Newsletters / Archives / Canolafokus Archives / 2013 Canolafokus No 55

CanolaFokus logo

Canolafokus 55   September 2013


Oes van canola

Jannie Bruwer (Akkerboukundige)
Sentraal-Suid Koöperasie Bpk, Swellendam

Wanneer canola gevestig word, is dit belangrik dat alle saad in vogtige grond gesaai word vir eweredige ontkieming. As bogenoemde nie gedoen word nie, kan ontkieming oneweredig wees, wat weer tot gevolg het dat rypwording ook onegalig is en die oesproses bemoeilik word. Die korrekte oestegnieke sal verseker dat oesverliese beperk word en die beste kwaliteit produk gelewer word.

'n Vraag wat baie produsente vra is: "Moet ek direk stroop of platsny?" Elke produsent moet maar self besluit watter oesproses hy gaan volg. Die beskikbaarheid van implemente speel ook 'n groot rol in besluitneming. Die hedendaagse kultivars word geteel om meer pitvas te wees sodat dit ook direk gestroop kan word.

Platsny en dors van canola

Waarom platsny? Platsny veroorsaak dat 8 tot 10 dae vroeër geoes kan word, omdat saad egalig ryp raak. By platgesnyde canola droog die peule en saad ook vinniger as staande canola. Platsny is veral belangrik waar lande onegalig ryp raak. Platgesnyde canola is ook minder gevoelig vir wind-, reën en hael skade in vergelyking met staande canola. Die vraag ontstaan onmiddellik wanneer die regte tyd vir platsny is. Die volgende riglyne kan gebruik word om die ideale platsny-stadium vir canola te bepaal.

Die ideale tyd vir platsny is wanneer die saad 40 tot 70% verkleur het (sien foto's) en 'n voginhoud van 30 tot 40% het. Dit is egter beter om canola eerder by 50% saadverkleuring te begin sny as by 40% om die risiko van te vroeg uit te skakel. In warmer droër gebiede is dit beter om canola plat te sny wanneer die saadverkleuring tussen 50 tot 60% is. Die rede hiervoor is dat warmer temperature die windry vinnig laat afdroog. Die saad ontwikkel gevolglik nie ten volle tot volwassenheid en dit veroorsaak groen pitte (hoë chlorofiel-inhoud). Die olie-inhoud en kwaliteit van die olie (groen kleur) kan ook benadeel word. Om die saadkleurverandering te bepaal, moet monsters van 100 peule of meer versamel word, wat ver­teenwoordigend van die hele land is. Saadrypwording begin aan die onderkant van die plant, m.a.w. peule moet aan die onderkant, middel en bokant van die plant aan die hoofhalm gepluk word om die rypheid te bepaal.

Die saad moet teen 'n wit agtergrond gehou word om die saadkleurverandering waar te neem. Sade wat van groen na geel, bruin of swart verkleur het, kan getel word. Normaalweg is die onderste derde se sade hoofsaaklik donkerbruin tot swart van kleur. Die middelste derde se kleur wissel tussen geel en ligte bruin. Die boonste derde se sade is groen van kleur, maar is reeds ferm as dit tussen die duim en wysvinger gerol word. Die eerste monsters behoort vanaf ongeveer 15 dae na einde van blom geneem te word om die ideale platsny datum te bepaal.

Die einde van blom word gedefinieer as die punt wanneer 10% van plante nog blomme aan het of waar daar net 'n liggeel skynsel gewaar kan word.

Daar behoort elke dag monsters geneem te word, want wanneer saad ferm is, kan dit binne 24 uur verkleur. Die klimaat het egter 'n invloed op die kleurverandering.

Verkleuring vind vinnig plaas as dit warm en droog is en stadiger as dit koel en vogtig is. Onder veldtoestande is gevind dat die saad as volg per dag kan verkleur by temperature van:

20-24ºC :  3 tot 4% saadverkleuring per dag
24-27ºC :  4 tot 6% saadverkleuring per dag
27-30ºC :  7 tot 8% saadverkleuring per dag

Platsny by die optimum stadium sal maksimum olie-inhoud en minimum verliese verseker. Wanneer te vroeg platgesny word, kan saadgrootte, olie-inhoud en opbrengs nadelig beïnvloed word. Wanneer canola vier tot vyf dae te vroeg platgesny word, kan opbrengsverliese so hoog as 10% wees. Nog 'n verdere nadeel van te vroeg platsny is dat sade nie volwasse raak nie en groen pitte (chlorofil) tot gevolg het. Dit het 'n nadelige invloed op die gradering van die olie. Om oesverliese met te laat platsny te beperk, kan platsny gedurende die nag of wanneer die humiditeit hoog is na reën of dou gedoen word. Canola is slegs vir drie of vier dae ideaal vir platsny. Dié periode is ongeveer 21-25 dae na einde blom afhangende van die klimaat.

Snyhoogte moet bo die vertakking van die plant wees, sodat die staande stoppel 'n mik vorm, waarin die windry kan lê. Dit keer dat die windry te diep in die stoppel wegsak. Deur die windry so te anker, word beter lugvloei verseker en die canola droog vinniger af. Snyhoogte is dus van kardinale belang indien reën gedurende oestyd voorkom. 'n Ideale snyhoogte vir canola is 35 to 45cm afhangende van die digtheid en hoogte van die gewas. Afhangende van klimaatstoestande soos temperatuur, wind en humiditeit wat die uitdrogingstempo bepaal kan canola ongeveer 7-12 dae na platsny geoes word.

Wanneer geoes word, gebruik die instelling vir raapsaad. Die drom- en windspoed word tot ongeveer die helfte tot twee-derdes van koring gestel. As die dromspoed te hoog is slaan die canola saad stukkend.

Wanneer canola gedors word nadat dit platgesny is, moet die opteller so horisontaal as moontlik gestel word, sodat die windry so min moontlik versteur word. Probeer die opteller en die grondspoed van die stroper dieselfde hou. Platgesnyde canola moet verkieslik van die peulkant opgetel word. Aangesien canola maklik uit die peul gedors word en dus nie 'n hoë wrywingsaksie verg nie, moet die konkaaf drie tot vier verstellings wyer as by kleingrane gestel word.

Direk stroop van canola

Wanneer daar direk gestroop word en daar is groen dele, sny dit uit en oes eerder later as om te wag totdat alles ryp is en verliese hoog is. Met staande canola moet die stroop proses gestaak word as die Relatiewe Humiditeit (RH) tot 70% daal. Indien dit baie warm en winderig is, moet die stroop proses ook uitgestel word om verliese te beperk. Begin weer stroop wanneer die RH bokant 70% is. Canola kan gelewer word met 'n voginhoud van tot 14%, mits drogingsfasiliteite beskikbaar is. Let egter daarop dat die voginhoud van canola verander met reën en 'n verandering in RH. Toets die voginhoud dus gereeld.

Chemiese rypwording is 'n alternatief vir platsny, veral waar die gewas omgeval het of waar onkruide laat in die seisoen ontkiem het. Die chemiese produk wat daarvoor in Australië geregistreer is, bevat die aktiewe bestanddeel "dikwat". Goeie benatting van die hele plant is belangrik vir effektiewe werking van die spuitmiddel. Die stadium van bespuiting is ook belangrik. Dit is later as die platsnystadium. Die saadverkleuring moet tussen 80 tot 90% wees. Let daarop dat veral die sade op die sytakke se kleur nie meer groen moet wees nie, maar geel of bruin moet wees. Die rede hiervoor is dat dikwat die plant ryp dwing en die normale proses van saadverkleuring nie meer plaasvind wanneer dikwat gespuit word nie. 'n Bespuiting wat te vroeg plaasvind sal dus veroorsaak dat daar te veel ongewenste groen sade voorkom. Die canola sal reg wees vir oes tussen vier tot sewe dae nadat die bespuiting gedoen is afhangende van die grootte en digtheid van die gewas. Dit is belangrik dat slegs 'n area wat binne een tot twee dae ge-oes kan word per keer bespuit moet word om oesverliese weens oopspring te verhoed.

Foto 1

Verskille in saadkleur volgens peul posisie op die hoofstam tydens platsny-stadium

Photo showing difference in canola seed colour depending on pod position

Foto 2

Gebruik van saadkleur om die optimale oesstadium te bepaal (bron: Departement van Landbou Wes-Australië)

Image showing canola seed colours

Foto 3

Verskille in saadkleur volgens peul posisie op die hoofstam (bron: Departement van Landbou Wes-Australië)

Illustration for determining seed colour change

Image of field yellow with canola flowers

Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. pietl@elsenburg.com

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Prof A Agenbag   Izane Leygonie
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter