Lupino 24 Januarie 2006
Artikel indeks
- Figuur 6: Lupien opbrengs by Riversdal
- Figuur 7: Lupien opbrengs by Mosselbaai
- Figuur 8: Lupien opbrengs by Darling
- Figuur 9: Lupien opbrengs by Moorreesburg
- Figuur 10: Lupien opbrengs by Hopefield
- Figuur 11: Lupien opbrengs by Porterville
- Figuur 12: Gemiddelde opbrengs in die Rûens
- Figuur 13: Gemiddelde opbrengs in die Swartland
Lupien cultivarevaluasie in die Wes- en Suid-Kaap 2005
DJ Hanekom en P Lombard
Departement Landbou: Wes-Kaap, Privaatsak X1, Elsenburg 7607
Algemene oorsig (Herman Agenbag: PNS)
Volgens aanduidings was die gemiddelde saadopbrengs van lupiene oor al die produksiegebiede ongeveer 1.2 ton/ha. Daar is egter etlike produsente wat saadopbrengste van 1.6 tot 2.0 ton/ha behaal het. Poeieragtige meeldou (witroes) het weereens sporadies voorgekom en produsente moes dit chemies beheer. Dit blyk dat bolwurms minder probleme veroorsaak het as gedurende die 2004 seisoen.
Volgens beraming is daar ongeveer 14 500 ha soetlupiene in die Wes- en Suid-Kaap gedurende die 2005 seisoen verbou. Dit verteenwoordig 'n toename van 7 500 ha teenoor die aanplantings (7 000 ha) van die 2004 seisoen.
Die oppervlaktes (ha) onder soetlupien produksie gedurende die 2005 seisoen vir die verskillende verbouings gebiede was as volg:
Bredasdorp / Napier | 550 (200) | Caledon / Riviersonderend | 2 600 (2600) |
Swellendam / Heidelberg | 1 600 (300) | Moorreesburg / Hopefield | 5 500 (2 200) |
Malmesbury | 1 850 (900) | Porterville/Eendekuil | 1 200 (400) |
Riversdal / George | 1 200 (400) |
Syfers in hakkies – 2004 oppervlaktes onder lupien produksie.
Die Departement Landbou: Wes-Kaap het gedurende die 2005 seisoen 'n reeks cultivarproewe in die Suid- en Wes-Kaap uitgevoer. Proewe is op ses lokaliteite, wat strek van Mosselbaai tot Caledon in die Suid-Kaap streek, uitgevoer terwyl daar ook op ses lokaliteite in die Wes-Kaap van Philadelphia tot Eendekuil aangeplant is. As gevolg van versuiptoestande is die proef aanplanting by Philadelphia nie voltooi nie.
Reënval oorsig
Klimaatstoestande tydens die 2005 seisoen is gekenmerk deur baie goeie reënval wat oor groot dele van die Suid-Kaap tydens planttyd (April tot Junie) voorgekom het. In die Swartland het goeie reënval ook oor groot dele van die gebied met die aanvang van die seisoen voorgekom. In beide gebiede is egter 'n baie droë Julie ervaar wat tot oesverlagings in seker gebiede gelei het. Tydens Augustus en September het daar egter genoegsame reënval oor die grootste gedeeltes voorgekom wat in sekere areas tot baie goeie opbrengste gelei het. Die reënvalsyfers soos dit by die verskillende gebiede voorgekom het word in figuur 1 getoon.
Agronomiese praktyke
Proefpersele by beide die Swartland en Suid-Kaap lokaliteite het 'n vlak tandbewerking voor plant gekry ten einde 'n fyn en gelyke saadbed te verseker. Die proewe is geplant met 'n Wintersteiger perseelplanter. Die duisendkorrelmassa en ontkiemings% van elke cultivar is bepaal. Saaidigthede is bereken ten einde 'n mikpunt van 45 plante/m² te verseker.
Alle bemesting wat toegedien is, is gebasseer op grondontledings van grondmonsters wat by elke proefperseel geneem is. Bemesting is volgens aanbeveling van die Elsenburg grondontledingslaboratorium gedoen. Molibdeen en boor blaarbespuiting is by alle lokaliteite op ongeveer 60 tot 70 dae na plant gedoen.
Onkruidbeheer waar nodig is volgens onkruidspesie en –druk toegepas. Hoofsaaaklik is daar gebruik gemaak van 'n voor-opkoms bespuiting met simasien gevolg deur na-opkomsbeheer met Brodal (deflufenican) en Focus Ultra (cycloxydim). Insekbeheer het hoofsaaklik bestaan uit 'n bespuiting teen rooibeensandmyt en lusernerdvlooi na vestiging, gevolg deur bespuitings later in die seisoen vir die beheer van plantluise en bolwurms. Die middels wat gebruik is, was Dimet (dimetoaat) en Dursban (chlorpiriphos).
Met rypwording is persele gestroop met 'n Wintersteiger perseelstroper waarna die saad skoongemaak en toegelaat is om 'n resulterende vogpersentasie te bereik voordat dit geweeg is. Smalblaarcultivars wat geneig is tot uitspring is platgesny op ongeveer 60% vog en in sakke gelaat op die land wat met oestyd deur die stroper gegooi is.
Resultate
'n Vergelyking van die opbrengste van die plantdatum proewe by die Tygerhoek lokaliteit toon dat die vroeër plantdatum, wat betref die smalblaar tipes, oor die algemeen beter gevaar het as die later plantdatum. Weinig verskil in opbrengste van die breëblaartipes het by die twee plantdatums voorgekom. 'n Verklaring hiervoor lê moontlik by die midwinter droogte wat by hierdie lokaliteit tydens 2005 voorgekom en wat waarskynlik die swakker ontwikkelde plante van die smalblaartipes van die tweede aanplanting meer beïnvloed het. Die opbrengste van die smalblaar tipes by die eerste aanplanting het gewissel van 2.11 ton/ha tot 3.02 ton/ha vir die cultivars Wonga en Quilinock onderskeidelik. By die tweede aanplanting was die opbrengste heelwat laer en het van die cultivars minder as 'n ton per hektaar gelewer. Soos reeds genoem het is die opbrengs van die breëblaar tipes weining deur die plantdatum beïnvloed.
Die opbrengste van die smalblaartipes by die Napier lokaliteit was baie wisselvalig en het van die cultivars soos Mandelup, Quilinock en Merrit opbrengste van meer as 3 ton/ha gelewer, terwyl van ander die cultivars minder as 1 ton/ha gelewer het. Opbrengste van die breëblaartipes was goed met die cultivar CED 6150 wat 'n opbrengs van 2.93 ton/ha gelewer het. By die Swellendam lokaliteit het heelwat van die cultivars meer as die proefgemiddelde van 2.01 ton/ha behaal met die hoogste opbrengs van 2.41 ton/ha wat deur die cultivar LAG 28 gelewer is. Ook hier het die cultivar CED 6150 die beste gevaar van die breëblaar tipes met 'n opbrengs van 2.27 ton/ha. Die opbrengste van beide die smal- en breëblaar lupiene by die Riversdal lokaliteit was deurgaans goed en het al die cultivars sonder uitsondering opbrengste van meer as 2 ton/ha gelewer. Die opbrengste van die smalblaarlupiene het gewissel van 2.27 tot 2.82 ton/ha vir die cultivars LAF 8 en Eendekuil onderskeidelik terwyl die opbrengste van die breëblaar lupiene gewissel het van 2.32 tot 2.59 ton/ha vir die cultivars Ronell en CED 6150 onderskeidelik. By die Mosselbaaiproef was die opbrengste van die breëblaarlupiene merkbaar swakker as die opbrengste van die smalblaarlupiene. Die hoogste opbrengs van die smalblaar lupiene is deur die cultivar Mandelup behaal met 'n opbrengs van 2.47 ton/ha gevolg deur die cultivars LAG 28 en Merrit met opbrengste van onderskeidelik 2.37 en 2.28 ton/ha.
Die gemiddelde opbrengste van die lupien cultivars vir die lokaliteite van die Suid-Kaap toon dat die cultivar Mandelup oor die algemeen die beste gevaar het met 'n gemiddelde opbrengs van 2.63 ton/ha, gevolg deur die smalblaarcultivar Quilinock, en die breëblaar cultivar CED 6150.
By die Darling proef in die Swartland area die opbrengste van die smalblaarlupiene gewissel van 1.15 ton/ha vir die cultivar LAF 8 tot 2.25 ton/ha wat deur die cultivar Mandelup behaal is. Ook hier het die breëblaar cultivar CED 6150 goed gevaar met 'n opbrengs van 2.28 ton/ha.
Wat betref die twee plantdatumproewe by die Langgewens lokaliteit het slegs die eerste plantdatum voldoen aan die statistiese vereistes. Hier het die breëcultivars goed gevaar en het die cultivars CED 6150 die hoogste opbrengs van 3.02 ton/ha gehad gevolg deur die smalblaarcultivar LAG 28 met 'n opbrengs van 2.67 ton/ha.
Die opbrengste van die breëblaar lupiene by die Hopefield proef het gewissel tussen 1.35 en 1.17 ton/ha en was merkbaar swakker as die opbrengste van die smalblaarlupiene. Die hoogste opbrengs van 1.96 ton/ha is deur die cultivar LAG 16-3 behaal met gevolg deur LAG 28 en Quilinock met opbrengste van 1.93 en 1.82 ton/ha onderskeidelik. Goeie opbrengste is deur beide die smal- en breëblaar lupiene by die Porterville proef behaal. Die cultivar CED 6150 het die beste presteer met 'n opbrengs van 3.06 ton/ha gevolg deur die smalblaarcultivars LAG 28 en LAG16-3 met opbrengste van 2.73 en 2.57 ton/ha onderskeidelik.
Die gemiddeldes van die cultivars vir al die lokaliteite in die Swartland dui op die beste prestasie deur die breëblaarcultivar CED 6150 met 'n gemiddelde opbrengs van 2.43 ton/ha. Die smalblaarlupiene met die hoogste gemiddelde in hierdie gebied was die kutlivar LAG 28 met 'n gemiddelde opbrengs van 2.24 gevolg deur Quilinock en Mandelup met gemiddelde opbrengste van 2.09 en 2.03 ton/ha onderskeidelik.
Volgens die proefresultate het die cultivars Mandelup en Quilinock baie goed presteer, veral in die Suid-Kaap asook by enkele lokaliteite in die Swartland. Quilinock is reeds sedert 2003 in die cultivarproewe en presteer deurgans gogemiddeld. Daar sal blykbaar 'n beperkte hoeveelheid saad vir kommersiële produksie gedurende 2006 beskikbaar wees.
Belangrike eienskappe van Mandelup is hoë saadopbrengs (beste cultivar in Australië), goeie weerstand teen antraknose, uitstekende weerstand teen Phomopsis, redelike goeie luisweerstand en goeie verdraagsaamheid teenoor die onkruiddoder metribuzin (nuwe tipe chemie wat teen onkruiddoderweerstand kan help. Volgens beplanning sal daar tydens 2006 begin word met saadvermeerdering vir moontlike kommersiële produksie tydens 2007.
Figuur 2Riviersonderend (Tygerhoek Saaityd 1)
Figuur 3Riviersonderend (Tygerhoek Saaityd 2)
Figuur 4Napier (Panorama)
Figuur 5Swellendam (Kliphoogte)
Figuur 6Riversdal (Uitsig)
Figuur 7Mosselbaai (Patrysfontein)
Figuur 8Darling (Waylands)
Figuur 9Moorreesburg (Langgewens)
Figuur 10Hopefield (Leliefontein)
Figuur 11Porterville (Keerom)
Figuur 12Rûens (Tygerhoek, Panorama, Kliphoogte, Uitsig en Patrysfontein)
Figuur 13Swartland (Weylands, Darling, Langgewens, Leliefontein en Keerom)
Enquiries / Navrae
Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western CapeInstituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. pietl@elsenburg.com
Editors / Redaksie
PJA Lombard J Bruwer Dr N KotzeSponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting