Canolafokus 120 – Canola Swartstam Cultivarweerstand­proef

Canolafokus 120   April 2025

2024 Swartstam Cultivarweerstandproewe

G.J. van Coller¹ en D. Mostert²
¹ Direktoraat: Plantwetenskap, Wes-Kaap Dept. Landbou, Elsenburg, 7607
² Dept. Plantpatologie, Fakulteit AgriWetenskappe, Stellenbosch Universiteit, 7602

Die weerstand van plaaslike canola cultivars teen swartstam word elke jaar bepaal as deel van 'n geïntegreerde program om die siekte te bestuur. Proewe is tydens 2024 by vier lokaliteite in die Wes-Kaap gevestig. Tygerhoek proefplaas (Riviersonderend) en Uitkyk (Riversdal distrik) het die Suid-Kaap canolastreek verteenwoordig terwyl Waterboerskraal (Hopefield distrik) en Langgewens proefplaas die Swartland canola­streek verteenwoordig het. Die proef by Waterboerskraal is egter verloor weens skade as gevolg van ystervarke. Aan die einde van die seisoen is die ernstigheid (severity) van kroonkankers van swartstam bepaal deur canolastamme deur die kroonarea (net bo die grond-oppervlak) te sny en die sigbare swartstam-skade te gradeer op 'n skaal van 1 tot 5, wat dan omgeskakel word na 'n persentasiewaarde (%) (Fig. 1).

Figuur 1: Verskillende grade (1 tot 5) van swartstam skade sigbaar in 'n deursnit van die kroon- of stamarea
G. Peng et al.
Figuur 1 met grade van swartstam skade sigbaar in 'n deursnit van die kroon- of stamarea

Verder is die hoofstam van 'n verteenwoordigende hoeveelheid plante van elke cultivar in die lengte oopgesny om te kyk vir die teenwoordigheid van stamkankers van swartstam. Swartstam-skade wat meer as 5 cm bo die grond-oppervlak voorkom word beskou as “hoër blare-dak infeksie” (upper canopy infection). Die stamkankers wat hierna verwys word, is interne verrotting van die hoofstam, wat meer as 5 cm bo die grondoppervlak voorkom, met ander woorde dit word as deel van upper canopy infection beskou (Fig. 2). Dis belangrik om kennis te neem dat die interne verrotting meestal net sigbaar is wanneer die stam oopgesny word. Met die siektelesings wat ons geneem het, is die stam deurgesny in die streek waar die stamkanker die deursnit van die stam die ergste geaffekteer het, en die ernstigheid (severity) van die stamkankers is dan bepaal op dieselfde manier as vir die kroonkankers (Fig. 1). Hierdie inligting is gebruik om die swartstam siekte-indeks as 'n persentasie te bereken. Hoe hoër dié persentasie, hoe ernstiger is swartstam skade. Laastens was daar die afgelope jare sprake van stamboorder-skade wat met stamkankers van swartstam geassosieer word. Gevolglik het ons ook die insidensie (voorkoms) van stamboorders in die canola-stamme aangeteken om sodoende die korrelasie tussen stamboorders en die voorkoms en ernstigheid (severity) van stamkankers van swartstam te bepaal. 'n Voorbeeld word gewys in Fig. 2.

Figuur 2: Deursnee van 'n canola stam met sigbare stamkanker (swartstam) en stamboorder skade
(Foto: Dr Gert van Coller)
Figuur 2 met deursnee van 'n canola stam met sigbare stamkanker

Om cultivarweerstand te evalueer, is 18 cultivars wat kommersieel beskikbaar was in 2024, ingesluit in die cultivar proewe (Tabel 1).

Tabel 1: Cultivars wat ingesluit was in die 2024 cultivarweerstandsproewe
Cultivar Australiese weerstandsgroep
Defender CT ADF
PY327C CL Unknown
PY421C CL A
PY520 TC BC
45Y95 C
Diamond ABF
Alpha TT BF
Blazer TT ADF
44Y94 BC
Quartz ABD
Hyola Solstice CL ADFH
Hyola Equinox CL ADF
CC90014 Conv. ADFH
Hyola Continuum CL ADF
HyTTec Trophy ADF
HyTTec Trifecta ABD
PY429TT Unknown
Ceres CL AD

Kroonkankers

Uitkyk (Riversdal)
Die ernstigheid van kroonkankers was baie laag by Uitkyk (Riversdal), waar cultivar PY421C CL die hoogste siektelesing van slegs 17.0% verkry het. Cultivar CC90014 het die laagste siektelesing verkry met 2.0%, wat beduidend beter was as PY421C CL, maar nie vergeleke met enige ander cultivar nie (Fig. 3).

Tygerhoek
Siektevlakke was hoër by Tygerhoek vergeleke met Riversdal. Cultivars CC90014 (20.3%), PY520TC (22.3%), 45Y95 (23%), Defender CT (23.7%), HyTTec Trophy (24.3%) en Hyola Continuum CL (28.3%) het 'n beduidend laer siektelesing as Quartz (50.7%) gehad, maar het nie beduidend van die res van die cultivars verskil nie (Fig. 3).

Langgewens
Algehele siektevlakke by Langgewens was min of meer dieselfde as by Tygerhoek. Cultivars PY421CC (23.6%), 45Y95 (26.2%), Hyola Solstice CL (26.2%), Defender CT (28.4%) en Hyola Continuum CL (28.4%) het 'n beduidend laer siektelesing gehad as cultivar Diamond (51.1%), maar het nie beduidend van die res van die cultivars verskil nie (Fig. 3).

Figuur 3: Die gemiddelde swartstamindeks van verskillende cultivars by elk van die drie lokaliteite
Figuur 3 met gemiddelde swartstamindeks van verskillende cultivars by elk van die drie lokaliteite

Stamkankers en stamboorders

Anders as vir kroonkankers, was daar by geen van die lokaliteite enige verskille tussen cultivars ten opsigte van ernstigheid (severity) van stamkankers nie. Stamkanker-ernstigheid by Riversdal het gewissel tussen 8.7-21.0% en by Langgewens tussen 23.1-47.6%. Die prentjie was egter baie anders by Tygerhoek, waar dit gewissel het tussen 61.0-84.7%, wat geweldig hoog is. By al drie lokaliteite was daar ook 'n beduidende positiewe korrelasie gevind tussen stamboorder-insidensie en stamkanker-ernstigheid (severity), wat dui op 'n simbiose tussen die insek en die patogeen. Hierdie verwantskap en die impak daarvan op canola gaan vorentoe ondersoek word.

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. piet.lombard@westerncape.gov.za

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Franco le Roux
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter