CanolaFokus logo

Canolafokus 99   April 2021

Canola verbouing – Deel 1: kom ons verlaag die risiko's

Chris Cumming (PNS Konsultant) en Piet Lombard (Departement van Landbou: Wes-Kaap) met insette van Franco le Roux

Canola word deur talle produsente as 'n hoë risiko gewas, teenoor byvoorbeeld koring, beskou. Die vernaamste rede is dat canola 'n betreklike "nuwe" gewas is in vergelyking met koring. Voor 'n produsent 'n aantal jare met canola gespook het, het hy nie die fyner kunsies van die gewas onder die knie gekry nie. Praat met talle gevestigde canola produsente, en jy kom agter dat hulle nie saamstem dat dit 'n riskante gewas is nie.


Bemagtig jouself met Inligting

Dit is voor die handliggend, canola verg wel 'n hoër vlak van bestuursinsette. Tydigheid van talle aksies, soos swambespuitings en platsny om net twee te noem, is van kardinale belang. Volgens Franco, onderneem hy geen aksie sonder om seker te maak van die feite nie. Sy raad is, "lees, praat met mense, bemagtig jouself met inligting, alvorens jy met enige aksie begin". Hy het ook genoem dat 'n groep produsente in sy omgewing het 'n studiegroep gestig wat van onskatbare waarde vir hulle almal is. Hulle leer by mekaar se suksesse en ook hulle foute. "As dit met jou buurman goed gaan, gaan dit met jou ook goed".

Kom ons lys van die belangrikste insette ter sprake wat, of 'n impak op opbrengs uitoefen, of 'n direkte bydrae tot insetskostes lewer, en ons sal oor die volgende paar Canolafokus publikasies hulle bespreek:

  1. Seleksie van land vir toekomstige aanplanting
  2. Onkruiddoder keuse
  3. Cultivarkeuse en saadkwaliteit
  4. Bemesting met plant
  5. Versekering van 'n egalige, eweredige stand
  6. Versorging van saailinge
  7. Tydigheid en hoeveelheid bo-bemesting
  8. Spoorelemente (wat en wanneer)
  9. Monitering van peste en plae
  10. Sclerotinia beheer
  11. Oesmetodes en tydigheid van aksies
  12. Bemarkingsbesluite
  13. Opsomming

1. Seleksie van land vir toekomstige aanplanting

Franco verduidelik dat meeste produsente 'n wisselboustelsel het wat, afhangende van die spesifieke wisselbou, iewers canola in die stelsel behoort in te sluit. Vir hom is die besluit eerder om die regte cultivar vir die land te kies wanneer canola daar verbou gaan word.

Canola moet verkieslik nie vinniger as 3 tot 4 jaar op 'n vorige canolaland gevestig word nie. Die vernaamste rede is om die opbou van swamspore, en die belangrikste is swartstam, te verhoed. Verder sê die literatuur dat canola nie nader as 500 meter verbou moet word vanaf 'n land wat die vorige jaar canola opgehad het nie. Indien daar korter rotasies gevolg sou word moet die produsent homself deeglik vergewis van die risiko's wat daarmee saamgaan en dit bestuur.

Nog 'n belangrike faktor wat in ag geneem moet word is die onkruiddoder wat op die vorige gewas gespuit was. Heelwat produsente het probleme met oordrag onkruiddoders ervaar die afgelope paar jaar. Veral na 'n relatief droë jaar en min voorseisoen reën, word die vorige onkruiddoder nie effektief deur grondmikrobes afgebreek nie of uit die boonste grondlaag geloog nie. Die meeste probleme word ervaar waar sulfonielureums (SU's) of diflufenikan (Diflan) gespuit was. Indien canola op 'n land geplant gaan word waar SU's wel gespuit was, kan die risiko beperk word (nie noodwendig 100% uitgeskakel word nie) deur 'n Clearfield (CL) cultivar te vestig.

2. Onkruiddoder keuses

Volgens Franco is, "canola nie die oplossing vir onkruidbeheer nie, dis deel van 'n plan". Sy raad is om nie op onkruidbestuur te sny nie. Hy beveel ook aan, "kies die cultivar vir die land en dan die chemiese program". Dit is uiters belangrik om die etiket van elke middel self te lees.

Canola word soms aangeplant op lande wat 'n grasprobleem het, aangesien die produsent uit opsies geraak het vir eenjarige grasbeheer in graangewasse as gevolg van onkruiddoderweerstand. Canola bied die produsent onkruiddoder opsies met ander metode van werking vir die beheer van eenjarige grasse.

Voorbeelde uit die bedryf

Trifluralien (trif), wat voor plant geïnkorporeer word, gee uitstekende beheer van eenjarige grasse vir die groeiseisoen. Met die koms van bewaringsboerdery het die gebruik van onkruiddoders wat in die grond geïnkorporeer moet word in onguns geval. Produsente wat wel trif gebruik is bereid om een keer in 4 jaar hul grond liggies te versteur vir die positiewe resultate ten opsigte van grasbeheer wat hulle geniet. Trif is ook 'n relatief goedkoop onkruiddoder wat 'n direkte besparing op insetkostes teweegbring. 'n Verdere voordeel is dat 'n ideale saadbed geskep word om canola in te vestig.

Bogenoemde word slegs in ekstreme gevalle aanbeveel aangesien die voordele van bewaringslandbou en die bewaring van stoppel op die grond tot langtermyn voordele lei.

Navorsing uit Australië bevestig dat canola nie baie goed en egalig ontkiem wanneer die plantry met te veel organiese materiaal bedek is nie. Tweedens, as daar baie organiesemateriaal bo-op die grond is, kan die trif nie die grondoppervlakte bereik nie en gevolglik effektief werk nie. Beweiding en trap van oormatige reste, sleep van bande oor die land, en in erge gevalle, brand van reste kan oorweeg word.

Nog 'n opsie wat produsente benut om ongewenste onkruide (veral raaigras en breëblaar onkruide) te beheer is om 'n triasien tolerante (TT) cultivar te plant en 'n triasien-onkruiddoder te spuit. Wees net bewus daarvan dat die gemiddelde opbrengs van TT cultivars >10% minder is as vergelyk word met CL en konvensionele cultivars. Kerb kan ook vroeg na-opkoms (2-3 blaarstadium) gespuit word, dit beheer eenjarige grasse en 'n aantal breëblaar onkruide. Kerb kan wel op alle canola cultivargroepe gespuit word.

Die na-opkoms eenjarige grasdoder, Kletodim, gee nog goeie beheer terwyl meeste van die ander Groep A middels sukkel met weerstandbiedende raaigras in baie areas. Daar is nuwe produkte wat kombinasies is van Kletodim en haloksifop-R-metielester waarmee goeie resultate behaal word op raaigras en steekgras/predikantluis.

Canola het 'n groot voordeel teenoor al die ander kontantgewasse wat in die Wes-Kaap verbou word. Laat ontkiemende onkruide wat tussen plantrye oorleef vul die onkruidsaadbank aan. Sodra canola die 4- tot 6-blaarstadium bereik het, oorskadu dit die onkruide wat laat ontkiem en verhoed dat dit verder ontwikkel en saad vorm. Canola word veral in die Overberg en Rûens redelik vroeg in die seisoen ge-oes, dit gee 'n opsie om na die oes met 'n nie-selektiewe onkruiddoder grasse te beheer.

Sommige produkte het egter 'n wagtydperk alvorens daar koring, hawer, rog, gars geplant kan word. Let asseblief op die etiket.

3. Cultivarkeuse en saadkwaliteit

Danksy die uitstekende werk wat die Departement van Landbou: Wes-Kaap doen met hul cultivarevaluasieproewe regoor die canola-verbouingsgebiede, kan produsente die beste cultivars wat vir hulle gebied aangepas is selekteer. Franco stel voor dat 'n paar verskillende cultivars geplant word om die bestuur van die gewas te vergemaklik. Aksies hoef dus nie gelyktydig uitgeoefen te word nie. Hy beveel verder aan dat elke cultivar anders bestuur word soos nodig (bemesting, onkruidbespuitings ensovoorts). Die tydperk tot blom verskil tussen cultivars, gevolglik kan die bemestingsprogram daarvolgens aangepas word.

'n Verdere groot voordeel met aksies wat oor 'n langer tydperk geskuif kan word, is dat implemente beter benut word op die plaas en dat selfs met minder implemente klaargekom kan word. Vooruit beplanning is van kardinale belang om alles op die regte tyd te doen en die risiko te verlaag.

Belangrike punte om na te kyk:

  • beskikbaarheid van cultivars van keuse (LW: bestel saad vroegtydig);
  • onkruiddoder-verdraagsaamheidsgroep;
  • groeikragtigheid en opbrengs (konvensionele- en CL-cultivars teenoor TT-cultivars wat minder groeikragtig is en 10-20% laer opbrengs lewer);
  • swartstamweerstand (wissel groepe af);
  • moet nie terughousaad (plaassaad) plant nie. Al die huidige canolacultivars is basters en basterkrag word nie oorgedra nie. Die saad kan ook sy swartstamweerstand verloor, aangesien dit onbekend is watter swartstamweerstandsgene oordra na die teruggehoude saad. In die praktyk gee plaassaad 15% tot 20% minder saadopbrengs. Die enigste regverdiging vir die plant van plaassaad is waar canola vir weidingsdoeleindes aangeplant word, dan is egalige groei en ontwikkeling, siekteweerstand en opbrengs-mikpunt nie die bepalende faktore nie.

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. piet.lombard@westerncape.gov.za

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Franco le Roux
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter