Canolafokus 100 April 2021
VAN DIE CANOLAFOKUS!
MONDSTUK VAN DIE CANOLAWERKGROEP
Oor die afgelope 18 jaar is waardevolle inligting deur kenners, medewerkers, verwerkers, aankopers en produsente vir produsente gepubliseer. Die enorme oes van 2.2 ton/ha in die Wes-Kaap gedurende 2020 bevestig net die belangrike bydrae van navorsing en die CanolaFokus oor die byna twee dekades. Die CanolaFokus word geborg deur die Proteïennavorsingstigting (PNS) met trotse samewerking tussen die PNS en Wes-Kaapse Departement van Landbou.
Canola verbouing – Deel 2: kom ons verlaag die risiko's
In die eerste artikel oor bo-genoemde het ons die eerste 3 hoofstukke, seleksie van land vir toekomstige aanplanting, onkruiddoder keuse en kultivar keuse en saadkwaliteit behandel.
Nou gaan ons kyk na bemesting met plant, versekering van 'n egalige en eweredige stand en versorging van saailinge.
Bemesting met plant
Dit is noodsaaklik dat bemesting beplanning op grondontledings gebaseer word. 'n Grondontleding van beskikbare stikstof (N) net voor plant kan waardevolle inligting verskaf ten opsigte van N bestuur. Ons moet daarop let dat ons baie goeie opbrengste in 2020 gehad het, die gevolg is dat meer voedingstowwe as normaal verwag uit die grond onttrek is.
Behalwe vir die bekende N, P en K bemestingstowwe is swawel (S) sekerlik een van die belangrikste elemente vir canolaverbouing. As 'n mens kyk na die vergelyking van die verwyderingsyfers van een ton graan per gewas, word dubbel die hoeveelheid N,P en K deur canola verwyder as by koring. In die geval van S word 10kg/ha per ton by canola verwyder teenoor 1kg/ha by koring. S word vroeg in die groeiseisoen opgeneem. Die regstelling van S kan met gips of ander S bevattende kunsmis tydens plant toegedien word.
Fosfaat beweeg nie soos N in die grond nie en kan tydens plant in die plantvoor geplaas word. Stikstof en kalium (N en K) is die twee elemente wat saailinge kan doodbrand indien te veel en naby die saad geplaas word. Franco plant met MAP, waarvan 50% in die plantry en die res onder die pit geplaas word. Hy plaas in sekere gevalle dan ook 30 tot 40N met 1:0:0 (40) tussen die plantrye met plant. Die N toegedien moet die stikstof negatiewe periode oorkom en sorg as 'n "booster" vir die canola saailing, veral waar daar baie materiaal op die lande is.
Versekering van 'n egalige, eweredige stand
Meeste van die canola kenners, hetsy internasionaal of plaaslik, het planttyd as die belangrikste bestuurspraktyk beklemtoon. Besluite soos plantdigtheid, plantdiepte, vogstatus van die grond en kunsmis plasing speel almal 'n deurslaggewende rol in vestiging.
Volgens Franco is dit selde nodig om meer as 2 tot 2,2kg saad/ha te plant met vandag se basters. Net as daar 'n TT kultivar of kultivar met groot saad (bv.>4.5 per 1000 korrels) sal hy die plantdigtheid na tot 2,5kg/ha opstoot. Hy het wel begrip met nuwe toetreders wat nog nie vertroud is met die gewas/grond en planter wat 3 tot 3,5kg/ha wil plant. Uiteindelik voel hy is 20 tot 30 plante/m² wat gevestig is voldoende vir 'n optimale opbrengs. Om dit te bereik moet daar veral klem gelê word op die bestuur van slakke en isopoda. Wat egter van kardinale belang is, is dat die saailinge eweredig versprei moet wees en van 'n egalige grootte. Dit beïnvloed vele bestuursbesluite later in die seisoen, insluitend tydigheid van talle aksies (bo-bemesting, bespuitings, platsny) wat op plantstadium berus.
Verder sal onkruidbestuur en uitskerming van laat ontkiemende onkruide (toenemende probleem in die Wes-Kaap as gevolg seleksiedruk) beduidend beter wees.
Plantdiepte word deur 'n aantal faktore bepaal, onder andere droë of klam grond, grondstruktuur, tyd van plant. Franco mik om die saad tussen 2 en 2.5cm diep te plaas ("ek plant agter die vog aan") en sal net effens vlakker plant as daar later (begin Mei in die Suid-Kaap) geplant word en die seisoen koeler word.
Toediening van slakpille met plant, veral in die Suid-Kaap, is by hom nie onderhandelbaar nie. Hy monitor die lande gereeld by saailing verskyning en sal ʼn opvolg toediening maak indien toestande dit vereis. Hy spuit ook 'n piretroïed saam met sy trifluralin op die planter.
Versorging van saailinge
Piet Lombard se jarelange ondervinding is dat canola saailinge kompeteer met mekaar en baie van die later ontkiemende saailinge verdwyn later in die seisoen. Dit beklemtoon die nodigheid vir eweredige spasiëring van plante.
Die ontkiemingstadium tot die 4 tot 5 blaarstadium is wanneer die plant die kwesbaarste is vir vele peste en plae. Gereelde monitering om enige plaag wat die saailing kan aanval (byvoorbeeld snywurms, slakke, rooibeensandmyt en plantluise) so gou moontlik te identifiseer en enige regstellende aksie te neem is noodsaaklik. As 20 tot 30 saailinge/m² ontkiem kan ʼn produsent nie bekostig om enige plante te verloor nie.
Enquiries / Navrae
Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western CapeDirektoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607 T. 021 808 5321 E. piet.lombard@westerncape.gov.za
Editors / Redaksie
PJA Lombard J Bruwer Franco le RouxSponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting