Lupino logo

LUPIENWERKGROEP NUUSBRIEF

Lupino 25   Maart 2006

Artikels indeks

Beter aangepaste lupienecultivars vir Wes- en Suid-Kaap


Enkele aspekte insake die gebruik van lupiene deur die gebalanseerde veevoerbedryf

Hugo Kotzé
Bokomo Voere, Malmesbury

Die gebruik van lupiene in die Wes-Kaapse gebalanseerde veevoer­bedryf het reeds verskeie kere aandag geniet sedert die stigtings­vergadering van die Lupienwerkgroep van die Proteïen­navorsing­stigting gedurende April 1997, hoofsaaklik in 'n poging om van die groot hoeveelhede proteïenbronne (sojameel) wat vanaf die buiteland ingevoer word vir gebruik in veevoere, te vervang.

Daar is reeds 'n ontsaglike hoeveelheid navorsing ten opsigte van die ontleding van lupiene deur verskeie navorsers gedoen, waarvan enkele uittreksels hieronder verskaf word.

Tabel 1
Ru-proteïen en ware metaboliseerbare energie-inhoud
Cultivar Ru-proteïeninhoud – % TMEn – MJ/kg
Brandt Gous Brand Gemiddeld Brandt Gous Gemiddeld
L. angustifolius
Eureka 34.94 31.63 30.70 32.42 9.70 9.89 9.80
Helderberg 35.83 33.38 34.61 9.73 9.65 9.69
Merrit 34.42 30.58 32.50 9.93 10.38 10.16
Moredou (bitter) 30.38 30.38 12.47 12.47
L. albus
Astra 42.92 28.09 35.51 12.45 12.85 12.65
Buttercup 38.10 38.10 12.07 12.07
Esta 36.22 35.89 36.06 12.58 13.15 12.87
Hamburg 35.56 37.00 36.28 12.87 12.87
Kiev 37.13 29.73 35.70 34.19 12.88 11.88 12.38
Vladimir 39.20 39.20 12.06 12.06
L. luteus
Borsaja 39.32 39.32 10.04 10.04
Juno 39.39 39.39 10.36 10.36

Te oordeel aan die bogenoemde ontledings ten opsigte van ru-proteïen en metaboliseerbare energie-inhoud, sal die veevoervervaardiger hoogswaarskynlik verkies om die L. albus tipe lupiene te gebruik. Die hoër TME inhoud van die L. albus tipes is 'n bepalende faktor met uitoefening van hierdie keuse. Waardebepalings van die verskillende tipes lupiene dui ook met herhaling aan dat die waarde van die L. albus cultivars heelwat hoër is as dié van die L. angustifolius cultivars. Die Moredou cultivar bevat ook 'n hoë TME inhoud maar is nie geskik vir gebruik nie weens die hoë alkaloïedinhoud. Daar is baie min indien enige saad beskikbaar van die L. luteus cultivars.

Tabel 2
Aminosuurinhoud
Cultivar Lisien – % Metionien – %
Totaal Beskikbaar Totaal Beskikbaar
Brandt Gous Brandt Gous Brandt Gous Brandt Gous
L. angustifolius
Eureka 1.92 1.56 1.66 1.23 0.13 0.17 0.10 0.14
Helderberg 2.11 1.66 1.82 1.25 0.15 0.17 0.10 0.14
Merrit 1.83 1.40 1.47 1.18 0.14 0.15 0.10 0.12
Moredou 1.57 1.32 0.13 0.11
L. albus
Astra 1.92 1.51 1.78 1.29 0.19 0.20 0.17 0.18
Buttercup 2.14 1.90 0.18 0.15
Esta 1.84 1.69 1.49 1.41 0.16 0.20 0.11 0.18
Hamburg 1.91 1.44 0.16 0.10
Kiev 1.93 1.51 1.57 1.28 0.17 0.20 0.13 0.19
Vladimir 2.00 1.60 0.18 0.13
L. luteus
Borsaja 2.55 2.23 0.22 0.20
Juno 1.89 1.50 0.18 0.13
Tabel 3
Alkaloïedinhoud
Cultivar Monter 1 Monter 2 Gemiddeld
L. angustifolius (soet)
Eureka 35.20 80.80 58.00
Helderberg 20.00 38.00 29.00
Merrit 67.30 24.20 45.75
Gemiddeld 44.25
L. angustifolius (bitter)
Moredou 13.925 16.484 15.205
L. albus
Astra 1 670 175 923
Buttercup 1 413 2 673 2 043
Hamburg 3 549 784 2 167
Kiev 1 915 141 1 028
Esta 1 119 703 911
Vladimir 1 256 156 706
Gemiddeld 1 296

Die veevoervervaardiger sal uiteraard nie daarvan hou om enige bitter cultivars, waarvan verskeie beskikbaar is, te gebruik nie weens inname-probleme deur diere en sal ook probleme ondervind om die cultivars wat gelewer word aan sy aanleg, te identifiseer. Met kontraktering vir lewering van lupiene sal hierdie kwessie noukeurige aandag moet geniet. Daar sal uiteraard ook toesig gehou moet word oor die tipe cultivar wat deur die gekontrakteerde produsent aangeplant is deur onder andere blomkleurbepaling.

Die produkmandjie van die vervaardiger sal uiteindelik bepaal watter cultivars wel aangekoop kon word. Indien 'n groot persentasie van die vervaardiger se uitset uit pluimveevoere bestaan, sal cultivars van die L. albus tipe verseker verkies word. Waar die pluimveevoer komponent van die produkmandjie kleiner is, sal die vervaardiger hoogswaarskynlik van die soet L. angustifolius cultivars gebruik kan maak. Volstruise het geen probleme ondervind met die inname van die lae-alkaloïed (soet) L. angustifolius cultivars nie.

Sommige veevoervervaardigers gebruik volvet canola (canolasaad) met groot sukses en sal heelwaarskynlik ook van die soete lupiene cultivars gebruik kan maak. Daar is meestal egter 'n beperkte aantal houers of buise binne die veevoeraanleg beskikbaar, wat dit dus prakties moeilik maak om beide grondstowwe tegelykertyd te gebruik. Dit het ongelukkig soms tot gevolg dat die grondstof geberg moet word met onvermydelike berging- en rentekostes. Hierdie aspek het baie maal tot gevolg dat die waarde daarvan ongunstig vergelyk met die van ander proteïenbronne. Waar 'n vervaardiger lupiene wel onmiddelik met ontvangs tydens oestyd kan gebruik, sal daar ook berging- en rentekostes betrokke wees in die proses om kontinuïteit van verbruik in die voere te verseker.

  • Interim report to the Protein Research Trust on the evaluation of Canola and Lupins for pig and poultry feeding
    RM Gous. Department of Animal Science and Poultry Science, University of Natal, Pietermaritzburg. June 1998
  • Preference of different types of lupins by ostriches
    TS Brand, N Smith, B Aucamp and A Kruger. Animal Production Institute, Elsenburg. 2004
  • Nutritional evaluation of alternative protein and energy sources in the Western Cape
    DA Brandt, M.Sc tesis. Stellenbosch Universiteit. 1998
  • Persoonlike mededelings deur ...
    Prof Tertius Brand, mnr Herman Agenbag en mnr Ludwig Zietsman

Relatiewe waarde van lupiene

Die relatiewe waarde van lupiene word bepaal deur die plaaslike prys van ingevoerde sojaboonoliekoek (47% proteïen). Die prys van ingevoerde sojaboon-oliekoek is tans R1 610 per ton en sal die relatiewe waarde van lupiene soos volg wees:

L. albus   (CED6150)
Pluimvee (75%) R1 208
Suiwel (80%) R1 288
L. angustifolius  (Wonga)
Pluimvee (53%) R853
Suiwel (52%) R837
L. luteus   (Juno)
Pluimvee (63%) R1 014
Suiwel (73%) R1 175

Soet smalblaarlupiene verhandel tans teen ongeveer R1 250 per ton. Breëblaarlupiene is byna onverkrygbaar en word deur produsente gehou vir eie gebruik.


Ontwikkeling van beter aangepaste lupienecultivars vir die Wes- en Suid-Kaap

HJC Agenbag
Proteïennavorsingstigting

Gedurende 2000 en 2001 is verskeie kombinasies (kruisings) gedoen met smalblaar lupienecultivars vanaf Australië, Duitsland, Pole en Belarus vir die ontwikkeling van moontlike nuwe lupienecultivars. Die doel van hierdie projek is om hierdie kruisings in veldproewe in verskillende klimaatstreke (2) te evalueer.

Gedurende 2005 is die mees belowende kruisings (90), soos blyk uit 2003 en 2004 se resultate, in 'n veldproef te Tygerhoek (Riviersonderend) geplant. Vier cultivars (Wonga, Merrit, Tanjil, Mandelup) is as standaarde ingesluit. 'n Verdere 65 kruisings waarvan daar te min saad was vir die veldproef is in enkelpersele te Elsenburg aangeplant saam met die cultivars Wonga, Merrit, Tanjil en Mandelup. Die cultivars Wonga en Tanjil dra tans ongeveer 95% by tot die totale plaaslike soetlupieneproduksie in die Wes- en Suid-Kaap. Merrit is 'n gesamentlike teelouer van beide Wonga en Tanjil en beskik oor baie goeie springtraagheid. Mandelup is 'n nuwe cultivar uit Wes-Australië met 'n baie goeie saadopbrengspotensiaal.

Die gemiddelde saadopbrengs van die veldproef te Tygerhoek was 2 427.03 kg/ha. Die beste saadopbrengs van 3 764.3 kg/ha is behaal deur die kruising E104.2.1 gevolg deur E65.1.1 (3 739.4 kg), E99.2.1 (3 514.9 kg) en E94.1.1 (3 317.2 kg). Saadopbrengs van die standaard cultivars was as volg: Mandelup (3 300.8 kg), Wonga (2 593.9 kg), Tanjil (2 323.7 kg) en Merrit (2 208.1 kg). Slegs die beste presteerder (E104.2.1 se opbrengs was betekenisvol (5%) beter as die van Mandelup. Daar was egter 11 kruisings wat betekenisvol beter as Wonga, 23 beter as Tanjil en 28 beter as Merrit presteer het.

Geen groot verskille in witroesweerstand en springtraagheid tussen kruisings en cultivars kon waargeneem word nie. Die blomdatum (dae na saai) van die vier beste kruisings het gewissel van 81–90 dae teenoor die 83–89 dae van standaard cultivars.

In die enkelpersele te Elsenburg het die kruising E28.1.3 die beste presteer met 'n saadopbrengs van 2 595.1 kg/ha gevolg deur E44.1.1.1 (2 331.1 kg), E122.2.1 (2 098.1 kg) en E150.2.1 (2 097.9 kg/ha). Die saadopbrengs van die standaard cultivars was onderskeidelik Mandelup (1 496.6 kg), Wonga (1 170.3 kg), Tanjil (1 072.7 kg) en Merrit (771.6 kg/ha). Die gemiddelde saadopbrengs van die beste kruisings(4) was 2 280 kg/ha teenoor die 1 128 kg/ha van die cultivars met ander woorde 1 152 kg/ha meer.

Geen noemenswaardige verskille in witroesweerstand en springtraagheid kon waargeneem word nie. Die blomdatum (dae na saai) van die kruisings het gewissel van 101–106 dae teenoor die 95–108 dae van die cultivars.

Volgens die resultate van die veldproef asook die enkelpersele blyk daar kruisings te wees met 'n goeie saadopbrengspotensiaal wat beter presteer as die plaaslike standaard cultivars onder verbouing. Gedurende 2006 sal die projek voortgaan met 'n bykomende veldproef te Langgewens Proefplaas (Moorreesburg).


Enquiries / Navrae

Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western Cape
Instituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Dr N Kotze
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter