Working Group Minutes / Archives / Canola / 23 Augustus 2012

Notule

Canolawerkgroepvergadering

gehou te Elsenburg op 23 Augustus 2012



  1. Opening

    Die vergadering word deur Mnr Keun met gebed geopen.

  2. Verwelkoming

    Die Voorsitter verwelkom almal teenwoordig, veral prof Rob Gous en Mnr Hugo Kotze.

  3. Presensie

    Teenwoordig

    Mnr GJH Scholtemeijer PNS (Voorsitter)
    Dr J de Kock PNS
    Mnr C Cumming PNS
    Mnr G Keun PNS
    Mnr D Joubert PNS
    Mnr JG Loubser PNS
    Mnr J McDermott Du Pont
    Dr S Lambrecht LNR-NIPB
    Mnr J Bruwer SSK
    Mnr R Krige GSA
    Dr E Hough MKB
    Dr J Strauss DLWK
    Mnr K van Tonder
    Mnr H Kotze
    Mnr J Loubser Nova Voere
    Mnr S Slabbert DLWK (Moorreesburg)
    P Lombard DLWK
    Mnr HA Cerfonteyn DLWK
    Mnr G Conradie DLWK
    Mnr PJ Laubscher Overberg Agri
    Mnr K Schonken PNS
    Me L Smorenberg DLWK
    Prof R Gous PNS
    Prof A Agenbag US

    Verskoning vir afwesigheid

    Mnr F le Roux SOILL
    Mnr P Uys
    Mnr W Jonker
    Mnr AP Theron PNS
    Mnr K van Niekerk MKB
    Mnr N Raath
    Mnr J Lusse Overberg Agri
    Mnr M Hedorn CBK
    Mnr J Tribe
    Me L van Zyl Wes-Kaap Agri
    Me A Swanepoel DLWK

  4. Personalia

    • Daar word kennis geneem dat Mnr Kobus van Niekerk goed herstel het.
    • Mnr Johann Lusse word gelukgewens met bevordering tot bestuurder Graanbemarking.
  5. Vasstelling van die sakelys

    Toevoegings:

    • Prof Gous sal die vergadering na teetyd toespreek.
    • Mnr Petrus Fouché sal skyfies oor Canola vertoon.
  6. Notule van die vorige vergadering

    Die notule van die vergadering gehou op 7 Junie 2012 word as gelese beskou en met wysiging goedgekeur.

    Daar word besluit dat die notule van die Canolawerkgroep gehou op 7 Junie 2012 na die Bemarkingskomitee verwys word vir plasing op die webblad.

    Mev Du Preez

  7. Algemene oorsig en oesskatting

    1. Oesskatting

      Neem kennis dat SAGIS (58 700 ton) en die oesskattings komitee (58 800 ton) se weergawe ten opsigte van Canola produksie 2011 gelewer met 100 ton verskil.

    2. Winterreënstreek

      1. Swartland / Suid-Kaap

        Neem kennis dat 11 000 ha Canola vanjaar in die Swartland gesaai is, wat 1 000 ha meer as in 2011 is.

        Die Canola aanplantings toon minder variasie in voorkoms as in 2011.

        Die produksie is besig om meer suid te verskuif.

      2. Suid-Kaap

        In die Overberg Agri gebied is 14 100 ha Canola in 2012 aangeplant wat 700 ha meer is as 2011.

        Neem kennis dat gemiddelde na bogemiddelde reënval in die Caledon- en Bredasdorpgebiede voorgekom het. Die goeie weerstoestande duur tot nou toe voort met hier en daar nat kolle. Die oespotensiaal lyk belowend.

        Min probleme met slakke en ander siektes kom voor.

        In die SSK gebied is 16 000 ha in 2012 geplant wat 2 000 ha meer as in 2011 is.

        Die temperatuur was redelik laag wat die aanplantings kans gee om goed ryp te word. Die opbrengs ton per ha behoort nie laer as 2011 se opbrengs te wees nie Die platsny van oes kan al ongeveer teen 20 September 2012 'n aanvang neem omdat die oostelike gebied vroeg gesaai het.

    3. Somerreënvalstreek

      1. Oos-Kaap

        Neem kennis dat 150 ha Canola in die Oos-Kaap, 250 ha in Kokstad 60 ha in Bergville en 120 ha in Groblersdal geplant is.

      2. Ander

        Neem kennis dat 1 000 ha Canola in die somerreënvalgebied gesaai is.

    4. SAGIS Inligting

      Daar word kennis geneem dat:

      • volgens SAGIS se maandelikse opgawe inligtingsbulletin is 58.700 Canola graan gelewer.
      • geen Canola graan vir saaidoeleindes deur Canola produsente teruggehou is nie.
      • volgens die Suid-Kaap Canola kompetisie 2012 het net 1 van 30 deelnemers saad teruggehou.
    5. Weervooruitskatting 2012

      Neem kennis dat in die westelike gebiede die reënval 75% tot 120% van die langtermyn normale reënval vir Maart was. In die oostelike gebied by Uitkyk Riversdal was die reënval 72mm terwyl die langtermyngemiddeld 23mm is.

      Vir April maand was die oostelike gebiede droër as normaal en die Swartland bo die langtermyn gemiddelde reënval.

      Mei maand was vir beide die oostelike (Uitkyk) en westelike (Pools) gebiede 'n droë maand.

      In Junie was die reënval vir Pools (58mm) bo die langtermyn gemiddelde reënval van (47mm) vir die gebied.

      By Pools was die reënval in Julie (30mm) laer as die langtermyn gemiddeld van (44mm) en by Uitkyk (83mm) wat hoër as die lang­termyn gemiddelde reënval van (43mm) is.

      Augustus maand se reënval was sover bo die langtermyn gemiddelde.

      Die seetemperatuur in die noordelike Atlantiese oseaan het vanaf Maartmaand hoër geword wat dui op El Nino toestande wat saamval met die goeie reënvaltoestande in die Wes- en Suid-Kaap.

      Vir die res van Augustus- en Septembermaande lyk die reënvaltoestande normaal.

      Die maksimum en minimum temperature was vanjaar laer as die langtermyn gemiddelde wat beteken dat die wintergraangewasse van­jaar meer egalig ryp word.

  8. Navorsing

    1. Nasionale Cultivarproewe

      1. Aanplantings

        Die wilde makoue het veral by Roodebloem en een ander lokaliteit in die Swartland die proewe beskadig deur die blomme af te vreet.

        Die nette is die stadium nog nie oorgesit nie omdat dit sonlig sal beperk en 'n glashuiseffek sal skep. Die opsit van nette word uitgestel tot voor die voëls aan die peule skade kan aanrig.

        Tygerhoek se proewe word benadeel deur te nat toestande.

        Swartstam toestande kom op die stadium nog net op die blare van die Canola proefaanplantings voor.

        Sclerotinia (stamvrot) kom ook voor, maar is op die oomblik nog nie 'n groot probleem soos laasjaar nie.

        Kort rotasiestelsels moet versigtig benader word.

        Dit moet vermeld word dat Sclerotinia by alle kultivars en nie net by Garnet voorkom nie.

        Pools se proewe is benadeel deur laat opkoms as gevolg van laat reën in die tweede week van Junie.

        Daar is drie nuwe kultivars wat in die elite proewe getoets word, onder andere 43y85 en 45y83 en een wat 45y82 moet vervang.

        Die aantal inskrywings in die elite proewe is 29 waarvan sommige bastersaad is wat terug gehou is, maar die inligting is net vir waarnemingsdoeleindes geplant.

    2. Bemesting

      Die nuwe projekte oor stikstof en swawel is aangeplant en die resultate word ingewag.

      Geen kunsmismaatskappy doen op die oomblik navorsing oor bemesting van Canola nie.

    3. Pes- en plaagbeheer

      'n Versoek word gerig dat 'n lys van onkruiddoders vir canola opgestel word, met die spesifieke onkruide wat hulle beheer sowel as die onkruiddodders se beperkinge en die metode van aanwending.

    4. Aansoek om befondsing van nuwe en bestaande projekte

      Neem kennis dat:

      • Prof Agenbag se proewe met betrekking tot "boron requirements" en swawel en stikstof voortgaan.
      • Dr Pieterse van die Universiteit van Stellenbosch se proewe met betrekking tot invloed van plantdigtheid op onkruid en die opbrengs van Canola sowel as die chemiese opsies vir onkruidbeheer voortgaan.
      • Mnr Lombard voortgaan met die Canolakultivarevaluasie.
      • Mnre Johann Loubser en Sakkie Slabbert aangaan met die Super Canola Kompetisies in onderskeidelik die Suid-Kaap en Swartland.
      • Dr Johan Strauss se "evaluation of shortened Canola production periods" voortgaan.
      • Dr Malan van die Universiteit van Stellenbosch "developing a biological control agent for slugs and snails" as projek voorgelê het.
  9. Tegnologie oordrag

    1. Canolafokus

      Neem kennis dat die volgende artikels deur die redaksie in die Canolafokus geplaas gaan word:

      • die resultate van die 2011 Canola proewe.
      • canola kultivars wat vir 2013 oorweeg kan word.
      • die olie- en- proteïenresultate.
      • data oor fisiologiese ontwikkeling.
    2. Inligtingsdae 2012


      Proefbesigtiging Suid-Kaap 21 Augustus
      Proefbesigtiging Swartland 29 Augustus
      Roodebloem Boeredag 30 Augustus
      Riversdal Boeredag 5 September
      SKOG Dag 6 September
      Agri Mega Week 12-15 September
      SKOG Voorsaai inligtingsdag 14 Februarie 2013

    3. Onderwerpe vir webstudies

      Die webstudie word aan die einde van die jaar deur 'n kontrakteur opgedateer en sal ongeveer Januarie/Februarie 2013 beskikbaar wees.

      Inligting oor sekere spesifieke onderwerpe op versoek van lede kan ook nagevors word deur middel van webstudies. Mnr Keun kan in die verband gekontak word.

  10. Behoeftes van

    1. Mark – canola

      1. Generiese reklame

        Die vasteprysstruktuur in die Canola bedryf wek kommer.

        Die wêreldvoorraad van oliesade is onder druk en dit sal tot ten minste middel 2013 die geval wees. Die voorraaddruk behoort oliesaadpryse (tans ongeveer R5 600 per ton) vir die tydperk onder bespreking wêreldwyd hoog te hou.

        Die binnelandse prys van Canola is op die oomblik ongeveer R1,000 per ton laer as die wêreldprys van alle oliesade.

        Canolaprodusente kan moontlik besluit om Canola produksie as gevolg van die prysverskil af te skaal.

        Vir die PNS is die kritiese kwartton Canolaproduksie van groot belang ten einde die besteding van meer as R1.0 miljoen per jaar in die Canolabedryf te regverdig.

        Die lae binnelandse prys is besig om die kwartton inisiatief te verongeluk.

        Daar sal moontlik weer na alternatiewe gebruike van Canola gekyk moet word.

      2. SOILL – Canola paspoort

        Die Canola paspoort inisiatief en aksie verloop goed (skrap van sakelys).

    2. Produsente – canola

      1. Canola oesverliese

        Geen nuwe inligting.

      2. Pryse

        Sien 10.1.1

      3. Super Canolakompetisie

        Suid-Kaap

        Daar is vanjaar 30 Canola produsente wat aan die 2012 Kompetisie deelneem. Vyf velddae is aangebied wat deur 25 deel­nemers en ander belangstellendes bygewoon is.

        Swartland

        Daar is vanjaar 14 Canola produsente wat aan die 2012 Kompetisie deelneem.

        Die produsente is nog nie vanjaar bymekaar uitgebring nie, maar sal later gebeur.

        Daar moet aan Canola produsente in die Swartland syferkundige bewyse verskaf word, dat Canola in die plek van koring in 'n koring/medic stoppelstelsel, 'n ekonomies lewensvatbare wisselbou alternatief kan wees.

      4. Inkomste- en kosteramings

        Mnr Junior Ferreira het op 'n kontrakbasis die afgelope paar jaar inkomste- en kosteramings ten opsigte van verskillende vertakkings gedoen. Verlede jaar is alle inligting van die Agri-besighede verkry en groep-besprekings is met die produsente gehou.

        In die inleidingsgedeelte van die dokument word die metodiek wat gevolg word en die aanwendingsmoontlikhede bespreek.

        Kommoditeitspryse is van Safex afgelei, of kontrakpryse is, waar van toepassing, gebruik. Insetpryse is gebruik soos dit die dag van die begroting beskikbaar was.

        Inligting vir die begrotings word vanaf Agri-besighede verkry, asook deur middel van groepbesprekings wat met produsente in 'n bepaalde gebied gehou word.

        Die doel van die inligting is dat die produsente dit sal gebruik vir boerdery-, kontantvloei- en kredietbeplanning.

        Produsente kan die begrotings op twee maniere doen.

        Die aanlyn stelsel:

        • waar produsent eie of begrote syfers kan gebruik.
        • waar produsent bestaande begrotings kan aflaai en vir begrotingsdoeleindes kan aanwend.

        Produsente moet met behulp van bogenoemde inligting bewus gemaak word, dat Canola, met die uitsondering van gars, in die Caledon/Rivier Sonderend gebied meer winsgewend op 'n brutomarge vlak as die ander gewasse is.

        Die beskikbare inligting word egter baie min deur die Canola produsente gebruik en hou moontlik verband daarmee dat die Agri-besighede reeds oor eie soortgelyke inligting beskik.

        Die studiegroepe in die Swartland kyk na die groter prentjie waar die invloed van veeproduksie in 'n koring/medicsstelsel ter sprake kom by geheelplaas beplanning.

        Daar word gevra hoe die gewasbegrotings as inligting in die Canola kompetisies aangewend word.

        Verskillende Canola produksiekombinasies met koring, medics en skaapboerdery is in 'n studie ingesluit met 'n 700ha plaas as voorbeeld.

        Daar is van die veronderstelling uitgegaan dat 'n produsent in 'n monokultuur-koringstelsel is en wat die ekonomiese implikasies sal wees indien daar na 'n ander alternatiewe produksiestelsel oorgeskakel sou word.

        Moontlike alternatiewe stelsels is:

        • 75% koring en 25% Canola
        • 50% koring, 25% Canola en 25% medics
        • 25% koring, 25% canola en 50% medics
        • 33.33% koring, 33.33% canola en 33.33% medics

        Die verskillende kombinasies waarmee koring geproduseer word is apart begroot en ingesluit in die 700ha plaas om die winsgewendste kombinasie te bepaal.

        Die konsep resultate van die studies sal binnekort beskikbaar wees. Die gedagte is om die oefening in die res van die Swartland en die Suid-Kaap te doen.

        Canola produksie moet bevorder word in konteks van totale onkruidstrategieë in 'n wisselbou stelsel.

        Canola produsente moet so ver gekry word om Canola as 'n gewas te sien wat ekonomiese bestaansreg het en dit nie langer sien as 'n gewas wat slegs gebruik word om onkruidweerstand te beheer nie.

        Canola kan in die Wes-Kaap as 'n produk bemark word wat nie in oorskot is nie.

        "Round up ready" Canola sal op die volgende vergadering se sakelys geplaas word.

        Daar word kommer uitgespreek dat Canola wat prysbepaling aanbetref, soos gars, in monopolistiese situasie kan beland.

      5. "Canola Production Tips"

        Neem kennis dat die dokument bevestig dat Canola produsente gedurig bewus moet wees wat in die land aangaan.

  11. Saad

    1. Beskikbaarheid van saad

      Geen nuwe inligting.

  12. Ander sake

    1. Inligting vir plasing op die PNS-webblad, naamlik nuusbrokkies en kleurfoto's

      Die versoek om interessante foto's in te stuur, staan steeds.

    2. Canola Tydskrifartikels

      Artikel oor "clubroot" is tans nie vir ons belangrik nie.

    3. Nuusbrokkies

      Australiese oppervlakte Canola gesaai is (-4.6%) laer en die geskatte laer oes opbrengs kanselleer mekaar uit.

    4. Skrywe "Regulation issues"

      Neem kennis dat die houding van registrateur ten opsigte van die spoed waarmee die registrasie van spuitmiddels met betrekking tot "minor crops" deurkom, verbeter het.

    5. Oorsese besoek

      Neem kennis van die oorsese besoek van Mnre Joubert, Theron en Dr De Kock om bestuursaspekte van Canola in Wes-Australië te ondersoek.

    6. Voorlegging van Prof. Rob Gous: "Evaluating Canola for use in pig and poultry feeds"

      Prof Gous dien op die PNS se raad as verteenwoordiger van die verbruikers van proteïen en is 'n spesialis in die voeding van braai­kuikens en varke. Hy doen sy werk oor voeding met 'n model wat hy ontwikkel het.

      Hy lig die vergadering kortliks in oor sy bevindinge ten opsigte van canola se aanwending in voedingsrantsoene.

      Sy voordrag gaan oor die perfekte balansering van die proteïeninhoud van Canola, Soja en mielies in rantsoene vir pluimvee en varke vir reproduksie en liggaamsvoeding.

      Die twee hoofproteïenbronne van canola en Sojabone word vergelyk en koring en mielies word daarmee in verband gebring. Vir detail van die proteïenbronne en die samestellings vir vee- en -eier produksie, sal Prof Gous se voorlegging by die volgende sakelys aangeheg word.

      Die tekort of oorskot in spesifieke rantsoene van sekere aminosure kan die opname van 'n ander in 'n rantsoen benadeel. Daar moet opgelet word dat sojabone in rantsoene eers hittebehandel moet word aangesien 'n gebrek daarvan die opname van sekere voordelige aminosure kan benadeel.

      Twee nadelige faktore ("erucic acid en glucosinolates") wat die funksionering van die skildklier benadeel en die opname van amino­sure beïnvloed is deur die Kanadese in die teëlprogram van Canola uitgefaseer. Olieraapsaad bevat nog steeds die kenmerke.

      Saad monsters is uit SOILL se voorraad geneem en toon van die laagste vlakke van "Glucosinolates" en kan met vertroue deur voer­maatskappye in hulle rantsoene ingesluit word.

      Canola se prys moet mededingend wees ten opsigte van ander energie- en proteïenbronne se pryse om insluiting in 'n minimumkoste rantsoen te regverdig.

    7. Petrus Fouché

      Volgens Mnr Fouché kan Canola oral in die somerreënval gebiede geproduseer word. Sulfoniel ureum en toeslaan van die grond is die belangrikste probleme van Canola produksie.

  13. Datum van volgende vergadering

    • 29 November
  14. Afsluiting

    Die vergadering word na 'n woord van dank afgesluit en verdaag om 13h00.