Lupino 26 Junie 2006
Artikel indeks
Onkruiddoderweerstand
Die beheer van poeieragtige meeldou (erysiphe polygoni) by lupiene
Herman Agenbag
Proteïennavorsingstigting
Inleiding
Poeieragtige meeldou, ook beter bekend as witroes, is reeds gedurende 1950 op lupieneplante in glashuise plaaslik gevind. Geen siekte-simptome kon egter by kommersiële lupieneproduksies waargeneem word nie en het dit geen ernstige bedreiging vir die plaaslike lupienebedryf voorspel nie. Gedurende 1973 het die siekte egter oor die hele Swartland gebied voorgekom en het witroes seker die grootste enkele bedreiging vir die lupienebedryf in die Wes- en Suid-Kaap geword. Witroes het sedertdien epidemiese afmetings tot gevolg gehad sodat lupieneproduksie deur baie produsente summier gestaak is.
Kultivars wat op daardie stadium plaaslik verbou was, het geen weerstand teen poeieragtige meeldou gehad nie en was chemiese beheer van die siekte die enigste moontlike oplossing. Die hoë koste van chemiese beheer het die winsgewendheid van lupieneproduksie meteens onder groot druk geplaas.
Die cultivars (smalblaar) wat tans plaaslik verbou word soos Wonga, Tanjil en Eendekuil is vatbaar vir witroes en sal chemiese beheer nodig wees indien besmetting voorkom.
Siektesiklus
Poeieragtige meeldou word veroorsaak deur die swam Erysiphe polygoni. Temperatuur en humiditeit speel 'n belangrike rol in die ontwikkeling van witroes.
Die swam vereis temperature van 20 tot 25ºC met 'n relatiewe humiditeit van tussen 45 en 95 persent om te ontwikkel. Enige ses-uur periode waartydens die relatiewe humiditeit tussen 45 en 95 persent is met temperature tussen 20 en 25ºC kan as 'n gunstige periode vir siekte-ontwikkeling beskou word. Volgens ontleding van klimatologiese data van die Wes- en Suid-Kaap blyk dit dat poeieragtige meeldou se verskyning gedurende Augustus verwag kan word, wat gewoonlik saamval met die blomperiode van lupiene.
Gedurende gunstige periodes ontkiem die spore en vind infeksie binne 6 ure plaas. Dit is in teenstelling met ander swamme wat óf 'n baie hoë relatiewe humiditeit of vry water vereis om te kan ontwikkel. Vry water is egter nadelig vir die swam wat poeieragtige meeldou veroorsaak aangesien die spore oop bars wanneer dit benat word.
Die konsentrasie en verspreiding van gunstige periodes gedurende die groeiseisoen van lupiene sal die ontwikkeling en intensiteit van die siekte bepaal. Hoe meer gunstige periodes voorkom hoe gouer en meer intens sal poeieragtige meeldou ontwikkel. Volgens waarneming verskyn die siekte gewoonlik gedurende die blomperiode van lupiene.
Simptome
Die eerste simptome word gewoonlik op die oudste blare waargeneem as tipiese melerige wit vlekke waarna dit dan oor die hele plant versprei en selfs op die stamme, blomme en peule verskyn.
Die wit poeieragtige voorkoms van die siekte word veroorsaak deur ontelbare aantal ionidiofone met spore op die wit oppervlakkige swamdrade. Slegs klein voedingsorgaantjies dring die boonste laag selle van die plant binne. Hierdie eienskap van die swam maak dit baie kwesbaar vir chemiese beheer omdat die hele swam blootgestel word aan die werking van die swamdoder.
Beheermaatreëls
Navorsingsresultate toon dat poeieragtige meeldou saadopbrengs nadelig beïnvloed slegs wanneer die siekte tydens die blomstadium van lupiene 'n hoë besmettingsvlak bereik het. Gedurende 1988 het poeieragtige meeldou reeds in Julie voor blom verskyn en is betekenisvolle verhogings in saadopbrengs van tussen 24 en 120% verkry met effektiewe chemiese beheer, terwyl geen beheer volslae misoeste tot gevolg gehad het. Dié vorige jaar (1987) het poeieragtige meeldou eers teen einde September gedurende die vol-peul stadium verskyn en kon geen verbetering in saadopbrengs met chemiese beheer verkry word nie.
Hierdie bevindings gedurende 1987 en 1988 staaf navorsers se teorie dat die siekte geen betekenisvolle invloed op saadopbrengs het nie wanneer dit gedurende die blomstadium verskyn en daarna 'n normale ontwikkelingspatroon volg om 'n maksimum besmettingspeil na blom te bereik.
Indien die siekte reeds voor blom verskyn en maksimum besmetting tydens enige fase van die blomstadium bereik, kan oesverliese verwag word.
Warm en droë weerstoestande is baie bevorderlik vir die vinnige ontwikkeling en verspreiding van witroes terwyl koue nat toestande siekte ontwikkeling vertraag. Dit is dus baie belangrik om aanplantings gereeld, veral tydens droë en warm toestande, te besoek sodat siektesimptome vroegtydig waargeneem kan word. Begin chemiese beheer sodra die eerste simptome sigbaar is om verder ontwikkeling en verspreiding van die siekte te verhoed. Voorkomende bespuitings teen witroes blyk nie baie suksesvol te wees nie en word dus nie aanbeveel nie.
Die volgende middels is plaaslik geregistreer vir die beheer van poeieragtige meeldou.
Produk | Dosis per ha | Tyd van toediening | Opmerkings |
---|---|---|---|
Bayleton | 500ml | Eerste tekens van siekte | 500 liter water/ha, herhaal 3-4 weke |
Denarin | 750ml | Eerste tekens van siekte | 500 liter water/ha |
Topaz | 300ml | Eerste tekens van siekte | 300-500 liter water/ha |
Stuifswawel | 15–20kg | Eerste tekens van siekte | Herhaal elke 3-4 weke |
Bayleton bied goeie beheer vir ongeveer 28 dae terwyl die ander produkte se beheer wissel van 7 tot 14 dae.
Die beste resultate word behaal indien die plante deeglik benat word met die swamdoder.
Smalblaarlupiene is meer vatbaar vir poeieragtige meeldou as breëblaar- en geellupiene. Chemiese siektebeheer is selde of nooit nodig by breëblaar- en geellupiene nie.
Enquiries / Navrae
Institute for Plant Production, Department of Agriculture Western CapeInstituut vir Plantproduksie, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. pietl@elsenburg.com
Editors / Redaksie
PJA Lombard J Bruwer Dr N KotzeSponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting