Lupino 21 Maart 2005
Artikel indeks
Die invloed van bewerking op die vegetatiewe groei, wortelontwikkeling en saadopbrengs van smalblaarlupiene (Wonga) asook die voorkoms van bruinblaarvlek (Pleiochaeta setosa) en stamvrot (Sclerotinia sclerotiorum)
Herman Agenbag
Proteïennavorsingstigting
Inleiding
Die konsep van bewaringsboerdery met minimum bewerkingspraktyke word reeds deur baie produsente oor 'n wye gebied in die Wes- en Suid-Kaap toegepas. Volgens bewaringsboerderypraktyke word saad gewoonlik direk in stoppel geplant met geen of baie min vooraf bewerking. Dit bring mee dat oesreste van die vorige seisoen as 'n deklaag op die grondoppervlakte gelaat word. Deur die inskakeling van wisselgewasse soos lupiene en canola by die kleingraan-verbouingstelsels beteken dit dat hierdie gewasse dus ook volgens die direkte plantmetode gevestig word.
Dit blyk dat daar plaaslik nog nie veel navorsing gedoen is om die effek van bewaringsboerderypraktyke op die verbouing van lupiene te bepaal nie. Produsente aanvaar dat suksesvolle verbouing van die gewasse hier plaaslik wel moontlik is, aangesien sukses, veral in Australië, reeds bewys is.
Weens die gebrek aan plaaslike inligting is daar gefokus op navorsing wat reeds in Australië gedoen is, wat moontlik meer lig hierop kan werp. Resultate van navorsing in Wes-Australië (1993) en Nieu-Suid Wallis (1998) word hier gerapporteer.
Saadbedvoorbereiding
Verskeie bewerkingsproewe is gedurende 1998 in die suide van Nieu-Suid Wallis met die cultivar Wonga uitgevoer. In hierdie proewe is direkte plant (sonder bewerking) vergelyk met plant na konvensionele saadbedvoorbereiding (10cm diep) met 'n tandimpliment (scarifier). 'n Planter met smal tande is gebruik om lupiene direk in koringstoppel te plant en stoppels is as deklaag op die grondoppervlakte gelaat.
Die grondtipe by die verskillende proeflokaliteite het gewissel van 'n leem tot 'n klei-leem. Die lupiene is geplant teen 'n plantdigtheid van 90kg/ha met 'n vestigingsmikpunt van 45 plante/m².
Resultate
Saadopbrengs en vegetatiewe groei
Alhoewel die plante in die bewerkte persele aanvanklik groeikragtiger vertoon het, met groter vegetatiewe groei as die plante in die direk geplante persele, was daar 'n betekenisvolle afname van 20-24% in die biomassa by eersgenoemde persele. Die afname in biomassa by die Junee lokaliteit was 9% teenoor die 20-24% by die ander drie lokaliteite. Die droë plantmassa van die bewerkte persele was by drie van die proeflokaliteite betekenisvol groter as by die persele wat direk geplant is. Die wortelmassa (droog) van die bewerkte persele was by slegs twee lokaliteite betekenisvol meer as by direk geplante persele.
Saadopbrengs was betekenisvol kleiner (16-35%) by die vooraf bewerkte persele by drie van die proeflokaliteite teenoor die direk geplante persele. Hoewel 'n soortgelyke tendens by die Downside lokaliteit gevind is, het groot variasie binne die persele veroorsaak dat daar geen betekenisvolle verskil gevind is nie. Die verskille in die 1000-korrelmassa tussen die behandelings was deurgaans nie betekenisvol nie. Die afname in saadopbrengs by die bewerkte persele was nie sterk gekorreleerd met die verskil in saadmassa nie.
In Tabel 1 word die invloed van vooraf bewerking en direkte plant op die vegetatiewe groei, wortelmassa, saadopbrengs, biomassa en saadmassa (1 000-korrel) van lupiene aangetoon.
Tabel 1Behandeling | Plantdiepte (mm) | Plante/m² | Wortelmassa Droog (mg) |
Plantmassa Droog (mg) |
Biomassa (kg/m²) | 1 000-korrel massa (g) |
Saadopbrengs (ton/ha) |
---|---|---|---|---|---|---|---|
Downside lokaliteit | |||||||
Bewerk | 48 | 37 | 89 | 396 | 1.56 | 130 | 1.17 |
Direk plant | 32 | 43 | 70 | 351 | 2.06 | 130 | 1.34 |
KBV (P=0.05) | 8 | 5 | n.s. | 27 | 0.27 | n.s. | n.s. |
Harden lokaliteit | |||||||
Bewerk | 31 | 48 | 131 | 741 | 1.27 | 128 | 1.67 |
Direk plant | 30 | 48 | 102 | 596 | 1.59 | 120 | 2.12 |
KBV (P=0.05) | n.s. | n.s. | 12 | 48 | 0.16 | n.s. | 0.23 |
Junee lokaliteit | |||||||
Bewerk | 34 | 46 | 63 | 438 | 1.37 | 113 | 1.85 |
Direk plant | 30 | 52 | 65 | 458 | 1.51 | 122 | 2.21 |
KBV (P=0.05) | n.s. | n.s. | n.s. | n.s. | 0.10 | 6 | 0.20 |
Temora lokaliteit | |||||||
Bewerk | 30 | 42 | 72 | 481 | 1.50 | 109 | 0.94 |
Direk plant | 29 | 45 | 62 | 442 | 1.87 | 117 | 1.44 |
KBV (P=0.05) | n.s. | n.s. | 9 | 35 | 0.15 | n.s. | 0.41 |
* Plant- en wortelmassa (droog) word uitgedruk as die gemiddelde massa per plant (30 plante per perseel) van elke behandeling 30 dae na plant.
Siektes
Siektewaarnemings vir die voorkoms van bruinblaarvlek (Pleiochaeta setosa) en stamvrot (Sclerotinia sclerotiorum) is onderskeidelik 30 dae na plant en op die volgroeide stadium gedoen. Pleiochaeta setosa waarnemings is op die onderste blare volgens 'n skaal van 0–10 gedoen waar 0 aandui dat geen siekte-letsels aanwesig is nie, terwyl 10 'n 100% besmetting verteenwoordig. Stamvrot lesings op volwasse plante is gedoen volgens 'n skaal van 0–5, waar 'n 0-lesing geen infeksie aandui terwyl 'n lesing van 5, totale uitwissing aandui.
In Tabel 2 word die invloed van bewerking op die besmetting van lupiene met Sclerotinia sclerotiorum (stamvrot) en Pleiochaeta setosa (bruinblaarvlek) aangetoon.
Tabel 2Behandeling | Stamvrot | Bruinblaarvlek | |
---|---|---|---|
% Besmetting | Intensiteit (0-5) | Intensiteit (0-10) | |
Downside lokaliteit | |||
Bewerk | 52 | 2.7 | 3.7 |
Direk plant | 32 | 1.3 | 1.8 |
KBV (P=0.05) | 13 | 1.3 | 0.8 |
Harden lokaliteit | |||
Bewerk | 48 | 3.0 | 3.6 |
Direk plant | 24 | 1.3 | 1.9 |
KBV (P=0.05) | 17 | 0.9 | 1.0 |
Junee lokaliteit | |||
Bewerk | 25 | 1.7 | 1.8 |
Direk plant | 18 | 0.8 | 2.1 |
KBV (P=0.05) | n.s. | n.s. | n.s. |
Temora lokaliteit | |||
Bewerk | 59 | 2.7 | 1.3 |
Direk plant | 31 | 1.0 | 1.2 |
KBV (P=0.05) | 18 | 0.9 | n.s. |
Uit die resultate blyk dit dat die voorkoms van P. setosa baie minder was in die persele wat direk geplant is en die koringstoppels as 'n deklaag op die grondoppervlakte gelaat is. Die deklaag van stoppels verhoed dat dat grondgedraagde spore van P. setosa tydens reën op die plante spat en besmetting veroorsaak. By twee van die proeflokaliteite is beteknisvol meer besmette plante in die vooraf bewerkte persele gevind as by persele wat direk geplant is (Downside & Harden). Stoppels by die lokaliteite Junee en Temora is onderskeidelik vooraf gebrand en verwyder en is geen betekenisvolle verskille waargeneem nie.
Die voorkoms van Sclerotinia was hoogs betekenisvol groter en byna dubbeld soveel in die vooraf bewerkte persele as in die persele wat direk geplant is. By die Junee proeflokaliteit waar stoppels vooraf gebrand is was die verskille baie kleiner en nie betekenisvol tussen die behandelings nie. Plante in die vooraf bewerkte persele het groter nekrotiese siekteletsels op die stamme getoon met gepaardgaande hoër siekte intensiteit. Die hoofhalms (stam) van besmette plante was totaal verrot en was moontlik die oorsaak van die kleiner saadopbrengs.
Bespreking
Hoewel die resultate toon dat direkte plant van lupiene verminderde saailing groeikrag tot gevolg kan hê kan hierdie minder vegetatiewe groei groter voordele inhou soos die afname in siektes soos stamvrot en bruinblaarvlek. So byvoorbeeld was die voorkoms en intensiteit van besmetting met Sclerotinia by die vooraf bewerkte persele betekenisvol meer en ook moontlik die oorsaak van oesverliese (16–35%) by drie van die proeflokaliteite (Downside, Harden & Temora).
Die toename in die voorkoms van stamvrot in die bewerkte persele kan aan klimaatsfaktore soos temperatuur en vog tewyte wees. Die betekenisvolle groter vegetatiewe groei (plantmassa) wat verkry is met bewerking het aanleiding gegee tot 'n digter blaredak met hoër humiditeit rondom die plante se stamme. Die koel vogtige toestande was baie gunstig vir die ontwikkeling van en besmetting met Sclerotinia. Verminderde vegetatiewe groei wat verkry is met direkte plant het 'n yler blaardak tot gevolg gehad en was daar 'n minder ideale mikro-klimaat vir die ontwikkeling van stamvrot
Lewensvatbare sclerotia van Schlerotinia word tydens bewerking na die grondoppervlak gebring en kan dus opvolg lupiene besmet. Tydens direkte plant vind daar min grondversteuring plaas en word minder sclerotia na die oppervlak gebring met 'n afname in die voorkoms van stamvrot.
Vroeër navorsing (Sweetingham, 1993) het getoon dat 'n stoppel deklaag, soos verkry met direkte plant, die voorkoms van bruinblaarvlek verminder deur te verhoed dat reën die spore op plante spat. Gedurende hierdie ondersoek (Simpfendorfer et al) is die bevinding weereens bevestig en was die intensiteit van bruinblaarvlek betekenisvol kleiner in die persele waar direk geplant is met 'n stoppeldeklaag. By die lokaliteite waar stoppels vooraf gebrand (Junee) of verwyder (Temora) is kon geen betekenisvolle verskille in bruinblaarvlek tussen bewerkte- en direk geplante persele gevind word nie.
Die hoër saadopbrengs wat verkry is deur direk te plant kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die afname in die voorkoms van Sclerotinia (stamvrot). In langtermyn wisselbouproewe (1979–1992) met lupiene en koring was die gemiddelde saadopbrengs van lupiene 1.59 t/ha met direkte plant teenoor 1.44 t/ha met konvensionele bewerking (KBV = 0.12 t/ha).
Verwysings
- Impact of tillage on lupin growth and the incidence of pathogenic fungi in southern New South Wales.
Simpfendorfer S, Heenan DP, Kirkegaard JA, Lindebeck KD andMurray GM (2004). Aust. J. Exp. Agric. 44, 53–56. - Cereal stubble mulching protects lupins from brown spot (Pleiochaeta setosa).
Sweetingham MW, Loughman R and Porrit SE (1993). Aust. J. Exp. Agric. 33, 469-473.
Enquiries / Navrae
Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western CapeInstituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. pietl@elsenburg.com
Editors / Redaksie
PJA Lombard J Bruwer Dr N KotzeSponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting