Lupino logo

LUPIENWERKGROEP NUUSBRIEF

Lupino 18   Junie 2004


Insekbeheer by lupiene

Herman Agenbag
Proteïennavorsingstigting

Inleiding

Hoewel ernstige insekteskade by lupiene nie as 'n reel jaarliks voorkom nie, is lupiene meer gevoelig vir insekteskade as kleingrane. Die gereelde inspeksie van lupiene-aanplantings vir die teenwoordigheid van insekte gedurende die saailing-, blom- en peulstadium is dus uiters belangrik en noodsaaklik.

Saailingstadium tot ses weke na opkoms

Rooibeen sandmyte en lusern-erdvlooie kan groot skade aanrig aan saailinge indien die probleem-insekte nie vroegtydig waargeneem en beheer word nie.

  • Rooibeen sandmyt (Halotydeus destructor)

    Die sandmyt is swart van kleur met kenmerkende rooi bene. Beskadigde plante vertoon bleekgroen as gevolg van die skade aan bladgroen wat baie maklik sigbaar is. Vreetskade vertoon kenmerkend wit tot silwerkleurige vlekke op die blare en saadlobbe. Misvorming van saadlobbe en die jong blare is ook sigbaar. Plante vertoon ook soms erg verdwerg as gevolg van die verlies aan bladgroen.

    Minimum bewerking- of bewaringsboerderystelsels met groot hoeveelhede stoppel op die oppervlakte bevoordeel die vinnige ontwikkeling en toename van sandmyt populasies.

    Rooibeen sandmyte kan beheer word deur:

    • Vroeë saai sodat saailinge sterk en lewenskragtig is en minder gevoelig is vir skade.
    • Saadbehandeling beskerm saailinge vir ongeveer ses weke.
    • Chemiese beheer met insekdoders wanneer die plaag waargeneem word.
  • Lusern-erdvlooi (Sminthurus viridis)

    Die lusern-erdvlooi is klein en rond met 'n geelgroen kleur. Die insek kan nie vlieg nie maar spring oor relatief groot afstande wanneer gesteur word.

    Lusern-erdvlooie vreet klein ronde gaaitjies in die saadlobbe en jong blare en plante vertoon bleek groen en is verpot. Minimum bewerkingstelsels is baie gunstig vir die vinnige opbou van die plaag. Aanhoudende reën en nat toestande dra ook by tot die vinnige toename van populasies.

    Lusern-erdvlooie kan chemies beheer word met dimetoaat, ometoaat of chlorpirifos. Saadbehandeling met insekdoders beskerm saailinge vir ongeveer ses weke teen die plaag.

  • Snywurms

    Snywurms kom soms ook sporadies voor gedurende die eerste paar weke na saai en kan soms ook groot skade aanrig. Die wurms vreet snags bokant die grond aan die saailinge en skuil bedags ondergronds naby die plant se wortels. Snywurms word maklik gevind wanneer die grond rondom 'n beskadigde plant weg gekrap word.

    Snywurms kan chemies beheer word met chlorpirifos, deltametrien of sipermetrien.

Blomperiode

Plantluise hou soms 'n groot bedreiging in vir lupiene gedurende die laat winter en vroeë lente, selfs voor die blomperiode begin. Lupine is baie gevoelig vir plantluise gedurende die blomperiode.

Hoewel daar baie plantluis spesies op lupiene gevind word, is daar slegs 'n paar soorte wat algemeen in groot getalle by lupiene voorkom. Die belangrikste spesies is:

–   Grondboontjieluis  (Aphis craccivora)
–   Groen-perskeluis  (Myzus persicae)
–   Blou-groenluis  (Acyrthosiphon kondoii)
–   Ertjieluis  (Acyrthosiphon pisum)
–   Raapluis  (Lipaphis erysimi)
–   Aartappelluis  (Macrosiphum euphorbiae)

  • Grondboontjieluis

    Die kleur van die luise wissel van houtskool-grys tot blink swart. Besmettings kom altyd in die begin kol-kol in die land voor met groot getalle luise op die groeipunte van slegs enkele plante. Indien gunstige weerstoestande heers vir 'n paar agtervolgende dae sal die plaag oor die hele land versprei.

    Gedurende nat en koue toestande is daar 'n toename in die voorkoms van algemene swamsiektes wat plantluise aanval en laat vrek en dus goeie luisbeheer tot gevolg het. Besmette plante vertoon gewoonlik erg verdwerg met misvormde blare. Blomvorming en selfs peulset kan ook benadeel word en kan dus saadopbrengs ook nadelig beïnvloed.

  • Groen perskeluis

    Die meeste luise se kleur is liggroen soos die lupieneplant se stam maar ander kleurskakerings soos helder groen, geel en pienk kan ook voorkom. Hierdie kleurskakerings vergemaklik die identifikasie van die luise aangesien dit die enigste luise is wat by lupiene voorkom met so 'n verskeidenheid van kleure.

    Perskeluise kom gewoonlik baie yl-verspreid by lupiene voor. Die spesie is meer effektief as ander spesies om die komkommermosaiek-virus te versprei.

  • Blou-groenluis

    Die luise vertoon blou-groen soos die kleur van lupieneblare. Blou-groenluise kom ook meer wyd verspreid in lupiene voor as die grondboontjieluis. Soms kom kolbesmetting voor met groot getalle luise op enkele plante terwyl die res van die plante skoon is.

  • Aartappelluis

    Die aartappelluis is gewoonlik groter as die ander plantluise en het 'n helder groen kleur. Die luise kom nie baie algeneem voor nie.

  • Ertjieluis

    Hoewel die luise wel op lupiene voorkom is dit gewoonlik 'n minder belangrike plaag.

  • Raapluis

    Raapluis voed nie op lupieneplante nie en kom gewoonlik in groot getalle voor op ramenas en wilde mosterd in die omgewing van lupiene. Die voorkoms van raapluise is 'n aanduiding dat weerstoestande baie gunstig is vir die ontwikkeling van luisplae en kan dien as 'n waarskuwing aan produsente om op die uitkyk te wees vir ander skadelike plantluise.

  • Plantluise en die voorkoms van virussiektes

    Hoewel plantluise in staat is tot groot vreetskade aan lupiene kan die meeste spesies ook virussiektes soos geelboontjie- en komkommer­mosaiek oordra en versprei. Virusse kleef aan die plantluise se bekdele en word oorgedra tydens penetrasie van die blaaroppervlakte en beland dit in die plantsap. Die virus kan baie vinnig binne 'n lupieneland versprei maar, versprei selde oor groot afstande.

    Die oordrag van virusse vanaf plantluise na die plante geskied baie vinnig en is dit moontlik dat enige besmette plantluise wat sap suig, lupiene kan besmet en dan weer voort vlieg. Dit is dus nie nodig vir insekte om op lupiene te koloniseer om virusse te kan oordra nie.

    Virussiektes is egter met enkele uitsonderings ook saadoordraagbaar. Groot skade kan dus voorkom as klein kolonies insekte toegelaat word om in besmette lande aan te teel.

  • Beheermaatreëls

    Dit is baie moeilik om te bepaal wanneer plantluise by lupiene beheer moet word. Skade aan plante en die tempo van virusverspreiding is baie wisselvallig en baie moeilik voorspelbaar. Die goue reël is om slegs chemiese beheer toe te pas wanneer daar 'n swaar (10% en meer) besmetting is met 'n potensiële gevaar van ernstige vreetskade aan blare wat weer verlies aan saadopbrengs tot gevolg kan hê. Die voorkoms van gunstige weerstoetstande sal die opbou van plantluispopulasies ook stimuleer en dus ook die gevaar van skade verhoog.

    Gereelde bespuitings teen plantluise om die verspreiding van komkommermosaiek virus te verhoed, word nie aanbeveel nie weens die moontlike gevaar van die ontwikkeling van weerstand teen insekdoders. Sekere verbouingspraktyke kan toegepas word om die skadelike effek van virussiektes te verminder soos:

    1. Gebruik virusvrye saad.
    2. Plant vroeg sodat lupiene begin blom voor toestande baie gunstig is vir opbou van plantluise.
    3. Saai teen optimale digtheid om enige moontlike besmette saailinge te oorskadu en te laat vrek.

Peulvorming

Wees op die uitkyk vir bolwurms gedurende die peulstadium.

  • Bolwurms (Heliothus spp)

    Bolwurmmotte het 'n lig-vaal kleur en vlieg vinnig heen en weer oor lupiene tydens blom. Die motte lê klein wit eiertjies op die peule, groeipunte en blare. Larwes broei na ongeveer een week uit. Die larwes of wurms se kleur wissel van liggroen tot donkerbruin met 'n geriffelde huid en kort swart haartjies. Swaar plantluisbesmettings in lupiene gaan gewoonlik gepaard met ernstige bolwurm-plae aangesien bolwurmmotte op die heuningdou, wat deur luise afgeskei word, voed.

    Klein larwes veroorsaak selde ernstige skade aan sade aangesien daar slegs aan die oppervlak van blare en peule gevreet word. Groter larwes (10 mm en langer) boor in die peule in en beskadig die sade met groot opbrengsverliese tot gevolg indien dit nie vroegtydig beheer word nie.

    Bolwurms is die grootste potensiële plaag by lupiene. Ernstige skade aan veral die peule en sade kan groot verliese aan saadopbrengs veroorsaak. Volgens Australiese bevindings kan die aanwesigheid vn een volwasse bolwurm per vierkant meter 'n verlies van ongeveer R5 per hektaar veroorsaak.

    Bepaal die aantal bolwurms as volg:

    • Knip sorgvuldig al die plante op 'n kwart vierkant meter (0,5m x 0,5m) net bokant die grond af.
    • Plaas die plante in 'n plastieksak en skud deeglik sodat wurms afval.
    • Tel die aantal wurms en vermenigvuldig met vier om die aantal wurms per vierkant meter te bereken.
    • Herhaal die proses op ongeveer 10 punte oor die hele land.
  • Beheermaatreëls

    1. Besoek lupiene-aanplantings ten minste elke week vanaf blomperiode tot ongeveer drie weke voor oes ten einde die plaag vroegtydig waar te neem.
    2. Chemiese beheer van die plaag word gewoonlik bepaal volgens die aantal bolwurms met 'n lengte van 10mm en langer aangesien baie van die klein larwes vrek voordat die volwasse stadium bereik word.
    3. Tans is daar verskeie plaaslik geregistreerde chemiese middels vir die beheer van bolwurms soos:
      Beta-syflutrien (50g/liter)
      Syflutrien (50g/liter)
      Sipermetrien (200g/liter)
      Deltametrien (25g/liter)
      Lambda-syhalotrien (50g/liter)
      Metomil (200g/liter en 900g/liter)
      Tralometrien (36g/liter)

Die gemiddelde prys vir sojaboon-oliekoek (47% proteïen) vir verskeping is R2 672 per ton (wisselkoers: R6.92)

Die relatiewe waarde van lupiene behoort dus soos volg te wees:

L. albus  (Esta)
Pluimvee (75%) R2 004 per ton
Suiwel (80%) R2 138 per ton
L. angustifolius  (Merrit)
Pluimvee (53%) R1 416 per ton
Suiwel (52%) R1 389 per ton
L. luteus  (Juno)
Pluimvee (63%) R1 683 per ton
Suiwel (73%) R1 951 per ton

Enquiries / Navrae

Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western Cape
Instituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Dr N Kotze
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter