Lupino 17 Maart 2004
Artikel indeks
Simasien as vooropkom onkruiddoder by lupiene
Herman Agenbag
Proteïennavorsingstigting
Inleiding
Simasien word alreeds vir etlike jare baie suksesvol in Australië gebruik as vooropkom onkruiddoder vir die selektiewe beheer van 'n breë spektrum breëblaar- en grassoorte in lupiene. Die middel is relatief goedkoop en maak 'n baie groot bydrae tot die lae insetkoste van lupieneverbouing asook die winsgewendheid van lupiene vir die produsent. Volgens Australiese lupieneprodusente het simasien 'n baie groot bydrae gelewer tot die vinnige uitbreiding van lupieneproduksie sedert die vroeë sewentiger jare wat tans byna 2 miljoen hektaar per jaar beloop.
Plaaslik is daar alreeds gedurende die sewentiger jare begin met navorsing op simasien as onkruiddoder vir lupiene en is baie goeie resultate behaal. Ten spyte van die belowende resultate wat behaal is, het belangstelling by chemiese maatskappye vir die plaaslike registrasie van die middel ontbreek.
Die Proteïennavorsingstigting het terdeë die waarde van simasien besef vir ekonomiese volhoubare lupieneverbouing hier plaaslik. Sedert 1998 het die Proteïennavorsingstigting dan ook met etlike plaaslike chemiese maatskappye beraadslaag oor die moontlike registrasie van simasien vir onkruidbeheer in lupiene. Gedurende 2000 het 'n plaaslike chemiese maatskappy ingestem tot navorsing op simasien as onkruiddoder vir lupiene. Na samesprekings is besluit dat die Proteïennavorsingstigting en die maatskappy gesamentlik die navorsing sal befonds en is daar gedurende 2001 begin met registrasieproewe in die winter - sowel as somerreënvalgebiede. Die registrasieproewe is suksesvol voltooi en die aansoek om registrasie is tans by die Registrateur van Wet 36/1947. Volgens inligting behoort registrasie in plek te wees voor die begin van die 2004 plantseisoen.
Riglyne vir die gebruik van simasien
Om die beste resultate (onkruidbeheer) met simasien te verkry is dit baie belangrik om die volgende beginsels te verstaan:
- Simasien is nie baie oplosbaar in water (5 dpm) nie en loog dus nie geredelik in grond nie.
- Indien simasien onmiddelik voor saai toegedien word, word dit tydens die saaiproses reeds met die grond vermeng. Die tipe saaimasjien of planter wat gebruik word sal 'n invloed hê op die effektiwiteit van vermenging veral wanneer daar redelik baie stoppels is. Skottels gee goeie vermenging maar is geneig tot 'n variasie in saaidiepte. Tand-implemente is weer geneig tot stroke veral met wyer tand spasiërings. Die gebruik van 'n ketting eg agter die planter/saaimasjien kan egter die probleem grootliks aanspreek.
- Simasien se werking is nie baie effektief nie wanneer daar op droë grond gesaai word. Kampe met probleem onkruide moet dus liefs eers na voldoende reën gesaai word. Indien die reën baie laat is kan droë saai oorweeg word met dien verstande dat simasien eers later, wanneer reën voorspel word, toegedien word.
- Simasien word deur die wortels van onkruidsaailing opgeneem en versteur die plant se fotosintese proses wat veroorsaak dat onkruide eers na etlike weke vrek. Aanvanklik wil dit voorkom asof simasien geen effek op onkruide het nie aangesien onkruide saam met lupiene bogronds sigbaar is.
- Simasien het geen effek op onkruide wat reeds bogronds sigbaar is nie. Indien lupiene onder sulke toestande gesaai word moet middels soos glifosaat of ander skroeimiddels soos Dikwat en Parakwat met simasien gemeng word om bestaande onkruide te vernietig. Soms is dit moontlik om onkruide meganies te vernietig met die saaiproses en is die byvoeging van ander onkruiddoders nie nodig nie.
- Grondtipe, cultivars en reënval sal die dosis van simasien bepaal. Op swaarder gronde met 'n hoë klei-inhou kan 'n groter dosis gebruik word as op sandgronde met lae klei-inhoud.
Gebruikbeperkings
- Moet simasien nie op alkaliese gronde en/of op gronde wat aan versuiping onderhewig is toedien nie.
- Indien simasien op brakgronde of gronde met 'n gebrek aan spoorelemente toegedien word kan skade aan lupiene aangerig word.
- Simasien het 'n relatiewe lang nawerking in die grond en moet gevoelige gewasse soos medics, kleingrane en groente nie binne 8 maande na toediening van simasien op die gronde verbou word nie.
- Die werking van simasien kan deur grondtipe en hoeveelheid reënval beïnvloed word. Simasien word maklik in sandgrond uit die onkruid ontkiemingsone geloog tydens swaar reën en kan dus swak onkruidbeheer tot gevolg hê. Onder lae reënvaltoestande kan dit egter ook gebeur dat te min van die aktiewe bestandeel na die ontkiemingsone geloog word veral in die geval van lupiene waar 'n baie lae dosis gebruik word. Dit mag dus nodig wees om simasien voor saai of tydens saai met klam grond te vermeng om sodoende te verseker dat simasien wel in die ontkiemingsone sal wees.
Onkruide wat beheer word
Volgens die resultate van die registrasieproewe is goeie beheer verkry van die belangrikste probleem breëblaar onkruide soos ramenas, kaapse dubbeltjie, gousblom, turknaels, voëlduisendknoop, duiwekerwel, geelsuring, misbredie en sporrie. Grasonkruide soos wildehawer, eenjarige raaigras, opslag kleingrane en meerjarige word ook beheer. Raadpleeg die etiket vir volledige lys van onkruide wat beheer word.
Gebruiksaanwysings
Verenigbaarheid
Simasien is verenigbaar met onkruiddoders wat in kombinasie daarmee aanbeveel word soos Parakwat, Dikwat en Glifosaat. Let asseblief deeglik op die mengings instruksies wanneer hierdie middels saam met simasien gebruik word.
Toediening
Simasien kan met enige medium- of hoë volume spuitapparaat wat oor 'n doeltreffende roermeganisme beskik, toegedien word. Die beste resultate word normaalweg verkry deur gebruik te maak van platwaaierspuitpunte en 'n spuitvolume van minstens 200 liter/hektaar.
Dien simasien direk na plant op 'n goed voorbereide saadbed toe, voor onkruide en lupiene opkom. Vir goeie resultate is reën binne 'n week na toediening nodig om die simasien in die grond in te loog. Indien dit nie reën voor onkruide begin ontkiem nie word 'n ligte bewerking aanbeveel om die onkruiddoder in die boonste grondlaag in te werk.
Dosis
Die dosis word bepaal volgens die klei-inhoud van die grond en die algemene aanbeveling is soos volg:
Sandveld < 15% klei – 400 ml/ha Swartland 16-20% klei – 600 ml/ha Suid-Kaap en Rûens 21-30% klei – 800 ml/ha Simasien is op die onderstaande cultivars getoets:
Breëblaarlupiene – CED6150 en Kiev Smalblaarlupiene – Wonga en Eureka Geellupiene – Juno Algemeen
Simasien sal geregistreer word onder die handelsnaam Simazol sc met die aktiewe bestanddele simasien (500 gram/liter) en ander triasiene (10 gram/liter).
Aansoek om registrasie behoort, volgens die verspreider, teen einde April goedgekeur te wees.
Enquiries / Navrae
Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western CapeInstituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. pietl@elsenburg.com
Editors / Redaksie
PJA Lombard J Bruwer Dr N KotzeSponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting