Lupino 13 Maart 2003
Artikels indeks
Saadenting ... 'n voorvereiste vir optimale saadopbrengs by lupiene
Saadkwaliteit: slegs gesertifiseerde saad aanvaarbaar vir die soet lupiene bedryf
Saadenting ... 'n voorvereiste vir optimale saadopbrengs by lupiene
Herman Agenbag
Proteïennavorsingstigting
Lupiene, soos ander peulplante, besit die unieke vermoë om deur middel van simbiose met knoppiesbakterieë, ook rhizobium-bakterieë genoem, atmosferiese stikstof te bind om sodoende in die plant se stikstofbehoeftes te kan voorsien. Hierdie bakterieë dring die wortelstelsel van lupieneplante op verskillende plekke binne en vorm wortelknoppies of vratagtige uitgroeisels wat soms met aalwurm-knoppe verwar. Knoppiesbakterieë word egter buite op die wortels gevorm en breek maklik af sonder om die wortels self te beskadig terwyl aalwurm-knoppies binne in die wortel gevorm word en nie kan afbreek sonder om die wortels te beskadig nie.
Deur te let op die inwendige kleur van wortelknoppies kan maklik bepaal word of die bakterieë aktief is en wel stikstof bind. Wanneer 'n wortelknoppie deurgesny word sal dit of helder baksteenkleurig of bleek en/of wit vertoon. Die helder kleur dui op aktiewe stikstofbinding wat veroorsaak word deur 'n heem-proteïen ssortgelyk an die proteïen, hemoglobien wat in die bloed van werweldiere voorkom. 'n Bleek tot wit voorkoms is 'n aanduiding dat geen stikstof gebind word nie. Plante met wit knoppies op die wortels sal dus soos ander nie-peulplante slegs stikstof uit die grond onttrek.
Die ekonomiese belangrikheid van saadenting
Doeltreffende saadenting van lupiene lewer 'n baie belangrike bydrae tot optimale plantontwikkeling en saadproduksie. Lupiene verbeter nie alleen die grond se stikstofvlakke nie, maar dra ook by tot die instandhouding van grondvrugbaarheid deur die verhoging van organiese materiaal in gronde. Organiese materiaal verbeter die fisiese eienskappe van gronde, verhoog die waterhouvermoë van grond asook beter opname van plantvoedingstowwe.
Voordele van saadenting
- Optimale plantontwikkeling en saadopbrengs
Volgens plaaslike navorsingsresultate het saadenting die saadopbrengs van lupiene met ongeveer 10% verbeter terwyl die groenmateriaalopbrengs met 19,3% toegeneem het. Teen die huidige prys van soet lupiene beteken dit 'n verhoging in inkomste van ongeveer R150 per hektaar.
- Verhoging in proteïeninhoud van saad
Soos reeds genoem word peulplante se vermoë om stikstof te bind verbeter deur saadenting met rhizobium-bakterieë. Dit bring mee dat die stikstofinhoud van sowel die plant asook die saad verhoog. Die hoër stikstofinhoud van die saad verbeter dus ook die proteïeninhoud van lupienesaad. Volgens navorsingsresultate het saadenting 'n verhoging van 2,7% in die proteïeninhoud van breëblaarlupienesaad tot gevolg gehad.
Soet lupiene word tans as kontantgewas verbou vir die veevoermark en die kopers stel 'n minimum vereiste, ten opsigte van die proteïeninhoud, van 31% (droë basis) vir lupienesaad. Indien lupienesaad se proteïeninhoud nie aan hierdie minimum vereistes voldoen nie word die prys afwaarts aangepas en beteken dit 'n verlies aan inkomste vir die produsent. Gedurende die afgelope seisoen (2002) was daar heelwat produsente wat probleme met 'n te lae proteïeninhoud ondervind het en dus laer pryse vir hul lupiene moes aanvaar.
- Besparing op stikstofbemesting by opvolggewas
Plaaslike navorsing het bewys dat 'n goeie stand lupiene, waarvan die saad behoorlik geënt was, tot 140-150kg stikstof per hektaar kan bind wat ekwivalent aan ongeveer 750kg ammoniumsulfaat is. Indien 'n saadoes van lupiene afgehaal word, word ongeveer 90-100kg stikstof saam met die saad verwyder. Daar bly dus nog 50-60kg stikstof (± 250kg ammoniumsulfaat) per hektaar oor vir die opvolggewas. Hierdie oordrag stikstof beteken 'n aansienlike besparing op stikstofbemesting die volgende seisoen en dus 'n verlaging in die insetkoste van die opvolggewas. Die effektiwiteit van stikstof, wat deur lupiene gebind word, is baie hoog aangesien dit vir langer periodes in die grond bly omdat dit nie maklik loog nie.
Die waarde van saadenting met die regte rhizobium-bakterieë moet nie onderskat word in plaaslike boerderystelsels waarin wisselbou 'n baie belangrike rol speel. Effektiewe saadenting maak 'n belangrike bydrae tot ekonomiese lupieneproduksie.
Noodsaaklikheid van saadenting
Daar bestaan 'n algemene persepsie by produsente dat dit nie nodig is om lupienesaad te ent nie aangesien hulle alreeds oor 'n lang periode lupiene verbou en daar dus voldoende bakterieë in die grond behoort te wees. Hierdie aanname blyk egter 'n halwe waarheid te wees aangesien daar verskeie faktore is wat 'n invloed het op die oorleweing van rhizobium-bakterieë en die vermoë om voldoende stikstof te bind. Die belangrikste van hierdie faktore is:
- Die vermoë van bakterieë om stikstof te bind.
- Grondsoort en grondsuurheid.
- Heersende klimaatstoestande.
- Die molibdeen-inhoud en beskikbaarheid van gronde.
Om meer duidelikheid te kry oor die werklike voorkoms en die effektiwiteit van rhizobium-bakterieë in die Wes-Kaap en Rûens het die Proteïennavorsingstiging gedurende 2000 'n ondersoek laat doen deur kundiges van die Landbounavorsingsraad. Tydens die ondersoek is grondmonsters geneem op plase waar lupieneverbouing oor etlike jare reeds toegepas word. Die plase is geleë in die Riviersonderend, Caledon, Hopefield, Moorreesburg en Eendekuil-areas. Die belangrikste bevindings van die ondersoek was:
- Effektiewe populasies van rhizobium-bakterieë is by al die lokaliteite gevind.
- Die kleinste populasies (380 bakterieë per g¹) het voorgekom in die Caledon-area met 'n pH 7,6 (H2O) terwyl populasies van > 6 500 bakterieë per g¹ in die matige suur gronde (pH 5,4-5,8) van die ander lokaliteite gevind is. Die gevoeligheid van bakterieë vir hoë pH-waardes word dus hier bevestig.
- Die vermoë tot stikstofbinding van die populasies vergelyk gunstig met die rhizobium-lyn VK10 wat plaaslik gebruik word vir die vervaardiging van lupiene entstof.
- Die mees effektiewe bakterieë is gevind in Eendekuil gevolg deur Hopefield, Swartland, Riviersonderend en Caledon. Swak nodulasie is verkry by Caledon weens die klein populasie bakterieë.
Opsommend kan dus gesê word dat lewensvatbare populasies rhizobium-bakterieë met goeie stikstofbindingsvermoë op die spesifieke lokaliteite in aanvaarbare hoeveelhede aanwesig was. Daar moet egter gewaak word teen veralgemening van die bevindings aangesien toestande verskil van plaas tot plaas. Die groot variasie in saadopbrengste van lupieneprodusente in dieselfde area mag moontlik die gevolg wees van verskille in die Rhizobium-populasies tussen plase.
Aangesien produsente nie seker is of daar voldoende effektiewe rhizobium-bakterieë in sy gronde is nie, behoort lupienesaad gereeld geënt word voordat dit geplant word. In 'n kleingraanwisselboustelsel met lupiene word lupiene ongeveer elke drie jaar weer op dieselfde grond gesaai wat beteken dat daar vir twee jaar geen gasheerplante is waarop die rhizobium-bakterieë kan oorleef nie en dus maklik kan uitsterf. Lupiene op "nuwe" grond moet altyd geënt word.
Algemene wenke vir saadenting
Die doel van saadenting is om vars entstof by die saad te voeg sodat wanneer die saad ontkiem, die rhizobium-bakterieë die plantwortel kan binnedring en stikstofbinding reeds in 'n vroeë groeistadium kan begin.
Vir suksesvolle saadenting is daar 'n paar baie belangrike vereistes:
- Gebruik die regte entstof dit wil sê die spesifieke soort vir lupiene.
- Maak seker dat die entstof vars is deur te let na die vervaldatum op die etiket.
- Stoor entstof in 'n koel plek (4 tot 24ºC) indien nie dadelik gebruik word nie.
- Gebruik die regte hoeveelheid entstof volgens die voorskrif van die vervaardiger.
- Gebruik 'n dubbeldosis (500g op 50kg saad) wanneer daar in droë grond gesaai word of wanneer Thiram-bevattende middels vir saadbehandeling gebruik word.
- Geënte saad moet nie aan direkte sonlig blootgestel word nie, aangesien ultravioletstrale die bakterieë kan vernietig.
- Gebruik 'n kleefmiddel, verkieslik metielsellulose (5g op 0.5 liter water per 50kg saad). 'n Minder effektiewe kleef middel is 30 g (twee eetlepels) suiker op 0.5 liter water.
- Saad moet so gou as moontlik na enting in klam grond gesaai en bedek word, verkieslik binne twee uur.
Saadkwaliteit: slegs gesertifiseerde saad aanvaarbaar vir die soet lupiene bedryf
Herman Agenbag (SSK)
Proteïennavorsingstigting
Daar word met groot kommer kennis geneem van die toenemende neiging by produsente om eie saad terug te hou of saad by 'n ander produsent te koop. Die algemene verskoning vir hierdie praktyk is dat saadhandelaars se saad te duur is en die produksiekoste van lupiene onrealisties verhoog. Die logika van laer insetkoste as gevolg van goedkoper saad is verstaanbaar, veral in die huidige moeilike finansiële posisie waarin baie produsente hul tans bevind. Die werklike finansiële besparing word egter sterk betwyfel en die praktyk word ten sterkste afgekeur. Die nadele verbonde hieraan kan groot gevare inhou vir die soet lupiene bedryf en selfs later tot sy ondergang lei. Daar is 'n ou spreekwoord wat lui "Goedkoop koop is duur koop" of die Engelse stel dit selfs 'n bietjie meer kras met "Pennywise and pound foolish".
Nadele van eie saad of plaassaad
Soet lupiene word tans as kontantgewas verbou vir die veevoermark en nie meer net vir eie gebruik op die plaas nie. Die veevoerbedryf, wie tans die belangrikste koper van lupiene is, stel baie spesifieke kwaliteitsvereistes waaraan lupienesaad moet voldoen. Seker die twee belangrikste vereistes is die bitterstof- of alkaloïed- en proteïeninhoud van lupienesaad. Die rede hiervoor is dat die produk (voer) smaaklik moet wees vir diere en ook oor 'n goeie voedingswaarde (proteïen) moet beskik. So byvoorbeeld is die maksimum toelaatbare alkaloïedinhoud slegs 0.03% terwyl die minimum vereiste vir proteïen onderskeidelik 31, 35 en 38% vir smalblaar-, breëblaar- en geellupiene is.
Beide hierdie twee eienskappe is geneties oordraagbaar in saad en kan deur die herhaaldelike gebruik van eie saad verswak. Produsente is nie altyd bewus van die werklike alkaloïed- en proteïeninhoud van eie saad of die saad wat hul by ander produsente koop nie. Produsente kan dus onbewustelik lupiene produseer wat nie aan die koper se vereistes voldoen nie en dus afgekeur mag word met gepaardgaande finansiële verliese. Swak kwaliteit lupiene is onaanvaarbaar vir die veevoermark en kan dit vernietig. Die alkaloïed- en proteïeninhoud van gesertifiseerde saad word gereeld gemonitor.
Die oordrag van ernstige siektes soos antraknose met eie saad of saad wat van produsente verkry word kan ook ernstige probleme veroorsaak. Volgens Europese bevindings kan slegs een besmette saad uit 10 000 sade (± 4-5kg) epidemiese voorkoms van antraknose onder gunstige toestande veroorsaak met totale uitwissing van lupieneaanplantings oor 'n baie wye gebied aangesien die siekte baie vinnig kan versprei.
Antraknose is volgens wet 'n aanmeldbare siekte met nodige kwarantynmaatreëls. Ernstige voorkoms van siekte kan lei tot totale verbod op lupieneproduksie soos reeds van toepassing in sekere gebiede in Australië. Aanplantings vir produksie van gesertifiseerde saad word gereeld baie noukeurig gemonitor deur goed opgeleide persone vir die voorkoms van siektes. Sodoende word verseker dat saad vry van ernstige siektes is. Produsente beskik nie altyd oor die nodige kundigheid om siektes korrek te identifiseer nie en word besmette saad versprei wat kan lei tot totale misoeste en groot finansiële verliese.
Eie saad of plaassaad word ook nie getoets vir suiwerheid en kiemkragtigheid nie. Swak ontkieming kan aanleiding gee tot swak plantestand met onrealistiese lae saadopbrengs. Vermengde lupienesaad mag onaanvaarbaar wees vir kopers.
Saadhandelaars betaal tantieme op die verkope van alle saad aan die eienaars (telers) van die spesifieke kultivars. Hierdie tantieme word weer benodig vir die finansiering van teelprogramme wat baie duur is. Deur die koop van gesertifiseerde saad by saadhandelaars dra produsente dus indirek by tot die finansiering van teelprogramme. Teelprogramme is uiters noodsaaklik vir die voortdurende verbetering van kultivars.
Dit is dus baie belangrik om eerder 'n bietjie meer te betaal vir goeie kwaliteit gesertifiseerde saad waarvan die bitterstof- en proteïeninhoud asook die kiemkrag en suiwerheid bekend is. Plaaslike lupienekultivars is geregistreer onder die Planttelersregte Wet wat die handeldryf met plaassaad verbied en strafbaar maak.
Enquiries / Navrae
Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western CapeInstituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. pietl@elsenburg.com
Editors / Redaksie
PJA Lombard J Bruwer Dr N KotzeSponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting