Canolafokus 123 – Antraknose by Smalblaar Lupiene (2025)

Canolafokus 123   November 2025

Antraknose by Smalblaar Lupiene (2025)

Piet Lombard en Johann Strauss (Wes-Kaap Departement van Landbou)

Die antraknose swam (Colletotrichum lupini) is die siekte wat wêreldwyd die meeste gevrees word by lupiene. Die opbrengs verlies kan tot 50% wees. Antraknose het na die jaar 2000 baie skade aangerig in die Wes-Kaap. Antraknose is vanjaar reeds op twee plase in die Swartland waargeneem en positief getoets vir die swam Colletotrichum lupini. Dit het op SSL10 en Mandelup in 'n mindere mate voorgekom.

Boodskap vir die Plaas


  • Plant gesonde saad afkomstig van 'n skoon land.
  • Behandel lupiensaad met 'n thiram-bevattende produk (75% effektief).
  • Moenie tussen lupienlande beweeg as antraknose besmetting vermoed word nie.
  • Volg 'n lang gewasrotasiestelsel (1 in 5 jaar).
  • Volgens AGT (teler in Australië) is die weerstand van Coyote beter (weerstandig) teen antraknose as Mandelup (matig weerstandig).

Volgens wyle Dr AB van Jaarsveld is die siekte in 1994 in die Oos-Vrystaat geïdentifiseer. Dit het daarna na die Wes-Kaap versprei, maar eers na 2000 ernstige afmetings in die Wes-Kaap aangeneem. Die breëblaar lupienbedryf (Lupinus albus) het tot vandag toe, tot stilstand gekom. L. albus cultivars was en is hoogs vatbaar vir antraknose. Die smalblaar cultivar Wonga en daarna Tanjil was minder vatbaar vir die siekte en was letterlik die ruggraat van die bedryf vir 'n paar jaar. Nadat die siekte verdwyn het, het Mandelup gevestig as die beste cultivar. Mandelup is egter effens meer vatbaar as bogenoemde cultivars. Volgens die maatskappy AGT, is die weerstand van Coyote beter (weerstandige cultivar) teen antraknose as Mandelup (matig weerstandige cultivar) (agtbreeding.com.au).

Foto 1: Simptoom van antraknose by lupiene is die buiging en draai van stingels
Figuur 1 toon die buiging en draai van stingels as gevolg van antraknose

Simptome

Antraknose kom op die bogrondse dele van die plant voor. Die mees opvallende simptoom by lupiene is die buiging en draai van stingels, bekend as die “shepherds crook” (foto 1), wat veral opvallend is wanneer die plante blom, met 'n letsel aan die binnekant van die draai (foto 2 en 3). Soms word oranje/pienk spoormassas vrygestel vanuit die letsel. Die stam gaan gewoonlik dood bo die letsel, of breek af. Die blaarsteel kan ook 'n letsel ontwikkel en word gewoonlik waargeneem as die blaar by die letsel knak en afsterf. Die letsels ontwikkel ook op die peule en word gewoonlik aan misvormde peule uitgeken (foto 4). Die hele peul kan afsterf, maar indien dit nie gebeur nie, word die saad besmet en kan sonder enige sigbare tekens wees.

Foto 2: Plant met antraknose
Foto 2 toon plant met antraknose
Foto 3: Antraknose letsel wat spore vrystel
Foto 3 toon antraknose letsel wat spore vrystel
Foto 4: Lupienpeule met antraknose letsels
Foto 4 toon lupienpeule met antraknose letsels

Lewensiklus van antraknose

Die siekte kan tot twee jaar op die saad oorleef. Die siekte is saadgedraag en die besmette saad se saailing ontwikkel reeds vroeg letsels en stel spore vry. Die spore word hoofsaaklik deur spatende reëndruppels versprei. Wind, tesame met reën, help om die siekte te versprei. Ongelukkig versprei masjiene, mense, insekte en voëls die siekte oor veel groter afstande. Die spore benodig vog op die blare vir 4 ure om te ontkiem. Die letsel ontwikkel binne 'n paar dae. Warm weer help die ontwikkeling aan en spore word vinniger vrygestel.

Die swam kan oor die somer op besmette stoppels oorleef. Reën verminder die lewensvatbaarheid van die swam op stoppels, wat dit minder waarskynlik maak om die daaropvolgende winter en lente te oorleef.

Antraknose word versprei deur:

  1. Besmette saad is die hoofbron van verspreiding.
  2. Besmette lupienstoppels.
  3. Ander besmette aanplantings in die nabye omgewing.
  4. Reën en wind (versprei die spore), asook implimente, mense, voëls en diere.

Antraknose is 'n ware saadgedraagde siekte en raak dus meer aggressief later in die groeiseisoen. Die blomme en peule is meer vatbaar as die ander dele van die plant. Dit sluit alle cultivars in (weerstandbiedende cultivars ook). Peulvorming kan erg benadeel word met 'n verlaagde oesopbrengs.

Bestuur

  1. Plant skoon saad van 'n betroubare bron.
  2. Volgens NSW Goverment (Australië) sal saadbehandeling met 'n swamdoder wat thiram bevat, die kanse van antraknose-ontwikkeling en vestiging aansienlik verminder. Wees egter bewus daarvan dat saadbehandeling met swamdoders skadelik vir rhizobiumbakterieë kan wees.

    In Australië is wel produkte vir blaarbespuitings geregistreer (LW. volg die etiket en spuit slegs middels wat in Suid-Afrika geregistreer is op lupiene).

    Die beste benadering is om saad met swamdoder te behandel, dit heeltemal te laat droog word en daarna die rhizobiumbehandeling kort voor plant toe te dien. Volg 'n lang gewasrotasie (1 in 5 jaar).

  3. Beheer lupienopslag.
  4. Beheer beweging van toerusting en diere in lupien aanplantings (veral as antraknose vermoed word).
  5. Bio-sekuriteit op die plaas is uiters belangrik. Oes die saad vir 2026 eerste en voorkom so dat die siekte spore met die stroper versprei.

Bronne

  1. Lupin anthracnose – NSW Government
  2. Lupin: Foliar Diseases – GRDC Grownotes
  3. Critical lupin anthracnose management – NSW Government

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. piet.lombard@westerncape.gov.za

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Franco le Roux
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter