Lupino 20 Februarie 2005
Artikel indeks
Lupien cultivarevaluasie in die Wes- en Suid-Kaap 2004
DJ Hanekom, P Lombard en H de Wet
Departement Landbou: Wes-Kaap
Algemene oorsig (Herman Agenbag: PNS)
Die Wes-Kaap het weereens soos gedurende die 2003 seisoen, 'n baie droë en laat winter beleef met die eerste goeie reën eers teen begin-Junie. Weens ongunstige toestande (grondvog) gedurende April en Mei het voornemende produsente geen of baie min lupiene geplant. Van die verwagte aanplantings van 7000 ha is daar uiteindelik slegs ongeveer 3400 ha geplant. Klimaatstoestande in die Rûens en Suid-Kaap was oor die algemeen beter en die meeste produsente kon gedurende April plant. Volgens inligting is daar ongeveer 3450 ha lupiene in hierdie gebied geplant. Dit bring die totale oppervlakte onder lupien verbouing in beide gebiede op ongeveer 6850 ha.
Saadopbrengs in die Swartland was deurgaans teleurstellend laag met die uitsondering van enkele produsente wat meer as 1 ton/ha geoes het. Ernstige probleme met bolwurms is ook later in die seisoen ondervind wat, tesame met die droogte, swak oeste tot gevolg gehad het. In die Rûens en Suid-Kaap was saadopbrengste aansienlik beter. In die Riversdal, Heidelberg en George areas was daar produsente wat saadopbrengste van 2 ton/ha en self meer behaal het.
Die oppervlaktes (ha) onder soetlupiene vir die verskillende produksie areas was as volg:
BNK | 200 (100) | CRK | 2 600 (1 600) |
SSK | 250 (380) | Tuinroete Agri | 400 (200) |
MKB | 2 200 (2 400) | Boland Agri | 300 (2 300) |
WPK | 900 (1 000) |
Syfers in hakkies – 2003 oppervlaktes onder lupien produksie.
Die Departement Landbou: Wes-Kaap het gedurende die 2004 seisoen 'n reeks cultivar proewe in die Suid- en Wes-Kaap uitgevoer. Proewe is op ses lokaliteite, wat strek van Mosselbaai tot Caledon in die Suid-Kaap streek, uitgevoer terwyl daar ook op ses lokaliteite in die Wes-Kaap van Philadelphia tot Eendekuil aangeplant is. As gevolg van die laat aanvangs van die winterreën in die Swartland, is 'n vroeë en 'n laat aanplanting slegs by Tygerhoek in die Suid-Kaap uitgevoer.
Reënval oorsig
Klimaatstoestande tydens die 2004 seisoen is gekenmerk deur ondergemiddelde reënval veral in die westelike gedeelte van die Rûens wat tot swak grondvogtoestande in die Caledon en Riviersonderend gelei het. Die dele meer oos (Napier en Heidelberg) het beter reënval ontvang wat tot gunstige grondvogtoestande gelei het. Klimaatstoestande in die Swarland was weereens swak, veral in die dele noord van Malmesbury waar uiters swak oeste behaal is. Alhoewel redelike neerslae na die einde van die seisoen in Oktober in die Swartland voorgekom het, was dit in die heelwat gevalle te laat om enige noemenswaardige reaksie op gewasse te hê. Die reënvalsyfers soos gemeet in die verskillende gebiede word in figuur 1 getoon.
Agronomiese praktyke
Proefpersele by beide die Swartland en Suid-Kaap lokaliteite het 'n vlak tandbewerking voor plant gekry ten einde 'n fyn en gelyke saadbed te verseker. Die proewe is geplant met 'n Wintersteiger perseelplanter. Die duisendkorrelmassa en ontkiemings% van elke cultivar is bepaal. Saaidigthede is bereken ten einde 'n mikpunt van 45 plante/m2 te verseker.
Alle bemesting wat toegedien is, is gebasseer op grondontledings wat by elke proefperseel geneem is. Bemesting is volgens aanbeveling van die Elsenburg grondontledingslaboratorium gedoen. Molibdeen en boor blaarbespuiting is by alle lokaliteite op ongeveer 60 tot 70 dae na plant gedoen.
Onkruidbeheer waar nodig is volgens onkruidspesie en –druk toegepas. Hoofsaaaklik is daar gebruik gemaak van 'n voorsaai bespuiting met simasien gevolg deur na-opkomsbeheer met Brodal (deflufenican) en Focus Ultra (cycloxydim). Insekbeheer het hoofsaaklik bestaan uit 'n bespuiting teen rooibeensandmyt en lusernerdvlooi, gevolg deur bespuitings later in die seisoen vir die beheer van plantluise en bolwurms. Die middels wat gebruik is, was Dimet (dimetoaat) en Dursban (chlorpiriphos).
Met rypwording is persele gestroop met 'n Wintersteiger perseelstroper waarna die saad skoongemaak en toegelaat is om 'n resulterende vogpersentasie te bereik voordat dit geweeg is. Smalblaarcultivars wat geneig is tot uitspring is platgesny op ongeveer 60% vog.
Resultate
Lae reënval by die proewe in die Swartland het meegebring dat slegs data van drie van die proewe verkry is. Die gemiddelde opbrengs van die lokaliteite het gewissel van 1.18 t/ha (Porterville) tot 1.09 t/ha (Philadelphia). Die smalblaar cultivars het oor die algemeen beter gevaar as die breëblaar cultivars met die cultivars Bolivia en Eendekuil wat by twee van die lokaliteite naamlik Langgewens en Porterville die hoogste opbrengs gelewer het.
In die Rûens is die beste proefgemiddelde (1.72 t/ha) by die vroëe aanplanting op Tygerhoek behaal. Hier het die breëblaar lupiene beter gevaar as die smalblaar tipes. Die cultivar Tanjil (1.95) het die hoogste opbrengs van die smalbalaar cultivars gehad, gevolg deur Wonga (1.84) en Eendekuil (1.82). Die gemiddelde opbrengs van die later aanplanting by Tygerhoek het gedaal na 1.17 t/ha met die breëblaar cultivars wat hier opmerklik beter gevaar het as die smalblaar cultivars. By die Napier lokaliteit is 'n gemiddelde opbrengs van 1.71 t/ha behaal. Die cultivars Tanjil en Merrit het hier die hoogste opbrengs gemiddelde van 2.1 t/ha behaal gevolg deur Wonga met 'n gemiddelde opbrengs van 2.01 t/ha. By die Heidelberg lokaliteit is swakker opbrengste behaal ten spyte van redelik goeie grondvogtoestande aan die begin van die seisoen. 'n Gemiddelde opbrengs van 1.04 t/ha is behaal met heelwat van die cultivars wat minder as 'n ton per hektaar gelewer het.
Figuur 2Riviersonderend (Tygerhoek Saaityd 1)
Figuur 3Riviersonderend (Tygerhoek Saaityd 2)
Figuur 4Napier (Panorama)
Figuur 5Heidelberg (Uitsig)
Figuur 6Philadelphia (Boterberg)
Figuur 7Moorreesburg (Langgewens)
Figuur 8Porterville (Keerom)
Figuur 9Rûens (Tygerhoek, Panorama en Uitsig)
Figuur 10Swartland (Boterberg, Langgewens en Keerom)
Figuur 11Swartland en Rûens
Enquiries / Navrae
Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western CapeInstituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. pietl@elsenburg.com
Editors / Redaksie
PJA Lombard J Bruwer Dr N KotzeSponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting