Lupino logo

LUPIENWERKGROEP NUUSBRIEF

Lupino 16   Februarie 2004


Lupien cultivarevaluasie in die Wes- en Suid-Kaap 2003

DJ Hanekom, P Lombard en H de Wet
Departement Landbou: Wes-Kaap

Algemene oorsig  (Herman Agenbag: PNS)

Volgens beraming is daar ongeveer 8 000 ha soetlupien in die Wes- en Suid-Kaap gedurende die 2003 seisoen gevestig. Dit verteenwoordig 'n afname van 2000 ha teenoor die 2002 seisoen en is ongeveer 6000 ha minder as die aanplantings van 2001. Die redes vir die afname in soetlupienproduksie is waarskynlik die probleem van antraknose by breëblaarlupiene en 'n skuiwe na ander wisselbou gewasse soos bitterlupiene en canola.

Die oppervlaktes (ha) onder soetlupiene vir die verskillende produksie areas was as volg:

BNK    100 (200) CRK 1 600 (1 800)
SSK    380 (250) Tuinroete Agri    200 (150)
MKB 2 400 (4 700) Boland Agri 2 300 (2 000)
WPK 1 000 (1 000)

Syfers in hakkies – 2002 oppervlaktes onder lupien produksie.

Lupien aanplantings in die Rûens en Suid-Kaap was besonder mooi en saadopbrengste van 1.3-1.8 t/ha is verkry. In die George area is die beste saadopbrengs van smalblaarlupien van 3 t/ha met Tanjil behaal, teenoor 'n opbrengs van ongeveer 3.5 t/ha van breëblaarlupiene (CED 6150). Demonstrasie-aanplantings (Tanjil) in die Riversdal area het 'n saadopbrengs van 2.4 t/ha opgelewer.

In die Swartland is lupienproduksie erg geknou deur die ernstige droogte. Weens abnormale hoë temperature tydens die winter en 'n gebrek aan voldoende vog, het die lupienplante baie vroeg begin blom by planthoogtes van ongeveer 10-15cm. Ongeveer 90% van die aanplantings is teen Junie gebruik as weiding en was dus nie geoes nie. Enkele produsente in die Sandveld het egter nie laat bewei nie. Weens redelik goeie reënval in Augustus, wat sytakvorming gestimuleer het, het hierdie aanplantings mooi herstel en is saadopbrengste van tot so veel as 1.4 t/ha behaal.

Die Departement Landbou: WK het gedurende die 2003 seisoen 'n reeks cultivar proewe in die Suid- en Wes-Kaap uitgevoer. Proewe is op ses lokaliteite, wat strek van Mosselbaai tot Caledon in die Suid-Kaap streek, uitgevoer terwyl daar ook op ses lokaliteite in die Wes-Kaap van Philadelphia tot Eendekuil aangeplant is. By elk van die proefplase in die twee gebiede naamlik by Tygerhoek (Suid-Kaap) en Langewens (Wes-Kaap) is beide 'n vroeë en 'n laat aanplanting gedoen.

Reënval oorsig

Klimaatstoestande tydens die 2003 seisoen is gekenmerk deur baie gunstige toestande wat oor bykans die hele Suid-Kaap gebied voorgekom het. Klimaatstoestande in die Swartland is gekenmerk deur uiters min reënval wat vir die grootste gedeelte van die groeiseisoen voorgekom het. Alhoewel redelike neerslae na die einde van die seisoen in die Swartland voorgekom het, was dit in die meeste gevalle te laat vir enige herlewing van gewasse. Die reënvalsyfers soos gemeet in die verskillende gebiede word in figuur 1 getoon.

Agronomiese praktyke

Proefpersele by beide die Swartland en Suid-Kaap lokaliteite het 'n vlak tandbewerking voor plant gekry ten einde 'n fyn en gelyke saadbed te verseker. Die proewe is geplant met 'n Wintersteiger perseelplanter. Die duisendkorrelmassa, ontkiemingspersentasie van elke cultivar is bepaal. Saaidigthede is bereken ten einde 'n mikpunt van 45 plante/m² te verseker.

Alle bemesting wat toegedien is, is gebasseer op grondontledings wat by elke proefperseel geneem is. Bemesting is volgens aanbeveling van die Elsenburg grondontledingslaboratorium gedoen. Molibdeen en boor blaarbespuiting is by alle lokaliteite op ongeveer 60 tot 70 dae na plant gedoen.

Onkruidbeheer waar nodig is volgens onkruidspesie en -druk toegepas. Hoofsaaaklik is daar gebruik gemaak van 'n voorsaai bespuiting met simasien gevolg deur na-opkomsbeheer met Brodal (deflufenican) en Focus Ultra (cycloxydim). Insekbeheer het hoofsaaklik bestaan uit 'n bespuiting teen rooibeensandmyt en lusernerdvlooi, gevolg deur bespuitings later in die seisoen vir die beheer van plantluise en bolwurms. Die middels wat gebruik is, was Dimet (dimetoaat) en Dursban (chlorpiriphos). Alle proewe is op 'n 10 tot 14 dae siklus met 'n mengsel van Amistar en Folicur en gespuit om antraknose te beheer.

Met rypwording is persele gestroop met behulp van 'n Wintersteiger perseelstroper waarna die saad skoongemaak en toegelaat is om 'n resulterende vogpersentasie te bereik voordat dit geweeg is. Smalblaarcultivars wat geneig is tot uitspring is platgesny op ongeveer 60% vog.

Resultate

Lae reënval by die proewe in die Swartland het meegebring dat slegs data van drie van die proewe verkry is. By hierdie lokaliteite was die opbrengste van sekere cultivars bo verwagtend hoog wat deur goeie reënval in Augustus teweeg gebring is. Heelwat witroes het voorgekom wat die opbrengs van die smalblaarcultivars benadeel het. Nieteenstaande was die opbrengs van hierdie cultivars oorwegend beter as die breëblaar lupiene. Statistiese ontleding van die resultate dui op 'n hoë koëffisient van variasie by die Philadelphia en Porterville proewe. Beide hierdie datastelle was egter normaal verdeel.

In die Suid-Kaap het uitstekende landboustoestande voorgekom en was die opbrengs van lupiene oor die algemeen goed. Die smalblaarcultivars, Eendekuil, Qullinock en Tanjil het oorwegend beter gevaar en het goed met die produksie van die breëblaarlupiene vergelyk. Ook die cultivars Bolivia en Boltensia het by van die lokaliteite baie goed gevaar.

Figuur 2

Caledon (Boontjieskraal)

Opbrengs van lupien cultivars by die Caledon lokaliteit gedurende 2003.
(KV% = 10.53% KBV = 0.317 – Plantdatum = 28/04/2003)
Figuur 2: Caledon (Boontjieskraal) - opbrengs van lupien cultivars gedurende 2003
Figuur 3

Napier (Panorama)

Opbrengs van lupien cultivars by die Napier lokaliteit gedurende 2003.
(KV% = 10.23% KBV = 0.270 – Plantdatum = 28/04/2003)
Figuur 3: Napier (Panorama) - opbrengs van lupien cultivars gedurende 2003
Figuur 4

Riviersonderend (Tygerhoek Saaityd 1)

Opbrengs van lupien cultivars by die Tygerhoek 1 lokaliteit gedurende 2003.
(KV% = 12.79% KBV = 0.493 – Plantdatum = 02/05/2003)
Figuur 4: Riviersonderend (Tygerhoek saaityd 1) - opbrengs van lupien cultivars gedurende 2003
Figuur 5

Riviersonderend (Tygerhoek Saaityd 2)

Opbrengs van lupien cultivars by die Tygerhoek 2 lokaliteit gedurende 2003.
(KV% = 14.59% KBV = 0.360 – Plantdatum = 23/05/2003)
Figuur 5: Riviersonderend (Tygerhoek saaityd 2) - opbrengs van lupien cultivars gedurende 2003
Figuur 6

Swellendam (Kliphoogte)

Opbrengs van lupien cultivars by die Swellendam lokaliteit gedurende 2003.
(KV% = 25.05% KBV = 0.966 – Plantdatum = 29/04/2003)
Figuur 6: Swellendam (Kliphoogte) - opbrengs van lupien cultivars gedurende 2003
Figuur 7

Heidelberg (Uitsig)

Opbrengs van lupien cultivars by die Heidelberg lokaliteit gedurende 2003.
(KV% = 19.83% KBV = 0.734 – Plantdatum = 29/04/2003)
Figuur 7: Heidelberg (Uitsig) - opbrengs van lupien cultivars gedurende 2003
Figuur 8

Mosselbaai (Patrysfontein)

Opbrengs van lupien cultivars by die Mosselbaai lokaliteit gedurende 2003.
(KV% = 21.38% KBV = 0.661 – Plantdatum = 10/06/2003)
Figuur 8: Mosselbaai (Patrysfontein) - opbrengs van lupien cultivars gedurende 2003
Figuur 9

Philadelphia (Boterberg)

Opbrengs van lupien cultivars by die Philadelphia lokaliteit gedurende 2003.
(KV% = 30.54% KBV = 0.674 – Plantdatum =07/05/2003)
Figuur 9: Philadelphia (Boterberg) - opbrengs van lupien cultivars gedurende 2003
Figuur 13

Hopefield (Leliefontein)

Opbrengs van lupien cultivars by die Hopefield lokaliteit gedurende 2003.
(KV% = 14.01% KBV = 0.358 – Plantdatum = 12/05/2003)
Figuur 13: Hopefield (Leliefontein) - opbrengs van lupien cultivars gedurende 2003
Figuur 14

Porterville (Keerom)

Opbrengs van lupien cultivars by die Porterville lokaliteit gedurende 2003.
(KV% = 29.96% KBV = 0.823 – Plantdatum = 28/04/2003)
Figuur 14: Porterville (Keerom) - opbrengs van lupien cultivars gedurende 2003
Figuur 15

Swartland, Rûens en Suid-Kaap

Die gemiddelde opbrengs van bestaande (3 jaar) en nuwe cultivars (2003) by lokaliteite van Swartland, Rûens en Suid-Kaap.
Figuur 15: Gemiddelde opbrengs van bestaande en nuwe cultivars by Swartland en Suid-Kaap

Enquiries / Navrae

Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western Cape
Instituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Dr N Kotze
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter