Canolafokus 53 Mei 2013
Indeks
Swawel bemesting van canola
Saamgestel deur André Agenbag
Universiteit Stellenbosch
Dit is algemeen bekend dat canola baie voedingsstowwe benodig. Soos uit tabel 1 blyk word ongeveer twee maal soveel stikstof, fosfor en kalium en meer as drie maal soveel S deur canola, in vergelyking met koring, opgeneem in die proses om 1.0 ton graan te produseer. Omdat die opbrengs van canola onder dieselfde groeitoestande meestal sowat 30-40% minder is as die opbrengs van koring behoort die bemestingsbehoeftes van canola met die uitsondering van swawel (S) nie meer as 10-20% hoër te wees as vir koring. Swawel bemesting van canola behoort dus baie aandag te geniet.
Tabel 1Voedingstof | N | P | K | S | Ca | Mg | Cu | Zn | Mn |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Kg per ton graan | Gram per ton graan | ||||||||
Koring | 21 | 3 | 4 | 1.5 | 0.33 | 0.93 | 5 | 29 | 40 |
Gars | 20 | 2.9 | 4.4 | 1.1 | 0.3 | 1.08 | 3 | 15 | 11 |
Hawer | 16 | 3 | 4 | 1.5 | 0.5 | 1.0 | 3 | 17 | 40 |
Canola | 40 | 7.0 | 9.2 | 10.0 | 4.1 | 4.0 | 4 | 40 | 40 |
Lupiene | 51 | 3.8 | 8.8 | 3.1 | 1.7 | 1.7 | 5 | 30 | 60 |
Kg in strooi | |||||||||
Koring | 9 | 1.8 | 42 | 2.7 | |||||
Canola | 18 | 2.4 | 70 | 4.8 | |||||
Lupiene | 17 | 0.6 | 26 | 2.7 |
Soos in die geval van stikstof (N), is organiese materiaal die belangrikste bron van swawel in die grond. Swawel bemesting op grond met 'n lae organiese materiaal inhoud is dus onontbeerlik. Omdat die mineralisasie (vrystellings) tempo van swawel egter te stadig is om aan die groeiende canola plant se behoeftes te voorsien en boonop soos stikstof ge-immobiliseer kan word of kan loog, word swawelbemesting in lande soos Kanada as 'n standaard praktyk vir canola aanbeveel, selfs op humusryke grond en grond met 'n hoë swawelontleding (>12 mg S kg-1 grond).
Swawelbemesting is volgens die literatuur ook belangrik om die optimale reaksie met stikstofbemesting te verseker en navorsing het getoon dat stikstofbemesting selfs 'n verlaging in graanopbrengs kan veroorsaak indien daar nie voldoende swawel beskikbaar is nie. 'n Stikstof tot swawel verhouding van ongeveer 7:1 word aanbeveel.
Ten einde antwoorde te verskaf op vrae soos: "Wat is die optimum N en S peile vir canola in die Wes-Kaap?"; "Wanneer moet die swawel toegedien word?" en "Watter bronne van swawel is die beste?" is proewe gedurende 2012 begin op Langgewens Proefplaas (Moorreesburg), Altona (Philadelphia) en Roodebloem (Caledon). Grondontledings op hierdie lokaliteite het getoon dat die S-inhoud van die grond op al hierdie lokaliteite minder as 6.0 mg kg-1 is en dus as gebrekkig geklassifiseer kan word. Die persentasie koolstof (%C) van die grond waarop die proewe in 2012 gedoen is, het gewissel tussen 0.51% op Langgewens, 0.57% op Altona en 1.41% op Roodebloem.
In die eerste proef is stikstofpeile van 0, 40, 80, 120 en 160 kg N ha-1 (toegedien as KAN in hoeveelhede 40 kg N ha-1 met plant asook 30 en 60 dae na plant waar van toepassing) getoets in kombinasie met swawelpeile van 0, 30 en 60 kg S ha-1 wat alles as gips (Ca SO4) met planttyd toegedien is. Hoewel gips nie algemeen as swawelbron gebruik word nie, is dit in die proewe gebruik omdat bronne soos ammoniumsulfaat, ureum-S, ensovoorts natuurlik ook stikstof bevat. Dit is dan baie moeilik om die werklike effek van die swawel te meet.
Gunstige klimaatstoestande tydens die pitvul (na blom) stadiums het hoë graanopbrengste van meer as 2000 kg ha-1 op Altona en Roodebloem veroorsaak, terwyl opbrengste op Langgewens ietwat laer was (Tabel 2).
Hoewel die canola opbrengste op alle lokaliteite weens die baie gunstige groeitoestande wat gedurende 2012 geheers het, statisties betekenisvolle verhogings getoon het met toenemende stikstoftoedienings, was die reaksie teenoor stikstofbemesting groter en is hoër opbrengste dus behaal waar swawel ook toegedien is (Tabel 2). Waar geen swawel toegedien is, was die opbrengste laer en is maksimum opbrengste met laer stikstofpeile behaal. Op Langgewens het stikstofbemesting byvoorbeeld geen betekenisvolle opbrengsverhoging tot gevolg gehad waar geen swawel toegedien is, terwyl stikstofpeile hoër as 40 kg N ha-1 op Altona en Roodebloem geen statistiese verhoging in opbrengs veroorsaak het nie. Daarteenoor het die opbrengste op alle lokaliteite statisties betekenisvol toegeneem waar swawel wel toegedien is en is die hoogste opbrengste behaal met 120 tot 160 kg N ha-1 in 2012. In die algemeen was daar egter min verskil tussen opbrengste behaal met 30 en 60 kg S ha-1 en kan aanvaar word dat 30 kg S onder die meeste toestande voldoende sal wees. Hoewel baie gunstige klimaatstoestande gedurende 2012 geheers het, toon hierdie resultate dat canola opbrengste van 2 ton per hektaar en selfs meer wel moontlik is indien voldoende stikstof- en swawelbemesting toegedien word. Optimale N peile kan egter in lae reënvaljare en grond met 'n hoë stikstofleweringsvermoë heelwat laer wees.
Tabel 2S | N | Graanopbrengs (kg ha-1) | ||
---|---|---|---|---|
(kg ha-1) | (kg ha-1) | Altona | Langgewens | Roodebloem |
0 | 0 | 1615 e | 1628 d | 1690 h |
40 | 1988 d | 1633 d | 1820 fgh | |
80 | 2223 c | 1688 cd | 2023 abcde | |
120 | 2300 bc | 1728 bcd | 2040 abcd | |
160 | 2293 bc | 1655 d | 1890 defg | |
Gemiddel | 2083 B | 1666 B | 1893 A |