas wil benut. Dankie Dr Brand, ons praat weer.
Slot
Kobus Stewart
Ons reeks programme waaroor ons hier van Maart af oor canola gesels het, die loop nou vandag ten einde. By my in die alteljee vandag dan weer dr Jos de Kock, Akkerboukundige wat dan hierdie reeksprogramme vir ons hanteer het en ook Gerhard Scholtemeijer, Voorsitter van die Proteïennavorsingstigting en ook Voorsitter van die Canolawerkgroep.
Dr Jos u het nou sedert 17 Maart 2005, namens die PNS elke week 'n program oor canola oor die lug gehad. Was dit die moeite werd volgens die terugvoer wat u gekry het?
Gerhard, om die waarde van so 'n program te kwantifiseer is dikwels nie haalbaar nie. Ja, ons kantoor het verskeie navrae en soms wenke en kommentaar ontvang, maar om dit te meet is nie moontlik sonder om partydig te wees nie. Die PNS glo en ek glo dat ons antwoorde verskaf het aan mense wat nie voorheen canola verbou het nie en ook bevestiging gegee het van sekere sake aan produsente wat gesoute canola-boere is.
Dr Jos, die program het grootliks bestaan uit vrae en antwoorde wat waardevolle inligting omvattend ingesluit het. Sal dit beskikbaar wees indien belangstellendes dit wil bekom?
Ja, die PNS beplan om al die opnames in 'n gebinde vorm beskikbaar te stel aan die wat daarom vra. Hierdie dokument behoort vanaf Januarie 2006 beskikbaar te wees en kan bestel of aangevra word van telefoon +27 11 803 2579 of faks pns@proteinresearch.net. Die inligting sal ook op die PNS webwerf beskikbaar wees.
Wil u dan sommer vir ons luisteraars sê hoe sien die PNS die toekoms van sulke vrae?
Die PNS is van mening dat hierdie program in dieselfde of gewysigde formaat voortgesit moet word in 2006. Daar is tans ook bespiegelinge dat buitelandse fondse bewillig is om 'n aanleg op te rig om biodiesel uit canola-olie te produseer. Sou dit werklikheid word is dit des te meer noodsaaklik om die program voort te sit om vrae van nuwe produsente te probeer antwoord. Kan ek ter afsluiting dan dankie sê vir die geleentheid wat ek gehad het om by hierdie program betrokke te wees en 'n besondere groot dankie aan al die kundige en bekwame deelnemers en ek kan nie nalaat om ook aan Kobus Stewart dankie te sê vir sy bydra nie.
Gerhard Scholtemeijer
Luisteraars, ek wil my graag aansluit by dr Jos en wil ek namens die Raad van die PNS, die Canolawerkgroep en almal wat belang het by canola aan dr Jos en Kobus Stewart en ook almal wat gehelp het om die canolaprogram so 'n groot sukses te maak, ons hartlike dank oor te dra vir al die moeite en harde werk, deeglike voorbereiding en alles wat daarmee saam gegaan het. Ons sien uit na 'n volgende rondte DV aanstaande jaar.